Suidpunt: Die Weisheit der Wölfe (resensie)

Hoeveel van die toeganklike Afrikaanse aanlynmedia ken jy wat vandag nog Duitse boeke resenseer? Net een: naamlik, PRAAG. Maar bly ingeskakel, wie weet, dalk resenseer PRAAG binnekort ook Franse boeke… PRAAG kan werklik, net soos Ons eie boek van die 1950’s, spog met sy stralende moderne Eurosentrisme, soos géén ander Afrikaanse blad kan nie.

Aanloop

Ek onthou iewers het die Vlaming David Van Reybrouck in sy De plaag: het stille knagen van schrijvers, termieten en Zuid-Afrika (2010) opgemerk die mensdom het altyd die diereryk gebruik as ‘n soort Rorschachtoets van sy eie ideologie. Of dit die byekorf en miernes is wat die toonbeeld is van funksionerende kommunisme, onafhanklikheid wat weerspieël word deur ouers wat hul kuikens by die nes uitskop, sulke metafore word gerieflik uit die natuur as “sprekende voorbeeld” opgehaal om die standpunt te onderskraag. Dit werk vandag nog so.

Aan die ander kant kan dit miskien wees omdat die natuur vir duisende jare lank die mens se stryd om oorlewing in die wildernis inderdaad beïnvloed het.

In Europa en Amerika het ons eekhorinkies wat kos vergaar vir die lang winter wat voorlê, sonder winterslaap. Die mense doen dit vandag steeds: koop nou grootmaat terwyl die prys goedkoop is, bottel tuisgemaakte vyekonfyt van jou eie vyeboom, of pot die pere van die supermark op wat nie meer so lekker vars lyk nie, lê jou eie tamaties in wat jy in jou agtertuin kweek. Ek dink outomaties aan die National Geographic (Julie 2012) se “Russian Summer”, waarin geskryf word oor die somervakansielewe op die datsjas (vakansiehuisies met dikwels vrugbare plotte op die platteland), met iets wat aan my eie moeder se somer-vasberadenheid herinner net om ‘n paar Rand te spaar:

Raisa, who is 68, makes fertilizer from compost, waters plants by hand with buckets from a well, and lugs her harvest home in shopping bags on the bus. At the end of summer she has more than 200 jars of preserves to see her through winter. “Each year I say that’s it, I’m not planting. But then in spring I do.”

“So why not taper off?” I suggest. “It doesn’t seem terribly relaxing.”

“It’s relaxing to me,” Raisa says.

En hierdie voortdurende vooruitdink, vooruitskat, beraam, uiteenlopende probleme voorsien, voorsorgmaatreëls tref, permanente oplossings soek, vooruitwerk – dit is ‘n kultuur, ‘n denkwyse wat ek, as iemand met INTJ-persoonlikheid, geweldig waardeer. Die eekhoring-denkwyse, dus.

Ook wolwe staan soos ‘n sterk uitgebreide gesin saam om die strawwe winters te oorleef – kleintjies, broers, susters, ooms en tantes – almal deel saam in die lief en die leed (ter wille van die oorlewing van die gene). Afhangend van die leierwolwe (mannetjie en wyfie) se persoonlikheid, is iedereen welkom wat die trop wil aansluit, of verlaat, met dien verstande (1) dat die leierskap van die establishment erken en eerbiedig word, (2) die nuwelinge trou aan die trop sweer (3) en ook hul steentjie bydra.

Sulke metafore, wat miskien op die oog af idealisties lyk, kan egter ook gevaarlik wees, want ek kan om die beurt maklik van poligamie tot enkelouer-gesinne regverdig met drie voorbeelde uit die vrye natuur. Tog laat dit my wonder of die mens, in ‘n ongenaakbare omgewing, nie maar gewoonlik die sterkste roofdier se voorbeeld sou navolg nie.

So het ons Afrika: die leeu, die koning van die oerwoud. Seker ook die roofdier wat die meeste charisma het en vrees vanaf die Suidpunt van Afrika, regdeur tot in die Midde-Ooste en Indië inboesem. Met sy harem wyfies wat al die jagwerk doen, en die broers wat die kinders opvoed, moet vuilbaard ALTYD eerste die maaltyd kry (dan eers die wyfies, dan laastens die welpies). Diep in die donker nag hoor jy die paringskrete elke vyftien minute vir drie dae en nagte lank sonder ophou en sonder slaap wanneer die tyd daarop aankom. Word ‘n grondgebied ingeneem, word die welpies van die oorwonne patriarg onverwyld uitgemoor, saam met hom. So woed die stamoorloë tussen die leeus jaar in, jaar uit. Ter wille van die gene.

Maar in dieselfde streek ontmoet ons vir Luiperd. Sy grondgebied oorvleuel dikwels met twee of meer wyfies s’n, by wie hy bietjie gaan kuier wanneer dit sulke tyd is. Die amoreuse paar aandjies van passie [in absolute stilte!] en taai klappe uitdeel sodra meneer hom [bedek met weerhakies, soos ‘n bottelborsel] onttrek vir ‘n blaaskans (daardie einste “passie” waarna André P. Brink seker gesoek het in Moltrein), loop uiteindelik uit op moeders wat hul welpies vingeralleen moet grootmaak. Maar weet net, kleintjie, al het jy hom nie geken nie: pappa is iewers daar buite besig om jou teen ander gevaarlike luiperd-ooms te beskerm. (“Maar ek het sonder ‘n pa grootgeword!”). Ter wille van die gene.

Of wat van die drie bedeesde gebroeders Jagluiperd wat sommer al drie soos ‘n tros toesak op ‘n jonge wyfie [en dit verklaar ook hoekom géén mannetjie een van die kleintjies uitmoor nie – dalk is sy eie nakomeling onder hulle…]. Weereens, ter wille van die gene.

Enige idioot kan dus insien die Natuur en moderne (Mense)kultuur is vandag dus duidelik twee aparte wêrelde, met ‘n duidelike skeidslyn tussen-in. Aanvanklik mag hulle miskien dieselfde gelyk het, maar soos die Westerse samelewing ontwikkel het, die reëls konstant verander en verfyn het, het die wêrelde al hoe meer onkeerbaar uit mekaar begin groei. Of eerder, die Westerse samelewing het verander, die Natuurwette het staties gebly.

