Leon Lemmer: ‘Die eggenotes agter Afrikaner politieke leiers’

Dr. Hendrik Verwoerd en sy vrou Betsie

Terwyl ‘n uitvoerende staatshoof in sy amp is, ontvang hy heelwat publisiteit en word hy ‘n bekende persoon. Sy eggenote weerkaats in ‘n mate hierdie bekendheid omdat sy bv soms saam met hom afgeneem word of hier en daar ‘n toespraak lewer. Wanneer ‘n staatshoof of oudstaatshoof sterf, ontvang die gebeure gewoonlik heelwat publisiteit. In opvallende mate geld dit nie sy eggenote nie. Ten spyte van haar (eertydse) bekendheid, ontlok haar oorlye, dikwels lank na dié van haar man, min indien enige publisiteit. Maar daar was tog ‘n tyd toe sy direk of indirek (groot) invloed op haar eggenoot as staatshoof en dus die land uitgeoefen het.

Die eerste paragraaf wek die indruk dat die staatshoof ‘n man en sy eggenote ‘n vrou is. Deesdae is dit nie noodwendig meer die geval nie. ‘n Vrou kan ‘n staatshoof wees. ‘n Staatshoof en sy/haar lewensmaat kan selfs van dieselfde geslag wees. Van ons word verwag om dit as normaal te beskou. Daar word geredeneer: Solank hulle mekaar liefhet en ondersteun, is alles in orde. Maar so ‘n egpaar kan nie eie kinders hê nie. Daarteen word opgewerp: Daar is egpare bestaande uit twee verskillende geslagte wat ook nie eie kinders het nie. Die uitsondering is blykbaar net so geldig soos die reël, ens.

Ockert Geyser se boek, Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers: Ongeskrewe hoofstuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis (Naledi, 2019, 301p, R275), weerspieël die tradisionele toedrag van sake: ‘n man as staatshoof en ‘n vrou as sy eggenote. ‘n Verdere knieknik vir die tradisionele opset is dat al hierdie egpare blank is. Blankheid in daardie hoë geledere is iets wat sedert die 1994-transformasie plaaslik onbekend geword het en weens die nuwe “nie-rassige” benadering vorentoe seker onbekend sal bly. Die outeur was ‘n geskiedenisdosent en direkteur van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis (INEG) aan die Universiteit Vrystaat. Sy jongste boek is eerder ‘n populêre as ‘n akademiese werk.

Die hele tydperk vanaf Uniewording in 1910 (Louis Botha se vrou) tot by die politieke afgrond van 1994 (FW de Klerk se eerste vrou) word gedek. Die outeur handhaaf ‘n goeie balans tussen wat hy oor die vroue (sy eintlike onderwerp) en hulle mans (die staatshoofde) skryf. Ek skryf oor hierdie vroue in dieselfde volgorde as in die boek. Die lewensloop van 13 vroue word in kort hoofstukke belig, gevolglik verskaf ek normaalweg net by aanhalings bladsyverwysings. Soos in die boek skryf ek in meer besonderhede oor die ouer garde omdat inligting oor hulle moontlik minder bekend is as oor die vroue wat later op die voorgrond getree het.

Annie Botha

Louis Botha (1862-1919, eerste minister 1910-1919) se vrou, Annie (1864-1937), die oudste kind van ‘n boer van Swellendam, was van Ierse afkoms en Engelssprekend. Hulle is in 1886 getroud. Annie het “volkome Boere-gesind geword … Na alle waarskynlikheid het sy vir Louis Engels geleer sover hy dié taal magtig was. Aangesien hy selde Engels gepraat het, het hy en Annie tuis in Afrikaans gekommunikeer” (p 24). Tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO, 1899-1902) het sy ‘n lidmaat van die NG Kerk geword. In 1904 was sy die mede-stigter van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, wat hulpdienste aan Afrikaners gelewer het. Ná haar man se dood het sy geskryf: “I shall never get accustomed to his absence” (47).

