Leon Lemmer: Die SAUK/SABC: Onafhanklik van die regering of lakei?

Wynand Harmse was die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) van Mei 1988 tot September 1994, dus toe Suid-Afrika getransformeer is van ‘n Europees-Westerse land tot nog ‘n Afrika-land. Harmse het in 1963, toe hy 23 jaar oud was, met ‘n B.Com-graad by die SAUK in diens getree, was op 29-jarige ouderdom die hoof van die finansiële afdeling en het daarna deur die range tot bo gevorder. Die volgende boek van hom is onlangs gepubliseer: SAUK, 1936-1995: Steeds sleutelspeler of bedreigde spesie? (Tygervallei: Naledi, 2018, xx + 446p, R350). Die outeur het uitmuntende navorsing gedoen en die resultaat het in ‘n goed geformuleerde en deeglik gesistematiseerde teks neerslag gevind. Ek was aan die begin skepties oor Harmse se politieke aanslag omdat hy deurgaans van die “vryheidsverkiesing van 1994” (bv p xiii) praat, terwyl blankes daardie gebeurtenis eerder as onderploeging of verslawing ervaar. Hy het myns insiens met te groot oorgawe aan transformasie meegewerk, onder meer omdat hy aanvanklik nie die omvang van die 1990/94-ramp besef het nie: “Dit was transformasie in groter maat as wat voorsien kon word” (406) en “Ek het die omvang van veranderinge wat sou plaasvind ver onderskat” (432). Ter versagting moet genoem word dat die tsoenamie van swart mag die SAUK gouer as die res van die land getref het. Sedert Junie 1993 sit die SABC met ‘n raad wat deur ANC-kornuite oorheers word.

Wat ook ‘n verligte aanslag aan die boek verleen, is die voorwoord deur Ton Vosloo. Hy wou die manuskrip ter insae hê voordat hy tot die skryf van die voorwoord ingewillig het. Dit is verstaanbaar omdat Naspers met sy M-Net subskripsiediens in 1985 in direkte mededinging met die SAUK getree het. Vosloo skryf: “Ek het in die tagtigs die bedreiging van ‘n [swart/ANC-] oorname sien kom en vir die destydse minister en latere staatspresident, FW de Klerk, ernstig versoek dat die regering die SAUK dringend moet laat privatiseer. My pleidooi het op dowe ore geval, want ek vermoed FW en sy span het toe nog geglo hulle kan polities die hef in die hande hou en die SAUK sou hulle ter wille wees” (xviii). Dit is nog ‘n voorbeeld van ernstige onbegrip by De Klerk. In 1996 is ses radiostreekdienste (Hoëveld, Goeie Hoop, Port Natal, Oranje, Jakaranda en Algoa) geprivatiseer. Harmse skryf: “Vir my was dit jammer en ‘n skok dat die staat [die ANC-regering] die reuse-opbrengs van ‘n paar honderd miljoen rand (in vandag se geld gelyk aan miljarde) met die verkoop van die streekradiostasies vir homself toegeëien het” (166). Dit is kenmerkend van die ANC: Hy maai graag waar hy nie gesaai het nie.

Harmse vestig die aandag daarop dat “SAUK” ingevolge die 1999-uitsaaiwet steeds ‘n geldige benaming is. Slegs die drie televisiekanale dra die naam SABC1, SABC2 en SABC3 (xix). Maar die getransformeerde SABC-raad het besluit dat daar net ‘n enkele gebruiksnaam vir hierdie organisasie sal wees, naamlik SABC (405), soortgelyk aan die Poskantoor wat deesdae uitsluitlik “Post Office” heet. Sedert die aanvang van transformasie verkies ek en baie ander behoudende mense om van die SABC te praat om uitdrukking aan die grondige (ideologiese) verskil tussen die ou en die nuwe instansie te gee, al word daar tans voor iedere nuusbulletin beweer dat die korporasie onafhanklik en onpartydig is. Soos in die geval van die Afrikaner-Broederbond vind ons by die SAUK aanvanklik onderskrywing van apartheid/afsonderlike ontwikkeling en in die jare tagtig en negentig medewerking aan grondwetlike verandering: “Die SAUK verander sy deuntjie wat apartheid betref en in lyn met verligte politieke sieninge van sekere NP-leiers word hervorming in terme van diskriminerende wette asook een of ander vorm van magsdeling as onvermydelik verkondig” (126-127). Harmse skryf: “Ek kan hierdie verhaal eerstehands vertel – as laaste verteenwoordiger van die ou bedeling en as iemand wat sentraal gestaan het in die proses van verandering” (4).

Ek skryf saaklik oor die algemene geskiedenis van die SAUK en by uitstek oor politieke aangeleenthede. Radiodienste het in 1924 in Suid-Afrika met drie stasies begin: agtereenvolgend in Johannesburg, Kaapstad en Durban. By radio-uitsendings gaan dit om die verspreiding van inligting, onder meer ter opvoeding, kennisverryking en vermaak van die luisteraars. In 1936 het die SAUK as openbare uitsaaier met die Uitsaaiwet tot stand gekom en is die African Broadcasting Company se infrastruktuur oorgeneem. Die SAUK is volledig deur sy raad beheer en was veronderstel om onafhanklik en vry van partypolitieke beheer te funksioneer. Die eerste 25 jaar was daar geen verhoging van luisteraars se lisensiegeld nie (42). In daardie kwarteeu het die SAUK nooit ‘n verlies getoon nie en ook geen finansieringshulp van die regering ontvang nie (61).

