Suidpunt: ‘Lojale verset’ in ‘n neutedop. Deel I.

Deel op
Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.

Hierdie woorde begroet die leser in Lojale verset. Ek vind dit vreemd dat PRAAG nog nie ‘n uitvoerige mening oor hierdie boek van N.P. van Wyk Louw gegee het nie. Moontlik omdat ons nie hoef nie: die geesstraal immers uit al ons artikels. Aangesien hierdie boek nog geen resensiegekry het op Goodreads.com nie, en nog minder in die Wes-Kaapse openbarebiblioteke uitgeneem word, het ek dit goedgedink om hierdie boek van 1939 tegaan afstof. Ek gaan elke hoofstuk (lees: opstel, brief) enetjie vir enetjie behandel.En so uitvoerig moontlik, juis omdat ek weet hierdie boek is sedert 1975 nieweer herdruk nie. Ek gaan hierdie werk in twee helftes behandel, waarvan diestuk wat jy nou lees, Deel 1 is. Ons spring weg met die eerste hoofstuk. Diebladsynommers strook met die herdruk van 1975.

SUID-AFRIKA AS OU LAND (Desember 1938)

N.P. van Wyk Louw glo glad nie in die tipiese “opgaan, blinken, en verzinken” van kulture en samelewings soos Oswald Spengler glo nie. So iets is te oorvereenvoudigend.

Af en toe kan daar ‘n volk of ‘n kultuur wees wat ,,opkom, bloei en vergaan”; maar ‘n volk kan ook baie jeugde hê, en lande soos Italië of Ierland, van die oudste beskawings van Europa, kan bloedjonk wees, wanneer Suid-Afrika, met sy driehonderdjarige geskiedenis as blanke staat, ‘n middeljarige geesteslewe toon. Alles is by ons gevestig, en oral sien ons ou, gevestigde manne aan die hoof. ‘n Mens kan maar na elke gebied van die volkslewe kyk – oral is dit dieselfde. Dertig jaar gelede wat ons ‘n nasie van jongmense. Op elke draai was daar jongmense wat gelei het, in die politiek: die jong kwaai nasionaliste, die jong generaals van die oorlog; in die taalstryd: die jonger kwaaieres. (p. 2)

Die skrywer glo hierdie revolusionêr opstand het onder die jeug juis ‘n heersersreg getoon – en al het hulle die oorlog verloor, was hulle nog lank nie uitgewoed nie – hulle sal hul regte stormenderhand verower. En die tweede opstand volg skaars 14 jaar later. En skaars 8 jaar later nog ‘n keer.

Maar dit het met ons gegaan soos met alle revolusies – die bereik van die onmiddellike doel (wat altyd te naby gestel word) het die konserwatisme meegebring. (p. 2)

Die jonges van gister sit in Louw se tyd nou aan die hoof. En uit hierdie revolusioniste is te gou ‘n kanon geskep deur kultuurorganiseerders en op ‘n voetstuk (die “klassieke”) geplaas. (p. 3)

Dit is moeilik vir die jonger geslag om by ons aan die woord te kom. Miskien is dit oral moeilik, en dit sal vir hom sleg wees as hy sommer dadelik die profetemantel omgehang kry. Maar baie dikwels word sy mooiste woorde eenvoudig doodgeskreeu dat een van die gevestigdes kan praat. (p. 4) […] Ek het hier die letterkunde as voorbeeld genoem, omdat dit die naaste aan my staan; maar op elke gebied gaan dit so: ons kultuurwêreld is soos ‘n staatskantoor op die beginsel van langer dienstyd opgebou… en juis die kultuur erken geen voorrang buiten die bekwaamheid nie. (p. 4)  […] Die jeug moet by ons op alle gebiede aan die woord kom, nie omdat hy die wysheid sou besit nie (die wêreld kry dit nogal reg om sonder die wysheid te beweeg), maar om die lewe vir homself te kry. Dit is geen jeugverheerliking nie, geen Messias-verwagting uit die jeug soos die kommunistiese heilsverwagting uit die proletariaat en die Nazi se heilsverwagtinge uit die boerestand nie. Dit is geen singery van enige Giovinezza-lied nie. Ek weet maar alte goed dat ‘n groot deel van ons Afrikaanse jeug onder die heersende invloede oud gebore is, dat hy sonder ‘n enkele fanatisme of oordrywing leef, en direk van die kindsheid na die middeljarigheid oorgaan. Maar ‘n sterker lewe is nog by hom moontlik en nie by die oueres nie. (p. 4) […] Die pad moet nie vir die jeug gelyk gemaak word nie, maar hy moet ten minste die geleentheid kry om te kan “veg”. Sy stryd uit te veg, en nie dié van ‘n vorige geslag nie. […] Die jeug moet die kans kry om meer lewe onder ons te bring – die jeug met al sy verwarring, sy soek en sy onsekerheid. Hy kan dit doen, want sy lewensvorm is dié van die lewe self. (p. 5)

Hier is my siening:

1. Die meeste Afrikaanse skrywers begin daadwerklik eers op 40 skryf. Dalk omdat die skoene nou goed ingetrap is, genoeg belasting betaal is, genoeg lewenservaring opgedoen is, of omrede mens nou gatvol raak vir dieselfde deuntjie van die ou ingesete ooms (die muise met die megafone op die TV) wat glo hulle het, op hul gevorderde ouderdom, al die wysheid en pag. Dan sal hierdie “jeug” (soos diegene uit die Grensoorlog) effens uit irritasie die waarheid op papier begin neerskryf. Jy kan seker soos Lauren Southern op 21-jarige leeftyd met borrelende selfvertroue [“Barbarians: How Baby Boomers, immigration, and Islam screwed my generation“] ook begin skryf, maar weer: is daardie werk van 90 bladsye regtig goed genoeg afgerond?