Isie Smuts

Jan Smuts (1870-1950, eerste minister 1919-1924 en 1939-1948) se vrou, Isie (1870-1954), was ‘n kind van die Kriges van Dorpstraat in Stellenbosch, wat daarvoor bekend was dat hulle “geen liefde vir die Engelse gehad het nie. Isie het vir jare lank, selfs lank ná die Anglo-Boereoorlog, hierdie antagonisme teenoor die Engelse gekoester” (51-52). Isie, afgelei van Sybella en Engels uitgespreek (dus nie Issie nie), was soos Jan ‘n student aan die Victoria College, die voorloper van die Universiteit Stellenbosch. “Albei was ietwat terugetrokke en skalks gereserveerd; albei was bo en behalwe hul belangstelling in die plantkunde en filosofie ook intens geïnteresseerd in die letterkunde – Smuts in die Engelse en Isie in die Duitse letterkunde” (53). Isie kon klavier speel en mooi sing. Hulle “korrespondensie [het] by voorkeur eers in Engels geskied, daarna in Hollands en later in Afrikaans” (54). Hulle is in 1897 getroud.

“Isie se voortgesette antagonisme …. teenoor die Engelse was in die Smuts-gesin ‘n onverkwiklike situasie … Louis Botha het later vertel dat toe hy ná die Anglo-Boereoorlog op ‘n keer met Isie gepraat het, hy ontdek het hoedat haar voortgesette voorkeur en entoesiasme vir ‘n republikeinse staatsvorm en haar renons vir [in] die Engelse toe selfs nog meer intens was as ooit tevore. Haar weersin in die Engelse was van só ‘n aard dat haar ses kinders [behalwe drie babas wat nie hulle 2de jaar oorleef het nie] met uitsondering van die laaste … gebore is in Isie se bed waarop ‘n landsvlag van die ZAR [Zuid-Afrikaansche Republiek] gedrapeer was” (64). Van 1903 tot 1912 wou sy letterlik nie onder die Britse vlag geboorte skenk nie. Die Smuts-egpaar het ook ‘n aangenome dogter gehad.

Isie is beskryf as Jan se “delightful eccentric wife” (28). Annie Botha het Isie “a dear, sweet, understanding friend” genoem (46). Soos Annie het Isie ‘n prominente rol in die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie gespeel. Sedert 1909 het Jan en Isie in Doornkloof in Irene, by Pretoria, gewoon. Isie het selde in Pretoria en Kaapstad in die premierswoning gebly. Sy word intelligent genoem maar “sy het niks van seremonie en status gehou nie” (72). Die Britte wou haar met die die titel CBE (Commander of the British Empire) vereer, maar sy het dit van die hand gewys.

“Ofskoon sommige Isie as ietwat eksentriek ervaar het as gevolg van haar eiesoortige gebruike en gewoontes, was dit altyd haar ongekunstelde en ongedwonge lewenslustige lewenswyse wat mense bygebly het” (78). Sy word ‘n “uitmuntende gasvrou” genoem (78), maar iemand wat die opset in die Doornkloof-huis geken het, het aan my vertel dat selfs wanneer belangrike gaste opgedaag het, Isie bv ‘n blikkie vis vir aandete sou oopmaak. As daar kritiek op haar was, het haar man gesê: “Los vir Isie.” In 1942 het sy ‘n ligte hartaanval gehad en veral sedert 1944 het haar gesondheid agteruit gegaan. Sy het nie haar man se begrafnis bygewoon nie maar na die radio-uitsending van die diens geluister.

Mynie Hertzog

Barry Hertzog (1866-1942, eerste minister 1924-1939) en sy vrou, Mynie (1864-1942), het, soos die Smuts-egpaar, mekaar as studente aan die Victoria College ontmoet. Mynie was ouer as Barry maar hy is sowat sewe maande ná haar oorlede. Mynie en Isie het hulle vriendskap, wat uit hulle jeug in Stellenbosch dateer, lewenslank voortgesit, ten spyte van die latere politieke verskille by hulle mans. Mynie is later beskryf as “daardie sagte, moederlike mev Hertzog” (96). Soos Isie was Mynie “stil, gereserveerd en beskeie van geaardheid” (85).”Net soos Isie Smuts het ook Mynie nie die kollig, wat haar man se posisie later in die samelewing gebied het, uitgebuit nie” (86). Isie word “klein van postuur” genoem (51), maar uit ‘n foto (95) kan afgelei word dat Mynie selfs kleiner as Isie was.