Die Afrikaanse diens het op 27 Oktober 1937 begin (40) en daarna is aparte dienste vir Engels en Afrikaans ingestel. Harmse noem hulle die SAUK se twee kultuurdienste. “Oor al die dekades was die SAUK fyn daarop ingestel om Afrikaans op gelyke vlak met Engels te behandel. Taalgebruik en uitspraak is beskou as van kardinale belang” (49). In 1950 is weens finansiële nood met Springbokradio, ‘n tweetalige handelsdiens (dus inkomste gegenereer uit advertensies) begin. Mediumgolf is vir stedelike en kortgolf vir plattelandse gebiede gebruik, wat sedert 1950 ook Suidwes-Afrika/Namibië ingesluit het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die SAUK sterk op die heruitsending van buitelandse berigte, veral dié van die British Broadcasting Corporation (BBC), aangewese. In 1949 het ‘n verbintenis met Radio Nederland begin (57). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon veral weens BBC-dekking kwalik van politieke neutraliteit gepraat word omdat blanke Suid-Afrikaners sterk verdeeld oor deelname aan die oorlog was. “Duitse musiek is gou-gou oor die lug verban” (45). “Met ‘n terugblik op die gebeure blyk dit dat die SAUK agteroor gebuig het om generaal Smuts ter wille te wees” (47). Plaaslike inhoud het hierna sterk gegroei, insluitende die instelling van volwaardige eie nuusdienste in 1950. Dit is “opgevolg deur ‘n eie parlementêre nuusdiens in 1952 en instelling van ‘n daaglikse verslag … oor gebeure/debatte in die parlement. Die volgende jaar, 1953, is die ‘politiek tromp-op aangedurf’ met politieke debatte, op SAUK-inisiatief, voor die algemene verkiesing van daardie jaar” (303). Gideon Roos het dit “‘n moediger beleid” genoem. “Maar steeds het die SAUK neutraliteit met ‘n passie nagejaag” (303).

Tot 1980 was daar ‘n redelik gelykop verteenwoordiging van Afrikaans- en Engelssprekendes in die SAUK-raad, maar daarna was die raadslede tot 1993 oorwegend Afrikaanssprekend (224). Van 1936 tot 1948 was René Caprara die uitvoerende hoof maar daarna neem Afrikaners die leisels oor, bv Gideon Roos (1948-1961). Roos het gepleit vir “standaardisering van beskaafde uitspraak en taalgebruik” (50). “Sy Engels en Afrikaans het albei na sy moedertaal geklink” (62). Ek onthou sy welluidende stem: dié ideale radiostem. Een van Roos se opvolgers, Douglas Fuchs (1966-1975), “was deur en deur ‘n taal- en kultuurmens en onverbiddelik wat taalsuiwerheid en uitspraak betref” (232). Harmse skryf: “Die hedendaagse taalgebruik sou destyds onaanvaarbaar gewees het” (50). ‘n Belangrike kulturele mylpaal in die Roos-era was die stigting van die Nasionale Simfonie-orkes in 1954 (42). Die Suid-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie (SAMRO) het in 1961 tot stand gekom met Roos as die eerste voorsitter (219).

“In 1960 verskyn BHF-FM (Baie hoë frekwensie-frekwensie modulasie) op die toneel en vernuwe die radiomedium in Suid-Afrika tot in sy kern” (66). Voor FM-radio was daar nie frekwensie vir uitsendings in swart tale beskikbaar nie (61). In 1952 is ‘n redifusiediens per kabel na swart woongebiede in Johannesburg ingestel (59). In 1960 begin Radio Zulu, Xhosa, Sesotho en Lebowa met FM-uitsendings, wat spoedig deur ander swart tale gevolg is (81-82). Naas FM het die beskikbaarwording van transistor-, draagbare, batterykrag-radios teen die einde van die jare vyftig hierdie deurbraak moontlik gemaak (77). Die Johannesburgse redifusiediens is in 1967 gestaak (82). Die radiodienste aan swartes het dertig jaar lank onder die bestuur van blanke amptenare gefunksioneer (82). “Die regering het vir ses jaar bygedra tot die finansiering van bedryfsverliese [van radiodienste aan swartes] … Ná 1967 was dié dienste – as groep – finansieel selfversorgend” (85). Sedert 1964 het die skoolradiodiens ‘n belangrike rol in veral swart onderwys gespeel (83). In 1969 het Suidwes-Afrika FM-radiodienste in sy inheemse tale gekry, “bykomend tot die bestaande een-kanaal kortgolfdiens in Afrikaans en Engels” (68). Dit is op versoek van die Suid-Afrikaanse regering gedoen (89). “Die verhoogde lisensiegeld betaal … nie net vir die nuwe FM-skema en die instelling van talle nuwe programdienste nie, maar ook vir die verhoging van plaaslike inhoud in die algemeen” (71). “Die SAUK kon al die uitbreidings gedurende die sestigerjare doen en al die nuwe dienste instel sonder om een enkele jaar ‘n bedryfsverlies te toon” (76). “Suid-Afrika (lees die SAUK) was die eerste ter wêreld wat ‘n FM-netwerk op landswye grondslag ingestel het” (77).