Anders is daar miskien net ‘n genre wat ontbreek in Afrikaans en jy besef bloot: indien ek nie hieraan iets gaan doen nie, gaan niemand nie. Party begin al vroeër, en sommige skrywers, soos Jaco Jacobs, skryf sy eerste boek (Pretpark) reeds aan die einde van matriek (1998?), maar is veel later (2003) uitgegee. Sy eerste gepubliseerde boek, Troetelgedrog, verskyn in 2001, op 21-jarige ouderdom.[http://web.archive.org/web/20140724000538/oulitnet.co.za/youngwriters/jaco_jacobs_a.asp Hyself sê êrens in 2004]:

Vergeet geriefshalwe van teorieë oor die aard en funksie van letterkunde. Die feit is, die Afrikaanse letterkunde sien op die oomblik goed middeljarig, selfs bejaard, daar uit. Ek is nie besig met ‘n geringskatting van ons ouer skrywers nie, maar daar is besig om ‘n groeiende gat in ons letterkunde te ontstaan, ‘n black hole waar ‘n hele generasie nie saampraat in die gesprek wat die letterkunde veronderstel is om te wees nie. […] Uitgewers van Afrikaanse boeke moet dringend aandag gee daaraan om jong Afrikaanse stemme, oor die wye kulturele spektrum van Afrikaanssprekendes heen, aan te moedig om van hulle te laat hoor. Ja, dit gaan geld kos. Dit gaan moeite en beplanning verg om jong stemme se aandag te trek en uiteindelik publiseerbare manuskripte uit hulle te kry. Dit gaan bemarking verg om hierdie boeke by die regte mark uit te bring. Dit sal beteken dat die Afrikaanse boek meer bewus moet word van sy omgewing, van die wêreldletterkunde en van ander mediavorme soos die internet, rockmusiek en tydskrifte. En nee, dis sekerlik nie so eenvoudig soos dit klink nie.

Andersins is daar die kitsloon (kompetisies, kitsroem) wat deur die uitgewers as wortel voor die neus van die voornemende skrywers gehouword.  Want verlede jaar (27 November2017) skryf RSG oor sy [https://www.rsgplus.org/kuns/drama/twee-eerstepryse-rsg-sanlam-dramakompetisie/Sanlam Radiodramakompetisie]:

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, is dit die toename in jonger skrywers verblydend. “Dat ‘n derde van die top15-finaliste vir die Jong Skrywer-prys gekwalifiseer het, dui daarop dat al hoe meer jonger skrywers inskryf. Dit is die meeste aantal Jong Skrywers-inskrywings wat ons tot nog toe ontvang het.”

Die “jong skrywers” verwys hier na enigiemand van tussen 16 tot 30 jaar. Van ‘n werklike “beweging” en “vernuwing” onder die Afrikaanse jeugskrywers as geheel, is daar, wat my betref, allermins sprake.

2. Die jeug kan waarskynlik nuwe lewe inblaas, maar weer – wie is die lesers? Wie is die kritici? Persoonlik het ek twee jeugromans al teëgekom wat sterk Jungiaanse ontwikkeling by die intrige betrek – Groete van die Hiëna en Die hart van Zeebak (albei nou wel deur “ouer” skrywers, maar laat ek my sin voltooi): albei is boeke waar die hoofkarakters in hul eie onbewuste beland en met karakters te doen kry wat letterlik argetipes is. Nie literêre trope nie, argetipes. Jungiaanse argetipes. Die karakter verkry uiteindelik individuasie omdat hy deur hierdie argetipes in sy onbewuste rondgejaag word na “die volgende vlak van bewussyn”. En dan wakker word. Maar nêrens word die woord “Carl”, “Gustav” of “Jung” in hierdie tekste eksplisiet genoem of teëgekom nie (daarvoor is die boeke gans subtiel geskryf), en juis daarom weet die resensente nie wat om daarmee te maak, of hoe om die boek te benader en waardeer nie. Op die ou einde kry die werk net ‘n swak resensie. In die land van die eenoog.

Het die jong studente wat die boeke resenseer het enigiets verstaan? Nee. Het die professore dit begryp? Nog minder. Nou met alle respek, moet hierdie tipe boeke elke keer vergesel word met ‘n handleiding? Want klaarblyklik is nóg die publiek, nóg die akademici, nóg die kritici daarvoor opgewasse?

3. Juis weens hierdie onvermoë vermeld by punt nommer 2, sou jou jeugdige eerder verkies om sy opstand in Engels uit te woed, nie weens (self)sensuur in die Afrikaanse leefruimte soseer nie, maar moontlik om meer internasionale lesers te betrek met meer pampoenpitte tussen die ore. Die deursnit  skrywer soek erkenning en begrip. As hy werklik vindingryk is, en ‘n renons in Engels as die taal van die establishment het, sal hy seker Frans of Duits oorweeg.

KULTUURLEIERS SONDER KULTUUR (Februarie 1939)

Ek is verheug om ‘n geesgenoot te vind – want duidelik sien N.P. van Wyk Louw ook ‘n gevaar in Afrikaanse kultuurorganisasies. [http://praag.co.za/?p=44075  Vir my is dit die geld wat vermors word op vakansieweelde ], terwyl ons nou nog sedert 1950 wag op ‘n TWEEDE, HERSIENE Afrikaans-Franswoordeboek. Vir Louw is dit iets soortgelyk: jy hoor dikwels net die ganse blaas in die brouery. Kultuurorganisasies het reeds in die 1930’s vorm sonder inhoud geword.

Vir hom is kultuurorganisasies eintlik onprakties in Suid-Afrika waar die inwoners so yl verspreid is – dit is nie Wes-Europa hierdie nie. Tog erken hy ook hierdie organisasies is noodsaaklik om kultuur te help versprei [sy opstel is natuurlik ‘n goeie 56 jaar voor die internet geskryf]. (p. 6)

Die eerste gevaar is stagnering – kultuurorganisasies het dikwels vooropgestelde idees [of ‘n puntekaart?] wat enige ontwikkeling verstar. Volgens Louw kan die Afrikaner nie wil stagneer bloot om byvoorbeeld ‘n “Voortrekker” van die gelyknamige beweging te word nie. Ons lewensuitkyk is nie meer dié van die Voortrekkers uit die 1800’s nie, en selfs die taalvraagstukke van 1925 sien reeds verouderd daaruit (uit sy perspektief in 1939). Nee, elke geslag het die voorreg EN PLIG om te kan skep soos enige voorafgaande geslag. As hierdie kloppende lewe van daardie vryheid deur enige organisasie of staat geknel word, sal die kultuur self sterwe, of hy sal na baie jare eers daardie bande verbreek [soos die Middeleeue eenmaal verbreek is] (p. 7- 8).

Jou tweede probleem is die “kultuurmens” [wat die kultuur weliswaar ontwikkel] vs. die “organisasiemens” [wat op al wat ‘n raad is wil dien vir die roem en die skyn op sy CV]. Die kultuurmens hou hom dikwels nie op met kultuurorganisasies nie, want hy sit met ‘n verantwoordelikheid op die blanko papier reg voor hom. En hy weet hoe sulke organisasies van binne lyk.

Die kultuurorganisasies spits hom weer toe op die hoi polloi: ‘n organisasiemens is dol op vergaderings, debatsaandjies, administrasie, reël, possies en baantjies, kaartjiesknip – maar hy/sy lees nie eens nie. Of, indien wel, nie indringend nie. Bid jou aan hierdie persoon word ‘n (KULTUUR)LEIER of voorsitter van ‘n kultuurorganisasie! (p. 9-10).

