ANC begin grond sonder vergoeding onteien

'n Onlangse voorval van grondbesetting. Foto: Facebook, Front Nasionaal.

Die ANC-leierskap van Ekurhuleni, die monsteragtige “metro” wat op die Oos-Rand geskep is en  uit verskillende dorpe en stede bestaan, het vorendag gekom met die land se eerste “onteiening sonder vergoeding”.

Die swart ANC-burgemeester van die uitgestrekte stedelike gebied, Mzwandile Masina, het jubelend aangekondig dat die eerste eiendomme van blanke eienaars op die Mugabe-manier, ná die model van Zimbabwe se voormalige diktator, onteien gaan word. Donderdag het hy verklaar:

“Die Ekurhuleni-raad het besluit om tot die onteiening van grond sonder vergoeding van vier eiendomme in die stad oor te gaan. Ons toets die grense van Artikel 25 van die Grondwet om die inklusiewe behuisingsontwikkeling vir ons mense te versnel. Daar is geen terugkeer nie! ”

Sowel die DA as die VF Plus het hul teen dié besluit van die metroraad uigespreek. Jennifer Rautenbach, ‘n raadslid van die Vryheidsfront Plus, het gesê dat die party “gekant is teen onteieing sonder vergoeding en het sy teenkanting duidelik teen die besluit uitgespreek. Die party sal toesien dat Artikel 25 van die Suid Afrikaanse Grondwet korrek toegepas word in dié verband.

Burgemeester Masina is duidelik besig met niks anders nie as politieke propaganda in ‘n voorverkiesingsjaar.”

Ook die Demokratiese Alliansie (DA) in die raad het gestem teen die besluit om vier eiendomme te onteien. Raadslid Philip de Lange het ‘n verklaring uitgereik en gesê:

“Ons glo dat die proses van onteiening sonder vergoeding geloods word sonder dat meer behuising beskikbaar sal raak, aangesien die ANC eenvoudig nie die politieke wil het om die mense te dien nie. Sedert die begin van demokrasie in 1994 het die behuisingsagterstand eksponensieel gegroei, as gevolg van die ANC se gebrek aan behuisingslewering en uitgebreide korrupsie. Wat sal nou verander, want die metro is alreeds bekend dat hy stadig titelaktes aan inwoners uitdeel?

“As die DA glo ons in eienaarskap. Eienaarskap bring nie net sekuriteit wat eienaarskap betref nie, maar dit bemagtig ook mense om ‘n bate te gebruik om kapitaalwaarborge te verkry, en dit skep  rykdom. ”

Die vier eiendomme wat van hul eienaars gekonfiskeer word, is:

• Gedeelte 40 van Plaas Rietfontein 63-IR, wat 4,4 ha beslaan en privaat besit word;

• oorblywende gedeelte 2 Elandsfontein 90-IR, wat 101.2ha beslaan en privaat besit word;

• die oorblywende gedeelte van Benoni 77-IR, wat 205ha beslaan en deur die regering besit word; en

• gedeelte 406 Plaas Driefontein 85-IR, wat 33.6ha is en privaat besit word.

Nie een van die drie private eienaars het nog gereageer op die munisipaliteit se besluit nie. Praag het egter met mnr. Jaap Kelder, ‘n sakeman en voormalige stadsraadslid aan die Oos-Rand, gepraat.

“Ek is baie bekommerd oor hierdie besluit,” het Kelder gesê. “Onteiening is ‘n ernstige probleem. Geen persoon by sy volle verstand sou  in Suid-Afrika wou belê nie omdat hy weet dat hy onteien kan word deur ons radikale regering.

Gevra oor die uitwerking op eiendomswaardes, het hy geantwoord: “Waardes gaan eenvoudig daal. Niemand wil langs ‘n plakkerskamp woon nie. Dit is wat gaan gebeur met die onteiende stukke grond; hulle sal in plakkerskampe verander word.

“Dit het alreeds met die voorstad Glen Marais gebeur. ‘n Skare swartes het eenvoudig die grond binnegeval en hutte tot teenaan die supermark opgerig. Niemand wil meer daar woon nie. ”

Die afname in Suid-Afrika se mynboubedryf skep ook geleentheid vir onteiening. “Ekurhuleni het baie myngrond; party van dié maatskappye is gelikwideer, nou kan jy net op die ou myngrond plak en die munisipaliteit sal dit vir jou onteien, “het Kelder gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.