Dan Roodt: Stellenbosch is soos goud: ‘n vloek vir die Afrikaner

Deel op

Volgens ‘n vriend het die digteres Ina Rousseau Stellenbosch iewers ‘n “klein skilderytjie” genoem. Dié frase kom egter nie voor in haar beroemde gedig “Sondag op Stellenbosch”* waarin landelike rus vooropgestel word nie. Ook DJ Opperman het Stellenbosch op ‘n keer in ‘n TV-onderhoud as “pastoraal” beskryf. Met sy skatryk magnate en veelbesproke, eertyds Afrikaanse universiteit oefen dié dorp egter ‘n geweldige invloed op Afrikaans en die Afrikaner uit.

‘n Mens hoef maar net Leon Lemmer se artikels op dié webblad te lees om dit te besef. Terwyl die ANC-revolusie die res van die land, veral Pretoria en Johannesburg, maar ook Bloemfontein en ander kleiner plekke, met volle geweld en radikalisme getref het, is Stellenbosch grotendeels ongeskonde gelaat. Dit oorleef as ‘n soort idille van ‘n Afrikanerwêreld wat was en ietwat ironies deur Ina Rousseau hier onder beskryf word: “Die grootmense praat voetbal; kinders staan/
verveeld op stoepe rond, eet stukkies koek.”

‘n Transvaler het ná die ontdekking van goud in die ou ZAR gesê: “Die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde is die eerste bylslag aan die wortel van ons onafhanklikheid.”

Goud was ‘n wonderlike geskenk aan die Transvaal, maar ook ‘n vloek wat tot oorlog met Brittanje sou lei. Die Uitlanders sou hulle in die Goudstad vestig, waar hulle tot vandag toe voortgaan om ons en ons taal te ondermyn. Iewers in ‘n toespraak het Thabo Mbeki dit as’t ware bevestig: dat hy en die Uitlanders nou in beheer was. “Never again shall you be called Uitlanders,” het hy aan die welgestelde Engelse inwoners van Johannesburg gesê.

In die huidige tydvak is Stellenbosch soos goud: Afrikaans word nog steeds daar gepraat en sover ek verstaan, kan mens steeds sekere vakke aan die Universiteit van Stellenbosch in Afrikaans loop. Die dorp, geleë aan die voet van die Helderberg met sy wingerde daar rondom, is verruklik. Elke student wat sy universiteitsdae op Stellenbosch deurbring, is bevoorreg.

Met sy Kaaps-Hollandse geboue en eeue oue geskiedenis, verteenwoordig Stellenbosch ‘n unieke stuk Afrikaneridentiteit: Ons is Nederlanders, Duitsers en Franse wat inheems aan die land geraak het en ons spreektaal as kultuurtaal ontwikkel het.

Eintlik voel ek jaloers op elke Matie: Pleks van ‘n studentikose verblyf in ‘n manskoshuis waar ek dalk met Christo Wiese, Johann Rupert, Jannie Mouton, Koos Bekker of Markus Jooste (wel, Jooste is nou minder gewild, maar op ‘n stadium was hy die land se mees flambojante magnaat en perde-eienaar) bevriend kon geraak het, moes ek in Braamfontein tussen Jode en Engelse aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. Daar het ek die koue winde van Boerehaat en minagting aan eie bas ervaar. Bietjie later het ek in die letterlike Europese koue moltreine en ronkende RATP-busse gehaal om aan die Universiteit van Parys se berugte agtste kampus (Paris VIII-Vincennes) in die destydse kommunistiese dorp St. Denis my studies in die filosofie voort te sit. My dosente was wêreldberoemd, maar die plek was vol graffiti en die lesingsale se stoele dikwels stukkend. In teenstelling met die Calvinistiese netheid en orde van Stellenbosch.

Nietemin is ek vandag bly dat ek nooit aan Stellenbosch gestudeer het nie. My studentedae sou sorgvryer, eenvoudiger, meer Afrikaans-nasionaal gewees het, maar dalk sou ek soos Anton van Niekerk, Willie Esterhuyse, Wim de Villiers, Philip Spies of enige van die “Stellenbosse denkers” wat Leon Lemmer só gereeld op dié blad kritiseer, geraak het.

Soos dit vir my lyk, het hulle Afrikaans en Stellenbosch soos ‘n goue geskenk ontvang. Hulle neem dit as vanselfsprekend aan; daarom kan hulle ook voorstel dat dit afgeskaf word of tot “Kaaps” omvorm word. Terloops, selfs die emiritus-professor van Afrikaanse taalkunde aan Potchefstroom, Wannie Carstens, wat Afrikaans as ‘n “kreoolse taal” sien, het aan Stellenbosch gestudeer.

