Elma Potgieter: Ja, opstand is noodsaaklik

Deel op

‘n Kort brief na aanleiding van Suidpunt se artikel op die Praag-blad oor NP van Wyk Louw se Lojale Verset: “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Dit is natuurlik absoluut waar.

Die punt is egter, Suidpunt, sonder selfbeskikking, al is dit sonder landsgrense, maar met absolute soewereine beheer oor “eie sake” het ons eintlik nie ‘n hoop op “opstand in eie geledere” nie. Ons is te besig met oorlewing binne ‘n vyandige staat.

Ek het die volgende op 10 Julie vanjaar aan dr. Pieter Groenewald gerig na aanleiding van sy deelname aan Praatsaam (RSG) oor etnisiteit in die politiek. Hy was ‘n stem van verstand en redelikheid te midde van ‘n gerondvallery om politiek korrek te bly.

Ons is as volk in so ‘n stryd gewikkel om te probeer oorleef dat die skep van Groot Kuns tans heelwaarskynlik grootliks agterweë bly.

Soos NP van Wyk-Louw dit al in November 1938 in verskeie essays* bespreek het:

Hy beweer dat Groot Kuns uit die intellektuele aristokrasie van die volk tot stand kom terwyl hy terselfdertyd maan dat dié aristokratiese denkwyse nie verwar moet word met verwaandheid nie. Ek haal hom aan:

“Die aristokratiese lewenshouding is altyd iets weerbaars en soldaatagtigs – dit is nooit ‘n jag op vooruitkom nie… In die kuns en die wetenskap is die hele hoër geestelike lewe, die aristokratiese lewenshouding, dié wat hom die strengste tug oplê, wat alleen die wette van die skoonheid en die waarheid eerbiedig… Die massa is met baie minder as die volmaaktheid tevrede, desondanks staan die aristokratisme nooit vreemd teenoor die volk nie. Daar is geen verwaandheid nie… ‘n Volk kan nie ‘n groot hoop mense wees wat leef, verdien, paar en doodgaan nie. So iets bloot-biologies – ‘n bredie mensvleis, ‘n biosfeer om die aarde – sou iets ontsettends en aanstootliks wees, iets soos ‘n pak slange wat agter glas deurmekaar gekrul lê… Die mens word enkeld, helder, mooi en waardevol alleen in soverre as hy aan die geestelike lewe deelneem, en ‘n groep word volk en waardevol, kry die reg om te bestaan, alleen in soverre as hy geestelike lewe voortbring… Ons mag nie en ons hoef nie te vrees dat ons as volk te klein in getalle is om groot kuns voort te bring nie; toe Athene sy beste werk geskep het, was hy so groot soos een van ons Afrikaanse dorpe, maar hy het geestelik vry soos ‘n jong man gestaan teenoor die miljoene-ryke van Egipte en Persië waar die enkeling in die massa soos in welsand versink het.”

Daar is geen groter argument ten gunste van etniese selfbeskikking as bogaande nie.

Ons móét ‘n groot mate van selfbeskikking bewerkstellig om moedertaalonderwys as een voorbeeld te kan waarborg.

Ek wil hier iets byvoeg. ‘n Mens kan onder huidige deurmekaar toestande heelwaarskynlik dan ook nie profetiese kunsprodukte verwag nie – iets wat die grootse NP van Wyk-Louw met Raka, ‘n DJ Opperman met “Edms Bpk” en ‘n Uys Krige met “Die Soldaat” wel aan ons nagelaat het.

– Elma Potgieter

* Die essays is vervat in ‘n bundel opgestel deur wyle dr. Elize Botha.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.