Die Natuurwet is ongenaakbaar, genadeloos en wreed. Daar kom geen vernuwing nie – alles lei tot niks, die sirkel word rond, die verplasing is nul. Wolke trek oor, woed, en gaan verby. Seisoene kom en gaan. Daar is geen veiligheidsnet nie. Die een dag lyk soos die volgende, gevaar skuil om elke hoek en draai. Dit is ‘n stryd om oorlewing. Die taal bestaan uit verbeeldinglose gesigtrekkery, gebrom en geknor. Jag en word gejag. Onkruid in die boord. Nee, daar is geen verbouing nie – dis bloot jag en versamel; roof en steel. ‘n Spreekwoordelike Steentydperk. Daar is geen ander sin in die lewe as om net te bestaan nie. Voortplanting en voortbestaan is die enigste doel. Die eentonigheid daarvan maak my stapelgek. Die lewe het geen sin nie. Die son bak sadisties op ons neer en suig die laaste bietjie vog van die aarde op.

Gelukkig vir die Westerling, het ons ook Kultuur. Hier, met oorgenoeg carte blanche, kan mens kyk hoe hoog jy kan vlieg. Dit gaan oor kennis, oor wysheid, oor die nalaat van die erfenis – vir enigeen wat wil lees. Daar is ‘n opvolg. Verfyning. Afronding. Skawing. Vernuwing van denke. Bevraagtekening en herbeoordeling. Om die lewe nog geriefliker of onafhankliker te maak, nog vinniger, nog vindingryker, minimalisties, nog spitsvondiger, van die rustof-vervaardiging-verspreiding-verbruik-data-diens-stelsels wat soepel en buigbaar is. Herwaardering van die oue en die nuwe. Die optekening van die lewe, perspektiewe, inligting: ‘n skatkis vir diegene van môre wat probeer verstaan, die foute raaksien, op my foute en raad kan verbeter. Dit is so plooibaar soos ‘n rekenaarprogram en inligting, en iedereen kan deelneem in die bou daarvan.

En reg van die sterkere se maai: ons bou hospitale! Ook vir vreemdes! Watwou met ons hande ‘n bloederige homp vleis soos barbare vreet; ons open ‘n fynproewersrestaurant met twintig kliniese messe en vurke weerskant – une invitation à la cuisine française typique et traditionnelle! Ons is tevrede met niks minder as net die beste nie, en so sal dit bly. Die son kom proe vir oulaas aan my glasie gefortifiseerde dessertwyn, terwyl die awendrood begin neerdaal. Die lewe voel skoon lig en vrolik en flonkerend oop soos die naderende sterrehemel, met die soet geur in van die oop orgideë en drie swemmende anemoonvisse in die borrelende, termostaatbeheerde akwarium. Die mens pas die natuur aan om vir hom te werk, vir sy gerief.

Dit is wat iemand, soos ek, met ‘n INTJ-persoonlikheid se hart laat juig! Om ‘n stelsel nog doeltreffender en vinniger (en prettiger) te maak as wat dit reeds is (al is dit deur iets so simpel soos vertaling of woordelys opstel). Om probleme met hand en verstand te voorsien en probleme te vermy en probleme permanent op te los – en te dokumenteer. Om deel te wees van die kulturele evolusie: sommer vanaf jou selfoon.

Met hierdie bogenoemde praktiese kontrasterende teenvoorbeelde sou mens darem nou hoop die vergelyking tussen die mensewêreld van vandag en die dierewêreld van vandag, wat heeltemal uit mekaar gegroei het, sal uiteindelik homself uitwoed en nou endkry?

Moenie glo nie.

Resensie

‘n Boek wat nogal baie aandag gekry het van Der Spiegel se topverkoperlys is Die Weisheit der Wölfe. Waarom ek hierdie boek teen R143,22 (246 bladsye) op Google Play gekoop het, was suiwer om Duitse insae oor wolwe te kry. Waarom wolwe? Wel, daar is onlangs opgemerk die wolwe is besig om sedert die val van die Berlynse Muur na Wes-Europa terug te keer. Terwyl daar werk hieronder in die Kaap van gemaak word om die Kaapse luiperd se getalle te laat aanwas (hoewel daar nog geen klinkklare bewyse is dat die Kaapse luiperd hom van die Transvaalse een geneties onderskei nie), vind iets soortgelyk in Europa plaas. Of dalk het ek bly wonder waarom wolwe steeds in die Noordelike Halfrond, maar miskien ook hier in Afrika, sulke mistieke waarde het.

Of dalk is daar iets van wolwe wat my aan ‘n verouderde museumstuk herinner, ‘n soort argiefstuk, terwyl ons honde het wat gerieflik by die mensekultuur aanpas. Iets soos MS-DOS terwyl ons vandag voortwoeker met Linux, Apple, Android en Windows. Of die rotsvaste Latyn teenoor die soepeler moderne Frans. Goties (hoogs flekterend, met sy uiters beperkte nut) teenoor die moderne Duits/Nederlands/Engels/Sweeds/Afrikaans. Of Afrikaans en Nederlands: die Nederlanders beskou Afrikaans as ‘n bevrore dialek, die Afrikaner beskou Nederlands weer as ‘n bevrore taal. Dit is verskillende stelsels vir verskillende tydperke om verskillende redes. ‘n Hond is glo die afstammeling van ‘n wolf wat sielkundig gesproke permanent in sy adolessente stadium vasgevang is: spelerig, aanpasbaar, smee bande met ander spesies, is minder territoriaal, en slaan die rigtings in soos hulle gevra word. Om op hierdie wyse na ‘n hond te kyk as ‘n soort geneties bevrore tienerwolf voel nogal eienaardig.

