Thys Human: ‘n Aweregse lewensgeskiedenis van Pik Botha

Lofliedere wemel op die radio en TV oor Pik Botha en sy rol in die totstandkoming van die Nuwe SA, maar in my boek staan daar ‘n heel ander verhaal opgeteken – ‘n verhaal van jare lange ondergrawing en ondermyning van die Afrikaner se bestaan en sy politieke beleid. Ek sal so kort moontlik probeer wees, maar dit is ‘n lang geskiedenis.

Pik die politikus het my joernalistieke pad gekruis toe hy in 1970 as NP-LV vir Wonderboom verkies is. Ek was toe reeds meer as ‘n jaar parlementêre beriggewer vir die Perskor-koerante. Maar dit was nie die eerste keer dat hy openbare aandag getrek het nie. As lid van Suid-Afrika se span by die Suidwes-saak in die Wêreldhof het hy as jong advokaat reeds begin om die aandag te trek en sy pad politiek toe was wawyd oop.

En dit was nie die eerste keer dat ons paaie gekruis het nie. In my eerstejaar as PUK-student was hy Tukkies se rasieleier met die intervarsity. Hy het ons dirigent ore aangesit, want Pik was nie net baie skerp nie, maar dinamies en glad van bek. En in my eerste dienspligkamp het ons paaie ook gekruis want hy was in sy laaste 3-weke-kamp. Daar is ‘n lekker storie daar rondom ook, maar dalk anderdag meer daaroor.

Sy parlementêre loopbaan het met ‘n “bom” begin. In sy nooiens- of eerstelingstoespraak het hy die ongehoorde ding gedoen om nie oor koeitjies en kalfies te praat, soos dit die gebruik was nie, maar ‘n sterk pleidooi gelewer dat SA die VN se Handves van Menseregte aanvaar en onderteken. Die hel was los en hy is skerp veroordeel deur verkrampte politici, maar ek het hom nie alleen gesteun nie, maar aangemoedig om die kwessie verder te vat want as ‘n mens mooi gaan kyk na daardie handves dan kon die NP se beleid van afsonderlike ontwikkeling en ‘n uiteindelike federale of konfederale Suider-Afikaanse staat, met goeie reg daaraan voldoen. Natuurlik sou die VN met sy eensydige en eintlik bekrompe sieninge, nie SA se vertolking aanvaar het nie, maar dit sou ‘n groot diplomatieke en propagandaskuif gewees het. Daar het natuurlik niks van die idee gekom nie, maar Pik het darem die storm oorleef.

Net vier jaar later word hy aangestel as SA se ambassadeur in die VSA en by die VN. Dit was net voor SA uit die Algemene Vergadering geskop is en Pik het ‘n groot rol gespeel om dit te probeer voorkom. SA het ‘n spesiale span onder leiding van destydse Minister van Buitelandse Sake, dr Hilgard Muller, na die VN gestuur – en Perskor het my New York toe gestuur om die gebeure te dek. Uiteraard het ek noue kontak met Pik en die afvaardiging gehad, maar ek het toe reeds begin dink dat Pik nie ‘n maklike mens is om mee saam te werk as jy nie in sy goeie boekies is nie. Hy was toe al dik in die Naspers-dampkring ingetrek – seker maar weens sy goeie verhouding met David de Villiers, SA se hoofregsman by die destydse Wêreldhofsaak wat toe later voorsitter van Naspers se direksie geword het. Nogal veelseggend hierdie noue band.

Kwalik twee jaar later is Pik weer voorbladnuus toe dit bekend word dat hy daarin geslaag het om ‘n gesprek tussen John Vorster en die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, te reël. Dit het in Duitsland plaasgevind. Weer eens het Pik my pad gekruis want ek was toe Perskor se nuusman in Londen en ek het die Vorster-Kissingergesprek gedek. Daar was groot bespiegelings waaroor die gesprek gegaan het, maar At de Beer, Perskor se man in Washington (‘n ou vriend en kollega van my) het laat weet dat dit beslis gaan oor die toekoms van SA se mandaat oor Suidwes-Afrika. Daar was later bespiegelings dat dit ook oor SA se steun vir Rhodiesië gegaan het (sien verder hieronder). Maar al my pogings om in Duitsland by Pik binne-inligting te kry, het totaal misluk. Hy wou nie eens met my praat nie – en John Vorster was net so ontwykend.

Indien Suidwes wel die hoofsaak in die gesprekke was, het dit kort daarna platgeval toe Jimmy Carter (Demokraat) as president van die VSA verkies is. Vorster het toe weer – danksy Pik se werk – met Carter se adjunk, Walter Mondale, in Switserland gesprek gevoer, maar die twee kon mekaar nie vind nie – inteendeel, Vorster was taamlik minagtend oor Mondale se politieke intelligensie!

