Leon Lemmer: Ton Vosloo: Lof der Zotheid?

Ton Vosloo

Desiderius Erasmus (1466-1536) het in sy boek, Lof der Zotheid (1511), die najaging van eie belang (insluitende die ek-sindroom/selfliefde) en die kortsigtigheid van sy tydgenote aan die kaak gestel. Volgens hom sal die mens Dwaasheid nooit afskud nie omdat hy meer deur hartstog as deur die rede beheer word. Dwaasheid veroorsaak dat mense die foute of voortreflikhede van ander mense selektief raaksien of miskyk. Dit is Dwaasheid wat veroorsaak dat die menigte nagevolg word. Die mees misleide mense is diegene wat vreugde put uit die verkondiging van leuens. Dwaasheid veroorsaak dat die mens sy ware natuur verloën deur die dood te verkies. Dalk ook die vernietiging van etniese groepe.

Ongelukkig het ek toegang tot slegs ‘n Engelse weergawe van Erasmus se boek: The praise of Folly (128p; Amazon Kindle $0), vertaal deur John Wilson in 1668. Die volgende aanhalings uit hierdie lughartige boek kan (in ‘n mate) op wat hier onder volg toegepas word. Veral twee Dwaashede is in hierdie rubriek ter sake: “Philantia/Self-love” en “Kolakia/Flattery” (Kindle 108). Daar word verwys na ‘n man “that commits no errors himself, but has a lynx’s eyes upon others … the only wise” (411). “He may lawfully praise himself that lives far from neighbors” (60). “The more foolish a man is, the more he pleases himself and is admired by others” (641). Cicero: “All things are full of fools” (1139). “The greatest part of mankind are fools” (260). Prediker: “The number of fools is infinite” (1139). “Age, which is wont to render other men wiser, makes them the greater fools” (180). “All things sacred and profane are turned topsy-turvy” (92). Byvoorbeeld, Karel Schoeman het na ons “omgedopte land” verwys. “None but one of their own tribe can understand them” (893). Oor kulturele verwording en transformasie: “As if there were any difference between perishing and being another thing” (172).

Ton Vosloo (gebore in 1937) se boek, Oor grense: ‘n Lewe in die media in ‘n tyd van verandering (Jeppestown: Jonathan Ball, 2018, 427p, R275; Amazon Kindle $13,59), wat op 24 Augustus op Amazon vrygestel is, het my tydens die lees daarvan spoedig aan Erasmus se boek herinner. ‘n Engelse vertaling van Vosloo se boek is terselfdertyd gepubliseer. Die outeur was aanvanklik ‘n joernalis, van 1984 af die uitvoerende hoof en van 1997 tot 2015 die voorsitter van Nasionale Pers (Naspers van 1998 af). Vosloo stel homself en die Nasperskoerante, veral vanaf die ontstaan van Beeld in 1974 – hy was die redakteur vanaf 1977 – voor as invloedryke bevorderaars van die “inklusiewe demokrasie” waarin ons ons sedert 1994 bevind. Dit is soortgelyk aan wat mede-joernalis Harald Pakendorf in sy gepubliseerde herinneringe gedoen het, maar in sy geval by Perskor, spesifiek by Die Vaderland (Praag 14.04.2018). Vosloo verwys na Pakendorf se “versigtig verligte toon” (Kindle 2680). Ondersteuners van apartheid asook Broederbonders het ná 1994 uiters skaars geword. Dit is te wyte aan die weerhaan-sindroom. Mense is geneig om hulle te skaar by wat in die mode is. Die kragdadigheid van die blanke politieke bewind is vervang met die waagmoedige ondersteuning van swart mag.

Aan die begin wek die boek die indruk van ‘n sistematies, selfs chronologies, geskrewe teks. Daarna verval die boek egter in fragmente waarin baie herhaling voorkom. Vosloo probeer om lesers se belangstelling te behou deur skinderstorietjies aan te bied. Ek gaan nie veel uitwei oor die outeur se lewensgeskiedenis nie. Die meetsnoere het vir hom in lieflike plekke geval. Hy en Koos Bekker, wat Vosloo as uitvoerende hoof en daarna as voorsitter van Naspers opgevolg het, is voorbeelde van hoe buitensporige welgesteldheid mense nie net gaaf en selftevrede maak nie, maar hulle ook positief oor die nuwe Suid-Afrika stem. Die land wat in chaos en agteruitgang verval het, ontstel hulle nie danig nie, want Vosloo het ‘n uitvlugplekkie in Frankryk terwyl Bekker syne in Engeland aangeskaf het. Wanneer ek blanke bedelaars by straatkruisings sien, wonder ek onwillekeurig hoe diegene wat die voorbokke vir verandering was, hierdie verskynsel met hulle gewetens versoen. In baie gevalle is sulke bedelaars en verarmdes die slagoffers van rassediskriminasie.

Vosloo erken dit nie direk nie, maar hy kom, soos Willie Esterhuyse, uit ‘n Sap-gesin. “Ek kom nie uit ‘n stoer Afrikaner-nasionalistiese agtergrond nie” (4662). Namate die blanke bewind gekwyn het, het albei hulle al hoe meer van die tradisionele Afrikaners gedistansieer. Vosloo dateer sy oorverligtheid heel moontlik verder terug as wat werklik die geval was. Oor sy jeug skryf hy: “My Afrikanergevoelens was maar redelik lou” (210). Hy hou van wat Giuseppe Mazzini gesê het: “Sluimer nie in die tente van jul vadere nie” (2495). “Die kultuur van eng, eksklusiewe [blanke/Afrikaner] nasionalisme moes nek-om gebuig word. Ons moes ‘n meer inklusiewe Suid-Afrikaansheid begin kultiveer” (2484). “Ons moes dus ingestel wees op vernuwing, vorentoe kyk, en waagmoed aan die dag lê” (2484).

Vosloo is nie spaarsaam met lof vir homself nie. Hy het ‘n “veelsydige skoolloopbaan” gehad (161). Dit is egter nie opgevolg met enige formele naskoolse kwalifikasie nie. Desnieteenstaande: “My algemene kennis, insig, opvattinge en vaardigheid as politieke kommentator en redakteur het sterk ontwikkel” (479). Reeds voor hy by Nasionale Pers in diens getree het, is sy “joernalistieke vaardighede onmeetlik uitgebou” (1523). Vosloo verwys na homself en Alf Ries se joernalistieke ondervinding en samewerking wanneer hy skryf: “Dit het grootliks bygedra tot die reikwydte van ons albei se kennis en tot die betroubaarheid van die inligting wat ons in politieke berigte kon oordra” (4122). “My obsessie was deels politiek gedrewe: Onder my leiding het Beeld die Noorde vir ons verligte standpunt verower. Ek het in politieke rubrieke en kommentaar die pad voorberei vir ‘n groot politieke verandering: Die aanvaarding van ons swart landgenote as deelgenote” (508) – in werklikheid as oorheersers/base. Reeds in 1981 het Vosloo geskryf: “Die dag sou kom dat die NP met die ANC moet onderhandel” (527).