Miskien dra die volgende aanhaling vir jou beter die gevoel oor wat ek hier kry:

With the advent of agriculture and the domestication of animals, the wolf became a competitor rather than a mentor and a comrade. The transition from hunter/gatherer to “agriculturist” (farmer) was difficult for some. Farming requires planning ahead and staying put. Hunting and gathering require a spontaneous nomadic lifestyle. The presence of the wolf reminded the early humans of the wilderness, their previous nomadic lifestyle, and all that they had given up. The wolf represented the untamed qualities within them, a momentary loss of control. Emerging religion likened the “loss of control” to sex and the devil, hence the beginning of the connection between the wolf and “the devil”. While the hunter’s companion was the wolf, the farmer’s companion was “turning into” the “dog”. The farmers were supposed to “give up” the wolf and “wolfish ways” in order to become successful farmers. It became necessary to vilify the wolf, to emphasize control and domination of the wilderness, including the wolf.

Gestel hierdie teorie is waar – dan sien ons ‘n duidelike trapsgewyse opgang by die mens vanaf jagter na landbouer en smid, van landbouer en smid na handelaar. Die handelaar bring handelsroetes mee. Later, met die wetenskap en tegnologie wat veral sedert die Verligting versnel is, het ons die Nywerheidsomwenteling gekry, vandaar beweeg ons na die dienstesektor; en alles loop hand aan hand met wetenskaplike navorsing, markgerigtheid en die versamel, verspreiding en verkoop van data en inligting. Let wel: die hoofstroommedia kan hoeveel opskop maak oor kos wat jy nou per foon kan bestel – die feit bly staan mense kan nie data of vervoer vreet nie; iemand sal steeds die werk voor die stoof moet doen.

En dit bring ons terug na die begin, deur eeue se verloop van die mensdom, terug na die wolf.  As ons sou veronderstel dat die wolwe selde hul jagmetodes, hul gesinsverband en -struktuur oor die millennia heen verander het [as mens byvoorbeeld kyk na ‘n enkele bezirk luiperd se groot skaapslagting onder die vee op een aand in Van Riebeeck se Daghregister, en die lot wat 2019 se skaapkraal afspeel, het die luiperd se gedrag die afgelope 367 jaar niks verander nie], kan mens dan ‘n soort oerkennis terugspoor van die eerste kollektiewe Europese beskawings, soos die mense die diereryk ter wille van oorlewing probeer na-aap het?

Miskien kon die boek lig daarop werp, sou ek hoop. Of nie?

Die titel, “Die Wysheid van die wolwe”, is nogal ‘n antitese vir die Fransman wat elke dag sê: “Il est bête!” (Hy is dom/onnosel!)  Met ‘n bietjie Franse  woordherkoms , bespeur ons vinnig reeds in die jare 1160 tot 1170 n.C. die woord “beste”, natuurlik afgelei van die Latynse “bestia” (dink ook aan die Duits “Bestie”, Nederlands “beest” en Engels “beast”). Die mens het verstand en staan bo-aan die goue piramide, is ‘n weinig minder as die engele gemaak (Heb. 2:7); diere is op die Scala Naturae skepsels daar doer onder, op die grond, reddeloos, redeloos en radeloos. Die WAT bevat trouens drie verwysings na ‘n mens wat sleg is saamgevat in die woord “dier”: iemand wat sy drifte en luste nie in toom kan hou nie, ‘n wreedaard, ‘n liederlike, onbeskofte of onsedelike persoon. (En tog bestaan die liefkosende benaming, “my ou dier!”).

‘n Mens moet die boek seker prys vir daardie één mite omtrent wolwe wat weerlê en die nekslag toegedien word met praktiese voorbeelde uit die Yellowstone Nasionale Park. Al sou ek natuurlik ‘n bietjie meer ervaring van die outeur in Rusland wou sien, aangesien sy self sê haar geduld is vir ure lank op die proef gestel teen -30ºC, sy moes die koue trotseer op die ope sneeuvelde, in ‘n houthuisie sonder kraanwater of elektrisiteit, en wag tot die wolfies eendag uit hul middagslapie ontwaak. Dit maak immers net meer sin sou mens onthou die wolwe in Duitsland kom meestal uit Oos-Europa en Rusland self, dan nie? En al is Rusland slegs ‘n hanetreetjie ooswaarts van Duitsland, is daar steeds ekobewustes, soos sy, wat ‘n klomp stralerbrandstof “vir die saak” oor die Atlantiese Oseaan verbrand en in die atmosfeer vrylaat. Ek bedoel, die skryfster se woonstad, Wetzlar (Hessen) en Moskou lê immers 2 300 kilometer uit mekaar (dus, 1 dag en 5 ure se reis per trein); mens kan dit nie naastenby vergelyk met 8 000 km (sonder retoer!) na Yellowstone National Park toe nie! Die feit dat sy twee Russiese spreekwoorde in die teks aanhaal, laat my éérs wonder waarom sy nie juis bietjie Russiese lektuur onder oë gekry het nie. In so ‘n geval bied selfs die koffietafelboek, The Complete Wolf (1993), deur die Brit Liz Bomford (Boxtree Publishers), ‘n ruime verbetering. Laasgenoemde het Franse, Duitse, Portugese, Italiaanse, Finse en Russiese owerhede én bronne geraadpleeg: ‘n navolgenswaardige voorbeeld vir ons Suid-Afrikaanse akademici!

As ek egter deur Van Reybrouck se bril kyk, vervang Die Weisheit der Wölfe ongelukkig ou mites met modernes. Dit drup van die skryfster se persoonlike Duitse sosialistiese ingesteldheid,  genderbeheptheid, gevoelens-bo-die-rede, en skaamtelose propagering van die Derdewêreldmentaliteit. Pleks daarvan dat die boek eenvoudig ‘n wetenskaplike verslag omtrent wolwe is, en hoe die mensesamelewing van weleer moontlik deur wolwe beïnvloed is, raak dit die “meedeel van ervarings” en kritiek op die moderne Duitse samelewing. Juis omrede die onderliggende politiek Duitsland raak, en ook vir die Duitsers geskryf is, raak hierdie kritiek op die moderne Westerse beskawing my ook.

Die mite weerlê

Die enigste mite wat die boek uitstekend weerlê is die volgende: Dat ‘n wolftrop bestaan uit ‘n tirannieke alfamannetjie en -wyfie en dat daar ‘n duidelike verdere afknou-rangorde bestaan: beta, gamma, delta, epsilon […] sigma (die selfstandige alleenloper) en uiteindelik, die arme omega wat die spit moet afbyt.