Ek gaan hard probeer om nie aan die ATKV te dink nie.

Louw glo ook:

By professore, onderwysers en ander manne van die vak moet u ook onthou dat hul vak – Afrikaanse literatuur, wysbegeerte of kuns – vir hulle ‘n werktuig is soos die boer se ploeg vir hom is; en om billik te wees, moet u by sulkes dan vra: “Het hy ander gebiede van die geesteslewe buitekant sy vak om (bv. ander literature) waarin hy belang stel, leef hy dieper of wyer as wat sy broodwinning vereis, of het die amp en die toeval hom ‘kultuurmens’ gemaak? ” Daar bestaan nie so ‘n ding as ‘n professionele “kultuurmens” nie. (p. 11)

En, mens kan ‘n goue draadjie deurtrek – KUNSTEFEESTE!

In die organisasie van die kultuur het die ‘organisasiemens’ ‘n voorsprong en kry hy eerder die leiding in die hande. En dit voer uiteindelik daarheen dat die kultuur glip uit die nette van wie hom van buite af wou vang; dat die verrigtings en feeste van daardie organiseerders niks met die kultuur of die skoonheid te doen het nie; en dat die “bestes” van die volk hulle daarvan begin afwend of die verrigtings bywoon nog alleen omdat hulle dit as plig beskou om die “saak” te ondersteun. Maar hierdie sekondêre soort ondersteuning, uit plig, nie uit behoefte nie, sal uitsterf by ‘n volgende geslag wat nie die Afrikaner se stryd om erkenning meegemaak het nie. […] Maar as ons die dag sover gekom het, sal ons die “kultuurmense”, ‘n volk se natuurlike aristokrasie, vir ons saak verloor, en dan sal geen hoeveelheid massapropaganda ons van ondergang red nie. (p. 12)

Wie dra die skuld? Die kultuurmens self, omdat hy nie by sulke klugte betrokke wil raak nie. Maar sy onbetrokkenheid is ook met rede: dit voel vir die kultuurmens dikwels asof hy moet redeneer met die grotbewoners in Die Staat deur Plato. Die grotbewoners het net die skadubeelde teen die muur gesien – die kultuurmens was buite in die sonlig – en om nou te kibbel en te twis met onkundiges is tydverspilling en nutteloos. Maar juis omdat hy die fakkeldraer is van die kultuur, moet hy tot die stryd en kryt toetree en nie van die organisasie onttrek nie. (p. 13)

Nee, dankie Oom Louw. Ek wil nie soos Dr. Dan Roodt by die Woordfees in 2005 as persona non grata geweier of weggejaag word nie. Mens wil nie, soos Loeloeraai gesê het, jou adel verwerp en verraai om jou diens aan wilde barbare te verkoop vir skulpies en klippies wat hulle om jou nek kon hang nie (Langenhoven, 1941-druk:50).

Daar is ander maniere. Ek kan eerlike resensies lewer op Goodreads.com (sodat mense leer hoe om krities en oplettend te lees!), ‘n Wikipedia-artikel uit Frans of Duits of Russies [wat ook al] in Afrikaans probeer vertaal, en bydra tot PRAAG.

DIE ARISTOKRATIESE IDEAAL (April 1938)

As daar een ding is wat ons kultuur vandag nodig het, dan is dit die wedergeboorte van die aristokratiese ideaal. Die kenmerk van ons tyd is die opkoms van die massa en massawaardes. Alles dreig om gepeupel te word. Die moderne nywerheid verskaf kos en geriewe in hoeveelhede wat geen vroeër eeu gehad het nie, en die mediese wetenskap hou aan die lewe wat maar enigsins nog kan asemhaal. Hierdeur het die negentiende eeu ‘n ongekende toename in die bevolking in alle lande gesien. Geboortebeperking by die intelligentste deel van die mense het hierdie bevolkingstoename hoofsaaklik ten gunste van die vrugbare massa minder intelligentes laat plaasvind. Stoflik en in getalsterkte het die massa dus ‘n voorsprong gekry soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Toe het die algemene skoolplig en die algemene stemreg van die negentiende eeu hom nog die geestelike en politieke wapens in die hand gegee. Hy word koning, keiser, nog meer as keiser: die stem van die massa word werklik die stem van God. Die stemme van die leiers: van die profeet, van die boetprediker, van die groot enkelinge, die kultuurskeppers, klink klein en verlate in daardie gedurige dreuning op. (p. 15)

Louw wys onder meer na die koerante en tydskrifte wat ‘n beroep op die massawaardes en -intelligensie doen. Die gemiddelde mens “sien” in hierdie blaaie SY leiers, SY kultuur, SY smaak, SY insig, SY begeertes. Die kultuur word massakultuur, en die meerderheid van die mensdom, selfs baie van die bestes, word, in ‘n nuwe sin van die woord, massamense. (p. 15)

Hoe lyk die massamens (p. 16)?

* die persoonlikheidsideaal is om “die lekker kêrel” te wees, die allemansvriend

* die egte demokraat

* die man wat nooit anders as die res is nie en juis orals wil inpas

* hy haat die grense wat tussen mens en mens staan (wat hy beskou as trots en afsydigheid)

* gewildheid is die enigste maatstaf – ‘n gedig/boek/liedjie wat almal geniet, is “mooi”.

* iemand met die ewige soeke na goedkeuring en aanprysing van almal

* iemand wat glo “die wil van die massa” moet seëvier

* iemand wat glo in die vooruitboer van die massa

* hy is met baie minder tevrede as die volmaaktheid

Dus, ‘n adolessent wat voor die groepsdruk geswig het? Iemand wat nooit sy tienerskoene ontgroei het nie? Geen wonder die Afrikaanse hoofstroommedia het so ‘n pueriele aanslag nie.

Die Egte Aristokrate lyk so (p. 16-17):

* vir hulle gaan dit nie om trots of bloot dwars te wees nie

* hulle het ‘n egte verantwoordelikheidsgevoel teenoor ‘n mens self

* hulle koppel nie hul selfwaarde aan wat mense van hulle dink nie

* hulle probeer die hoogste geestelike skatte veilig deur die massa dra

* daar is geen “Streben” soos by die massamens nie, want die Aristokraat is reeds sy tyd vooruit.

* hulle steur hulle nie aan kitssukses of die tydelike sukses onder die menigte nie, maar wel of die werke enige pit het aldan nie

* hulle het geen rus voordat volmaaktheid binne die grense van die taak self bereik is nie

* hulle is nie verwaand nie, want hul werk is (“binne”) volksgerig [uit liefde vir die volk], hoewel hul geestelike waardes “buite” die massa staan. Ek dink die skrywer het met “buite” eintlik “verhewe” bedoel.