“Teen 1965 word – op versoek van die regering en vir hul rekening – ‘n volwaardige, uitgebreide buitelandse radiodiens oor kragtige kortgolfsenders na Afrika en sekere ander lande, veral in Europa, ingestel (67). Die staat het vir hierdie buitelandse beeldbou betaal, want “die SAUK-mandaat maak slegs vir binnelandse dienste voorsiening” (88). “Bykomend tot nuus en die vergoeiliking van Suid-Afrika se politiek, word die mooi van ons land en sy mense in verskeie Afrika- en Europese tale aan miljoene mense buite ons land se grense vertel” (67). In sommige kringe is die SAUK beskou as ‘n “lakei van die regerende NP en stut vir apartheid” (73). Kontrasteer hierdie “vergoeiliking” van apartheid/afsonderlike ontwikkeling met die 1990/94-oorgangsjare toe die uitsaaikorporasie alles moontlik gedoen het om rustigheid in die land te bewerkstellig en staatkundige verandering ondersteun het. Byvoorbeeld, halssnoermoorde is nie toegelaat vir uitsending nie (342). Daar is dermate agteroor geleun dat die kontras tussen wat FW de Klerk valslik aan die blankes belowe het (magsdeling en nie magsoorgawe nie, eie woongebiede, eie skole, niemand sal sy werk verloor nie, ens) en wat hulle uiteindelik ontvang het, opsetlik en hoogs oneties verswyg is: “Die groot ongelukkigheid met die SAUK is dat beloftes, versekeringe en waarborge wat die NP en die staatspresident by name aan die kiesers gegee het, nie deur die SAUK aan die groot klok gehang word nie” (374). Tydens die grondwetlike onderhandelinge is daar van toegewing tot toegewing na magsoorgawe gestrompel, maar ons is ‘n dieet van NP-skyndeurbrake deur die SAUK en die koerante gevoer. Ter wille van die vrede mag ons nie toe al besef het dat ons as blankes uit ons toekoms verneuk word nie. Voor dit, in die jare sewentig tydens die oorlog in Angola, is ons op ‘n soortgelyke manier deur die SAUK en die koerante grootliks in die duister gehou oor die militêre bedrywighede van die Suid-Afrikaanse weermag. Beperkende wetgewing word graag voorgehou as rede vir die onvermoë van die massa-media om ons oor sulke belangrike aangeleenthede in te lig.

“Die amptelike instellingsdatum van televisie in Suid-Afrika is 5 Januarie 1976 nadat die eerste toetsuitsending op 5 Mei 1975 begin het” (95). Naas ouditiewe word oudio-visuele inligting voortaan deur die SAUK versprei. Hoewel monochroom-televisie voor die Tweede Wêreldoorlog op beperkte skaal in enkele Westerse lande ingestel is, het kleurtelevisie eers in die jare vyftig sy beslag gekry. Die Amerikaanse NTSC-stelsel het egter gebreke gehad en die Franse Secam-stelsel het ongunstig met die Duitse PAL-stelsel vergelyk. Daar is tereg op laasgenoemde vir Suid-Afrika besluit. Onwikkelingswerk aan die PAL-stelsel was egter nog aan die gang toe die NP-regering in 1971 goedkeuring vir die plaaslike instelling van televisie gegee het. Daar was bedenkinge oor die negatiewe invloed wat televisie op bv kykers se waardes, Afrikaanse koerante en Afrikanerkultuur kon hê. Maar sulke oorwegings het geen groot vertraging by die instelling van televisie veroorsaak nie. Harmse dink dat die ietwat laat instelling van televisie in Suid-Afrika eerder ten goede was. Hy reken dat, veral tegnies gesproke, dit “uiters twee jaar vroeër” suksesvol kon gebeur het (103, 105). Dieselfde sendernetwerk as vir die FM-radiosenders is na aanpassing vir televisie gebruik (109).

Ter beskerming van die gedrukte en ouditiewe inligtingsmedia is geen advertensies in die eerste twee jaar op televisie toegelaat nie Die regering het die SAUK vir hierdie verlies aan inkomste vergoed (116). Hierna kon advertensie aanvanklik 5,75% van die inhoud beslaan. In 1983 is dit tot 6,5% verhoog en in 1986 tot 8% (117). Radiolisensies is teen die einde van die jare sewentig afgeskaf, of eintlik geïntegreer met televisie-lisensiegeld. “Die rasionaal daaragter was dat daar weinig nie-televisie huishoudings was wat wel hul radiolisensiegeld betaal het” (202). Dit is veral swartes wat nagelaat het om vir radio- en televisielisensies te betaal. Harmse verwys na die “absurde vlak van roofkyk en die lae vlak van lisensiegeld … Dit is só erg dat herbesinning oor die praktiese en morele [!] regverdiging van lisensiegeld in Suid-Afrika nodig is” (203). Dit is ‘n geykte verskynsel: veral nie-swartes het vir radio- en televisiediens betaal terwyl veral swartes dit gratis ontvang. Is dit nie ‘n geval van swartes wat veral blankes uitbuit nie? Behoort dit nie gesê te word nie? ‘n Mens vra jou ook af: Waarom word die televisiestelle van roofkykers, dus misdadigers, nie summier gekonfiskeer nie?

