Dan Roodt: Engels is die antitese van Afrikanerskap, repliek aan Jeanelle Greyling

Geagte Jeanelle Greyling,

Toevallig vang my oog die enigsins uitlokkende opskrif van u rubriek in Beeld, “Engels ook nodig vir Afrikanerskap”. Dis die tipe sin wat teen my hele wese indruis, wat ‘n bespotting van ons hele geskiedenis maak.

Ek stem saam met Andries Hendrik Potgieter wat, toe die Engelse Natal bereik, liewer weggetrek het omdat hy “nooit Brits wou word nie”. Hy het ook gesê dat hy van die see wou wegkom, want “waar die see is, is Engelse”. Hy het uitgewyk Noorde toe, en het onder andere Potchefstroom gestig, wat na hom vernoem is.

Anders as Iere, Skotte en Walliesers, is Afrikaners deur Engelse verower, maar ons het ons taal behou. Soos Hennie Aucamp en vele ander gesê het, verteenwoordig dít die wese van ons identiteit.

Afrikanerskap is geheel en al onversoenbaar met Engelsheid. Jaap Steyn, nog ‘n groot Afrikaner wat meer as enigiemand anders gedoen het om die taalstryde van die verlede op te teken, was ook bekommerd dat Afrikaners se Engels reeds “te goed” is.

My eie kinders het nooit ‘n woord Engels tuis gehoor nie; ons het nimmer enige poging aangewend om die Rooitaal aan hulle oor te dra nie. Wel het ek soggens op pad skool toe gepoog om aan hulle Frans te leer, waarin hulle nie belanggestel het nie, iets waaroor hulle nou baie spyt is. Nietemin het hulle elkeen ‘n onderskeiding in Engels-“Huistaal” aan hul Afrikaanse hoërskool ontvang. Vir my is dit geen aanduiding van hul taalvermoë nie — waarmee sekerlik niks skort nie — maar van die mate waartoe Afrikaners onder die ANC-terroristebewind so omgewe is van Engels dat ons gedwing word om moedertaalsprekers van die taal te word.

U verhaaltjie van die Egiptenaar is eintlik niksseggend. U reaksie op die eentalige spreker van Arabies verraai egter meer aangaande uself as oor hom. In Junie vanjaar was ek in ‘n hotel in Pole waar die man agter die toonbank insgelyks slegs Pools kon praat. Ek het ook Engels probeer, Frans en selfs geradbraakte Duits, maar hy kon slegs sy moedertaal praat. Eerder as wat dit vir my na ‘n probleem gelyk het, soos vir u, was dit vir my verfrissend. Dit het my selfs hoopvol gestem. Eureka! Hier was ‘n uithoek van Europa waar Engels nog nie ingedring het nie!

Engels is soos onkruid; dit neem oor en verdring ander plante. Twintig jaar gelede kon min mense in Parys, selfs in toeristiese dele, Engels praat. Deesdae is Franse en dikwels ook die Noord-Afrikaanse immigrante waarvan ons so baie hoor, gretig om met toeriste Engels te praat. Dis nie meer Frankryk nie; dit raak nou Disneyland met ‘n replika van die Eiffeltoring.

U skryf: “Dié van ons wat Engels magtig is, kan dus ons sterre dank, want die hele wêreld is vir ons toeganklik.”

Watter illusie is dit nie! Ek kan amper sê: Net iemand soos u wat aan ‘n plattelandse universiteit soos dié van Potchefstroom in Afrikaans gestudeer het, kan so ‘n stommiteit kwytraak. As u net Afrikaans en Engels ken, is die wêreld beslis nie vir u toeganklik nie. Die meeste opgevoede Europeërs praat vier of vyf tale: Duits, Frans, Italiaans, Spaans, dalk Russies of ‘n Skandinawiese taal. Dit is die “meertalige sprekers” waarvan u praat, nie Afrikaners in ons land wat gedwing word om Engels te aanvaar omdat ons polities en kultureel oorheers is en word nie.

