Brief van Mr. Domestos: Waarheen nou, Gehasi?

Hier in die vroeë oggendure swoeg ek met die verwerking van ‘n projek aangehelp deur ‘n konstante voorraad kafeïn en nikotien (ek wéét, ek wéét).  Nogtans vind ek dat my aandag telkens afgelei word deur die nuus. Nog ‘n plaasmoord, nog ‘n bejaarde wat aangeval is, die rand wat val, die SAUK en Eskom is alweer bankrot, stakings onder die dekmantel van diensleweringsprotes. Dit lyk droewig. Oplossings kan ek weliswaar nie bied nie, en die opsies is maar weinig. Intussen word die pot se water stadig maar seker al warmer. Hiermee ook my stuiwer in die armbeurs:

Ondersteun Grondhervorming

Dat grondhervorming gaan geskied is ‘n voldonge feit en die massas sal nie rus voor daar radikale transformasie plaasvind nie. Die meeste Afrikaners ondersteun dit mits dit in lyn met die grondwet geskied sonder diskriminasie teenoor die minderheidsgroepe.  Selfs onder instansies soos Afriforum, Agri SA, Graan SA ensovoorts heers drastiese verskille en geen konsensus gaan ooit bereik kan word nie. Dit is alte duidelik hoe gou sekere leiers in die teenwoordigheid van Ramapokker en kie kapituleer. Afrikaners is nou eenmaal nie groepsdiere nie en almal trek dwars – nog meer so sonder behoorlike leierskap.

Bowendien gaan die regering hul sin kry deur die grondwet te verander, en onteiening sonder vergoeding is bloot ‘n kwessie van tyd.  Die Suid Afrikaanse regering het nie meer noemenswaardige bande met Europa nie en die koers wat ingeslaan word is ‘n posisionering in lyn met hoofsaaklik Sjina, Rusland en die ander BRICS lande – die het reeds swaar belê in Afrika. Nie die VSA, VK of enige Europese land het die politieke wil om in te gryp nie, en gaan dit doodeenvouding nie doen nie. Hulle het meer indringende probleme en nie een van hulle is bereid om vir hulself konflik met die BRICS lande op die hals te haal nie as gevolg van die potensiaal vir toekomstige handel, korrupsie en konflik. Die Zim scenario blyk al hoe meer ‘n realiteit te word. Afrika het doodeenvoudig ‘n ander benadering ten opsigte van eienaarskap en hul idee van demokrasie verskil loodreg met blanke kultuur.

Protes en Selfverdediging

Met protesoptogte gaan daar nie veel bereik word nie en min indien enige “Afrikaner” instansie is bereid om hul teen enige vergrype uit te spreek nie (ATKV, kerke ens).  Die meeste Afrikaner kultuur organisasies en gebruike is tot niet sonder ‘n piep van enige van die organisasies. Weg is Die Stem, die Vlaglied, volkspele, Bybel as skoolvak, opening met gebed, boeremusiek, Afrikaanse tv reekse, kommando’s, diensplig, skou en feesterreine op die platteland, geen befondsing vir Afrikaner monumente en museums, historiese geboue gaan tot niet, straat en dorpsname word bloot geskiedenis (Pietersburg, Klerksdorp, Potgietersrus ens). Die SAUK, Afrikaanse besighede, skole, universiteite, kolleges, koshuise – almal gedoem na bloot ‘n paragraaf in die geskiedenis. Plattelandse dorpe verswart en besighede word bedryf deur Sjinese en Somaliërs. Instede van die blanke winkeltjies en supermarkte ondersteun, word werkers aangery na die groot dorpe se Checkers en OK. En steeds swyg die ATKV, die susterskerke, die GRA en andere. Behoorlike Afrikaanse musiek sterf uit – stoutgattreffers is wat my aanbetref nie musiek nie. Die meeste wildsplase, vakansiehuise en gastehuise spog met Afrika name. Ons moor Afrikaans self uit.

Intussen is die verkiesing op hande en die regering beoog om die massas tevrede te stel – die massas is grondhonger al het hul nie ‘n benul van boer nie. Eintlik is hul geldhonger en die grond gaan weer verkwansel word. In die beperkte denke van die massas het blankes die land gesteel, en basta.  Feite tel nie punte nie.

Natuurlik sal daar diegene wees wat hul gaan verset, maar as jou gesin uitgewis is (word) beteken jou grond weinig en jy is volgende. Bravade gaan niks help nie. Selfverdediging werk in ‘n kleiner mate, maar soos wat in Zimbabwe gebeur het is daar geen verweer as ‘n skare op jou plaas toesak en jy ‘n keuse moet maak tussen jou eiendom en jou gesin se lewens nie. Jammer, my gesin kom eerste. Ongelukkig kan ons nie op die polisie of buurtwag staatmaak om in alle gevalle te help nie, soos ons reeds weekliks in die media lees. Intussen word die blankes stelselmatig uitgemoor. Selfs al sou groepe vir ‘n tyd hulself kon verdedig sal voorrade ook mettertyd uitgeput raak – Afrika soos ons nou al geleer het, het ‘n ander begrip ten opsigte van tyd. Hulp gaan nie opdaag nie en stelselmatig word alles in lyn gebring met Afrika kultuur.

