Leon Lemmer: ‘n Lofrede vir Nelson Mandela uit Stellenbosch

“Die veroordeling van Afrikaans as ‘n struikelblok vir die US [Universiteit Stellenbosch] het teen 1995 uit Afrikaanse geledere op Stellenbosch momentum gekry. Willie Esterhuyse het in ‘n artikel getiteld ‘Can South Africa afford five Afrikaans universities’ [The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995] Afrikaanse onderrig aan Stellenbosch bestempel as ‘n struikelblok om swart studente te trek” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 63). Dus, toe die nuwe Suid-Afrika nog nie ‘n jaar oud was nie, het Esterhuyse op eie inisiatief in ‘n buitelandse tydskrif die verengelsing van die Afrikaanse universiteite (Oranje-Vrystaat, Potchefstroom, Pretoria, Randse Afrikaanse Universiteit en Stellenbosch) bepleit. Sedertdien het drie van hierdie universiteite, asook die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), verengels terwyl Afrikaans as onderrigmedium op Potchefstroom en veral Stellenbosch sterk afgeskaal is. Elke keer as een van hierdie universiteite verder verengels het, het ek my afgevra hoe Esterhuyse dit met sy gewete (veronderstellend dat hy een het) kan versoen. In sy jongste boek verskaf hy indirek ‘n antwoord: Soos die Nasionale Party (NP) se hoofargitekte van die nuwe Suid-Afrika (FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers) het Esterhuyse besluit om pleks van hom te verootmoedig en as selfgeprese voorbereider van die 1990/94-ramp verskoning te vra, eerder sy oë vir die tragiese werklikheid van die nuwe Suid-Afrika te sluit en dinge hoogs eensydig “reg” te probeer skryf.

Esterhuyse was as US-dosent nie die enigste Afrikaanssprekende op Stellenbosch wat die afskaling van Afrikaans bepleit het nie. Gerhard van Niekerk was jare lank ‘n US-raadslid en het hom in woord en daad vir die verengelsing en verswarting van die US beywer, soos duidelik uit Kapp se genoemde boek blyk. Die US was eens “‘n bastion van Afrikaners se taalnasionalistiese maneuvers” (p 255), maar hierdie twee linksgesindes, wat albei op Stellenbosch woon, het gehelp om hieraan ‘n einde te maak. As geesgenote het hulle byeengekom en die volgende boek geskryf: Die tronkgesprekke: Nelson Mandela en Kobie Coetsee se voorpuntdiplomasie (Kaapstad: Tafelberg, 2018, 264p, R280; Amazon Kindle $23). “Die dokumentasie waarop hierdie publikasie steun, kom uit die omvangryke Kobie Coetsee-versameling wat by die Universiteit van die Vrystaat se argief gehuisves word. Die dokumente is sonder enige voorskrif of bepaling oor die gebruik daarvan aan die argief oorhandig” (p v). Die outeurs is albei Afrikaanssprekende blankes wat eerder nuwe Suid-Afrikaners as Afrikaners wil wees. In hierdie boek is daar dieselfde neiging tot oordrywing en venyn as in een van Esterhuyse se ander boeke: Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (2012). Baie van die wanklanke in hierdie boek klink ook in Esterhuyse se jongste boek op.

Enersyds poog die outeurs om Nelson Mandela se gewaande ikoniese status in groter mate te verheilig. Ikoon: “iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgingswaardig is; beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word” (HAT). Sulke ongekwalifiseerde, buitensporige bewondering sal die outeurs sekerlik nie vir enige blanke opdiep nie. Andersyds word probeer om nuwe “bevrydingshelde” te skep. Vir die outeurs maak die moeilikheidsgraad van hierdie projek nie saak nie; solank hulle eie onmeetlike verligtheid bly skitter. Kortom: Vir Afrikaners behoort dit ‘n onsmaaklike boek te wees om te lees. Ek skryf aanvanklik oor algemene aspekte, insluitende die loftuitinge vir Mandela, en daarna oor die nuwe “bevrydingshelde” wat die outeurs probeer skep, hoewel hulle reeds in embriovorm in Eindstryd voorkom.

Ek het bly wonder of die outeurs dan nie raaksien wat sedert 1994 in Suid-Afrika gebeur nie. Verbly die outeurs hulle oor die waarheid? Sien hulle werklik ‘n suksesvolle, vooruitstrewende staat? Maak die verval van ons stede en eens pragtige dorpe glad nie saak nie? Is die nalatenskap van die ANC se terreur vir hulle mooi? Is finansieel-ekonomiese rommelstatus ‘n trotse prestasie of ‘n verdoemende wanprestasie? Vind Esterhuyse se geneul oor die “sistemiese” gebreke van die ou Suid-Afrika geen weerklank in die nuwe Suid-Afrika nie? Is wat met Afrikaners en Afrikaans gebeur, weens die verraad van FW de Klerk en sy groepie medepligtiges, werklik so onbelangrik dat dit ignoreerbaar is? Weens ANC-gedienstigheid het die outeurs hulle hart verhard. Wanneer die oorgangsgeskiedenis van Suid-Afrika – van ‘n beskaafde, Europese land tot net nog ‘n agterlike Afrika-land – vorentoe herskryf word, gaan Esterhuyse en Van Niekerk se insig en bydraes heel waarskynlik deur minstens sommige historici verdoem word. Nêrens gee die outeurs blyke dat die sogenaamde wêreldmening verkeerd kan wees of dat hulle die huidige plaaslike modepolitiek krities benader nie. Dit is myns insiens beter om jou siel, soos Faust, aan die duiwel te verkoop as om, soos die twee outeurs, jou siel aan die ANC te verkwansel. Die ANC is immers ‘n hedendaagse, plaaslike, destruktiewe, immorele mag.