Hierdie mite het ontstaan in gevangenskap, waar wildvreemde wolwe bymekaar gegooi is en daar uit hierdie chaos skielik ‘n nuwe orde moes ontstaan. Hierdie teorie is lankal deur bioloë van die tafel afgevee, maar steeds probeer modetydskrifte en veral manstydskrifte vir ons vasstel tot watter orde ons behoort. Natuurlik wil die meeste ydeltuite hul in hierdie Alfamannetjie-rol sien. As mens egter na Boer soek ‘n Vrou kyk, trou die boerin nooit met Piet Spiere of die onderwyser nie, maar die veearts; om haar ‘n klein fortuintjie te spaar; dis bloot ‘n berekende sakebesluit, geen sprake van die liefde nie. Hierdie Alfa-mite dien ook as heerlike bronmateriaal vir hygies: Alfa-cowboys wat meisies soos perde inbreek, onder andere. (‘n Droë kuggie en onmiddellik trek ek my Bescherelle-boekie nader en oefen weer my Franse vervoegings om vroegtydig te keer dat my I.K.-punte soos ‘n baksteen val).

Kortom: as mense nie so ‘n stuk gemors van ‘n tirannieke Alfa-baas wil hê nie, hoe dink jy kan dit in die vrye natuur werk op die sneeu en ys? Gewoonlik, bevind Radinger, sal die trop oor die lange duur hul kans afwag en hul eie despoot van die gras afmaak. [Dit gebeur weliswaar ook tydens oorlog in die weermag van die mensdom onder eie geledere]. Die leier se kleintjies sal egter nie doodgemaak word nie, maar ‘n regverdige kans gegun word. Kyk na die toestand van die leeus: het hulle minder ander troppe se kleintjies uitgemoor, was hulle nie vandag in ‘n meer bedreigde toestand as wolwe nie. Wolwe, so het Sowjet-Rusland gou bemerk, kan jy 1,5 miljoen binne sewentig doodskiet – môre is hulle weer daar, voltallig, volgens Bomford (1993:115).

Waarom?

In die wildlewende toestand is wolftroppe gewoonlik almal bloedverwant (hoewel ander nie-verwante wolwe kom en gaan); as ‘t ware dus stamgenote deur die bloed gebind. Orals is daar kroostroosters wat ‘n ogie oor die kleintjies hou terwyl die volgroeide wolwe op die jag uit is en/of die grense patrolleer. Of wolwe die trop verlaat en hul eie troppie begin, en of hulle by hul ouers, ooms en tantes agterbly en na die nuwe welpies omsien – albei hou ewe veel sukses en risiko in (voedselsekerheid, o.a.). Sou ‘n broer vir die ander in die bresse tree en sterf, ter wille van die trop, is daar nog steeds die kans dat 50% van sy gene oorgedra sal word (want sibbe is immers 50% verwant aan mekaar):

“Geschwister besitzen im Allgemeinen etwa 50 Prozent Genübereinstimming. Indem der Jungwolf das Leben seines Bruders rettet, sichert er dat Fortbestehen und soimit indirekt die Weitergabe des eigenen Erbgutes.” (S. 76)

Die sukses van die trop hang van die volgende faktore af:

  1. Getalsterkte (soms kan ‘n enkele wolftrop tot 37 individue sterkstaan)
  2. Presies waar die konflik afspeel (Heimvorteil)
  3. Hoe meer wolfmannetjies daar is, hoe beter.
  4. Ouderdom (want die ouer garde het hoeveel jagte gesien en beleef en ken diere se swakplekke; Amerikaanse wolwe kan byvoorbeeld longontsteking ‘n volle week voor die tyd by ‘n bison opmerk).
  5. En, selfopoffering kom ook voor, sodat broers en susters gered kan word.

Jy kry die leier wat wel al die besluite moet neem, maar hy en sy wyfie verkeer dikwels onder die swaarste spanning, want die hele trop se toekoms hang van hulle af: sprekend hiervan is die hoë vlakke van glukokortikoïed in byvoorbeeld die leiermannetjie se stoelgang.  Dit beteken nie hulle twee sal nie foute maak nie, maar albei moet konsekwent bly en mekaar se besluite ondersteun, ter wille van die trop. Wanneer die leier wel heeltemal van ‘n saak onkundig is, sal hy ander wolwe aanwys om die taak te voltooi of die terrein te gaan bespied en verken. Die wyfies, soos jy seker kan indink, het presies dieselfde voorregte en verantwoordelikhede as die mannetjies (ek dink ek hoor die vuurwerke van die feministe afgaan?). As ‘n wolfwyfie dus alleen ‘n trop wil lei of ‘n bok alleen wil aandurf, is dit haar saak.

Dit staan die volwassenes natuurlik vry om die trop te verlaat, hul eie trop te begin en later weer na die oorspronklike trop terug te keer.

Een episode wat duidelik die “Alfamannetjie”-storie in die snippermandjie gooi is die verhaal van Casanova. Casanova was die mannetjie wat van trop tot trop geswerf het. Eers sal hy probeer om die jong wyfie wat hom interesseer van die trop weg te lok. Die leiermannetjie sal dan die vreemdeling probeer verjaag of afskrik, waarna Casanova op sy rug sal rol om te wys hy hou geen bedreiging in vir die leiermannetjie nie, bloot dat hy in sy dogter geïnteresseer is. Die leierwyfie hou haarself eenkant. Die leiers se dogter moet nou besluit wat sy wil doen: gaan sy aan haar jeukende hormone toegee, of gaan sy by die trop bly? Gou-gou eers ‘n paar Wiskundesomme maak: “ek dink ek bly by die trop, die getalle is meer”. Casanova verander van taktiek: weer nader hy die leiermannetjie, weer moet hy op sy rug rol, en hierdie keer volg ‘n bietjie vleiende beklek (“Mundwinkellecken”) van die Ou Vader. Hy word opgeneem en in die trop georden. Sodra sy kleintjies volgroeid is, sal hy trek na ‘n ander trop toe, om ook daar presies dieselfde te doen.

