Fransi Phillips: Die tekens van die tyd

As ek terugdink aan die laaste jare voordat ons getref is deur televisie, rekenaars en die internet, wat ook die laaste jare voor die Soweto-onluste was, dink ek terug aan piekniekmandjies by die inryteater, simfonieorkeste in die Pretoriase stadsaal, glaskaste vol aandenkings wat my ouma nog ‘n paar jaar vroeër op bootreise om die wêreld versamel het, vergeelde foto’s van dr. Verwoerd, tikmasjiene, langspeelplate en porseleindiertjies wat mens kon versamel in koffieblikke.

Dit was min of meer die dae waarin ‘n jong Australiër, Julian Assange, die seun van ‘n aktivistiese enkelma wat voortdurend op vlug was voor ‘n lastige man, Australië van hoek tot kant deurkruis het met ‘n byekorf op sy skoot, saam met sy jonger boetie en dié se hoenderhaan. Om die bye binne te hou sou die jong Assange die korwe in koerantpapier toedraai, maar op ‘n dag het die bye wat moeg was van die kar se geskud hulle pad deur die koerante gebeur. Deur die vensters en deure wat oopgemaak is om die woedende swerm bye vry te laat, het die boetie se hoenderhaan ook ontsnap en die veld ingestorm met die bye agter hom aan.

‘n Jaar of tien later kompenseer ‘n steeds jong Assange vir die verlies aan sy byeboerdery deur ‘n rekenaar so groot soos ‘n yskas te bou, met netwerke wat kan herinner aan die byekorf waarvoor hy so lief was en wat, in kombinasie met die sosiale aktivisme wat hy met moedersmelk ingekry het,
dieselfde potensiaal vir rampspoed sou inhou as dié van ‘n woedende swerm bye. Sokrates sou met my saamstem dat die soeke na waarheid nie besonder populêr is nie.

Ek vermoed dat tydsgees beskryf kan word as dít wat ons geleidelik begin verstaan wanneer ons alle politieke, artistieke, kulturele en tegnologiese uitings van ‘n sekere tyd bymekaarbring en saam probeer interpreteer.
Hierdie kollektiewe menslike uitings noem ek vir die duur van hierdie skrywe “Die tekens van die tyd”.

In 2006 het ek die eerste keer gehoor van Wikileaks. Ek het toe nog by die Tsjeggiese Ambassade in Pretoria gewerk, waar ek onder andere elke liewe dag van my lewe vir die ambassadeur ‘n drukstuk gemaak het van ‘n geweeklaag wat die Palestynse staat na elke ambassade ter wêreld gestuur het om te kla oor wat Israel nou weer aan hulle gedoen het. Elke liewe oggend het ek die faks uitgedruk en dit stilswyend op die ambassadeur se tafel gaan sit. Elke liewe oggend het hy dit met een veeg opgefrommel en in die snippermandjie onder sy tafel ingevee. Elke liewe oggend het ek in die stilligheid gelag terwyl ek my oggendkoffie afsluk. Hy het nooit gesê ek kan maar ophou om die donderse ding uit te druk nie, en ek was te diskreet om te vra. Ek was selfs te diskreet om iemand daarvan te vertel.

Ek het gehou van my werk by daardie ambassade, veral van die dele waar ek filmfeeste moes organiseer vir ‘n Europese Unie van wie die onderskeie lidlande mekaar maklik sou vermoor oor iets so gering soos die spasies tussen letters op ‘n plakkaat. Daar was ‘n opvallende verskil tussen die films en ander kunsuitings van Oos-Europese lidlande wat pas aangesluit het, en dié van die Weste. Oos-Europa het ‘n hernieude trots getoon met die herontdekking van sy eie verlede en tradisies aan die einde van ‘n eeu van kommunisme wat hulle kulture tevergeefs probeer uitwis het. Die Tsjegge was trots op hulle ou en nuwe argitektuur, ou en nuwe ontwerp, ou en nuwe films, animasie, en grafiese kuns. Die toeëiening van ou tradisies
in die werk van ‘n grafiese kunstenaar soos Marina Richterova
het ‘n herlewing van ‘n ou kultuur ten doel gehad, terwyl toeëening in die Weste eerder ‘n soort hersirkulering sou wees van beelde waaraan die kultuur oorversadig geraak het, dermate dat kreatiwiteit as oorbodig beskou word.

