Suidpunt: Volkstaat of outonomie alleen kan nie kunswerke lewer

Deel op

Geagte mev. Elma Potgieter (en ander vriende van die volk),

Ek het u brief van 9 deser gelees, en het skielik onthou ek het nog ‘n hoender in die oond: “Wirtschaftsgeschichte der Republik Venedig” moet nog vir die Afrikaanse Wikipedia vertaal word. U het heeltemal gelyk: sonder die ekonomie en outonomie kan geen groot kuns onder ‘n volk seker gedy nie. Daarvan is Venesië beslis ‘n sprekende voorbeeld. Maar…

Kuns in ‘n tyd van vrede?

U, mev. Potgieter, wat onder meer in Frans geskool is, sal moontlik goed bekend wees met twee name: Albert Camus en Antoine de Saint-Exupéry.

Nie dat ek laasgenoemde se kinderlike, naïewe, onskuldige, reinehart Le petit prince (Die klein prinsie, 1943) veel lesenswaardig vind nie. As kind het die besige intrige van die Afrikaans-oorgeklankte Japannese animasieprent (星の王子さま プチ・プランス) my véél meer geboei. Ja, daardie prinsie met die lang vrolike wimpers soos Hannon Bothma s’n.

Behalwe as mens miskien onthou die eensame “Goue Seun” is die Jungiaanse argetipe genaamd “das göttliche Kind”, of “Kindgott”/”Heldenkind” of puer aeternus (ewige seun) wat as versoener moet optree tussen die bewuste en onbewuste (en moontlik ook gebruik word as metafoor in Thijs Nel se ‘n Annerster soort (1997)), en as die dartelende skadu moet dien van die “Wyse ou man” (senex). Nie dat ek enigiets van bogenoemde gerieflike literêre indeling (onder die dekmantel van dieptesielkunde) vir een oomblik glo nie. Wat my eerder dronkslaan, is: hoe op dees aarde het hierdie boekie, met sulke vaal prentjies, in die éérste plek so ‘n groot aanhang, of eerder kultus, verdien? En waarom is die boek so belangrik soos die Bybel? En in meer as 300 tale en dialekte vertaal? In Afrikaans sommer twéé maal, as boek deur André P. Brink en vir ‘n teaterproduksie deur Naomi Morgan? En, jou wragtie, daar sit hy ook op die marmertroon in die onsterflike Latyn! Regulus! Die hoogste eer wat ‘n boek nog te beurt kon val!

Camus se boekies, L’étranger (sedert 1966 beskikbaar as Die buitestaander) en La peste (ook sedert 2012 beskikbaar as Die pes), wat hom seker die Nobelprys besorg het, moet mens weliswaar van voor af deurwerk. Dis absurd. Wat die boeke se meriete is, weet ek glad nie. Of:

Die nobelprys het lankal ontaard in ‘n “noddy badge” vir diegene wat die eenwêreldorde se saak bevorder. – Rooikop, Disqus-forum, “PRAAG: Nadine Gordimer oorlede”

Maar die feit bly staan: hierdie twee Franssprekende here se werke is geskryf in ‘n tyd van beroering. Die Tweede Wêreldoorlog. Waarin mense seker ook om oorlewing moes baklei? Kyk mens na die betrokke werke, lyk dit glad nie of volkstrots, nasietrots of volkstaat [met ‘n kleinletter] die skrywers enigsins besiel het nie. Was dit bloot ‘n blinde gelukskoot?

Of dalk was die oorlog nodig om mense tot lewensbesinning te dwing. As dít die hoofmaatstaf van literêre sukses is, ly die Afrikaner daaraan beslis geen gebrek nie. Daarvoor het ons mos ‘n vyandige staat wat in ons nek blaas, soos u skryf.

Skrywersgees: Selfbeskikking of bloot selfstigting?

Ek sal aanneem met die woord selfbeskikking in u brief word eintlik die wens uitgespreek: “Volkstaat”. Want, soos my e-WAT “selfbeskikking” omskryf:

Beskikking van ‘n individu om sy of haar eie lot te bepaal, en i.d. geval van ‘n volk, kultuurgroep, of dergelike, om ‘n eie vorm van regering of staatsbestel wat onafhanklik van andere is, te kies.

Aangesien ek nie weet hoe op aarde mens twee stelle wette in een land kan hê nie (behalwe dat die vorige bestel ‘n siviele (blanke) wet vir Suid-Afrika en ‘n tradisionele (nieblanke) wet vir die tuislande gehad het), beteken dit net een ding: ‘n afsonderlike land. Of, ‘n “staat” binne ‘n staat.

