Leon Lemmer: Danny Danon se verset teen terrorisme en kompromieë

Jode betoog in Berlyn, vroeër vanjaar. Foto: Dan Roodt

Op 22 Maart was dit Wêreldwaterdag. Danny Danon, Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, het toe in ‘n toespraak genoem dat Israel voortreflike kundigheid in en uitgebreide ondervinding van ekonomiese waterverbruik asook van daadwerklike droogtebestryding het. Omdat Israel ‘n dor land is, het hy uitstekende tegnologie vir optimale waterbestuur ontwikkel waarby meer as ‘n honderd lande reeds baat gevind het. Danon het ongetwyfeld kennis geneem van die waterkrisis waarin groot dele van Suid-Afrika verkeer, want hy het toe spesifiek verwys na die (kenmerkende) dwaasheid van die ANC-regering: Die ANC-regering weier om in hierdie lewensnoodsaaklike opsig by Israel se kundigheid te baat omdat die ANC hom polities by die Palestyne skaar.

In konserwatiewe of regse geledere oor die wêreld heen is daar groot verdeeldheid oor die Jode. Sowel pro- as anti-semitisme kom algemeen voor. My houding oor hierdie netelige kwessie is min of meer soos dié van die Britse diplomaat, politikus en skrywer, Harold Nicolson (1886-1968), wat met die skryfster Vita Sackville-West (1892-1962) getroud was. In my beroepsloopbaan was ek verdraagsaam genoeg om nie anti-semities te wees nie. Ek het die beginsel eerbiedig dat die akademies beste persone in akademiese poste aangestel moet word; ‘n beginsel wat sedert 1994 aan al die plaaslike universiteite versaak word. Wanneer dit gekom het by samewerking met ‘n Jood of Jodin was dit in die praktyk vir my soms bitter moeilik. Daar was altyd iets (wat moeilik spesifiseerbaar was) wat in die weg van salige harmonie gestaan het.

Nicolson was ‘n amptenaar in die departement buitelandse sake toe die Balfour-verklaring in 1917 uitgereik is. Daarvolgens het die Britse regering hom ten gunste van ‘n tuisland vir die Jode in Palestina verklaar. Nicolson se gesindheid was pro-Sionisme. “Sionisme: Oorspronklik, strewe van, beweging onder die Jode om hul eie staat in Palestina te stig, en tans om hierdie staat te ontwikkel” (HAT). Nicolson het sy standpunt soos volg verwoord: “Although I loathe anti-Semitism, I do dislike Jews” (Norman Rose, Harold Nicolson, London: Pimlico, 2006, 400p; Amazon Kindle $11.49, 1512). “This was a subtle difference,* as one thing could so easily lead to another. For all that, a trace of anti-Semitism also fuelled his Zionism – as it did with so many other Gentile Zionists. Zionism, they claimed, would repair perceived defects in the Jewish character. It would restore to the Jews their dignity, that corporate national confidence and self-respect they so clearly lacked: it would, so to speak, stiffen the backbone of the Jewish people” (1517).

[* In hierdie opsig was Nicolson buitengewoon begaaf, bv hy het George Curzon (1859-1925) as Britse minister van buitelandse sake beskryf as “a shit, but a decent one” (2714). Nog voorbeelde: “I loathe success … how far better to be a noble failure” (3863). “He had the mind of a super-criminal and the character of a saint” (4095). “It is strange that the Americans, who have such a passion for talking, should have no idea of conversation” (4102). Vita, Nicolson se lesbiese vrou, het met soortgelyke formulerings vorendag gekom. Oor Virginia Woolf (1882-1941) het sy geskryf: “I love her, but couldn’t fall ‘in love’ with her” (2774). Insgelyks skryf Nicolson: “Viti has bought her Jaguar, which is an insane thing to have done, but wise” ( Diaries and letters, 1945-1962, London: Collins, 1968, p 284). “The English do not appreciate subtlety unless it is underlined” (177). Die subtiele onderskeide wat Nicolson gemaak het, het blykbaar sy biograaf beïnvloed. Oor Nicolson skryf Rose: “Although not conventionally handsome, he was an attractive man” (4142). Nicolson word “a minor aristocrat” genoem (4294), wat my laat dink aan die meisie wat universiteit toe is om ‘n graad te verwerf en in plaas daarvan met ‘n baba by haar ouerhuis opgedaag het en haar verontskuldig het deur te sê dit is maar ‘n kleintjie.]