In die Weste was daar vir solank as wat ek kan onthou toenemende tekens van ‘n selfsatheid en ‘n skaamte oor hulle wit velle. “Europe does not exist,” het die Franse kulturele attaché vir my gesê. “Then what are we doing here?” sou ek vir hom gevra het as ek nie so diskreet was nie. Toe die Franse egter beswaar aanteken omdat die Tsjegge nie ‘n film met Afrika as tema wou wys nie, het ek hom ewe diskreet daarop gewys dat dit eintlik Wes-Europa is wat ‘n koloniale verlede het.

Dit was aan die begin van die millennium. Die Oos-Europeërs het hulle nasionale trots probeer sluk in ooreenstemming met Europese Unie-standaarde, maar nie so diep dat hulle nie in die groot eetkamer vol antieke kaarte net langs my kantoor die sg. Visegrad-groep vir Suid-Afrika
kom stig het nie. Ek onthou mnr Konvalina het ghoelasj in bier gekook
in die kombuis, wat hy opgedien het in mandjies wat hy uit brood gebak het
en wat saam met die ghoelasj geëet moes word. Die lande wat saam geëet het voordat die ambassadepersoneel op die oorskiet getrakteer is, was die Tsjeggiese en Slovaakse Rebublieke, Pole en Hongarye: almal lande wat tans op Merkel se senuwees werk in hulle onwilligheid om hulle kultuur op te offer aan ‘n derde wêreld waaroor hulle met goeie rede nie vreeslik skuldig voel nie.

Die filmfeeste was die eerste oorsaak van ‘n sekere euroskeptisisme in my hart, wat verder versterk is deur ‘n boek wat ek in Afrikaans moes vertaal vir die destydse Tsjeggiese korrelkoppresident Vaclav Klaus wat die Europese projek uit ‘n ekonomiese oogpunt met die grond gelyk gevee het.

Dit was eers met die nuwe ambassadeur, wat besluit het dat kultuur so onbelangrik is dat hy my nodiger het om fone te antwoord, dat my diskresie my op ‘n dag verlaat het en my tong ‘n lewe van haar eie gekry het.
Sy ( my tong ) vra toe vir daardie ambassadeur of ek nie sommer ook sy agterent vir hom moet afvee by al die ander vervelige takies waarvoor hy my misbruik nie. Kort daarna is ek op ‘n vliegtuig Rusland toe.

Maar kom ons keer terug na Wikileaks. Ja, tot op daardie oomblik
toe my diskresie my in die steek gelaat het, het ek geglo Wikileaks,
die beweging wat gestig is deur bg. Julian Assange om by regerings se internetkommunikasiesisteme in te breek en hulle vuil geheime aan die wêreld uit te lek, was uit die bose. Regerings, het ek geglo, bestaan uit goeie mense soos die goeie ambassadeur wat voor die slegte ambassadeur my baas was, en wat geheimhouding nodig het om hulle goeie werk te kan doen. Ek het nooit gewonder hoekom goeie dinge in die geheim moet gebeur nie. Mens bly maar nog lank ‘n maagd na jou eerste seks.

Toe kom ek in Rusland, waar ek die wonder van politieke inkorrektheid ontdek . “Die Weste dink ons wil soos hulle wees,” vertel ‘n veertienjarige my. “Maar ons lag vir die Weste, want ons is vry.” En ek begin wonder
oor boelsjit. Oor almal wat deur die goeie Weste in goeie oorloë
moer toe gebom is om vry te word onder ‘n tirannie van goeie politieke korrektheid. Ek onthou die spinnerakke in Saddam Hoessein se hare
toe hy onder die vloerplanke uitgekrap is om gehang te word oor kernwapens wat tot nou toe nog nie opgespoor is nie. Ek onthou die bebloede lyk van Gaddafi, en Hillary Clinton wat lag: “We came, we saw, he died.” Ek sien ‘n onderhoud op die Russiese televisie van Obama
wat vir Poetin vertel dat die twee van hulle saam vir Sirië gaan binneval om Sirië van Poetin se vriend Assad te bevry en Poetin wat kortweg antwoord: Njet. Ek sien die arrogante konsternasie op Obama se gesig, by die gedagte dat iemand vir hom nee kan sê en boonop nog in so ‘n veragtelike taal soos Russies. En nee, dit kan nie propaganda wees nie, dit was ‘n direkte uitsending.

Kort ná hierdie insident is daar ‘n Westers-gesteunde staatsgreep
in die Oekraïene, en nog ‘n paar maande later begin Islamic state
babas aan flarde kap in Sirië. Alles natuurlik heeltemal toevallig,
en wat nie toevallig is nie, is Poetin se skuld.

