Suidpunt: ‘Lojale verset’ in ‘n neutedop. Deel II.

In die vorige deel, of dan, die eerste helfte van Lojale verset het hoofsaaklik gehandel rondom die skrywersgesindheid, maar ook die volksgesindheid wat krities moet staan teenoor die menigte. In die laaste helfte is N.P. van Wyk Louw meer gemoeid met (meta)kritiek en styl.

(Meta)kritiek

Ek gaan sommer vier hoofstukke onder een hofie behandel: ‘Individualisme en kentering’, ‘Kritiese skole’ en ‘Kritiek oor kritiek’, asook een punt van “Die Jonger Afrikaanse literatuur”.

As mens hierdie boek oopslaan, grynslag mens aan die een kant hoe eenvoudig die kritiek destyds  was teenoor nou. Vandag is dit veel meer ingewikkeld, juis omdat alle teorieë deesdae verwelkom word. Dit wil voorkom of N.P. van Wyk Louw se uitgangspunt meer op die formalisme geskoei is, dit wil sê: die kuns staan apart van die leser en die skrywer – dit is die woordkuns, en alléén die suiwer woordkuns, wat tel.

Aan die ander kant grynslag jy oor hoe alles eenvoudig dieselfde gebly het, maar in elke eeu net ‘n ander naam kry en ‘n bietjie “afwyking” toon.

Kyk, as jy nou al eers gehoor het van Roman Jakobson se kommunikasiemodel, dan is jy seker reeds bekend met

SENDER (skrywer) > BOODSKAP (boek, rolprent, gedig) > ONTVANGER (leser, leserindrukke)

En daarom sal jy gou insien die “denkrigtings” (p. 68-75) is byna altyd geskoei rondom één van hierdie drie. Byna nooit die geheel nie. Of dit handel oor die skrywer se doen en late, of dit handel oor die gevoel van die ontvanger, of die betekenis word slegs in die woorde gesoek van die boodskap, sonder om die skrywer of ontvanger te raadpleeg.

Louw dink onder andere nie veel van die “historiese denkrigting” waarmee die werke ontleed word nie.  Dit behels byvoorbeeld die hele biografie van die skrywer, die heimat wat hom sou beïnvloed het, wie en watter skrywers (en hul werke) hom sou beïnvloed het, maar ook die psigologie, verwantskappe tussen skrywers, asook die nuttigheid van die werk. [SENDER]

Die “histeriese denkrigting” is gewoonlik die resultaat wanneer die boek so hartroerend, so ekstaties is, dat die resensent ‘n lied oor die boek wil skryf, pleks van ‘n resensie. [ONTVANGER]

Die volgende herinner my nogal aan André P. Brink: die “persoonlike metode”. Kyk, as jy ‘n boek optel, jy sien wie die skrywer is, by watter uitgewery die boek gedruk is, hoeveel ontsag jy vir die naam het, of die skrywer dalk familie is – dan gaan dit mos jou oordeel beïnvloed. En of jy die werk gaan geniet of nie. Wees dan maar eerlik in jou resensie en neem dan maar wraak op die skrywer – jy weet jy wou dit lankal doen. Die boek kon netsowel nie gelees gewees het nie. [ONTVANGER]

Die “indringende metode” kom ek gereeld by preke teë. Sodra die predikant sê: “Ek wonder hoe moes Abraham gevoel het oor…” skakel ek dadelik af en vir die volgende 15 minute begin ek my skedule vir die week beplan en orden.  Daar word letterlik sommer in die skrywer se brein ingeklim om die skrywer van binne af te interpreteer. Dis blote spekulasie: miskien sou dit net makliker gewees het om die skrywer reguit te vra? [SENDER]

Die “statistiese metode” is ons uiters goed mee bekend. Resensies (kwalitatief) word sorteer volgens “prysende” of “afkeurende” resensie (kwantitatief) en dan word die hoeveelheid “goed” en “sleg” opgetel en die stapeltjies stemme vergelyk. Die hoeveelheid stemme sal dan die finale waardeuitslag van die boek gee. Kroon hom keiser, of gooi hom vir die leeus. Wat sorgwekkend is: Goodreads.com, Amazon.com asook Rotten Tomatoes.com maak hulle almal skuldig hieraan met die “gemiddelde”-sterretjies… [ONTVANGER]

Ongelukkig het N.P. van Wyk Louw in daardie jare (1930’s) nog nie te doen gekry met die postmodernisme nie.  Want…

