Motors: Sjinese sjiek

Sjinese sjiek. Bestaan daar so iets? Dink ons aan Sjinese rygoed, kom die beeld van uiters swak geboude motors wat merendeels uit swakgehalteplastiekpanele aanmekaar gesit is, in my gedagtes op.

Tans in Suid-Afrika is die enigste gevestigde Sjinese vervaardiger wat nie net bekostigbare motors bou nie, maar ook relatief betroubare motors, GWM of Great Wall Motors. Haval is die luukser afdeling van GWM net soos Lexus ‘n Toyota met ‘n pak klere aan is en Infinity Nissan se luukser afdeling uitmaak. Ander vervaardigers soos Honda het die Acura-afdeling en Hyundai het die Genisis-afdeling. Haval is heeltemal ‘n handelsmerk op sy eie onder die GWM-kombers.

Die Haval H2 van voor af

Ons het die geleentheid gekry om twee van Haval se produkte onder hande te neem. Die modelreeks van Haval bestaan uit vier modelle met ‘n vyfde wat baie binnekort ook deel van die skietgoed gaan uitmaak. Die reeks begin by die Haval H1 wat as ‘n minikruisveldvoertuig teen die Toyota Etios Cross, VW Polo Vivo Maxx en Fiat Panda meeding. Dit is eintlik maar net ‘n klein luikrugmotortjie met swart stroke oor die wielboë, dakrelings en ‘n baie effens hoër ryposisie wat dié tipe motortjies onderskei van die gewone Etios en Polo Vivo. Die H1 was egter nog tot in 2017 bekend as GWM se eie M4. Op met die modelleer, kry jy die H2 wat in alle opsigte so ‘n bietjie groter as die H1 is. Die voertuig deel die marksegment met motors soos die Honda BR-V en Toyota Rush. Die volgende model in die Haval-reeks is die H6 wat in die mark teen motors soos die Toyota Rav 4 en Nissan X-Trail meeding. Die H6 C is die volgende op die leer en ding ook mee teen motors soos die VW Tiguan en Mazda CX5.

Syaansig van die Haval H2

Die twee modelle waaraan ons gaan aandag gee, is die H2 1,5T Luxury Outo en die H6 C City. Die Haval-modelreeks bestaan uit drie spesifikasievlakke. Die heel goedkoopste vlak met die minste standaardtoerusting is die City, dan die Premium en heel bo-aan die leer, die Luxury-spesifikasie. So in H2-gewaad kon ons die heel luukste weergawe ry en in die geval van die H6 C was die motor die intreevlakmodel in die reeks. Wat die voorkoms van die H2 aanbetref, lyk die motor vir my baie na die vorige generasie Rav4 of Chery Tiggo, net so ‘n aks groter.

Die H2 van agter gesien

Gemeet teen die Honda BR-V en Toyota Rush wat eintlik die nuwe Daihatsu Terios in ander lande heet, vertoon die H2 meer konserwatief en nie so erg Oosters soos die twee Japanners nie. Teen 4335mm is die H2 12cm korter as die Honda en 10cm korter as die Toyota Rush. Die Honda het egter sewe sitplekke terwyl die Haval en Toyota slegs in 5-sitplekgewaad beskikbaar is.

Die H2 se netjiese instrumentepaneel

Wat hoogte aanbetref, staan die H2 sowat 3cm hoer as die BR-V, maar 1cm laer as die Rush op sy wiele. Dit maak die in- en uitklimslag net daardie entjie gemakliker as die hoë Toyota. Wat skouerruimte binne die drie motors betref, troef die H2 beide die Japanners. In die geval van die Honda is die H2 ‘n hele 8cm breër en 12cm breër as die Toyota. Wat beenruimte aanbetref, veral vir die agterste passasiers, klop die H2 die Honda, maar is net nét knapper as die Toyota Rush. So veral agter meen ons sal insittendes baie meer gemaklik wees in die H2 as in enige van die twee Japanners. Hierdie is al drie gesinswaentjies wat mense en goeters moet kan karwei.

Die H2 se binneruim

Bougehalte is ook heelwat beter as in beide die Honda en die Toyota en dit word nie aldag van ‘n Sjinese motor gesê nie. Die tipe stowwe wat in die binneruim gebruik word, is werklik van ‘n hoë gehalte en die motor voel in ‘n ander klas wanneer dit vergelyk word met die BR-V en die Rush. Die H2 word in Sjina gebou terwyl die Rush uit Indonesië kom en die BR-V word in Indië gemonteer.

Wat toerustingvlakke aanbetref, is die Honda en die Toyota glad nie op dieselfde vlak nie. Al drie motors is gerieflik toegerus met genoeg veilgheidstoerusting om jou gerus te laat, maar die H2 bied net soveel meer, soos EBD- elektroniese rembeheer en BAS-rembeheer wat die Honda ook bied, maar die Toyota nie. Reënsensors wat die ruitveërs outomaties aanskakel, is standaard in beide die Honda en die H2 maar nie in die Rush nie. Leerbekleedsel, multifunksiestuurwiel, klimaatbeheer, elektriese verstelling van sitplekke, Bluetooth vir jou slimfoon, trukamera asook ‘n linkerkantse syspieëlkamera, outomatiese hoofligaanskakelaars, togbeheer om jou spoed op die snelweg te reguleer, ISO-hegstukke vir ‘n kinderstoeltjie, sleutellose toegang, outomatiese dompfunksie vir die middelste truspieël, 6 lugsakke, ABS-remme, allooiwiele, elektroniese skuifsondak, parkeersensors… Daar is ook ‘n volle noodwiel en nie een van die dun beskuitjiewieletjies nie.