Assange begin Wikileaks in 2006 en veroorsaak in 2010 ‘n opskudding
met die publikasie van Chelsea Manning se bekentenisse van invalle in Irak en Afghanistan waarvoor Manning in die tronk gegooi word.
Toevallig word Assange in daardie jaar van verkragting aangekla deur ‘n Sweedse meisie wat die wonder van “me too” ontdek het tydens gewone volwasse seks. Maande later erken sy dat sy eintlik net ontsteld was oor ‘n kondoom wat gebreek het. Dis nou maar van Assange: Hy sukkel blykbaar om dinge binne te hou .

Teen die tyd dat die wêreld uitvind hy is onskuldig, is hy egter reeds weer skuldig bevind omdat hy nie tereg gestaan het vir iets waaraan hy onskuldig was nie. Hy het eerder in die ambassade van Ecuador in Londen gaan wegkruip wetende dat die vals verkragtingsklag sou kon lei tot ‘n reeks uitlewerings en Westerse politieke boelsjit waarvoor hy uiteindelik in die ergste geval die doodstraf vir hoogverraad opgelê sou kon word. Dis hoekom hy nou al vir 6 jaar lank alleen in daardie ambassade sit, en swerms bye in die vorm van gekraakte inligting oor die aardbol uitstuur. Die meeste van hierdie inligting hou verband met Amerika se rojale bevrydingsoorloë waarin hulle mense van olieproduserende lande buiten Saudi-Arabië verlos van hulle eie geloof, kultuur, en tradisies. As mens iets moet sê van die kultuur van ons tyd, sal dit wees dat kultuur in ons tyd die nuwe fascisme geword het.

Die aanslag op kultuur word ook voortgesit in die Europese Unie, waar onderlinge kulturele verskille reeds toe ek nog by die ambassade gewerk het stelselmatig uitgewis is. Die uitwissing word nou verder geneem in die vorm van ‘n oorname deur die mense van lande wat die bevryding van kultuur in hulle eie lande so ondraaglik gevind het dat hulle na Europa moes vlug. Europese leiers soos Victor Orban in Hongarye en Matteo Salvini in Italië wat hulle eie kulture wil beskerm word as fasciste gebrandmerk.

In 2016 veroorsaak Assange nog ‘n storm, toe hy inligting publiseer oor Hillary Clinrton se aandeel in die oorlog in Libië en Sirië en die bewapening van Al-Kaida en die Islamitiese Staat, wat eintlik maar dieselfde is as die vroeëre Moedjahedien en die Taliban, maar elke keer van naam verander as die Amerikaanse ondersteuning van die terroristegroepe te ooglopend raak.

Die nuutste naam is Al Nusra in Sirië. Soos ons almal weet, word Poetin vir die uitlek van hierdie inligting ook verantwoordelik gehou, asof die probleem in die eerste plek by die bekendmaking van die misdade sou lê eerder as by die misdade self. Hoe Poetin verantwoordelik kan wees vir ‘n misdaad waarvoor Assange sit en wegvrot in die Ecuador-ammbassade en die kuberkraker Guccifer tronkstraf uitdien vir die feit dat hy ingebreek het by die private bediener wat Clinton wederregtelik vir staatsake gebruik het, sal net die Amerikaners weet.

Die Amerikaanse snobberkoningin Oprah Winfrey kan gesien word as een van die gesigte van die snotliberale tradisie van multikultiralisme. Daarteenoor staan die Russiese teenvoeter vir multikultiralisme: die filosoof Alexander Doegin. Doegin word in Europa beskryf as die brein agter Poetin.

Hoewel Poetin ‘n brein van sy eie het, is dit tog so dat Doegin gesien kan word as die beliggaming van die hedendaagse Russiese tydsgees, wat volstrek teenoor ‘n multikulturele tydsgees staan. Daar is niks universeels aan die mensheid nie, sê Doegin. Daar bestaan nie so iets soos een gedeelde menslikheid nie, en dan veral nie ‘n mensheid ondergeskik aan ‘n Westerse persepsie van wat menslikheid is nie. Hierdie persepsie word aan almal opgedring. Daar word nie vir die Russe gevra wat hulle persepsie van die werklikheid is nie, of vir die Chinese nie. Die antwoord word eenvoudig opgedring: menseregte, liberale demokrasie en die vrye mark.
In werklikheid is die mensdom egter uit verskillende menshede opgebou,
en uit verskillende beskawings met eie waardesisteme. Die grootste en kleinste volke het almal ‘n eie ervaring van wat reg is, wat verkeerd is, wat die mens is, wat god is.

