Leon Lemmer: ‘Afrikaans: ‘n Visie vir 2030’

Dr. Danny Titus

Danny Titus is tans die hoof van korporatiewe aangeleenthede by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Voorheen was hy die ATKV se hoof van kultuursake. Blykbaar het die besef deurgedring dat Titus geen werklike begrip van of simpatie met Afrikanerkultuur het nie. Hy kon hom nie namens die oorgrote meerderheid ATKV-lede, naamlik blanke Afrikaanssprekendes, sinvol oor hulle kultuur uitlaat nie. Wat opval, is dat die ATKV deesdae met oorgawe wroeg oor transformasie, oftewel ANC-gedienstigheid.

Dit herinner aan die Afrikaanse Handelsinstituut, wat ná 1994 verkies het om eerder die AHi te wees, dus sy Afrikaansheid weg te steek, en daarna om liewer sy naam (in die meeste gevalle) te verander na SBi – Small Business Institute. Hermann Giliomee noem dat die AHi “nie die bevordering van Afrikaans as een van sy funksies beskou nie” (Die Afrikaners, Kaapstad: Tafelberg, 2004, p 627). Giliomee haal ‘n oudpresident van die AHi, Franklin Sonn, soos volg aan: “Ek is nie ‘n Afrikaner nie, ek was nog nooit een en ek wil ook nie een word nie” (627). Ek kan Sonn verseker dat Afrikaners dit met hom roerend eens is. Hierdie ANC-aktivis en -kameraad kwalifiseer glad nie vir Afrikanerskap nie. ‘n Ander AHi-president wat ‘n wig tussen hierdie instituut en Afrikaners en Afrikaans ingedryf het, is die oorverligte Stef Coetzee (1949-2018), wat as rektor van die Universiteit Vrystaat (1997-2002) hom buitensporig passievol vir transformasie beywer het.

Insgelyks verkies die ATKV hierdie verkorting as sy naam, blykbaar nie bloot omdat dit korter is nie, maar omdat sy historiese Afrikaansheid daarmee verdoesel word. In die praktyk bevorder die ATKV deesdae by voorkeur die mengeltaal Kaaps en nie ordentlike of suiwer Afrikaans nie. Die ATKV is veral nie ‘n uitgesproke ondersteuner van Standaardafrikaans nie. Hierdie instansie weerhou hom deurgaans van wat absoluut noodsaaklik vir die sinvolle voortbestaan van Afrikaans is, naamlik pleidooie en veldtogte vir groter taalsuiwerheid in Afrikaans. Sy polities korrekte strategie is om nie sy nuwe hoofsimpatiegroep, die bruin mense met hulle voorliefde vir hulle brouseltaal Kaaps, aanstoot te gee nie.

Sedert Augustus 2013 is Karien Brits, wat ‘n magistergraad oor die Tswana-taal voltooi het, die ATKV se bestuurder van taalaangeleenthede. In ‘n radio-uitsending oor Afrikaans (30.09.2018) het Brits die indruk gewek dat sy polities selfs meer radikaal links as Gerda Odendaal is. [Oor hierdie radiogesprek, lees Leon Lemmer se reaksie onderaan sy rubriek oor die Afrikaner-Broederbond (Praag 23.09.2018). Oor Gerda Odendaal, lees die Lemmer-rubriek: “Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans” (Praag 2.02.2014).]

Danny Titus

Titus het euwelstatus in Afrikanergeledere (bv Praag 7.10.2015 en 7.09.2017). Onlangs het hy dit gestand gedoen met sy uitlatings oor “Afrikaans: ‘n Visie vir 2030” (voortaan AV30 genoem) (Netwerk24, 5.11.2018). Die opskrif van die artikel is: “Moenie die verlede herhaal.” Dit impliseer dat die verlede sleg was, anders sou herhaling nie ongewens gewees het nie. “Suid-Afrikaners moet ophou om vyande van mekaar te maak.” Vredevors Titus beweer dít is wat AV30 doen. Hy noem dan twee kenmerke van die slegte verlede, wat uiteraard veral aan Afrikaners toegeskryf word: “die vergrype van apartheid” en die (onnodige) destydse waarskuwings oor “die Rooi Gevaar.” ‘n Ander destydse euwel is glo die ontmensliking weens die Veiligheidspolisie, die paswette en die NG Kerk, met as beweerde salige teenvoeters Nelson Mandela en ANC-terroriste.

Toe Mandela in 1994 president word, het die Totale Aanslag van die Rooi Gevaar glo “‘n groot grap geword.” Die wesenlike kommunistiese aard van die ANC word hiermee deur een van die hoofamptenare van die ATKV – en daarby sy luidrugtigste aktivis – ontken. “Die derduisende troepies het gevra of alles nodig was.” Die veiligheidsmagte waaroor Titus hom so neerhalend uitlaat, is dieselfde mense waarvoor hy en sy medestudente destyds so skytbang was dat hulle begin weghardloop het as hulle gehoor het dat die polisie op pad na die UWK-kampus was.

