Trump stel oud-Suid-Afrikaner Lana Marks as VS-ambassadrise in Pretoria aan

Mevrou Lana Marks

Die liberale media in sowel die VSA as Suid-Afrika is boos omdat president Donald Trump ‘n oud-Suid-Afrikaanse vrou, Lana Marks, as Amerikaanse ambassadrise in Pretoria aangestel het. Marks is boonop ‘n blanke en ‘n entrepreneur en wat tot dusver ‘n geslaagde onderneming in die luuksegoederebedryf bestuur het.

Sowel Associated Press as Reuters het haar neerhalend as ‘n “handsakontwerper” bestempel en daarop gesinspeel dat sy ‘n lid is van die eksklusiewe Mar-a-Lago-vakansieoord in Florida. Volgens Associated Press word 30% van Amerikaanse ambassadeurs gewoonlik nie uit die geledere van professionele diplomate aangestel nie en is Marks daarom kwalik ‘n uitsondering.

Dieselfde media het ook geen beswaar geopper toe Barack Obama die Kongolees-gebore Patrick Gaspard, ‘n anti-blanke aktivis en swart nasionalis wat Obama in sy Chicago-dae leer ken het, tot Suid-Afrikaanse ambassadeur benoem het nie.

Mev. Lana Marks is in Oos-Londen gebore en het die Clarendon High School for Girls bygewoon. Benewens Engels, praat sy ook Xhosa en Afrikaans. Daar was voorheen Franse, Nederlandse en Russiese ambassadeurs wat Afrikaans kon praat, maar mev. Marks is die eerste Amerikaanse ambassadrise wat die taal magtig is.

Afgesien van Hollywood-glanspersoonlikhede wat onder haar kliënte vir handsakke tel, was mev. Marks ook met wyle prinses Diana van die Verenigde Koninkryk bevriend, wat insgelyks ‘n Lana Marks-handsak besit het.

Sy het op die ouderdom van 23 jaar vanuit Suid-Afrika geëmigreer, nadat sy met ‘n Britse psigiater, wat by Groote Schuur werksaam was, in die huwelik getree het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.