Jong wolwe toon ook ‘n rebelse streep. Net die leiers mag hul been die hoogste teen ‘n stam lig. Maar wanneer niemand kyk nie, en die leier op ‘n netjiese afstand is, sal die jong wolfie tog kyk of sy goue straaltjie daardie kerf kan ewenaar. Blykbaar verduur die leier hierdie tikkie rebelsheid.

Bloedlose staatsgrepe kom ook gereeld voor, afhangend van die dier se persoonlikheid en temperament. Die een dag kan ‘n ouer wolf nog ‘n vreemde jongetjie wegjaag – die volgende dag is die vars bloed die baas. Al moet die ou wolf “aftree”, word hy nie om die lewe gebring nie – daarvoor is sy ervaring op die jagveld van te veel nut vir die trop.

Nog ‘n sprekende voorbeeld wat die “Alfamannetjie” in die vrye natuur onwaar bewys is die speletjies. Jong wolwe speel dikwels met die leiermannetjie, en ook die leierwolf sal op sy rug rol om die indruk te skep dat die jongelinge die stryd gewen het. Kleintyd kan hulle reeds ervaar hoe dit moet voel om ‘n gesoute opponent te oorwin. Speletjies onder die wolwe is algemeen; of hulle teen  sneeubedekte heuwels ophardloop en afgly, met rommelblikkies speel, beendere of stokkies aandra, uit verveling met lewende veldmuise speel (nes katte), aan-aan speel, wegkruipertjie speel, boombas afruk en soos ‘n sokkerbal in die lug gooi, op ys spring totdat dit breek en in die water val, kamptoerusting, T-hemde, motorbande en bofbalpette van toeriste steel en ronddra, beruik en soos prooidiere aanval en verskeur: dit help met die sosialisering, om met ander troplede te kommunikeer, ontspanning (stresontlading), liggaams- en aanvalsoefeninge vir die dag in te kry, maar ook om sterker sosiale bande te bou. Oor die algemeen is wolwe nuuskierige agies. Die belangrikste: dit leer die wolwe wat die reëls is en hoe om hierdie kode te gehoorsaam. Al is hulle in die proses maar verdompwil vernielsugtig.

Ook moet die wolwe tydens die spel leer wanneer en hoe om saggies te byt, want hul bytkrag is dubbeld so erg soos dié van honde, en dit kan hul eie troplede erg beseer. Honde, het ek self beleef, wat te vroeg van hul ma weggeneem is, het nog nie die oordeel aangeleer wanneer om speels sag te byt en wanneer nie. Wanneer hierdie hond dus al hoe meer opgewonde en al hoe rowwer begin speel, kan jy jou reeds die onskuldige pret indink wat op ‘n ernstige besering van die mens of ander hond uitdraai.

Soos honde, kan wolwe hulle ook doodtreur oor ‘n maatjie wat nie meer daar is nie.

Wat hul voedsel betref (benewens vleis, ook aas, vis, groente, vrugte), is iets in die boek wel vir my nuut: dat die wolwe alleen die viskoppe van salms vreet, omdat daar baie meer parasiete in die vis se lyfspiere voorkom wat vir wolwe skadelik is. Die wolwe, so wil mens uit die boek aflei, het tog ‘n goeie waarnemingsvermoë wat hulle by hul ouers aanleer. Hoeveel duisende jare gelede hierdie kennis terugstrek, is moeilik te bepaal. Hierdie inligting herinner my nogal aan National Geographic se artikel “Sea Wolves” (Oktober 2015).

Tot hiertoe het ek geen probleem met die boek nie. Wel wat hierna volg.

Die Politiek

Toe ek lees dat mense van nature bevooroordeeld is teenoor wolwe, net soos teenoor buitelanders, Moslems, gays, beroepsvroue en die geldadel, het ek geweet wat kom: politiek.

Wat my geweldig irriteer van die boek is die wyse hoe Frau Radinger keer op keer wolwe se leefwyse met die van ‘n eksemplaar moderne mense vergelyk.

Neem nou maar speletjies. Sy vra haar af of ons moderne samelewing nog weet hoe om te speel en kommunikeer, ‘n onderwerp wat ek in Vrouekeur sou verwag het. Raai-raai, die iPhones en iPads om die etenstafel dien as haar klassieke bewysstukke. Maar sy vra haar ook nie af waarom mense om die etenstafel meer in hulle selfone as in die omsittendes belangstel nie. Ek ken wel die antwoord. Want ek is al telkemale onderbreek met ‘n “ja-ja, ek soek nie ‘n lesing nie. Hou jou lesings vir jou studente”. Wat gebeur? Ek pers my lippe op mekaar en spreek geen woord verder aan tafel nie; my hande jeuk om die onbeskrewe Victoriaanse “jy-mag-nie-aan-tafel-lees-nie”-reël te oortree en my selfoon uit te haal. En dit is presies wat die selfoonverskynsel is. As jy veel interessanter geselskap of ‘n onderwerp kan kry wat jou boei, waarom nog hoegenaamd gepla wees met die ou oorkant jou? Om jou idees, die oorsprong daarvan, die raakpunte met ander teorieë uit te wys en uit te ruil met ‘n gehoor wat dit wil hoor en wil lees, is tog ‘n veel gerieflike keuse. Intellektuele bespreek sake en prosesse; die gespuis oorkant jou skinder net oor mense. Elkeen leef tog in ‘n wêreld van hul eie – die modernisme maak afstand moontlik, want ons leef in ‘n samelewing immer in Bewegung. Vir die stedeling is dit glad nie onverstaanbaar nie: die huis is vandag bloot ‘n oorslaapplek – die stad bied ‘n magdom aktiwiteite en vriendekringe om mense se skedules mee te vul. Dit was in my vader se jeug in die 1970’s in Johannesburg so, dit is waarskynlik vandag nog so. Behalwe dat Mammie se 4×4 baie goedkoper is as UberTaxi. Vir die intellektuele wat tuisbly, is daar Google Scholar, vaktydskrifte en ‘n magdom leesstof. Of iets in die motorhuis of kombuis om aan te futsel. Vir die res, is daar Facebook, Whatsapp en YouTube.