Isie was minder godsdienstig as haar man. In teenstelling daarmee was Mynie uiters godsdienstig. “Alhoewel Hertzog en Mynie eintlik nie goeie kerkmense was nie, kan daar uit hul algemene optrede en lewensfilosofie afgelei word dat hulle albei toegewyde Christene was” (98). Hulle het aan verskillende kerkgenootskappe behoort. “Hy was lid van die NG Kerk en sy het aan die Apostoliese Kerk behoort” (98). “Die NG Kerk [was] vir haar ‘te doods en te oninspirerend'” (99). Die Hertzog-egpaar is in 1894 getroud. Die dood aan verstikking van hulle eersteling, ‘n dogterjie, het meegebring “dat Mynie haarself aan sosiale verpligtinge onttrek het” (88). Van 1899 tot 1905 is hulle drie seuns gebore.

Tydens die ABO is Mynie in Port Elizabeth in ‘n konsentrasiekamp aangehou en daarna in die Meerbank-kamp by Durban. “Hier in Meerbank het Mynie se gesondheid met verloop van tyd ‘n ernstige knou gekry, wat tot gevolg gehad het dat sy feitlik vir die res van haar lewe ‘n semi-invalide was” (89-90). Anders as Isie was Mynie “nooit bitter teenoor die Engelse nie” (90). “Mynie het glad nie geglo in die voorgeskrewe medisyne wat deur geneeshere voorgeskryf is nie. Sy het hoofsaaklik aan homeopatiese middels geglo … Sy het veral geglo aan natuurlike middels en onder meer aan nat lappe en veral kasterolie” (99). Toe dit in 1924 lyk asof Barry die eerste minister sou word, het Mynie gesê: “Ek wil regtig tog nie die eerste minister se vrou wees nie” (94). Mynie het toe aan haar seuns gesê “dat sy elke aand bid dat die Here haar liewer moet wegneem” (94).

“Mynie is baie selde in die openbaar aan die sy van die Generaal [Hertzog] gesien” (94). Isie het altyd verkies om liewer so onsigbaar moontlik in die agtergrond te bly; as’t ware soos die pous se vrou. Maar dit geld in selfs groter mate vir Mynie. “Mynie het Hertzog nooit op enige buitelandse besoek vergesel nie” (95). Sy was geen goeie gasvrou vir die staatsman Hertzog nie, al word sy beskryf as “‘n kok sonder weerga” (92). “Dit was nie soseer omdat sy onwillig was nie, maar dit was nie in haar aard om sosiale kontak te maak en in die openbaar op te tree nie” (87). Aan huis in Bloemfontein was die Hertzog-egpaar egter bekend vir hulle gasvryheid. “Toe daar aan die begin van die dertigerjare tekens van toenadering tussen die twee politieke strydrosse, Hertzog en Smuts, was, het dit sonder twyfel vir Mynie veel vreugde besorg” (95).

Die grofste fout in die boek is dat hoofstuk 3 met “Albert Hertzog” begin (83) en die leser dalk eers later agterkom dat James Barry Munnik Hertzog bedoel word (85). Albert (1899-1982) was die Hertzogs se oudste seun en ‘n NP-minister (1954-1968). In 1969 het hy van die NP weggebreek en is die Herstigte Nasionale Party onder sy leiding gevorm. Hy was vanweë sy verkramptheid bekend. Wat minder bekend is, is dat sy eerste vrou, Katie Whitely, Engelssprekend was.