In 1984 het Koos Bekker, met sy “vingerpuntgevoel vir belowende nuwighede” (1196), met Vosloo in verbinding getree, wat meegebring het dat Nasionale Pers hom toenemend op elektronies-digitale bedrywighede toegespits het. Vosloo het hoë lof vir sy eie uitsonderlike kennis: “Ek het danksy my kennis van HBO [Home Box Office] dadelik geweet wat hy [Bekker] in gedagte het. Later het ek besef dat as iemand anders in my stoel [van uitvoerende hoof van Nasionale Pers] was in 1984, Koos se voorstel waarskynlik op dorre grond sou geval het vanweë die gebrek aan die soort kennis wat ek toevallig gehad het” (563). “Ek het sy [Bekker se] potensiaal vroegtydig besef” (1214). Vosloo het ook die regte ingesteldheid gehad: Die direksie “wil nie ‘n leier sonder waagmoed aan die spits hê nie” (573). “Ek het geweet wat om te doen” (582). “Die stigting van M-Net was die radikaalste en grootste inisiatief in die geskiedenis van Nasionale Pers tot in daardie stadium” (628). Dit was ‘n “kwantumsprong” (628). FW de Klerk gebruik dieselfde term vir sy oorgawe aan swart mag.

Soos in die geval van Allister Sparks, wat ook geen formele naskoolse kwalifikasie gehad het nie, oorbeklemtoon Vosloo die deurslaggewende invloed wat die akademiese jaar 1970/1 op hom as Nieman-genoot aan die Universiteit Harvard in Amerika gehad het (1523). Daarna het hy sy joernalistieke werk “met vars [linkse] perspektiewe op ons land se situasie benader” (2747). Wat hy nie noem nie, is dat die Suid-Afrikaanse joernalis aan wie hierdie genootskap jaarliks toegeken word, hom/haar as polities links moes bewys het of ten minste links beïnvloedbaar moet wees. Die genoot kan kies watter en hoeveel klasse hy wil bywoon en geen graad word aan die einde van die akademiese jaar aan hom toegeken nie. Vosloo beklee tans (2016 tot 2018) ‘n ereprofessoraat in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy moet vier lesings per jaar lewer (4496). Toe hy aangestel is, het die departementshoof, Lizette Rabe, beweer dat dieselfde vereistes vir die aanstelling van ‘n ereprofessor as vir ander professore geld. As dit so is, word formele naskoolse kwalifikasies nie van US-professore vereis nie. Vosloo het wel drie akademies waardelose eredoktorsgrade ontvang.

As oorverligte verduidelik Vosloo verligtheid soos volg: “‘n Verligte was oop vir oortuiging, en bereid tot hervorming. Die begrip verligtheid het ook ‘n ruimer betekenis aangeneem, naamlik ‘n neiging tot minder dwang en sensuur, tot groter kulturele vryheid en moderniteit, en tot rasionaliteit wat die Afrikaner-nasionalistiese impuls moes temper. Dit is geassosieer met ‘n minder patriagale ingesteldheid, met begrip vir die stryd om groter vroueregte, en groter toleransie vir homoseksuele mense … Gewilligheid tot verandering. Dit is miskien die kortste definisie wat ‘n mens van verligtheid onder die destydse Afrikaanse kiesers kan gee” (518). Verandering impliseer egter nie noodwendig verbetering nie.

“Verligtheid as ingesteldheid het die een-mens-een-stem-bedeling nietemin moontlik help maak deur die oorwinning van die Ja-stem in die referendum van 1992 te verseker” (527). Wat Vosloo verswyg, is dat daar in die NP-propaganda van 1992 geen sprake van die moontlike toekenning van ongekwalifiseerde algemene stemreg was nie. Daar is gepraat van magsdeling, nooit van magsoorgawe nie. Die oorgrote meerderheid Ja-stemmers was in die waan dat die blankes die helfte of meer van die politieke mag sou behou; vandaar FW de Klerk se beloftes van bv eie woongebiede en eie skole. Aan die blanke kiesers is belowe dat die grondwet, waarop tydens die onderhandelinge ooreengekom is, aan hulle vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Dit is nie gedoen nie. Die blankes is gewoon in groot mate uit hulle toekoms verneuk. Hierdie immorele grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika gebou is, word selde erken.

Binne Naspers het verligtheid onder meer in die vorm van blatante rassediskriminasie – regstelling of bemagtiging genoem – neerslag gevind, bv by die aanstelling en bevordering van personeellede, asook by die Welkom-bemagtigingskema (vir gedrukte media, die grafosfeer – 1214) en dié van Phutuma Nathi (vir elektroniese media, die videosfeer – 1214). Blankes is verbied om hierdie Naspers-aandele te koop. Nie-wittes kon R50-aandele teen R10 bekom, terwyl die R40-lening mettertyd uit dividende afgelos sou word (820, 2558). Die aandele in elektroniese media het buitengewoon goeie resultate opgelewer. Die aandele in gedrukte media het teleurstellend gevaar. Een van Naspers se paternalistiese bedoelings was om nie-wittes in aandele-belegging op te voed. Dit beteken dat so ‘n belegger die risiko loop om geld op sy belegging te wen of verloor. Maar daar kan mos nie toegelaat word dat nie-wittes geld by ‘n eens blanke maatskappy verloor nie. Die gevolg was dat Naspers telkens paternalisties miljoene rande ten bate van hierdie aandeelhouers in die Welkom-skema gepomp het. Vosloo swyg hieroor. Maar hy skryf: “Naspers doen … stewige bemagtigingsaksies tot voordeel van die totale gemeenskap” (839). Soos in die ANC se beweerde bevoordeling van “al Suid-Afrika se mense” word blankes nie altyd by Naspers se “totale gemeenskap” ingesluit nie.

In die boek word skindernuus geil versprei, al is baie daarvan oorbekend, bv Schalk Pienaar wat eers “‘n paar goeie doppe brandewyn gedrink het” voordat hy sy berigte getik het (387). Hendrik Verwoerd word ‘n “nie-kerklike” genoem (1611). Jimmy Kruger was nie ‘n gebore Afrikaner nie, want hy het Walliese ouers en aanvanklik die naam James Thomas gehad (1631). Izak de Villiers is as redakteur van Rapport ontslaan omdat hy regsgesind was (2513, 2736); “‘n verbitterde mens nadat hy Rapport in kritieke tye van die land in ‘n heeltemal verkeerde rigting gestuur het” (2521). Willem de Klerk is as redakteur van Die Transvaler ontslaan (3866) en daarna ook as redakteur van Rapport (2521), asook Dene Smuts as redaktrise van Fair Lady (2521, 2961). Smuts se voorganger, Jane Raphaely, het Smuts se ontslag onderskryf: “She has done you and Nasionale Pers a lot of damage” (3000).