Op soortgelyke wyse is Frau Radinger erg besorg oor die bejaardes wat in die Moderne Westerse samelewing afgeskeep word en in ouetehuise gedruk word, terwyl “die natuurvolke” (kollektiewe samelewings) soveel meer vir hul oumense omgee, net soos, raai!, die wolwe. Luister, Frau Radinger. Dit is nie altyd prakties moontlik om soos ‘n opgeleide verpleër na ‘n siek bejaarde deeglik en met deernis om te sien as jy môreoggend persoonlik in Singapoer moet wees om ‘n kontrak vir jou maatskappy los te slaan nie (nee, videokonferensies mag nie). Vir landbougemeenskappe, jagterversamelaars, wolfies kan dit wel – hul beweeglikheid is so te sê nul, soos lyfeienes vasgekluister aan ‘n lappie aarde. Nog minder hou Westerse bejaardes noodwendig daarvan om aan die genade van hul (klein)kinders oorgelaat te word: hulle hou van hul vryheid en onafhanklikheid; om te kom en gaan soos hulle wil. En met hul eie portuurs gesellig te verkeer (d.w.s. om tot 02:30 soggens sonder gewetenswroeging Poker te speel, onder andere), en nie bloot net daar te wees om die bediende, poetsvrou, kok en kinderoppasser te speel soos in die wolweryk nie.

En om nou besonder kil, maar rasioneel en realisties, te klink: waarom moet ‘n wetenskaplike op die punt om ‘n deurbraak met kankernavorsing te maak elke keer onderbreek word deur, in sy oë, oproepe oor beuselagtighede tuis? ‘n Geskeduleerde kuiertjie elke nou en dan vir ontspanning doen albei partye ewe goed. Ek hoop u kan insien, Frau Radinger, dat die wetenskap en tegnologie en vooruitgang, waarop u so gerieflik teer en kritiseer, hom nie deur u, of deur u geteem oor hoe wonderlik die natuur en derdewêreldsamelewings is, laat dikteer nie. Staan liewers uit die pad, voordat u dalk deur die vooruitgang vergruis word! U het gekies om as prokureur te bedank om saam met die wolwe te huil – die res van ons bewandel egter ander weë.

Wat my die meeste irriteer van hierdie boek, is die verknogte terughunkering na die Derdewêreldmentaliteit wat die Ontwikkelde Wêreld lankal afgeskud het. Dit is duidelik dat Radinger ‘n hekel het aan die orde, doelgerigtheid en vaste klokslag-stiptelikheid van Duitsland waaroor die Afrikaner in Suid-Afrika net kan droom om te wesenlik. Vir haar is die lewensin om alles, net soos die wolwe, met die “natuurlike lewensritme” byna fatalisties te ervaar en aanvaar. Dit sien mens ook wanneer sy onder die hoofstuk “Die Stärke der Frauen” skryf dat wolwe eintlik baie vriendeliker is teenoor vroue as mans, omdat mans alles wil “beheer” (en wolf en man mekaar daarin wedersyds ‘n bedreiging sien), terwyl vroue, net soos wolwe, nog altyd gely het onder hierdie beheersug van die man. Vir Frau Radinger was dit ook ‘n Damaskusoomblik toe ‘n wolf haar stip in die oë gekyk het, en toe eenvoudig weggekyk het. Wat sien sy daarin? “Jy is nie prooi nie, dus van geen belangstelling vir my nie – nes ‘n klip of ‘n krans”. Dit is hierdie “betekenisloosheid” en “onbelangrikheid” wat vir haar die grootste geskenk van die wolwe aan die mens is. Dit het haar geleer, in haar eksistensialistiese oomblik, om soos die wolwe “net te wees/bestaan”, in die oomblik leef, vir die oomblik leef, soos die bome wat 300 jaar lank tegelyk lewe en sterwe. Women that run with the wolves, roep ek skielik ‘n pseudo-Jungiaanse titel op wat ek na bladsy 3 toegemaak en vir die biblioteek terugebesorg het. Die mens hoef dus nie haastig te wees nie, glo sy. Kyk ook byvoorbeeld na hierdie sin (S. 135):

Sie [die Wölfe] tun, was alle Lebewesen in der Natur tun: Sie zelebrieren das Hier und Jetzt. Nur wir Menschen schienen diese Fähigkeit verloren zu haben. Wir machen uns ständig Gedanken um unsere Zukunft oder vergraben uns in der Vergangenheit. Wenn wir doch auch mehr im Heute leben könnten!

(Hulle [die wolwe] maak soos alle lewende wesens in die natuur: hulle vier die hier en nou. Dit blyk net ons mense het hierdie vermoë verleer. Ons is gedurig vasgevang in ons toekoms of begrawe ons in die geskiedenis. As ons tog ook meer in die hede kon leef!)

Dit is ook niks snaaks dat sy ‘n uitgesproke nihilis is nie – sy haal trouens Friedrich Nietzsche aan wat sê:

“Wir sind so gerne in der freien Natur, weil diese keine Meinung über uns hat.”

(Ons kom so graag in die vrye natuur, hoewel hy geen mening oor ons het nie.)

Het die vrou op haar kop geval?

Laat ek dit toelig met Prof. J.S. Malan se aanhaling uit Die gevare van die Nuwe Era-beweging (bl. 76 tot 77), en vergelyk dit met bogenoemde sienings:

Meditasie is ten diepste op ontspanning ingestel, op die belewing van ‘n innerlike rustigheid en eenwording met die kosmiese werklikheid rondom ons. Dit is lynreg in teenstelling met Christus se stelling dat die wêreld (kosmos) ons sal haat omdat ons nie van die wêreld is nie. Voortgesette vyandigheid en selfs vervolging deur ‘n heidenwêreld lê dus vir die Christen op die weg, en beslis nie eenwording met ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê nie.

Die Oosterlinge tref egter nie ‘n fundamentele onderskeid tussen lig en duisternis nie, en het derhalwe ook nie ‘n duidelike persepsie van die spanningsveld tussen dié twee pole nie. Hulle sê: Alles is een. As dit nie so is nie, is daar versteurde verhoudinge wat deur ‘n versoeningsproses reggestel moet word. Hierdie eenheidsvisie spreek nie net die mens se verhouding met ander mense aan nie, maar ook sy verhouding teenoor die natuur.