Om dieselfde rede bepleit ek ‘n tuisland vir Afrikaners, sodat ons ons eie heil kan bepaal, dus met selfbeskikking tot ons reg kan kom. Ek is egter glad nie so seker daarvan dat Jode selfvertroue kortkom nie. Dikwels is daar ‘n oormaat daarvan by hulle te bespeur. Rose skryf: “Once given a National Home, they would no longer misuse their considerable gifts for mischievous ends. It ‘would be a nice place,’ Harold reflected, ‘in which to collect all the Jews of the world, as Butlin’s collects the noisy holidaymakers” (1517). Butlin’s “is a chain of large holiday camps in the United Kingdom” (Wikipedia). Wat Nicolson van die Jode bewonder, is “maintaining continuity of religion and racial tradition” (1523), dus hulle behoud van identiteit, oor eeue heen. Om dieselfde rede het ek waardering vir die Jode en in die geval van die Israeli’s ook vir die manier waarop hulle hulle tuisland Israel sedert 1948 koester, ontwikkel en verdedig. In hierdie opsigte stel hulle ‘n navolgenswaardige voorbeeld aan Afrikaners.

Daar is ‘n neiging om die Suid-Afrika van weleer vanweë sy apartheidsbeleid met Nazi-Duitsland te vergelyk. Daarmee word destydse fundamentele verskille tussen hierdie twee lande geïgnoreer. Waaraan eintlik uitdrukking gegee word, is anti-blanke sentiment. Enigiets waarvan bv linkses en progressiewes nie hou nie, word rassisties, fascisties, Naziïsties, ens, genoem. Sedert die ondergang van die blanke bewind en apartheid in Suid-Afrika word Israel dikwels van apartheid beskuldig – lees bv “Israel and the apartheid analogy” (Wikipedia).

In 1948 het die Nasionale Party in Suid-Afrika aan die bewind gekom en sy apartheidsbeleid ingestel. In dieselfde jaar het Israel die internasionaal erkende tuisland vir Jode geword. Aanvanklik was daar goeie samewerking tussen hierdie twee lande omdat daar talle ooreenkomste tussen hulle was. Byvoorbeeld, in albei is die regering se voortbestaan deur verswelgengde, gewelddadige elemente bedreig; swartes in die geval van Suid-Afrika en Arabiere en ander Moslems (bv Turke, Irannese) in die geval van Israel. In albei gevalle is dit geografies ‘n lewensgevaarlike buurt om in te wees. Wat sedertdien gebeur het, is dat die blanke bewind in Suid-Afrika op verraderlike wyse ondergegaan het terwyl Israeliese Jode steeds in beheer van hulle land is.

Die vraag wat gevra kan word, is: Waarom het Afrikaners, anders as die Jode, nie meer ‘n tuisland nie? Die saaklike antwoord is: Weens die onnoselheid van ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes (sekerlik nie-Afrikaners), spesifiek FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers (bv Praag 17.03.2018). Israel word in die retoriek van dieselfde “euwels” as die Suid-Afrika van weleer beskuldig, bv Europese/Westerse beskawing, kolonialisme, rassisme, die onwettigheid van die regering, wreedheid en onderdrukking. Die toepassing van dubbele standaarde, asook stereotipering, demonisering en boikotte, het aanvaarde praktyk geword. Ook Israel ervaar dat terroriste verafgod (“idolized”) word en ikoniese status verwerf.