In 1964 is Mandela weens hoogverraad tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy het tereg die doodstraf verwag. Die outeurs se kommentaar op die vonnis is: Dit “laat ‘n wrang smaak in die mond vanuit die perspektief van vandag” (8). Hulle vertolking is dat Mandela “in die tronk was vanweë ‘n geregverdigde vryheidstryd” (183). Moes eerder toegelaat gewees het dat Mandela sy bomplant- en terreurveldtog ongesteurd voortsit? Soos die outeurs bewonderend aantoon, was daar geen moontlikheid dat Mandela geweld sou afsweer alvorens swartes die politieke mag oorneem nie. Die outeurs verwys na “die berugte Hoogverraadverhoor”, “die gehate Bantoe-onderwyswet” en “die berugte wette oor die afkondiging van ‘n noodtoestand” (20). John Vorster “was die vader van drakoniese maatreëls soos aanhouding-sonder-verhoor” (22). Vorster en PW Botha [“deurdrenk met ‘n veiligheidskultuur” – 25] was glo “fanaties veiligheidsbewus” (24). Dit is gegrond op hulle “konstruk-van-die-vyand” (24), asof terrorisme en kommunisme geblyk het nie werklik vernietigende magte te wees nie. Vorster en Botha het glo “alle [!] geloofwaardigheid” verloor (35). Die rassediskriminasie in bv regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging ontlok geen beswaar by die outeurs nie. Mandela is glo “by uitstek die wêreldsimbool van vryheid, geregtigheid en martelaarskap” (8). Vryheid vir wie? Sekerlik nie vir die blankes nie. Suiwer rassisties word daar deesdae soveel moontlik teen blankes gediskrimineer. Is enigeen dag en nag vry om op enige plek veilig in die nuwe Suid-Afrika te wees?

Mandela word naas “Madiba” (11) dikwels “Prisonier 913” genoem; dalk om ‘n nuwe handelsmerk te help vestig. Hy bestuur glo “sy eie vrylatingsproses informeel en later selfs formeel” (8). “Hy bestuur sy eie vrylating op ‘n berekende en takties-strategiese wyse en nie Botha of De Klerk nie” (63). Herhaaldelik word die begrip “voorpuntdiplomasie” verduidelik asof dit moeilik is om gesprekke agter die skerms (1), oftewel agteraf gekonkel, te verstaan. “Prisonier 913 was hierin ‘n meester” (8). Mandela het vóór die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party doelbewus geweld as dié middel tot politieke mag gekies en hom ongetwyfeld aan terreurdade en hoogverraad skuldig gemaak, maar die skuld hiervoor word op apartheid en die NP afgeskuif. Die outeurs etiketteer Mandela nooit as ‘n terroris nie. “Hy was, as vryheidsvegter en versetsleier, in ‘n sin die ‘produk’ van die NP, wat uiteindelik die NP ‘oorneem’ en na sy graf stuur” (9). Mandela en die ANC se “sleuteldoelwit” was “bevryding” (eintlik swart oorheersing) en daarvoor is hulle geïnspireer deur mooi klinkende “sleutelwaardes” soos “nie-rassigheid, gelykheid, geregtigheid” (9). Daarteenoor is daar die blankes/Afrikaners: ‘n Skynheilige, magsugtige en moreel onaanvaarbare minderheidselite” (144). Het ons nie-rassigheid beërwe of word daar deesdae ten gunste van swarte en ten koste van bruines, Asiate en veral blankes suiwer op grond van ras gediskrimineer? Hierdie opset druis vanselfsprekend in teen gelykheid en geregtigheid, maar die outeurs swyg hieroor.

