Leon Lemmer: Chris Brink oor die wese van die universiteit

Deel op

Chris Brink het weer sy opwagting in die plaaslike pers gemaak: In die Daily Maverick op 9 Januarie 2019. Hy skryf dat hy aan agt universiteite op drie kontinente werksaam was en baie ander universiteite besoek het. Hy beskou homself dus as ‘n kenner van universiteite. Hoewel sy artikel veral oor sy onlangse besoek aan die University of Johannesburg (UJ – voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit, RAU) handel, was die motief vir sy skrywe moontlik om lesers en kopers vir sy jongste boek te werf en sy politieke oorverligtheid te herbevestig. Hy het onder meer die biblioteek en die departement wiskunde besoek en is gunstig beïndruk. Die UJ is glo baie beter as die RAU, waar hy in die jare sewentig ‘n student was. Die studente weerspieël nou die demografie en die UJ het “a microcosm of post-apartheid South Africa” geword. Volgens sy insig vergoed hierdie nuwe gedaante blykbaar vir nietighede soos die verandering in onderrigtaal van Afrikaans na Engels en die voorkeur wat aan swart studente en personeel bo (bekwamer) blankes gegee word.

Brink (gebore in 1951) het ‘n akademiese pos in Australië beklee toe hy as die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US, 2002-2007) aangestel is. Daarna was hy die visekanselier van Newcastle University (2007-2016) voordat hy hom as afgetredene in Franschhoek gevestig het. Hy het dalk te veel vyande op Stellenbosch weens sy anti-Afrikaner en anti-Afrikaans gesindheid. Sedert 2018 kan hy CBE (Commander of the most excellent order of the British Empire) agter sy naam skryf. Onderhoude vir die rektorskap is in 2001 deur US-raadlede gevoer. “Vir sommige het Brink se finale uitspraak in die onderhoud dat hy ‘n sterk ondersteuner van US as Afrikaanse universiteit is en dat hy die onderrig en navorsing deur medium van Afrikaans wil versterk en uitbou, die deurslag gegee. Minstens twee Raadslede het op grond hiervan hulle steun van [Rolf] Stumpf [die ander kandidaat] na Brink verskuif, wat hom die pos met 11 stemme teen 9 besorg het” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 76).

In ‘n dokument gedateer 18.05.2001, wat Brink met die oog op sy aanstelling as rektor opgestel het, skryf hy: “Ek sien US as sentraal binne ‘n ‘Afrikaanse Renaissance'” (76). “In ‘n onderhoud met Die Matie en ‘n gesprek met personeel net nadat sy aanstelling bekend gemaak is, het hy herhaaldelik [so valslik soos Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat] die versekering gegee dat Afrikaans veilig in sy hande is en dat hy Stellenbosch as universiteit van eerste keuse vir alle Afrikaansmagtiges van alle bevolkingsgroepe sien. Stellenbosch kan in en deur Afrikaans transformeer” (77). Op 14 November 2002 het Brink op ‘n Konvokasievergadering die versekering gegee dat die US “nie op die glybaan van verengelsing is nie en dat hy altyd sy verbintenis met Afrikaans sal behou” (88; ook 115). Vóór dit het hy egter reeds “‘n groter akkommodasie van Engels … bepleit. Hy het selfs sover gegaan om die stelling te maak dat hy op kampus onder die studente ewe veel Afrikaans en Engels hoor” (79). Twee jaar later, in 2004, het Brink egter erken dat 73% van die US-studente Afrikaans as huistaal het (79).

Kapp stel dit onomwonde dat dinge vir Afrikaans ná 2002 skeef geloop het (127). Op 14 November 2002 het Kapp hierdie profetiese woorde geuiter: “Die US moet leer dat die reguit en eerlike pad op die lang duur die enigste pad is waarop jy jou karakter en integriteit behou” (128). Brink het Kapp en/of die Konvokasie hiervoor “ernstig verkwalik” (169). Met verloop van tyd het Brink al hoe meer sy ware kleure, bv sy voorkeur vir Engels bo Afrikaans, gewys. In Junie 2004 het hy soos volg vertel hoe Afrikaanssprekendes by veranderde omstandighede moet aanpas: In die Oos-Kaap was die Kaapse groen papegaai voorheen van geelhoutbome afhanklik vir kos. Noudat hierdie bome uitgeroei is, moet die papegaai leer om van iets anders te leef. Wat Brink geïmpliseer het, is: “Maties moet leer om van iets anders as Afrikaans te lewe” (102).

In 2005 het die situasie aan die US al in so ‘n mate versleg “dat Afrikaans as ‘n struikelblok vir uitnemendheid beskou” is (118). By die Konvokasievergadering aan die einde van 2005 het Brink duidelik gemaak wat vir hom belangriker as Afrikaans is. “Die US staan voor ‘n keuse tussen twee risiko’s … die een na isolasie en die ander na ‘n glybaan ten opsigte van onderrigtaal. Die risiko van isolasie is veel groter en gevaarliker as die risiko van ‘n glybaan” (122). Later het Brink selfs afkeurend na “die US se ingeteelde akademiese standaarde” verwys (157). In 2006 het hy ‘n boek met die titel, No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch, gepubliseer. “Die boek handel in werklikheid minder oor die taaldebat op Stellenbosch en meer oor ‘n uiteensetting en bespreking van wat die skrywer die Neo-Afrikaners noem en hulle ‘ware oogmerke’ om ‘n volkstaat of the mind (‘n volkstaat van die gees) op Stellenbosch as ‘n kulturele Orania te skep” (136). Brink verwys na “‘Neo-Afrikaners’ wat, vanweë die angs weens verlies aan mag, nou Afrikaans in ‘n laer wil intrek waar dit geïsoleerd van die res van Suid-Afrika, van die Universiteit Stellenbosch ‘n Afrikaner-enklawe wil maak, wat die skrywer as ‘n volkstaat van die gees beskryf” (137). Uit die voorafgaande is dit duidelik dat Brink sowel anti-Afrikaner as anti-Afrikaans gesind is; nie anti-Brits of anti-Engels nie – vandaar sy aanvaarding van die CBE-betitelling.

Jare lank het die US die volgende beleid gehad: “Dat alle studente in die fakulteite as kredietdraende deel van hulle graadkursusse óf ‘n taalvaardigheidstoets in Afrikaans en Engels moet aflê óf verpligte taalvaardigheidskursusse in Afrikaans en Engels moet volg” en “Dat dosente wat nie oor voldoende kennis van Afrikaans of Engels beskik nie, verplig moet word om kursusse te volg wat hulle op ‘n peil sal bring om al twee tale gelyk te behandel in hulle onderrig” (143). “Brink het hierdie gevestigde standpunte as ‘n opdwing van Afrikaans soortgelyk aan wat met die Soweto-opstande gebeur het, beskryf” (143). “Dit was duidelik dat die Rektor die US se personeel die grootste moontlike vryheid wou gee om [die] onderrigtaal by variërende omstandighede aan te pas en dat hy dit as diskriminasie beskou het dat daar van nie-Afrikaanssprekendes verwag kan word om Afrikaans magtig te word terwyl Afrikaanssprekendes feitlik deur die bank Engels magtig is” (144).

