Dan Roodt: Ek gun Shanté Kroukamp haar plastieksak vol note

Deel op

Tans publiseer Netwerk24 enkele meningstukke deur jongmense, wat ‘n interessante blik op hul denke — of gebrek daaraan — bied. As mens 20 is, dink jy gewoonlik dat jy meer weet as jou ouers en dosente. En natuurlik dat jy meer modern, ingelig en belese as hulle sou wees.

In dié trant skryf Shanté Kroukamp op 18 Januarie 2019:

“Die diep gewortelde afkeur (sic) in die liberale, korrupte en ‘te groot vir hul skoene’ jeugdiges van vandag hang soos ‘n rookwolk om elke ouer tannie en oom terwyl hulle vas glo dat die wêreld soos hulle dit leer ken het, op sy kop gedraai is.”

Hier begaan sy ‘n enorme denkfout — een van vele, ongelukkig — naamlik om te dink dat die vorige geslag Afrikaners “meer konserwatief of behoudend” was as die huidige. Inteendeel, die politieke, sedelike en ander standpunte van die vorige Afrikaner-elite was feitlik deur die bank liberaal en anglosentries.

Ons geslag, asook dié onmiddellik voor ons, het die Afrikanertradisie gesloop en ondermyn, iets wat regstreeks tot die eerlose oorgawe van die Nasionale Party gely het. Dink maar aan figure soos Van Zyl Slabbert, André P. Brink, Leon Wessels, Koos Bekker en les bes, FW de Klerk wat, toe hy moes kies tussen die KP en die SAKP, toe kies hy die SAKP.

Koos Kombuis het ‘n paar mooi liedjies geskryf, maar hy was ook ‘n hopeloos linkse daggaroker. In die mate waartoe daar iets soos ‘n Suid-Afrikaanse tydsgees bestaan en ons nie maar steeds ‘n blote kolonie van die VK en die VSA is nie, is ons altyd so half ‘n dekade of twee agter die res van die wêreld. Toe die Amerikaanse jeug lankal die term “yuppie” gemunt het om die soort ambisie en geldelike aspirasies van die tagtiger- en negentigerjare uit te druk, was daar steeds hippies met lang hare en kombi’s wat in Kaapstad ‘n soort ersatz weergawe van die Amerikaanse sestigerjare volvoer het.

Terloops, een van die sterkste aanklagte teen die dekadensie van die sestigerjare is natuurlik die beroemde roman deur Frankryk se mees vertaalde skrywer, Michel Houellebecq: “Elementêre deeltjies” (Les particules élémentaires in die oorspronklike en Elementaire deeltjes in Nederlands.) Dit val dan ook op dat, terwyl Shanté Kroukamp ‘n “nuwe identiteit” vir die Afrikaner bepleit, haar foto in die Naspersorgane pryk waar sy ‘n Jimi Hendrix-T-hemp dra. Hendrix was seker dié simbool van die Amerikaanse dwelm-en-seks-kultuur van die sestigerjare wat deur Tom Wolfe in sy briljante Electric Kool-Aid Acid Test vasgevang is en is self aan ‘n oordosis dwelms of slaappille dood op 18 September 1970, lank voordat Kroukamp gebore is.

‘n Mens wonder: moet die Afrikaner se “nuwe identiteit” dus by die Amerikaanse hippiebeweging gesoek word? Kroukamp beskou die Afrikaanse rolprentbedryf as, soos sy dit stel, “een van (die) dryfkragte van bevryding en progressiwiteit”. Sy verwys na ene Christiaan Olwagen, wat regisseur was van die rolprent Johnny is nie dood nie, wat gewy is aan die lewe van die sanger Johannes Kerkorrel. Onder andere het Kerkorrel ‘n taamlik cliché-gelade liedjie oor Hillbrow geskryf, die eertydse woonstelbuurt van Johannesburg, maar wat tans tot ‘n krotbuurt met vullis op die sypaadjies en die stank van riool op straat verval het.

Kerkorrel se estetiese konstruksie, indien mens dit so sou kon benoem, het vir alle praktiese doeleindes in duie gestort. Dit is agtergehaal deur die revolusie wat iewers tussen Afromarxisme en ‘n Idi-Amin-agtige korrupsie vasgevang is.