Maria Malan

DF Malan (1874-1959, eerste minister 1948-1954) se tweede vrou, Maria (1905-1973) was die NP-organiseerder vir Calvinia, met Malan as die Volksraadslid (1918-1938). “Dit is nogal ironies dat doktor Malan aanvanklik by herhaling aan Maria Louw voorgestel moes word voordat hy haar onthou het” (102). Dit herinner aan ‘n NP-politikus wat ‘n lang pad per motor saam met Malan gereis en deurlopend gesprek met hom gevoer het; hy in ‘n agterste en Malan in die voorste passasiersitplek. Toe hulle uiteindelik arriveer by die byeenkoms, maak die politikus vir Malan die motordeur oop, met Malan wat verbaas was om hom daar aan te tref. Malan was bekend vir sy “skugterheid en teruggetrokkenheid” (105). In 1937 toe hy met Maria getrou het, was Malan “‘n man van drie-en-sestig en sy ‘n vrou van twee-en-dertig” (106).

Malan se weduwee-stiefma, Esther, was sedert 1908 sy huishoudster. In 1926 het hy op 52-jarige ouderdom met Mattie, wat 23 jaar jonger as hy was, getrou. In 1927 is sy seun Danie en in 1929 is Hannes gebore. In 1930 het Mattie gesterf. Daarna was Esther se suster, Nettie Fourie, sewe jaar lank Malan se huishoudster. Sy het ‘n uitstekende verhouding met die twee seuns gehad. Sy was moontlik op Malan verlief en het dalk gedink dat sy die tweede mevrou Malan sou word. Die kernprobleem met Maria was dat sy bykans ‘n oujongnooi en baie jonger as Malan was en sy die stiefmoeder van Malan se twee seuns geword het. ‘n Potensiële voordeel van sy tweede huwelik was dat sowel Malan as Maria baie in die politiek belanggestel het, ‘n “besondere saambindingsfaktor [wat] bykans” heeltemal “in sy eerste huwelik afwesig was” (105).

Maria het geleer om motor te bestuur omdat Malan so ‘n swak bestuurder was. Sy sig was swak. “Daarby was hy so ingedagte dat hy nie daartoe in staat was om sy aandag by die pad te bepaal nie. Selfs in die huis het hy nie altyd geweet wat om hom aangaan nie” (110). Hulle huis in Seepunt is vergroot sodat Nettie na die nuwe kamer verskuif kon word. Dit het nie die probleme opgelos nie. “Dit het spoedig duidelik geword dat Maria en Nettie net nie in een huis sou kon saamleef nie” (110). Die twee seuns was aan Nettie geheg en wou Maria nie aanvaar nie. By die meeste lede van Malan se familie was daar “nie ‘n gevoel van spontane hartlikheid teenoor Maria nie” (111). Nettie is spoedig na ‘n woonstel in die nabyheid van die Malan-woning verskuif. In 1942 het die Malans na Môrewag, ‘n woning in Stellenbosch, verhuis. Nettie is in 1943 oorlede. Ná miskrame het die Malans in 1948 ‘n Duitse weeskind, Marietjie (gebore in 1944), aangeneem.

Maria het gemeen dat Nettie die seuns “heeltemal te veel toegelaat” het (112); “dat gebalanseerde opvoeding sterker dissipline vereis” (113). Sy wou “haar gesag as [stief]moeder behoorlik … laat geld … Hulle mag nie meer strokiesprente gelees het nie aangesien Maria gemeen het dat dit hul aanleer van Engels sou ondermyn. Verder is hul besoeke aan die bioskoop drasties ingekort. Somtyds was sy amper raadop met Hannes se humeur en woedebuie en Danie se tafelmaniere wat veel te wense oorgelaat het. Om hierdie probleme aan te spreek, besluit Maria toe om ‘n puntetoekenning in te stel vir die beoordeling van swak maniere deur die week” (113), waarvoor ‘n prys of straf uitgedeel is. Malan “het hom onvoorwaardelik vereenselwig met sy vrou se besluite en optredes” (114).