In die jare tagtig is uitsaaidienste danksy deurbrake in digitale en satelliettegnologie – van 1986 af (132), met ‘n verdere kontrak vir 10 jaar in 1992 (154) – aansienlik verbeter. Ylbevolkte plattelandse gebiede het by uitstek hierby gebaat. Die koste van infrastruktuur het skerp verminder (201). Rekenarisering het ook drastiese verbeterings meegebring (132). “Die SAUK se monopolie kom tot ‘n einde met die koms van M-Net en Radio 702” (141). Radio 702 “het sedert 1980 vanaf Botswana uitgesaai, kon die digbewoonde Gauteng bereik en was ‘n handige medium vir die verbanne ANC” (140). TV2 (vir die Ngunitale) en TV3 (vir die Sothotale) word in 1982 ingestel. Wat radio betref, het nuwe streekdienste (Algoa, Jakaranda en Oranje) beslag gekry, asook Radio Lotus vir Indiërs in 1983 en Radio Metro vir jong stedelike swartes in 1986 (130). Radio 2000 vervang Springbokradio in 1985 (131).

In 1987 word “voor geldnood geswig” deur “advertensies ook op die twee kultuurradiodienste in Afrikaans en Engels te plaas” (133; ook 196). “Daar is selfs vir die eerste keer in die geskiedenis van die SAUK bedryfsverliese vir vier agtereenvolgende jare getoon, grotendeels die gevolg van kapitaaluitbreidings en ‘n skerp inkrimping in advertensiebesteding in die land weens ekonomiese omstandighede” (130). Oor die koms van M-Net in 1985 skryf Harmse: “Daar was veral drie terreine wat vroeg reeds verraai het watter mededingingstryd sou voorlê: die koste van uitsaairegte vir sport; die beskikbaarheid van films (in welke geval subskripsiekanale voorrang geniet) en derdens die aankoop van populêre programreekse in die buiteland” (139). “Die nuusbeleid aan die einde van die tagtigs: ‘geen lugtyd aan rewolusionêres en terroriste nie’ en ‘debatte slegs tussen partye wat in die parlement verteenwoordig is.’ (Daardeur is die verteenwoordigers van die meerderheid se monde gesnoer.)” (140).

Oor die jare negentig, ná FW de Klerk se rampspoedige toespraak op 2 Februarie 1990, skryf Harmse: “Skielik word terroriste en rewolusionêres gewone Suid-Afrikaanse burgers en die SAUK hanteer hulle daarvolgens” (146). Die misdade van die ANC-kamerade word hulle nie toegereken nie. Desnieteenstaande is daar diegene wat skynbaar steeds nie verstaan waarom Suid-Afrika sedertdien uitmunt in misdadigheid en gewelddadigheid nie. Harmse verwys na “vandag se manier van eise stel,” waarvolgens daar “getoi-toi, gestaak en gebrand” word (161). “Die vyf jaar vanaf 1990 tot 1995 het omstandighede meegebring wat die wese van die SAUK verander het. Skielik het die NP-regering nie meer die volle sê in die land nie; ook nie oor die SAUK nie, al is die raad oorheersend NP” (146). “Die ANC erken nie die NP-aangestelde raad nie en die SAUK is heel bo op die ANC se prioriteitslys” (147). Skielik is daar sprake van allerhande “uitdagings” waarvoor die SAUK te staan gekom het. “Politiek was die grootste buite-invloed op die SAUK [in die jare negentig] en het die organisasie nie net in sy wese verander nie – ‘n nuwe organisasie [die SABC] is oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar geskep” (176). Daar word ingestel “‘n ANC-beheerde raad terwyl die NP-regering nog aan bewind is” en “Afrikaans verloor sy gelyke status met Engels en word inderwaarheid skerp afgeskaal” (176).

“Die verhoudinge tussen die regering en SAUK was, om die minste te sê, uiters stram” (151; ook 358). “Die verhouding met die Nasionale Party versleg drasties gedurende die jare 1991 tot 1993/4. Ek dink dat die regering op die SAUK gereken het as bondgenoot” (373-374). Hierin het Harmse met sy transformasie- (om nie te sê nie: ANC-) gedienstigheid heel moontlik ‘n (groot) rol gespeel, bv die linkse CNN word uitgekies vir seinherleiding snags (154). Gelukkig bied die internet en sosiale media deesdae ‘n teenvoeter hiervoor (163). Harmse het sedert 1993 met ‘n raad gesit wat deur ANC-kornuite oorheers is. “‘n Mens kan nie weghardloop van werklikhede van die lewe nie en in die proses bly terug verlang na die ou dae nie” (174). Maar ‘n mens kan ook te veel deur sulke omstandighede gekondisioneer word. Oor kykNET vra Harmse: “Is hierdie programkanaal nie die vergestalting van ‘n puik en verantwoordelike televisiediens wat waarde toevoeg tot geestelike groei en kennisuitbreiding, van taal- en kultuurverryking in die gemeenskap wat bedien word nie?” (175). Wat taal betref, behoort iedere behoudende Afrikaner myns insiens te besef dat die geradbraakte Afrikaans wat op Afrikaanse televisie en radio geduld word, baie ver verwyderd is van Gideon Roos se Afrikaans.

Naas die christelike religie word lugtyd aan ander godsdienste toegestaan (157). Van 1991 af word die buitelandse radiodienste “‘n suiwer Afrikadiens” wat in sewe tale uitsaai (157). “Die programaanslag, veral wat die politiek betref, word verander in lyn met hervormingsbeleid en ‘n nuwe gesindheid. Die diens se naam verander na Channel Africa” (157). In 1994 is dit die swanesang van die Nasionale Simfonie-orkes (157). In plaas van Westerse klassieke musiek word inheemse musiek bevorder (158). In 1990 is die SAUK as assosiaatlid tot die European Broadcasting Union hertoegelaat en in 1992 word die korporasie deel van wat sedert 2006 as die African Broadcasting Union (158, 220) bekend staan. In 1993 het Okosa (Onafhanklike Kommunikasie-Owerheid van Suid-Afrika) tot stand gekom, wat standaarde neerlê en lisensies onderhewig aan voorwaardes toeken (165). Van 1995 af ressorteer seinverspreiding onder ‘n onafhanklike instansie, Sentech (167). Tabak- en rookadvertensies word kort na die ANC-bewindsoorname verbied (159). In 1998 kom ‘n “privaat oop TV-kanaal”, e.tv, tot stand (166). In die jare negentig begin talle private gemeenskapradiostasies uitsaai (166).