Wat Afrikaans betref stem Brink se môre- of vóór-aanstellingspraatjies en sy aand- of ná-aanstellingspraatjies glad nie ooreen nie. Russel Botman het hom as US-rektor opgevolg en voortgegaan om Engels as onderrigmedium te bevorder en Afrikaans af te skaal. Omdat Botman die eerste “swart” US-rektor was, is daar blykbaar nie duidelike, sterk verbintenisse tot Afrikaans van hom vereis nie. Hy het hierdie situasie tot die uiterste toe tot nadeel van Afrikaans uitgebuit. Botman is as US-rektor deur Wim de Villiers opgevolg. “Toe die US se aanstellingskomitee, voor sy aanstelling as rektor, ‘n onderhoud met De Villiers gevoer het, het De Villiers beweer dat die posisie van Afrikaans aan die US ingevolge sy oortuiging ‘ononderhandelbaar’ is (Eikestadnuus, 19.11.2015, p 1). Voor die einde van sy eerste jaar as rektor, op 12 November 2015, het De Villiers egter, met die ondersteuning van sy bestuurspan, aangekondig dat hy Engels met ingang 2016 ‘die primêre taal van kommunikasie en administrasie’ aan die US wil maak. De Villiers wou hiermee die voorkeurtaal van die minderheid op die kampus dié onderrigtaal van die US maak ten koste van die meerderheid, te wete die Afrikaanssprekendes en ander wat Afrikaans (goed) magtig is. Die US-raad het vir ‘n wyle weerstand gebied maar versuim om De Villiers se gedrag as blatante kontrakbreuk te takseer” (Praag 3.06.2018). Kortom, De Villiers het dieselfde laai as Brink uitgehaal en albei het daarmee weggekom, tot nadeel van Afrikaans.

The soul of a university

Op 1 Julie is die volgende boek van Chris Brink gepubliseer: The soul of a university: Why excellence is not enough (Bristol University Press, 2018, 408p; Amazon Kindle $28,36). Die angel is in die newetitel. Een van die resensente beskryf die boek as “a brutal and honest analysis of the crisis facing universities” (Kindle 25). Dié brutaliteit word hoofsaaklik op apartheid, dus Afrikaners, en die US en Afrikaans uitgehaal. ‘n Ander resensent vind “uncompromising integrity” in die boek (30). Wat moraliteit betref het ek reeds verwys na die verskil tussen wat Brink vóór sy aanstelling as US-rektor belowe het en wat hy daarna in woord en daad gelewer het. Die epigraaf kan vertolk word as in skille teenstelling hiermee: “The supreme good open to man is to know the true, to do the good, and to delight in both” (Boethius of Dacia, De summo bono, ca 1270s) (36).

Brink skryf: “I was only the seventh rector of Stellenbosch University since 1918, the first rector to be appointed from outside the university, the first who was not an alumnus, and the first who had never been a member of the Broederbond or any of the Afrikaner cultural organisations” (6687). In ‘n mate verduidelik dit waarom Brink so min begrip vir US-tradisies getoon het en hy so baie vyande as US-rektor gemaak het.

Aan die begin noem die outeur dat hy die meeste van die teks geskryf het terwyl hy die visekanselier van Newcastle University in Engeland was. In ‘n eindnota verwys hy bv na ‘n afdeling wat ‘n situasie in 2012 skets (6214). Die boek het dus oor jare tot stand gekom en is ‘n deeglike stuk werk. Vergelyk die akademies-wetenskaplike gehalte daarvan gerus met dié van ‘n ander oudrektor, Jonathan Jansen (bv Praag 15 en 22.07.2017). Brink se tema is “the idea of a world-class civic university” (135). Brink beskou die burgerlike/”civic” aard as die siel (of kern, essensie, wese) van die (ideale) universiteit (145). In Platoniese sin “the universities in which we live and work are each but an imperfect imitation of the real idea of a university” (575). Anton van Niekerk is een van diegene wat deur Brink vir sy samewerking bedank word (140). Hierdie vriendskap dateer sekerlik uit die tyd toe hulle kragte saamgespan het om Afrikaans aan die US af te skaal.

Brink is wesenlik ‘n wiskundige. Een van die grootste bates van die boek is die uitnemende mate waarin hy in duidelike taal wiskundige geletterdheid by die lesers bevorder. Hy beklemtoon deurgaans die betekenis- (bv kwaliteits-) verskraling en misleiding wat die versyfering of kwantifisering van inligting kan meebring. Hy is ook onderlê in die filosofie, veral logika en die antieke Griekse wysbegeerte, asook in begripsontleding en terminologiese vastigheid soos aangetref in die linguistiese wysbegeerte. Sy akademies-wetenskaplike vorming is stukke beter (bv meer fundamenteel) as dié van sy twee plaaslike opvolgers, Russel Botman, wat beroepsonderrig in die teologie ontvang het, en Wim de Villiers, wat beroepsonderrig in die geneeskunde deurloop het. Brink verstaan verskynsels soos ideologie, politiek en propaganda veel beter as die twee wat hom as US-rektor opgevolg het. Al drie is polities uiters linksgesind, maar Brink is geestelik (bv akademies-wetenskaplik) beter toegerus en daarom in staat om meer skadelik vir Afrikaners en Afrikaans te wees.

Brink beklemtoon bv dat universiteite “international entities” is (185) en “truth knows no boundaries and no national identity” (179). Op die keper beskou is sulke stellings nie (sonder meer) verwerplik nie, maar ‘n mens weet dat hy hulle teen Afrikanernasionalisme, asook die “parogiale” US van weleer, gaan gebruik; asof die plaaslike etnies-eie, bv Afrikaanse Kultuurgeskiedenis (eintlik Afrikanerkultuurgeskiedenis, eens ‘n volwaardige navorsings- en onderrigdepartement aan die US) nie akademies-wetenskaplike status verdien nie. Ons besef dat die waarheid in die nuwe Suid-Afrika en wêreldwyd ondermyn word; dus dat daar in die samelewing iets soos “post-truth” is (158) en dat daar op die universiteit die verpligting rus om die waarheid te soek en rasionele kennis te versprei wat deur die studente geleer word (151). Maar dan kom Brink met ‘n hoogs oordrewe stelling wat sy misleide siel blootlê: “The Trumpeters have discovered that contradicting yourself is a way of validating any opinion” (191).

“There are two key questions we should always ask about our academic work. The first is: what are we good at? The second is: what are we good for? The first question is about excellence: who is expert at what? The second question is about purpose: how do we respond to the needs and demands of society?” (191). “The central thesis of this book is that universities should pay attention to the question of what they are good for with the same rigour and determination as they pursue the question of what they are good at … We have self-indulgently been focusing on the former” (204). Tradisioneel het die universiteit op navorsing (kennisproduksie) en onderrig (kennisverspreiding) gekonsentreer. Hierdie twee funksies beïnvloed mekaar wedersyds. Verder: “Teaching is not an end in itself, but a means to an end, which is learning” (2326). Brink wil hê dat gemeenskapsdiens net so ‘n belangrike funksie vir die universiteit moet wees; nie as ‘n addisionele derde, aparte funksie nie (5012), maar as navorsing en onderrig waarby die samelewing baat, bv mense se lewensgehalte verbeter. Aan sulke goeie dade word die frase “sosiale verantwoordelikheid” deesdae dikwels gekoppel. “In principle, the exercise of social responsibility is not place-bound, but since charity starts at home, it is often locally focused” (1112).

