Mimi Coertse sing ‘Heimwee’

Deel op

Luister na die bekende Afrikaanse lied, “Heimwee”, soos uitgevoer deur Mimi Coertse.

      Heimwee - Mimi Coertse

Heimwee

My hart verlang na die stilte
van die wye wuiwende veld
ver van die stadsgeluide
en die klinkende klank van geld

Ek is moeg vir die rustelose lewe
van mense wat kom en gaan
wil terug na die vrye ruimte
waar ‘n siel in woon, wat verstaan

O, ek sien weer die son op die velde
en die ewige blou daarbo
en my hart skiet vol van heimwee
en my drome swem in my oë (x2)

Ek sien weer die ylbloue berge
daar ver oor die westerkim
en wonder nie meer waarom weemoed
so sag uit my liedere klim

Klim na die grys lug bowe
waar die son in die miste kwyn
want o, ek verlang na die velde
na die ewige sonneskyn

Mimi Coertse

Mimi Coertse

Mimi Coertse (1932-), is ‘n Suid-Afrikaanse sopraan. Sy is welbekend vir haar vertolking van Afrikaanse kunsliedere.

Maria Sophia Coertse is op 12 Junie 1932 in Durban, Natal gebore. Sy matrikuleer aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg. In 1949 begin sy haar stemopleiding in Suid-Afrika.[2] In Julie 1953 trou sy met die uitsaaier en komponis, Dawid Engela. Sy verruil Suid-Afrika in September 1953 vir Londen, reis later na Den Haag en uiteindelik na Wene. Sy begin haar opleiding met Maria Hittorff en Josef Witt in Januarie 1954.

Coertse maak haar debuut in Januarie 1955 as die Eerste Blommemeisie in Richard Wagner se Parsifal by die Teatro San Carlo-teater in Napoli, Karl Böhm het begelei. Sy sing ook in Basle by die Teatro San Carlo. Op 17 Maart 1956 maak sy haar debuut by die Weense Staatsopera as die Koningin van die Nag in Die Towerfluit deur Mozart en bly aan by die Weense Staatsopera tot 1978. Haar Covent Garden-debuut was in 1956, in dieselfde rol.[3] Sy het dié rol uiteindelik meer as 500 keer in vier tale (Duits, Engels, Frans en Italiaans) uitgevoer.

In die 1960’s tree sy dikwels ook in ander Europese operasentra op. In 1966 ken die Oostenrykse regering die titel Kämmersangerin aan haar toe.

In 1973 keer sy terug na Suid-Afrika, waar sy gereeld vir die destydse streeksrade optree, terwyl sy tot in 1978 ook nog kontrakverpligtinge in Wene nakom. Sy ‘n gereelde gas op Suid-Afrikaanse verhoë en ook ‘n gereelde uitsaaier op radio en televisie.

In 1996 word sy deur Oostenryk se Bondsministerie vir Wetenskap en Kuns met die goue Österreichisches Ehrenkreuz (Oostenrykse Erekruis, eerste klas) vereer, die hoogste eerbewys wat ’n kunstenaar in dié land kan ontvang. In dieselfde jaar werk het sy die EP The Diva Divine saam met Nataniël uitgereik.[4] In 1998 word ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria en in 2013 van Unisa aan haar toegeken.

Sy het haarself ook toegespits om jong Suid-Afrikaanse sangers uit te wys en op te lei. In 1998 stig Mimi Coertse en Neels Hansen die Black Tie Ensemble, ‘n ontwikkelingsprojek wat jong, klassiek-opgeleide sangers die geleentheid bied om die gaping tussen hulle opleiding en ‘n professionele optrede te oorbrug.

Vererings en toekennings

1961: Medalje van Eer van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
1966: Die prestige titel van “Kammersängerin” vanaf die Oostenrykse Regering.
1985: Sy ontvang die Dekorasie vir “Meritorious Services” in Suid-Afrika ter erkenning van haar bydrae tot die Kuns.
Augustus 1996: sy ontvang die hoogste eerbewys wat ‘n kunstenaar van die Oostenrykse Regering kan ontvang: die “Oesterreichische Ehrenkreuz für Wissenschaft und Kunst”.
1998: Sy ontvang ‘n D. Phil. van die Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika.
2002: Sy ontvang die goue “Rathausmann” vanaf die burgemeester van Wene, Dr. Michael Häupl.
2002: ‘n Ster, voorheen bekend as Sagittarius RA 18h 56m 14,74’s DZ25Vsu0W, is na haar genoem.[5]
2004: Sy behaal ‘n 94ste plek in die SAUK3 se stemming om die 100 grootste Suid-Afrikane van alle tye te bepaal.
2008: Die Mimi Coertse Museum van Afrikaans open by die Huis vir Afrikaanse Poësie (hAp) in Capital Park, Pretoria.
2012: 1 Julie – 30 September: Spesiale uitstalling in die Staatsoperamuseum, Wene: Mimi Coertse, ‘n Weense vrou uit Suid-Afrika.

Repertoire

Behalwe vir haar Afrikaanse kunsliedere het sy onder andere die volgende operas uitgevoer:

Die Towerfluit (Wolfgang Amadeus Mozart) – Koningin van die Nag
Il Seraglio (Wolfgang Amadeus Mozart) – Constance
Ariadne auf Naxos (Richard Strauss) – Najade, later Zerbinetta
Rigoletto]] (Giuseppe Verdi) – Gilda
Les contes d’Hoffmann (Jacques Offenbach) – Olympia, Antonia, Giulietta, Stella
Palestrina (Hans Pfitzner) – die engel
Carmen (Georges Bizet) – Frasquita
Martha (Friedrich von Flotow) – Martha
Mignon (Ambroise Thomas) – Philine
La traviata (Giuseppe Verdi) – Violetta
An Irish Legend (Werner Egk) – vroulike hoofsanger
Unverhofftes Begegnen (Joseph Haydn) – vroulike hoofsanger
I Pagliacci (Ruggiero Leoncavallo) – Nedda
Arabella (Richard Strauss) – Fiaker-Milli
Bastien und Bastienne (Wolfgang Amadeus Mozart) – Bastienne
The Merry Widow (Franz Lehár) – Hanna Glawari
Lucia di Lammermoor (Gaetano Donizetti) – Lucia
Die Fledermaus (Johann Strauss II) – Rosalinde
L’heure espagnole (Maurice Ravel) – Concepcion
Don Giovanni (Wolfgang Amadeus Mozart) – Donna Elvira
La bohème (Giacomo Puccini) – Musetta
Norma (Vincenzo Bellini) – Norma
Così fan tutte (Wolfgang Amadeus Mozart) – Fiordiligi
Falstaff (Giuseppe Verdi) – Mrs. Alice Ford
Turandot (Giacomo Puccini) – Liu, ‘n jong slavin
Angelique (Jacques Ibert) – Angelique
Don Giovanni (Wolfgang Amadeus Mozart) – Donna Anna
Die schweigsame Frau (Richard Strauss) – Aminta, Tímida
Die ägyptische Helena (Richard Strauss) – Aithra
Daphne (Richard Strauss) – Daphne
Don Carlos (Giuseppe Verdi) – Elisabeth von Valois

Bron: Wikipedia.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.