Ons moet glo nie vyande soek nie, al is dit presies wat Titus soos gebruiklik doen. “Die Mandela-era bly steeds die templaat vir talle Suid-Afrikaners oor hoe ons mekaar kon vind en die land uit sy moeras na goeie regering kon neem.” Die moeras van die blanke of Afrikaner se politieke bewind word hier gekontrasteer met die goeie regering van die ANC. Daar is in werklikheid redelike eenstemmigheid dat Suid-Afrika vóór 1994 heelwat beter regeer is as wat sedert 1994 die geval is. Die Mandela-era was oënskynlik beter as wat daarna gevolg het bloot omdat selfs die ANC nie dadelik alles kon verbrou wat sedert 1652 plaaslik opgebou is nie. Daar word graag beweer dat Mandela swart-wit versoening bevorder het. In werklikheid het Mandela bloot die verontwaardigde blankes probeer paai oor die hemelskreiende verraad van magsoorgawe pleks van die plegtig beloofde magsdeling.

“Groot was my verbasing verlede week toe ek ‘n dokument [AV30] lees wat sê vir die Afrikaanse gemeenskap sedert 1994 is die ‘aanpassing om te beweeg vanaf die binnekring van mag na ‘n stand van bykans politieke magteloosheid, ingrypend en selfs traumaties.'” Die onderwerp moes uiteraard die Afrikanergemeenskap gewees het. Oor Afrikaners se trauma het ek reeds geskryf: “Kulturele trauma en die Afrikanerdom” (Praag 13.10.2018). Iemand soos Titus is sedert 1994 buitensporig bevoordeel, gevolglik put hy eerder vreugde en welvaart as trauma uit die nuwe Suid-Afrika. Dat Afrikaners gegrief oor die ANC-owerheid se miskenning van Afrikaans asook die agteruitgang van (ordentlike) Afrikaans is, skeel vir Titus blykbaar min.

Een van Titus se besware teen AV30 is van ‘n kwantitatiewe aard. Soos die ANC so graag doen, verhef Titus kwantiteit bo kwaliteit. “Dit is natuurlik onsinnig, want die meeste Afrikaanssprekendes was nie in die binnekring van die mag nie. Die verwysing na die ingrypende en selfs traumatiese politieke magteloosheid is nie my indrukke van talle Afrikaner-organisasies, kollegas en vriende nie.” Wat Titus hier doen, is om die mengeltaal Kaaps sonder meer as Afrikaans te beskou, sodat dit kan volg dat die meerderheid Afrikaanssprekendes bruin is. Hy maak ook die skuif van Afrikaanse na Afrikaner-organisasies.

Die ATKV wás vóór 1994 ‘n Afrikaner-organisasie wat Afrikaans, insluitende taalsuiwerheid, bevorder het. Die ATKV het weens transformasie ontaard in ‘n Afrikaanse sowel as nie-Afrikaanse organisasie wat taalsuiwerheid nooit openlik bevorder nie; eerder die brouseltaal Kaaps. Soortgelyke ontaarding is ook by ander eens Afrikaner- en Afrikaanse instansies waarneembaar, hoewel dikwels nie in dieselfde buitensporig oordrewe mate as by die ATKV nie.

Ek vra my af: Behoort die ATKV nie eerlikheidshalwe die AHi se voorbeeld te volg deur sy naam te verander en Afrikaans daaruit weg te laat nie? Ek is in my siel oortuig dat die benaming Meertalige Multikulturele Vereniging (MMV) baie duideliker uitdrukking gee aan wat die ATKV sedert 1994 geword het: meertalig, bv Afrikaans en Kaaps; multikultureel, bv christelik en Moslem. Die letternaam MTMKV kan ook oorweeg word. Al is dit langer as MMV, het dit die voordeel dat MK daarin voorkom, wat kan help om die soort medeburgers te lok waarna enige egte ANC-gedienstige instansie behoort te streef.

AV30 “praat verder van die ‘ingrypendheid van wegbeweeg vanaf die verlede en die eise wat elke dag bring, is so sterk en oorweldigend.’ Daar is nie kans om vorentoe te kyk vir die Afrikaanse taal se behoud en bevordering nie, aldus die dokument. Daarom dan ‘n nuwe visie, ‘n strategie en projekte. Liewe krismis! Wat van al die bestaande projekte? Wat ‘n terugwaartse stap. En dit nogal in die naam van Afrikaans. Die wegbeweeg van die verlede ingrypend? Terug na die vyandsbeelde?”