* hulle is die sintese en die versoening van die gemeenskapslewe en individualisme.

Nou het Suidpunt ‘n vraag: Wat maak mens dan van die utilisme of die nutsbeginsel wat aanvoer “die grootste geluk/nut aan die meeste mense”? Hoe diensbaar is ‘n Aristokraat as hy aan die verwagtinge van die massa nie slegs voldoen nie, maar ook oorskry? As iemand ‘n webwerf sou begin waar skoolkinders in Afrikaans gehelp word, wat onderwerpe so deeglik en so wyd moontlik bespreek, maar tog in eenvoudige taal geskryf, wat tienvoudig beter sou wees as die Encyclopædia Britannica, is die persoon nou ‘n Massamens of ‘n Aristokraat? Want hy wil tog die vooruitgang van sy mense sien. En “sy mense” is meestal nog in “die menigte” vasgevang. Is hy nou veel beter as ‘n Louw wat hom hoofsaaklik by die lettere bepaal?

‘n Aristokraat sou egter ook kon terugkap: “Nee, ek is nie in ‘n ivoortoring vasgekeer nie, en nog minder kraai ek koning op my eie mishoop. Waarom moet Latyn byvoorbeeld geskrap word as die menigte dit nie wil neem nie? Besef mense nie hoeveel eeue se kennis, wysheid en skatte is in daardie taal opgeneem nie? Nee, ek skryf vir die 0,001%, en basta. Latyn sal weliswaar nooit gesonke kultuurgoed word nie, maar die hoop beskaam nie. Eendag sal iemand terugkeer.”

Maar my liewe magtig, oom Louw, het oom nog nooit van geld gehoor nie? Het oom nie geweet tydskrifte en skrywers kan hul siele vir geld “soos sakkies suiker” verkoop en van daar die nivellering nie? Klaarblyklik het u tog, want…

GELYKMAAK EN RANGORDENING (Januarie 1939)

Die 19de eeu in Wes-Europa en die Wes-Europese kultuurkring was die eeu van gelykmaak. Dit het begin met die leuse van die Franse Revolusie: vryheid, gelykheid en broederskap. Die vryheid, só het gou geblyk, was vryheid vir die grootkapitalis om sy eie werksaamheid grensloos te ontplooi en vryheid vir die gewone mens om in daardie wêreld van onbeteuelde konkurrensie, geldmag en massapropaganda rond te val of in te pas soos hy kon; die broederskap was maar alte dikwels dié van Kain jeens Abel, in ‘n eeu wat die masjien- en snelvuurgeweer, gifgasse en duikbote uitgevind het en wat die kanonne van Europa op die verste uithoeke van die aarde laat bulder het – o.a. om Sjinese broers te dwing om die invoer van opium “vry” te stel. Maar uit die gelykheid, die enigste van die groot drietal wat wesenlik onwaar is, het daardie eeu ‘n waansin laat ontstaan waarvan die wêreld baie stadig sal genees. (p. 18)

Hy benadruk: “Die mens en alle menslike sake ken alleen die ‘ongelykheid’” (p. 18).

Vir N.P. van Wyk Louw is dit onmoontlik om gelykheid te regverdig: nie alleen is daar die natuurlike hulpbronne en natuurrampe wat die mens op een of ander stadium van mekaar ongelyk maak nie, maar ook die agterlike vs. skeppende volke, idiote vs. bomenslike genieë, die temperamentverskil, verskil van belangstelling, van kultuurmoontlikhede, maar ook van rypheid (jeug en ouderdom). Dan is daar ook bloot iets soos kans en geluk: soos iemand wat reeds in ‘n ryk familie gebore word, of iemand wat weet hoe om met geld te woeker, of ‘n arm boer wat heel toevallig op ‘n klont goud of petroleum op sy plasie afkom.

Hy stel dit eksplisiet: van vroueregte en ‘n klaslose stelsel wil hy nie weet nie: “Hulle is almal broers, die liberale demokrate, “filantrope”, kommuniste en pedagogiese gelykmakers, en almal kinders van een vader: die 19de-eeuse gelykheidsgedagte.” (p. 19).

Oor die hele Kommunistiese petalje stel hy die volgende: “Die uitwis van die “standsverskille” binne die fabriek sou nie ‘n uitbuiter nie, maar die werk self vernietig” (p. 19). Ek meneer, jy meneer, en wie gaan die wa smeer?

Ook wonder N.P. van Wyk Louw of “die verskil in funksie die maatskappy egter ekonomiese verskille regverdig”. Hy vind dit onmoontlik om die beloning tussen ‘n bankier, ‘n hoofamptenaar, ‘n Beethoven te bepaal. “Die bankier en die hoof sou dalk hier ‘n bietjie naby aan die ongeskoolde werkers wees” (p. 19).

Hy vind die eensydige “idealisme” van Hegel, maar ook die materialiste van La Mettrie tot by Moleschott en Haeckel, toon almal “die neiging om alle verskeidenheid in die wêreld te negeer en sy rykdom tot ‘n enkele soort te probeer herlei. Dit is vorme van die neiging om gelyk te maak: gelykmaak na ondertoe of na boontoe, maar tog gelykmaak” (p. 20).

Die skrywer verwerp die nivelleringsdrang en stel eerder nuwe stelsels voor wat altyd nader aan die innerlike rangordening van die mensdom sal kom. Daar moet eerder ‘n suiwerder en sterker bouwerk (hiërargie) ontstaan van die polêre verhoudings: Leierskap en volgelingskap, aristokrasie en volk. Hy sien in die wetenskap reeds ‘n wegbeweeg van die radikale oorvereenvoudigings van die 19de eeu (dus, spesialisering), en om die verskillende range van die werklikheid (stof, lewe, psige en gees) in eie reg te erken en te ondersoek. Waarom nie ook in die kultuur nie? (p. 20-21)

Die nasionale kultuur beskik ook oor ‘n piramidevorm: die breë basis van die menigte, tot by die skerp toppunt van die hoë skoonheid wat bo uitglans. Volgens hierdie skema is die dagbladpers HEEL ONDER. Bo-op volg die tydskrifte vol ligte leesstof – “die kinders se prentstories, die versmade en populêre moordverhale, ens., daarna die knap, deeglike of vermaaklike romans; en dan die beste en blywendste wat in die volk geskrywe word.” (p. 21) Die basis en die toppunt en die middel van die piramide het mekaar almal nodig.