“Pogings om dié rasse-ideologie [segregasie] aanvaarbaar te maak met argumente oor etnisiteit (volk) en vorme van selfbeskikking, kon nooit die kernbeginsel van sy ideologie verdoesel nie: rassesegregasie, soos dit voorgeskryf en deurgevoer is deur die NP-regering. Vir die teenstanders van apartheid, soos die ANC en Mandela, was dié stelsel ‘n vorm van praktiese en strukturele gewelddadige rassisme” (15). Op grond van hierdie redenasie word gewelddadigheid dwarsdeur hierdie boek eerder aan apartheid/die NP/blankes as aan die swartes/ANC/UDF en ander terreurgroepe toegedig. Byvoorbeeld: “Op 21 Maart 1960 word dit met koeëls, bloed en lyke geïllustreer by Sharpeville” (21). Die outeurs opper beswaar teen die gebruik van sambokke deur die polisie (38) maar nie teen AK47-gewere en landmyne deur die ANC nie. Die weermag en veiligheidspolisie reik glo “bombastiese verklarings” uit en daar is “militêr geïnisieerde moordbendes,” want dit gaan om “wit-beheer-tot-elke prys” (45). “Die Botha-regering se valke [het] net één oplossing gehad …: Koeëls en kruit om te bewys wie is militêr die meerdere” (138). Sulke uitsprake word nie gebalanseer met die ANC se uitgesproke onderneming [“staatsug” genoem – 90] om die land gewelddadig tot in die grond af te breek ten einde die politieke mag te bekom nie. Waarom nie? Omdat die outeurs hulle ongekwalifiseerd aan die kant van die ANC en teen die blanke bewind skaar. Vir hulle maak dit skynbaar nie saak hoeveel Suid-Afrika aan (Europese) beskawing inboet nie.

Die NP-ondersteuners word as onnosel uitgebeeld: Toe Pik Botha in 1986 die moontlikheid van ‘n swart president noem, het “pandemonium” uitgebars. “Niemand [!] in NP-kringe het nog ooit [!] so ver gedink nie” (46).Vir die vergoeiliking van Mandela se terrorisme pas die outeurs hulle dubbele standaarde toe: By “georganiseerde verset” is Mandela “die leidende lig [!] en uiteindelik ook die internasionaal mobiliserende simbool” (21). Aanvanklik slaag Mandela daarin om “uit die kloue [!] van die veiligheidspolisie” te bly (21). Die outeurs kom darem met ‘n toegewing: rasse-segregasie/apartheid “was nie eens ‘n outentieke Afrikaner-affêre [! – let op die woordkeuse] nie … nie die produk van Verwoerd se rassistiese politieke drogbeelde [!] nie” (15). In ‘n ander konteks word daar later van “‘n manne-affêre” geskryf (62). As verligtes is hierdie twee outeurs dus ook ondersteuners van die feminisme.

Dit was die Britte wat met rasse-segregasie in Suidelike Afrika begin het. Toe “oud-dominee Malan” (16) en die NP in 1948 hulle apartheidsbeleid ingestel het, is “beoog die handhawing en beskerming van die blanke bevolking as ‘n suiwer blanke ras” (17). Dít word sonder meer “blatante rassisme” genoem (17), terwyl blankes myns insiens die onvervreembare reg op selfbehoud het en blankes ook self mag bepaal wat hulle is of wil wees. Die ANC, daarenteen, bepleit rasvermenging. By “Malan en sy NP” was daar glo bloot “die skyn van rassetoleransie” (17). “Malan, wat soos ‘n tipiese oudmodiese en konserwatiewe predikant gedink het dat volkereverskille ‘n goddelike verordening is en dat Afrikaners ‘n spesiale roeping het, reken selfs [!] dat die regering se beleid een van ‘goodwill to the Bantu (swart mense)’ is” (19).

Een van die valse argumente wat volgens die outeurs al “holrug gery” is, is: “Onderhandelinge word deur elemente in die ANC as ‘n taktiek beskou om álle mag deur middel van geweld oor te neem” (28). Daar behoort myns insiens geen twyfel te wees nie dat die ANC, ten spyte van herhaaldelike valse beloftes deur bv Mandela, onderhandelinge en onverminderde gewapende stryd gelyktydig bedryf het. Eintlik erken die outeurs dit by implikasie: “Die verbode ANC doen in die middel 1980’s iets wat strategies slim was: Hulle begin om oor onderhandeling as nóg ‘n pilaar van die vryheidstryd te praat” (35). Die ANC se gesplete tong blyk ook baie duidelik uit die myns insiens gesaghebbendste boek oor Suid-Afrika se oorgangsgeskiedenis (dalk eerder ondergangsgeskiedenis), Anthea Jeffery se A People’s War: New light on the struggle for South Africa (2009). Maar dit is juis hierdie boek wat (doelbewus) nie deur Esterhuyse en Van Niekerk in hulle bronnelys (256-157) vermeld word nie; ook nie in Esterhuyse se genoemde vorige boek nie.

Die karakterisering van die ANC as ‘n “terroriste-organisasie onder beheer van kommuniste” word in dieselfde asem verwerp; ook dat die ANC se strategie ‘n “twee-fase-revolusie” is (28); dus, waarop ook al tydens die onderhandelinge ooreengekom is, onderhewig aan hersiening is, bv die eiendomsreg van blankes. John Kane-Berman het baie duidelik aangetoon wat die ANC met hierdie Nasionale Demokratiese Revolusie beoog, naamlik uiteindelik ‘n kommunistiese staat (Praag 23.06.2017). Esterhuyse en Van Niekerk, daarenteen, doen moeite om Mandela as ‘n nie-kommunis en kommunisme as glad nie gevaarlik nie voor te stel. Die kommuniste sou glo “nooit … daarin slaag om die ANC te domineer nie” (147). Dat die ANC hom nie gebonde voel aan wat in 1990/94 ooreengekom is nie, blyk reeds uit die verskil tussen die 1993-oorgangsgrondwet en die 1996-grondwet. Die 1993-bepaling dat die status van Afrikaans nie ingekort sou word nie, is goedsmoeds uit die 1996-grondwet gelaat (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525, 527). Die outeurs sal hulle allermins hieroor verknies. Hulle het immers hulle dislojaliteit teenoor Afrikaans in die US-konteks bewys.