Wat is dit wat aan Titus se getransformeerde siel knaag en hom so negatief stem oor ‘n opregte poging, soos AV30, om Afrikaans te bevorder? Myns insiens is die kern van Titus se misnoeë dat dit drie Afrikaanssprekende blankes is wat daardie dokument oor Afrikaans opgestel het. Aangesien die meerderheid Afrikaanssprekendes, volgens Titus se siening van Afrikaans, bruin is, moet bruines volgens sy insig vanselfsprekend by enige Afrikaansprojek betrek word. Die bruines moet verkieslik ook in die meerderheid wees, sodat die heil van Kaaps pleks van Standaardafrikaans gedien kan word; dus ‘n opset soos in die raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument: Naas die direkteur, Michael Jonas, “vyf bruin lede, een swarte, een Indiër en een blanke. Bruin mense oorheers die raad teen ‘n koers van ses uit nege” (Praag 12.08.2018). Daarby is die enigste blanke raadslid nie ‘n taalkundige nie, maar ‘n sosioloog en terselfdertyd ‘n militante ANC-aktivis. Myns insiens is dit die soort opset wat Titus vir Afrikaans verkies bo die drie blanke Afrikaanssprekendes wat AV30 opgestel het. Wat vir Titus ook onvergeeflik is, is dat Kaaps nie as die gesalfde toekoms van Afrikaans in AV30 opgehemel word nie. Trouens, Kaaps word nie eens genoem nie.

Jaco Kirsten

In sy boek, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011 (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, 261p, R150), skryf Pieter Kapp: “Leopold Scholtz se stelling dat vir bruin mense Afrikaans ‘n instrument is, maar vir Afrikaners ‘n deel van hulle identiteit, is iets wat nie geïgnoreer kan word nie” (p 186). Hiervolgens is Afrikaans vir Titus bloot iets wat soms bruikbaar kan wees, maar andersins opsioneel is, bv as skoolonderrigmedium vir sy kinders. Vir Afrikaners, daarenteen, is Afrikaans ‘n noodsaaklike deel van hulle identiteit; myns insiens die kern van hulle kultuur. Om hierdie rede is daar baie groter erns en opregte besorgdheid oor Afrikaans by Afrikaners as by bruin mense.

Kapp noem: “Die bruin middelklas verengels vinnig” (186). In die AV30-dokument (p 4) word die “vinnige verengesing van die bruin middelklas” ook genoem. Kapp skryf verder: “Min bruin Afrikaanssprekendes is bereid om in die openbaar ongekwalifiseerd standpunt vir Afrikaans in te neem” (186). Bruines maak egter alewig aanspraak op die reg om by alles betrek te word wat met Afrikaans te make het. As blankes dan besorgdheid oor die stand en toekoms van Afrikaans uitspreek, is die kenmerkende reaksie uit bruin geledere dat alles wel met Afrikaans is. Dit geskied in die bruines se klimaat van die opsionaliteit/ontbeerlikheid/versaakbaarheid van Afrikaans en natuurlik ook omdat die bruin elite die ANC as bevryders verheerlik, wat insluit bevryding van Afrikaners se politieke mag asook die prominensie van (ordentlike) Afrikaans.

Jaco Kirsten

Dit bring my by die joernalis, Jaco Kirsten. “Tydens Kirsten se optrede op die Woordfees [in Stellenbosch in 2010] het ‘n bruin joernalis hom dit verkwalik dat hy gesê het dat Engafrikaans [bv Kaaps] hom grief. Dit impliseer [glo] dat suiwer Afrikaans diskriminerend is en deur Afrikaners gebruik word om hul wit bevoorregting te verskans” (186). Dit is die soort substansielose, retoriese twak waarmee ‘n mens deesdae om iedere hoek en draai gekonfronteer word.

Kirsten antwoord: “Wie se skuld is dit dat die aktiviste vir Afrikaans tans oorwegend uit wittes bestaan? Is dit Afrikaners se skuld of diegene s’n wie se vooroordeel opregte bedoelings verdag maak? As mense se agterdog (of is dit afkeer?) jeens Afrikaners groter as hul liefde vir Afrikaans is, moet mens jouself afvra of sulke mense nie self ‘n soort kulturele apartheid wil bevorder nie. Asof hulle ‘n taal die rug sal toekeer eerder as om hande te vat met Afrikaners. Kulturele spiteful-geit, enigiemand? Ek wens opreg dat ‘n paar pro-Afrikaanse bruin kommentators in die openbaar sal vra: ‘Hoe kan ek ‘n bydrae lewer?’ In plaas van: ‘Ag, dis al weer die Boere wat kerm,’ of die al hoe meer verdagte: ‘Dis eintlik ons taal!'” (186-187).

Dit is veral die Afrikaanstaalkundige, Christo van Rensburg (1938-2018), wat sedertdien nuwe stukrag gegee het aan die versinsel dat bruin mense Afrikaans geskep het. Ek moet Van Rensburg se jongste boek nog bespreek: Van Afrikaans gepraat (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2018, 155p, R250). Mense soos Danny Titus en Christo van der Rheede word na een Afrikaansbyeenkoms na die ander genooi om “saam te praat” oor Afrikaans asof hulle Afrikaanslojaal is en gesaghebbend tot die gesprekke kan bydra. In werklikheid het hulle doelbewus verseker dat hulle kinders Engelse skole bywoon. Ek noem hulle en ander diesulkes valse profete van Afrikaans. Vir Afrikaans is daar geen heil te vinde as hierdie soort meelopers betrek word nie. Uit wat hier bo oor Titus se artikel gesê is, is dit baie duidelik dat hy, wat AV30 betref, besig met boikottaktiek is; iets wat so kenmerkend van die politiek van bruines in veral die jare tagtig was.