Lang David de Villiers het ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n Jodin, Rae Golding, gehad en later met haar getrou (2829). Toe het sy ‘n geleentheid gebruik om kosjer-koekies aan lede van die Afrikaner-Broederbond voor te sit (2839). Kobie Coetsee het Adrienne Koch as minnares gehad (4149). Die tweeling wat Piet Koornhof by die bruin Marcelle Adams verwek het (2849), is darem seker ounuus. Adreas Wassenaar, lank die uitvoerende hoof van Sanlam, word ‘n “oud-Ossewa-Brandwag-kameraad” genoem (3449). Lang Hendrik van den Bergh, die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, word as ‘n “flambojante publisiteitsoeker” gekarakteriseer (3724). Oor Niël Barnard, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens, skryf Vosloo: “Ek het hom leer ken as ‘n sterk individu met ‘n nog sterker ego” (4131).

Piet Cillié het ‘n eiesoortige siening gehad oor sommige van die personeellede wat Nasionale Pers deur die jare verloor het: “Ons gaan van ons beste mense verloor, want dit is altyd die afwykende man wat brein het. Of liewer: Hy sal nie slim wees as hy nie ‘n bietjie bedonnerd is nie. Ons soek bedonnerde mense, ons moet hulle inbind. Hulle móét anders wees. Ons wil nie almal dieselfde wees nie, want dan word ons stagnant” (2990; ook 4581).

“Die woord apartheid is reeds in 1919 deur Jan Smuts in ‘n toespraak gebruik” (1916). Hans Strijdom word soos volg aangehaal: “Either the White man dominates or the Black takes over” (1761). Dit is profetiese woorde. Mense het glo gedink Hendrik Verwoerd “loop op water” (1650). Geld dit nie eerder in oortreffende mate vir Nelson Mandela wat deur Vosloo St Nelson (hoofstuk 17) genoem word nie? Die hoogs intelligente Verwoerd het sy toesprake sonder notas gelewer (3934). Met verwysing na die tuislandbeleid: “Verwoerd wou wit baasskap herdefinieer as wit baasskap oor wit mense in hul eie land” (2634). “Verwoerd [het] … nooit sy humeur verloor nie” (3558).

Oor John Vorster, “‘n gedugte kommunistejagter” (1944), skryf Vosloo: “In sy siel was hy verkramp” (1761). Vorster het glo ‘n “polisiestaat” met sy “drakoniese” beveiligingsmaatreëls geskep (1954). Die gevolg was “die inkerkering van verdagtes” (1954). Moes Vorster die bevolking eerder aan die bedrywighede van die terreurbendes van die ANC en ander “bevrydingsbewegings” blootgestel het? “Dit klink vandag totaal belaglik dat ‘n kommunis, gesien as ‘n soort duiwel, deur die destydse veiligheidsdiens agter elke bos uitgekrap is” (2273). Dan voeg Vosloo darem by: “Mens moet egter ter versagting in ag neem dat die kommunistiese Sowjet-Unie en Kuba besig was om groot steun aan die grensoorloë teen Suid-Afrika te verleen” (2273). “Vorster kon kla, soms op ‘n kleinserige manier. Maar hy het nooit tot ‘n onwaardige uitbarsting oorgegaan nie” (3558). Dit val op “hoe selfversekerd en arrogant Vorster was, en hoe neerhalend hy mense van kleur binne ons politieke bestel bejeën het” (4283).

Robert “Mugabe het die tydgees en die groot lande se hantering van Suider-Afrika in die komende jare korrek gelees. John Vorster, en ook PW Botha ná hom, was te verknog aan die bestaande orde van wit magsbehoud en die onderdrukking van verset daarteen om Suid-Afrika ‘n kans op ‘n goeie toekoms te bied” (4315). “Dit was die dorre jare van Afrikanernasionalisme geassosieer met onbeskaamde rasse-oorheersing” (1925). Dit is glo ‘n “star mentaliteit” (1925). Is die huidige bestel van swart nasionalisme en swart oorheersing beter? Indien beter: Beter vir wie? Sekerlik nie vir die blankes en veral vir die Afrikaners nie. Vorster se hervormings was glo bloot “van kosmetiese aard” (2002).

Al die genoemde Afrikaner-staatshoofde word afgekam. Die ergste slegsê kom PW Botha toe, al was hy hervormingsgesind, soos blyk uit die totstandkoming van die Driekamer-parlement. “Dit is gelees as toegewings wat toon dat die regime verswak” (2068). Botha word met woorde soos die volgende beskryf: “hooghartige en arrogante leierskap”(2068), “bakleierig en neerhalend teenoor sy kabinetskollegas … hy ‘n verleentheid vir die Nasionale Party en die regering geword het” (2109), “die sluheid van PW” (2117), “met watter argwaan en barsheid hy sy kabinetslede behandel” (2166), “sy liggeraaktheid en onbeheerste uitbarstings” (3420), “sy humeur toetentaal verloor. Hy het almal oor die kole gehaal en verskree … Sy opvlieënde humeur kon dalk selfs gelei het tot die beroerte wat sy loopbaan tot ‘n einde sou bring … die skade wat sy ontploffings van woede kon aanrig” (3430; ook 3548), “PW was nie net teenoor politieke opponente hooghartig nie” (3449).

“PW Botha was berug vir sy uitbarstings. Hy was opvlieënd en bombasties en kon mense sonder aansiens des persoons met ‘n venynige tong bykom. Sy sogenaamd goedgesinde nasionale koerantmense is in die openbaar uitgeskel as lunsrieme” (2521). “As ‘n mens terugdink oor presidensiële humeure wat jy in Suid-Afrika beleef het, dan staan PW Botha loshande bo-aan die lys – voor met die spreekwoordelike myl” (3420). “PW tier egter onbeheers teen Lang David en ons persmense … met sy plofbare humeur” (3488), “Botha skryf grommend terug” (3499), “gaan PW gal af oor artikels wat ons koerante oor staatsamptenare se vergoeding publiseer” (3509), “PW se bevliegings en uitbarstings van woede kon oorwaai” (3517), “Nog ‘n voorbeeld van PW se opvlieëndheid. Sy woede was soms vervlietend en kon bedaar, maar dikwels eers nadat die skade gedaan was” (3527), “weer beledigingstyd … beskuldigings en beledigings” (3537).