Dit is hierdie “geheel” wat al die leesstof waardevol maak. Maar ook hier het die massamensskrywer met sy groot oplae probeer, weens gewildheid as enigste literêre maatstaf, om sy werk die kroon van die Afrikaanse letterkunde te maak. Onder die vaandel “volkskuns”. Daarteenoor het die estetici populêre geskrifte weer as waardeloos geag. Dit is vir Louw verkeerd: sowel die massalektuur as aristokratiese kuns het sy eie plekkie. Want gewilde lektuur kan taalbelangstelling prikkel.

Ook hier moet grense bewaar word en die waarde van die verskeidenheid erken word. Ook ‘n volkskultuur word in organiese rangordening opgebou.

Dit wil my voorkom of die skrywer tussen April 1938 (die vorige hoofstuk) en Januarie 1939 (wat jy tans lees) ‘n veel minder dichotomistiese wêreldbeeld gekry het. Maar nou: wat van die Aristokratiese ideaal van die vorige teks? Vir al die kwaad wat die Afrikaanse hoofstroommedia die Afrikanerdom aangedoen het, moet ons eenvoudig hierdie prulpers maar verduur? Ek dink glad nie so nie.

‘N TONEELOPVOERING IN KAAPSTAD (Maart 1937)

Louw was hoogs geïrriteerd deur die uitgevrete hoëlui wat vermaak by die teater gesoek en hul daar wangedra het. Die uitgesoekte gehoor, uitgesoek volgens geld, stand en geleerdheid, kon hul nie vereenselwig met die tragiek op die verhoog nie. Vir hierdie pyn en lyding het hulle geen begrip nie. Hul banaliteit spreek uit die lag op die verkeerde plekke, ‘n geproes, ‘n gestamp in die ribbes. Die ernstige stuk is ‘n spottery van gemaak, moontlik uit vrees dat hul “rus deur die smart aangetas [sou] word.” (p. 23)

Diegene wat smart ken, rusteloos is, leeg, of honger, of soekende siele, weduwees en wewenaars, iemand wat om iets onbereikbaar treur: daardie mense VERSTAAN wat op die verhoog aangaan. Waarskynlik juis diegene wat ‘n kaartjie nie kon bekostig nie. Dit is vir hulle wat die werk eintlik geskryf is. (p. 23)

C. Louis Leipoldt het êrens in sy een digbundel (Uitgesoekte gedigte vir Jong Suid-Afrika, aan skole voorgeskryf) gesê dit is lewenservaring (“ondervinding”) wat mens kuns werklik laat waardeer. Skoolkinders is daarom nog nie almal ryp genoeg om sy digkuns te verstaan en waardeer nie. Intelligensie alleen is nie goed genoeg nie. N.P. van Wyk Louw is dit duidelik mee eens.

REKLAME VIR DIE LITERATUUR (September 1936)

Jy sal miskien onthou hoe ek by my skryfstuk [http://praag.co.za/?p=45656 “Ek is nou klaar met Afrikaanse tydskrifte”] die volgende stukkie van Aucamp (7 Oktober 1987) aangehaal het:

Dis ook Uys [Krige] wat voortdurend waarsku teen die onoordeelkundige gebruik van die kwalifikasie “groot” binne die Afrikaanse kritiek. ‘n Mens hoor te dikwels van boeke wat ”briljant”, ”verbluffend”, of  ‘n ”kragtoer” is, waar hierdie boeke hoogstens verdienstelik is. Die Afrikaanse boek mag uiteindelik hieronder ly – ‘n publiek wat keer op keer mislei word, gaan ophou koop. ‘n Hollandse vriendin wat ál die pieke in Afrikaans meegemaak het, weier om langer Afrikaanse poësiedebute te koop of selfs te lees. Elke keer die ”fanfare”, sê sy, en as jy die bundel oopmaak, dan maar weer ‘n ”pubergeklodder”.

Trompetgeskal: September 1936 (ja, 51 jaar en 1 maand tevore!) was nie veel anders nie. 2016 en 2026 weliswaar ook nie veel anders nie, want dieselfde geykte verkooptegniek werk vir die massamens al die afgelope dekades. Of, eeue. Selfs vandag nog.

Ek bedoel, dit voel asof daar van elke Afrikaanse boek doelbewus ‘n “Limited Edition” gemaak word – doelbewus sodat almal die gedrukte weergawes moet gryp terwyl dit nog in voorraad is [en die pryse onbekostigbaar duur is] en nooit weer herdruk sal word nie. Maar elektroniese boeke en tweedehandse boekwinkels is mos geduldig, so waarom die haas?

Wat wel vreemd[?] opval is N.P. van Wyk Louw se teenkanting van die advertering van Afrikaans, soos die goeie woordjie wat Prof. dr. T.J. Haarhoff by Oxford gedoen het, IN DIE BUITELAND. Vir Louw is dit onvanpas:

Hulle vergeet dat die buitelander ook kritiese vermoë het, ook agteraf glimlag oor komieklike geesdrif – as hy baie beleefd is. Laat ons bly wees oor wat by ons in ‘n kort tyd gedoen is, maar erken dat ons nog min vir die uitvoerhandel het. (p.26)

Vergelyk hierdie “advertensie” met die volgende scenario (p. 27-28):

Gesteld hier kom nou in ons land ‘n geleerde wat een van die minder bekende tale en letterkundes, sê maar die Turkse of Hongaarse, wil adverteer; hy vertel ons iets van strominge en persone daar, lees vir ons stukkies vertalings voor wat in ons eie taal geen literêre waarde het nie, bring ons niks nader aan die taal self nie as deur te sê dat dit mooi is vir dié wat dit verstaan… dan gaan ons ook maar met ‘n ongestilde honger of met ‘n jammer hart huis toe. Sy eie mense moet net nie glo dat die Turke of Hongaarse saak veel by ons bevorder is nie.   Van dieselfde aard is die bewuste ywer om boeke uit ‘n mens se taal in ander tale oorgesit te kry. Ook ander klein lande ken dit. (Greshoff het êrens een van sy beste opstelletjies oor hierdie soort gedoente in Holland geskrywe.)* Die beste werk is meestal onvertaalbaar. En of ‘n swak boek nou in twee of drie tale gelyk doodgaan, in plaas van in die oorspronklike alleen, verhoog ook nie die prestige van die land so baie nie.   [http://historisch.groene.nl/nummer/1932-01-09/pagina/18#4/-2.46/-72.42 Jan Gresshof. 1932. Staatsgevaarlijk comité. De groene Amsterdammer. 9 Januari: 18 ]  

So iets het Jan Rabie (1989. Buidel. Kaapstad: Human & Rousseau, bl. 83-86) ook aangeraak:

5. Party werke is moeiliker om te vertaal; daar is selfs werke wat onvertaalbaar genoem word. […] 8. Traddutore traditore? Is vertaler verraaier? Nee, as die vertaler albei tale goed ken. […] 14. Vertalings van eie werk: Bolandia 3: Waar jy sterwe het maklik in Engels vertaal en had sukses; romantiese, algemene taal. Maar Bolandia 2: Die groot anders-maak, my mees geslaagde roman, was onverstaanbaar oorsee omdat die Hottentot-Afrikaans daarin onverstaanbaar elders is. In Engels bv. bestaan iets soos Rooihuid-Engels, maar Hottentot-Engels nie. Dit is dus ‘n goeie teks wat nie vertaal kon word nie omdat dit té Afrikaans is.   15. En weet u, soms wil ek my teks eintlik onvertaalbaar hê. Ja, dis die gevoel wat ek soms oor my gekastyde taal kry. Om in ‘n oorvol, oorluide, oorveralgemeende wêreld ‘n klein hoekie onvervreembaar my eie te hê.   16. … En las seker ook by toekrampende ouderdom, of seergemaakte trots omdat my boeke nie méér aandag in oorsese vertalings gekry het nie. Hoe ook al, soms voel ek in my ‘n intense behoefte om my Afrikaans vir myself te hou, om my boeke so verinnig, plaaslik, Afrikaans as moontlik te skryf dat hulle eintlik onvertaalbaar moet bly.   17. Miskien ook uit irritasie wanneer die soveelste eentalige neul: “Why don’t you translate your book for Onrast?” Dit is juis op so ‘n oomblik dat ek ook die beneukte blydskappie voel: Goed so, laat my boek so Afrikaans wees dat jy dit in Afrikaans moet lees. Is Poppie Nongena met sy heerlike babelsheid van taalgebruik nie mens-verwarmender as ‘n naastenbye vertaling van ‘n vertaling in een taal nie?   18. Wel, klink dit te negatief? Dalk wil ek maar net sê: Party skrywers hou nie daarvan om hul eie werk in ‘n selfvertaling te herkou nie. Hulle verkies nuwe werk.

Maar 82 jaar ná Louw se opstel en amper 30 jaar ná Rabie s’n, raak mens tog bekommerd as Sweedse, Deense, Noorse en Nederlandse boeke by dosyne oor en weer vertaal word, terwyl Afrikaans steeds êrens in die hoekie van vergetelheid bly lê en stof vergader (soos ‘n boekie deur ene Louw wat ek nou op PRAAG bespreek en verlede maand teen R5,00 by ‘n Hospieswinkel op Hermanus gekoop het!). Ek voel sulke beskeidenheid doen die mensdom ‘n oneer aan. Dan kon mens netsowel oorspronklik in Frans en Duits geskryf het. Of, nou ja, in Engels.

Wat die BINNELANDSE REKLAME BETREF, is ek met die volgende veel meer eens (p. 28):

Maar heelwat ouer as die buitelandse propaganda vir die literatuur is die binnelandse. So gans en al sonder werklike waarde soos die vorige is dit nou nie. Wanneer dit ‘n volk moet leer om sy eie te begryp en te waardeer, is dit gewone opvoeding. Maar nêrens staan die opvoeding so naby aan die sonde nie. By geeste van die tweede rang word dit gou net verheerliking van wat die eie volk gemaak het, en by die derde en laer range verheerliking van vriende en boeties, die kwaksalwery van klieke. […] En hierdie sonde is tog so maklik. Wanneer ‘n groepie skrywers saamspan om wederkerig mekaar aan te prys en elke woordjie van mekaar as wysheid en skoonheid voorstel – kan hulle dan nie, wanneer hulle eenmaal die openbare aandag getrek het, so met ‘n los skrum die onsterflikheid bestorm en verower nie? Die publiek self lees mos nie noukeurig nie, stel nie soveel belang in skrywersgedoentes nie, is maar meestal bly om van ánder presies te hoor wie “die beste skrywer of digter” is – al is dit maar vir die saampraat. En mettertyd kan pers, radio, tydskrif en boek dieselfde storietjie herhaal; niemand vra waar dit oorspronklik vandaan kom nie, en almal glo dit omdat “almal” dit sê. Baie reputasies is al so opgebou. Dit is waar dat geen reklame ‘n slegte werk lank hoog kan hou nie, en dat alleen dinge wat deur lang jare die bestes in ‘n volk bevredig werklik bly leef.

Wat Louw hierbo skryf, is werklik niks nuut nie:

Illud autem lepidissimum, cum mutuis epistolis, carminibus, encomiis sese vicissim laudant, stulti stultos, indoctos indocti. Hic illius suffragio discedit Alceus, ille huius Callimachus: ile huic est M. Tullio superior, hic illi Platone doctior. Nonnumquam etiam antagonistam quærunt, cuius æmulatione famam augeant. Hic scinditur incertum studia in contraria vulgus, donec uterque dux re bene gesta victor discedit, uterque triumphum agit. Rident hæc sapientes, ut, veluti sunt, stultissima. Quis enim negat? Sed interim meo beneficio suavem vitam agunt, ne cum Scipionibus quidem suos triumphos commutari. Quamquam docti quoque interim dum hæc magna cum animi voluptate rident, et aliena fruuntur insania, non paulum mihi debent et ipsi, quod inficari possunt, nisi sint omnium ingratissimi.

Overgesetsynde (J.L. de Villiers, 2002-vertaling, pp. 96-97)

[oor Digters, dus, skrywers]

:

Maar die grootste grap is hulle wedersydse briewe, verse en lofprysinge; een dwaas wat ‘n ander dwaas ophemel. So sê A dat B ‘n Alkaios is, terwyl B sê dat A Kallimagos is, of B dink dat A ‘n beter skrywer as Cicero is, daarom sê A dat B geleerder as Plato is. En soms soek hulle na ‘n opponent vir ‘n kragmeting waardeur hul groter naam kan maak. Die weifelende skare is in vyandige kampe verdeel, tot albei leiers selftevrede vertrek om hul oorwinning te gaan vier. Verstandige mense lag hieroor, want niemand sal ontken dis nie die toppunt van dwaasheid nie. Intussen maak ek dit vir hierdie mense moontlik om ‘n heerlike lewe te lei, en hulle sal dit nie eens vir die triomftogte van die Scipio’s wou verruil nie. En die ander, geleerd soos hulle is, het die plesier wat hulle hieruit en uit hulle makkers se waansin put, grootliks aan my [Dwaasheid] te danke – ontken hulle dit, is hulle die ondankbaarste mense op aarde.

Knap gedaan, Desiderius Erasmus (‘Encomium Moriae (Tot lof van Dwaasheid)’, gepubliseer in 1511, dus, ruim 425 jaar vóór Louw se opstel. Wat vir jou sê: deur die eeue heen word mense steeds met dieselfde slenter gevang).