Ander reaksies

Voordat ek die AV30-dokument in besonderhede bespreek, gee ek ‘n aanduiding van die ander reaksies. AV30 is ‘n uitvloeisel van ‘n beraad van Afrikaanse instansies wat in 2017 plaasgevind het. Die AV30-gespreksdokument, gedateer 1 September, is vroeër vanjaar op die internet gepubliseer. Dit is aan die begin van November in Clubview tydens ‘n opvolgbyeenkoms van Afrikaanse instansies bespreek. Wat ontstellend is, is die geringe belangstelling wat die AV30-dokument en hierdie byeenkoms ontlok het. Min nabetragting kan op die internet of elders opgespoor word. Afrikaans as sodanig wek deesdae kommerwekkend min belangstelling in die hoofstroom-inligtingsmedia. Hou gerus dop hoe bitter min berigte oor Afrikaans en nog minder reaksies daar op Netwerk24 is. Wat was die reaksie van die Afrikaanse koerante op AV30? “Ek hou my doof, ek hoor niks, ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie” (Psalms 38:14).

Tydens die Clubview-byeenkoms is tot die gevolgtrekking gekom dat daar slegs in drie van die nege provinsies, naamlik die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng, ‘n groot genoeg konsentrasie van Afrikaanssprekendes is om die oorlewing van Afrikaans aldaar as ‘n realistiese moontlikheid te beskou. Die oorlewing van Afrikaanse skole kan deur privatisering moontlik gemaak word. Afrikaanse skole word nie en sal na verwagting ook nie deur die owerheid bevorder word nie. In hierdie verband is na Namibië verwys, waar die staatskole verengels het en daar min privaat Afrikaansskole voortbestaan.

Die ANC-bewind word tereg gekarakteriseer as sosialistiese staatsnasionalisme. Uit hierdie oord kan geen steun vir Afrikaans verwag word nie. Die ANC-regering is so ondoeltreffend dat hy nie eens in die basiese behoeftes van sy ondersteuners voorsien nie. Afrikaners as nie-ondersteuners van die ANC is dus op eie inisiatief en privaat hulpbronne aangewese vir wat hulle ten behoewe van mede-Afrikaners en Afrikaans wil vermag.

Hierdie gevolgtrekkings onderskryf wat in die AV30-dokument (p 9) staan: “Enige formele staatshulp of staatsfinansiering aan Afrikaanse taal- en kultuurgebaseerde openbare instellings soos skole, aftreeoorde, verenigings en klubs sal die uitsondering of heeltemal afwesig wees” en op bladsy 10: “Gemeenskappe sal toenemend na hul eie belange in hul woonbuurt of dorp moet omsien.”

AV30-dokument

Die AV30-dokument is deur Bertus de Villiers, Deon Geldenhuys en Heinrich Matthee opgestel. Die teks en illustrasies beslaan 16 bladsye. Albei Titus se aanhalings kom van die eerste bladsy en nie een van die twee is akkurate weergawes nie. Baie van die inligting in AV30 het nie direk met Afrikaans te make nie en dien veel eerder as agtergrond of breër konteks. Besware wat geopper kan word, is eerstens dat nie omskryf word wat onder Afrikaans verstaan word nie. Dit is myns insiens noodsaaklik dat die brouseltaal Kaaps uitgesluit word omdat daar geen heil te vinde is in ‘n stryd om die behoud van ‘n taal wat nie duidelik van Engels onderskei kan word nie. ‘n Noodlottige gevolg is dat die noodsaaklikheid van suiwer(der) Afrikaans glad nie in AV30 genoem word nie. Geen pleidooi vir taalsuiwerheid word gelewer nie terwyl dit noodsaaklik is dat Afrikaans uit eie reg, dus as wesenlik ‘n nie-Engelse taal, naas Engels moet voortbestaan.

In AV30 word die potpourri/mengelmoes-benadering van nóg vis nóg vlees gevolg: “Die breë Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap bestaan uit verskeie subgroeperinge aangesien Afrikaans een taal is met vele subkultuurgemeenskappe. Vanweë die historiese uniekheid van die Afrikaanse taal en kultuur is daar ‘n wye verskeidenheid groepe wat elk ‘n eiesoortige bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur maak – byvoorbeeld die Kaapse Klopse, kunstefeeste, AfriForum, Orania en die ATKV se unieke bydraes. Die Afrikaanse taal en kultuur is ‘n model van veelheid eerder as eenheid. ‘n Pragmatiese benadering kan meebring dat verskeie Afrikaanse taal- en kultuurbelangegroepe uit verskeie gedeeltes van die land hul prioriteite rondom die Afrikaanse taal en kultuur kan ontwikkel en nastreef” (p 11). Hierteenoor kan gestel word: Eenheid eerder as verskeidenheid bevorder mag; ook in die geval van ‘n taal wat in ‘n bose omgewing deur ondergang bedreig word.