“By al sy ongemanierde nukke was PW Botha verantwoordelik vir die eerste barste in die dyk van harde apartheid. Die kritiek van die verregse[s] … naamlik dat PW Botha se beleid die dun end van die wig was wat tot swart oorheersing sou lei, was korrek” (2601). In soverre Botha gehelp het om die land aan swart mag oor te dra, behoort die oorverligte Vosloo hom mos te loof pleks van hom ongebreideld sleg te sê. Maar Botha sou nie so gewillig soos FW de Klerk oorgegee het nie. “Dit is ‘n ope vraag of ons ‘n skikking sou bereik het indien Botha die regering ná 1989 gelei het. Die interessante faktor hier is dat PW Botha se opvlieënde geaardheid te staan sou gekom het voor Mandela se ontwapenende vermoë om vriende te maak en mense te beïnvloed. PW sou waarskynlik wou vasskop teen die afgee van mag aan ‘n meerderheidsregering gebaseer op universele stemreg. Maar was Mandela nie dalk die één mens wat PW sou kon vermurwe het nie?” (4140).

Ek vra my af: Is dit goeie joernalistiek of goeie gewone skryfwerk as Vosloo met so baie herhaling iemand en daarby ‘n staatshoof slegsê? Sou hy dieselfde in die geval van enige nie-wit mens gedoen het? Die plekverwysings hier bo toon dat Vosloo se verguising van Botha verspreid deur die boek voorkom. Dit in sigself weerspieël die gebrekkige sistematiek van die teks. Wat ons hier mee te make het, is ‘n katarsis, ‘n hoogs oordrewe ontlading van die outeur se gevoelens jeens Botha. Dit strek Vosloo nie tot eer nie.

“My kontakte met De Klerk was altyd hoflik en beskaafd. Dit is die soort mens wat hy is. Omdat ons koerante sy verligte politieke koers gesteun het, was daar nooit onsmaaklike botsings nie … Pres Mandela was net so beleefd en waardig in sy omgang met ons” (3577). Vosloo noem Mandela “die groot man” (3597) en”‘n onvergeetlike man” (4113). “Ek salueer ‘n merkwaardige mens” (3617). Mandela is darem nie altyd heeltemal volmaak nie. Dink aan “hoe Mandela hom tydens Kodesa vererg het vir FW en hom tromop geloop het oor die NP se agterdog dat die ANC in kwade trou onderhandel” (4075). Thabo Mbeki “was altyd hoflik en ‘n uitstekende luisteraar” (3617). Oor Jacob Zuma skryf Vosloo min, behalwe dat ‘n beloofde opvolgaksie nie plaasgevind het nie (3639). Die punt is dat Vosloo nie kritiek op De Klerk en die ANC-staatshoofde lewer nie; heel anders as in die geval van die vorige Afrikanerstaatshoofde en veral PW Botha.

Vosloo vertel hoe hy en “die groot onderwysman Franklin Sonn” (4042) saam met Mandela besoek aan die inwoners van nie-wit woonbuurte in Calitzdorp en Carnavon gebring het. Tydens hierdie vlugte het Mandela baie oor mense soos PW Botha en FW de Klerk te sê gehad, maar Vosloo eerbiedig die vertroulike aard van daardie mededelings. “Hoewel Mandela van stories oorborrel, hy nie regtig nydig is of skinder nie” (4054). Mandela sê min aan die skares wat op sy koms gewag het. “Jy kon sien en voel hier is nou ‘n politikus, ‘n man in totale harmonie met sy mense” (4093). Mandela stoot ‘n heeltemal onvoorbereide Vosloo voor sodat hy kan sê wat hy as weldoener alles uit sy eie sak vir hierdie agtergeblewenes gaan doen. “St Nelson het my lekker onkant gevang” (4064). “Dit is my mense hierdie … mense wat so lank deur wit mense uitgestoot en verneder is” (4064).

Dit gaan my verstand te bowe dat Vosloo nie Mandela se bymotiewe gesnap het toe hy uitgenooi is om saam met hom rond te jakker nie. As oorverligte verkwalik Vosloo uiteraard nie vir Mandela nie. “Op Carnavon kon ek die Madiba magic op volle toere sien. Dié betowering skryf ek aan verskillende aspekte van sy persoonlikheid toe … Hy is ongekunsteld, maar so slim soos min … Hy straal outydse warmte en spontaneïteit uit. Hy is eg … Die martelaarstatus wat sy inkerkering aan sy buitengewoon innemende persoonlikheid toegevoeg het, het van hom inderdaad ‘n soort heilige gemaak” (4093). “Mandela het nie alleen stamina gehad nie, maar ook staal in sy pype. Die ou Boere-uitdrukking vir ‘n goeie en ware man, ‘n man ‘met ‘n hart van goud en ‘n wil van staal’ kom by ‘n mens op” (4103). Stroperiger naïwiteit is kwalik denkbaar.

Terwyl hy op Robbeneiland ‘n gevangene was, het Mandela Afrikaanse digbundels suksesvol by Nasionale Pers gebedel. Mandela het ‘n brief geskryf om dankie vir hierdie aalmoese te sê. Hierdie brief word deur Naspers vertroetel: “Een kleinood wat in die gang van Naspers se hoofkantoor hang, is ‘n geraamde brief van Mandela” (3597). In een van die digbundels is Ingrid Jonker se gedig, “Die kind”, wat Mandela in 1994 in sy inhuldigingstoespraak as president in die parlement voorgelees het. Die gedig handel oor ‘n (blanke) soldaat wat ‘n swart kind doodgeskiet het. Myns insiens was dit ‘n gemene, lae hou wat Mandela teen blankes geplant het. In die pers is dit egter destyds aangeprys as wonderlike erkenning wat Mandela aan Afrikaans verleen is. Soos ek, vermoed Vosloo (3608) dat Jakes Gerwel die aandag van Mandela gevestig het op die potensiaal wat die gedig vir politieke misbruik het.

Vosloo vertel dat hy Gerwel destyds dikwels op lughawens in die buiteland raakgeloop het. “Eers baie later sou ek uitvind Jakes was so in die stilligheid ‘n koerier van die ANC, met boodskappe na kamerade in die buiteland” (3608).”Jakes sluit later op my uitnodiging by Naspers se direksie aan. Hy was ‘n voortreflike direkteur en later voorsitter van Media24″ (3608). Wat Vosloo verswyg, is dat Jaap Durand, as vise-rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), grootliks Gerwel se take as rektor vervul het. Gerwel het hom by voorkeur met ondermynende politieke bedrywighede besig gehou. Onder die leiding van Gerwel en Durand het die oorwegend Afrikaanse UWK ‘n uitsluitlik Engelse universiteit geword. Gerwel het na Media24 se Suidoosterfees as ‘n “soomlose” Afrikaanse fees verwys (4468). Heel aan die einde van sy lewe het hy besef dat hy ‘n naatlose fees bedoel het. ‘n Geldige vraag is: In hoeverre het die UWK en by implikasie die “apartheidsregime” vir Gerwel se reis- en verblyfskoste as ANC-koerier betaal? Gerwel en Durand het saam minstens een ANC-byeenkoms in die buiteland bygewoon. Dieselfde vraag kan oor die finansiering van daardie besoek gestel word (Praag 14.01.2017).