Wat weet u van Korea of Japan? Dis twee welvarende Oosterse lande waarvan die produkte die wêreld oorspoel en in menige Westerse tale bemark word, maar wat elkeen oor ‘n eie, byna hermeties verseëlde kultuur beskik. Om Japannees of Koreaans te bemeester, is soveel meer van ‘n uitdaging as Engels, die taal wat jy saam met jou eerste pakkie kougom inkry.

Nog iets: In alle Europese tale word ‘n magdom boeke oor en weer tussen daardie tale vertaal, selfs uit Oosterse tale. Behalwe in Engels. Die Engelse leser wil liefs ‘n speur- of liefdesverhaal lees. Of ‘n “sakeboek” in die trant van: “Hoe om vinnig ryk te word.” Daarom bly Engelse salig onbewus van wat daar in ander tale gepubliseer en gedink word… Maar vir u verteenwoordig Engels “die sleutel tot die heelal”.

U skryf:

“Ons moet daarteen waak om die jeug in te perk omdat ons bang is ons kultuur gaan verlore.

Vanweë ons emosionele band met Afrikaans sal Engels altyd ons tweede taal bly. Die verwerwing van dié taal is egter noodsaaklik vir diegene wat wil tred hou met die res van die wêreld se vooruitgang.”

“Die jeug in te perk…?” Bestaan daar nog so iets in Suid-Afrika? Met ‘n dwelmhandelaar of twee op die straathoek van elke skool, prostitusie (letterlik en figuurlik) ‘n eerbare beroep en internetpornografie vir elfjariges? In watter dekade leef u presies?

“Vooruitgang” is ‘n groot woord. Ons kan seker gaan kers opsteek by Hegel en sy Russies-Franse dissipel Alexandre Kojève, en dit van daar af neem. Met al die Eskom-grappies kan ons dalk ook vra: “Wat het ons voor kerslig gehad? Elektrisiteit.” Ons probleem, asook dié van ander wêrelddele, is eerder: agteruitgang, verval, verlaging van opvoedingstandaarde, e.d.m. Daarvoor gaan die grote Engels ons niks help nie, want die agteruitgang in Engelstalige lande is juis soveel sneller as in daardie state wat meer van die Angel-Saksiese Empaaier geïsoleer is.

Probeer gerus, soos ek vir ‘n paar maande vanjaar gedoen het, in ‘n plattelandse Franse dorpie gaan woon en in Engels kommunikeer. Ten eerste sou dit uiters onbeskof wees, om mense in hul idilliese, gekoesterde bestaan waar hulle en hul voorouers al eeue lank woon, met Engels aan te val. Ten tweede praat mense gewoon nie Engels nie. Hul kultuurtaal, opvoedingstaal, wetenskapstaal, kommunikasietaal, universiteitstaal, ens., ens., is Frans en sal vir die afsienbare toekoms Frans bly.

Tensy mev. Theresa May besluit sy is nou moeg vir die Brexit-debakel en sy Frankryk binneval en verower en Engels die enigste amptelike taal maak, soos die ANC in Suid-Afrika gemaak het! Hoewel, met die verdeeldheid wat tans in Engeland heers, kan ek my kwalik voorstel dat ‘n nuwe oorlog teen Frankryk ‘n groot sukses gaan wees…

Terloops, vele van my Afrikaanse vriende sê altyd: “Ek praat net Engels in selfverdediging.” Dis vir my gesond; dit getuig van standvastigheid en van ‘n geborgenheid in jou eie kultuur.