Tweedens is daar die afgewisselde gebruik van “Afrikaanse” en “Afrikaner-” wat die teks blootstel aan die die soort kritiek wat deur Titus uitgespreek is. Afrikaanse kultuur (in soverre daar so iets is) is meer omvattend as Afrikanerkultuur. Dit kan nie sonder meer aangeneem word dat alle lede van die Afrikaanse kultuur so vreedsaam sal saamleef en saamwerk soos lede van Afrikanerkultuur nie. Daar word in AV30 ‘n eendersheid en harmonie veronderstel wat nie (noodwendig) daar is nie. Veral onder die bruin elite is Afrikaans nie so ‘n belangrike faktor dat dit politieke verskille sal oorbrug en hulle tot “hande vat” met blankes sal aanspoor nie. In AV30 word ‘n ander en myns insiens onrealitiese standpunt gehuldig: “Alhoewel daar verskillende groeperinge binne die algemene Afrikaanssprekende gemeenskap is, moet Afrikaans as ‘n samebindende faktor gebruik word terwyl na verskillende behoeftes omgesien kan word” (p 11).

Wat in die stryd om die behoud van Afrikaans aanvaar moet word, is dat Afrikaners nie op ondersteuning van enersyds die ANC-regering en andersyds bruin mense (veral die elite) kan staatmaak nie. In die konteks van die AV30-dokument sou dit klaarblyklik hoogs funksioneel wees om eeder die term Afrikaner sonder voorbehoude te gebruik en liewer Afrikaners en Standaardafrikaans as uitgangspunte te aanvaar. Dan word ‘n verskerpte fokus en konkreter resultate moontlik.

Die teks begin met die korrekte waarneming dat die land/inwoners in ‘n oorgangsproses verkeer. Van ‘n suksesvolle land wat ‘n sterk Europese aanskyn/inslag gehad het, word sedert 1994 fluks gevorder na die droewige status van ‘n onmiskenbaar tipiese Afrika-land. Swart oorheersing/”supremacism” is nie in die belang van die land en die meeste van sy inwoners nie. “Geeneen kan met enige akkuraatheid voorspel waarheen die proses vir die Afrikaanse taal en kutuurgemeenskappe lei nie” (p 1). Wat myns insiens met stelligheid gesê kan word, is dat die blankes, insluitende die Afrikaners en daarmee saam Afrikaans, tot agteruitgang en uiteindelike vernietiging gedoem is tensy doeltreffende stappe sonder versuim gedoen word.

“Die kern van Visie 2030 is om by te dra tot ‘n gesprek oor ‘n volhoubare toekoms vir die Afrikaanse taal en kultuur, oftewel die versekering van taal- en kulturele vryheid wat mense toelaat om hul taal te kies en te benut en hul kultuur te ontwikkel om sodoende ‘n lewe te lei wat hulle verkies” (p 1). Daar is geen rede om aan die opregte bedoelings van die opstellers te twyfel nie. ‘n Eerlike poging word aangewend om Afrikaans te bevorder. Die uitkoms is gebrekkig, maar dit is baie makliker om die opstellers te kritiseer, soos Titus doen, as om met beter voorstelle vorendag te kom.

Die kernprobleem is die onverkwiklike situasie waarin Afrikaners hulle, sonder hulle eie toedoen, sedert 1994 bevind. Die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief en verwerplik en saboteer in groot mate pogings om binne hierdie opset ‘n beter bedeling vir Afrikaners en Afrikaans te bewerkstellig. In hierdie stelsel is die enigste heilsame weg blykbaar groter militantheid; om duidelik, kragdadig en konfronterend/hardegat (eerder as versoenend/paaiend) die Afrikaner se saak te stel en op resultate aan te dring; dus om te eis waarop ons geregtig is. Maar omdat die land op ‘n grondig verkeerde en dwase grondslag funksioneer, lê die uiteindelike heil vir Afrikaners buite hierdie stelsel, bv in selfbeskikking in ‘n eie tuisland.

Daar is te veel tekens van politieke byderwetsheid in AV30. In die laaste paragraaf op bladsy 1 is daar ‘n kniebuiging na feminisme, “In haar verskeidenheid”, en op bladsy 3, “in haar breedste”, pleks van “in sy verskeidenheid/breedste.” ‘n Nie-politieke, inklusiewe benadering (“die breedste moontlike spektrum” – p 1) word nagestreef, wat in die praktyk reeds telkens as nutteloos vir Afrikaans bewys is. Die opstellers poog selfs om die “historiese verdeeldheid binne die Afrikaanse gemeenskap te oorbrug” (p 1) deur die modieuse breë weg van inklusiwiteit te bewandel. Dit is fataal, soos later blyk: “Die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans as spreek- en onderrigtaal vereis inklusiwiteit” (p 11). Dit word nie van Engels vereis nie. Waarom dan van Afrikaans? Afrikaans kan eksklusief ontwikkel word, veral wat betref die grootste moontlik onafhanklikheid van Engels. Aan tale wat in groter mate aan Afrikaans verwant is, soos Nederlands en Duits, kan, soos voorheen, na goeddunke, met die oog op oorname of aanpassing, ontleen word.