In die praktyk veroorsaak so ‘n benadering egter dat by voorkeur navorsingsprojekte befonds word wat tans “relevant” vir die samelewing is terwyl fundamentele navorsing wat langtermynvoordele bied agterweë kan bly. Dink ook aan die talle “kort kursusse” wat sedert 1994 plaaslik (uitsluitlik in Engels) deur universiteite aangebied word. Dit word gedoen sodat veral die ANC-kaders wat in die owerheidsektor ontplooi is sertifikate kan verwerf en hulle dan kan sê dat hulle aan bv die US studeer het. Universiteite baat finansieel hierby maar hulle akademiese aansien daal. Sodanige kursusse kan veroorsaak dat die onderrig wat die universiteit aan sy graadstudente verskaf daaronder ly.

“I also have severe concerns about the fashionable idea of ‘merit’, and the accompanying socio-political construct of a meritocracy” (224). Michael Young se redenasie is: “If not everybody can have merit then the meritocracy would be just a new kind of aristocracy, because it excludes some people through no fault of their own” (3486). Dit lyk vir my na ‘n drogredenasie. ‘n Meritokrasie kan almal insluit wat aan die gehaltevereistes voldoen. Omdat die wêreld nie ‘n paradys van regverdigheid is nie, sal sommige uitgesluit word al is dit nie weens hulle eie toedoen nie. Byvoorbeeld, ‘n mens kan wat gene betref dit gelukkig of ongelukkig tref (3493). As kulturele marxis hou Brink van die gelykverklaring van mense eerder as die Bybelse waarheid dat party mense baie en ander min talente ontvang het.

Hy erken ook nêrens die wesenlik hiërargiese aard van die universiteit nie. Veralgemenend: Voorgraadse studente is nie die (akademiese) gelyke van nagraadse studente nie; lektore is nie die (akademiese) gelyke van professore nie, ens. Die rektor was tradisioneel veronderstel om akademiese leiding aan die universiteit in sy geheel te verskaf. Deesdae vervul hy eerder die rol van bestuurder van ‘n sake-onderneming en hoofkruiper by die regering. Die akademiese personeel vervul die kernfunksies van die universiteit (navorsing en onderrig), wat die rede is waarom die universiteit bestaan. Die administratiewe personeel voer ondersteuningfunksies vir die akademie uit en is veronderstel om nie die gelyke van die dosente te wees nie, maar in die praktyk word dikwels toegelaat dat klerke die botoon oor dosente voer.

“Instead of acquiring a good education on the basis of merit, we have reached the stage where we gain merit on the basis of a good education. This becomes a problem when the ‘good education’ is not equally available to all – which it isn’t, when it must be bought” (315). By implikasie spreek Brink hom hier ten gunste van Jacob Zuma se gratis tersiêre onderwys uit, wat absurd is as daar nie ook gratis skoolonderwys is nie. Plaaslik is die praktyk egter dat dit hoofsaaklik blankes is wat vir skool- en tersiêre onderwys betaal. Betaling mag nie van swart skoliere vereis word nie, selfs nie wanneer swartes eens blanke skole bywoon nie. Universitêre studiebeurse word ook by voorkeur aan swartes toegeken. Sodanige situasie noodsaak strenger toelatingsvereistes terwyl Brink en die plaaslike universiteite eerder hierdie vereistes verslap en terselfdertyd teen blankes diskrimineer.

As liberalis begeer Brink ‘n regverdige wêreld, maar daar was nog nooit so iets nie. Weens finansiële redes kon ek nie ‘n geneesheer of ingenieur word nie, maar ek het my daarna geskik en aan Unisa studeer. Dwarsdeur my beroepsloopbaan moes ek aanhoor hoe mense kla dat hulle nooit die geleentheid gehad het om aan ‘n universiteit te studeer nie terwyl hulle dit deur afstandsonderrig en deeltyds aan Unisa kon doen. Bygesê: Die huidige Unisa is nie die akademiese skaduwee van die Unisa van weleer nie. Ek kwalifiseer nie vir lidmaatskap van ‘n private klub nie en woon nie op ‘n eksklusiewe gholflandgoed nie, omdat ek dit nie kan bekostig nie. Maar ek aanvaar my situasie sonder griewe. Ek voel nie benadeel nie en brand nie uit jaloesie sulke luukse plekke af nie.

Wat studente betref is die universiteit nie vir almal nie. Soos dit in die Britse Robbins-verslag (1963) gestel word, ‘n universiteit “should be available to all who are qualified by ability and attainment” (772). Dit is noodsaaklik om te erken dat baie mense te dom is om aan ‘n universiteit te studeer. By wyse van spreke: ‘n Mens kan nie ‘n slak leer om klavier te speel nie (Praag 2.11.2013). ‘n Universiteit het “entry standards” en “exit standards” (2122). Brink is ten gunste van die verslapping van die toelatingsvereistes vir studente, want wat volgens hom van meer belang is, is die deurlatingsvereistes. “What matters, in terms of both quantity and quality, is not entry, but exit” (2860).

Dit bring ons by “standaarde” waarteen Jonathan Jansen sulke heftige besware het. Brink skryf: “If quality is the answer to the question ‘Is it good?’, then standards give the answer to the question ‘Is it good enough?’ A standard is a threshold of some kind, in higher education as in other domains” (2115). Wat Brink nie verreken nie, is dat nie net ‘n oorwig nie maar ‘n kritiese gewig van nie-presteerders in ‘n klas die akademiese vlak en omvang van die onderrig nadelig beïnvloed. Daar word ook gekom met die argument dat alle skoliere nie dieselfde geleenthede gehad het nie; dat ‘n eksamenpunt van bv 50% deur ‘n swarte net so goed of beter as die 80% van ‘n blanke student is, ens. Brink praat dit goed en noem dit “to reset the quality indicators for students” (3002). “We had to change the understanding of what quality means” (3012). Dalk ‘n voorbeeld van “post-truth”?

Die klem verskuif van bewese prestasie (wat gemeet kan word) na potensiaal (wat nie noodwendig verwesenlik word nie). “The difficulty is that while attainment is easy to measure, being based on past performance, potential is impossible to measure, being based on future performance” (2260). Soos ek dit by geleentheid aan ‘n rektor gestel het: Wys vir my ‘n aspirant swart student of dosent waarvan gesê word dat hy nie potensiaal het nie. Deesdae word ander menings egter gehuldig. Almal is gelyk. Almal het potensiaal. Gee hulle net die kans om hulleself te bewys, ens.