En Brexit gaan vir seker ‘n invloed op die toenemende hegemonie van Engels as kommunikasietaal in Brussel hê. As Engeland nie meer lid van die Europese Unie is nie, is daar nog enige rede om Engels te gebruik? Ek voorspel dat die taalnasionalistiese Franse dan hul stemme gaan begin dik maak om Frans ‘n hoër status te gee. Daarbenewens verteenwoordig Duitssprekendes byna 100 miljoen EU-inwoners. Waarom moet Duitsers en Oostenrykers vir lief met Engels neem as hulle bloot hul eie taal kan gebruik, die taal waarin die moderne wetenskap, ingenieurswese en kwantumfisika uitgedink is? Die Britte koop tog Duitse motors, nie die omgekeerde nie?

Eintlik is Afrikaans, Nederlands en Duits standaardtaalvariante van dieselfde taalkontinuum wat uit letterlik dosyne dialekte bestaan… Dit is moontlik om dieselfde boek in Duits, Nederlands en Afrikaans te lees en telkens nuwe elemente daarin te ontdek. Onlangs het ek dit besef toe ek die Nederlandse vertaling van Spengler se Ondergang van die aandland begin lees het. Geen Duitse boek vertaal ooit goed na Engels nie… behalwe miskien Das Kapital?

Anders as die Nederlanders en die Skandinawiërs, wat Engels ook gretig aanleer, beskik Afrikaners, Franse, Duitsers en Russe oor ‘n geskiedenis van konflik met Engeland. Is dit voorstelbaar dat die Russe ooit hul taal met sy grootse letterkunde, operas en wat nog, vir Engels sou prysgee?

Dit bring my by ‘n verdere punt: hoewel sommige Afrikaners (soos u en ander joernaliste) tans sterk onder Engelse of Angel-Saksiese invloed verkeer, was dit nie altyd so nie. In die verlede was ons politici, skrywers, akademici en wetenskaplikes trots op hul Europese herkoms en het moeite gedoen om met hul eweknieë in Europa te skakel. Jan Rabie het tydens sy verblyf in Parys in die 1950s soveel Franse boeke gekoop dat hy dikwels nie geld vir kos had nie, en koolblare by die mark gaan optel het om sop van te kook, om nie van honger om te kom nie. Het ons honger na Europa nou ‘n honger na Engels geword?

Die Afrikaner is óók, en by uitstek, Eurokaner… Ons het dit tydens die Anglo-Boereoorlog gesien toe die hele Europa kant gekies het téén Engeland. Vandag gebeur dit weer, want al hoe meer Europeërs word met afgryse vervul deur hierdie o so Engelse bestel, met sy korrupsie, plaasmoorde, taal- en rassediskriminasie. Telkens as ek Europa toe gaan, kom ek Europeërs teë wat hier vir militêre diens wil aanmeld om ons van die ANC en sy Engelse hanteerders te bevry!

Die “nuwe” Suid-Afrika, hierdie gewelddadige Klein Engeland, het hom tot vyand van die Weste verklaar. Ons kultuur verbied en onderdruk hy in die naam van sy afkeer van “eurosentrisme”. Hoe lank nog voordat ons Afrikaners, tesame met ons mede-Westerlinge, teen hierdie haatdraende kwasi-Engelse bewind met sy rassehaat, taalhaat, kultuurhaat, elke haat wat daar is, opstaan?

Engels is die antitese van Afrikanerskap. Dis so simpel soos dit, soos ‘n Vlaamse vriend altyd sê. En dis nie ‘n anglisisme nie, eerder ‘n gallisisme, aussi simple que ça.

My pleidooi sou wees dat ons liewers van Engels moes vergeet. As ek daar in Pole of in Frankryk vedwyn, of selfs in Stockholm tuisgaan, probeer ek vergeet dat ek Engels ken. Ek poog eerder om ‘n paar woorde van die plaaslike taal aan te leer, die mense beter te leer ken. In die geval van Frans is dit vir my lekker om byna heeltemal met die plaaslike inwoners te versmelt en om deur hulle as ‘n eweknie of ‘n gelyke aanvaar te word.

