Jacob Zuma: die trein het reeds vertrek

ImageUit die Praagargief: Buks van Rensburg se versiende rubriek van 1 Desember 2007
 
In die agste uitgawe van die Helen Suzman-stigting se internetpublikasie Focus is daar ’n insiggewende artikel oor die Xhosa Nostra.  Daar word opgemerk dat Xhosas reeds lank deur Westerse sendelinge bearbei, opgevoed en bevoordeel is.  Derhalwe het Xhosas ’n opvoedkundige voorsprong oor ander swart Suid-Afrikaners en was hulle meermale beter geplaas om struggle-organisasies soos die ANC te lei.  Dit verklaar dan ook waarom Xhosas, en in ’n mindere mate Indiërs, uit die ANC se struggle te voorskyn gekom het as politieke leiers in Suid Afrika. 

Op soortgelyke wyse was dit ook Xhosas wat geweldig persoonlike finansieel voordeel getrek het uit die koöptering van die ANC se leierskap na 1994 deur die voormalige wit Suid-Afrikaanse sake-establishment.  Kitsgemunte miljoenêrs (meestal Xhosas) wat uit die bloute verskyn het, is direk gekoop met geweldige bedrae geld om hulle politieke samewerking te verkry, die besigheidsatmosfeer te beskerm en om die finansiële, politieke en maatskaplike orde in Suid-Afrika te beïnvloed.

In dié opsig word die invloede van Xhosas en van die (voormalige) wit besigheidsklas in die ANC se komende opvolgingstryd ’n interessante kwessie.  Die stryd sal aantoon in watter mate Xhosas as ’n politieke groepering en die besigheidsklas, asook hul organe wat onder meer die Afrikaanse pers, en ook ander publikasies en dinkskrums (soos die Helen Suzman-stigting, wat steeds deur die wit Engelse besigsheidsklas beheer word), en dan die gekoöpteerde Xhosaleiersklas in die ANC, nog beheer oor die ANC en oor Suid-Afrika uitoefen.  Dat die Afrikaanse pers byvoorbeeld druk besig is om te probeer om ’n invloed uit te oefen op die verkiesing van ’n nuwe ANC-leier sien mens byvoorbeeld in uitsprake in Beeld se hoofartikels dat

Cosatu se dreigement dat hy strate toe sal gaan as mnr. Jacob Zuma voor die ANC-kongres in Polokwane (Pietersburg) aangekla gaan word, is ontstellend.

Dit lyk duidelik dat daar gronde is om Zuma aan te kla. Schabir Shaik is reeds skuldig bevind aan korrupsie en in dié saak is hy duidelik aan Zuma gekoppel.

Dit sal sekerlik wys wees om Zuma nie in die volgende drie weke aan te kla nie – die aanklag sal te maklik as politieke inmenging gesien kan word.

Maar dit behoort ook duidelik te wees dat die enigste oplossing vir die voortslepende Zuma-kwessie ’n behoorlike hofsaak is. [27 November 2007]

waarin voorgestel word dat Jacob Zuma voor ’n hof gedaag moet word, met die waarskynlike resultaat dat ’n skuldigbevinding hom van sy populariteit en aanspraak op die presidensie sal stroop.

Jacob Zuma het reeds in die eerste ronde (om ANC-president te word) as ’n wegholoorwinnaar verskyn, met meer steun as wat daar voorheen bespiegel is.  Die skokgolwe van sy oorwinning kring steeds uit, en daar is ’n verslaentheid te bespeur onder ANC-hooggeplaastes en hulle aktiewe ondersteuners in die Afrikaanse en voormalige wit Engelse pers.  Publikasies soos Rapport, Beeld, The Sunday Times, en dies meer, wat reeds lank ’n stryd voer om die opvolgingsdrama in die ANC te beïnvloed, begin nou uitvind dat hulle irrelevant in die stryd geword het en dat hulle geen beheer uitoefen of invloed het oor die ANC, of oor Suid-Afrika se swart massas nie.  In dié opsig praat rubriekskrywers in Beeld byvoorbeeld steeds oor moontlike verrassings in die verkiesing.  Mens, wonder, wie se verrassings? Die ontsteltenis oor Zuma is so groot dat Mbeki selfs ondersteuning kry vir ’n derde termyn as president, ten spyte van die feit dat die grondwet dit eksplisiet verbied.  Verder verklaar briefskrywers in koerante dat hulle die land sal verlaat as Zuma verkies word as president, omdat dit hulle vertroue in die toekoms van die land ondermyn. 