Die voortreflikste eienskap van baie Jode, afgesien van in watter land en hoe lank hulle diaspora daar is, is seker dat hulle hulle identiteit (hulle kultuur, moedertaal, godsdiens) behou. In hoeverre en vir hoe lank kan dit van Afrikaners wat hulle in die buiteland vestig, gesê word? Selfs Afrikaners wat hier aangebly het, het in baie gevalle dermate hulle trots en selfrespek verloor dat hulle bv (toenemend) geradbraakte Afrikaans praat en geen poging aanwend om blanke of Afrikanerbelange te bevorder nie.

In 1947 het die Verenigde Nasies besluit om die gebied omring deur die Middellandse See (in die weste), Libanon en Sirië (in die noorde), Jordanië (in die ooste) en Egipte (in die suide) in twee te verdeel; een deel vir die Palestynse/Arabiese Moslems en die ander deel vir die Israeliese Judaïste (historiese Israel en Juda). Jerusalem is tot internasionale gebied verklaar. Hierdie grondverdeling is op sowel etnisiteit as religie gebaseer, op ‘n tydstip toe sulke verskille nog van deurslaggewende belang geag is en nie, soos dikwels tans, goedsmoeds geïgnoreer of selfs ontken is nie. Die Israeli’s het die verdeling aanvaar en hulle landjie in 1948 onafhanklik verklaar. Die Palestyne het die bestaansreg én die grense van Israel ontken. Die Palestyne wou die hele gebied met hulle getalsoorwig beheer en het sedertdien met behulp van ander Arabiere en Moslems talle oorloë teen Israel gevoer.

Reeds met die 1948-oorlog het Israel sy grondgebied verdubbel. In die 1967-oorlog het Israel beheer oor Gaza (in die suide), die Golan-hoogland (aan die Siriese grens in die noorde) en die Wesoewer (Judea en Samaria aan die Jordaniese grens in die ooste) verkry en sy gesag oor die hele Jerusalem uitgebrei. Elke keer nadat die Arabiere tydens ‘n oorlog slae gekry het, het hulle die uitslag gevier asof hulle die oorwinning behaal het en dadelik hulle onrusstoking en geweldpleging hervat.

Danny Danon (gebore in 1971) is ‘n lid van die sekulêre, konserwatiewe Likud-party in Israel. Die Hebreeuse woord “likud” beteken konsolidasie of solidariteit. Danon was ‘n minister voordat hy in 2015 as Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies aangestel is. Hy het die volgende boek gepubliseer: Israel: The will to prevail (New York: Palgrave Macmillan, 2012, 241p; Amazon Kindle $7,74). Dit blyk dat hy goed ingelig is oor bv die geskiedenis van Israel en daardie land se verhouding met veral Amerika. Hy formuleer ‘n heldere en ontoegeeflike standpunt, onder meer omdat hy en sy familie (bv sy pa) baie weens Palestynse terrorisme gely en opgeoffer het.

Terwyl ek sy teks gelees het, het ek gewonder hoeveel beter die uitslag van die Suid-Afrikaanse grondwetlike onderhandelings kon gewees het as die hoofrolspelers in die NP se onderhandelingspan persoonlike verliese gely het weens die dood en verwoesting wat die ANC se terrorisme gesaai het. Die ANC se onderhandelaars is deurgaans verkeerdelik benader asof hulle voortreflike menslike mense is – iets wat terroriste nie kan wees nie – dus asof hulle in woord en daad eerlike en hoogs morele bedoelings het. By Danon is daar die onwrikbare oortuiging dat Israel as ‘n Joodse tuisland moet en sal oorleef. By De Klerk & kie, daarenteen, was daar ruggraatlose toegeeflikheid. Die wil om te sorg dat die blankes hulle selfbeskikking behou, het ontbreek. Die behoud van Westerse beskawing, die blankes en die land se belange, asook Afrikaner- en Afrikaansgetrouheid, het glad nie by die NP-onderhandelaars voorkeur geniet nie. Pleks van sulke positiewe oorwegings is daar eerder voorkeur gegee aan ‘n spekulatiewe, negatiewe illusie, te wete die vermyding van bloedvergieting in ‘n gewaande burgeroorlog.