“Visie 2030 rus op twee pilare. Eerstens berus dit op internasionale ervarings wat die erkenning en beskerming van taal- en kultuurgroepe se regte betref en tweedens moet dit vir die verskillende gemeenskappe wat hulle met die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap vereenselwig prakties en finansieel haalbaar wees … Visie 2030 is dus daarop gemik om ‘n breë visie te ontwikkel wat hopelik algemene steun onder Afrikanerorganisasies, Afrikaanssprekendes en Afrikaanse belanghebbendes kan genereer ongeag hul politieke oortuigings” (p 2). Amptelike internasionale regte, bv minderheidsregte, word egter nie in die ná-1994 Suid-Afrikaanse konstitusionele oerwoud erken nie. Die net word inklusiwiteitshalwe ook so wyd gespan dat sinvolle resultate kwalik behaal kan word. Die ATKV en Praag kan nie in dieselfde keurslyf gedruk word nie. Eersgenoemde is op die breë weg na die verderf terwyl laasgenoemde op die smalle weg na uitmuntendheid is. By AV30 is ‘n minder ambisieuse benadering wenslik deur eerder op onmiskenbaar Afrikaner- en (Standaard)Afrikaanse belange te konsentreer.

Op bladsy 3 toon die samestellers heldere insig in wat die 1990/94-ramp vir Afrikaners en Afrikaans meegebring het (maar let op die steurende afwisseling van “Afrikaanse … kultuur” – te breed – en “Afrikaners”): “Daar is ongetwyfeld ‘n persepsie van uitgesluit word, van onsimpatiekheid en selfs vyandigheid teenoor die Afrikaanse taal en kultuur, en ‘n gevoel dat die waardes waarvoor Afrikaners staan, telkens geminag word. Ons besef dat Visie 2030 nie die politieke klimaat kan verander nie, maar dit kan wel ‘n basis bied vir gemeenskappe om na hul eie behoeftes om te sien ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Ons vertrou dat Visie 2030 hoop en fokus kan bied aan almal wat Afrikaans as hul taal van keuse praat en wat deel voel van die Afrikaanse kultuurgemeenskap.” Daar word dus gepoog om die beste van ‘n slegte saak te maak, wat (prysenswaardige) moed en selfs ‘n mate van optimisme weerspieël.

“Visie 2030 is nie daarop gemik om die Afrikaanse taal en kultuur in opposisie tot ‘n nasionale patriotisme en liefde vir Suid-Afrika te ontwikkel nie” (p 3). Inklusiwiteit word hier dermate aan die orde gestel dat dit selfs by Titus guns sal vind. Ons word aangesê om patrioties en lief vir die nuwe Suid-Afrika te wees al is dit vir Afrikaners onmoontlik. Die opsie van ‘n eie tuisland vir die vrye uitlewing van Afrikanerkultuur word glad nie ter sprake gebring nie. Die Afrikaner is glo “onlosmaaklik deel … van Suid-Afrika … [en] die kontinent van Afrika” (p 3).

“Die moderne wêreldtendens is juis dat state ‘n gemeenskaplike patriotisme bevorder deur taal- en kultuurverskeidenheid te erken … Die erkenning van taal- en kultuur-uniekheid is … ‘n basis om gesamentlike patriotisme te bevorder” (p 3). Maar dit is tog baie duidelik dat die ANC-regering Afrikaans en alles wat met Afrikanerkultuur te make het, minag, gevolglik is dit misplaas om patriotisme en liefde vir die nuwe Suid-Afrika van Afrikaners te verwag. Afrikaners word “ware Afrikane” genoem terwyl Tuisland-Afrikaners hulle nie noodwendig aan Afrika gebonde voel nie. Dit kan vir Afrikaners hoogs bevrydend wees om as etniese groep op ‘n ander kontinent in herwonne vryheid wortel te skiet.

Op bladsy 5 staan: “Die politieke dinamika van die staat is tans nie dié van ‘n gesonde demokrasie nie.” Ons sit met “‘n de facto-eenpartyregering.” In werklikheid is hierdie “demokrasie” fundamenteel ‘n misbaksel. “Daar is wel goeie tekens in die onafhanklikheid van die media.” In die hoofstroom sing almal egter die deuntjie van politieke korrektheid en kulturele marxisme. Daar is glo ook gevalle van “robuustheid van die regbank te sien” maar dan word dit tereg dadelik soos volg gekwalifiseer: “Die regbank was tot dusver nie in die algemeen simpatiek teenoor die behoeftes van taal- en kultuurgemeenskappe nie. Afrikaanssprekendes sal toenemend op hul eie vindingrykheid en hulpbronne aangewese moet wees om hul taal en kultuur in die privaat milieu te bevorder en kan nie berus op politieke steun nie” (p 5).