…die kunswerk se “skoonheid” (waarom is dit mooi?) en “hermeneutiek” (wat is die werklike boodskap van die teks, wat het die skrywer met die boodskap beoog?) as “geheelbeeld” (nie die som van die dele nie) [SENDER, BOODSKAP]…

…moes plek maak vir “close reading” van die New Criticism (wat die Sender heeltemal verwerp het – die kuns, die sielkunde, die waarheid, alles is in die woorde self opgesluit: vorm, styl, struktuur, simboliek) [BOODSKAP]…

…voordat intertekstualiteit (her)ontdek is (!) wat aanvoer daar is geen grense tussen werke en tekens en tekste wat mekaar beïnvloed nie [wat ons duidelik kan sien slegs ‘n terugkeer is na “historiese denkrigting”], geen tekste staan apart nie, en daarom [SENDER] …

…omdat die mens ook ‘n teks is, wat, soos simbole en tekens, “gelees” moet word, om verstaan te word, het die leser die meeste sê, want hy interpreteer immers die boodskap [ONTVANGER].

En so het skole gekom en gegaan, soos die Dekonstruksie wat onder meer aanvoer dat die mens nie oor genoeg woorde beskik om sy (warboel) gedagtes korrek, binne slegs een konteks, te verwoord nie. En omdat die skrywer se “hond” (‘n Chihuahua) nie my “hond” is (Marshall, van Paw Patrol; of nee, maak dit Thunderbolt, die wolfhond van 101 Dalmatians II), wat ek in my gedagtes oproep nie. Die kans dat jy dus by die eerste sien van ‘n rolprent teleurgestel sal word as jy eers die boek gelees het: daar is jou rede. Sinne en woorde kan heeltemal verkeerd gelees word, afhangende van die leser se bui en konsentrasie. Sekere woorde het dan veelbeduidende betekenisse wat die hele konteks kan verander. Dis ‘n flippen lekker teorie om mee te speel op ‘n Sondagmiddag. Ek het trouens al twee Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke (Vreemdelinge en Rebel) so gekry wat, sou mens die “bondgenoot” omskakel na “vyand” of “iemand met sy eie agenda”, daar in elke hoofstuk oorgenoeg bewyse in die teks is om my vermoedens te staaf! Dis amper asof jy ‘n dubbele laag van die storie ontdek het! Is dit verdieping, verruiming, of bloot swak vakmanskap van die skryfsters wat blootgelê is? Of is hierdie “geheim” slegs vir die “ingewydes” bedoel? [BOODSKAP, CLOSE READING… maar verwerp die oorspronklike bedoeling van die teks]

So, dit is hierdie verskillende denkrigtings wat Van Wyk Louw van die tafel wil afvee en vervang met “SKOONHEID”.  En daardie Alfa en Omega, skoonheid, estetika, is vir hom die woordkeuse, die waarde van die woord. Die ritmiese golf, oop en geslote lettergrepe, klankgrepe wat pas. Daar moet gewaak word teen die woord wat onpresies, skrams, halfraak, skoolvosserig, gebuk gaan onder dwangrym, dalk te verouderd en onvanpas is. Dit moet ook nie slegs ‘n ligsinnige spelery met woorde wees nie. Daar moet ‘n gewone, logiese en emosionele verbintenis tot groter musikale eenheid wees. (Die mooiskrywery / purper prosa wat sou volg in die Afrikaanse letterkunde as gevolg hiervan, gaan ek maar liewer verswyg.)

Wat die kritiek en metakritiek betref, moet die skrywer net besef Shakespeare was nie in sy tyd heeltemal so hoog aangeskrewe of geëerd soos die meer geleerde Benjamin Jonson nie. Dit was eers met die verloop van eeue dat Shakespeare se werk meer waardeer is. Dit is dus nie nodig om ad hominem aanvalle te loods uit weerwraak op die kleinlike kritikus nie – jou werk spreek vanself.

Maar ‘n veel groter euwel as die denkrigtings wat die “kuns” sou vernietig, is “vakmanne met jarelange opleiding in die vak oorsee”, wat links en regs eietydse vakterminologie soos gonswoorde gebruik. Woorde soos “individualisme”, “sensitivisme”, “vormgestalte” ens. Louw het duidelik hiermee geskimp op F.E.J. Malherbe.

Hy hou ook nie daarvan as ‘n kritikus hom tussen die kuns en die volk inskuif om ‘n soort superster te word nie.

Mooi prosa

Hierdie satiriese opstel is die hoogtepunt van die boek. Toe ek op Hermanus deur hierdie boekie blaai, het hierdie opstel my lekker aan die lag gekry, en elke keer as ek hierdie deel lees, hou my lagbui nie op nie; dit raak beter. Geen hoërskool of universiteit kon nog ‘n student SO duidelik wys hoe verskillende skryfstyle dag by nag verskil nie.