Omdat God in alles is (panteïsme) moet die mens in volkome harmonie met die natuur lewe, by al die ritmes en siklusse daarvan inskakel, en selfs ook van die ‘persoonlikheid’ van moeder natuur bewus word. Dit lei na ‘n sikliese tydsbegrip en die oortuiging dat ernstige konflikte en wanbalanse veroorsaak word wanneer die gang en ritmes van die natuur versteur word.

Dié lewensbeskouing werk teenproduktief op ontwikkeling, verandering en vernuwing in. Dit is die rede waarom die beoefenaars van meditasie en Oosterse mistisisme onder die mees agtergeblewe gemeenskappe in die wêreld tel. Indië, Tibet en Sjina is kenmerkend hiervan.

Die holistiese ‘regterbrein’-lewens- en wêreldbeskouing wat tipies Oosters is, word teenoor die Westerse ‘linkerbrein’-lewens- en wêreldbeskouing gestel wat op konseptuele (rasionele) denke, individualisme en kreatiwiteit gebaseer is, asook ‘n lineêre tydsbegrip op grond waarvan sinvolle toekomsbeplanning gedoen kan word. Die Bybelse opdrag word aanvaar om die skepping te onderwerp en daaroor te heers, met die bedoeling om dit te veredel en verantwoordelike hulpbronbestuur te beoefen.

Uiteraard word die gemeenskap deur kompetisie en spanning gekenmerk, en stappe behoort geneem te word om die nadelige gevolge daarvan te bekamp. Dit sal egter geen doel dien om mense te leer mediteer nie, omdat dit fundamenteel in botsing met ‘n Christelik-kapitalistiese lewens- en wêreldbeskouing is.

Dr. [Willem] Nicol se pogings om mense meditatief en selfinkerend te laat leef, hulle aan te moedig om ‘n stadige lewenstempo te ontwikkel, in ritme met hulle omgewing te kom deur nooit haastig te word nie en selfs doelbewustelik by die vloei van die verkeer aan te pas, vertoon duidelik elemente van ‘n holistiese ‘regterbrein’-ingesteldheid. Deur so ‘n ontspanningsroete word daar van die gejaadgheid en spanning weggevlug, maar geen praktiese riglyne gegee oor hoe om dit te verwerk en as normale deel van ‘n ontwikkelende samelewing te aanvaar nie. Om dié rede word die probleme waaroor gemediteer moet word, nie minder nie en in elk geval ook nie werklik opgelos nie.

Verskoon dus tog my sin vir logika, maar ek vind dit ook nogal uiters vermetel, indien nie ironies nie, van Radinger om per vliegtuig (sy was trouens ‘n lugwaardin ook, wat haar oomblik in die beskuldigdebank geensins versag nie – inteendeel!) na Amerika elke keer te vlieg sonder om maar een oomblik terug te dink aan die ontstaangeskiedenis van die swewende sagte kussings onder haar eie bas wat teen 885 km/h deur die lug klief. Waarom wil jy mans, wat indirek verantwoordelik was vir die ontstaan van daardie vliegtuig (boonop gegrond op die mal idees van ‘n Engelse Benediktynse monnik (Eilmer van Malmesbury) wat Ikaros probeer speel én sy bene gebreek het in die Middeleeue!!!), en indirek vir jou eerste beroep en luukse lugvaartvervoer Amerika toe verantwoordelik is, so verkleineer? Wat is die sin daarin?

En wil sy werklik Duitsland, een van die lande op die voorpunt van tegnologieontwikkeling, in ‘n dêrdewereldland, d.w.s. ‘n rommelige, despotiese en wanfunksionele natuurreservaat met nomadiese kamele, verlepte koolblare op die sypaadjie en luisbesmette hoenderhokke dompel? Want so lyk lande wat hul biblioteke verbrand tydens ‘n “diensleweringbetoging”, hulle rug op hul wêrelderfenis en die wetenskap draai; met die gevolglike infrastruktuur wat in duie stort; kortom: so lyk ‘n samelewing wat impulsief in die “hier en nou” soos wolwe leef. Kom bly gerus ‘n rukkie in Suid-Afrika (Zimbabwe sou eintlik die ideaal wees) vir ‘n minimum van 10 jaar lank, sê u Duitse burgerskap op, en moenie in daardie 10 jaar vir 1 sekonde kla nie. U sal moontlik tuis hier voel waar ape by die RK Khan hospitaal in Durban oorneem. Hier is genoeg weggooi-wolwe naby Bloemfontein en Tsitsikama om u buitendien mee besig te hou. U sal miskien geskok wees om te verneem dat die webwerf van Tsitsikama, daardie mense wat hul daagliks met vrywilligers en al hul hande vol het van brommerbedekte wolwestront tydens die hokskoonmaak, terwyl u rustig aan u oggendkoffietjie teug en knibbel aan ‘n belegde kaasbroodjie in die vreedsame houthut in Yellowstone Nasionale Park, duidelik stel dat die wolwe geen plek in die moderne mensewêreld het nie: die wolwe hoort iewers daarbuite. Veral nie wolwe wat vir troeteldiere aangehou word nie. U glo egter in die Deep Ecology, d.w.s. dat mens en dier op gelyke voet is, gelykes is, en bloot dieselfde habitat deel, het ek reg? En dat die mens eenvoudig by die dier se nukke en grille nou moet aanpas.

En wat daarvan as mense hulle begrawe onder die geskiedenis of in die stratosfeer rondsweef in die toekoms? Moet ons dan werklik soos Nebukadnésar (Daniël 4:25) op vier pote soos ‘n bees op die grond rondkruip (soos tydens die einste sjamaanseremonie wat u bygewoon het, waarin boere letterlik op hierdie manier hulle “kragdiere” ontdek het?), soos grotbewoners in beervelle leef, ons skedels deurboor om hoofpyn te verlig, ons rug draai op millennia se kennis en tegnologiese ontwikkeling? Alles ter wille van wat? Vrede en harmonie met die natuur? Dit spyt my, maar anders as u wil ek graag my intelligensiekwosiënt ten volle benut.