Maar vir Pik was dit ‘n keerpunt in sy politieke lewe. Vorster was natuurlik in sy noppies dat hy met dié ontmoetings op die wêreldkaart geplaas is en hy het Pik gou beloon vir sy groot aandeel hierin. Toe Hilgard Muller voor die 1977-verkiesing aankondig dat hy uit die politiek tree, is Pik onmiddellik deur Vorster as minister van buitelandse sake aangestel (Pik het toe LV vir Westdene geword) – maar feitlik net daar het Pik begin om Vorster en Connie Mulder, feitlik klaargekroonde eerste minister as Vorster uittree, te ondermyn en uiteindelik heeltemal uit te werk.

Maar nog voor dit het Pik weer eens ‘n sentrale rol gespeel in die “oorlog” in Angola. Dit is natuurlik ou nuus dat PW Botha einde 1975 ‘n hele brigade van die Weermag in Angola ingestuur het – sonder selfs Vorster se medewete. Dis ‘n storie op sy eie, maar die uiteinde was dat die SA soldate die Kubane en Angolese teruggedryf het tot aan die buitewyke van Luanda, maar toe daar moes sit en wag vir die Amerikaners om te besluit of hulle SA se optrede gaan steun of nie. Net onlangs het ‘n Weermagvriend ‘n ou storie wat ek gehoor het, bevestig dat van die soldate in “civvies” in Luanda se strate rondgeloop het – selfs vis en skyfies gaan koop het!

Vroeg in 1976 laat weet Pik uit Washington dat die Amerikaanse State Department nié verdere SA optrede sal steun nie – en die troepe word teruggetrek tot in die suide van Angola.

Weer eens het Pik se paaie op ‘n wyse met myne gekruis. Suid-Afrikaners het nie geweet van die “inval” in Angola nie. Die plaaslike media is gesensor en verbied om enigiets daaroor te skryf totdat die terugtrekking deur Vorster aangekondig is. Maar ek het in daardie tyd in Londen gesit en elke dag in die Britse media gelees van die “flying column” in Angola en selfs in ‘n onderhoud op BBC-nuus die mening uitgespreek dat dit nie Suid-Afrikaners kan wees nie, maar as dit is, dit ‘n ernstige fout sou wees. En my berigte wat ek na Perskor se koerante gestuur het wat die mediaberigte oorsee se bewerings oorgedra het, is eenvoudig nie gepubliseer nie.
Teen hierdie tyd het Pik ‘n baie noue verhouding met die Amerikaanse Council for Foreign Relations aangeknoop. Die CFR was toe ‘n baie invloedryke nie-regeringsorganisasie met baie prominente sakemanne, politieke figure en ook militêre hooggeplaastes wat in ‘n hoë mate Amerika se buitelandse beleid “bepaal” het.

Die groot maar onbeantwoorde vraag wat al die jare by my gebly het, is presies hoe sterk was die CFR se rol in die State Department se “besluit” om SA se optrede in Angola nie goed te keur nie – in weerwil van beweerde sterk steun in die Pentagon vir daardie inval? En presies wat was Pik se rol en insette in daardie “besluit” van die State Department? Ek het nie bewyse nie, maar ek het wragtag sterk suspisies en bedenkinge.

In daardie selfde jare het Pik ook ‘n groot rol gespeel om John Vorster te oortuig om nie langer militêre en ander steun aan Ian Smith se Rhodesië te verleen nie.

Smith vertel in sy outobiografie hoe hy en Vorster nog besig was om die netelige kwessie te bespreek, toe storm Pik die vertrek binne met ‘n stuk papier en sê dit is ‘n teleks wat nou net aangekom het waarin die Amerikaners glo dreig met optrede teen SA as SA voortgaan om Rhodesië te help – of iets in daai rigting. Daar was blykbaar toe al sulke geluide, maar volgens Smith was daai teleks al ‘n week of twee oud – hy en sy mense het lankal daarvan geweet! Hy verwys baie snedig na Pik se bedrieglike manewales. Smith bestempel Pik as ‘n “actor” wat dit blykbaar genoet om rolletjies in politieke dramas te speel! En hy is reg. Dit was tipies van Pik om sulke “krisisdramas” te ontwikkel waarin hy die hoofrol speel!

Met die 1980-verkiesing in Rhodesië het Pik wyd en syd verkondig dat Abel Mazurewa gaan wen. Ek het met die Lancaster House-beraad einde ’79 in Londen al gesien hoe dinamies en doelgerig Mugabe is – en toe en later in Oggendblad voorspel dat hy gaan wen.