Die SAUK-voorsitterskap van twee akademici, Wynand Mouton (1980-1985) en Christo Viljoen (1989-1993), word uitgebeeld as minder suksesvol. In die geval van Mouton omdat hy nie sterk ideologies ingestel was nie en dit saamgeval het met Steve de Villiers as uitvoerende hoof (1981-1983), wat “nie die sterkste leier op topvlak” was nie (127). “Ek dink dat beide Mouton en De Villiers nie werklik ingepas het in wat die hoë-druk politieke omgewing gevra het nie” (326). Die aanvanklike probleem met Viljoen was dat daar blykbaar aan hom belowe is dat hy die uitvoerende voorsitter sou word, maar dit is nie gestand gedoen nie (356). Volgens Harmse se vertelling was Riaan (Koedoe) Eksteen as uitvoerende hoof heel suksesvol (1984-1988). Dit het deels saamgeval met die voorsitterskap van Brand Fourie (1985-1989). Ek onthou nog hoe teleurgesteld ek was met Eksteen en Fourie, twee oud-amptenare van die Departement van Buitelandse sake, se aanstelling deur die minister van buitelandse sake, Pik Botha. Daarmee is selfs die skyn van politieke neutraliteit nie meer by die SAUK gehandhaaf nie: “Die SAUK moes self inligting uit sy eie nuusbronne asook al die nuusbulletins daagliks aanstuur na die betrokke eenheid by die president se kantoor. Riaan Eksteen skep intern ‘n eenheid by sy kantoor hiervoor” (337).

Ná Eksteen het Harmse die uitvoerende hoof geword. Onder sy leiding is die SAUK geherstruktureer tot sake-eenhede (148). Soos die ANC is Harmse ‘n ondersteuner van feminisme, in die sin dat vroue oral en op elke vlak teenwoordig behoort te wees. By die ANC spruit hierdie manie heel moontlik uit die tradisionele opset in landelike swart geledere dat vroue die werk doen. Toe die instelling van televisie in 1971, ná ondersoek deur ‘n kommissie, deur die regering goedgekeur is, kursiveer Harmse die volgende sin: “En nie een vrou nie” (94). “Dit [is] jammer dat die vrouegeslag vir so lank misken is” (226). Een van Harmse se eerste skuiwe was “om swart mense in beheer te stel van hul eie programkanale; dus om wit programhoofde te vervang. Dit was Mei 1988 en ek het dit gedoen sonder om die raad te konsulteer … Opleiding en ‘n mentorprogram het gevolg” (134) – tipies nuwe Suid-Afrika maar by die SAUK reeds in 1988. “Wat die posisie van swart mense betref, was die algemene siening, selfs gedurende die middel tagtigerjare, dat hulle nog nie geskik was vir bestuursposte nie; eintlik nie die DNS daarvoor gehad het nie. Dit het ná my aanstelling as DG [direkteur-generaal] verander” (227). “Bevorderings is infaseer” (154), dus die aanstelling en bevordering van swartes in plaas van blankes. “Die regering se hulp met kapitaal en aanvanklike verliese” is gevra (135).

Soos hier bo aangetoon: Elke keer as uitsaaidienste aan swartes ter sprake kom, is daar die kwessie van betaling en dan subsidieer die regering hierdie parasitering. By die instelling van televisiediens is gevra: “Hoeveel swart huishoudings gaan TV-stelle koop?” (135). Ook hier is daar ‘n alternatiewe roete. Waar ek woon, is daar ‘n tak van seker die bekendste meubelwinkel. Keer op keer word ingebreek en al die televisiestelle (en net die televisiestelle) word gesteel. “TV2 en 3 was van die begin af ‘n groot sukses” (137), onder meer omdat elektrisiteitsvoorsiening in swart woonbuurtes versnel is. Dit is bekend dat ook vir elektrisiteit dikwels nie betaal word nie – die betalers subsidieer die nie-betalers. Hoeveel besitters van televisiestelle betaal jaarliks vir televisielisensies? Onlangs is berig dat 1,8 miljoen mense vir hulle lisensies betaal terwyl na raming 12,2 miljoen dit nie doen nie. Niemand vra verskoning vir hierdie skandalige, immorele toedrag van sake nie. “Ná Februarie 1990 was dit [televisie] die belangrikste medium waardeur swart mense hul vryheidshelde kon leer ken” (138).