Engels is geen kortpad na kennis of ervaring nie. Inteendeel, dit weerhou baie Afrikaners van ‘n meer intieme omgang met ander tale en kulture. Ons word soos Amerikaanse toeriste wat net harder skree as hulle nie deur die plaaslike inwoners begryp word nie.

Daar is ook niks so vervelig soos ‘n Engelse boekwinkel nie. As jy een Exclusive Books of WH Smith gesien het, het jy almal gesien. Dit sê iets oor die oppervlakkigheid van Engelse. Dít wat Nietzsche en ander Europese intellektuele in die negentiende eeu oor Engelse geskryf het, geld steeds: hulle is oppervlakkige sedeprekers. Ervaar ons dit nie ook elke dag in ons land nie? Die aanhoudende gesanik en sedelesse van Engelse (en hul Afrikaner-na-apers natuurlik).

Dog ook: snobisme. Daar is min dinge wat Engelse so beïndruk soos geld. Lees: baie geld. Is dit daarom toevallig dat snobisme so ‘n wesentlike kenmerk van die Suid-Afrikaanse samelewing geword het?

Op die Europese Vasteland het mense agting vir vernuf, kultuur, kennis, styl. Dit gaan nie bloot om rykdom en vertoon nie. Die gemiddelde ANC-politikus of -tenderpreneur jaag ook maar eintlik die Engelse droom na: om ryk en vernaam te wees, iemand waaroor die poniepers in Londen sou skinder.

Saam met Hendrik Potgieter sou ek kon uitroep: Dank God dat ek nie Engels is nie! Afrikaans en my half-Europese identiteit as Afrikaner het vir my soveel deure oopgemaak, insigte gegee, my verryk en my oortuig dat ‘n mens altyd dieper na ‘n probleem moet kyk.

Ongelukkig is dit so dat baie Afrikaners vandag, juis vanweë Engels, oppervlakkig, vulgêr en snobisties geraak het. “Ek ry ‘n BMW,” soos oorle Johannes Kerkorrel gesing het. Nie dat dié arme siel ‘n begrip van enigiets gehad het nie, want hy wou ook maar graag ‘n Engelse Johannesburger wees. En moenie so seker wees dat die half-Engelse Afrikaner steeds ‘n “emosionele band” met sy taal koester nie. By die reünies van my matriekjaar is ek altyd verstom oor hoeveel van die stoere Boere wat destyds sulke swak punte in die Engelse klas gekry het, hul bloedjies na St. Johns, St. Stithians en dergelike meer gestuur het sodat hulle deesdae met Afrikaans sukkel! Maar goed, dis Johannesburg. In Pretoria is dit heeltemal anders gesteld. Johannesburg en Pretoria is soos twee stede in verskillende lande, met verskillende tale en kulture. Wanneer werp Pretoria die juk van Johannesburg af?

In Afrikaans het debat helaas verdwyn. Op tipies Engelse wyse word daar in die blaaie van Beeld, Die Burger en ander Nasperspublikasies vandag vir ons gepreek. Die nuwe evangelie van ANC-gedienstigheid word aan ons verkondig. Daar is niks van die Nederlandse, Franse of Italiaanse voorliefde vir argumenteer, meningsverskil en “oop gesprek” soos Van Wyk Louw dit getipeer het nie.

Diegene wat verskil, word gesnobeer. Geen teenargument word aangebied nie, maar hulle verwys neerhalend na jou “grys skoene” en ander sinnelose slagspreuke wat hulle by Engelse gehoor het.

Om Engels magtig te wees, vervul my helaas met geen “dankbaarheid” nie. Ek het my jeug verspil tussen Engelse op die Wits-kampus en dat ek min of meer sonder letsels en sonder om ‘n dwelmverslaafde te word daaruit ontsnap het, is ‘n wonderwerk. Ek het niks by dom Engelse geleer nie en moes heelwat dinge afleer. Eers toe ek die Europese denktradisie kon bemeester, het dit vir my gevoel asof ek vir die eerste keer mens word. Die helder, skoon lug van my aangenome Franse departement, Cantal, die ou kastele en ruïnes, die aristokratiese sweem wat oor alles hang, dít alles laat my my as Afrikaner beter verstaan.

