Theresa May en IMF ondersteun grondgryp ná Trump-twiet daarteen

Theresa May en Cyril Ramaphosa

Die globale media het ná die twiet van mnr. Donald Trump oor vergrype teen boere en eiendombesitters in Suid-Afrika dit as “steun vir blanke heerssug” beskryf en die komende grondgryp as “nodig” en “geregverdig” opgehemel. Die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser het hom ook teen Trump uitgespreek en verwys na “suksesvolle grondhervorming, waarvan daar in elke landstreek sulke wonderlike voorbeelde is”.

Die jongste organisasie om sy steun vir die onteiening van blanke plase uit te spreek, is die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Die fonds se senior inwonende verteenwoordiger in Suid-Afrika, Montfort Mlachila, het gister (Donderdag) gesê dat die IMF grondgryp “ten volle ondersteun solank dit deursigtig en die grondwet as uitgangspunt het”.

Mlachila het verder gesê dat grondgryp “nie plaasproduktiwiteit moet kniehalter nie en verseker dat Suid-Afrikaners steeds toegang tot betroubare voedselvoorrade moet geniet”.

Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, het vroeër vanjaar aangekondig dat sy bewing van plan is om die grondwet te verander ten einde die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Die oefening is veral teen Afrikanerboere gemik.

Volgens die IMF se gesant, Mlachila, “ondersteun ons die behoefte om grondonteiening te onderneem ten einde ongelykheid aan te pak”.

Mev. Theresa May, die Britse eerste minister, het Dinsdag in Kaapstad aangekom waar sy insgelyks haar steun aan Ramaphosa se grondgrypplan uitgespreek het. Sy het selfs beweer dat dit beleggings mag lok.

“Ek verwelkom die uitsprake wat president Ramaphosa reeds gemaak het aangaande die benadering tot grondonteiening, waaronder die ekonomiese en maatskaplike aspekte daarvan,” het May gesê. “Ons sien reeds beduidende beleggings in die VK. Ek dink daar is werklike geleenthede vir die toekoms.”

Op die valutafront het die rand verder waarde teen die VS-dollar, die euro en die pond ingeboet. Hoewel die verswakking van die rand op faktore buite Suid-Afrika geblameer word, soos die invloed van die Turkse lire of Argentynse peso, hou verskeie ontleders die grondgrypbeleid daarvoor verantwoordelik.

Vroeg vanoggend het die rand teen R14,70 per dollar, R17,15 teen die euro en R19,14 per Britse pond verhandel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.