Op bladsy 11 word gepoog om informele selfbeskikking (maar nie daadwerklike/statutêre outonomie of ‘n Afrikaner-tuisland nie) as ‘n moontlikheid voor te hou. Weer word die (ydele) hoop op internasionale voorbeelde gevestig, terwyl ander maatstawwe in Afrika en veral die nuwe Suid-Afrika geld. Byvoorbeeld, rassediskriminasie, raskwotas en onteiening sonder vergoeding word as algemeen geldige en aanvaarde praktyk ten koste van blankes gepropageer en gewetenloos toegepas. Die sosiale ingenieurswese van die ANC waarvolgens blanke gemeenskappe, bv hulle woongebiede en inrigtings soos skole, tot multikulturaliteit gerysmier word, word glad nie afdoende in AV30 in ag geneem nie.

“‘n Vorm van formele outonome ‘regering’ vir die Afrikaanse gemeenskap of ‘selfbeskikking’ in ‘n formele sin van die woord in 2030 lyk tans onwaarskynlik en die klem sal waarskynlik val op privaat inisiatiewe en die werksaamhede van nie-regeringsorganisasies. Dit is waarskynlik dat Afrikaners en/of ander Afrikaanse gemeenskappe wat belangstel in die praktyk groeiende selfbestuur deur hul gemeenskapsorganisasies sal geniet – of dit nou amptelik erken word, polities aanvaar word of bloot ‘n werklikheid is wat gevestig is. Dit bly egter ‘n moontlikheid (en hoop) dat die grondwetlike beloftes van artikels 185(1)(c)* en 235** ten opsigte van gemeenskapsrade in die Wes-kaap of in ander dele van die land prakties beslag sal kan kry. Daar is veelvoudige internasionale voorbeelde waar taal- en kultuurgemeenskappe informele magte bekom om na hul taal- en kultuurerfenis om te sien. Selfs indien formele gemeenskapsrade nie opgerig word nie, kan die Afrikaanse gemeenskap by wyse van informele plaaslike komitees en verenigings na hul eie taal- en kultuurbelange omsien en in die proses selfs dienste aan die breë plaaslike gemeenskap verskaf. Internasionale gevallestudies bewys hoe self-inisiatief bevorderlik is vir taal- en kulturele oorlewing en ontwikkeling. Verskillende plaaslike gemeenskappe kan met mekaar saamwerk; hulpbronne en fasiliteite deel; en hul eie leefomstandighede verbeter” (p 11). Blankes word reeds toegelaat om soms op eie inisiatief bv paaie te herstel en vullis te verwyder omdat die onbekwame en korrupte owerhede versuim om dit te doen. Dit is heel moontlik die enigste soort “selfbeskikking” wat aan die blankes gegun sal word: om ter wille van (veral) die ander op te offer deur (gedwee en gratis) diensbaar te wees.

[* Artikel 185(1)(c): “to recommend the establishment or recognition, in accordance with national legislation, of a cultural or other council or councils for a community or communities in South Africa.”

** Artikel 235: “The right of the South African people as a whole to self-determination as manifested in this Constitution, does not preclude within the framework of this right, recognition of the notion of the right of self-dermination of any community sharing a common cultural and language heritage, within a territorial entity in the Republic or in any other way, determined by national legislation.”]

Wat AV30 voorsien en bepleit, is selfgefinansierde Afrikaanse kleuter-, laer-, sekondêre en hoërskole (p 13) terwyl ek dink dat sterker druk op die ANC-regering geplaas behoort te word vir genoeg sulke staatsgefinansierde Afrikaanse skole in ruil vir die reuse belastingbydrae wat Afrikaners teen wil en dank lewer. Dit geld ook vir tersiêre onderwys, bv universiteite, wat glad te geredelik toegelaat word om te verengels, met misleide, verloopte Afrikaanssprekende blankes wat die voortou in die onderploeging van Afrikaans neem. Hierdie elemente op eens Afrikaanskampusse word glad nie genoegsaam verguis en gestigmatiseer nie. Daar word in AV30 voorgestel dat sakelui verblyfgeriewe vir bv Afrikaanse leerlinge en studente op ‘n kommersiële grondslag voorsien (p 14). Eksklusief blanke of Afrikaanse koshuise, ouetehuise, ens, word egter nie deur die ANC-regering geduld nie. Verpligte rasse- en taalintegrasie (nie uitsluitlik wit en nie uitsluitlik Afrikaans) word afgedwing. Daar is in AV30 nie genoeg tekens van ‘n duidelik besef van die fundamentele boosheid van die ANC nie.