Brink opper baie besware teen die manier waarop universiteite in ‘n hiërargie van goed tot sleg geplaas word. “Rankings create a reality, more than they represent a reality” (4259). “Rankings are a perfect manifestation of the post-truth society. They give the appearance of certainty and avoid the complexities of truth” (231). Dit is veral koerante wat hierin die leiding geneem het. Die publiek wil graag ‘n maklik verstaanbare kwaliteitsordening van universiteite hê. Brink toon oortuigend die gebreke van die bekendste rangordenings aan; bv dat arbitrêr besluit word watter eienskappe in ag geneem word en watter gewig aan elkeen toegeken word. Maar ‘n mens wonder tog of daar nie groter berusting by Brink sou gewees het as hy die visekanselier van Oxford of Cambridge was en nie dié van die minder gerekende Newcastle University nie.

Soos in die geval van meriete hinder die begrip kwaliteit noodwendig ook vir Brink. “Following Boethius of Dacia, I hold that ‘good’ has at least two dimensions: good as in excellent and good as in virtuous. On the latter, less explored axis, quality is inseparable from equality. Likewise, equality is inseparable from diversity, which leads me to conclude that quality needs diversity” (238). Goed (in die sin van uitstekend) is myns insiens ‘n minder vae begrip as deug, wat gevolge betrek waarin moraliteit en emosie ‘n rol speel. Brink spring van kwaliteit (of goed) as uitstekend en deugsaam na gelykheid en diversiteit. Dit lyk vir my na ‘n drogredenasie. Hier gee Brink uitdrukking aan sy politieke voorkeure. Dit sou hom immers in staat stel om te beweer dat die US van weleer nie goeie of kwaliteitsonderrig kon verskaf nie omdat daar nie gelykheid en diversiteit was nie. In die konteks van gelykheid en diversiteit dink hy aan die ras, etnisiteit en geslag van die studente en dosente. Maar in sy tyd as US-rektor was daar wat onderrigmedium betref groter taaldiversiteit as tans.

Op kampusse was daar tydens apartheid in veel groter mate as tans ‘n diversiteit van idees. Stemme teen apartheid is toe deurgaans gehoor terwyl enige regse geluide deesdae glad nie op bv die US-kampus geduld word nie. ‘n Openbare voorlesing of debat oor bv “What if there were no whites in South Africa? (Praag 5.11.2017), is heeltemal toelaatbaar maar nie een oor hoedanig die land sonder swartes sou wees nie. Nog ‘n tema wat ek graag vir openbare bespreking op enige of alle universiteitskampusse aanbeveel is: Hoe sou Suid-Afrika in 1994 of deesdae gelyk het as nie die NP nie maar die ANC in 1948 aan die bewind gekom het? Dus, wat sou die uitwerking van korrupte, onbekwame roofbou op die land gewees het as dit oor 70 pleks van 25 jaar voortgewoeker het? Dit lyk asof daar meer waardering vir die NP-regering en veel minder vir die ANC-regering moet wees.

Brink het dit teen ‘n eendimensionele, liniêre benadering. Hy opper geldige besware hierteen, maar sodra meerdere dimensies ingebring word, neig die voorstellings om ingewikkelder te word en help dit die outeur om sy polities gemotiveerde siening van die universiteit aanvaarbaar te probeer voorstel. “The antidote to one-dimensionality is more dimensions. I advocate an academic landscape, the two axes of which are excellence and purpose. The excellence axis is our response to the question of what we are good at; the axis of societal purpose is our response to the question of what we are good for. As in any landscape, the two axes are conveniently thought of as being orthogonal: at right angles to each other” (245). In ‘n ortogonale opset is daar nie ‘n hiërargie of voorkeur nie; net soos ‘n landskap sowel vertikale as horisontale dimensies toelaat. “We can talk of excellence and purpose, knowing the true and pursuing the good” (251).

“‘Pure’ research may transform the subject, but ‘applied’ research transforms the world” (897). “Applied research will mine the results of pure research for applications” (951). Wat Brink verlang, is dat naas die fundamentele navorsing wat uit individuele nuusskierigheid of weetgierigheid in ‘n bepaalde vak/studierigting/dissipline gedoen word, daar ook plek vir toegepaste navorsing moet wees wat deur ‘n groep navorsers onderneem word ten einde die samelewing te dien. In die praktyk is sulke navorsing dikwels van ‘n nie-dissiplinêre aard (251) en “problem-oriented and solutions-driven” (1887). Nie-dissiplinariteit kan verskeie vorms aanneem, bv “cross-disciplinary,” “interdisciplinary,” “multidisciplinary” en “transdisciplinary” (4907).

“In the same way as we all strive to be a ‘world-class’ university on the axis of excellence, we can all strive to be a ‘civic’ university on the axis of societal purpose. ‘Civic’ is nicely ambiguous: it can refer to your interaction with your city or region, but it can also refer to your responsibility to civil society – local, national or global” (258). Ek dink nie iedere universiteit streef na wêreldklasstatus nie. Soos Brink dit elders stel: “Some universities strive for an international footprint, others build a campus culture at home” (2183). Die strewe na wêreldklasstatus is iets wat hoofsaaklik by globaliste soos Brink prominent is. Die eens Afrikaanse universiteite het die akademies-wetenskaplik regverdigbare strewe gehad om Afrikaners te dien. Dit is so dat bv wiskunde of die antieke Griekse wysbegeerte wêreldwyd wesenlik dieselfde behoort te wees, maar onderrig daarin hoef nie in ‘n globale konteks te geskied nie. Soos Brink self aandui, kan die aandag op plaaslike behoeftes toegespits wees.

In hierdie rubriek het ek nou liniêr nog nie verder as Brink se oorsigtelike proloog gevorder nie (tot by Kindle 269); selfs nog nie eens die inleiding behandel nie. Maar die voorafgaande uiteensetting gee tog ‘n aanduiding van die kern van wat Brink te sê het; des te meer omdat ek wat in die proloog staan met inligting uit die res van die boek aangevul het. Teen die einde van sy proloog skryf Brink: “This book is one of advocacy” (266). Hy toon tereg aan dat universitêre kwessies ingewikkeld kan wees. Dit stel hom in staat om sy ideologiese voorkeure te verdoesel, behalwe wanneer dit by die “apartheidsregime” kom. Dan word sy vooroordele duidelik uitgestal met die oog op internasionale konsumpsie.

“Academic excellence must respond to the challenges facing civil society” (266), bv die uitdagings oftewel die baie dinge waarmee die ANC-regering nie raad het nie, wat dikwels teruggevoer kan word tot eie onvermoë/onbekwaamheid. “In an increasingly fractured world, we need to combat isolationism with the simple truth that your problem will no longer stop at my border, nor mine at yours. It is up to us to demonstrate that the world can still benefit from wandering scholars” (272). Daar is egter baie kwessies wat eerder plaaslik as globaal ter sake is. Bitter min akademici is “wandering scholars” of trekvoëls. Eintlik stel Brink homself hier as navolgenswaardige voorbeeld op.

Dit het min sin om die res van die boek in besonderhede te bespreek. Die ruimte ontbreek, gevolglik net enkele fragmentariese verwysings. Brink sluit sy inleiding soos volg af: “The soul of the university can be characterised by the dimensions of excellence and societal purpose. Not only will this re-emphasise the societal value of truth and rational argument, it will also reinforce the kind of universalism that transcends national boundaries” (342). Brink is dus weer die akademiese trekvoël wat landsgrense wil oorsteek. Toe hy in 1999 ‘n betrekking in Australië aanvaar het, het hy dieselfde paadjie bewandel as baie verkramptes wat dit nie in die nuwe Suid-Afrika kon uithou nie. Dalk het sy vroeëre Boer-DNS toe die oorhand gehad. Toe Brink in 2007 Engeland toe is, het hy uit Stellenbosch gevlug omdat Afrikaners dinge vir hom te warm gemaak het. Toe is daar nog met oorgawe en oor ‘n breë front ten gunste van Afrikaans baklei. Tans is slegs enkele stryders ten bate van Afrikaans oor.