Oor PW Botha se Rubicon-toespraak in 1985 skryf die outeurs hoogs oordrewe: “Die Durban-toespraak was ‘n erge katastrofe, waarskynlik een van die ergste wat die land nog ooit getref het” (40). Hoekom? “Die skare [het] Botha entoesiasties toegejuig … vir sy versekering dat hy nie bereid was om wit Suid-Afrikaners en ander minderheidsgroepe op ‘n pad van selfmoord en abdikasie te lei nie” (40). Botha se gesonde standpunt was: “‘n Een-mens-een-stem politieke bedeling vir Suid-Afrika is ‘n resep vir rampspoed. Afrikaners en bruin mense … ‘sal ondergaan as die ANC en die swart meerderheid oorneem'” (36). Maar dit is presies wat die outeurs verlang; dat na Mandela en die ANC se pype gedans moet word.

Een van Esterhuyse se helde was die naïewe Jan Steyn (1928-2013) van Stedelike Stigting-faam, waarvan Esterhuyse deel was. Steyn se insig was: “Mandela is die Afrikaners se enigste [!] redding. Hoe gouer hy vrygelaat word, hoe beter sal dit met Afrikaners se toekoms gaan” (49). Gaan dit sedert 1994 beter met die Afrikaners of word hulle lewens en eiendom deurlopend bedreig? Die outeurs se bewondering vir Mandela is grenseloos: “Sy legitimiteit, oftewel aanneemlikheid as binnelandse nasionale transformasieleier, het mettertyd ook binne die totale Suid-Afrikaanse samelewing die openbare aanneemlikheid of legitimiteit van alle Afrikanerleiers oorskry, of dié leiers nou polities, kerklik, kultureel, akademies, media-gerig of sakelui was” (57). Mandela was “die persoon oor wie die hele [!] wêreld gepraat het” (64). Hy was “‘n soort swart Moses wat van die berg afkom om sy volk te verenig en wonderbaarlik te verlos van hul ‘onderdrukkers'” (68). En die Afrikanervolk? Die outeurs gee geen blyke dat hulle oor die huidige onderdrukking van Afrikaners of ander blankes begaan is nie. PW Botha het tereg gevra: “Hoe kan Afrikaners mag met die swart meerderheid deel sonder om ingesluk te word” (76). Deesdae is daar geen effektiewe magsdeling nie. Daar is verswelgende swart oorheersing. Maar dit is wat hierdie twee outeurs harteloos goedpraat.

As iemand dit waag om Mandela se vrylating teen te staan, soos JF Otto van die gevangeniswese, omdat Mandela weier om geweld af te sweer, word sodanige standpunt ‘n “politieke misgeboorte” genoem: “Otto skiet die idee van die vrylating van Prisonier 913 in vlamme af” (59), waarmee die outeurs die indruk probeer versterk dat dit eerder die “apartheidsregime” as die ANC is wat gewelddadig is. Hulle dink dat dit wonderlik sou gewees het as die geweldsvertroetelende Mandela reeds in 1982 vrygelaat is. Oor die weerstand teen Mandela se loslating op die land word geskryf: “Die soort denke … was … verstommend” (60). Daar was “‘n obsessie met veiligheid as alleensaligmakende strategie” (61). Wat het gebeur toe FW de Klerk doelbewus PW Botha se sekuriteitsmaatreëls afgeskaal het? Terroriste met hulle wapentuig het op groot skaal die land binnegedring; dermate dat De Klerk ‘n burgeroorlog voorsien het as hy nie aan die ANC se eise toegee nie. Sou die twee outeurs Vorster en PW Botha se “obsessie met veiligheid” veroordeel het as hulle gesinne deur ANC-terroriste uitgewis is?