“Oor die algemeen was Maria Malan nie ‘n maklike mens nie … In die omgang, buite en binne die party, was sy nie gewild nie … sy [het] op baie se tone getrap … sy [was Malan se] klankbord en selfaangestelde nie-amptelike raadgewer. Sy was vas van plan om haar binne die party as invloedryk en onvervangbaar, veral vir Doktor, te vestig” (114). NP-politici, soos FC Erasmus en PW Botha, later albei ministers, het “met die hulp van Maria periodiek sekere sake onder doktor Malan se aandag [ge]bring” (114). “Dit was veral tydens doktor Malan se ampstermyn [as eerste minister] dat mevrou Malan se inmenging agter die skerms in besluitneming steeds groeiende kommer tot gevolg gehad het” (119). In 1954 het Maria hartprobleme ondervind en het Malan besluit om uit die politiek te tree. “Hy was in alle opsigte volkome afhanklik van haar bystand en ondersteuning” (122). PW Botha het Malan as sy mentor beskou, maar Maria het hom ná Malan se dood “totaal geïgnoreer en uitgeskuif” (125).

Ek het die Malan-egpaar in 1948 gesien toe hulle ná die verkiesing per trein van Kaapstad na Pretoria gereis het. Die trein het op al die groterige stasies gestop sodat Malan vir die kiesers kon bedank vir die vertroue wat hulle in die Nasionale Party gestel het.

Mabel Jansen

EG Jansen (1881-1959, goewerneur-generaal 1951-1959) het in 1912 met Mabel (1889-1979) getrou. Jansen was ‘n volgeling van Barry Hertzog terwyl Mabel vir DF Malan gesteun en deurgaans koersvas die belange van die Nasionale Party bevorder het. Toe Jan Smuts met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog hom by Brittanje geskaar het, het Jansen besluit om hom by Malan te skaar. Mabel was ‘n merkwaardige vrou met ‘n sterk persoonlikheid wat met doelgerigte vasberadenheid die Afrikanersaak op talle terreine, veral van kulturele aard, bevorder het, soos ‘n mens van ‘n Pellisier (haar nooiensvan) kan verwag. Sy het baie daarvan gehou om die eggenote van die goewerneur-generaal te wees.

‘n Dienspligtige wat wag by die Jansens se ampswoning in Kaapstad gestaan het, het vertel dat hulle geen probleem met Jansen gehad het nie maar doodbang vir Mabel was. “In haar persoonlike hoedanigheid was Mabel Jansen nie geliefd nie” (142). Daar is aan my vertel dat toe Mabel na haar man se dood uit Kaapstad op die spoorwegstasie by haar huis in Irene aangekom het, daar niemand was om haar te ontmoet nie. Sy het iemand oorreed en gehuur om haar bagasie met ‘n kruiwa tot by haar huis te stoot. Sy het sekerlik beter as dit verdien.

Susan Strijdom

JG (Hans) Strijdom (1893-1958, eerste minister 1954-1958) se tweede vrou was Susan (1910-1999), met wie hy in 1931 getrou het. Sy is beskryf as ‘n “aanvallige, verfynde vrou” (143) wat nederig en pretensieloos en glad nie polities ingestel was nie. Dit is in skrille teenstelling met Maria Malan. DF Malan wou Strijdom nie as sy opvolger gehad het nie, ten minste deels omdat Maria nie van Strijdom gehou het nie.

Susan was die suster van Jan de Klerk, die pa van Willem/Wimpie en FW. Strijdom het Jan as ‘n minister in sy kabinet aangestel, al was Jan nie ‘n politikus nie. Hierdie aanstelling is destyds as nepotisme wyd veroordeel, maar dit het aan die De Klerks ‘n voet in die politieke deur laat kry, met mettertyd katastrofiese gevolge. FW de Klerk het mandaadloos aan swart mag oorgegee en daarmee die Afrikanervolk ondergeploeg; iets wat heeltemal teen die grein van Strijdom sou ingaan. Met die Anglo-Boereoorlog kon selfs die Britte nie die voortbestaan van die Afrikaners in dieselfde mate as De Klerk ondermyn nie.

Die outeur noem dat die aktrise, Margaretha van Hulsteyn (1896-1970), Strijdom se eerste vrou was. Hy verwys egter glad nie na David Bloomberg se interessante boek oor haar nie (Praag 24.12.2017), terwyl hy wel kennis geneem het van Martie Retief-Meiring se boek (2008) oor FW de Klerk se tweede vrou, Elita.