Die skrywer voer in sy satiriese stuk aan Afrikaans raak vir hom nou moeiliker om in te skryf as Hollands. Op grond van die woorde “Een hen zat op haar nest. Daar kwam een muis kijken” wys hy, aan die hand van ‘n paar voorbeelde, hoe “mooi Afrikaans” deur die geleerdes professore en skrywers voorgeskryf word. Louw boots hul skryfstyle perfek na.

Eerste aan die beurt is E.C. Pienaar, wat eerder ‘n opruiende toespraak afsteek (p. 65):

Ek, meneer die voorsitter, dames en here, glo aan die toekoms van die eier! Siedaar, hoe sit sy, die egte Afrikaanse veervoet-hoender, en doen haar stil, maar verhewe plig – voorwaar ‘n momentopname op die lewe betrap!

Maar wie sien ek in die verskiet nader? Luister, meneer die voorsitter, en wees gewaarsku! Dis die listige, vreemde vaal gedierte. Hy rig sy skrede derwaarts na waar sy sit.

In die woorde van ons gevierde volksdigter:

Daar kom hy aangetreed

tot slagting wreed –

bespied,

bekruip,

beloer,

besluip…

Hoe eg! Hoe lewenswaar!! Bitter was die stryd van vroeër henne, bitter sal haar stryd ook wees. Sien ek met my geestesoog geen traan langs die verweerde pikkie biggel nie?

Maar sal sy ten onder gaan? (Pouse.) Ek antwoord, geagte vriende, onder die diepste besef van die erns van die oomblik:  driewerf nee!!! (Applous).

Daardie eiers sal leef, sal uitkom, sal groei tot ‘n boom onder wie se wieke die verre nageslagte in opstand  vir hul erfdeel sal kom.

(Dawerende applous.)

Welaan, mede-Afrikaners. “Ek hou van ‘n hen wat haar…”

(Geesdriftige lawaai.)

Volgende aan die beurt is C.M. van den Heever, diep onder die indruk van Stijn Streuvels se fatalistiese natuursiklus en byna impressionistiese landskapskildering, wat “gevoel” moet word, vasgevang in die gansheid van die heelal (p. 65):

Met oë wat dromerig in verre, wasige stiltes staar, sit die hennetjie op haar nes. Bokant die dynserige horison wat in die bloute bewe, sien sy wit voëls wat op en neer sweef. Dit is net ‘n hennetjie in die groot stilte van wye somerdae en sterrenagte.

Muise kom en muise gaan, geruisloos in die kosmiese gebeure soos die sterre snags verbygaan…

Maar eendag as die kuikentjie kom, sal haar hart opsprinkaan…

F.E.J. Malherbe se voorbeeld bied nie veel nie (p. 65-66). Hy skryf ook nie veel nie, want daar is nooit genoeg plek nie. Tog wel vir nie minder nie as sewe (7) verwysings na sy eie boeke, artikels in buitelandse tydskrifte, ens. Die teks word ook deurspek met literatuurterminologie, wat benadruk word deur skuinsdruk.

En toe, liewe lesers, staan ek gestom wat N.P. van Wyk Louw met die Latynkenner T.J. Haarhoff gedoen het. Want Haarhoff se skryfstyl lyk, as ons verby sy neo-imperialistiese dagdrome kyk, soos dié van mý PRAAG-artikels! Selfs die kommapunte, die hakies, die parenteses. Die irrelevante dele wat niks met die storie uit te waai het nie. Die kennis-uitstalling. Maar, in sy geheel: identies (p. 66)!

Verskoon my, amicissime, of soos ons ou Flaccus sou gesê het, “animae, dimidium meae,” dat ek vir jou in Afrikaans, die taal van hierdie verafgeleë volkie, soos destyds Ovidius uit Pontus, oor hierdie ernstige tema skryf; maar as jy lees wat sir Thomas Holland, prof. Wyld en ander vooraanstaande geleerdes oor Afrikaans gesê het, sal jy nie langer daaraan twyfel of die jong taaltjie, “like a young colt” (lees maar ‘n bietjie vir Roy Campbell daaroor) in staat is om die diepste gedagtes op die fynste manier uit te druk nie.

Hier in ons land is ‘n hennetjie (Gallina, het die ou stoere Romeine gesê) wat broei. Met die gravitas (ongelukkig ‘n onvertaalbare woord, waarvan die fyner betekenis altyd verlore gaan) wat die ou Romein sowel as die ou Afrikaanse boer gekenmerk het, sit sy op haar nes; en met ‘n pragtige pietas (eweneens onvertaalbaar; “siqua est caelo – of liewer hier ‘nido’ – pietas,” sou ou Maro gesê het ) waak sy oor haar eiers.