Die volgende woorde van Mandela word goedkeurend aangehaal: “The ANC is not, and never has been, a communist organisation” (69). Die waarheid was en is: Die ANC is deels ‘n kommunistiese instansie. Besluitneming is dikwels deur kommunistiese simpatieë oorheers. Mandela se bekendste en skandaligste leuen word sonder teenspraak aangehaal: “I have fought against white domination, and I have fought against black domination” (70). Vir twee Amerikaanse joernaliste, John Carl Thomas en John Lofton, lieg Mandela in 1985 soos volg: “‘n Ánder beleidsrigting is ingeslaan na ‘n vorm van magsdeling-sonder-etniese-oorheersing” (151), waarmee hy verswelgende swart ras-oorheersing probeer verdoesel. Hy wou glo gelyke geleenthede vir almal skep. Maar waar is die voorbeelde van Mandela se weerstand teen swart oorheersing? Hieroor behoort geen twyfel te wees nie: Mandela het in sy doelwitte geslaag, naamlik swart oorheersing en die vernietiging van gelyke geleenthede vir nie-swartes. Vandaar Mandela se verwerping van groepregte, federalisme, tuislande vir minderheidsgroepe, blanke vetoreg en bowenal sy aandrang op gelyke stemreg vir alle volwasse landsburgers in ‘n eenheidstaat. Reeds in 1980 het Mandela laat blyk: “As die ANC aan die bewind kom, sal daar plek vir wit mense wees – ‘maar nie as besitter van die politieke mag nie'” (71). Hoedanig is daardie “plek” wat die ANC goedgunstiglik aan die blankes gun? Tweedeklasburgerskap, sonder enige waarborg dat blankes/Afrikaners se kultuur, veiligheid en selfs eiendomsreg beskerm word. Hoeveel beter sou die nuwe Suid-Afrika nie gewees het nie as die blankes (of as alternatief: die blankes, bruines en Asiate) (minstens) die helfte van die politieke mag behou het nie? In plaas daarvan is daar snel toenemende swart verswelging gerugsteun deur hoë “natuurlike” aanwas (sonder enige veldtog om geboortebeperking aan te moedig) en die ongebreidelde toename in meesal onwettige inkommers. De Klerk en sy groepie medepligtiges se mandaatlose oorgawe aan swart mag is een van die onnoselste gebeure (indien nie dié alleronnoselste gebeurtenis nie) in die annale van die mensdom.

Weens die omvang daarvan is dit prakties ‘n onbegonne taak om al die loftuitinge vir Mandela hier weer te gee. Ek volstaan met ‘n aantal van hulle. Mandela “het internasionaal én nasionaal die gesig van bevryding én die boosheid van apartheid geword … Mandela is tans [1987] Suid-Afrika se mees invloedryke en magtige leier” (104). Hy word beskryf as “wit Suid-Afrika se mees gevaarlike terroris en die wêreld se mees ikoniese vryheidsvegter” (105). Toe Mandela ‘n operasie ondergaan het: “As hy iets ernstigs oorkom, wat gaan van die land word?” (118). Dit is darem diep tragies as ‘n land se toekoms van iemand soos Mandela afhang. PW Botha “is klaarblyklik geïrriteerd met die versoeke van talle buitelandse leiers en meningsvormers om met Mandela ‘n gesprek te voer. [Dan volg hierdie stekie:] Daar was vermoedelik minder versoeke om met hom, die staatspresident, gesprek te voer” (122). “Prisonier 913 [was] ‘n politieke skaakspeler van formaat” (129). Daar was “Mandela se bereidwilligheid om aan kontakvorming en gesprek deel te neem ten einde vrede en stabiliteit in die land te verseker” (130). Het ons nou vrede en stabiliteit?

“Die enorme mistasting van regeringsleiers was dat hulle van mening was dat Prisonier 913 op daardie tydstip [1985] nog nie ‘n onaantasbare beeld as ‘n internasionale simbool van ‘n vryheidstryd, menseregte en demokrasie gehad het nie” (133). Die gevange Mandela is nie toegelaat om die begrafnis van sy seun en later sy ma by te woon nie. Dit het “die onmenslikheid van die apartheidstelsel bekragtig. Die idee dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom en teen menslikheid is, het strategies en takties gesproke in dié tye wyer inslag begin vind. Dit was vanuit ‘n morele en menseregtelike perspektief gesien, ‘n briljante skuif” (136). “Mandela as koninklike heer [!] toon nie net takt om [Helen] Suzman te antwoord nie, maar ook deursigtigheid én openhartigheid” (139). Volgens Suzman is Mandela “die land se enigste hoop” (143) – in Amerika is dieselfde van Barack Obama gesê. Volgens Mandela is daar “geen organisasie in Suid-Afrika wat só daartoe verbind is om probleme vreedsaam [!] te skik as juis die ANC nie” (143-144) – solank daar nie van Mandela en die ANC verwag word om geweld af te sweer nie. “Prisonier 913 was natuurlik ‘n uitgeslape strateeg én taktikus” (184), “‘n strategiese en taktiese denker by uitnemendheid” (185), “intelligent soos hy was” (191).

“Mandela is baie eerlik” (186). Hy het bv onvoorwaardelike vrylating verlang. Maar daarna is allerhande ononderhandelbare voorwaardes gestel voordat met grondwetlike onderhandelings begin sou word (231). Mandela het gesê: “Alvorens ‘n gesprek kan plaasvind moet die president meer positief ten opsigte van die eise wat hulle gestel het, reageer” (241). Daar word verwys na “die morele gehalte van sy insigte en leierskap” (205). “Die vermoë van ‘n inspirerende verbeelding het Mandela tot ‘n fyn kuns ontwikkel” (251). “Sy verbeelding was ook nie bloot polities nie, maar veral moréél geïnspireer” (252). “Mandela was egter nie ‘n moralis nie. Hy was ‘n strategies-pragmatiese denker” (253). Die blanke politieke magsoorgawe is “een van die grootste suksesverhale in die geskiedenis” (253). Oliver Tambo, Nelson Mandela en Thabo Mbeki “skiet nie met Russiese gewere nie, maar met woorde. Woorde, en nie gewere nie, wen uiteindelik die stryd om ‘n inklusiewe demokrasie in Suid-Afrika” (254). ‘n Mens vra jou af: Kan dit ooit verkeerd wees om ons eie Nelson Mandela te verheerlik? Kortom, volgens die outeurs kan en mag daar nie enige twyfel wees dat Nelson Mandela die allerwonderlikste mens was nie.