“The two fundamental principles of the standard model [for universities] are academic freedom and institutional autonomy” (970). “The strength of universities lies in institutional autonomy and academic freedom” (4305). As wat die universiteit ingevolge navorsing en onderrig doen (deurslaggewend) deur die samelewing bepaal word, word die vryheid van die akademici ingekort. Die outonomie van die universiteit ly daaronder as toegelaat word dat die staat voorskriftelik in akademiese sake inmeng. Hierdie twee pilare waarop die universiteit steun, kan dus ernstig ondergrawe word as samelewingsbehoeftes, wat deur Brink beklemtoon word, die agenda van die universiteit bepaal.

In Suid-Afrika misbruik die ANC-regering tot die uiterste toe sy hefboom van owerheidsubsidiëring om universiteite na sy wil te buig. Brink verwys na ‘n gesonder benadering: “The unexamined assumption behind state funding, which really means taxpayer funding, is that higher education is a public good, and therefore the public should pay for it” (1003). “Conceptually, the idea of state funding for the university does not fit well with the ideas of institutional autonomy and academic freedom, since there is inevitably a tension when you vigorously assert your independence from your paymaster” (1010).

Die tragedie is dat geen plaaslike universiteit met oorgawe aandring op akademiese vryheid en institusionele onafhanklikheid nie, al is daar nog ‘n geringe mate van lippediens aan akademiese vryheid. ‘n Sprekende voorbeeld van die gesindheid wat heers, is die De Villiers-US se onvoorwaardelike instemming tot die vermeerdering van die regeringsverteenwoordigers in sy Raad. In werklikheid is alle regeringsaangestelde raadslede ‘n onding. Regeringswaarnemers sonder stemreg is al wat ‘n outonome universiteit in sy Raad behoort te duld. In vergelyking met die NP-regering dra die ANC-regering ‘n veel kleiner persentasie by tot die begroting van universiteite, maar eis terselfdertyd veel groter inspraak/inmenging as wat die NP-regering hom ooit aan skuldig gemaak het.* Daar is bv ‘n komitee wat die plaaslike universiteite besoek en die mag het om onderrig in studierigtings te verbied wat nie aan sekere vereistes voldoen nie; nie noodwendig akademies-wetenskaplike vereistes nie; bv ook vereistes soos dat die studente- en dosentekorps genoegsaam getransformeerd, dus verswart, moet wees. Onderrig in die regte is bv al om hierdie rede aan meerdere universiteite opgeskort.

[* Oor die aarts-ANC-kameraad Jaap Durand het ek voorheen geskryf: “Durand gee ‘n sekerlik heeltemal onbedoelde groot kompliment aan die ‘apartheidsregime’ wanneer hy skryf: ‘Die regering het sover moontlik die indruk probeer skep dat hulle aan die UWK ‘n sekere mate van onafhanklikheid gun en dat hulle nie sonder meer sou inmeng met die besluite van die Universiteitsraad oor die algemene rigting wat die universiteit moet inslaan nie’ (121). Die NP-regering het die outonomie van universiteite sover moontlik eerbiedig. Dit is waarom mense soos Durand en Gerwel met so baie politiekery ten koste van die akademie weggekom het. Vergelyk dit met die huidige tragiese situasie waarin die ANC-regering weier om enige universitêre onafhanklikheid te erken en die rektore, sonder ‘n enkele vermeldingswaardige uitsondering, hulle daarin berus” (Praag 14.01.2017).]

“The university must be able to take its own decisions on how to conduct itself. It should be self-governing and not beholden to anyone. It will not issue instructions to any other part of society, but neither will it take them. It should be free from the state, free from the church, free from the military, free from the press, free from strictures of culture or language” (977). Brink gaan hier oorboord met vryheid. Daar is bv baie Protestantse en Rooms-Katolieke universiteite, asook baie wat ‘n bepaalde kultuur of taal handhaaf en uitbou. Brink verwys in hierdie konteks na “the protection of a minority culture or the preservation of a small language” (5525), wat meebring dat sowel Afrikanerkultuur as Afrikaans as universitêre missies kan kwalifiseer. Die betrokke universiteit besluit self oor sy kenmerkende aard en daardie studente en dosente aanvaar dat navorsing, onderrig en leer (in meerdere of mindere mate) in hierdie konteks gedoen word.

Daar bestaan “different missions for different universities” (1068). ‘n Afrikaanse Afrikaneruniversiteit het dus sekerlik bestaansreg. Daar word bv verwys na “a national humanities college whose major purpose is to develop and preserve its unique national language” (2392). Brink erken dit in ‘n mate as hy oor die universiteit skryf: “As an outonomous institution, it may choose to align itself with, and even promote, a community, a culture or a religion [or a language], but in its academic function it should not be subordinate to any of these” (977). “Culture is a separate strand of engagement – when a university associates itself with a certain community, be that a community of culture or practice or religion or language, irrespective of geography” (1118).

Pas nadat Brink na Martin Heidegger (1889-1976) as die Nazi-gesinde rektor van die Universität Freiburg verwys het (ook 5532), skryf hy: “The question of [university] purpose needs to pass the test of whether it benefits society as a whole, or is only narrowly focused on a particular section of society, perhaps to the detriment of others. In South Africa, Stellenbosch University had for most of the 20th century a very clear sense of purpose, which was the cause of Afrikaner nationalism. It pursued that purpose through the medium of apartheid, which had a big impact on society – but not a beneficial one” (2226). Dit is ‘n kenmerkende gemeenheid van polities linksgesindes om apartheid met naziisme te assosieer.

Brink veroordeel Afrikanernasionalisme maar het hy al dieselfde met swart nasionalisme gedoen? Apartheid word sonder meer en erg oordrewe as sleg beskou. Brink gun nie bestaansreg aan die US as Afrikaanse Afrikaner-universiteit nie, maar het hy al ‘n woord van veroordeling geuiter teen etniesgedrewe swart universiteite plaaslik en bv in Amerika, bv Howard University in Washington DC? Dit is net ‘n etniese Afrikaner-universiteit wat hy taboe verklaar omdat dit volgens hom blykbaar noodwendig sleg moet wees. “Stellenbosch served Afrikanerdom. But to what effect? In positioning itself as a Volksuniversiteit, Stellenbosch served as the maternity ward of apartheid and the intellectual muse of the Broederbond” (5532). In dinge soos Afrikanernasionalisme, apartheid en die Broederbond as bevorderaars van Afrikanerbelange vind Brink niks goeds nie.