Betsie Verwoerd

Hendrik Verwoerd (1901-1966, eerste minister 1958-1966) en Betsie (1901-2000) het in 1927 getrou. Sy word ‘n “minsame maar sprankelende mensie” genoem (167). “Betsie Verwoerd was klein en tenger van bou, selfs ietwat broos van voorkoms, waar dr Verwoerd self ‘n kolos van ‘n man van oor die ses voet was” (162-163). Albei was intellektueel hoogs begaafd. Sy het onselfsugtig vir hom gelewe en bv bykomende leeswerk namens hom gedoen wanneer hy te besig was. By die Verwoerds het werk voorkeur geniet, gevolglik het hulle nie dikwels onthale aangebied nie. Daar word genoem dat Betsie in toeristeklas na Europa gevlieg het. Vergelyk dit met die talle politici en hulle aanhangsels van veel mindere gehalte wat deesdae dikwels op staatskoste oorvloediglik in die mees luukse klas vlieg.

Betsie het myns insiens gefouteer deur in 1995 saam met Nelson Mandela in haar huis in Orania tee te drink. Dit was immers deel van Mandela se Afrikaner-paaiery. Daar word verwys na die dagboek wat Betsie bygehou het. Hoewel sy uiters omsigtig te werk gegaan het om moontlike latere misbruik van die inhoud te voorkom, is dit presies waaraan haar een kleinseun, Wilhelm, hom skuldig gemaak het (Praag 28.07.2018). Ek het Betsie as weduwee ‘n enkele keer gesien toe sy saam met haar skoonseun, Carel Boshoff, en ander familielede die botaniese tuin in Bettysbaai besoek het.

Nellie Swart

CR Swart (1894-1982, goewerneur-generaal 1959-1961, staatspresident 1961-1967) se vrou, Nellie (1903-1986), word onthou vir haar sjarme, grasie en minsaamheid. Sy was ‘n uitmuntende kok. Hulle het in 1924 getrou. Sy het geen belangstelling in die aktiewe politiek gehad nie.

Lettie Fouché

Jim Fouché (1898-1980, staatspresident 1968-1975) het in 1920 met Lettie (1900-1993) getrou. Jim het gesê dat Lettie “grootliks die kweekbodem help vorm [het] waaruit ek in die openbare lewe ontplooi het” (192). Ná sy aftrede het hulle hulle in hulle huis in die Strand gevestig. Ná Jim se dood is sy in die Altena-ouetehuis in die Strand versorg. Terwyl Jim die staatspresident was, het my ouers op ‘n bank op ‘n stasieperron gesit toe ‘n trein met Jim daarin stadig deur die stasie beweeg het. Jim het my ouers vriendelik gegroet. My ouers was hoogs beïndruk met Jim se nederige meelewendheid.

Margo Diederichs

Nico Diederichs (1903-1978, staatspresident 1975-1978) het in 1932 met Margo (1907-1998) in die huwelik getree. Sy het ‘n hooghartige indruk gewek en was nie so geliefd soos haar voorgangers, Nellie Swart en Lettie Fouché, nie. In Julie 1995 het Nelson Mandela 19 dames, “die weduwees en eggenotes van voormalige vryheidsvegters, eerste ministers en presidente/staatspresidente van Suid-Afrika” in die presidensiële ampswoning in Pretoria onthaal (14). Dit is die soort veelrassige byeenkoms wat in Mandela se kraal gepas het. Betsie Verwoerd, Tini Vorster en Elize Botha het die onthaal bygewoon en ook Margo. Die idee vir die byeenkoms het van Margo gekom. “Volgens die president [Mandela] was mevrou Diederichs ook die eerste vrou wat hom met sy inhuldiging as president gelukgewens het” (15). Dit lyk asof Margo deeglik getransformeer het, veral as in ag geneem word dat haar man as ‘n Nazi-gesinde beskou is.