Die Afrikaner is ‘n Protestantse aristokraat wat steeds, na soveel eeue, vervolg word…

Ons is Amsterdam, maar ook La Rochelle. En die Hanse. Daar waar ek vroeër vanjaar gestaan het, op die stadsplein van Bremen, die Hansestadt, met die bankadvertensie op die bushalte in die plaaslike dialek, wat lyk op Afrikaans, dít het iets in my geroer. Vanuit die Lae Lande met hul kanale en die Oossee met sy Hansestede het ons gekom en aan die Kaap het ons en ons taal uitgespoel. Maar Germane het ons gebly. (Al dig Breyten Breytenbach nou ook wát oor “Ek is Germaans en wreed”; ek wonder wat sê hy nou oor die wreedheid van die swartman?)

Engels is ‘n saai kreools; dis vol Franse woorde wat verkeerd uitgespreek word. Veel eerder sou ek meer Duits wou geken het, of Pools of Sweeds magtig wou wees. Of Italiaans of Spaans. In my motor luister ek knaend Italiaanse liedjies. Dis so vrolik en sjarmant, so anders as die gehyg en gekreun van Amerikaanse kletsrymers of die dekadente nihilisme van Britse popsangers. Wat wou Pink Floyd en die Beatles regtig vir ons sê, behalwe dat dit ‘n lyding is om Engels te wees? Engelse hou van niemand nie, geen ander volk nie, selfs nie eens van ander Engelse nie. Hulle munt uit in meer of minder subtiele beledigings. Ongelukkig is die Afrikaner met sy byna Skandinawiese opregtheid en ongekunsteldheid kwalik teen Engelse beledigings bestand.

Wat u sê oor Afrikaners wat Engelse onderwysers in vreemde lande word, is eintlik afgryslik. Want u laat na om te noem dat hulle weens hul velkleur nie in Suid-Afrika werk kan kry nie. Vanweë die nivellering wat die verderflike Britse en Afro-marxiste op ons land afgedwing het, is alle onderwys en onderwyssalarisse tot ‘n derdewêreldvlak verlaag. Afrikaanse onderwysers moes eintlik R100 000 per maand verdien het, soos vele van hul Noord-Europese eweknieë. Dan sou elkeen in ons land ‘n leraar by sy plaaslike Afrikaanse skool wou geword het, pleks dat hy of sy ontheemd rondflenter agter ‘n paar dollar aan.

Dis nog iets van Engelse: hulle is altyd ontheemd en ontwortel, swerwers na nêrens. Die “ewige Engelsman” wat vandag in Suid-Afrika, môre in Australië en oormôre in Kanada of die VSA gaan bly. Hy beskik oor geen werklike vaderland nie.

Die Afrikaner is van ‘n ander stoffasie. Hy is geanker, gewortel, geplant. Dit pols deur ons Europese bloed; “bloed en yster, bloed en grond”, soos FPK in hul liedjie “Brand Suid-Afrika” sing. Of “Ons vir jou Suid-Afrika!” soos CJ Langenhoven dit in “Die Stem” verwoord het. Noudat ons land afgeneem is en binnekort ons plase, is ons taal voorlopig al wat oorbly. Dis ons ark waarmee ons dié stormagtige oseaan sal moet bevaar.

Die moderne Britse Ryk het as ‘n seerowersprojek teen Spanje onder Elizabeth I begin. Daar sal altyd see- en struikrowers wees.

Daarom sal ons ark voortdurend bedreig word. Ek vra u egter mooi, moenie met u ode aan Engels, die rol van seerower speel nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.