Jacob Zuma is ’n omstrede figuur en is tans die adjunkpresident van die ANC.  Ten spyte van sy bloutjies met die reg (’n aanklag van verkragting is uit die hof gegooi, en sy finansiële adviseur, Shabir Shaik, is skuldig bevind op aanklagte van bedrog), bly Zuma se gewildheid onaantasbaar onder sy ondersteuners.  Hy is in 2006 ontslaan uit sy pos as adjunkpresident deur president Thabo Mbeki, maar selfs die ontslag het sy ondersteuning in veral die ANC se jeugliga en vroueliga nie negatief beïnvloed nie.  Die ANC-jeugliga reageer byvoorbeeld soos volg op sy verkiesingsege op hulle webwerf:

“The ANC Youth League welcomes the outcomes of the Provincial General Councils of the ANC which overwhelmingly endorsed the positions put forward by the Youth League. While we appreciate that this is but the conclusion of the first phase of the electoral process, we are however satisfied that these represent the will and conviction of the majority of the ANC membership on the ground.”  [28 November 2007]

Jacob Zuma word ten beste verstaan as ’n African Strong Man, dit wil sê, as ’n hoofman in die Afrikakonteks, gebore om te lei, verhewe bo normale wette, en onaantasbaar in sy gesag.   Hy is die seun van ’n huisbediende in Durban, en het bitter min formele opleiding ondergaan.  Hy sluit in 1959 by die ANC aan en word ’n lid van Umkhonto we Sizwe in 1962.  In 1963 word hy op Robbeneiland toegesluit om ’n tienjaarvonnis uit te dien. Na sy ontslag is hy instrumenteel in die vorming van ondergrondse strukture in die ANC in KwaZulu-Natal in die 1970s.  In 1975 verlaat hy Suid-Afrika en vestig homself in Swaziland en Mosambiek tot in 1987.  Hy is vinnig tot senior posisies in die ANC bevorder, om uiteindelik as ’n senior verteenwoordiger van die ANC in Mosambiek aangestel te word.  Toe PW Botha se regering sterk druk op Mosambiek uitoefen om die ANC uit te skop, verhuis hy na Lusaka waar hy die hoof van die ANC se intelligensiedepartement word.  Na die ontbanning van die ANC in 1990 word hy verkies as die ANC se voorsitter in die Suid-Natalarea waar hy vredesooreenkomste met Inkatha onderhandel.  Die volgende jaar word hy as adjunk-sekretaris-generaal van die ANC verkies.  In 1994 word hy nasionale voorsitter van die ANC en in 1999 adjunkpresident van Suid Afrika.

Hy is in 1998 met die Nelson Mandela-toekenning vir Uitstaande Leierskap in Washington DC vereer.  Ten spyte hiervan word Zuma skepties deur die voormalig wit Suid-Afrikaanse pers bejeën. Die Mail and Gaurdian reageer soos volg gedurende sy verskyning op aanklagte van verkragting voor die hof: 

“The political damage is incalculable, with the ruling African National Congress now an openly divided and faltering movement. This has had a domino effect on the South African Communist Party and the Congress of South African Trade Unions, which have floundered and fractured in the face of damaging charges against a man they ardently backed as the country's next president.