Dis presies wat LitNET is; trouens, die meeste Afrikaanse letterkunderedaksies is. Dis ‘n gepraat-praat-praat, gekibbel, omkopery, gestryery, bakleiery, repliek op repliek, en op die ou einde gaan dit maar eintlik oor watter boeke die meeste geld uit die meeste gepraat maak wat op daardie oomblik relevant is of wat aandag sal trek op Google Trends. Dit gaan daaroor om mense aan die kyf te hou, dit gaan suiwer om publisiteit.

Die beste medisyne wat Louw kan voorskryf (p. 29), is kritiek (WAT? NOG?!) wat skerp en streng moet bly, en jaloers moet waak oor die intellektuele status van ons nasie. Verder: “Die hoogste geestelike lewe van ‘n mens of van ‘n volk is heeltemal onafhanklik van erkenning.” (vergelyk: Die Aristokratiese ideaal)

Verder moet die skrywer ook nie geboelie en in ‘n blik gedruk word om stukke te skryf in die styl wat die publiek of uitgewer van hom verlang nie. Die skrywer sal dan nie ryper kan word nie (p. 29).

Louw sluit sy betoog af met die woorde:

Laat ons bly wees dat die loon by ons kuns maar klein is; dan bly die makelaars daarvan af weg. Maar ook deur geen ander voordeel hoegenaamd mag ons tot ophemeling verlei word nie. Laat liewer dan alles buiten wetenskaplike studie stilbly. (p. 29).

DIE EWIGE TREK (Oktober 1938)

Daar bestaan twee dwalinge volgens Louw rakende die Voortrekkers (pp. 30-31):

1. Soms word die Trekkers tot onnavolgbare heldegestaltes gemaak. Heel gerieflik word die nakomelinge (weens hul selfopgelegde ‘onvermoë’) dan van die plig onthef om self heldhaftig te wees.

2. Ons is net soos die Trekkers, en as ideale modelbeeld moet hierdie innerlike en uiterlike kenmerke bestendig word. Soos in die stuk “Kultuurleiers sonder kultuur” (Februarie 1939) staan hier reeds:

Ons kan nie dinge wat tydgebonde aan die Voortrekkers was, aanvaar as die les wat hulle vir ons te leer het nie, en ons sal nooit weer in hierdie land in alle opsigte soos Voortrekkers kan dink, voel en handel nie. As ons dit kón doen, dan het húlle nie hul historiese sending in hierdie land voltooi, d.w.s. ons pionierstadium laat afloop nie.

Louw bedoel hier nie die herdenking van die Slag van Bloedrivier nie. Dit is ook nie die punt van sy opstel nie.

Louw sonder die “waagspel” en die “volkome ewewig van die argumente wat in albei rigtings gevoer kon word” uit. Agterna beskou lyk dit altyd tog so eenvoudig hoe die Groot Trek, die Tweede Vryheidsoorlog, en die keuse tussen Afrikaans en Nederlands as voertaal en kultuurtaal sou inslaan en verloop het. Stel jy egter jouself voor hierdie vraagstukke, op daardie tydstip, is dit glad nie meer so vanselfsprekend of eenvoudig nie (p. 32).

Ek gaan nie die laasgenoemde beweging, die taalbeweging behandel nie – ek het dit reeds in drie artikels op PRAAG behandel. Maar kortom: “die wysheid van die dwase en vermeteles het geseëvier en die dwepers het weer die geskiedenis gemaak” (p. 33).

Oor die Anglo-Boereoorlog: “Vandag kan ons insien: as ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees? Maar uit die trots van die driejarige stryd teen ‘n wêreldmag is die nuwe Afrikaanse nasionalisme gebore wat nie langer te kere was nie.” (p. 34)

Wat die Groot Trek aanbetref, kon almal as keuse in die Kolonie gebly het om ‘n verenigde mag te vorm teen die Engelse; of, die geskiedenis kon verloop het soos dit wel aan ons bekend is (p. 35).

Die meeste mense kies selde redelik.  En dikwels uit fanatisme – oor taal, oor vryheid.  Jy sou dit ook so kon insien. Of, dit is ‘n hele komplekse sameloop of samevatting van al die individue se keuses wat op daardie stadium gemaak is; ook diegene wat in Kolonie agtergebly het [en later tog ‘n rol sou speel] (p. 36-37).

Nou bly die vraag oor – vra Louw – moet mens altyd die ekstremiste, die dwepers aanhang, want hulle maak tog die geskiedenis? Kan ons die irrasionale rasionaliseer? Nie altyd nie – want by verskeie keuses is daar aan alle kante dwepers. Dwepers [wat geplant is?] kan egter ook ‘n volk verdeel (p. 38).

Maar mens kry ook die verantwoordelike ‘sieners’ wat die hele waagspel (en verantwoording) ten volle besef, maar ook die hele aaneenlopende proses in sy geheel in oënskou neem. En die ewewig van die argumente (die ‘pro’ en die ‘contra’) in die krisis van die volk sterk en ten volle begryp (p. 39).

BURGER EN KUNSTENAAR (Mei 1939)

N.P. van Wyk Louw het nou eenmaal ‘n gly in politieke gatkruipers, of “strewers” wat die hoogste sport van die amptenary stertswaaiend probeer bereik op welke maniere ook al. En die kuns dan op hul manierlike/fatsoenlike/doodse/verstokte wyse as sodanig probeer ondermyn.

As die leser tussen die reëls kyk, is sy brief (wat ironies genoeg, afgekeur is!) nie alleen ‘n skimp op sensuur van die owerhede nie, maar beslis ook op die polities-korrektheid van die kripvreter [sal mens die privaatsektor ook hierso byvoeg?]. En op wat nie in die openbaar se belang is nie. Enigiets in die kuns wat die “strewer” kan laat twyfel in sy doelwit [om die hoogste sport te bereik deur oor lyke te loop], of wat sy gewete aankla, word sover moontlik vermy, of selfs geteiken. Hierdie brief vind ek uiters relevant in die huidige Suid-Afrika – van hoogleraars tot amptenare wat teen hul beterwete die staatskultus aanbid.

Die bourgeois gaan resloos op in die georganiseerde lewe, vrees vir die kolle krag van die emosie; geestelike versigtigheid; vashou aan die bekende, aan die menings van erkendes en aansienlikes (p. 44). ‘n Burgerlike sê vir homself (p. 44):

Ek ken my krag; ek kan vooruit kom, hoog klim, en iets geniet – al kan ek ook niks anders nie; al sal my onsterflikheid dan net wees dat my naam op ‘n aantal hoekstene in ons land staan of aan ‘n sleepboot in Tafelbaai gegee word.

Dus, eiebelang vs. volksbelang.

