DA se hoë prestasiepunt aan Lesufi wys dié party se minagting vir Afrikaans

Deel op

Hoe harder Panyaza Lesufi teen Afrikaans veg, hoe hoër is die prestasiepunt wat die DA aan dié omstrede Gautengse LUR vir onderwys en kampvegter téén Afrikaans toeken.

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, gee aan Lesufi byna ʼn onderskeiding met ʼn punt van 75% nadat die DA hom in 2016 met 60%, en in 2017 met 70% ‘beloon’ het.

Luidens mediaberigte gebruik Msimanga selfs die heuningkwas om Lesufi se ‘deugde’ mee te beskryf. Volgens hom het Lesufi ʼn ‘duidelike visie’ oor waarheen hy met Gauteng se onderwysdepartement op pad is en hy speel ʼn ‘groot rol’ om onderwys in Gauteng te ‘moderniseer’.

Die VF Plus “vind dit verstommend gegewe Lesufi se onverbloemde stryd teen Afrikaans en Afrikaanse skole in Gauteng en beskou dit as ʼn klap in die gesig van elke Afrikaanssprekende persoon in dié provinsie”.

“Wit en bruin Afrikaanssprekendes moet kennis neem van die DA se steun aan Lesufi,” meen adv. Anton Alberts van die VF Plus. “Dit dien as bewys hoe belangrik dit vir kiesers is om ʼn party te steun wat opkom vir hul belange en om nie bloot vir ʼn groter opposisieparty te stem wat selfs die ANC se siening oor sekere sake deel nie.”

Die probleme by die Hoërskool Overvaal vroeër vanjaar, wat ook die maaksel van Lesufi was, het daartoe gelei dat die VF Plus ʼn privaatlid-wetsontwerp ingedien het om protesoptogte en -aksies binne 500m van skole en ander instellings waar minderjariges teenwoordig is, te verbied.

Dit is reeds in die Staatskoerant gepubliseer en is verlede maand by die parlement se portefeuljekomitee oor polisie ingedien vir bespreking.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.