Nou goed, gestel die Reset-knoppie is gedruk. Almal, wat so lank PRAAG lees, kry uiteindelik die Volkstaat op ‘n skinkbord waarop dekades lank gehoop is. Onder luide toejuiging. Die VN het onverwags ingestem. Dit is ‘n feit soos Suid-Soedan. Azanië, onder leiding van ‘n kommunis, ontken die Volkstaat se bestaan; die ander SAOG-lande hou hulle vir eers neutraal. Die eerste monument is reeds onthul; 2.000 spierwit, lelieblanke duiwe (simbolies, of uit pure kangeit?) is losgelaat; die volkspele, bakkiesdraai en tiekiedraai was ‘n reusesukses. Die melktert-uitloting ook. Vir die eerste keer in jare praat Afrikaners, soos die Franse, slégs in hul moedertaal op CNN [o, die addergeslag sal daar beslis wees, hoor!], wat die nuuskanaal teësinnig dwing om onderskrifte te gee. Die Saterdagaand eindig met Steve en die Volkslied.  En vuurwerke. Meer as by die 4th of July.

Beloftes word net mooi die volgende Sondagoggend plegtig, opnuut voor God gemaak, en Maandagoggend in elke volkskoerant verbatim gepubliseer.

Net om 70 tot 100 jaar later deur die goddelose agterkleinkinders verwerp te word. In dieselfde gees as die ontmitologiserende, versetlike, modernistiese ‘Simbool’ in Een-en-twintig-plus (2000-herdruk, p. 44), met die uiters ironiese doodsteek-einde:

Skielik het ‘n siddering en ‘n gemompel deur die skare gegaan. Want die rooi bloed wat uit die sterwende man [*Louis] vloei, verander tot ‘n kragtig-bewegende massa wat opdraand in plaas van na holtes toe peil.  En terwyl hulle in verstomming staar, sien hulle dit is ‘n stroom rooi miere wat reguit na die [*onoorwinlike] bergkrans vloei [*wat Louis probeer oorwin het, maar hom te pletter geval het in sy poging]. Die lang tou bloedrooi miere het teen die krans opgesnel, hoër en hoër, hoër as wat Louis ooit gewees het.

[…]

“‘n Wonderwerk!” het hulle uitgeroep […] en die dorp ingestorm om ‘n beeld van die wonderbaarlike mier te gaan boetseer en daarvoor neer te val en hulle hoofde in stof te beuk.

[…]

Die jong vrou het alleen agtergebly om oor haar [*man se] lyk te treur. Dit was so swaar op haar buik en later so koud dat haar kind gebore is met ‘n krom rug en veragting vir die god van vergulde klei in die middel van die markplek.

Veel later het ‘n seun van die dorp die bergkruin op ‘n maklike ompad bereik terwyl hy na afgedwaalde bokke soek.

Wat, op hierdie aardbodem, kan die lesers aan my verpand, wat my die versekering sal gee dat ‘n volk en sy koerante, skrywers, professore, sy kerke, nuwe land of te nie, nie wéér sal ontaard nie?

— Nie wéér die “oues” (pioniers) sal uitwerk wat hul vir ‘n aristokratiese ideaal teen bloedmin geld afgesloof het nie? Vir wat? Vir bedorwe brokkies! Aanskou die twee minnaars (die een ‘n erfdogter) wat behaaglik woel in die skuim en in ‘n oomblik van passie snak in die kwistige, klewerige porseleinbad vol sjampanje. Besef sy daardie kósbare nektar van die gode is deur die eeue heen met soveel sorg verbou, gebrou en voorberei in die sweet van haar voorvaders se aanskyn in die nuwe beloofde land? Verbeel ek my, of kry die einste groepie fiere ooms op die verbleikte badkamerportrette ‘n effense droë, pruimsuur trek om die mond en ‘n priemende, nors blik na benede? Daardie gesteun [‘n skuldbelydenis?] wat hier reg onder hul skerp adelaarsneuse opklink: “Hmmmm. Dit was ‘n goeie oesjaar, Oupa, maar nou ja – ék verdien hierdie bederf. (lag) Haai, Johan, jy is nou stout!”

— Nie wéér aan massaverbruik en “luukshede” uitverkoop sal word nie?

— Nie wéér ‘n weghol-modernisering en vervreemding meemaak nie; waarvan selfs ‘n afgeleë plekkie in Friesland slagoffer geword het nie? (Met vriendelike verwysing na Hoe God verdween uit Jorwerd). Modernisme het onvermydelik geword in ‘n era van beweging: my kontrak met Singapoer is veel belangriker as die jaarlikse tradisionele Kerkbasaar en Stammtisch. Jammer, maar laasgenoemde twee is ‘n remblok vir my sukses.