Want jou tipiese “burgerlike” (lees: gatkruiper) se waardeoordeel word deur titulatuur beïnvloed:

Dit spreek dan vanself dat die burgerman ewig en altyd ‘n “streber” is, dat hy vooruit wil kom. Na almal bó hom sien hy as moontlike helpers op; na mense onder hom kyk hy met ‘n bietjie minagting (as hulle self nie vooruitkom nie) of met vriendelike aanmoediging. En daardie rangordening van die posisies word ‘n soort Jakobsleer waarlangs engele van vreugde neerdaal of verdwyn. Kyk maar na ‘n groot staatskantoor: as die minister die môre binnekom en glimlag, dan glimlag die sekretaris, en die ondersekretaris lag… en die glimlag daal af totdat die seuntjie wat posseëls opplak, fluit-fluit sy spuutjies saamsuig; of anders daal die donkerheid van bo af, en uiteindelik skop die loopjongens die brakkies van die waterbakke in die gange af weg. Dis soos ‘n ry spieëltjies wat een straal voortplant. Om nie eens te praat van die moeitevolle klassifiseer van uitnodigings in “dié wat ‘n mens moet aanneem”, of “kan aanneem” of “nie durf aanneem nie”. Hierdie soort “strewe” is die antitese en die dood van die geestelike rusteloosheid. Dit is hierdie burgerlikheid wat vir ons ‘n blou-potlood-kultuur aan die gee is; en dit gee ook aan ons hele geestelike lewe daardie kleindorpse voorkoms. (p. 42) […] Wanneer hy [die burgertipe] tussen twee opinies moet kies, is die opinie van die hoër geplaaste vanselfsprekend die ‘waarste’.  (p. 41)

Ons sien hierbo dus weer ‘n verwysing na houtgeruste “Suid-Afrika as ou Land” (Desember 1938) – waar daar gerustheid is, is daar geen vooruitgang in die kuns nie. Maar ook sien ons dat die besluite/opinies hoegenaamd nie gegrond op die redelikheid of die rede is nie. So asof die hoeveelheid inkomstebelasting wat jou meerdere betaal iets met ervaring te make het. Ons ken daardie denkfout: Argumentum ad verecundiam [beroep op gesag].

‘n Mondvol. Boonop haat die bourgeois (wat streef na DIE ORDE) die kuns, juis omdat hy die geobjektiveerde kultuurwaarde nie het nie, en die kuns amper soos ‘n Rorschachtoets is van sy eie booshede. En die pseudo-kunstenaar weet net watter knoppies om keer op keer te druk om sensasie uit te lok (p. 43). Dink maar aan die (onsmaaklike) kaalgat-skilderye van Jacob Zuma.

DIE ONSTERFLIKHEID VAN DIE KUNS (Oktober 1938)

Vita brevis, ars longa. Of nie?

Louw glo nie in die onsterflikheid van die kuns nie. Moontlik is hierdie verskynsel/strewe bloot simptomaties wanneer klassieke boeke/kuns weer verken word, soos tydens die Renaissance. Daar kom ook tye wanneer die mens hom kragdadig radikaal onhistories voel en hom volksvreemd van die verlede losmaak – en nie die “onsterflike” kuns kan waardeer nie. Onsterflikheid word ook gekortwiek as jou werke deur die eeue heen deur mot en roes middeldeur gehap word. En dan die volk: wat as die lesers en sprekers van die taal eenvoudig net soos mis voor die son verdwyn? (p. 45-46).

Tog is hierdie onsterflikheid [eerder: tydloosheid!] van die kuns ‘n mite wat die kunstenaar kan besiel/opsweep/aandryf. Politieke heersers soek dikwels kuns wat in hul ryk/land as voorbeeld vir ander moet dien. Totdat die ryk saam met die standbeelde tot ‘n val kom (p. 46).

Maar die onbereikbare word tog as die moeite werd beskou om na te streef. Dikwels sterf hierdie kunstenaar sonder roem, om eers na hul dood bekendheid te verwerf. Maar steeds is dit hierdie MITE wat die mens buite sy eie grens dryf (p. 46-47).

Dit is ook onwaar dat jy die publiek bloot hoef te oortuig (belieg?) jou perdedrolle is sitroene. Jy kan hard probeer om jou werk op te vysel, ‘n koerantman omkoop, asook ‘n toegewinkie hier en daar deur invloedryke kritici afbedel, die destydse en hedendaagse voorskryfmark probeer beïnvloed, maar ook vriende kan hard probeer [soos oorle’ Koos Prinsloo († 1994) wat deur ‘n vriendin steeds kunsmatig aan die lewe gehou word], maar êrens gaan die volk tog kort voor lank van jou werke moet vergeet. In die geskiedenis sal dit maar net as nog ‘n vergeefse kantaantekeninkie geskribbel word. Volgens Louw het so iets trouens gebeur met Robert Montgomery, wie se The Omni-presence of the Deity nie minder nie as 11 keer herdruk is – vandag is hy vergete, en niemand ken selfs meer sy naam nie (p. 29, ‘n terugverwysing na “Reklame vir die Literatuur”).

Ook vraag en aanbod tussen die eietydse volk, uitgewers, resensente en die skrywer kan nie onsterflikheid waarborg nie (p. 49; en wéér ‘n terugverwysing na “Reklame vir die Literatuur”) – dit is te veel onderworpe aan die aktuele grille en geite en verouder vinnig. Hier is nie sprake van tydloosheid nie, maar wel van ‘n TYDPERK.

Die enigste rigsnoer wat dus oorbly is SKOONHEID (p. 50).

Of die versteekte kosmos (en verantwoording) binne die kunstenaar wat ontwaak  (p. 51).

En tog, wil Suidpunt in die jaar 2018 vra: Hoe word ons onthou van die strominge en skrywers van die Dertigers? Die Sestigers? Die Grensliteratuur? Die Multi-Kulti-1990’s? Die betrokke letterkunde? Die postmoderne herbesoek van die Anglo-Boereoorlog teen die millenniumwending? Die Postkoloniale Desillusie? Die Distopiese Romans? Gayliteratuur? Depressiewe-polssny-wroeg-en-oopskryf-probleemboeke-vir-niksvermoedende-prikkelbare-pubers-sedert-1980-tot-op-heden-der-dagen?

Baie maklik, ek het pas die antwoord hierbo gegee: deur die kunsmatige kategorisering deur die letterkundiges self. Die naamgee aan elke “letterkunde epog” en die gevolglike etikettering. Een enkele benaming ruk sommer al die betrokkenes (skrywers en hul apologete) soos ‘n koeksel hare uit ‘n stinkende afvoerpyp op.

[Word vervolg.]

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.