Isuzu MU-X bied goeie waarde vir geld

Met die vertrek van General Motors uit Suid-Afrika het die Chevrolet Trailblazer wat ‘n teenvoeter vir Toyota se Fortuner en Ford se Everest was, ‘n reusegaping in die marksegment gelaat.

Isuzu, wat ook deel van die GM-stal was, het egter besluit om sy ryke tradisie van betroubare gehalte met moeitevrye voertuie in Suid-Afrika voortesit. Die Isuzu KB het agtergebly en het ‘n paar kosmetiese veranderings asook ‘n splinternuwe naam in die plaaslike mark gekry. Die KB is nou dood, maar lank leef die D-Max! Soos met die Fortuner/Hilux en die Everest/Ranger, asook die Frontier van baie jare gelede, is die die nuwe MU-X uit die Isuzu-stal die stasiewaweergawe van die D-Max.

Die syprofiel van die Isuzu MU-X

Met hierdie toevoeging vul Isuzu dan ook die gaping in die mark waar die Trailblazer voorheen diens gedoen het.

Bakwerk

Die MU-X is onmiskenbaar Isuzu en vertoon van voor presies soos sy bakkieweergawe-D-Max met heelwat blink insetsels in die sierrooster en om die ligte. Die skoon, sagte lyne van die D-Max laat die MU-X heel tuis lyk in enige geselskap. Kantaansigte is ook tipies Isuzu met die profiel wat identies aan dié van sy dubbelkajuitbakkie-stalmaat vertoon! Dit verskil natuurlik nou net effens wat die agterdeure betref, want die profiel lyk op iets tussen die vorige generasie Fortuner en die Trailblazer. Skoon agterligte wat netjies om die hoeke van die voertuig vou, met die agterruit wat aaneen met die agterste kantruite loop, vertoon nogal baie sag op die oog.

Die MU-X van agter

Die MU-X lyk korter en smaller as wat hy is en mens kan jou maklik misgis met die werklike groote van die voertuig. Netjiese sytrappe maak die in- en uitklim baie maklik en is baie mooi geïntegreerd in die syprofiel van die voertuig. Dakstawe en ‘n sportiewe dakdrukvlerkie rond die MU-X mooi af.

Binneruim

Die hoë vloer van die Isuzu MU-X

Die binneruim van die groot Isuzu is gerieflik met alles wat ‘n mens in hierdie tipe gesinsvoertuie verwag. Pikswart leerbekleedstel op die sitplekke, asook insetsels in die deure, gee die binneruim ‘n sterk gehaltegevoel. Daar is egter plek-plek materiale en afwerkings wat nie so goed lyk en voel nie. Die dun harde plastiek waarvan die onderste paneelkassie se deksel gemaak is, voel net heeltemal te goedkoop vir die voertuig. Die paneelkassie in die middel van die paneelbord onder die windskerm is ‘n baie goeie idee om ‘n selfoon of beursie in te stoor, maar die knip en materiaal waarvan dit gemaak, is laat veel te wense oor. Daar is ook baie duursame insetsels op die deksel van die boonste paneelkassie aan die passasierskant asook om die beheerknoppies van die kantruite, maar dan is die ventilasieomhulsels nou weer net baie trietsig en na ons mening onvanpas. Wat ruimte aanbetref, is die MU-X ‘n 7-sitplekvoertuig en soos in al hierdie tipe voertuie is die heel agterste twee sitplekke werklik slegs vir kinders bedoel. Die twee sitplekke vou nou wel plat om die laairuim te vergroot, maar dit vou nie heeltemal in die vloer in nie, dus is die laaivloer agter baie hoog. Die hele voertuig is egter ongemaklik hoog en dit kan baie maklik uitputtend raak om elke keer op te klim in die motor in.

Wegvoubare sitplekke heel agter

Kop- en skouerruimte is uitstekend. Daar is ook ‘n raakskerm in die middelkonsole en afstandbeheerde skakelaars op die stuurwiel. Alle instrumente is maklik leesbaar. Sommige van die beheerknoppies soos dié waarmee die kantspieëls verstel word, asook die knoppie om die glybeheer aan of af te skakel, is bietjie laag en agter die stuurkolom versteek. Daar is genoeg bêreplekkies in die deure asook tussen die voorste sitplekke en dan natuurlik uitskuifkoppiehouers en ‘n armleuning tussen die voorste sitplekke met stoorplek.

Instrumentepaneel van die Isuzu MU-X

Enjin

Die MU-X word aangedryf deur Isuzu se beproefde 3,0-liter- 4-silinderturbodieselenjin. Die enjin trek sterk en is uiters betroubaar, maar voel soos ‘n ouergenerasie-enjin. Hy klink ook soos ‘n ouer enjin. Met ‘n maksimumenjinkrag van 130KW en 380 NM, is daar absoluut niks fout met die enjin nie; ons dink net dat Isuzu dalk hierdie geleentheid kon gebruik het om die hoërwringkragweergawe uit Australië te gebruik. Die enjin lewer 430NM, sowat 50 NM meer as die plaaslike enjin.

Rygerief

Bagasieruim van die MU-X

Isuzu’s was nog altyd bekend vir hul rygerief en snaaks genoeg ry die KB-bakkie vir my persoonlik gemakliker as die MU-X. Dit is asof die MU-X te groot voel, te hoog op sy wiele ry en selfs partykeer voel asof hy maklik sal omval, sou ‘n draai of baanverandering bietjie te vinnig geneem word. Die motor voel werklik nie onstabiel nie, dit is net asof die swaartepunt te hoog is. Die motor voel ook baie groot en lomp agter die stuur.

Gevolgtrekking

Teen R568 000 is die MU-X 3.0D 4×2 outomaties R44 000 goedkoper as die vergelykende 2,8 Fortuner en R39 000 goedkoper as die 3,2 Everest. Beide die Ford en Toyota bied meer moderne toepassings van die dieselfde tipe voertuig en ek wonder werklik of die verskil in prys nie maar tog beter waarde in die Isuzu bied nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.