— Nie wéér ‘n NARUK, SUKOVS, KRUIK en TRUK sal hê wat van inmengery en dom-soos-grond-kritici beskuldig word [met verwysing na “Afrikaanse toneel – hoeksteen of grafsteen?”], met die aanvanklike kurkproppe en hande wat klap tydens hul ondergang in die vroeë 1990’s…(asook die onbevange optimisme oor die potensiaal van die “vrye mark” wat die opvoerings by kunstefeeste sou bied)… en dan die geween met lang trane oor staatsubsidies en ‘n teaterbystandsfonds wat daar skielik nie meer is nie?

— Nie wéér sensuur sal hê wat skrywers “inhibeer” (maar soos stout peuters tog die grense laat toets), net om tydens die afskaffing alle “inhibisies” te verloor, soos ‘n adolessent wat pas die huis verlaat het nie?

— Nie wéér volksorganisasies soos paddastoele sal laat oppop waar die fondse mildelik om persoonlike gewin en vir die grap geskep word nie? Is prokureurskoste immers nie so duur dat mens maar liefs die oortreder “laat gaan” met ‘n goue ontslagpremie nie? Wat tog van die BEELD van ons organisasie? Dis in LANDSBELANG! Die hele wêreld is op ons gefokus. Die geldkrane wat binne sekondes sal toedraai as hierdie ongerymdhede op die lappe sou kom? Duisende is op die spel! Die werkverliese! My strandhuisie ter waarde van 300 Krugermunte (fyngoud)! Aai, die kompromieë! Ons smeer maar liewer weer toe. Ons plak maar toe, en kyk vorentoe, of anderpad.

— Nie wéér “markgerigte” universiteite sal kry wat soek vir die grootste gemene deler (seks! ras! klas!) om met die studente oor te gesels nie?

Gaan ons ‘n demokratiese monargie kry, omdat daar te veel op kortsigtige politici in die verlede vertrou is? Wel, verdomp, daar’s Swede! Dis ‘n demokratiese monargie, en kyk hoe lyk dit! ‘n Tweet van Dr. Roodt op 11 November 2018:

En wat het/kan/sal verhoed dat daardie 3 groepe NIE óók almal (reeds) verrot word/is nie? Die geld wat opdroog? Fokus nie op die proses nie, liewe leser, maar fokus op die eindtoestand. As ek dit dan op marmer moet uitkap:

Facilis descensus Averno. [Die afdraand hel toe is maklik.]

Homo homini lupus est. [Die mens is ‘n wolf vir sy medemens.]

Deficit omne quod nasciture [Alles wat gebore word, vergaan.]

Verskoon my goedkoop sinisme, maar, ek het seker rede:

  • gegewe die tydperk (waar alles toegemaak het, die volgende dag verdwyn het, verval het, gatkruipers tydens Apartheid wat ‘om den brode’ nou hul huik na die wind begin hang het),
  • maar ook die plattelandse heimat waarin ek grootgeword het (waar iets gebore word uit die ingewing van die oomblik; vir 3 maande tot maksimaal 3 jaar hou, voordat die dorpenaars daarmee verveeld raak en gou-gou striemend “gebonde” voel in die modernistiese tydperk van ein Leben immer in Bewegung)?

Dit is daardie natuur van agteruitgang en eendagsvlieë (Beëlsebub se onderdane) waarteen die mens permanent moet stry. Aanhou met aanhou.

Is ek teen ‘n Volkstaat? Hoegenaamd nie. As dit sou beteken Afrikaansonderrig sal nie langer so chaoties wees, om van bakboord na stuurboord rondgeneuk te word deur akademici en onderwysers en taalpraktisyns wat sedert 1924 nie van hul alie af weet nie – (soos ek geskryf het by my ander artikel, ‘Afrikaansonderrig sonder ‘n doel’,  ) – dan het u my volkome steun. Want weet u, ‘n mens raak nogal moeg om met elke nuwe uitgawe deur dié en daai “gesaghebbende instansie” verkul te word. Dis alles een moerse blufspul en doolhof. Jy gee later boedel oor. ‘n Mens kan sê wat jy wil – maar tweeduisend jaar se vasgelegde grammatikareëls van Latyn kan gelukkig nie meer aan gekarring word nie. Gaan dit by Afrikaans ook nog twee millennia duur?