Die Inligtingskandaal

Maar Pik se grootste sege was sy agterbakse en doelbewuste rol om Connie Mulder en toe ook Vorster in hulle politieke maai te stuur.

Die storie begin eintlik in 1974 toe Vorster ‘n goedontwerpte plan van Eschel Rhoodie en Connie Mulder goedgekeur het om ‘n onortodokse en soms rewolusionêre inligtingsveldtog te begin om anti-Suid-Afrikaanse propaganda hier en in die buiteland teen te werk. Met gebruik van geheime fondse het hulle joernaliste omgekoop, probeer om koerante in die VSA en elders te koop, invloedryke mense na SA gebring, Afrikaleiers gekry om Vorster te ontmoet en ‘n klomp ander dinge. Rhoodie vertel breedvoerig hieroor in sy boek, Die Ware Inligtingskandaal.

Een van die mees omstrede aksies was om met geld uit PW Botha se geheime wapenfondse ‘n Engelstalige dagblad met die naam The Citizen hier te begin. Hulle het kunsmismagnaat Louis Luyt as frontman gebruik. Daar was glo al skimpe en bedenkinge oor die blad se ontstaan in die plaaslike Engelse pers, maar toe Vorster aankondig dat hy uittree as Eerste Minister en staatspresident wil word, het die wiele begin rol.

Connie Mulder was, soos al gestel, beskou as Vorster se kroonprins, maar PW het aangekondig dat hy hom ook beskikbaar stel vir die pos. Pik het sy kans gesien om Mulder in sy maai te stuur, PW aan bewind te kry en so sy eie invloed en aansien in die NP te bevorder.

As minister van buitelandse sake het Pik oor heelwat inligting oor Rhoodie en kie se inligtingsaksies beskik – en glo self aan sekere dinge deelgeneem of ‘n rol gespeel.

Die storie, soos ek dit uit minstens twee bronne gehoor het – en, as ek reg onthou,verwys Rhoodie ook daarna in sy boek – bel Pik wat in Pretoria sit vir PW in die Kaap en vertel hom dat hy pas verneem het dat Mulder en Rhoodie staatsfondse gebruik het om The Citizen te begin. En PW is ewe geskok – al het hy en ander kabinetslede toe lankal daarvan geweet want die geld vir die koerant se stigting het uit PW se geheime Weermagfonds gekom – en hy moes teken om dit los te kry.

PW beveel Pik om dadelik Waterkloof-lughawe toe te gaan waar ‘n militêre vliegtuig gereel word om hom Kaap toe te vlieg – maar hy moet eers in Bloemfontein aandoen om Alwyn Schlebusch, Vrystaatse leier van die NP, op te laai.

Na ‘n lang gesprek in die Kaap word daar toe ooreengekom dat Pik homself ook as kandidaat vir die EM-pos beskikbaar sal stel, stemme so van Connie sal wegvat, en dan sy volle steun aan PW gee in die finale stemming. Die NP-koukus sal volledig ingelig word oor Mulder se “onbehoorlike” optrede – en sommer ‘n paar ander stories sal ook opgedis word.

Dis geskiedenis dat Pik toe in die eerste ronde uitgeval het, sy stemme aan PW toegesê het vir die finale ronde – en so gesorg het dat PW die stryd wen – en hy wat Pik is ‘n ongekende hefboom het om PW in die toekoms te manipuleer!

Maar PW en Pik was nie tevrede om Mulder net te klop nie – hy moes polities vernietig word. Die hel het behoorlik losgebars toe die dinge begin uitlek en PW was gou om regter Anton Mostert aan te stel om die dinge te ondersoek – en dit toe opgevolg met ‘n kommissie onder ‘n obskure regter, Roelof Erasmus wat ‘n uiters verdraaide, maar verdoemende verslag uitgebring het wat daartoe gelei het dat Mulder uit die kabinet geskop is – en selfs Vorster moes uittree as staatspresident.

Weer eens het Pik se dinge ook oor my pad gekom. Ek sit toe nog in Londen en op ‘n goeie dag kry ek ‘n telefoonoproep en die persoon stel homself voor as regter Anton Mostert en hy wil met my kom gesels. Ek het vir hom bier gekoop in die London International Press Club – en hy pak toe daar uit oor al die dinge wat Connie aangevang het – en vertel sommer vir my van die foto’s wat hulle het wat van Connie in ‘n bordeel in New York of so iets geneem is.

Tot hede dag wonder ek nog hoekom ek – obskure joernalisie in die verre Londen – uitgekies is om dié dinge te moet hoor? Maar dit was algemeen bekend dat ek ‘n Connie-man was en ek kan net vermoed dat iemand erens besluit het dat daar seker gemaak moet word dat ek nie dinge skryf wat hulle kaarte deurmekaar kan krap nie. Ek het egter toe al Mostert se stories met ‘n sterk knippie sout geneem – en tereg ook want die stories oor die foto’s het toe ook gou verdwyn!