Vosloo sal nie en het nie teen enige swart staatshoof so tekere gegaan soos teen hulle blanke eweknieë nie. Hy haal met smaak aan wat Nelson Mandela oor hom geskryf het (2361). Dit is mos per definisie hoë lof, al het iemand anders dit dalk namens Mandela geformuleer. Ewe onbeskeie haal Vosloo ook aan wat mede-joernalis Rykie van Reenen oor hom geskryf het: “Mnr Sukses … die prins van nuusredakteurs” (4652). Wat ontstellend is, is dat Vosloo beweer dat FW de Klerk weens uitlatings in ‘n Dawie-rubriek in 1989 in Die Burger goedsmoeds enige aandrang op groepregte laat vaar het. Wiets Beukes het in daardie rubriek die wens uitgespreek dat die nuwe grondwet “kleurblind” moet wees; iets wat die 1996-grondwet allermins is. “Mandela het [in 1997] aan ons [Nasionale Pers-]groep gesê sy uitgangspunt in onderhandelinge was dat groepvorming bevry moet word om spontaan plaas te vind. In een van hulle eerste ontmoetings het Mandela FW de Klerk se aandag op die Dawie-rubriek uit 1989 gevestig. Volgens hom het pres De Klerk onmiddellik gereageer met: ‘Nou ja, as Dawie só sê, sal ek vir my mense sê ons kan daardie groepwette maar los'” (2371; ook 3597). Kan dit wees dat De Klerk op so ‘n lukrake wyse oor belangrike sake besluite geneem het en skynbaar nie geweet het dat verskillende joernaliste die Dawie-rubriek skryf nie, sodat almal nie ewe gesaghebbend kan wees nie? Vind groepvorming deesdae spontaan plaas of is dit doodeenvoudig die geval dat die swart meerderheidsgroep sy wil ten koste van die minderheidsgroepe kan afdwing?

Hierna haal Vosloo die lof aan wat Piet Cillié vir hom gehad het (2390). Maar dan skryf Vosloo: “Leierskap beteken selfbevraagtekening, maar nie vertwyfeling nie. Oor die jare het ek dit my vaste voorneme gemaak om nooit selftevrede te wees nie … Ek het my as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee nie” (2401). En as afgetredene? Hy vervolg: “My leierskap is in my joernalistieke jare gevorm … jy kon … ‘n helikopterblik kry op die landsake soos hulle ontvou het” (2411).

Volgens Vosloo is daar in verkramptheid en verregsheid geen heil nie. Hy lys die aanhangers van “harde apartheid” (406). Daarteenoor stel hy “denkende mense wat verder as die naakte rassisme van die NP gekyk het” (406). Sy Sap-gesindheid slaan deur in sy verwysing na die “katlagters” se “hoon vir [Helen] Suzman en minagting vir sir De Villiers Graaff en sy Verenigde Party”(396). Vir die Potchefstroomse Doppers wat die apartheidsbeleid gekritiseer het, het Vosloo hoë lof: “Hierdie keurbende … kan beskou word as van die eerste ware jukskeibrekers teen apartheid. Dis juis uit hul geselskap wat Willem de Klerk [FW se ouer broer] gekom het” (1400). Vosloo noem hulle idees “vooruitdenke” (1429) of “voorposdenke” (1448, 1523). Hierteenoor word die “droomwêreld” (1556) of “ontvlugtingsdenke” (1469) van die NP-regering gestel. Dit was glo “eenrigtingdenke” (1668). Is diegene wat die ondergang van die blanke bewind en swart oorheersing begeer het, nie veel eerder skuldig aan eenrigting- of afgrondsdenke nie?

Vosloo onderskryf die volgende geykte beskouing oor die 1990/94-ramp: “Hierdie politieke wonderwerk is wyd in die wêreld toegejuig” (1882). Vir die Afrikanerdom, daarenteen, het dit histories en hoogs regverdigbaar om oorlewing gegaan. Die Afrikaners het “hulle gedurende die Engelse koloniale bewind en veral sedert die Anglo-Boereoorlog in ‘n oorlewingstryd bevind … Die oorlewing van hul taal, kultuur, godsdienstige waardes en feitelike voortbestaan as etniese groep binne ‘n Afrika-land was op die spel wanneer hulle oor die politieke bestel vir Suid-Afrika nagedink het. Boonop moes hulle ‘n lank gekoesterde nasionalistiese ideaal, uiteindelik verwesenlik deur die Nasionale Party, finaal prysgee” (1890). Daarom is dit myns insiens glashelder dat die meeste blankes en veral Afrikaners wat in die 1992-referendum Ja gestem het, mislei is.

Desnieteenstaande loof Vosloo die rol wat die Nasionale Pers-koerante in hierdie verneukspul gespeel het. Wat glo beoog is, is “‘n moreel regverdige, inklusiewe bestel waarmee die hele [!] bevolking gelukkig kon wees … ondanks die risiko’s wat sodanige transformasie vir hulle kon inhou” (1899). Vosloo verkondig die gewilde leuen dat die blanke kiesers vrywillig van hulle politieke mag afstand gedoen het; dat hulle die oormag aanvaar het “van die etniese groepe wat hulle voorheen van politieke mag ontsê het” (1899). “Die invloed wat Nasionale Pers op sy lesers uitgeoefen het om op ‘n verligte manier te dink en Ja in hierdie [1992-]referendum te stem, het grootliks tot die oprigting van ‘n demokratiese Suid-Afrika bygedra” (1899). “Ons optrede het gehelp om FW de Klerk uiteindelik in die leiersrol te plaas wat aan hom die Nobelprys sou besorg” (2077).

Die blanke bewind word met oorgawe gekritiseer, bv: “Onder senior joernaliste was daar soms kwalik bedekte irritasie oor die hardhandige segregasie van rasse en die dom besluite wat die NP-regering dikwels in sy onbuigsaamheid geneem het, tot skade en skande van Suid-Afrika” (1350). Sulke kritiek word nie teen die ANC-regering uitgespreek nie. “Met die aanbreek van die nuwe, volledig demokratiese Suid-Afrika …[het] Naspers … van die begin van die nuwe bewind konstruktief aan ons nuwe samelewing help bou” (2558). Baie selde slaan Vosloo se teleurstelling met die nuwe Suid-Afrika deur. “Ná 1994 het ek ná een besoek aan die nuwe demokratiese parlement nie weer die plek besoek nie. Dit het na my mening ontaard in ‘n politieke sirkus met geen stewige debatvoering of geslypte argument teen geslypte argument nie. Wat [Julius] Malema en sy bende [!] die laaste tyd met die verrigtinge van die parlement aangevang het, is benede peil en tekenend van ons land se agteruitgang wat die openbare lewe betref” (424). Dit moet vir Vosloo sekerlik nie lekker wees om konkrete bewyse te sien van waarvoor hy hom beywer het nie. Die nuwe bedeling het myns insiens geblyk ‘n volslae mislukking te wees.