Maar ‘n nuwe oop stuk grond, waarop soveel lugkastele al gebou is, die een mooier as die ander, beteken ongelukkig nie noodwendig dit is permanent smetvry en onkruidvry nie. In Desembermaande is daar vir my niks so lelik in die windverwaaide Overberg soos die borriegeel blommetjies van die skaapslaai (Hypochaeris radicata) wat op byna elke erf kniehoogte bol in die blom in die wind wuif nie. Dis die enigste Europese erfenis wat Nederland maar vir homself kon gehou het. Die woonerwe wat nie deurtrek is van hulle nie, val onmiddellik op: dit lyk sommer netjies. Elke oggend se moeite met die tuinvurkie beloon nogal ryklik. Maar moenie glo nie: val die eerste water – daar sit hy weer, die lang verborge ou onkruidsaad het weer ontkiem en begin kop uitsteek. En die Sisifusarbeid word hervat.

En dit is wat my pla: presies hóé raak mens van daardie menslike onkruid in jou midde ontslae as hulle eers wortelgeskiet het en jou volk van voor af begin vervuil? En die volk dit nie eens meer, soos met die skaapslaai, kan rááksien nie? As mens dit 50 jaar gelede, tydens die hoogbloei van Apartheid, nie eens kon regkry om die kommunisme en kultuurmarxisme op eie bodem uit te roei nie? ‘n Mens is nie ‘n perdeblom wat jy maklik wortel en tak kan uitruk en in ‘n swartsak kan prop nie. Doen jy iets daaraan: POLISIESTAAT! GESTAPO! Das ist der Anfang vom Ende! Verdraagsaamheid, mense! Verdraagsaamheid, asseblief… (Maak hartjiesimbool met albei hande en deel op Instagram).

Ek herinner my goed wat in Switserland gebeur het in Omsingel die laer van die heiliges (1973). Die aanval kom dikwels nie van buite nie. Nee, dit gaan mos maar altyd so. Die benerige hand van morele verval moet mos eers uit die kis in die kelderverdieping klim en die houttrap bestyg – voordat die verdwaasde Afrikaanse skrywers doodbenoud onder die dekades se stof en spinnerakke op die skimmelrusbank wakkerskrik. Die sketterende televisie is nou die ene sneeuvlokkies. Saam met die simfonie van swiepende vlermuise wat alomheen ‘n crescendo bereik: maar die doodsklok het ongelukkig lankal reeds geghong. Hoor hulle ‘n gekrap aan die deur? Dis die einde… Die laaste skadu’s het gewyk: dit is nag!

Gaan ons dan maar opeens weer die Reset-knoppie moet druk?

Dit sou seker natuurlik alles vermy kon gewees het, soos te sien in Ludi die vampier [die simbool van beskawingsverval] in Die Werwölfe: Roman (2009), wat permanent op sy hoede moet bly vir die Kerk in die 19de eeu, wat ‘n hele argief oor hom en sy soort het (S. 190):

Ludovico sprang zurück in die schützenden Schatten, hüllte sich in sie. Seine Feinde wussten um seine Natur, ihre Archive waren alt, und sie hatten ihn und seinesgleichen lange studiert und dabei ihre eigenen Methoden der Jagd entwickelt.

Maar dan weer: heksejagte het geen wolkekrabbers gebou nie. Geen aks se ontwikkeling self tot stand gebring nie. Want om te verweer is nie skepping nie. Betonteëls wat oop in die vrye natuur lê word gou oortrek met dooie mos. Weer: verweer is nie skepping en vernuwing nie. Staande water word vol alge en ‘n teelaarde vir lastige muskiete in die hoogsomer.

Maar skepping en vernuwing bied wel verweer teen verweer!  Wéérstand.

[*Met verwysing na Beethoven se laaste “onmenslike jare”]: Daarvoor moet enkele lewes onder ons ook groot gelewe word, met die moed om ‘n uiterste eerlikheid teenoor die eise van hul eie ontwikkeling te handhaaf en met ‘n innerlike eensaamheid wat hulle self gekies het omdat hulle vry moet bly binne ‘n gemeenskap wat klein-burgerlik is soos dié van ‘n dorpie.

[…]

Maar daar is ook die enkele lewes wat getrou na hul eie innerlike wet geleef word (Beethoven, Milton), waar die mens sterk genoeg is om sy uitverkore pad soos ‘n gewapende man deur die menigte te loop. (“Die idee van Groot Kuns, woorde vir enkeles”, Lojale verset, p. 100 &105)

Daar is ook die ou alchemistiese spreekwoord wat lui:

Quod natura relinquit imperfectum, Ars perfecit. [Wat die natuur onvolmaak agterlaat, vervolmaak die kuns; wat die natuur onvoltooid laat, voleindig die kuns; waaraan die natuur tekortskiet, vervolmaak die kuns.]

So, wat sal dit wees: Blut und Boden, ‘n plekkie onder die son, of Per aspera ad astra?