Ek gaan nou oor tot die bespreking van Esterhuyse en Van Niekerk se nuwe bevrydingshelde.

Winnie Mandela (1936-2018) geniet, soos Nelson Mandela, ikoniese status (58). Sy was ‘n “‘effektiewe verlengstuk van Mandela.’ Dit was ook die rede waarom die SA veiligheidspolisie haar met toegewyde ywer vervolg, geterroriseer en sielkundig probeer breek het” 68). Let op: Terwyl die outeurs nie enige ANC-kameraad as ‘n terroris etiketteer nie, word terrorisme wel aan die destydse veiligheidsmagte toegedig. Winnie was soos Nelson ‘n mobiliserende “simbool vanweë haar aktivisme, haar gemeenskapsbetrokkenheid, haar openlike uitdaging van die stelsel en die vervolging, brutaliteit en fisieke leed wat haar vanuit owerheidsweë aangedoen is” (211). “Haar aktivistiese rekord is indrukwekkend” (213). Lede van die veiligheidspolisie het hulle glo skuldig gemaak aan “obsessionele staatsterreur teen haar” (213). Die polisie het hulle na bewering skuldig gemaak aan “ongevoeligheid, onmenslikheid, kwaadwilligheid en selfs berekende moedswilligheid” jeens die Mandela-gesin (215). Winnie het “aan eie lyf en gees groteske onmenslikhede” ervaar (220). “Sy was ‘n besonder bedrewe openbare spreker” (214). Winnie se moraliteit word soms hoog aangeslaan: “Tot haar krediet én persoonlike integriteit moet gesê word dat Winnie Mandela dié toenadering [gesprekvoering met Nelson Mandela] van [Kobie] Coetsee nie aan die groot klok gehang het nie” (93). Die outeurs hou van die volgende parasitiese “uitdaging”/eis wat Winnie haar aangematig het om aan ‘n blanke skoolkind te stel: “Bring honderd wit skoolkinders wat honderd swart skoolkinders vir kos en klere sal ‘aanneem'” (103).

Die outeurs doen moeite om Kobie Coetsee (1931-2000) as ‘n onbesonge held van die oorgangs/ondergangsgeskiedenis staan te maak omdat hy aanvanklik sonder goedkeuring met die gevange Mandela in gesprek getree het. “Mandela kry by Coetsee ‘n versekering wat hy broodnodig gehad het, naamlik dat hy ‘n beduidende rol sal kan speel in die normalisering van toestande in Suid-Afrika” (93). Daardie “normalisering” het na Mandela se vrylating verskerpte terrorisme ingesluit. Wat Coetsee gedoen het, word “‘n slim skuif” genoem (96). Hy word beskryf as “‘n baie komplekse mens” (100). Maar in Niël Barnard se boek, Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge (Kaapstad: Tafelberg, 2017, 328p, R280; Amazon Kindle $25,30),* “kom Coetsee sleg daarvan af” (100). Daar is al vroeër verwys na Coetsee se onverklaarde “afwesigheid” (83). Hy het ‘n “reputasie gehad dat hy nie van harde werk gehou het nie” (106).

[* Niël Barnard noem Coetsee het “ewiglik laat by vergaderings opgedaag” (p 32). Verder: “Coetsee sal waarskynlik vir twee dinge onthou word: dat hy met ‘n hospitaalbesoek in 1985 die eerste NP-politikus was wat die gevangene Nelson Mandela ontmoet het en dat hy met sy latere jakkalsdraaie tydens die onderhandelinge reg in die hande van die ANC gespeel het” (34), bv sy uitspraak dat “geweld en onderhandeling onlosmaaklik verbind is” (90). Wat Coetsee ter bevoordeling van Mandela en die ANC gedoen het, is wat hom in die oë van Esterhuyse en Van Niekerk geliefd maak. Barnard skryf: “Sommige van ons het gewonder of die feit dat hy selfs by die president met moord wegkom, beteken het dat hy die staatshoof op ‘n ongemaklike plek beet het. Van Coetsee het PW Botha volgens die Britse joernalis Anthony Sampson gesê: ”n Snaakse klein mannetjie. As jy my vra wat hy in my kabinet gedoen het, ek weet nie. Ek het altyd gevoel, nadat ek met hom oor Mandela gepraat het, dat dit ‘n geval was van verwarring wat net vererger'” (35).

