Anti-wit polisiegeneraal glo ontslaan ná interne SAPS-ondersoek

Die vakbond Solidariteit het ‘n week gelede bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) na afloop van sy interne ondersoek, die hoof van basiese polisie-ontwikkeling, generaal-majoor Sandra Malebe-Thema skuldig bevind het aan rassisme.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Arbeidsregsdienste by Solidariteit, het Malebe-Thema in 2016, tydens ʼn byeenkoms by die SAPD se Opleidingsakademie in Oudtshoorn haarself skuldig gemaak aan rassistiese en vernederende opmerkings teenoor verskeie opleidingspersoneellede. Van der Bijl sê voorts dat die generaal aangevoer het dat daar te veel wit gesigte is wat posisies in opleiding beklee en dat sogenaamde diskriminasie teenoor swart studente stopgesit sal word. “Tydens dieselfde geleentheid het sy ook onvanpaste opmerkings oor ʼn geselekteerde groep personeellede se kleredrag en gewig gemaak,” het Van der Bijl bevestig.

Die vakbond het dadelik opgetree, deur in November 2016 ʼn formele klag by die Menseregtekommissie (MRK) by Kaapstad in te dien. Solidariteit het die druk volgehou deur in Mei 2017 hom na die Arbeidshof te wend, om die SAPD te dwing om ʼn interne ondersoek teen Malebe-Thema te loods.

Van der Bijl voer aan dat die sanksie bevind het dat Malebe-Thema geen berou vir haar optrede toon nie en dat sy gedurende die ondersoek steeds volgehou het dat sy niks verkeerd gedoen het nie. Verder is daar bevind dat die generaal se selektiewe uitlatings emosionele skade by die betrokke personeellede veroorsaak het, wat hul werk en persoonlike lewens negatief beïnvloed het. In die lig hiervan is daar bevind dat generaal-majoor Sandra Malebe-Thema met onmiddellike effek ontslaan moet word.

Volgens Van der Bijl is dié saak een van die rare geleenthede waar geregtigheid in ʼn geval waar ʼn swart persoon blatant rassisties was teenoor wit persone, geseëvier het. “Ons is uiteraard baie verheug oor die uitkoms, aangesien daar baie tyd en moeite deur Solidariteit spandeer is om te verseker dat die SAPD sy verpligtinge om op te tree, nakom. Ek glo hierdie sal ʼn les vir Suid-Afrika wees dat rassisme nie kleurblind is nie,” het Van der Bijl saamgevat.

Intussen is daar egter geen verdere nuus oor Malebe-Thema wel haar pos verlaat het nie. Waarskynlik gaan dit verdere hofsake verg om die SA Polisiediens te dwing om hul eie bevinding toe te pas.

Sy is ook betrek by die Life-Esidimeni-skandaal, die psigiatriese program wat tot die dood van 144 mense gelei het. Malebe-Thema het ‘n onderneming gestig met die naam “Re-Bafenyi Victim Empowerment Centre” wat R270 000 van die Gautengse Gesondheidsdepartement ontvang het om na geestespasiënte om te sien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.