Ek dink ek kies (met omsigtigheid) laasgenoemde: die sterre is ver en hoog genoeg. Want ek is doodseker daarvan ons voorgangers het ook nie op hulle laat wag tot onafhanklikheid eendag aangebreek het, voordat hulle begin skryf het nie. Die natuur, die toestande, die politiek was miskien nie ryp nie, maar hulle vermoëns was ryp. Tot tyd en wyl ons , spreekwoordelik, vindingryk die parkie se swaaie, fietse, rolskaatse en klimrame afbreek om daarmee ‘n trap-helikopter te bou – soos ek nog ‘n ontbytpap-advertensie uit die 90’s goed kan onthou – kan ons seker darem al begin waag met die vingeroefeninge, of penneproewe? Die eerste raket afvuur as proeflopie? ‘n Noodfakkel vir ander om oor verwonderd te staan?

Dus, om my Grieks in Afrikaans oor te sit: Dis maklik om met groot ophef beloftes te maak wat nie gehou kan word nie. ‘n Akker grond gaan nie noodwendig die letterkunde beïnvloed nie, nie as jou gesindheid nie nou al aan geskaaf word nie. “Eendag” gaan miskien nooit aanbreek nie, of dalk moet jou gesindheid eers verander voor die “eendag” kom. Goed begonne is half gewonne in ‘n nuwe staat, maar dit gaan beslis nie so bly nie – paraatheid is daarom van uiterste belang. Maar ons kan nie “dan eers” wag om iets aan die saak te wil doen nie. Dieselfde slenters wat in Suid-Afrika sedert Apartheid of vroeër daar was, sal hom weer herhaal. Die geskiedenis moet nou al ingedril word, die kunste nou al herontdek word. Want die lesers van PRAAG sal nie uit hul grafte die toekomstige geslagte kan waarsku nie. Ons kan nie “dan eers” wag om te begin skryf nie. Ons kan ook nie die toekomstige geslagte van slapgatgeit beskuldig waartoe ons self bygedra het nie.

Verder: verdediging is nie dieselfde as skepping en vernuwing nie (want daar is geen groei nie, dis ‘n reaksionêre keer, keer, keer, walgooi, vlammedoodslaan), maar skepping kan wel verdedigend inwerk (en dis boonop AKTIEF, dit vat voor, kyk net hoe háát die wêreld gentrifikasie en stadsvernuwing: Berlyn is vol nydige graffiti, New York ook; want dié haters wéét hulle is aan die verloorkant. Spuitverf en sjablone is hul enigste oorblywende wapen.). Ons moet nou al iets aan die saak doen.  Ons werk met ons voorpote, ons staan nie op ons agterpote nie.

Of, sal ons ten minste aanwysings los vir die volgende geslag? Hier volg een.

Ex nihilo nihil fit: philosophia non in verbis, sed in rebus est

Van niks kom niks: die wysbegeerte berus nie op woorde nie, maar dade.

Volgens Rob Antonissen in Spitsberaad (1966: 3-4) onderskei Van Wyk Louw vier moontlikhede in sy Vernuwing in die prosa, Grepe uit ons Afrikaanse ervaring:

“deur die aanpak van nuwe temas, deur die opkoms van ‘n nuwe woordgebruik; deur nuwe maniere van bou; d.w.s. ‘n nuwe volgorde in die aanbied van feite; deur die koms van ‘n nuwe wêreldbeskouing van waaruit die werk geskrywe word” (73).

Laasgenoemde was nog altyd die probleem.

Die skrywers, die huidige literatore, die huidige establishment, en selfs die vloekende CinemaSins, is ook gewoond om na die volgende formule te kyk (drama/prosa). Wees gewaarsku, ek gaan plek-plek oordryf.

Die lesers kan hul stories solank lees en begin afmerk:

  1. Is daar voldoende karakterisering? D.w.s. is daar bv. ‘n INTJ wat ‘n ENFP uittrap, of, word daar liewers wegbeweeg van die gemaklike, byna stereotipe sestien Myers-Briggs-tipes na ‘n veelkantiger persoon? Kom die karakters tot nuwe insigte? Het elke karakter werklik nut, kom elkeen tot sy eie reg, of is hulle oorbodig, net daar vir die versiering, as voetbankie, pro dramatis forma? Die groot vraag: “waarom moet ons omgee vir jou karakters?” Het jou karakters ten minste ‘n gemiddelde IK van 100, en lyk dit darem so? (Nee, werklik!)
  2. Is daar ontwikkeling in die verhaal?
  3. Is daar werklik sprake van ‘n storie?
  4. Volg die verhaalgebeure mekaar logies of waarskynlik op?
  5. Is die gebeure Suid-Afrikaans? (bonuspunt)
  6. Is dit moontlik gebou op ‘n egte Suid-Afrikaanse gebeurtenis as verwysingspunt? (bonuspunt)
  7. Word daar in medias res begin, of in ultimas res, post rem, of ab ovo? ( https://nl.wikipedia.org/wiki/Narratologie ). Gewoonlik verkies mense deesdae om “in die middel van sake te begin”.
  8. Word sekere aspekte in die verhaal herhaal, en is dit nodig? Versterk dit iets?
  9. Is die taalgebruik en dialoog “natuurlik” en getrou aan die karakters [dit wil sê, is elke tweede woord Engels, 7de Laan-styl? Is dit 3 tot 8 woorde per spreekbeurt? Persoonlik hoop ek met dankbaarheid die Roodts skryf ‘n boek in Afrifrans: wat die resultaat sou wees indien die Franse tog die Kaap verower het. Blye dag. ‘n Mens kan actually net just as much Engels handle in ‘n novel, you know. ]
  10. Word daar met die “fisiese” en “tipografiese” bou of aanbiedingsvorm gespeel? [In die drama kan jy “onsigbare” skeidings tussen jou en die gehoor oprig, afbreek, ens. – dramakonvensies soos ‘n spel binne ‘n spel, iemand wat namens die gehoor aan die karakters op die verhoog vrae vra, ‘n verhaal wat weer aansluit by die begin, of soos ‘n spiraal uitkring, ens. ens. ]
  11. Word die aanbieding manipuleer [vooruitskouings, terugskouing; ag, waar is Gérard Genette tog nou…]
  12. Is daar miskien ‘n gemarginaliseerde wat êrens onder ‘n klip soos ‘n krap met oogsteeltjies uitloer? (bonuspunt)
  13. Word ‘n harmonieuse multikulturele samelewing uitgebeeld? (bonuspunt).
  14. Word daar sou nou en dan bietjie “maatskaplike verantwoordelikheid” of “sosiale kwessies” aangeroer? Net bolangs… net om te wys jy gee om? Net om die puntekaart vol te maak? Kan jy sake “oop”-skryf? Eerder, oopvlek? Vir die sensasie, my skat. Om te skok – go tiger!
  15. Is daar ten minste 25 verskillende verhaalintriges in een storie? Dit wil sê, nie een verhaaltjie wat ‘n uur lank aanhou voor die puntjie by die paaltjie kom nie, maar verskillende storiebewegings in een storie? Die gemiddelde sepie is 4 tot 5 verhaalintriges per aand. Interessant met hoe min die verstand tevrede kan wees – gegewe hoeveel vriende, kontakte, kassiere, banktellers, petroljoggies, bedelaars, ens. ons daagliks mee te doen kry!
  16. Verander die toneel/stel (‘set’) op byna elke blad? [Ons moet die storie darem aan die beweeg hou]. Soos ‘n kamera wat aanhou rol, en rol, en rol…
  17. Is daar die naelbytoomblik of swanger stilte voor die volgende hoofstuk/toneel?
  18. Is daar iets wat die verhaal vorentoe stu? Dalk die soeke na waarheid? Konflik? Veg of vlug? Dalk ‘n skim wat in die agtergrond die toutjies trek?
  19. Is daar nie dalk méér dooie hout wat weggesnoei kan word nie? [sentimentaliteit, deelwoorde, boekwoorde, adolessente woorde, retoriek (soos wanneer mense oor ‘n buitjie reën stry wat niks met die verhaal se intrige te doen het nie), onbesuisde beeldspraak, sier- en modeadjektiewe]
  20. Kan daar beter, direkter en presieser segging gebruik word?
  21. Watter foute word gemaak? Anachronismes? Foutiewe tegniese inligting? Die gang en dialoog van die verhaal wat bots met ander tonele? Weersprekings? Teenstrydighede? Karakters wat te veel uitleg gee? Karakters wat te skielik verander, onverklaarbaar vreemd, buite hul aard optree? Is daar ‘n gewillige roepvee wat koppies knik op alles wat die hoofkarakter sê – indien wel, slag hulle. Genadeloos. Kan die leser, kyker, luisteraar te duidelik sien die skrywer is besig om ‘n kitsoplossing te bedink om homself nie “vas te skryf” teen ‘n onoorkomelike probleem wat hyself geskep het nie?
  22. Maar as jy oor iets bekends wil skryf, haal die onbekende daaruit. Kyk met ‘n nuwe perspektief, of belig ‘n feit veel sterker wat nog heeltyd oor die hoof gesien is. Antonissen wys na Brink se Caesar (1963): Brink het eintlik niks nuuts ter tafel gebring of belig nie, en as hy het, het hy dit nie na behore ontgin nie.
  23. Is jou teks ingesteld op toeganklikheid (deur die kind verbeeldingloos op sy naam te noem), of ontoeganklikheid (simbolisme, surrealisme) – of beide?
  24. Moenie jou werk vir die leser interpreteer of omskryf nie, wees subtiel. [Nou dit is deksels moeilik! As jy sou skryf, sit jy met ‘n oningeligte publiek. En dikwels weet jy nie wanneer om eksplisiet te wees, en wanneer nie. En of die leser ‘n verband sal insien qua gebeurtenis X op bladsy 30 wat aansluit by bls. 57, 80 en 121 nie. Gewoonlik sou ek voorstel dat ‘n paar intellektuele karakters dan ‘n gesprek voer oor ‘n saak, mits dit pas binne die verhaal self. Of, gooi ‘n kodewoord in wat Pawlof se ou honde sal laat kwyl. As jy dit nie doen nie, weet die publiek en proffies nie waarna om te kyk nie. Andersins: skryf ‘n handboekie en verkoop teen 50c ekstra. Aan die ander kant: as die Amerikaanse televisiereekse ‘n hele mediese woordeboek na die kyker se kant toe spoeg soos waatlemoenpitte, kla nie eens die bure se honde daaroor nie. Gaan dus jou gang. Afrikaans is bestem vir hoër dinge.]
  25. Ten laaste is daar ook iets soos stylgetrouheid. Maar dit is ‘n uitvoerige onderwerp vir later.

