Dan Roodt: Indrukke van Nederland

Onlangs het ek drie weke in Amsterdam deurgebring. Daar is sekerlik geen ander land — behalwe miskien die Vlaamse streek in België — waarvan die geskiedenis so nou met ons s’n verweef is nie. Sonder die Nederlandse V.O.C., sou daar geen volksplanting in 1652 en geen Suid-Afrika gewees het nie.

Die eerste opvallende verskil met die huidige Suid-Afrika is dat Nederland veel beter en meer modern georganiseer is. Onder die ANC-bewind het ons tot die vlak van ‘n derdewêreldland verval, met ‘n outydse, magtige (en swart) burokrasie wat die bevolking administreer en verdruk. Vir my koms na Europa moes ek ‘n magdom geboortesertifikate vir my kinders van Binnelandse Sake in ‘n stink, chaotiese kantoortjie in Randburg aanvra. In Nederland geskied die meeste van jou interaksie met die staat, die munisipaliteit of die administrasie aanlyn. Naby die plek in Amsterdam waar ek en my gesin tuisgegaan het was ‘n kantoor van die “gemeente” oftewel munisipaliteit. Dit was skoon, netjies en modern. Ook sonder toue mense wat wag.

Amsterdam is ‘n bekoorlike, gesofistikeerde en kultuurryke stad wat jaarliks deur miljoene mense van regoor die aardbol besoek word. Oor die algemeen is die mense vriendelik en behulpsaam. Net hier en daar het ek ‘n onbeskofte of afsydige persoon teëgekom.

Nederland is natuurlik sinoniem met fietse. Oral is daar tweewielrytuie in sogenaamde “fietsstallings”. Veral by die Centraalstation van Amsterdam kan honderde, indien nie duisende, fietse opgemerk word wat daar gelaat is, terwyl die eienaars iewers heen met ‘n trein vertrek het. Openbare vervoer soos treine, trems (hulle noem dit “trams”) en busse werk goed en mens kan selfs laataand nog gemaklik elke tien minute of wat ‘n trein of ‘n trem haal.

Naas feitlik elke pad, is daar ‘n fietspad of -baan waar fietsers mag ry. Die meeste verkeersligte bevat drie soorte ligte: een vir motors, een vir fietse en een vir voetgangers. Dit neem ‘n rukkie om daaraan gewoond te raak, maar dis ‘n baie logiese stelsel.

Nederland is ook veilig – so anders as Suid-Afrika. Ek het nêrens bedreig gevoel nie. Hoewel daar ‘n toenemende aantal Moslems, swartes en ander immigrante in Nederland verkeer, is die soort geweld en wetteloosheid wat ons in Suid-Afrika ervaar, eenvoudig ondenkbaar. As mens daaraan dink dat daar in Nederland maar 110 moorde per jaar plaasvind, teenoor 19 000 in Suid-Afrika, dan besef jy dat daar ‘n hemelsbreë verskil in misdadigheid is.

In Nederland is daar so te sê volle indiensneming. Volgens beskikbare syfers van die owerheid bestaan daar 250 000 vakatures wat nie gevul kan word nie. Oral in Amsterdam, by winkels en ander ondernemings, het ek plakkate gesien wat ‘n “leuke baan” adverteer. Derdewêreldimmigrante word egter by voorkeur nie in diens geneem nie, omdat hulle nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie, maar ook omdat werkgewers agterdogtig teenoor hul werksetiek staan. Hoewel Nederland ‘n polities korrekte beeld uitstraal, bestaan daar dus tog iewers ‘n “voorkeur vir blankes” as dit by indiensneming kom.

Aan die ander kant is daar ‘n skokkende hoeveelheid gemengde pare in Nederland, met vele “nuwe kleurlinge” wat uit sulke huwelike of saamwoonverhoudings gebore word. Dikwels het ek op straat gewonder wat ‘n mooi, lang, blonde Nederlandse meisie of vrou in die swartman of Surinamer aan haar sy sien. Maar soos in Suid-Afrika, moedig die media en die advertensiewese vermenging aan as “iets normaals” en selfs wensliks.

Blykbaar is dit net Afrikaners en suidelike Amerikaners wat afsydig staan teenoor rasvermenging, miskien vanweë ons eeue lange ervaring van die ongeluk en verval wat daarmee gepaardgaan; in Wes-Europa gaan mense nog harde lesse in dié verband leer.

Hoewel vele jong Nederlanders en studente “regs” is en vir die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders stem, verkeer die media en universiteite steeds in die hande van linkses. Tydens my verblyf in Amsterdam het ek ‘n demonstrasie daarvan gesien toe die minister van buitelandse sake, Stephanus Abraham (Stef) Blok hom tydens ‘n privaat geleentheid negatief oor immigrasie en derdewêreldimmigrante uitgelaat het. Onder andere het Blok gesê dat hy “geen multikulturele of multietniese land ken waar mense vreedsaam met mekaar saamleef nie”. Volgens sommige Nederlandse koerante sou hy selfs “genetiese redes” daarvoor aanvoer.

Verder het Blok gemeen dat Suriname, die voormalige Nederlandse kolonie met sy grotendeels swart en kleurlingbevolking, ‘n “mislukte staat” sou wees. “En dit het veral te make met die etniese samestelling,” het Blok gesê. Hy het Singapoer geprys omdat dié land “geen arm migrante toelaat nie, moontlik wel as skoonmakers.”