Naspers het tot ‘n groot, gediversiveerde, internasionale maatskappy ontwikkel. “Dit is lank nie meer die Nasionale Pers van ouds met sy Afrikaanse inslag nie! Die direksie se voertaal is in 2014 op my aanbeveling na Engels verander” (1231). “In die sakewêreld is daar nie plek vir oorwegings of sentimente wat jou sukses kan belemmer nie” (1239). Die Naspers-filiaal, M-Net, was aanvanklik in gelyke mate Afrikaans en Engels (1239), maar het spoedig heeltemal verengels. kykNET en VIA het die Afrikaanse televisiekanale geword (1249), maar daar is skynbaar min besorgdheid oor die gehalte van die Afrikaans wat gebeeldsend word. Dit wil voorkom asof daardie “Afrikaans” al hoe meer verengels.

Die houding van Naspers teenoor Afrikaans is kommerwekkend. In 1976 het Afrikaans ná die georkestreerde Soweto-opstand weens ANC- en soortgelyke propaganda “die taal van die onderdrukker” geword (2253). “By Beeld en Rapport het die redaksies sterk standpunt ingeneem teen die afdwing van Afrikaans in die skole van Soweto … Rapport het kragtig kommentaar gelewer: ‘Kry end! Ons wil nie bloed aan ons taal hê nie.’ Dié opmerking illustreer die reguit kritiek op maatreëls van die NP-regering wat koerante van Nasionale Pers hulle teen dié tyd veroorloof het” (2253). In werklikheid was die taalvereiste nie onbillik nie. Engels en Afrikaans was die enigste amptelike tale en die skoliere sou werksgewys baat as hulle kennis van albei gehad het. Skoliere behoort onderrig te ontvang in wat hulle nodig het; nie in wat hulle gemakshalwe verkies nie.

As deel van die verligtheid/openheid van Nasionale Pers, blykbaar veral in die aanvangsdekades, beweer Vosloo: “Die koerante van die Pers het in hul briewe-kolomme en forum-artikels … altyd geleentheid aan dissidente stemme gebied” (1333). Dit moet met ‘n knippie of groot skeut sout geneem word. Daar was altyd ‘n ideologiese, spesifiek politieke, voorkeur by hierdie koerante, eers pro-blank (veral pro-Afrikaner) en pro-NP en later pro-hervorming/transformasie en pro-swart. Tans is die Naspers-voorkeur sterk polities byderwets gelaai. Kyk maar gerus na hierdie koerante se eienaardige keuse van rubriekskrywers. Toets die objektiwiteit van die briewekolomme. Behoudende of regse menings word selde gepubliseer. Die standaardverskoning is “gebrek aan ruimte.”

Kyk ook na die reaksie/kommentaar van lesers onderaan die berigte op Netwerk24. Dit is duidelik dat daar ‘n reuse gaping bestaan tussen wat in die artikel staan en die politieke mening van die oorgrote meerderheid lesers. Maar dit weerspieël steeds nie die volle sterkte van die verset/weersin van die lesers nie. Polities onaanvaarbare reaksies, veral as hulle duidelik geformuleer is sodat hulle ‘n impak kan hê, word glad nie gepubliseer nie. Ek volstaan met ‘n enkele voorbeeld. Netwerk24 is nie bereid om kommentaar te publiseer wat die klaarblyklike verband tussen enersyds Nelson Mandela se doelbewuste keuse van geweld en die stigting van die MK-terreurbendes en andersyds die huidige ingeburgerde geweldskultuur uitwys nie. In sy eerste en enigste onderhoud met PW Botha het Mandela gesê: “As daar ‘n skikking moet kom, sal afgesien moet word van die stel van voorwaardes vir onderhandeling. Hy het spesifiek verwys na die voorwaarde dat geweld afgesweer moet word” (4140). Die koerante van die Naspers-filiaal, Media24, het baie blanke lesers, nie omdat die meerderheid van hulle met die byderwetse politiek wat opgedis word gediend is nie, maar omdat Naspers oor die monopolie van Afrikaanse hoofstroomkoerante beskik.

Die naam van JP (Pieter) de Lange, ‘n opvoedkundige en rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit (1979-1987), duik telkens in die literatuur op as een van die radikaal oorverligtes vir wie swart oorheersing ‘n passie was. Hy kan as die vader van die huidige enkele skoolonderwysdepartement in Suid-Afrika beskou word; asof die verskillende ras- of etniese groepe nie verskillende kulturele en onderwysbehoeftes het nie. In Vosloo se boek word dikwels positief na De Lange, wat ook in die Naspers-direksie gedien het, verwys (690, 1502, 2381, 2549, 2811, 2829). In ‘n nuwe boek oor die Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond deur OJO Ferreira, wat ek nog wil bespreek, word De Lange saam met JA (Johan) Heyns uitgewys as die vernaamste aanstigters van verandering in daardie organisasie en die land. Wat die ANC en swartes alles aan De Lange te danke het en wat die Afrikanerdom alles aan hom te wyte het, is blykbaar nog nêrens verhelderend gedokumenteer nie. Hy kan hopelik met genoegdoening die kontras tussen die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit en die huidige Johannesburg University as die vrug op sy linkse aktiwiteite beskou.

Die openbarendste deel in Vosloo se boek handel oor hoe daar gekonkel is om van PW Botha as staatshoof ontslae te raak en die verloorder FW de Klerk in sy plek aangestel te kry. Aan die begin van 1989 het Vosloo “aan FW de Klerk en sy kollegas advies gegee dat hulle as groep ‘n gesprek met PW moes voer” (2078). Piet Cillié, die voorsitter van Nasionale Pers, het aan Vosloo, die uitvoerende hoof van Nasionale Pers, te kenne gegee dat Botha na sy beroerte nie voldoende herstel het om as staatshoof te funksioneer nie. Vosloo het Wiets Beukes, die redakteur van Die Burger, Willem Wepener, die redakteur van Beeld, en Bob van Walsem, die redakteur van Rapport, aangehits om iets aan die saak te doen. Volksblad is ook betrek. Die resultaat was “politieke dinamiet van die ergste graad” (2098). Cillié het een van hierdie berigte geskryf.

Vosloo se standpunt was: “Daar kom ‘n tyd waar ons groep ‘n deurslaggewende rol kan speel en dit is nou weer so ‘n oomblik” (2098). “Nasionale Pers het PW se uittrede probeer fasiliteer en was dus diep betrokke by die saak” (2117). Vosloo het ook ‘n boodskap aan De Klerk gestuur “oor die absolute dringendheid dat FW sake moet doodvat. FW het later sy waardering vir ons optrede laat weet” (2098). De Klerk wou klaarblyklik graag Botha se pos beklee, afgesien daarvan of hy geskik vir so ‘n taak is. Vosloo het ook ander mense gebel en onder meer hierdie raad gekry: “Mense soos Magnus (Malan) en Barend (du Plessis) sou gat omgooi” (2109); dus dat hierdie twee lojaal teenoor Botha is. Kan hierin moontlik ‘n rede gelees word waarom juis hierdie twee oud-ministers nou in die Bird Island-sage beswadder word?