Selfbeskikking

Daar is baie gedebateer oor die haalbaarheid daarvan. Alhoewel dit ook in die grondwet vervat is, weet ons ook dat die grondwet gewysig kan word – en dit sal in alle waarskynlikheid om beheer te behou. Dan die vraag – watter deel van die land? Suid-Kaap? Noord Kaap? Karoo? Waar en waarmee gaan almal boer? Waarheen met al die derduisendes in plakkerskampe rondom die stede en dorpe? Geforseerde verwydering is nie eens ‘n opsie nie. Binne ‘n bestek van ‘n paar jaar is hul weereens die meerderheid en dan herhaal die situasie hom van vooraf. Die ANC regering gaan dit definitief nie toelaat nie.

Orania

Regtig? Orania is op die vlaktes duskant Hebron. Ek was al daar en glo my, dit is nie waar die meeste van ons wil wees nie. Daar is beperkte grond en kan nie veel meer boere akkommodeer nie. Hoeveel plase kan daar uiteraard uitgekerf word uit daardie 9 km² en hoeveel mense kan die infrastruktuur dra? Hoe groot kan dit word sonder dat die regering ingryp? Buitendien, Orania is eintlik privaateiendom en jy gaan nie jou eiendom of besigheid in geheel self besit nie – aandele in stede van titelaktes. Orania het ‘n bestuurskomitee wat alles oorsien en jy is onderhewig aan hul reëls en regulasies om jou besigheid te bestuur. Dit werk vir ‘n paar mense, maar is nie ‘n haalbare opsie nie.

Emigreer

As jy kan is dit ‘n opsie, en vele het dit reeds gedoen maar dit kos geluk en geld – baie daarvan. Buiten die finansiële aspek is dit ook die agterlaat van familielede, sommige bejaardes. Indien ‘n groot groep wou emigreer, wat word dan van die minder bevoorregtes, kinderhuise, regstellende aksie slagoffers en dies meer? Ek kan nie insien dat enige land hul deure wawyd gaan oopmaak vir groot volumes nie.

Massa-emigrasie

Ongelukkig is dit ‘n politieke turksvy en Suid Afrika word steeds as ‘n veilige land beskou en geen land het tot dusver aangebied om groot getalle Afrikaners in te neem as vlugtelinge nie.  Ook is die meerderheid Afrikaners nie finansiëel daartoe in staat nie as gevolg van of puntestelsels of enorme kapitaalbeleggings wat vereis word.   Maar, die geskiedenis het ons ook geleer dat enige groepe immigrante ten enige tyd verplaas kan word. Rusland het wel gesê dat dit oorweeg sal word maar dit vereis stewige kapitaalbeleggings en in die verlede is sulke groepe, soos met die Duitsers, rondverskuif of erger situasies nog het ontstaan as gevolg van politiek. Die uiteinde van klein groepies is noodgewonge totale integrasie en assimilasie en die einde van die Afrikaner taal en kultuur. Australië mag dalk ‘n groepie boere inneem (soos Georgië in 2011), maar dit sluit die res van die Afrikaners uit.

‘n Nuwe Tuisland

Hierdie is waarskynlik bloot wensdenkery, maar tog ‘n opsie wat nog nie ondersoek is sovêrre ek kan vasstel nie. Hierin kan dalk net die antwoord lê. Alhoewel die grootte van ‘n land tog ‘n belangrike rol speel, is daar verskeie lande soos Monaco (2km²), Liechtenstein (160 km²), Nauro (21 km² ) en andere wat (uiters) suksesvol is.  Daar is ‘n verskeidenheid van eilande te koop (o.a. Panama – 30 km², Chile – 64.7 km²). Dit is meestal onderontwikkeld maar en kan nogal heelwat bewoners akkommodeer.

https://www.privateislandsonline.com/search?availability=sale&region=&q2=&q=&price_range=0%3A50000000&size_range=1000%3A1000&view%5Bmap%5D=0

Kan dit nie dalk die begin wees van ‘n nuwe onafhanklike Afrikaner staat nie? Die eiland kan ontwikkel word as ‘n toeriste bestemming, belasting hawe vir beleggers ens. Boere wat wel wil voortgaan om te boer in Afrika kan ‘n veilige hawe hê vir hul familie en gesinne terwyl die eiland ontwikkel word. ‘n Regering kan saamgestel word uit bekwame amptenare en weermaglede wat werklike ondervinding het. Die wat wil bly kan bly. En nee, ek kan dit nie bekostig nie – maar daar kan sekerlik ‘n manier wees om befondsing te bekom? Aandele, beleggings, Ernie Els? Dagvaar vir Theresa May vir ABO se pyn en leiding? Ek weet nie…

Dit is waarskynlik net wensdenkery, maar, is dit nie die moeite werd om dit as opsie te ondersoek nie? Andersyds droom ek maar voort!

Nouja, hierdeur het ek sekerlik vir myself die gramskap op die hals gehaal van die hele gemeenskap! En ek kort vars koffie. Sela.

—Mr. Domestos

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.