“Adverteerders het die nuwe medium aangegryp en die dienste [vir swartes] was, gouer as verwag, finansieel selfversorgend in terme van direkte koste (dws sonder senderkoste en oorhoofse koste). Ongelukkig was roofkyk onder swart mense astronomies hoog weens veral twee redes: bekostigbaarheid en aktiewe aanmoediging uit politieke kringe [spesifiek die ANC/UDF] om nie lisensiegeld te betaal nie; nes die opstokery om nie vir munisipale dienste te betaal nie. Sodoende het daar ‘n klimaat ontwikkel dat sekere dienste ‘n reg is wat gratis voorsien moes word. Vandag pluk ons land [veral die nie-swartes] nog die [bitter] vrugte daarvan” (138). Nie ‘n enkele roofkyk-misdadiger word vervolg nie. In die geval van die nie-betalers vir munisipale dienste (insluitende elektrisiteit) is daar nie ‘n absolute verbod op betogings, geweldpleging en vandalisme nie. Om nie vir gerief (bv water en elektrisiteit) en vermaak (televisiediens) te betaal nie, het in ‘n onvervreembare mensreg ontaard – mits jy swart is. Dit kom neer op die uitbuiting van die ander bevolkingsgroepe deur die swartes.

Die geskiedenis van die getransformeerde SABC-raad is een van rampspoed. Blankes, bv tegniese kundiges, en selfs swartes wat uitstekende diens aan die SAUK gelewer het, is uit die diens gedryf (115, 406). Eie televisie-produksies kan tot 20 keer meer kos as aangekoopte oorsese materiaal (117). Televisieprogramme kan op sy beurt 20 keer meer as radioprogramme kos (121). Vir televisie is aanvanklik van oorklanking van buitelandse programme gebruik gemaak, maar dit is ná 1994 gestaak (112). Die doeltreffende sake-eenhede binne die SABC is ontbind: “Die nuwe bewindhebbers [het] nie die konsep [van sake-eenhede] aanvaarbaar vir ‘n openbare uitsaaier gevind … nie. Hul hoop was immers gevestig of finansiering uit die staatskas ter vervanging van ‘n groot deel van advertensie-inkomste” (173, 405). In werklikheid is staatsfinansiering “‘n groter onding as advertensies” (182). Daar is teruggekeer “tot naasteby die ou argaïese stukture en bestuurswyse” wat “om dit so sag as moontlik te stel, nie van die SAUK ‘n wenner gemaak [het] nie” (173). Die eerste swart voorsitter van die SABC-raad het die transformasie-milieu soos volg gekarakteriseer: “Ons [swartes] kyk deur ander lense [as blankes]. Ons vertrekpunt is anders” (404). By baie swartes is daar ‘n tradisie van grootskaalse finansiële afhanklikheid van die staat. Parasitering het in te baie gevalle ‘n leefwyse geword terwyl die SAUK, daarenteen, tradisioneel en trots finansieel onafhanklik van die staat bedryf is. Blankes en swartes dink verskillend en doen verskillend. Dit beteken dat blankes en swartes kultureel verskil. Velkleur is nie die deurslaggewende verskil nie maar kan ‘n aanduiding van kulturele verskille wees.

“Radio en televisie, oftewel die elektroniese media … [is] in werklikheid die enigste effektiewe wyse om swart verbruikers op massaskaal te bereik” (182). Desnieteenstaande hou die ANC-oorheersde SABC-raad nie van advertensie-afhanklikheid vir ‘n openbare uitsaaier nie. Die Britse openbare uitsaaier, die BBC, laat geen advertensies toe nie (197). Sowel drank- as tabakadvertensies is met wetgewing deur die ANC-regering verbied (195). Anders as in die geval van die BBC en soortgelyke instansies in Europa (212) sit die SABC opgesaal met die oorgrote meerderheid kykers wat nie televisielisensies betaal nie. Die kloutjie kan nie by die oor gebring word sonder finansiële bystand van die staat nie. Daarmee word die SABC uitgelewer aan ANC-politiek, maar hierteen is hierdie ANC-gedomineerde raad nie gekant nie omdat dit die enigste manier van oorlewing is en nie as polities riskant beskou word nie. Kontrasteer dit met: “Oor die periode van sestig jaar, van 1936 tot 1995/’96, was daar relatief geringe verliese oor net vier jaar gedurende die middel tagtigs” (200).

Die SABC-raadlede word, soos voorheen, deur die regering aangewys. Maar voorheen, anders as deesdae, is kundige en bekwame mense aangestel (213-214). Voor aanstelling behoort daar myns insiens van iedere raadslid vereis te word dat hy bewys lewer dat hy elke jaar sy televisielisensie betaal het; dat hy ‘n betaaltradisie het vir wat hy ontvang. Tydens die blanke politieke bewind het Afrikaans en Engels gelyke status by uitsendings gehad. Dit was ook op advertensies van toepassing (192). Die advertensies was dus in die taal van die betrokke diens (193). Die SAUK het toe baie moeite gedoen om adverteerders met hulle advertensies te help, veral in die geval van die swart tale (193). “Vandag is advertensies oorheersend in Engels, ongeag die taal van die kanaal. Dit is gewis kostebeparend vir adverteerders. Inheemse tale, insluitend Afrikaans, bly egter in die slag” (193). “Die SAUK het, na my oordeel baie meer as vandag, die vele tale en kulture van ons land uitgebou en versterk; en het mense trots gemaak op dit wat eie aan hul onderskeie kulture is” (253).

“Die SAUK [het] oor die eerste byna sestig jaar, tot 1993, onder Afrikanerbeheer gestaan” (221). René Caprara (1888-1977) was die eerste uitvoerende hoof (1936-1948) (227). Die Afrikanerdominansie dateer eintlik van 1 September 1948 af met Gideon Roos as Caprara se opvolger. Die top honderd SAUK-amptenare in die middel van die jare tagtig was 82% wit Afrikaanssprekendes, insluitende drie vroue (251). “Die SAUK het … vir twintig jaar lank onder voorsitterskap van die AB- [Afrikaner-Broederbond-] voorsitter gefunksioneer” (252), te wete PJ (Piet) Meyer (1959-1980). “Die meeste Afrikaanssprekendes in senior geledere was, na my wete, lede van die AB” (306). Nêrens erken of ontken Harmse sy AB-lidmaatskap nie. Die Afrikaner-gedomineerde SAUK en die NP bewind het dus feitlik gelyktydig begin en is omtrent saam beëindig.