Ná die (smeer)berigte verskyn het: “Ek kry oproepe van Dawie de Villiers, minister van mineraal- en energiesake, en Kobie Coetsee, minister van justisie” (2117) – twee De Klerk-dissipels. “Dawie sê FW de Klerk moet optree. Hy bespreek die opsies wat hy aan FW gaan voorlê met my. Hy sal FW … twaalfuur by die vleisbraai van die Stellenbosse NP-sportdag sien. Dawie wys op die sluheid van PW se werksbesoek aan die Kaap, ná ‘n gesondheidsverklaring uitgereik deur homself, en vervolgens ‘n aanval op sy kabinet … Dawie voorsien dat hy self met Chris Heunis, minister van grondwetlike hervorming, gaan bots” (2117). “Kobie Coetsee bel my van sy Vrystaatse plaas. Hy is ontsteld oor PW se onderhoud wat in Volksblad te lese was … Hy sal sy besoek aan sy plaas kortknip en die Saterdagmiddag terugvlieg Kaap toe. Kobie wou kontak met my hou en ons bespreek die drie opsies wat hy aan FW wil noem” (2128).

Vosloo probeer ook om Jack Viviers, Botha se pers-attaché, oor te haal tot dislojaliteit jeens Botha. Viviers sê egter (tereg, soos later sou blyk): “FW en die jonges kan nie die land regeer nie” (2136). Vosloo sê hierna: “FW is ‘n man van integriteit [!]” (2146). “Ek raai Jack aan om hom in sy eie belang van PW los te maak. Hy kan in die kruisvuur beland en seerkry” (2146). Tot sy eer het Viviers hom nie laat imtimideer of bangpraat nie. “Hy sê hy bly lojaal … aan PW” (2146). Ná die Stellenbosse vleisbraai word Vosloo deur ‘n joernalis ingelig dat Heunis se toespraak daar “onsmaaklik” was (2146). Heunis het glo ‘n hou teen FW ingekry.

De Klerk het Vosloo gebel. “Die persverklaring wat FW wou maak, het gestrook met ‘n konsepverklaring wat ek vroeër oor die foon aan hom voorgelees het” (2155); dus, De Klerk het hom toe reeds aan die neus laat lei. Vosloo gee die teks van hierdie konsepverklaring weer. “FW het ons warm ondersteuning en vriendskap baie waardeer” (2166). Vosloo verskaf ‘n rekord van die woordewisseling wat tussen Botha en De Klerk plaasgevind het en wat deur “‘n vertroulike bron” aan hom voorsien is (2166). Botha het glo beweer dat die kabinet, toe hy siek was, sonder hom “sag geword het oor die ANC” (2175). Was dit nie profetiese woorde nie? Botha het gesê hy is gesond en gevra: “Hoeveel van julle sit hier met pille in julle sakke?” (2175). Botha het ook vir De Klerk gesê: “U is meer taktloos as wat ek gedink het u is” (2187).

De Klerk wou hê Botha moet bedank en sy gesondheidsprobleme as rede voorhou. Hier toon Botha sy staal: “Ek moet met ander woorde lieg, om julle te red. Nee, dit spyt my kollega, ek is nie bereid om die soort van goed op te stel wat julle op die Federale Kongres met huigelary aanvaar gekry het nie” (2210). Vosloo bewoord die afloop van hierdie gesprek soos volg: “FW de Klerk se voorstelle vir die hervorming van Suid-Afrika se politieke bestel was vir PW onaanvaarbaar en op 6 Mei 1990 bedank hy [Botha] ook uit die Nasionale Party” (2210). Sy termyn as staatspresident het reeds op 15 Augustus 1989 met sy bedanking ten einde geloop.

Dawie de Villiers se ondermyning van die man wat hom as minister aangestel het, het verder gestrek as wat hier bo aangedui is. “Op 3 Julie 1989 vertel Dawie de Villiers, Kaaplandse leier van die NP, my van ‘n gesprek wat die NP se vier provinsiale leiers op 16 Junie met PW Botha in die Wildernis [waar Botha se huis was] gevoer het. Daar was drie leiers: FW de Klerk, Kobie Coetsee en Dawie self. Die Natalse leier, Stoffel Botha was oorsee. Toe PW verneem dat die provinsiale leiers hom wil spreek, vra hy dat van sy ondersteuners ook kom. Hy wou Pik Botha, minister van buitelandse sake, Magnus Malan, minister van verdediging, en Barend du Plessis, minister van finansies, graag daar hê. Pik en Magnus het verskoning gevra weens werkdrukte sodat slegs Barend as ondersteuner aanwesig was. Dawie sê PW was goed voorberei met ‘n legger vol bewyse. Hy het die besoekers oor die kole gehaal en die federale raad van die NP van ontrouheid beskuldig. Sy primêre steen des aanstoots was egter Nasionale Pers en veral Die Burger. ‘Daardie redakteur’ het hy na die goeie Wiets Beukes verwys, sonder om sy naam ooit te noem, het hom in sy siekte ondermyn. Volgens Dawie de Villiers het PW ‘n veel groter wrok teen FW gekoester. Maar hy kon sy verbittering ontlaai deur Nasionale Pers tot sondebok te verhef” (2225) – asof Nasionale Pers en spesifiek Vosloo nie ‘n leidende aandeel in hierdie komplot gehad het nie. Die rol wat sowel Vosloo as De Villiers in hierdie sage gespeel het, strek hulle myns insiens glad nie tot eer nie; des te meer as die rampspoedige gevolge van De Klerk se rol as staatshoof in ag geneem word.

Vosloo gaan egter voort met lofredes vir Nasionale Pers en by implikasie vir homself: “Die groot koersverandering in Suid-Afrika is onder meer deur die aanvoorwerk van Nasionale Pers se koerante moontlik gemaak, beslis wat die aanvaarding van die nuwe Suid-Afrika deur die Afrikaanssprekende mense betref” (2234). ‘n Mens kan moeilik glo dat Vosloo hom in so ‘n mate aangematig het dat hy sy pos misbruik het om ‘n verandering in die staatshoofskap te bewerkstellig. Let op hierdie uitlating, wat op oorskatting behoort te dui, maar vir Vosloo aanvaarbaar is: Daar is “soms berigte in koerante wat die hoogste politieke gesag in die land op jou laat neerdaal” (2521). Kan die toekoms van ‘n land in die hande van ‘n joernalis geplaas word en die uitkoms daarvan dan ‘n voorspoedige, suksesvolle, korrupsievrye land wees waarin die inwoners vreedsaam en gelukkig saamwoon? Die Nasionale Party “was vir publisiteit van die Pers afhanklik en laasgenoemde kon dus subtiele of indirekte, maar soms ook direkte druk op die hefbome van die mag in Suid-Afrika uitoefen” (2591). In die nuwe Suid-Afrika versuim Naspers/Media24 egter in baie opsigte en op ‘n opsigtelike manier om druk op die ANC-regering oor uiters belangrike kwessies uit te oefen; tans bv plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding. “Naspers se maatskappyfilosofie onderskraag en dien vandag ‘n inklusiewe demokrasie. Dit moet sy rigsnoer in die toekoms bly” (3193).