Hoofstuk 4 drup van die gif wat Brink versprei. “This chapter has a more personal slant” (2785). Die teks handel oor “the personal circumstances and social conditioning of the author which may impact on their [his] judgement” (2785). “Any opinion on what constitutes the good is unlikely to be objective” (2779). Hy vertel dan van sy tyd in die 1990’s as dosent in die departement wiskunde aan die Universiteit Kaapstad (UK). Hy kom met die geykte wanvoorstelling dat swartes volgens Hendrik Verwoerd nie wiskunde nodig het nie en net vir hande-arbeid geskik is. “The non-teaching of mathematics … [became] one of the tools of oppression deployed by the apartheid regime” (2806). Wat hy nie (duidelik) sê nie, is dat Verwoerd se opmerkings betrekking gehad het op swartes in blank-geregeerde Suid-Afrika. In die swart tuislande kon swartes ingevolge die beleid van afsonderlike ontwikkeling tot die hoogste sport in enige beroep vorder. Dit is waarom daar van 1960 af teen groot koste staatsuniversiteite spesiaal vir swartes geskep is. Fort Hare is deur die NP-regering van ‘n Skotse kerkgenootskap oorgeneem en voortreflik uitgebou. Die Universiteit van die Noorde/Turfloop (tans Limpopo) en dié van Zoeloeland is uit die grond opgebou en is deur talle ander universiteite vir swartes gevolg.

Brink vertel wat hy en sy UK-kollegas gedoen het om die wiskunde van swart studente op peil te probeer kry. Wat hy nie noem nie, is dat hierdie studente reeds wiskunde as vak op skool gehad het. Hoërskole vir swartes soos Lovedale en Healdtown in die Oos-Kaap en Adams College in Amanzimtoti, Natal, het voor en tydens apartheid wiskunde as vak aangebied. Fort Hare het reeds sedert 1960 ‘n departement wiskunde sowel as ‘n departement toegepaste wiskunde. Om te bewys dat ek weet waarvan ek praat: In die jare sestig was prof GJ Janse van Rensburg aan die hoof van die departement wiskunde en prof S Linde aan die hoof van die departement toegepaste wiskunde. Waar sou hierdie studente vandaan gekom het as hulle nie wiskunde op skool gehad het nie? Brink kla oor “the neglects of Bantu education” waarvolgens studente “not have had any kind of exposure to anything mathematical for years” (2889). Behoort Brink as wiskundige nie veel eerder uit te vaar teen die vrot wiskunde wat sedert 1994 tot op hede in swart skole aangebied word nie?

Tydens apartheid “the university landscape was a fragmented one” (2806) omdat daar verskillende universiteite vir die verskillende etniese groepe (blankes, bruines, Asiate en swartes) was. Dit is nie al waarteen Brink dit het nie. “South African universities had already been differentiated by language” (2806). Daar kan myns insiens min twyfel wees dat Brink (soos sy opvolgers as US-rektor, Russel Botman en Wim de Villiers) voorkeur aan Engels as die enigste onderrigmedium aan Suid-Afrikaanse universiteite gee. Hy lys die name van die talle universiteite wat vir swartes geskep is en noem dit (met snedige verwysing na George Orwell) “apartheid-speak” (2812). Vir hierdie universiteite “[the] blacks were supposed to be grateful” (2839). Hoekom nie? Dit het aan derduisende swartes universitêre onderrig van ten minste redelike gehalte teen hoogs billike koste gebied. Sonder hierdie universiteite sou ‘n breukdeel swartes tydens apartheid grade verwerf het.

Brink vervolg, met onverminderde snedigheid: “In addition, to be absolutely clear that everybody should be in their own box, the University of Durban-Westville was for Indian students, and the University of the Western Cape [UWC] was for (so-called) coloured students” (2812). Hoe min Brink werklik van die destydse universitêre opset weet en in watter mate hy sy mes in het vir die Boere se taal (sy moedertaal) blyk uit die volgende sin: “The University of the Western Cape was originally established as an Afrikaans-medium university” (2820). Die waarheid is dat die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) vanaf sy begin in 1960 ‘n Afrikaans- én Engelsmedium universiteit was. Dit is twee ANC-aktiviste, Jakes Gerwel, as rektor, en Jaap Durand, as viserektor, wat die UWK tot ‘n eentalig Engelse UWC getransformeer het (Praag 14.01.2017). Brink verwys na Gerwel wat die UWC tot “the intellectual home of the left” verklaar het” (2839). Dit is natuurlik strydig met die akademiese vryheid waaraan Brink voorgee om geheg te wees. Hy opper geen beswaar teen Gerwel se aantasting van die wese van die universiteit nie, klaarblyklik omdat linksheid met sy politieke oortuigings ooreenstem. ‘n Afrikaanse Afrikaneruniversiteit, daarenteen, is volgens Brink uit die bose.

Hierna skryf Brink oor sy tyd as rektor aan die Universiteit Stellenbosch. Die US word dadelik gekarakteriseer as “the maternity ward of apartheid” (2916). Die US “has produced many Springboks for the national rugby team. Less well known is a fact which is also less pleasant. Stellenbosch was the birthplace and intellectual home of apartheid” (2916). “Perhaps the ultimate socio-political experiment in bivalent thinking was apartheid, where the law of excluded middle was enacted in legislation, so that everybody who was not white must be black, and nobody was both” (4676). In Stellenbosch “Victoria College became, in 1918, the University of Stellenbosch, dedicated to Afrikaans and Afrikanerdom” (2932). Dan vertel hy dat Onze Jan Hofmeyr pleks van Jan Marais die US se stigtingskenker is en voorgeskryf het dat Afrikaans ten minste gelyke status met Engels aan die US moet hê. Ek het reeds die aandag op hierdie growwe en onverskoonbare fout gevestig (Praag 19.01.2019). Brink skryf ook dat Grieks en Latyn verpligte vakke vir teologiestudente aan die US was (3052). Dit was Grieks en Hebreeus.

Die herdenking van Jan Marais se dood na verloop van ‘n eeu in 2015 en die US se eeufees in 2018 is gekenmerk deur ‘n doelbewuste gebrek aan erkentlikheid jeens Marais deur die De Villiers-US. In 2018 is Marais hier en daar as skenker genoem, maar die Afrikaans-voorwaarde daarvan is verswyg omdat die US op die pad na verengelsing is. In 2018 het die US eerder moeite gedoen om Nelson Mandela en Albertina Sisulu ‘n eeu na hulle geboorte te huldig pleks van Marais . Die manier waarop die nagedagtenis van Marais in 2015 en 2018 deur die US behandel is, skrei ten hemele. Dan kom ‘n oudrektor van die US, naamlik Brink, met die verregaande ongeërgdheid dat hy nie eens weet wie die grondlegger van Afrikaans as onderrigtaal aan die US is nie. Hy sal De Villiers se renons in Afrikaans eerder onderskryf as veroordeel. De Villiers is immers ‘n mede-“wandering scholar” wat ook op drie kontinente akademies bedrywig was.