[Die geskiedenis van ‘n ander belangrike instansie, die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), se bloeityd val saam met dié van die NP en SAUK. Die eerste voltydse Unisa-dosente is in 1946 aangestel. In 1947 is die eerste lesings versend, maar afstandstudie het eers in 1948 werklik op dreef gekom. Van die begin af was die dosente oorwegend Afrikaanssprekend en die interne administratiewe taal was Afrikaans. Van 1994 af, met die diensaanvaarding van Marinus Wiechers as rektor, word Unisa getransformeer. Van die dekane is verwag om om die beurt in Afrikaans en Engels sake in die senaat voor te dra. Voorheen was fakulteits-, senaats- en ander vergaderings feitlik uitsluitlik in Afrikaans. Besluite is van 1994 af dikwels eerder deur politieke as akademiese oorwegings gemotiveer. Die dosentekorps en administratiewe personeel het spoedig oorwegend swart en Engelssprekend geword. Akademiese standaarde en administratiewe doeltreffendheid is ingeboet. Onderrig het onbetaalbaar duur geword omdat finansiële dissipline verslap is. Onlangs is Afrikaans as onderrigmedium sonder meer afgeskaf.]

“Hoe kon ‘n klein minderheid hoop om op langtermyn ‘n dominante meerderheid onder ‘sy duim te hou’ en in die proses boonop hierdie meerderheid aan die agterspeen te laat suig[?]” (260). “Dit was spesifiek Afrikaner-nasionalisme wat ‘n wesenlike verskil gemaak het want dit het bygedra tot ‘n geloof dat wit mense die reg tot alleen-regeer het” (274). Harmse haal vir Willem de Klerk soos volg aan”oor die Afrikaner se oordrewe beheptheid met die reg tot alleen regeer:” “Dit is naïwiteit, ‘n vorm van onnoselheid, onrealisme en blindheid vir die werklikheid” (282). Dan vra Harmse: “Is daar iets om by te voeg?” (282). Ja, daar is. Dit is myns insiens ‘n wanvoorstelling omdat die einddoel van afsonderlike ontwikkeling juis was dat elke bevolkings- of kultuurgroep, ten minste wat eie sake betref, oor homself sou regeer in bv ‘n federasie of konfederasie van state. Die elementêre onnoselheid wat begaan is, is dat die Nasionale Party tuislande vir die swartes geskep het, maar nie vir die nie-swartes, veral die Afrikaners, nie. Dit is ook nie sonder meer evangelie dat die meerderheid oor minderhede moet regeer nie. Kwaliteit kan van groter belang as kwantiteit wees.

LF (Louis) Stofberg, ‘n KP-parlementslid, het destyds die aandag gevestig “op die ANC se gebrek aan gedrukte media … ‘Hulle wil die kassie hê en daarmee die land regeer.’ Nou-ja, hy was toe reg” (386). “De Klerk [het] ingewillig tot ‘n onderhandelde oorgangsraad” (386). “Die SAUK kry dus te doen met die nuwe Suid-Afrika lank voor die res van die land” (387). Die SAUK “is die eerste instansie in die land wat transformeer” (392). Daaroor skryf Harmse waaragtig: “Die SAUK was egter gelukkig om eerste te kon wees wat die nuwe Suid-Afrika se baadjie moes aantrek: Top mense uit die ANC en swart geledere was beskikbaar” (390). Hy het sy opvolger self gekies: die joernalis Zwelakhe Sisulu (392). Hy was voor sy aanstelling as uitvoerende hoof Harmse se “spesiale assistent”. Sisulu het dus eintlik ‘n jaarlange mentorprogram deurloop. Harmse het te ver “blackwards” geleun. Harmse se opvolger hoef nie ingevolge die ANC se ras- en geslagsgebaseerde beleid aangestel te word nie. Meriete behoort veel eerder deurslaggewend te wees.

Op ‘n sluwe wyse is “die groot veranderinge” teruggehou tot “ná my uittrede” (404). Die koloniale taal Engels het die taal van interne kommunikasie geword en ook die dominante uitsaaitaal. Harmse stel tereg die vraag: “Mik ons op een algemene kultuur met eie groepskultuur bloot as randsteen?” (439) – seker eerder randeier. “‘n Nuwe denkpatroon is gevestig: ‘n strewe na staatsubsidie” (405). Die finansiële afhanklikheid word spoedig “staatskas-sonder grense” (410). Die boekjaar 2016/17 is beskryf as “financial mismanagement of terrifying magnitudes … irregular expenditure continued unabated” (434). “Die golf van transformasie het … eenvoudig sy pad oopgeloop. En dit tot groot nadeel van die organisasie” (406). “Kaderontplooiing word gedoen ten koste van kundigheid” (406). “Afrikaners en hul taal was die groot verloorders in die politieke transformasieproses” (428). “Susann Kok van Johannesburg [het] in ‘n oogwink 80 000 handtekeninge vir ‘n versoekskrif versamel” in ‘n poging om te verseker dat Afrikaans gelyke status met Engels behou (395), maar tevergeefs. Het enige Afrikaansinstansie haar ooit hiervoor vereer? Sal Wim de Villiers se Universiteit Stellenbosch ‘n eredoktorsgraad aan Kok toeken uit erkentlikheid vir haar positiewe gesindheid jeens Afrikaans?

