Die Vryheidsfront Plus, wat hom reeds sedert 1994 daarop roem dat hy ‘n party is wat Afrikanerselfbeskikking voorstaan, het hom nou volledig tot multikulturalisme verbind deur ‘n bruin politikus, mnr. Peter Marais, as sy “premierskandidaat” in die Wes-Kaap te benoem.
“Die VF Plus is ʼn party wat hom beywer vir die beskerming van minderheidsgroepe in Suid-Afrika, en Peter Marais, voormalige premier van die Wes-Kaap en burgemeester van Kaapstad, se aansluiting by die party word verwelkom aangesien dit wys dat die VF Plus erns het met sy uitreiking na minderhede,” het die leier van die party, dr. Pieter Groenewald in ‘n verklaring gesê.
Marais het homself beskikbaar gestel as kandidaat vir die Wes-Kaap en die party se nasionale- en provinsiale strukture het hom ingevolge die vereiste prosedure benoem as hul premierskandidaat vir dié provinsie.
“Rasgegronde wetgewing soos Regstellende Aksie (RA) en die diskriminerende effek daarvan, veral op wit en bruin mense, is ʼn werklikheid en dit is daarom verblydend en noodsaaklik dat goeie samewerking tussen verskillende groepe en die VF Plus gevestig word om hierteen terug te veg,” het Groenewald voorts gesê.
Ook staan “die VF Plus se deur oop vir almal wat hulle kan vereenselwig met die beleid, beginsels en waardes van die party en is die enigste party in Suid-Afrika wat in hierdie opsig aan minderhede ʼn ware heenkome bied en terugslaan vir ʼn beter toekoms vir almal.”
Volgens Pieter Groenewald, “is Marais ʼn deurwinterde politikus en as premierskandidaat bied hy bewese kundigheid en ervaring wat hom sonder twyfel die Wes-Kaap se voorste premierskandidaat maak.”
“Suid-Afrika se politieke landskap is besig om te verander en die VF Plus sal deur sy samewerking met minderhede ʼn toenemend-belangrike rol speel om die ANC te vervang en as deel van ʼn koalisieregering ʼn beter toekoms vir alle mense in die land te verseker,” het Groenewald sy verklaring afgesluit.