My boek, Liefde in die tyd van die internet, bemoei hom tot ‘n groot mate
met die kultuur waarvan die Russies-Ortodokse Alexander Doegin deel is:
Katedrale in sneeubedekte donker woude waar die gelui van klokke mense inroep na ‘ n binnekant van kerslig, goud en ikone en waar die koorsang met die klokke harmonieer. Dis ook die kultuur van skrywers soos Tolstoi, Poesjkin, Dostojewski, Toergenjef, Gogol, Brodski, Boelgakof, en van komponiste sos Tsjaikofski, Rachmaninof, Glinka, Balakiref, Rimski-Korsakof, Skrjabin, Sjostakowitsj. Dis die land waar Diaghilef, Nijinski, Barishnikof, Paflowa, en Noerejef vandaan kom. Die land van wit nagte in Sint Petersburg, van polities inkorrekte pelsjasse en Siberiese woude en mere, van die Kremlin en Rooiplein en kommunistiese betongeboue, van baboesjkas en kossakke en kaviaar in boekweitpannekoekies en vodka.
Die Russe gaan nie hulle kultuur vir ‘n ander verruil nie, in die eerste plek omdat jy gaan sukkel om hulle te oortuig dat dit ‘n onverdienstelike kultuur is, en in die tweede plek omdat geen ander kultuur hulle gaan help oorleef in die ysige land waarin hulle bly nie.

Kultuur is nie beperk tot ‘n snobistiese skilderytjie hier of konsertjie daar
of kunsuitstallinkie wat net deur die intellektuele elite bewonder kan word nie. Dit kan veel eerder gedefinieer word as die vorm waarin die mens
sy wêreld ontmoet. ‘‘’n Mensheid wat sy eie kultuur afsterf verloor sy greep op die wêreld, sy vermoë om met ander om te gaan en uiteindelik sy vermoë tot oorlewing. In ons eie land is dit my kultuur wat dit vir my onmoontlik maak om  56 moorde en 79 verkragtings per dag te hanteer
onder ‘n regering wat niks doen om dit te verander nie. Blankes in ons land het nou inderdaad ‘n punt bereik waar die bevryding van eie kultuur wat die rojale Weste in die tagtigs en negentigs vir ons deur sanksies bewerkstellig het, ons fisiese oorlewing bedreig. .

Op een punt in Liefde in die tyd van die internet sê die skrywer van die boek, ‘n sekere Phillips, vir haar hoofkarakter Hanna, tydens ‘n gesprek oor tydsgees: as daar nou al ooit ‘n gefokte tyd was, is dit reg nou.
Wat sou sy alles daarmee bedoel? Ek weet nie altyd presies wat in Phillips se kop aangaan nie, maar as ek kon raai sou ek sê sy het dit oor die gebrek aan en minagting van kultuur. Hierdie minagting begin waar lande wat nie ooreenstem met kultuur soos voorgeskryf die Nuwe Wêreldorde nie
eenvoudig vernietig word, veral daardie lande met olie of oliepyplyne.
Die vernietiging van kultuur hou egter nie daar op nie maar eindig binne in die kulturele hart van ou Europa. Al wat nog nie aangeval is nie, is Hollywood. Die gevolg is die dood van enige outentieke kulturele uitlewing, met ‘n kitsch en onsamehangende gebabbel oor menseregte deur mense wat ander nie eers die lug wat hulle inasem gun nie. Dan wonder ons hoekom daar geen waardering oor is vir outentieke kunsuitings nie, terwyl enige gomgat wat baby baby kan blêr verhef word tot ‘n god.

Wikileaks het verderinligting gepubliseer oor Hillary Clinton se bewondering vir en vriendskap met die kunstenares Marina Abramovich. Abramovich is bekend vir haar performance art-sessies waartydens sy die idiotiese me too-beweging ver vooruitloop deur vir haar toeskouers meslemme en ander martelinstrumente te gee en dan kaal te gaan sit en wag dat hulle iets aan haar moet doe , totdat een of altwee terughardloop in Oprah se arms in waar hulle lekker lank en innig oor hulle eie slegtheid kan gaan sit en tjank.

Nou, dis natuurlik dieper as wat hulleself dink, want terwyl hulle dink
hulle is besig om die arme onskuldige kaal vrou se uitgelewerdheid aan die bose man wat nooit iets anders as uitbuiting, verkragting en onderdrukking op sy brein het nie na vore te bring, is hulle eintlik besig om dít te illustreer wat Camille Paglia lankal gesê het: liberalisme gee altyd aanleiding tot barbarisme, barbarisme gee altyd aanleiding tot sadomasochisme.