Barnard was ten gunste daarvan dat “algemene amnestie aan almal aan weerskante van die spreekwoordelike loopgrawe toegestaan word … Coetsee het hom onmiddellik heftig teen algemene amnestie verset” (51). FW de Klerk kon ook nie oortuig word nie omdat hy blykbaar in die waan verkeer het dat hy beheer in die nuwe Suid-Afrika sou behou. “Coetsee het klaarblyklik gemeen dat met die toestaan van algemene amnestie die kans verspeel sou word om die ANC oor sy menseregtevergrype aan die pen te laat ry. Op die ou end het dit tragies geboemerang en net mooi die teenoorgestelde van wat hy voorsien het, het gebeur. Die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) is ingestel waar tydens dié se sittings die sondes van hoofsaaklik die veiligheidsmagte maand ná maand uitgeryg en aan die groot klok gehang is. Coetsee het geskitter in sy afwesigheid by die WVK, waar hy sy dapper standpunte volledig kon verduidelik het” (51-52). Sowel Coetsee as De Klerk moet dus ernstig verkwalik word omdat amnestie nie aan veral die veiligheidsmagte toegestaan is nie. Barnard verwys in hierdie konteks na Coetsee se “bontpratery … dit was min mense beskore om te verstaan wat Kobie Coetsee met sy abrakadabra wou bereik. Wat ek duidelik was, is dat Coetsee die kwessie van amnestie as ‘n troeflaart in die onderhandelinge wou gebruik om sy eie beïnvloeding van die skikkingsproses te anker. Daar het egter niks van gekom nie” (93). “Ek kan steeds moeilik my wrewel oorkom oor Coetsee se slimmighede wat ons amptenare op die ou end weerloos gelaat het. Sy beterweterigheid het ons, soos voorheen, duur te staan gekom” (95-96). De Klerk het erken: “Die manier waarop ons die kwessie van amnestie hanteer het, was waarskynlik ons grootste mislukking gedurende die onderhandelingsproses” (95). Esterhuyse en Van Niekerk swyg egter hieroor.

Volgens Barnard het Coetsee in ‘n stadium “skielik as ‘n kenner van menseregte ontpop… Hy het die manier gehad om sekere sake vir homself toe te eien waarna dit in ‘n doolhof verdwyn het waar dit maande of jare lank stof vergader het sonder dat hy die saak afgehandel het. Indien dit wel weer te voorskyn gekom het, was dit onherkenbaar vervorm” (82). “Coetsee was reg toe hy later opgemerk het dat dit lyk of die vordering met die onderhandelinge die produk van geweld en massa-aksie was en dat die persepsie bestaan dat die Regering die wil en vermoë verloor het om by sy standpunte te hou. Dié persepsie was in die kol, maar waar was hy as ‘n senior Kabinetslid om die vaandel van vasberadenheid hoog te hou en dié persepsie om te keer?” (91). Coetsee het andersins “‘n ontwrigtende rol gespeel”: “Niemand kon agterkom waarmee hy eintlik besig was nie” (248).]

“Daar is min twyfel dat Coetsee homself beskou het as ‘n magsbemiddelaar (power broker) tussen die apartheidsregime en ‘n nuwe gedemokratiseerde bedeling” (Esterhuyse en Van Niekerk, p 105). Terwyl die grondwetlike onderhandelinge aan die gang was, was sowel Coetsee as De Klerk in buite-egtelike verhoudings betrokke. Hulle kon hulle gate uit (in?) geniet, terwyl hulle eerder die wesenlike bedreigings van die Swart Gevaar en die Rooi Gevaar doeltreffender die hoof moes gebied het. Die outeurs verswyg Coetsee se buite-egtelike verhouding met Adrienne Kock (1935-2018). Hulle noem bloot dat hy polities deur haar beïnvloed is (198). Coetsee is ‘n hoogs onwaarskynlike held, maar Esterhuyse en Van Niekerk se invalshoek en fanatiese linksheid maak hierdie wanvoorstelling moontlik. “Waarvan ons seker is, is dat Coetsee ‘n politieke padmaker na ‘n nuwe Suid-Afrika was” (198) – ‘n pad wat met slaggate besaai was en is.

Op 10 Oktober 1989 het Coetsee tydens ‘n besoek aan Mandela gesê: “The plan that you have put together … has almost become our plan. Almost down to the minutest detail … You are the great negotiator now” (225). “Coetsee erken dat hy en sy medewerkers die plan wat Prisonier 913 voorgelê het om ‘n begin te maak met ‘n skikkingsproses, aanvaar het. Wat Coetsee en sy span egter verwag, is ‘a commitment from your colleagues that they will strive towards peaceful and orderly integration into society without upheaval … and won’t make it difficult … Well, as I say, we have made your objectives our own and it seems feasible, it seems attainable, and if we perhaps share some of our difficulties with you we may bring about adjustments in your ideas and your views” (225-226). Dit vertolk “die byna totale afhanklikheid wat die Coetsee-span, en ook die staatspresident, van Prisonier 913 se welwillendheid en samewerking gehad het” (226). Vergoeding het nie agterweë gebly nie. Coetsee het “Mandela se kandidaat as president van die Senaat geword” (106). Hoekom nie? Olusegun Obasanjo (president van Nigerië, 1999-2007) het immers van Coetsee gesê: “He keeps on saying that Nelson is a man of honour. A man of his word” (123). Obasanjo het ook so pragtig gesê: “even [!] amongst the whites there are some good people” (123), waarvan die twee outeurs seker sprankelende voorbeelde is.