Dink net aan ons dierbare Oxfordse dae terug, wie nie almal oor die hennetjie geskrywe het nie: Cicero, Varro, Columella, en daardie ou ruie boer van ‘n Cato.

Maar sy hoor iets nader. Is dit die Hydra, of watter Chimaera sou kom? (Byna, ou maat, het ek hier in Afrikaanse klassieke versmaat – “nugae canorae” – verval ). Wat kan dit wees?

Ag, nee wat, dit is ‘n “ridiculus mus” en die hennetjie kan gerus voortbroei. Daar is net “pietas” en “gravitas” (wat ek ook vir ons jonger geslag kan aanbeveel) vir die hen nodig, en voorligting vir die muis, om muis en hoender en eier in ons landjie te versoen tot ‘n onbreekbare gemeenskap – ‘n “pax murina”, breër as die ou “pax Romana” en die verdwynende “pax Britannica” – ‘n gemeenskap met drie harte wat klop soos een.

En dan, in kontras met bogenoemde woordekraam, die pittige Abraham H. Jonker se “Nuwe saaklikheid”. Of, minimalisme? (p. 67)

Nes. Hen. Eiers. Stilte. Nog meer stilte. Kiem. Groei.

Muis kom. Muis gaan. Meer stilte.

Kraak. Breek. Bars. Nog meer bars… Kuiken.

Die jonger Afrikaanse kultuur

Ek het reeds die “woordkuns” afgehandel, so nou beweeg ek na die tweede punt van hierdie opstel. Die problematiek van die standpunt van Louw is reeds vervat in ‘n bespreking met ‘n kritiese leser op Disqus:

Sussie, ek het ‘n vraag.

Ek is nou effens verward tussen twee literatore se uitgangspunte.
Gegewe wat die saai Afrikaanse letterkunde tot dusver opgelewer het, kort ek nou die stem van ‘n nugter boervrou.

Watter soort roman sou u verkies?

Aan die een kant is dit duidelik dat iemand soos N.P. van Wyk Louw soek na skoonheid, na betekenis. Dat hy, soos ek, gatvol is vir die soveelste “sosiale vraagstuk” en ronddool in die hole, die soveelste uitbeelding van die psigologiese Hellevaart van Dante (wat ek laas grafies as agtergrondmotief beleef het in die rekenaarspeletjie Jazz Jackrabbit II: jy begin op Level I in die kerk, jy eindig op Level III in die hel), om die kiem/duiwel/plaaggees/BOSS in jou onbewuste te gaan uitmoor…
Of die reaksionêre Afrikaanse distopiese geskrifte van ‘n dorre Kaapstad in die toekoms, noudat Kaapstad wel waterbeperkings ingestel het. Was die boeke in 1980 geskryf, kon mens dit nog geloof het – soos “Omsingel die laer van die heiliges” (1973), ‘n boek wat ek met elke liewe bladsy meer waardeer. Die Fransman kan skryf. Maar nou is hierdie Afrikaanse boeke weliswaar in 2018 geskryf.

“Die verstedeliking van die Afrikaner het ‘n groot aantal nuwe motiewe in ons romankuns ingevoer. Die Afrikaanse mens is voor baie vreemde vraagstukke gestel, en hier het die skrywers ‘n nuwe gebied ontdek wat betreklik vinnig ontgin kon word. Vir sommige kritici lê die nuwe in ons literatuur dus dadelik in die nuwe materiaal. Dit is nie alleen verkeerd nie, maar ook gevaarlik vir ons ontwikkeling. Meer as eenmaal (bv. met die koms van die naturalisme) het Europese skrywers, veral die kleineres, gemeen dat hulle met die ontdekking van ‘n nuwe gebied of stof ‘n nuwe groot kuns kon maak. En steeds was die maakwerk met die nuwe stof net so erbarmlik as dit met enige oue kon gewees het. Die jong Duitsers wat in die [agttien]neëntiger jare teen Paul Heyse om sy verfyndheid en sy “Vornehmheit” uitgevaar het, en ‘n nuwe kuns uit die agterbuurtes en bordele wou gaan haal, het nou slegter as hul teenstander geskrywe. Net soos die boer en die armblanke vir die swakke Afrikaanse skrywers ‘n mode-tema geword het waaruit tallose variasies van die verveligheid kon gehaal word, sal die stad en die stedelike ervaring dit wees wanneer die vernuwing niks anders as die nuwe stof beteken nie.” (Louw, 1975 (1939):90-91)