Die oud-predikant, Izak de Villiers, het navraag gedoen oor Nasionale Pers se siel. Vosloo verwys na Jan Marais (4521) wat eers baie geld op die myne gemaak het en toe kon begin om goed te doen, dus ‘n filantroop te wees. ‘n Mens sou verwag dat Vosloo hier twee sake sou aanpak. Een is dat die Universiteit Stellenbosch (US) sy stigtingsvoorwaarde met sy verengelsingsbeleid verkrag, maar Vosloo skryf glad nie hieroor nie. Die ander is dat Naspers sy welvarendheid vir filantropiese projekte kon aanwend wat sy oorsprong weerspieël; dus dat hy moeite sou doen om die Afrikanerdom en ordentlike Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, finansieel ruim te ondersteun. Ook dit doen Vosloo nie.

Die US het eens “‘n idee” en Nasionale Pers het eens “die saak” (4570) bevorder, maar hulle doen dit nie meer nie. In albei gevalle is die kernrede hiervoor politieke byderwetsheid wat vergestalting vind in ANC-gedienstigheid en swart bevoordeling en by implikasie blanke benadeling, vandaar Naspers se eksklusief swart aandele-skemas. Dit is ook waarom Vosloo die wanpraktyk goedpraat dat swart misdadigers nie as swart in koerantberigte geïdentifiseer mag word nie (2443). Geldmaak kry by Naspers dermate voorkeur dat ‘n prestige Afrikaanse vaktydskrif soos Standpunte as onlonend gestaak is, sonder om die waarde wat dit vir Afrikaans het, te verreken.

In Media24 se nuuskantore is daar feitlik geen ervare, substansiële joernaliste meer oor nie. Vosloo noem dit die “verdunning van die redaksies van gedrukte media” (4713). Van senior joernaliste word ontslae geraak en hulle plek word deur “regstellings” ingeneem wat in baie gevalle nie ‘n joernalistieke bydrae kan lewer wat die moeite werd is nie. Die koerante het vir kopie van buitestanders, bv vryskutjoenaliste, afhanklik geword. Die situasie is soortgelyk aan dié in die staatsdiens: die poste word deur onbekwames beset en buite konsultante moet aangestel word om die werk wat vaardighede vereis, te doen. Soos Vosloo dit tereg stel: Naspers “is nou ‘n produk van ons kontemporêre tyd” (4643). “Sy ‘siel’ is verplaas” (4652).

“Liefde vir Afrikaans maak dit pynlik vir my om te sien hoe die funksies en gebruik van Afrikaans vandag toenemend ingeperk en afgeskaal word” (4679). “As kultuurtaal het dit … nog oneindige potensiële waarde” (4679). Dit is die soort benadering waarmee polities korrektes vorendag kom. Afrikaans het, soos Engels, naas kulturele funksie in werklikheid talle ander funksies. In die praktyk vind ons egter “die verskraling van Afrikaans in talle fasette van die openbare lewe” (4782). Afrikaans kan dwarsoor Suid-Afrika in groter mate as Engels gebruik en verstaan word. In daardie sin is Afrikaans en nie Engels nie die land se primêre nasionale taal. Al voordeel wat Engels bo Afrikaans het, afgesien van ANC-ondersteuning, is dat dit ‘n internasionale taal is. Vosloo redeneer egter soos die ANC: “Engels … [is] die voordeligste taal vir die opkomende geslag jong mense” (4688). Sy benadering tot Afrikaans wek nie vertroue nie. Oor die viering van die Wonder van Afrikaans in 1959 skryf Vosloo: “Die verwaandheid was mateloos,” blykbaar omdat dit “onder die vaandel van die Afrikaans-nasionale bewind” plaasgevind het (4713).

Soos Wim de Villiers het Vosloo ‘n kultureel ontwortelde, geglobaliseerde oud-Afrikaner geword. Hy erken dat die pro-Afrikaansgesindheid van die NP-regering vervang is “met die apatie, eintlik die teensin [weersin], van die nuwe bewind” (4696). “‘n Taal wat nie amptelik gebruik word nie, sal ‘n kreeftegang gaan” (4705). Waarom span Naspers nie sy finansiële vermoë ter bevordering van die Afrikanerdom en Standaardafrikaans in nie? Omdat sentiment glo nie ‘n plek in die sakewêreld het nie (1239). Maar pro-swart sentiment het wel ‘n prominente plek in die Naspers-stal. Dit is ‘n kwessie van keuses wat uitgeoefen word. In hierdie sin het Naspers inderdaad sy siel verloën en verloor en vir ‘n ander een verruil. “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?” (Lukas 9:25).

Vosloo herhaal wat deesdae op ‘n geykte en polities byderwetse manier oor Afrikaans kwytgeraak word: “Bruin Afrikaanssprekende mense dra nou grootliks by tot die gebruik en behoud van Afrikaans” (4705). Die “groei van Afrikaans” is glo van die bruin mense afhanklik (4827). Hy verwys dan na die “uiters kleurryke variasies van Afrikaans, waaraan absoluut geen ideologiese gewig hang nie. Hulle red Afrikaans met hul talent” (4705). Daar is sekerlik ideologiese gewig in hierdie soort “Afrikaans”. Geradbraakte, Engels-besoedelde Afrikaans word doelbewus misbruik om behoudende Afrikaners die moer in te maak. Die gehalte van Afrikaans, veral in die sin van Engels-vrye Afrikaans, is van deurslaggewende belang vir die sinvolle oorlewing van Afrikaans. Vosloo sien hierdie probleem raak, maar polities korrek lewer hy geen kritiek daarop nie: “Weens ons politieke geskiedenis voel baie bruin woordkunstenaars nie die aandrif om hulle moedertaal teen Engels te verskans soos die ouer geslag Afrikaanssprekers nie” (4705).

Wat by Vosloo voorkeur geniet, is nie die taal Afrikaans nie, maar politieke oorwegings: “Om Afrikaans van die taal van apartheid na die taal van versoening om te buig” (4741). Dit is waarom Vosloo die inisiatief met bv die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) geneem het. In die praktyk laat die ATR hom deur mode-politiek lei en bevorder gevolglik eerder die brouseltaal Kaaps as Standaardafrikaans. Myns insiens is ‘n Afrikaansinstansie wat nie die moed het om suiwer(der) Afrikaans te bevorder nie, nie die moeite werd nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.