Bagasieruim van die Haval H2

Wat die enjin aanbetref, word die H2 deur ‘n 1,5-liter- turbopetrolenjin aangedryf. Die enjin is gekoppel aan ‘n 6-spoed- outomatiese ratkas en dryf die voorwiele aan. Kraglewering is 105 Kw en 202 Nm se wringkrag. Vergelyk dit met die 88Kw van die Honda en 77Kw van die Toyota en dit word gou duidelik watter een van die drie motors mense en bagasie die gemaklikste kan vervoer, veral hier aan die Hoëveld. Teen 145Nm vir die BR-V en 135Nm vir die Rush voel die H2 in ‘n ander klas. Voeg nou die 5-jaar-100 000km-waarborg by en 5-jaardiensplan met 5jaar padbystand en hierdie Sjinees klink al hoe beter.

Wat die prys aanbetref, kry jy na ons mening nogal baie waarde vir die R314 900 wat die H2 jou gaan kos. Vergelyk dit met die Honda se R299 900 en die Toyota se R313 500 dan lyk die prentjie nog beter.

Haval H2 1.5T Luxury Outomaties

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40

H6 C

Die H6 van agter af

Ons toetsmotor was die intreevlak H6 C 2.0T City. Van buite vertoon die H6 C baie kleiner as wat hy werklik is. Teen 4549mm is hy net so lank soos ‘n Mazda CX-5 en 9cm korter as die Nissan X-Trail. Met ‘n asafstand van 2720mm — dit is nou die afstand tussen die vooras en die agteras — klop die H6 C beide die Mazda en die Nissan. Wat breedte aanbetref, is die Mazda ‘n halwe cm breër as die H6C maar die Haval is 1,5cm breër as die Nissan.

Die H6 se instrumentepaneel

Van skuins agter lyk die Haval asof hy dalk so ‘n bietjie Range Rover Evogue in sy ontwerp het. Die swewende daklyn en swart C- en B-pilare laat die motor baie sportief en modern voorkom. Binnelangs is die City-weergawe van die H6 C goed toegerus. As intreevlakmodel beskik die Haval oor al die moderne veiligheidskenmerke soos ABS-remme, EBD en BAS, asook ISO-hegstukke vir die kinderstoeltjies, 6 lugsakke, outomatiese deurvergrendeling, outomatiese ligte wat self aanskakel wanneer dit donker word, outomatiese reënveërs en sy spieël wat wegvoubaar is. Daar is n trukamera en parkeersensors, Bluetooth, ‘n multifunksiestuurwiel, navigasie, sleutellose toegang. Al wat die H6 C nie het nie, is leerbekleedsel vir die sitplekke. Daar is leer op die stuurwiel en sypanele van die deure.

Binneruim van die H6

Die binneafwerking en materiaal is werklik van ‘n hoogstaande gehalte en weereens kan ‘n mens nie glo hoeveel ruimte en toerusting hierdie motor bied nie. Vergeleke met die Mazda is die Haval R56 000 goedkoper en R51 000 goedkoper as die X-Trail. Die X-Trail bied ook nie naastenby dieselfde standaardtoerusting as die Haval nie en bougehalte in die Nissan is ook nie op dieselfde vlek as in die Mazda of die Haval nie.

Wat enjins aanbetref, word al drie hierdie motors deur 2.0-literenjins aangedryf. Die Haval se enjin is gekoppel aan ‘n turboaanjaer terwyl die twee Japanners sonder aanjaging moet klaarkom. Die H6 C lewer 140Kw en 310Nm se wringkrag terwyl die Mazda 121Kw en 210Nm lewer en die Nissan 106Kw en 200Nm. Die verskil kan duidelik gevoel word wanneer daar mense en bagasie in die motor is. Met ‘n wringkrag-tot-massaverhouding van 183Nm/ton vir die Haval en 137Nm/ton vir die Mazda is die verskil nogal merkbaar. Al drie hierdie motors word aangehelp deur ‘n 6-spoedhandratkas. Die verskil is dat die Haval se enjin ‘n Euro 6-vlakenjin is terwyl beide die Mazda en Nissan nog Euro 4-vlakenjins is. Om julle ‘n idee te gee: daar bestaan wetgewing in Europa wat alle Euro 4 of ouer enjins vanaf 1 Januarie 2019 verbied as gevolg van uitlaatgasse wat dan te hoog sou wees. Dus verkeer Haval nogal op die Europese bougehaltevlakke ook wat hulle enjins aanbetref.

Bagasieruim van die Haval H6

Neem ‘n mens al hierdie spesifikasies en enjintegnologie in ag, dan lyk die prys van die Haval H6 C 2.0T City van R329 900 glad nie sleg nie, veral gemeet aan direkte mededingers in die marksegment. Hierdie prys sluit ‘n 5 jaar/100 000km-waarborg met ‘n 5-jaardiensplan en padbystand in.

Wat die handelaarsnetwerk aanbetref, is daar reeds 28 Haval-handelaars regoor Suid-Afrika en 65 GWM-handelaars waarvan elkeen jou Haval sou kon versien.

Haval H6 C2.0T City

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 39 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.