Dit was egter nie die einde van my “betrokkenheid” by die “Inligtingskandaal” nie. Daar sal onthou word dat daar toe ‘n lasbrief vir Eschel se inhegtenisname uitgereik is en generaal Lang Hendrik van den Berg en ‘n bekende sakeman het daar in Londen rondgehol om hom te soek – en ek al agterna om te sien wat hulle aanvang. En my jong Londense kollega is na die Suide van Frankryk toe Rhoodie daar in die hof verskyn het. Rhoodie is uiteindelik totaal onskuldig bevind aan alle aanklagte teen hom en die staat moes hom derduisende rande terugbetaal – en sy regskoste ook vergoed! Vir Pik en PW was dit seker ‘n groot teleurstelling want in wese is Mulder toe ook “onskuldig” bevind van al die bewerings teen hom!

Maar Pik het hom nie daardeur laat afsit nie. Agter die skerms was hy een van die hoofagente vir PW se “Nuwe Bedeling” – en dit sou later ook weer ‘n regstreekse uitwerking op my en my doen en late en loopbaan hê. My openlike teenstand teen die nuwe bedeling het my verbintenis met Perskor beëindig toe Oggendblad en Die Transvaler toegemaak is weens die sirkulasiebedrog van Die Transvaler. Oggendblad se sirkulasie het in sy laaste paar maande verdubbel! Maar dis ‘n ander storie.

Ek is toe Suidwes toe en het uiteindelik by die ou SWAUK beland. Ek was net besig om huis daar te koop, toe beklink Pik ‘n ooreenkoms met die VN om die 435-verkiesing te laat plaasvind. Weer eens het Pik verkondig dat die Turnhalle-groep gaan wen en Swapo gaan verloor. Weer eens het ek hom nie geglo nie – en vir my ‘n werk by ‘n staatsdepartement in Pretoria gekry – en ‘n week na die aankondiging van Swapo se oorwinning my goed gepak en padgegee.

Neem enigeen my kwalik dat ek hierdie totaal ander siening van Pik en sy dade en aksies het?

Maar dinge het vir Pik ook begin skeefloop. Op ‘n dag het ‘n berig verskyn dat Pik ‘n prostituut na sy hotelkamer in Durban laat kom het. Hy moes bontstaan tot sy privaatsekretaris in die oepnbaar verklaar het dat dit hy was wat die prostituut vir homself gehuur het. Maar snaaks genoeg, die PS se vrou het hom nooit gelos nie – en vandag sit hy seker nog in ‘n lekker buitelandse pos in buitelandse sake wat Pik vir hom besorg het!

En toe beland Pik se vrou, die “skone Helena” soos sommige van ons haar genoem het, in die hospitaal en in ‘n rystoel. Mooi en baie aangename mens. Die stories loop dik dat Pik haar (weer) gebliksem het, maar dit word ontken en toegesmeer. Maar op ‘n goeie dag het ek uit ‘n goeie bron na aan die familie gehoor dat sy seun. Piet, gesê het dat as sy ma doodgaan na die “val”, gaan hy sy eie pa van moord laat aankla. Helena is in 1996 dood na ‘n lang tyd in ‘n rystoel – en Pik is betreklik kort daarna weer getroud.
Want Pik Botha kan net met die Engelse woord “a womanizer” beskryf word. Sy manewales met vroumense was wyd bekend onder die mediamense. Ek self het minstens twee van hulle geken, maar laat hulle name maar verswyg word. Hulle leef nog.

En die tweede woord waarmee mens Pik reg en goed kan beskryf, is “suiplap”. Veral rooiwyn was sy gunsteling. Weer eens was Pik se dronkmanewales wyd onder die media bekend, maar dit is toegesmeer en verswyg. Betreklik onlangs het ‘n weermaglid-vriend nog vir my vertel hoe kabinetsministers glo op ‘n wildplaas van die KwaNdebele-regering gaan jag het, maar eintlik daar was vir suipsessies – en hy en sy makkers wat hulle moes oppas, moes vir Pik (en andere) uit hulle braaksels optel en in die bed sit.

Pik Botha word nou geloof – veral deur die ANC wat hom as ‘n “freedom fighter” bestempel. En tereg ook want as daar een enkele politikus is wat ‘n lang reeks van dinge gedoen het wat ons in die huidige gemors laat beland het, was dit Pik.

In my Afrikaner-boek sal hy vir ewig geskryf staan as ‘n agterbakse ondermyner, ‘n leuenaar en ‘n bedrieër, en ‘n verraaier van die Afrikaner en sy bestaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.