Die US, volgens Brink, “became the standard-bearer for a narrow ethnic nationalism, proclaiming itself as the ‘white Athens of the South'” (2939). Ten einde die US as dié apartheidswieg te karakteriseer, skryf hy: “DF Malan was a Stellenbosch resident” (2939). Hy weet klaarblyklik nie dat Malan aan die Victoria College studeer het nie. “HB Thom, rector during the 1960s and one-time leader of the Broederbond, declared Stellenbosch to be the Volksuniversiteit of the Afrikaners” (2945). Brink sal ongetwyfeld saamstem met die onlangse naamsverandering van die HB Thom-teater na die Adam Small-teater. Dat Small akademies ‘n veel kleiner gees as Thom was, maak vir diesulkes nie regtig saak nie.

“In a generous mood, one might say that during apartheid the Afrikaners wanted to give to black people exactly what they had so intensely desired for themselves – an ethnic university. Each perceived ethnic group would have its own. But the idea went wrong because the gift was not wanted. The liberal tradition, which most Afrikaners of the 20th century did not agree with, nor cared to explore, articulated ‘the principle that the university is a place where men and women, without regard to race and colour [or indeed other markers of group identity] are welcome to join in the acquisition and advancement of knowledge.’ Instead, mainstream Afrikaner thinking considered a university as a manifestation of group identity. Therein lay the basis of Stellenbosch University’s leading role in apartheid” (2945).

Om politieke redes het Brink ‘n lae dunk van die akademiese gehalte van die US van weleer: “A self-perception of excellence which was, unfortunately, more a reflection of the cultural insularity of the Afrikaner world than a realistic measure of the academic quality of the university” (2982). Ek het ‘n spesmaas dat die akademies-wetenskaplike gehalte van die dosente, alumni en studente toe beter was as wat dit tans is. Brink het die US meer divers, dus meer nie-blank, probeer maak: “A concerted recruitment effort to raise the student diversity profile. Over a period of five years we raised the representation of coloured/black/Indian students at Stellenbosch University by 70% in terms of numbers, and from 19.7% of the total student population to 28.3%” (2996). “My view was that Stellenbosch needed more diversity, and so recruiting more black students and staff made good academic [political?] sense” (3234).

Terwyl Brink die US-rektor was, is die rektor se “Uitstygtoekennings” ingestel (3012), wat tot op hede bestaan. In die praktyk is dit (feitlik) niks anders nie as om op ‘n gekamoefleerde manier meer studiebeursgeld na nie-blanke studente te kanaliseer. Op hierdie manier word blanke studente benadeel, maar wat eerder beklemtoon word, is dat erg benadeelde – uiteraard weens blanke boosheid – nie-blanke studente se studie- en verblyf aan die US befonds word. Dan word die aandag gevestig op die omstandighede van sensasionele gevalle waaroor te graag in die pers geskryf word, bv ‘n ongehude moeder met ses buite-egtelike kindertjies wat maatskaplike werkster wil word, of ‘n outjie wat aan vigs dood is maar verder in die geneeskunde wou studeer.

In die Verenigde Koninkryk word dit eufemisties “fair access” genoem: “The idea that a good university should make a conscious effort to recruit, fund, educate and graduate a substantial number of students from disadvantaged backgrounds” (2996). “‘Fair access’ … is the idea that prospective students should be judged not just in terms of the arithmetical fact of their school-leaving results, but in terms of the context within which those results were obtained. This is a line of thought I propounded myself when at Stellenbosch. The medical school provides a good case study. During my term of office, we crossed an important threshold when more than 50% of the intake for the medical degree came from previously disadvantaged groups – essentially black, ‘coloured’ and Indian students” (3261) – deur blatant-rassisties te diskrimineer teen blanke applikante wat hoër punte op skool behaal het.

As opperste liberalis borduur Brink entoesiasties voort op frases verwant aan “fair access.” “Fair share is about resources and resource allocation. It is founded on the belief that those who need more should get more. The intention is that those who are most disadvantaged should receive greater benefit, and more effort should go towards creating opportunities for them. Subscribing to this intention means accepting the principle that a fair distribution of resources may be an unequal one, because you would want proportionately more resources to flow to where the need is greater” (3289).

“Fair play is about process, and the notion of even-handedness, but it is really a sporting metaphor. It is about playing the game, and about a level playing field” (3289). As ‘n mens op ‘n ander manier as Brink daarna kyk, bv plaaslik uit die oogpunt van blankes, is daar in werklikheid nie “even-handedness” nie en word die speelveld nie gelyk nie maar juis doelbewus ongelyk gemaak, vandaar bv die uitsonderlike gevalle van blanke studente wat deesdae daarin slaag om toegang tot studie in die geneeskunde aan die US te verkry. Dít sal nie vir Brink hinder nie. Hy gaan in dieselfde trant voort om ook “fair go” en “fair say” op sy misleide manier te probeer regverdig (3297). Later kom hy by Nelson Mandela as student uit. Mandela erken self dat hy ‘n vrot student was: “My performance as a law student was dismal” (3345). Dit is dus absurd om bv ‘n universiteit na Mandela te vernoem. Maar Brink heg sy eiesoortige betekenis aan Mandela se loopbaan as student. “There can be little doubt about the intellectual ability of Nelson Mandela, and even less doubt about his merit” (3345).

In Suid-Afrika kom die ANC se transformasie en die Britte se “fair access” dus neer op rasgebaseerde bevoordeling van nie-blankes en die doelbewuste benadeling van blankes. Brink, daarenteen, beweer: “Widening participation did not come at a cost to the previously advantaged” (3281). “The Bill of Rights enshrined in the South African constitution allows the concept of fair discrimination” (3274). Die Militêre Akademie op Saldanha, wat by die US geaffilieer was en steeds is (ten spyte van die drastiese daling in akademiese gehalte sedert 1994) is deur die rasbehepte ANC-regering feitlik oornag getransformeer van ‘n blanke tot ‘n feitlik uitsluitlik swart onderneming. Brink loof hierdie Akademie as ‘n US “change agent” (3058).

Wat het sedert die jare negentig ná die afskaffing van etniese universiteite in Suid-Afrika gebeur? Die swartes het steeds bykans eksklusief hulle etniese universiteite, bv Fort Hare, Transkei, Limpopo, Venda en Zoeloeland. Daarteenoor is nie ‘n enkele eens blanke universiteit meer eksklusief blank nie en in alle gevalle reeds oorheersend swart, bv Johannesburg University, of op pad om oorheersend swart te word. Aan al die plaaslike universiteite het Engels die eksklusiewe of oorheersende onderrigtaal geword. Swart studente kan kies of hulle aan ‘n eens blanke of aan ‘n tradisioneel swart universiteit wil studeer. Realisties gesproke het blanke studente nie daardie keuse nie omdat die tradisioneel swart universiteite steeds ‘n sterk etniese stempel dra.

Aan die eens blanke universiteite is swartes, selfs waar hulle nog in die minderheid is, met behulp van die ANC-regering en blanke kruipsugtige meelopers besig om hulle ras, etnisiteit en kultuur aan hierdie inrigtings op te dring; selfs met geweld. Onrus gestook onder swart studente kan deesdae die akademiese bedrywighede aan enige plaaslike universiteit ontwrig omdat hulle verspreid oor al die universiteite aangetref word. Die tradisioneel blanke universiteite het voor 1994 in groot mate vry van onrus gefunksioneer.

Die tradisioneel swart universiteite is vry om hulle leergange na goedunke te afrikaniseer. Die Westerse oriëntasie van eens blanke universiteite word egter nie met rus gelaat nie. Druk word uitgeoefen dat hulle ook al hoe meer geafrikaniseer moet word.