 

The trial has been fought against the backdrop of a bitter succession war between Mbeki and Zuma… Mbeki's support in the ANC has crumbled, with the party faithful refusing to accept that he will anoint a leader… But even Zuma's most diehard supporters privately acknowledge that he cannot now be president, regardless of the trial outcome.”  [22 November 2006]

Die Mail and Gaurdian is natuurlik verkeerd.  Daar is nie skerp verdelings in die ANC nie. Jacob Zuma het nou weer gedemonstreer dat hy geweldige meerderheidsteun in die ANC het.  Nie net in die Jeugliga en die Vroueliga nie, maar ook in provinsie na provinsie, en op voetsoolvlak.  Selfs al verlaat die minderheid wat hom nie steun nie die ANC, sal hy steeds genoeg stemme op hom verenig om die ANC-president en uiteindelik president van Suid-Afrika te word.  Dit is wensdenkery om dit anders te ontleed.  Jacob Zuma is op ’n onvermydelike oorwinningskampanje om die volgende president van die ANC en van Suid-Afrika te word.  Dié feit veroorsaak konsternasie in die Afrikaanse (en ook in die Engelse) pers in Suid-Afrika, wat Zuma as ’n outokratiese en selfs as ’n gevaarlike figuur beskou.  Dit sal ’n ongewone versameling gebeure verg om hom te stuit, byvoorbeeld algemene onluste, of ’n ingryping deur die konstitusionele hof, of iets dergeliks.

Wat baie meer interessant is sover dit senior ANC leiers aangaan, is hulle reaksie op Zuma se verkiesing as ’n Zoeloe, wat die dominansie van die Xhosaleierskap in die ANC gaan uitdaag en waarskynlik in ’n mate gaan verplaas en reinig.  In dié opsig is daar ’n moontlikheid dat die huidige Xhosaleierskap ’n bondgenoot in die voormalige wit establishment mag soek, iets wat eienaardig sal wees, en wat ook die irrelevansie van die establishment in die huidige politieke klimaat sal demonstreer.

Die grondwet beperk Suid-Afrikaanse presidente tot net twee termyne.  Thabo Mbeki was die natuurlike opvolger vir Nelson Mandela in 1999 en sy tweede termyn loop ten einde in 2009.  Die enigste ander figuur wat Mandela kon opvolg (Chris Hani) is reeds baie jare terug vermoor en soos Mbeki en Mandela, was hy ’n Xhosa.  Daar is nou al geruime tyd bespiegelinge rondom moontlike opvolgers.  In veral Afrikaanse koerante en ander publikasies word moontlike leiers wat meer aanvaarbaar as Zuma sou wees, gepromoveer as opvolgers vir Mbeki.  So byvoorbeeld word Tokyo Sexwale reeds lank voorgehou as ’n verkieslike opvolger in die Afrikaanse pers, maar die name van Cyril Ramaphosa en ander senior ANC-figure het ook al die rondte gedoen.  Die idee dat Thabo Mbeki vir ’n derde termyn verkies moet word is ook al bevorder, in weerwil daarvan dat die grondwet dit verbied.   Al die voorgestelde opvolgers is Xhosas, konsekwent met die Helen Suzman-stigting se opmerking oor sendelinge en Xhosas.

Terwyl die Afrikaanse pers druk besig is om die een of ander ANC-leier voor te hou as ’n moontlike opvolger en die verkiesing op dié manier probeer beïnvloed, is die ANC besig met sy eie prosesse.  As wit en Afrikaanse meningsvormers glo dat hulle idees enigsins nog ’n indruk op die ANC of selfs in Suid-Afrika maak, gaan die opvolgingstryd tot ’n wrede ontnugtering lei.  Die knaende bevording van Sexwale en/of Ramaphosa as opvolgers laat die indruk dat Afrikaanse redakteurs dink dat hulle voorkeure die proses kan beinvloed, so asof Rapport, of Beeld, nog ernstig deur die president of senior ANC-leiers gelees word. 

Sexwale is ook ’n witbroodjie by die Helen Suzman-stigting wat in ’n onlangse uitgawe van Focus ’n hele toespraak wat hy by Wits gegee het, gepubliseer het.  Dit alles is egter irrelevant.  Nóg die Afrikaanse pers, nóg die voormalige wit Engelse persorgane soos die Mail and Gaurdian, nóg die Helen Suzman-stigting, kan nog enige invloed of beheer uitoefen op die ANC en hulle leierskapsverkiesing.  Om in die Afrikaanse pers verduidelikings te eis van die ANC-vroueliga vir hulle steun vir Zuma, of om die ANC-jeugliga te betig, is in der waarheid om jou asem te mors.  Die trein het die stasie reeds verlaat.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.