‘n Deurslaggewende faktor in die volgehoue voortbestaan van Israel is dat driekwart van sy bevolking van bykans 9 miljoen Jode is, terwyl Suid-Afrika ‘n swart meerderheid van meer as 80% het. In die voor-De Klerk-era is gepoog om die bevolkingswanbalans te verbeter deur voorsiening vir talle tuislande vir swartes te maak. Tydens die grondwetlike onderhandelinge het die Nasionale Party aanvanklik flouweg voorbrand vir federalisme gemaak. Die ANC wou egter op grond van die oorweldigende getal swartes beheer oor die hele Suid-Afrika hê, insluitende die tuislande vir swartes. Hiertoe het De Klerk & kie ingestem, asook algemene, ongekwalifiseerde stemreg vir almal; dus ‘n onfeilbare resep vir die ondergang van blanke politieke mag. De Klerk het verder gegaan en hom by die ANC geskaar teen tuislande vir nie-swartes, bv blankes, insluitende Afrikaners.

In die Midde-Ooste het sake anders verloop. Daar is minstens drie grondwetlike opsies. (1) Die eenstaat-oplossing (dus die De Klerk-opsie) waarvolgens die Palestyne en Israeli’s in een staat saamgevoeg word, met die Palestyne getalsgewys by verre in die meerderheid, onder meer omdat miljoene Palestyne in buurstate en elders wag om na hulle tuisland terug te keer (al sou dit vir die oorgrote meerderheid geen terugkeer wees nie omdat hulle in die buiteland gebore is). Die Joodse Israeli’s is nie so onnosel om “die wonderwerk van die nuwe Suid-Afrika” as voorbeeld na te streef en hulleself polities en andersins te ontman nie. (2) Die tweestaat-oplossing soos in 1947 deur die Verenigde Nasies in die vooruitsig gestel; dus twee polities onafhanklike state, een vir hoofsaaklik Palestynse en een vir hoofsaaklik Jode. Die probleem is dat tensy die bestaan van Israel én sy grense deur die Palestynse staat erken word (wat die Palestynse owerhede tot dusver geweier het om te doen) dit ‘n resep vir voortgesette geweldpleging en oorlogvoering is. (3) Die driestaat-oplossing soos voorgestel deur Danon: Gaza word by Egipte ingelyf en die Wesoewer by Jordanië, wat histories in elk geval deel van Palestina was. Israeliese grondgebied skei hierdie twee Palestynse gebiede, wat moontlik ‘n resep vir vrede of ten minste minder bloedvergieting kan wees.

Danon wil nie die hele Wesoewer aan die Arabiere en Jordanië toevertrou nie, maar slegs daardie dele met substansiële Arabiese bevokings. “Our goal is to have the majority of the land in Judea and Samaria [ie West Bank] with a minimum number of Palestinians, which includes Jewish communities and the vacant land” (Kindle 2569). Die dele van die Wesoewer waar Jode in die meerderheid is of onbewoon is, moet dus by Israel ingelyf word. Dit is immers gebiede wat in 1967 deur Israel in ‘n defensiewe oorlog verower is. Op hierdie manier word meer lewensruimte vir Israeli’s geskep sonder dat die Jode demografies ‘n minderheid in Israel word. “Just under 3 percent of the land in Judea and Samaria [ie West Bank] is ‘occupied’ by Jewish homes. I wish it was 90 percent” (872).

Vergelyk die patetiese rekord van die onderhandelaars van die Nasionale Party in 1990/94 met wat hier volg. In sy boek beklemtoon Danon dat as ‘n land onafhanklik is, jy nie daardie outonomie prysgee nie. As parlementslid was sy benadering: “My goal is to protect the people I serve and the land I love” (83). Hy vereis dat Israeli’s altyd in die beste belang van Israel moet optree; dat nie toegelaat moet word dat bv Amerika hom verplig om in die belang van Amerika op te tree nie. “Israel fares best when she makes decisions based on her own best interests, and not on the wants and needs of the US government” (1382). Hy gee talle voorbeelde van hoe sulke toegewings Israel duur te staan gekom het. “Israel must take firm hold of its own destiny with a ready willingness to act decisively on its own behalf” (114). “We need to take control of our own destiny and dictate our own history” (123, ook 1382). “We must be confident to take matters, when necessary, into our own hands despite world or US opinion” (899). “Israel must be willing to make decisions that are unpopular around the globe and be willing to be condermned in the short term for such decisions in order to secure the wellbeing of our people” (2026).