Tini Vorster

John Vorster (1915-1983, eerste minister 1966-1978, staatspresident 1978-1979) se vrou, Tini (1917-2000) was die dogter van PA Malan, ‘n prokureur van Worcester wat besonder invloedryk in Afrikanerledere was, bv in die direksie van Nasionale Pers en Sanlam. “Tini Malan was skrander, skerp, prakties, positief en sterk polities georiënteer” (215), maar sy het nie in John se politieke bedrywighede ingemeng nie. As student het sy die lesings in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch bygewoon wat deur Hendrik Verwoerd uit die vuis, dus sonder notas, aangebied is. John en Tini het in 1941 getrou. Kort daarna is John vanweë sy Ossewa Brandwag-aktiwiteite in Koffiefontein geïnterneer (1942-1944). Die Vorster-egpaar was tot die ontbinding in 1951 lede van die Afrikanerparty. Sy het as huisvrou en met kos uitgemunt. “Ek sien om na hom [John] en sy klere” (233). Van John het Tini gesê: “Hy is die maklikste mens om mee saam te leef, want hy sleep jou nooit in by iets waarby jy nie ingesleep wil wees nie” (234). Ná John se dood het sy in die Serenitas-aftree-oord in die Strand gewoon.

Elize Botha

PW Botha (1916-2006, eerste minister 1978-1984, staatspresident 1984-1989) se eerste eggenote was Elize (1922-1997). Hulle het in 1943 getrou, Die enigste keer wat ek PW eerstehands gesien en gehoor het, was toe hy ‘n NP-organiseerder was, dus voordat hy ‘n parlementslid geword het. Hy het hom by DF Malan geskaar en teen Hans Strijdom. Elize is beskryf as “a gracious and homely person” (257). “PW en Elize het mekaar ongelooflik goed aangevul. Hy, ietwat voortvarend, aggressief van geaardheid, by tye uiters moeilik en Elize weer op haar beurt rustig, vriendelik en uitsonderlik diplomaties” (249). Sy was versot op haar eie verjaardag. Dit het PW laat sê: “Jou verjaardag is soos ‘n Swazi-begrafnis: dit hou ‘n week aan” (250). Elize was “daarop ingestel om nooit misbruik te maak van haar voorregte as eggenote van mnr Botha as minister en later as premier en staatspresident nie. Sy het haar man nooit op amptelike buitelandse besoeke vergesel as sy nie normaalweg ampshalwe op uitnodiging by só ‘n besoek ingesluit is nie” (255).

Marike de Klerk

FW de Klerk (gebore in 1936, staatspresident 1989-1994) se eerste vrou was Marike (1937-2001). Hulle het in 1959 getrou. Hulle het drie aangenome kinders gehad. Marike is as konserwatief beskou, met Tini Vorster en Eleanor Roosevelt as haar rolmodelle. Eleanor het te make gehad met Franklin Roosevelt se buite-egtelike verhouding met Lucy Mercer, soortgelyk aan FW se buite-egtelike verhouding met Elita Georgiadis. Marike het “met verloop van tyd die prooi van bykans vernietigende spanning geword” (280). “Vir Elita het Marike geen goeie woord gehad nie” (285) en “Elita was by tye erg verbitterd teenoor Marike” (286).

Marike “did not hesitate to criticise FW in public” (272). “Hoe dieper FW in die kalklig in beweeg [het] hoe eensamer [het] Marike” geword (276-277). By haar was daar ‘n gevoel van persoonlike onsekerheid. “In haar rol as die eggenoot van die staatshoof het Marike aanvanklik vreemd, onseker en selfs onwaardig gevoel. Gedurig het daar by haar die vraag ontstaan of sy waardig genoeg is om so ‘n posisie te beklee en of sy werklik enigsins bevoeg is en selfs of sy bekwaam genoeg is daarvoor” (278). FW word beskryf as “the relaxed smoker” (272). FW en Marike het in 1998 geskei. FW en Elita het in 1999 getrou. In 2001 is Marike deur ‘n sekuriteitswag vermoor.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.