Assange het ook kort voor die verkiesing in 2016 die aandag gevestig op die kunsversameling van Clinton se assistent John Podesta en sy broer Tony.
Die uitstalling bestaan uit interessante beelde van die kannibaal Jeffrey Dahmer se slagoffers pas nadat hulle koppe afgesny is, plastiekvrouens wie se mae oopgesny en binnegoed uitgepak kan word, verhongerde seuntjies vasgebind in storte, rye en rye seksslaafdogtertjies met hulle hande agter hulle rûe vasgebind. Jy kan kuns op ‘n serebrale vlak interpreteer vir wat dit probeer sê, of jy kan jou daarin verlustig. Niemand kan bewys op watter van die twee opsies die sjarmante Podestabroers hulle obsessies grond nie,
en ek gaan hulle die voordeel van die twyfel gee ten spyte van die perverse ondertone wat deur die eensydigheid van hulle versamelings beklemtoon word.

Die interessantheid van Hillary Clinton en haar avant garde-bende
hou egter nie op by die Podestabroers nie: Anthony Weiner, die man van Clinton se baie persoonlike persoonlike assistent Huma Abedin, maak ‘n ratse sprong tussen kuns en virtuele werklikheid deur sy Weense worsie op die internet aan minderjarige meisies te vertoon. Daarvan sê die skrywer, Phillips, in my boek Liefde in die tyd van die internet: Die liefde neem soms eienaardige vorms aan in die tyd van die internet. Wat Clinton se getroue eggenoot Bill Clinton betref, merk Phillips ewe spiteful op dat hy volgens sy paspoort ‘n pedofieleiland waar kinders aangehou word, 26 keer besoek het, en volgens homself nie eenkeer seks gehad het met ‘n kind nie.
Jy sal vra wat Clinton op hierdie stadium met enige iets uit te waai het.
Die antwoord is dat die Weste nog steeds tot ‘n groot mate deur die wêreldorde waarvan sy deel is, regeer word, tot so ‘n mate dat daar werklik min speling is vir Trump om teen hierdie tekens van ons tyd te reageer.
Aan die ander kant het Trump sy eie hoere in sy hangkas en sy eie reeks van sotternye waarmee hy elke oggend op Twitter vorendag kom , waarvan die nuutste is dat China besig is om met sy toekomstige tussenverkiesings in te meng. Die gevolg is dat ons met ‘n dubbele stel van idiote te make het, waarvan die twee mekaar net af en toe vir ‘n geseënde windstil oomblik uitkanselleer.

Ek dink nie Julian Assange deel noodwendig my obsessie met kultuur nie:
sy ma was meer soos ‘n hippie wat geglo het in die mooi liberale deugde van menseregte, deursigtigheid en vryheid van spraak, en dit is die deugde waarmee hy grootgeword het. Dit maak sy bemoeienis met die liberaliste van die dag tegelyk meer ironies en meer betekenisvol. Dit gaan vir hom oor die manier waarop daardie selfde menseregte waarvoor kulture opgeoffer moet word, verkrag word nadat die offers gebring is. Die manier waarop die liberalisme van die nuwe wēreldorde op sy eie ideale kannibaliseer.

Volgens google het Assange 5 ure voordat ek hierdie paragraaf begin skryf het, instemmend geknik op ‘n video waar iemand hom gevra het of Set Riche, die Bernie Sanders-ondersteuner wat voor die Amerikaanse verkiesing in 2016 vermoor is, wel ‘n bron van Wikileaks was. Die kopknik is die meeste wat enige iemand uit Assange sal kry, aangesien hy sy bronne ten alle koste beskerm, blykbaar selfs na hulle dood. Die feit dat ‘n bron van wikileaks wat inligting oor Clinton se sameswering teen Sanders bekend gemaak het vermoor is, is ook nou seker weer Poetin se skuld.

Toe Assange in Maart vanjaar te kenne gee dat hy weet wie vir die Salisbury-vergiftigings verantwoordelik is waarvoor Poetin óók geblameer word, word sy internetverbinding in die ambassade kortgeknip. As daar iemand hier is wat my wil probeer oortuig dat dieselfde Poetin wat pas die Islamitiese Staat in Sirië in hulle moere in gebom het, nou skielik te dom is om ‘n omie op ‘n parkbankie behoorlik dood te maak, is jy welkom om te probeer.

Wat betref my nostalgie vir my eie verlede en vir ‘n tyd voordat ons getref is deur Amerika: daardie nostalgie word elke dag sterker. Wat betref my obsessie met kultuur: aan my liefde vir die ou Europese en Russiese kulture
sal niemand iets verander nie. Ek sal liefhê wie ek wil en haat wie ek haat, om my eie redes. Ek sal lag vir wie ek wil. Te hel met die res.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
Fransi Phillips

Author: Fransi Phillips

Fransi Phillips is 'n Afrikaanse skryfster.