Al bogenoemde reëls is gemaak om gebreek, te negeer, te regeer, en mee geëksperimenteer te word.

Eksperimentering is noodsaaklik binne al die kuns, selfs selfoonontwerpe: dit is wat Nokia die gewildste selfoonreeks gemaak het in die vroeë 2000’s. Dit is ‘n sonde om daardie deel van die geskiedenis te vergeet. Ek dank Nokia vir die klassieke en afgewerkte 6600, 6670, die 7200, die 7210, die 7260, 7270, 7600, die 7610, die 7700 en 7710, die 3108, die 3128, N-Gage, selfs daardie grillerige 3660, die strandstoelfoon 2650, en natuurlik die onvergéétlike versamelaarsitem, die gesogte 8110 (Matrix-foon) en sommer die hele 8-reeks. Die N-reeks was na my sin te styf, te formeel, te grys, te saaklik. Selfs al gebruik ek tans ‘n nederige Asha 210, en al het ek as tiener ‘n 5210 gehad, was die opwinding daar wanneer jy Nokia se katalogus in die jaar 2003 tot 2006 deurgeblaai het. Sedert die monolitiese iPhone eers opgedaag het, is daar net geen nuwe styl meer nie en die meeste slimfone LYK ALMAL PRESIES DIESELFDE! Wáár ís óns índívídúálítéít héén?  Wat word van hierdie wêreld?!

Dieselfde eentonigheid ondervind ek in die Afrikaanse letterkunde ook.

Maar, vorm kort ook inhoud, so hier is die laaste vereiste:

  1. is daar die geheime Faktor X? Die geheimsinnigheid, die mistiek, wat mense lok?

Wat is die geheime Faktor X?

Juis waaraan byna elke liewe Afrikaanse storie tot sover ontbreek, mev. Potgieter en liewe lesers. Tot my spyt. En geen oorlog, geen nuwe land, geen beloofde land, geen vrede, geen massakultuur kan vir hierdie onkunde as rede voorgehou word nie. Selfs die literatore wat die skrywersbaadjie aantrek wys hul gebrek hiermee. CinemaSins weet nie eens wat dit is nie.

Die werklike onderbou: DIE FILOSOFIE(Ë).  Die ‘wêreldbeskouing’ volgens N.P. van Wyk Louw.

Dit is die gebrek daaraan waarom die meeste Afrikaanse boeke op gelyke voet is met Paw Patrol. Tog te ougat, en ek sien klaar met trane in my oë uit na Mighty Pups op DVD, maar ons soek méér om te vergoed vir die diepte wat ons misloop. Kom die volgende episode, voel ons maar weer so: tevrede, maar ook nie heeltemal nie. (Interessant hoe die sielkunde met vermaak en die kuns werk. Dit berus op dieselfde beginsel as die blinde vertroue dat dieselfde tandarts wat herhaaldelik jou tande opneuk, dit weer sal regmaak. Jy gaan maar elke keer terug. En betaal maar weer).