Omdat die SAUK die kragtigste meningsvormer in die land is, is dit tydens die grondwetlike onderhandelinge as ‘n vereiste gestel dat ‘n verteenwoordigende raad aangestel moet word “alvorens ‘n verkiesingsdatum gefinaliseer sou kon word” (396). Die onderhandelde oorgangsraad (Mei 1993) “het bestaan uit tien [spoedig nege] wit verteenwoordigers, twee bruin lede, een Indiër en twaalf swart verteenwoordigers” (225), met Ivy Matsepe-Casaburri as voorsitter vanaf Junie 1993 (222). Daar was agt vroue in die raad (226). “Geen swart persoon en geen vrou het ooit die voorreg gehad om tot 1993 lid van die topbestuur te wees nie” (231). Die SAUK was “op verre na die grootste kommunikasiemedium en meningsvormer in die land” (249). “Dit is die enigste medium waardeur ‘n boodskap in alle landstale en tot oral in die land kan uitkom” (300). Dit was vir die ANC gevolglik van die uiterste belang om so lank moontlik vóór die 1994-verkiesing beheer oor die SAUK te verkry. Weens toegewings het die ANC daarin geslaag.

Harmse wek soms ‘n uiters misleide indruk, bv wanneer hy oorgrens-aanvalle as vergrype klassifiseer (281). Wat was die alternatief? Om te wag totdat die terroriste die land binnedring en dood en verwoesting saai? Dit was verkieslik dat voorspringaksies uitgevoer word in die lande waarin die terroriste verblyf gekry het en hulle opgelei is. Harmse het lof vir FW de Klerk se fatale afskaling en spoedige ontbinding van die Staatsveiligheidsraad (282). Maar Harmse erken dat hy/die SAUK net so min soos De Klerk en sy groepie onderhandelaars “die einde van die pad” van transformasie geken het (322), wat geblyk het die verswelging van blankes deur swart mag te wees. “Politieke uitkomste is meesal nie voorspelbaar nie” (336), maar in hierdie geval dalk wel. Ander kere toon Harmse beter insig, bv: “Presteer en strewe het … deel van die Afrikaner se DNS geword … Maar vandag tel dit teen Afrikaners – en het uitgekring tot feitlik alle wit mense. Hul kundigheid (en ook hul werkywer) word in die buiteland letterlik opgeslurp, maar in hul eie land, gestrem deur gebrek aan kundigheid op talle terreine, word dit met passie waar ook al moontlik vermy; tot nadeel van alle Suid-Afrikaners” (285).

Harmse beskou Nelson Mandela sonder meer as ‘n ikoon (365, 400). Hy belig egter hoe hardkoppig en arrogant Mandela was. FW de Klerk wou Mandela in Gauteng vrylaat, maar Mandela het daarop aangedring “dat hy uit die Victor Verster gevangenis naby die Paarl … vrygelaat word” (365). Mandela het ook nie die gevangenis op die voorgestelde tyd verlaat nie, omdat hy besluit het “hy gaan saam met sy vrou Winnie uitstap” (366). Hy het ook nie tot by die regering se ampsmotor gestap en daarin vertrek nie. “Hy sou … verder stap totdat hy sal besluit wanneer hy in ‘n voertuig van sy eie mense sal klim. En sy bestemming is sy eie saak” (367). Die uitstappery het uiteindelik aangebreek: “Op daardie presiese oomblik het die toekoms van Suid-Afrika onherroeplik verander. En op daardie oomblik is die houvas wat die Nasionale Party op die SAUK gehad het, nie-amptelik en emosioneel verbreek” (367).

Kort voor Mandela se vrylating was Niël Barnard se raad aan hom: “Hou asseblief net die eerste paar toesprake beheersd” (Geheime revolusie, Kaapstad: Tafelberg, 2015, p 248). Op die Kaapstadse Parade op die dag van sy vrylating in sy eerste toespraak sê Mandela egter: “Now is the time to intensify the struggle on all fronts” (252). Willie Esterhuyse vertel hoe die arrogrante Mandela vir FW de Klerk geskakel het en geëis het om hom te spreek: “nie eers môre nie” (Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 346). De Kerk gee soos gebruiklik toe aan Mandela se versoek. “De Klerk vra my: ‘Dink jy PW sou gedoen het wat ek bereid is om te doen?’ Ek sê: ‘Nee, maar jy is gelukkig nie PW nie'” (346) – pleks van te sê: “Jy is ongelukkig nie PW nie.”

Die punt is: Van die begin af was dit sekerlik vir Mandela duidelik dat De Klerk ‘n swakkeling is wat gemanipuleer kon word. Daarom het Mandela en die ANC besluit dat De Klerk iemand is met wie onderhandelinge gevoer kon word – tot nadeel van die blankedom en Suid-Afrika. Harmse skryf: “Geoordeel aan die reaksie uit NP-regeringskringe (soos ek dit ervaar het), was dit waarskynlik NP-politici vir wie dit die grootste ontnugtering van almal moes gewees het oor wat besig was om te gebeur” (372).

In hierdie droewe land het die SAUK in die SABC ontaard en reeds sedert 1993 dieselfde weg gegaan as Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die regering, die staat en talle ander instansies waarop Afrikaners eens met reg trots was.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.