Motors: Isuzu KB — oud maar nie koud!

Die huidige Isuzu KB-reeks is nie lank gelede nie opgekikker. Nuwe rolspelers soos die VW Amarok, Toyota Hilux en Mercedes X-Klas het ongekende rygerief in bakkies, tesame met luukshede wat slegs in sportnutsvoertuie te vinde is, in hierdie segment beskikbaar gestel.
Isuzu moes iets doen om hul bakkies eietyds te hou. Daar was egter ook ‘n gaping in die Isuzu-reeks waar die KB300D LX aan die bopunt van die leer meeding met hoofstroomvervaardigers soos Ranger, Hilux en Navara en die Oosterse aanval met GWM en Mahindra aan die onderkant van die segment. Die KB 250D-TEQ DC 4×4 X-Rider bied ‘n kleiner enjin, sportiewe stilering en luukshede asook alwielaandrywing in die segment wat mooi tussen die veel duurder KB300 en die meer bekostigbare alternatiewe uit Indië en Sjina kan inpas.

Die X-Rider van agter

Enjin

Swart insette op voorste buffer

Met die kleiner 2,5-literdieseleenheid wat 100Kw lewer en 320Nm se wringkrag bult die Isuzu spiere vir die Mahindra Pickup met sy 2,2-literdieselenjin wat 103 Kw en 320Nm lewer asook die Ford Ranger 2.2 XLT-Plus wat 118 Kw en 385 Nm uitskop. Die X-Rider se enjin trek sterk en Isuzu-aanhangers sal vir seker nie teleurgestel wees met die kraglewering nie. Die KB300 met sy groter 3.0-literdieseleenheid se agterwiele het baie maklik op ‘n losser oppervlak skiet gegee wanneer die versneller ingetrap word, so asof daar te veel krag op die agterwiele is. Hierdie keer is daardie probleem opgelos en die KB250 voel net reg. Brandstofverbruik is ook ‘n 9,8l/100km wat glad nie sleg is vir n 4×4-bakkie wat 3 ton weeg nie.

Bakwerk

Die X-Rider se parmantige bakrolstaaf

Met die X-Rider-konsep het Isuzu hul produk se “ouman”-gevoel so effens opgehelder en nou vertoon die bakkie heelwat jonger asook heelwat meer breker. Die swart sierwiele, swart insette op die voorste buffer, swart syspieëls en swart rolstaaf asook die helder rooi Isuzu-kentekens op die swart sierrooster vertoon werklik goed en lig die hele vorm van die bakkie sonder om dit soos ‘n opgewarmde bakkie te laat lyk. Kyk ‘n mens na soortgelyke konsepte van Ford met hulle Fx4-weergawe van die Ranger, lyk die bakkie of hy iewers in die agterstrate van “Commonville” deur ‘n Hillbilly gebou is. Die Mitsubishi Triton Xtreme-konsep is nog so ‘n spesiale uitgawe en dit lyk werklik asof die ouens wat die Ranger Fx4 opgeneuk het daarna alles wat hulle nie op die Ford kon doen met die Triton gaan probeer het. Die Isuzu slaan die spyker op die kop met volmaakte balans en styl.

Binneruim

Embleem op kopstutte

Wat die binneruim van die X-Rider betref, is die hele kajuit met swart leer voorsien van rooi stiksel uitgedos. Daar is ‘n multifunksiestuurwiel waar die bloutande vir jou foon, togbeheer asook die telefoon en radiokontroles beheer kan word. Alle instrumente is mooi groot en leesbaar en die motor is werklik goed aanmekaargesit met goeie kwaliteit materiaal. Die Isuzu-embleem op die stuurwiel is ook in rooi en daar is X-Rider-kentekens op die sitplekke aangebring. Swart aksente om die luginlate asook in die deure weereens met ‘n rooi en swart X laat jou subtiel verstaan dat hierdie ‘n spesialeuitgawe-KB is. Niks is oordoen nie en die hoeveelheid kentekens en embleem is net mooi genoeg om dit stylvol tog sportief te laat voorkom.

Deurinsette

Die Isuzu-binneruim is gerieflik en daar is werklik genoeg been- en skouerruimte voor en agter. Deure maak lekker wyd oop. Die sytrappe maak toegang tot die X-Rider se kajuit heelwat makliker. Rondomsig is puik en kontroles is werklik alles waar dit hoort.

Op die pad

Beenruimte in die Isuzu

Isuzu was nog altyd een van ons gunstelingbakkies: die goed is sterk, mooi en het geen fieterjasies nie, met stofdigtheid van die beste in die mark. Rygerief is ook, wat bakkies aanbetref, uit die boonste rakke en selfs met die “Allterrain”-bande waarme die X-Rider toegerus is, voel die voertuig solied en vas op die pad. Die 2,5-literdieselenjin is gekoppel aan ‘n 5-spoedhandratkas en as daar ‘n swakpunt in die X-Rider was, dan sou dit die feit wees dat hy slegs in handratgewaad beskikbaar is. Nie dat daar iets fout is met die ratkas nie, inteendeel die ratkas se ratverhoudings is perfek, dit is die gemaksaspek van ‘n outomatiese ratkas. Na ons mening sou die X-Rider nog meer gerieflik wees met ‘n outomatiese ratkas.

Gevolgtrekking

Die Isuzu se instrumentepaneel

Met dubbelkajuitbakkiepryse wat aan die verkeerde kant van ‘n halfmiljoen draai, is die X-Rider se prys van R463 000 vir ‘n 4×4-dubbelkajuit wat so goed aanmekaar gesit is en so mooi vertoon werklik een van sy sterkpunte. Hierdie is beslis een van die beste dubbelkajuitwinskope in Suid-Afrika en vir seker nog nie koud vir so ‘n ou bakkie nie!
Ingesluit by die prys is die 5-jaarfabriekswaarborg en 90 000km-diensplan.

Isuzu KB250 D-Teq 4×4 DC X-Rider

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 38 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.