FW de Klerk is ‘n mini-held in die proses van oorgawe aan swart mag. Hy “tel die bal op” (10) en laat dit volgens die outeurs nie val nie. De Klerk is “‘n goeie man … Hy is ‘n sterk en intelligente leier” (146). Hy het “visionêre leierskap” aan die dag gelê (208). As alternatief kon hy “staatsgedrewe gewelddadige optrede, kanonne, koeëls en kruit gekies het, maar hy het nie” (239). De Klerk se “beroemde” toespraak op 2 Februarie 1990, wat tot swart meerderheidsregering gelei het, “was ‘n grootse en baie moedige stap” (221). “De Klerk en sy raadgewers [het] ‘n pakket ontwikkel wat die hele wêreld verstom het. Stuksgewyse hervorming was verby. De Klerk voer ‘n politieke kragtoer uit” (234). In die plek van evolusionêre verandering het revolusionêre magsoorgawe gekom. Daar word valslik beweer dat De Klerk gesorg het vir “gestruktureerde en inklusiewe onderhandeling” (236). In werklikheid was daar bitter min sprake van struktuur omdat daar nooit ‘n duidelike onderhandelingstrategie aan die kant van die NP-regering was nie. Die onderhandelinge was spoedig ook nie inklusief nie. Ná Kodesa het De Klerk en sy groepie medepligtiges feitlik eksklusief met die ANC onderhandel en van ander partye verwag om die uitkomste daarvan te aanvaar. De Klerk “promoveer ‘n beeld en gees wat vertroue inboesem. Daar is [in 1989] ‘n gees van welwillendheid, onderhandeling en versoening in die land” (228). In ‘n verslag van die Nasionale Intelligensiediens in Desember 1989 staan geskrywe: “Sou ‘n mens werklik die kernproblematiek van ons land wou aanspreek, is [Prisonier] 913 in alle waarskynlikheid die beste beginpunt” (233). “FW de Klerk het die morele moed en strategiese vernuf gehad om dié besluit te neem” (233). De Klerk “is wêreldwyd geloof” (249). “Hy word uiteindelik tereg, saam met Mandela, [in 1993] met die Nobelprys vir vrede beloon” (10). Het ons sedertdien salige vrede in hierdie droewe land?

Daar is minder bekende mense wat deur die outeurs as helde in die bevryding van die blanke politieke bewind en apartheid uitgebeeld word. Die linkse sosioloog, HW van der Merwe (1929-2001), van die Universiteit Kaapstad, en sy vrou, Marietjie, word geloof omdat hulle Winnie Mandela rondgery en gehuisves het en ook met die heil van ‘n Mandela-kind gemoeid was. “Die Van der Merwes het helaas nog nooit die openbare erkenning gekry vir hul bydrae om ‘n beslissende oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis te help skep nie” (98-99). Hulle word eintlik deur die outeurs verhef tot rolmodelle vir alle Van der Merwes. Kobie Coetsee het die twee Van der Merwes toegelaat om Prisonier 913 te besoek (99).

Pieter de Waal, ‘n studentevriend van Kobie Coetsee en destyds die enigste prokureur op Brandfort, en sy vrou, Adèle (Retief), word as bevrydingshelde uitgebeeld omdat hulle hulle oor Winnie Mandela ontferm het. Die outeurs dik dit soos volg aan: “Ten spyte van ‘n mensonterende, rassistiese en onderdrukkende stelsel was daar altyd op die vlakke van persoonlike verhoudinge en vriendskappe mense wat nierassige en kruiskulturele verhoudings kon vestig en onderhou. Mense wie se morele verbeelding nie só deur die apartheidsideologie en rassistiese strukture besmet was dat hulle nie op die vlak van menswaardheid geregtigheid kon bevorder en handhaaf nie. Die De Waals van Brandfort is ‘n voorbeeld van dié faset van ons land se ingewikkelde en rassistiese geskiedenis” (103). Sou die outeurs die parasiterende ideologie van die ANC, bv onteiening sonder vergoeding van blankes se plase, as “‘n mensonterende, rassistiese en onderdrukkende stelsel” bestempel? Sekerlik nie. Hulle sou dit seker eerder regstellende geregtigheid noem.

Laastens is daar die selfbesonge held, Willie Esterhuyse, wat in opdrag van die Nasionale Intelligensiediens in die buiteland onderhoude met verteenwoordigers van die ANC gevoer het. In sy boek, Geheime revolusie (2015), verwys Niël Barnard egter net ‘n enkele keer na hierdie “gesiene Stellenbosse filosoof” (p 197). In Barnard se ander boek, Vreedsame revolusie, word die nogeens “gesiene” Esterhuyse net genoem weens sy “goeie persoonlike verhouding” met Thabo Mbeki (p 20-21); so goed dat Esterhuyse hom feitlik van die begin van sy onderhandelinge af eerder aan die kant van die ANC as die NP-regering geskaar het, soos duidelik uit Esterhuyse se boek, Eindstryd, blyk.

‘n Mens word aan jou helde geken.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.