Maar nog is het einde niet! Sy skryf ‘n hele hoofstuk oor die vriendskaplike band tussen wolwe en rawe. Hoewel hulle mekaar oor en weer terg, pla, mekaar se kos voor hul bekke wegraap, alarmmakers is van kos of gevaar (of is dit bloot ‘n skelm wat maklik ‘n ander skelm kan betrap?), kom Radinger met hierdie vreemde slotsin vorendag:

“Wenn es in der Natur möglich ist, dass unterschiedliche Tierarten zum eigenen Vorteil miteinander leben und Freunde werden, warum fällt es uns Menschen so schwer, schon innerhalb der eigenen Art mit Vertretern unterschiedlicher Herkunft oder Hautfarbe klarzukommen? Raben sind das perfekte Beispiel für eine gelungene Inklusion.”

(As verskillende diersoorte in die natuur tot hul eie voordeel kan saamleef en vriende word, waarom is dit vir die mens dan so moeilik om met sy eie soort van ander herkomste of velkleur klaar te kom? Rawe is die perfekte suksesverhaal van inklusiwiteit.)

Sy vergeet gerieflikheidshalwe dat sy pas in dieselfde hoofstuk geskryf het hoe wolwe glad nie met ander hondesoorte soos coyotes of vosse eintlik oor die weg kan kom nie. Ook nie bere of poemas of ander roofdiere nie. Hoekom nie? Wolwe kan geen voordeel daaruit trek nie – so eenvoudig soos dit.

Maar laat ek haar retoriese vraag tog beantwoord. Hoe ‘n Europeër van ‘n Afrikaner verskil, het ‘n Hollander my uitgewys dat die Europeërs in wese handelaars is, terwyl die Afrikaners boere is. Dit wil sê — vir ‘n Europeër gaan dit oor “jy wen, ek wen”, albei baat by ‘n transaksie of handeling. Vyande van gister is vandag en môre se vriende. Vir die Afrikaner is alles blykbaar ‘n klinkklaar wen-verloorstryd. Baie simplisties gestel, maar tog naby aan die waarheid. Want wat is daar te wen as al jou harde werk môre ongedaan gemaak kan word met ‘n enkele vuurhoutjie wat getrek word deur ‘n oproerige skare? Handelaars kan hul goed vat en trek — maar jy, quo vadis?

Want dit klink goed en wel op papier as alle partye hul voordele en verantwoordelikhede insien, en albei partye hard probeer om nie die ander een kort te doen of te bedonner nie. En albei partye bereid is om ‘n klein bietjie ekstra meer moeite as gewoonlik te doen om mekaar tegemoet te kom, en wel stiptelik nakom. Ter wille van die maatskappy, ter wille van die arbeidsverhoudinge. Dis goeie sakevertroue. Ek kan my trouens voorstel hoe die Franse en Duitsers tot ounag rondom ‘n blinkgepoleerde tafel oor ‘n begroting buig en ‘n viertalige Hollander elke sent laat balanseer. Maar algou word na die Afrikaner as “bevoorregte besittersklas” gekyk wat eenvoudig soos melkkoeie gemelk moet word: “hulle moet gee en gee, ons hoef niks in ruil te doen nie – hulle steel buitendien genoeg van ons.” En jy vra jou af waarom Europa, Amerika, Korea en Japan nie oor hul voete val om in die Derdewêreld te kom belê nie? Die groot probleem is sonder twyfel wedersydse wantroue – maar alles kan nie slegs van een kant af kom nie.

Slotsom

As ek nie van beter geweet het nie, sou ek soos Claus Nordbruch, ‘n Duitser wat buitekant die Duitse borrel ook in Suid-Afrika bly, in sy boek Eindspiel: Die deutsche Nation und Europa im Dauerfeuer der Globalisten (2017), kon sweer daar is ‘n komplot daarbuite om die Duitsers kultureel van binne na buite te peits, te verpiep, tot ‘n Derdewêreldland te verlam en te verrot. Die boek wat ek pas geresenseer het, sou mens kon aanvoer, is net nog een van sulke afbrekende stemme.

Die Weisheit der Wölfe kon liewer van argeologiese kennis, eerder as eietydse voorbeelde gebruik gemaak het om die verband tussen die Europeër van ouds (dus, voor die ontstaan van “la raison”/”ratio”) en die wolf van destyds en vandag sterker te belig. Om ons weer terug te boelie in ‘n derdewêreld in is onnodig. Radinger raak-raak by die hoofstuk oor rawe en wolwe die volgende (S. 91):

Nach einer jahrtausendealten Sage soll der nordische Kriegsgott Odin von seinen beiden Raben Hugin (Gedanke) und Munin (Erinnerung) sowie den Wölfen Geri (der Gierige) und Freki (der Gefräßige) auf die Schlachtfelder begleitet worden sein, um die Leiber der Gefallenen zu verzehren, deren Seelen von den Walküren nach Walhall gebracht werden. Alle zusammen waren ein Mensch-Wolf-Rabe-Rudel. Bernd Heinrich fragte sich, ob der Odin-Mythos eine mächtige Jagdkultur beschreibt, die wir einst besaßen und zugunsten von Landwirtschaft und Viehzucht aufgegeben haben.

(Volgens ‘n eeue-oue saga sou die Nordiese oorlogsgod Odin op die slagveld deur albei sy rawe, Hugin (gedagte) en Munin (herinnering) asook die wolwe Geri (die gierige) en Freki (die vraatsugtige) begelei word. Daar sou hulle die lyke van die gevalle helde verorber, en hul siele deur die Walkure na Walhalla geneem kon word. Wat ons hier dus sien is ‘n mens-wolwe-rawe-trop. Bernd Heinrich vra hom af of hierdie Odin-mite nie dalk die magtige jagkultuur van weleer skilder wat die mens vir die landbou en veeteelt verruil het nie.)

In hierdie geval, indien Heinrich gelyk het, sou mens, soos ek reeds genoem het, wel na die wilde diere om ons as lewende museumstukke of argiefstukke kon kyk, en onthou waar ons beskawing vandaan kom. En sowel die beskawing (waarna toe dit op pad is) as die diere (wat in die aanvangsfase as inspirasie gedien het) opnuut kon waardeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.