Die hoofstroommedia het onmiddellik histeries geraak. Selfs al het Blok noodgedwonge verskoning gemaak in ‘n brief aan die Tweede Kamer (die Nederlandse Volksraad) dat hy hom “in te skerp bewoordinge uitgelaat het”, het die pers so min of meer sy kop geëis. Die dagblad Het Parool, het dit op sy voorblad uitgedruk met die woorde: “Blok heeft spijt, maar is het genoeg?”

‘n Poging om ‘n mosie van wantroue teen Blok te laat aanneem deur die Tweede Kamer op 5 September 2018 het egter misluk, aangesien dit slegs die steun van die linkse partye, by name GroenLinks, die PvdA (Partij van de Arbeid) en die Partij voor die Dieren kon verwerf.

Soos elders in Europa, waar vernuwende denke meesal aan die regterkant van die politieke spektrum te vinde is, verkeer Links meerendeels in die verlede en hang die negentiende-eeuse sosialisme en kommunisme aan. Dit geld ook Suid-Afrika waar min of geen van die linkse partye hulle aan die toenemende krisis in ons land steur. Vir hulle gaan dit nog steeds om anti-apartheid, die Mandelakultus of Afrikaners wat bestraf of gestigmatiseer moet word. Die twee partye wat die meeste kommentaar oor Suid-Afrika en Afrikaners lewer, is die PVV van Geert Wilders en Forum voor Democratie van die jong politikus, Thierry Baudet.

Soos in Frankryk, Duitsland, Groot Brittanje, Swede en ander lande, is die enigste partye of groepe wat in Afrikaners belangstel of ons belange op die hart dra, diegene aan die regterkant van die politieke spektrum. Daarom het ons geen ander keuse as om met hulle saam te werk nie.

Daar bestaan ook ooreenkomste tussen Nederland en Suid-Afrika sover dit media en politiek betref. Die Engelse media in Suid-Afrika wat tans ANC-beleid propageer, is verlinks, anti-Westers, sosialisties en selfs kommunisties plek-plek, met die Afrikaanse media nie ver daarvandaan nie. Ons en die Nederlanders voer dus dieselfde tipe stryd net om gehoor te word en om ons as ‘n nasionale groep te handhaaf. Hoewel Nederland steeds oor ‘n eie, soewereine koninkryk beskik, is die land egter ondergeskik aan die Eurokrate van Brussel aan aan groter moondhede soos die VSA wat Nederland as ‘n klein landjie kan hiet en gebied.

Die grootste onderneming in Nederland – en in die hele Europese Unie! – is Koninklike Olie, oftewel “Royal Dutch Shell” soos dit op Engels bekendstaan. Shell is ‘n multinasionale maatskappy wat regoor die aardbol handel dryf, Engels as voertaal het en uitgelewer is aan die geopolitiek. In 2013 was Shell eerste op die Fortune Global 500-lys van die wêreld se grootste maatskappye, met ‘n omset van $556 miljard, ‘n bedrag wat gelykstaande was aan 84% van Nederland se BNP. Trouens, Shell se omset is rofweg twee keer so groot soos die hele ekonomie van Suid-Afrika!

Omdat Nederland via sy groot globale maatskappye soos Shell, Philips en Unilever so sterk deel uitmaak van die internasionale ekonomie, is die land ewe seer uitgelewer aan verengelsing en politieke korrektheid. Die Anglo-Amerikaanse oorheersing van die land is dus minder direk en ooglopend as by ons, maar nie minder skadelik vir die Nederlandse taal, kultuur en identiteit nie. Nie lank gelede nie, het Nederlanders die Swede verbygesteek as die tweedetaalsprekers wat die beste Engels magtig is. In Amsterdam wat toenemend deur toeriste oorval word, is dit soms irriterend hoe vinnig Hollanders met jou wil Engels praat as hulle hoor dat jy oor ‘n ander tongval beskik.

Verwoerd is in Amsterdam gebore en is, naas Paul Kruger sekerlik, tot vandag toe die mees gehate Afrikaner omdat hy dit durf waag het om teen Britse oorheersing in Suid-Afrika op te staan en insgelyks nie die dreigende Afromarxistiese revolusie wou aanvaar nie. Ná die tweede wêreldoorlog het vele Nederlanders na Suid-Afrika geëmigreer. Ook tydens en net ná die tweede vryheidsoorlog was daar sterk bande tussen Nederlanders en Afrikaners.

Hoewel daar vele struikelblokke bestaan, glo ek vas dat daardie gemeenskaplike Dietse identiteit van Afrikaners en Nederlanders – om van Vlaminge nie te vergeet nie – kan herleef. Dit hang van ons af of dit gaan gebeur of nie.

Dis ‘n ander groot onderwerp, maar ons moet besef dat die Afrikaner eintlik ‘n Europeër is, op ‘n manier wat Britte en Engelssprekendes nié is nie. Al woon ons reeds byna vier eeue op die Afrikakontinent, het ons in ons denke en in ons bloed getrou aan Europa en ons Dietse afkoms gebly en eintlik niks van Afrika behalwe die son en buitelug ons eie gemaak nie. Elke Afrikaner wat Nederland besoek, behoort dit binne enkele ure te besef.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.