Aan die ander kant laat iemand soos Rob Antonissen mens amper goed verstaan jy moet met ‘n elektriese porstok gaan skoorsoek met die duiwel, hom gaan bloots ry, bordele besoek. Of hoe die lewe in die onderste laag van die samelewing is. Vir meelewing. So iets:

“Kuns is ‘n waagstuk, ‘n avontuur. Om met kuns mee te lewe beteken om die beproefde (en uitgetrapte) paadjies te verlaat en om jou in die onbekende in te waag, om jou in- en dalk uitwendige sekerheid op die spel te sit. Elke kunswerk is “die onbekende”, uitsondering, wesenlik nonkomformisties, en daarom: gevaar. (Versigtigheid, “prudentia”, is ‘n christelike deug. Dit veronderstel besef en kennis van boosheid en gevaar; dit sluit waag en blootstelling aan risiko’s nie uit nie. Sterk christelike karakters kan slegs deur sulke blootstelling gevorm word: ook deur blootstelling aan die gevare van die letterkunde, ook deur gevaarlik en vreesloos te skrywe. Christus was versigtig en het versigtigheid geleer: Hy WAS versigtigheid. Maar Hy het uitgegaan in die woestyn om deur die duiwel versoek te word.) Om te eis dat kuns hom aan die norme van ‘n samelewing of gemeenskap sal konformeer, beteken uiteindelik die dood van die kuns; en ‘n gemeenskap wat geruime tyd daarin sou slaag om die kuns tot konformisme te dwing, sou feitlik sy eie doodsvonnis teken.
[…] Dit is ‘n dwaasheid om die kunstenaar allerlei nie-artistieke taboes dreigend voor oë te hou: want hy is geroepe om taboes te bréék.” (Antonissen, Spitsberaad, 1966: 226-227)

Nou moet ek ook byvoeg: Antonissen bepleit ook meer “engagement” in die letterkunde.

So. U, wat al alles gesien en beleef het; wat sal dit wees?

Ek sukkel om in te neem waarom ‘n welgeskape, intelligente kind so ‘n probleemboekie van 80 tot 120 bladsye binne dae sal deurwerk vir daardie één (1) enkele kitsoplossing, terwyl hy 50 oplossings vir daardie einste, één maatskaplike euwel binne sekondes op sy selfoon kon google. Goedkoop en vinnige inligting. Ek sukkel selfs méér om te begryp waarom skrywers nog sulke boeke skryf, en uitgewers steeds daardie rotsaai boeke uitgee, en bowenal, dit nog gekoop word! As dit nog 1940 was, sou ek begrip hê – maar in die jaar 2018?

Wat is fout met hierdie mense? Weet hulle werklik nie daar bestaan iets soos die internet nie?

Die laaste drie hoofstukke, by name “Die idee van Groot Kuns”, “Volkskritiek” en “‘n Lewensbeskouing  van ‘n Moderne Mens” fokus hoofsaaklik op die volgende punte:

  1. Naas wat mev. Elma Potgieter op 9 Desember in haar brief uitgelig het, moet Groot Kuns ook voluit gelewe word deur die individu:
[*Met verwysing na Beethoven se laaste “onmenslike jare”]: Daarvoor moet enkele lewes onder ons ook groot gelewe word, met die moed om ‘n uiterste eerlikheid teenoor die eise van hul eie ontwikkeling te handhaaf en met ‘n innerlike eensaamheid wat hulle self gekies het omdat hulle vry moet bly binne ‘n gemeenskap wat klein-burgerlik is soos dié van ‘n dorpie.

[…]

Maar daar is ook die enkele lewes wat getrou na hul eie innerlike wet geleef word (Beethoven, Milton), waar die mens sterk genoeg is om sy uitverkore pad soos ‘n gewapende man deur die menigte te loop. (“Die idee van Groot Kuns, woorde vir enkeles”, Lojale verset, p. 100 &105)

 

  1. Wanneer iemand die Afrikanervolk kritiseer, staan buite die laer en oordeel nugter. Volkskritiek is nodig. Kritiek is die gewete van die nasie; waak teen selftevredenheid (p. 108).
  2. “Die mens mag onvolmaaktheid liefhê, maar hom nooit geheel daaraan gee nie” (p. 112). Staan wat waardes, vooroordele ens. betref, buitekant die laer.

Ek wens u ‘n Geseënde Geloftedag, Geseënde Kersfees, ‘n Voorspoedige 2019 toe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.