Wat noodsaaklik vir voortbestaan is, is “to develop the ability to take a stand” (144). Politici moenie slapgat en ruggraatloos wees nie. Politiek is ‘n harde en ongenaakbare spel. “Only after Israel shows strength and the ability to manage the conflict can we gradually move on to longer-term solutions” (2556). “A secure Israel … should enjoy certain inalienable rights – the right to exist, the right to security, and the right to defend itself” (170). “When you see something evil, you should not trivialize it; you should deal with it before it reaches your shores with more organized power” (385), bv die basisse van terroriste in buurlande moet meedoënloos in voorspring-oorgrensoperasies uitgewis word (1879). “This is basic, Israel cannot even begin to negotiate with a terror organization” (226, ook 1269). Israel sal nie toelaat dat daar ‘n tweede Holocaust is nie (283). ‘n Elementêre vraag: “Why create a safe haven for terrorism in your backyard?” (746), maar dit is presies wat FW de Klerk in 1990/94 toegelaat het, toe terroriste en wapens weens gebrekkige grensbeheer die land op groot skaal ingestroom het en rekrute in bv die Transkei in terrorisme opgelei is.

Deesdae word politiek in die sogenaamde nie-rassige Suid-Afrika kwantitatief, dus volgens rasgetalle, oftewel ingevolge die demografie, bedryf. Aleksei Kosygin, die Sowjetunie se eerste minister (1964-1980), “couldn’t understand why the Americans would want to support the Jews – three million people when there are a hunderd million Arabs. [Lyndon] Johnson’s reply to his Soviet counterpart was blunt: ‘I told him that numbers do not determine what was right. We tried to do what was right regardless of the numbers'” (1830). Suid-Afrika sou baie beter daaraan toe gewees het as ‘n soortgelyke morele en kwalitatiewe benadering in 1990/94 geseëvier het.

“The Arabs hate Israel because it represents the West, a bastion of freedom and democracy in a sea of dictatorships, backwardness and repression” (2552). Is die haat teen blankes, bv anti-apartheid en anti-kolonialisme genoem, nie soortgelyk nie? Is daar grondliggend nie jaloesie vir wat blankes vermag het en swartes nie kan ewenaar nie, om van oortref nie te praat nie? Die Arabiere se plan was “to extract concessions from Israel in the guise of negotiations until all of Israel had been compromised away” (2517). Is dit nie presies die strategie waarmee die ANC in 1990/94 in Suid-Afrika suksesvol was nie?

Winston Churchill het Brittanje in die Tweede Wêreldoorlog tot oorwinning gelei. In sy beroemdste toespraak het hy onder meer gesê: “We shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender” (Thomas E Ricks, Churchill and Orwell: The fight for freedom, London: Duckworth, 2017, 370p; Amazon Kindle $12.64, 1441). By ‘n ander geleentheid het Churchill twee riglyne vir sukses geïdentifiseer: “Never give in … Never yield to force” (1505). Die NP-onderhandelaars het nooit enige blyke van Churchill se gesonde benadering gegee nie.

Weens die droogmakery van die 1994-NP-neo-hensoppers moet ons as Afrikaners nou in ‘n baie slegter, eintlik bedenklike, situasie nuwe strategieë, middele en weë bedink en vind om uit die moeras te kom wat dreig om ons en alles wat vir ons waardevol is, te verswelg. Hoeveel beter sou die nuwe Suid-Afrika nie gewees het as die NP-onderhandelaars dieselfde benadering as Danon gevolg het nie? Blank Suid-Afrika moes nooit ‘n verstrykingsdatum gehad het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.