Dr. Dan Roodt skryf in sy huldeblyk opgedra aan Chris Barnard (29 Desember 2015):

Hoewel ek baie lief vir Afrikaans is, het ek helaas nie ‘n besondere hoë dunk van Afrikaanse skrywers nie. Daar is of was ‘n paar goeies, waaronder Chris Barnard. Meermale is die Afrikaanse skrywer egter goed, malgré lui, of ten spyte van homself soos die Franse sê. Chris Barnard was so ‘n skrywer. Soos genoem, het hy ‘n tydjie saam met sy eerste vrou  in Parys deurgebring en had ‘n skoot weg van die eksistensialisme. Maar anders as sy Franse tydgenote, was hy geen groot intellektueel wat oor sy werk kon teoretiseer of filosofeer nie. Wat sy romans soos Mahala, Boendoe en die kortverhaalbundel Duiwel-in-die-bos interessant maak, is juis dat hy intuïtief en nie werklik intellektueel of ideologies te werk gaan nie. [Vetdruk my beklemtoning]

En daarmee het Roodt uiteindelik die hele flater van die Afrikaanse kuns en kunskritici (van literatore tot rolprentresensente) opnuut uitgelig.

Dink gou aan The Matrix (1999), wat maar as één klassieke Amerikaanse film beskou word.

Sonder daardie milleniumangs, sonder daardie Gnostisisme, sonder daardie New Age Zen-Boeddhis-Christelike (Oos-Wes) sinkretisme, sonder die Griekse mitologie, sonder Plato se grotbewoners in Die staat (Politeia), sonder Kierkegaard en Descartes, sonder Taoïsme, sonder daardie afwagting van die Maitreya wat teen die Millenniumwending in die Tyd van die Waterdraer sou kom, sonder die afsku en wantroue van die 1990’s in die Amerikaanse staat/regering (wat reeds met die grootste leedvermaak opgeblaas word in Independence Day (1996)), sonder die film noir, sonder die-sterfling-wat-‘n-god-word (gelukkig geen antiheld hier nie! J’en ai vraiment marre.), sonder Simulacres et Simulation van Jean Baudrillard, sonder Carl Jung, sonder die eksistensialisme (en die buitestaander), sonder die esoterika oorgetrek met ‘n Postindustrial cyberpunkbaadjie, sonder die smeulende Schwarze Szene-subkultuur, sonder die gatskop Kung Fu-films van die 1980’s,  sou ons nie daardie fliek gehad het nie. O, en sonder Ghost in the shell (攻殻機動隊) sommer hoegenaamd glad nie. Daar is seker maklik nog tien, twintig, vyftig ander filosofieë en intertekstuele verwysings daarin vervat. Alles is egter mooi verbloem.[Dit is die verbloeming en subtiliteit van die filosofie wat ongelukkig by Moltrein (2004), so lief soos ek daardie boek het, dikwels ontbreek.]

En tog, sonder die skop-skiet-en-HARD-donder, klassiek-rock-club-electrotrans-fusionmusiek, die oe-en-a! van “bullet time”, en die strokiesprentstylhelde (en -klere!) sou die koek-met-vyftig-lae nie verkoop nie. Maar sonder die filosofieë kan die The Matrix ook nie bestaan nie.

Ons kry dus ‘n ewewig tussen die lae en die hogere: iets om die lae drange te bevredig (“ja, vat so, en so, en so!”), iets vir die ingeligtes en gesofistikeerdes.

Maar waar kry mens hierdie speelklei? Hierdie filosofie? Behalwe miskien in ou kantaantekeninge in Boeredagboeke en Familiebybels? En miskien die klein lysie outeurs by ‘Leon Lemmer oor die Afrikaanse wysbegeerte‘ …

Setzen sie die Energie frei!

Wat dink u, mev. Potgieter, as die hele Europa (ook die Bibliotheca Apostolica Vaticana, Российская государственная библиотека, storia della fantascienza italiana, science-fiction et fantastique au Québec , ens.) se skatkamerdeure eendag vir ons, die Afrikaner/Boere, oopswaai?

Daardie ééndag is vandag, kyk maar gerus by archive.org en elders, maar dis die verstand hierbo waar die draadjie nog bietjie tzz-tzz. As Westerse (bloed)erfgename is ons almal op daardie skathuise geregtig, durf ek sê. Dis ‘n skánde dat ons die rug op ons erfenis gedraai het.

Al wat tussen ons en daardie skathuis vol inligting staan – is die sleutel en die wil.

U, mev. Potgieter, het reeds ‘n handvol glinsterende goue sleutels wat klingel, waarvoor menige komplotte sal smee, staatspresidente sal vermoor, volke sal uitwis, walvisse oor die kole sal braai met kruienaeltjies, en soos rasende, losgebreekte diere roomyswaentjies op hul kop sal keer: die Franse, Duitse, Engelse, Afrikaanse en Nederlandse taal.

Kan ‘n hutspot wat brou met volksvreemde filosofie en kunsstroming alleen die Afrikaanse letterkunde red?

Nee, maar dit het dalk dieselfde vernuwende doelwitte as die Volkstaat-idee.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.