In Afrikaans en aan Stellenbosch is hulle geborge, daarom voel hulle gerus om enige grondwetlike of finansiële geborgenheid vir ons taal vir hul eie belang en om polities korrekte redes te verwerp. Wat my betref, aan die ander kant, is ek nog nooit — behalwe in my kinderdae — deur Afrikaans geborge nie. Meesal moes ek my weg in die vyandelike Rooitaal, of in Frans, vind. In Stockholm praat ek geradbraakte Sweeds, in Warskou het ek geleer om op Pools dankie te sê, “dziękuję”. Hoewel ek feitlik my lewe lank (behalwe my jare in Parys, Frankryk) in Johannesburg woon, voel ek my ‘n volslae vreemdeling hier. Eintlik voel ek my meer in ballingskap hier as byvoorbeeld in Frankryk. (Ten minste, en ondanks ongebreidelde immigrasie en islamisering, is daar nog iets samehangends Fráns aan Frankryk, veral op die platteland.) Al waarmee ek my egter hier kan identifiseer, is die Afrikaanse naam (maar wat deur die munisipaliteit verengels is as “Joburg”) en ‘n mooierige ou gebou hier en daar in die middestad, wat dikwels deur ‘n Afrikaanse argitek ontwerp is, maar wat nou besig is om tot ‘n derdewêreldvlak te verval.

Dalk ken ek minder skinderstories oor die gesiene mense van Stellenbosch. Maar in die Afrikaansvyandige Johannesburg en in Europa het ek veel meer van die vyand se denke geleer: die kommunisme en marxisme in al sy gedaantes, die noodsaak vir rasvermenging, die Westerse beskawing wat moet plekmaak vir die “mengkultuur”, ‘n gewilde (en selfs polities linkse) Sweedse term. Kennelik begin Stellenbosch toenemend soos Johannesburg dink, maar dis blykbaar ‘n langsame proses, al tastend in die duister en gelei deur ‘n onhebbelike Afrikanerkonformisme. Met dié verskil: die Stellenbossers wil nou konformeer teenoor die denke van die Afrikaner se vyande… en voel selfs gesofistikeerd as hulle dit klakkeloos na-aap.

Vandag skryf Leon Lemmer die woorde:

My verbintenis met die Afrikanervolk is ononderhandelbaar. Daar kan geen sprake wees dat ek daarvan afskeid gaan neem nie. Spies is op twee maniere op soek na ‘n toekoms: deur die omstandighede in die land te verander én deur die Afrikaner te verander.

Met sy gevoel kan ek my eenhonderdpersent vereenselwig. Vir seker gaan ek nie afskeid neem van my Afrikanerskap om ‘n spul skatryk en bedorwe Stellenbossers — eintlik ís daar ‘n “Stellenbosse mafia”! — ter wille te wees nie. Ek gaan ook nie die taal wat ek praat verander om in te pas by die “Kaapse plan” om van Afrikaans ‘n nuwe kreools te maak wat vir bepaalde bruin “intellektuele” aanvaarbaar sou wees nie. As boetedoening vir apartheid, moet Standaardafrikaans geslag word. Nee, nee, en nogmaals nee!

Trouens, die hele “bruin probleem” in Afrikaans is iets wat grotendeels op Stellenbosch uitgedink is. Hier in die Transvaal is daar ook bruines, maar omdat hulle self ‘n minderheid is, word hulle ewe erg deur die heersende ANC-swartmag verdruk en kom hulle dikwels in Eldoradopark, Eersterust en ander plekke fisiek daarteen in opstand. Geen noordelike bruine sou vir ‘n oomblik verwag dat die Afrikaner sy taal sou moes prysgee vir een of ander verwronge polities korrekte “nasiebou”-projek nie.

Die Transvaalse bruine is feitlik onbeskaamd rassisties en vele verwys na ons ANC-heersers as “kaffers”, behalwe hulle word nooit daarvoor Gelykheidshof toe gesleep nie. Die punt is egter: anders as wat die Stellenbosse mafia propageer, is daar geen behoefte, nóg by Afrikaners, nóg by die bruin gemeenskap, om tot “een volk” te versmelt nie. Om Bart Nel te parafraseer: “Ek is ‘n Afrikaner, en ek is nog hý.”

Huis Afrikaans is veel groter en mooier en waardevoller as wat Stellenbosch ooit kan wees. Ek verstout my om te sê: Indien Stellenbosch môre afbrand, sal Afrikaans en die Afrikaner steeds bestaan. Sonder Stellenbosch mag ons selfs gedy, want die soort denke wat voortdurend uit die US en omgewing sypel, is omgewe van ‘n onwelriekende geur van verraad. Ons wat lojaal teenoor volk en taal is, herken dit vir wat dit is: die soveelste hensoppery, oorgawe aan Engels en Engelsheid. Waarvoor? Om ons vyande te plesier?