Daar is glo “meriete om ‘n nasionale Afrikaanse forum te skep waar organisasies en verenigings ten minste jaarliks met mekaar gesels; mekaar ondersteun en bemoedig; kennis uitruil; projekte bespreek, uitstallings hou; uitvoerings aanbied; ensovoorts. ‘n Afrikaanse forum kan selfs saamval met taal- en kunstefeeste wat in streke aangebied word. Die Afrikaanse Taalraad [ATR] kan byvoorbeeld so ‘n funksie vervul” (p 15). Dat AV30 hom daarvan weerhou van die stigting van nog ‘n Afrikaansinstansie aan te beveel, word verwelkom. Om vertroue in die ATR te stel om die funksie van ‘n nasionale Afrikaanse forum te vervul, is egter om ‘n uiters flou perd op te saal.* Wat Afrikaans broodnodig het, is minder maar beter liggame; dus gesuiwerde Afrikaansinstansies. Byvoorbeeld, die ATKV kan ‘n positiewe rol vir Afrikaans en Afrikaners vervul mits hy hergetransformeer word tot die soort instansie wat hy eens was. Daar is tans nie ‘n enkele Afrikaansinstansie wat ‘n veldtog vir taalsuiwerheid voer nie. By hulle almal weeg politieke oorwegings swaarder as die belange van Afrikaans. Polities korrek word nie beswaar teen geradbraakte, Engelsbesoedelde “Afrikaans”, bv Kaaps, gemaak nie omdat dit veral bruin sprekers aanstoot kan gee. ‘n Gesuiwerde Afrikaansinstansie sou eenvoudig van alle Afrikaanssprekers vereis/verwag om Afrikaans so suiwer moontlik te praat en te skryf.

[* Die Afrikanerbond het kommer “uitgespreek oor die feit dat die Afrikaanse Taalraad nie altyd die voorvegter vir Afrikaans is nie … dat van die standpunte soms polities korrek is, sonder dat die belang van Afrikaans bevorder word” (OJO Ferreira, Broederskap: Eeufeesgeskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond, 1918-2018, Randburg: Die Afrikanerbond, 2018, p 224 – Praag 23.09.2018). Hierdie kritiek is veral toepaslik op die ATR se oorentoesiastiese bevordering van Kaaps eerder as Standaardafrikaans.]

“Indien ‘n duidelike visie vir 2030 ontwikkel word, kan die Afrikaanse gemeenskap met die regering in gesprek tree om ‘n kultuurakkoord – ‘n kontrak, ‘n verbintenis – te sluit. Die oogmerk van so ‘n kultuurakkoord is enersyds om die Afrikaanse gemeenskap se landsgebondenheid aan en patriotisme vir Suid-Afrika te bevestig en andersyds om regeringsteun en -begrip te kry vir Visie 2030 en die operasionalisering van aspekte van die Grondwet wat dormant gebly het. Een van die oogmerke van die kultuurakkoord kan wees om praktiese beslag te gee aan artikels 185 en 235 van die Grondwet en om die informele aard van selfregering en die voordele daarvan te erken. Die kultuurakkoord kan ook as basis dien vir ‘n jaarlikse finansiële bydrae deur die regering aan Afrikaanse onderwys en ander gemeenskapsdienste wat andersins deur die regering gelewer sou moes word” (p 15).

Hiermee word erkenning aan die ANC-regering gegee terwyl my standpunt is dat die blanke kiesers nooit tot politieke magsoorgawe ingestem het nie. In hierdie sin is die ná-1994-regering onwettig. Daar kan geredeneer word dat al is die ANC-regering nie de jure nie, dit de facto is en dat ons daarom maar vir lief moet neem om dit as ‘n magsfaktor te erken. AV30 is waarskynlik ooroptimisties oor die moontlikheid om ‘n kultuurakkoord met die regering aan te gaan. Of die ANC daartoe instem of nie, het die geskiedenis bewys dat die ANC hom nie noodwendig steur aan wat ook al met wie ook al ooreengekom is nie. Tydens wat eufemisties “die oorgangsproses” (1990/4) genoem word (eintlik die ondergangsproses van die blanke bewind en die land), is by meer as een geleentheid ‘n akkoord met die ANC aangegaan waarvolgens hy sy geweld sou opskort. Die ANC is egter toegelaat om vol te hou om onverminderd geweld te pleeg (sy “People’s War”) en terselfdertyd met grondwetlike onderhandelinge voort te gaan. Dit sou goed en reg wees as Afrikaners die koste van bv privaat Afrikaansonderwys van die staat terugeis. As belastingbetalers is hulle immers op Afrikaans-staatsonderwys geregtig maar hulle word dit grootliks en daarby toenemend ontsê. Daar was egter al talle pogings om bv die reuse bedrae wat instansies en individue aan veiligheid bestee van die hoogs ondoeltreffende owerheid terug te eis, maar sonder enige sukses. Ten behoewe van Afrikaans sal seker nie beter gevaar word nie.

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig. Al hoe meer mense huldig 14 Augustus as Afrikaansdag. AV30 is te polities byderwets om dit voor te stel, maar Afrikaners as bedreigde etniese groep behoort terselfdertyd ook Afrikanerdag te vier. Ons kan dan drink op die gesondheid van die Afrikaner. Hy het dit nodig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.