Watter een is die beter opset? (1) Toe daar vir elkeen ‘n etniese universiteit was en ‘n keuse van Westerse of Afrika-oriëntasie bestaan het asook ‘n keuse van onderrigtaal (Afrikaans of Engels); of: (2) Universiteite wat almal in meerdere of mindere mate geafrikaniseer word en feitlik uitsluitlik Engels as onderrigtaal gebruik. Ek verkies eersgenoemde en Brink laasgenoemde opset. Onthou, universiteite is veronderstel om eerder leer- as agitasie- en anargiesentra te wees. Harmonie en rustigheid word deur monokulturaliteit bevorder en gevolglik ook die leer-ervaring. Brink, daarenteen, in sy Visie 2012 vir die US, “welcomes a diversity of people and ideas” (2968). Op die rasvlak het diversiteit skouspelagtige vordering gemaak weens die toestroming van swartes (ook uit die buiteland) na al die plaaslike universiteite. Van ‘n diversiteit van idees is daar op al die universiteitskampusse egter veel minder sprake as tydens apartheid. “Apartheid was social engineering on a grand scale, including prescriptions and proscriptions on higher education” (3221). Die ANC se transformasie, bv van universiteite, met as grondslag gedwonge rasse-integrasie asook swart bevoordeling en blanke benadeling, kwalifiseer sekerlik ook as “social engineering” maar die eenogige Brink versuim om sodanige negatiewe etiket daaraan te heg.

As dit hoe is, skryf Brink: “Few would deny that a good higher education sector needs a diversity of universities … a diversity of people … but more importantly a diversity of ideas and talents. I hold the view that diversity has an inherent educational value” (3375). “Diversity is not a sufficient condition for quality, but it is necessary, in the sense that without allowing diversity into our frame of reference we will not attain true quality” (3381). Brink gaan maak ‘n draai by die American Declaration of Independence se stelling “all men are created equal” (3404). Dit is in sekere opsigte die waarheid, bv dat alle lewende babas asemhaal, maar in ander opsigte is dit vals omdat ons weet dat party mense slim en ander dom gebore word en dit is juis intelligensie wat in die konteks van die universiteit van deurslaggewende belang is. As wiskundige erken Brink darem: “Like all axioms, the value of equality is a basic assumption rather than a self-evident truth … not all individuals have equal intellectual ability” maar dan volg hy dit op met “we are [all] equal as humans” (3410) – soos blyk uit die dwase stelsel van een mens, een stem?

In Desember 2002 was daar ‘n gebeurtenis waaraan Brink hom verkneukel as onomstootlike bewys dat die US nie meer ‘n Afrikaner- of blanke universiteit is nie. Die US “became the venue for the quadrennial conference of the African National Congress … Here was an event which could be seen as closing a circle of history … The conference was diversity made manifest” (2975). Vóór dit het Brink egter geskryf: “This week-long event is attended by thousands of delegates, with white faces the exception (2975), dus ‘n profetiese blik op hoe al die plaaslike universiteitskampusse eersdaags gaan lyk. Is dit “diversity made manifest” of eerder die teenoorgestelde? Kan Praag-lesers raai wie sommige van daardie hoogs uitsonderlike wit gesiggies by daardie ANC-byeenkoms was? Die Burger het die volgende oggend ‘n foto gepubliseer van kamerade Chris Brink en Jaap Durand op pad na die openingsbyeenkoms. Dit is die einste Durand wat ‘n entoesiatiese ondersteuner van die ANC se terrorisme was, insluitende terrorisme teen blankes. Dit het hom laat skryf: “Ongelukkig vir hulle [struggle-aktiviste] het die polisie en weermag die wit gebiede in groot mate teen grootskaalse ontwrigting beveilig.” Durand het dit “absoluut gek” gevind dat wit mans in die nag tydens die onrus vrywillig blanke woonbuurte gepatroleer het (Praag 14.01.2017).

Brink maak dit duidelik dat Afrikaans in die US-konteks nie belangrik in sy globalistiese benadering tot universiteite is nie: “Finally, although it does not fit the narrative of this book, for completeness I should mention the issue of Afrikaans at Stellenbosch” (3079). Ek haal volledig aan die bietjie wat Brink die moeite werd vind om in ‘n enkele paragraaf oor sy moedertaal te skryf: “While many ‘Coloured’ people still spoke Afrikaans, very few ‘African Black’ people did, and they found a campus with an Afrikaans identity unconducive to study and culturally unwelcoming – particularly when those most vociferous in fighting for Afrikaans were Afrikaners. It was difficult , therefore, to disentangle the ideal of promoting Afrikaans as a language from the trappings of racial identity. The difficulty was compounded by the fact that for many Afrikaner alumni Stellenbosch was not only their university but the centre of their universe. Many of them perceived transformation as nothing but an attack on Afrikaans, and spineless political subservience on the part of the university management. There was therefore a lot of resistance to change among the Convocation (the body representing alumni), starting with the implementation of the new taalbeleid (language policy) of 2002. That resistance rumbled on for another decade or so after I had left in 2007, until eventually Convocation battled Council in court, and lost” (3079). Onder blanke Afrikaanssprekendes kan ‘n mens jou kwalik ‘n meer deurtrapte vyand van Afrikaners en Afrikaans en volkome verloopte Afrikaner as Brink voorstel.

Samevattend: Vir die universiteit bepleit Brink betrokkenheid by die gemeenskap, dus “engagement with civil society as an academic core function. It is called a civic university” (5703). Die voorafgaande idees van Brink “brings us to a fundamental conclusion: for a good university, responding to the question of societal purpose should be just as important as responding to the question of academic excellence” (5738). “The quality question – is this a good university? – should be about both excellence and purpose” (5814). “Globally, universities form a landscape which transcends languages, cultures, religions and national boundaries” (5814). Daarna word ‘n universiteit soos die US van weleer nogeens vir veroordeling uitgesonder. Hy verwys onder meer na items wat ek weens beperkte ruimte en die ingewikkelde aard daarvan nie hierbo in besonderhede bespreek het nie. “The idea of a Volksuniversiteit as the manifestation of some kind of national or cultural identity runs contrary to the soul of the university as well as the historical record. It does not fit the original idea of the universitas magistrorum et scholarium; it does not fit the ‘republic of letters’ in the age of enlightenment; it does not fit the Humboldtian idea of Freiheit der Lehre und des Lernens; and it does not fit the Newmanesque Platonic idea of a university” (5814).

In die pas gepubliseerde boek van Hermann Giliomee, The rise and demise of the Afrikaners (Cape Town: Tafelberg, 2019, 360p, R350) staan: Tony “Leon even received a complaint from Dr Chris Brink, SU Vice-Chancellor, when he spoke up for the right of students to receive their tuition in Afrikaans at Stellenbosch. Brink accused Leon of meddling in the internal affairs of the university” (p 317). Ten spyte van al die argumente wat ek teen Brink se standpunt ingebring het, sal hy ten opsigte van die wese van die universiteit – verwys na die titel van sy boek – ‘n ongeredde siel bly.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.