Die onlangse geskiedenis herinner mens aan NP van Wyk Louw se beroemde woorde:

Miskien sal ons ook sterwe en iewers ruggelings stort,
dat hierdie helder aarde in ons verdonker word.
Miskien sal niemand later mooi dinge van ons weet
en nêrens sin te kry wees in al ons stryd en leed,

Ek is bevrees daar is geen sin in mejuffrou Kroukamp se betoog nie. Die Universiteit van Pretoria en veral sy Fakulteit van Geesteswetenskappe het al te naby aan derdewêreldstatus gewentel vir haar om hoegenaamd ‘n begrip van die Westerse tradisie te hê, waarvan die Afrikanertradisie ‘n afsplintering verteenwoordig. Al wat ek raaksien, is iets soos ‘n oneindige herhaling van die vorige geslagte se nihilisme, dekadensie en uiteindelike domheid. As ons effens terugstaan, weg van die propaganda en wensdenkery oor die toekoms, was die geslag van FW de Klerk, Van Zyl Slabbert en hul geesgenote wonderbaarlik onnosel. Hulle het geen benul gehad van waarmee hulle besig was, of selfs bloot wat op die spel was nie. Vandag word dit daagliks in ons ingehamer — met elke plaasmoord, elke universiteit of skool wat onder dwang verengels en verwoes word.

So kom ons om, so kom ons om. Elkeen behoort sy mea culpa te doen. Aan my kinders en elke jong Afrikaner vra ek namens ons geslag om verskoning, dat ons so naïef en sleg was, dat ons nooit teen oorheersing opgestaan het totdat dit te laat was nie. My hart bloei vir elke jongmens wat vandag vervreem in ‘n gewelddadige, korrupte land moet woon waar Angelo Agrizzi van Bosasa kontant in plastieksakke aan direkteurs-generaal van staatsdepartemente aflewer.

Ek dink nie die “Afrikaanse rolprentbedryf” — in die mate waartoe so iets bestaan buite enkele voorspelbare romantiese sepies om — gaan binne die afsienbare toekoms ‘n film begin maak wat iets van ons werklikheid weerspieël nie. Daardie regstellende direkteurs-generaal met hul duur skoene en nog duurder motors in die departementele parkeergarage wat die afspraak vir ‘n Checkerssak vol note nakom… dis mos ‘n land om op trots te wees, die toonbeeld van “liberalisme en progressiwiteit”!

Ek wil ook nie voorgee dat ek alles weet nie; immers het ek aan ten minste twee universiteite gestudeer, wat eerder ‘n nadeel by ‘n mens se begrip is as enigiets anders. Redelik onlangs het ek via minder bekende Franse denkers van die eerste helfte van die twintigste eeu egter ‘n heel ander perspektief op “tradisie” verkry as die soort gemeenplasige, neerhalende manier waarop Shanté Kroukamp die woord gebruik as sy sê:

“Alhoewel blinde volgelinge van norme en eng gekondisioneerde mense tradisies en kultuur preserveer, moet dit nie aangemoedig word nie.”

Eng gekondisioneerde mense? Niks in haar betoog oortuig my dat mejuffrou Kroukamp haar oopstel vir enigiets buite die benepe, koloniale soort Britse kultuurmarxisme wat van ons universiteite besit geneem het en wat klakkeloos (en anglisisties) in Afrikaans nagepraat word nie.

Daar is ‘n groter wêreld daarbuite: die Europese Vasteland met sy veelheid van tale, Japan, Korea… kulture en volkere wat tradisies oor honderde en selfs duisende jare onderhou het. Trouens, kan ‘n mens jou ‘n beskawing of selfs net skoonheid sónder tradisie voorstel?

Ongelukkig bly daardie ryke verskeidenheid van kulture en idees vir ons duister, ewe duister as ons eie geskiedenis en tradisie wat deur die revolusie verteken en verrinneweer is. Ons is te besig om Zimbabwe te word om daarop ag te slaan.

Maar hopelik sal mejuffrou Kroukamp ook eendag soos die uitvoerende bestuurders van ons “demokrasie” met ‘n Checkerssak vol note beloon word vir haar slaafse navolging van die heersende, “progressiewe” ideologie…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.