By verre die meeste Afrikaners woon steeds in die Transvaal. Al droom ons van ‘n nuwe republiek in die Suid-Kaap, of die Noord-Kaap, oorleef ons steeds hier tussen die mynhope van Johannesburg, die fabrieke van die Oos-Rand, die kwasi-Amerikaanse chaos van snelweë en pakhuise wat die sentrum van dié provinsie by Midrand tipeer. Pretoria met sy voorstede en buurtwagte wat patrolleer, is paraat, asof in voorbereiding op die Suid-Afrikaanse burgeroorlog wat soveel mense voorspel. Die afskuwelike en niksseggende naam wat die ANC aan die middelpunt van Transvaal gegee het, Gauteng, benoem op ‘n manier die geweld en verval waaraan ons elke dag blootgestel word. Tesame met, natuurlik, Engels. Want Johannesburg is in beheer. Dis steeds die Ewige Uitlander wat regeer. Die ANC en veral die SAKP was skeppinge van die Uitlander, van die linkse Engelssprekende wat ons land en ons kultuur verwerp en poog om ‘n ander in die plek daarvan te stel, ‘n soort Afro-Engeland waar jy jou lewe nie seker is nie, maar steeds ‘n duur Mercedes mag ry of ‘n Louis Vuitton-handsak met R300 000 se omkoopgeld aan kontant daarin van Bosasa mag ontvang.

Die paradoks is daarom: die toekoms van Afrikaans lê nie by die verlinkste Stellenbosssers, wat halfdronk van die wyn en die welvaart van hul witterige en steeds eurosentriese provinsie oor die kim staar nie, maar by ons hier “aan die buitekant”. Ons is die ontheemdes en onterfdes, die verdruktes en verwerptes. Wits het ‘n swartman na die Universiteit van Pretoria oorgeplaas wat alle Afrikaans vanaf 1 Januarie 2019 op daardie kampus verbied het. Dis ons werklikheid, mooi swart en wit, nie die halfwas-Afrikaans met Engels wat stadig oorneem soos op Stellenbosch nie.

Ek geniet Leon Lemmer se skrywes terdeë en sonder hom sou ek veel minder geweet of verstaan het van wat op Stellenbosch aangaan, die treurige ondergang wat daar met die samewerking van die Afrikanermafia op die dorp gepleeg word. Maar dalk heg ons te veel waarde aan Stellenbosch, die dorp wat dalk te “vermoeid van al die rus”, soos Ina Rousseau sê, mag wees om weerstand te kan bied.

Die Transvaal was deur ons geskiedenis die toneel van opstand en rebellie. Dit is hier waar Paul Kruger die streep getrek het. Ons moet ook nie die Hollanderonderwysers vergeet nie; dit is hulle wat vir ons ‘n suiwer identiteit los van Engels gegee het, anders as in die Kaap waar die lyn tussen Afrikaner en Engelsman dikwels vaag is.

Verraad oor ‘n glasie wyn staan my nie aan nie; ek drink nie eens meer wyn nie. Alkohol is gif. So dikwels as daar neerhalend na die “regse Afrikaner” verwys word, word brandewyn en Coke mos bygesleep.

Ons moet net onthou waar die brandewyn vandaan kom. Op ‘n nugter dag sal ons dalk besef dat die bedwelming vanuit Stellenbosch iets is wat ons van ons sal moet afwerp indien ons ooit vry wil wees. Of bloot net wil oorleef, want die juk van die vyand raak by die dag swaarder.

*Sondag op Stellenbosch
(Ina Rousseau)

In hempsmoue lê mans koerant en lees,
die vrouens raas en maak komkommerslaai
terwyl hul toesien dat die vleis nie brand —
half-elf word daar ‘n kerkdiens uitgesaai.

Smiddags na die rus kom vragte mense aan
uit Wellington, Grabouw en Klapmuts op besoek.
Die grootmense praat voetbal; kinders staan
verveeld op stoepe rond, eet stukkies koek.

Saans lui die kerkklok luider; dogters keer
humeurig met hul naweektassies terug;
die vrouens gaan die wasgoed vir die meid sorteer,
die mans maak gou ‘n visstok heel, en sug.

Die kinders sit aan somme nors en swoeg;
mans wonder waar hul skoon slaappakke is —
die vrouens moet die tafel dek vir môre vroeg;
die mans gaan slaap, vermoeid van al die rus.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.