Leon Lemmer: Is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ‘apartheidsondes’?

Michael Jonas, die bruin direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl, het onlangs geskryf: “Die ATM is deels in apartheidsonde gebore” Die ATM het glo “politieke bagasie” (LitNet 31.07.2018). Die monument eerder as die museum word deur hom betrek. In hierdie artikel ontleed ek hierdie “politieke bagasie.” Die lesers kan dan besluit of die tradisionele ATM (1975-1994) of die getransformeerde ATM die swaarste aan politieke bagasie dra. Jonas se uitlatings toon dat hy geen werklike begrip het van die redes waarom hierdie museum en monument sedert 1975 in die Paarl is nie. Albei instansies is nie uitsluitlik nie maar by uitstek Afrikanerheiligdomme. Hulle is deur die Afrikanerdom geskep omdat hierdie etniese groep die lojaalste en onvervreembaarste ondersteuners van Afrikaans is.

Michael Jonas

Die ATM behoort myns insiens eerder ‘n uitvoerende hoof te hê wat deeglik in Afrikaans (en veral in Afrikanerkultuur) onderleg is, dus in geestesgoedere, as ‘n museumkundige, soos Jonas, wat moontlik eerder tegniese vaardighede het. Die vereiste van ‘n onstilbare liefde vir ordentlike Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, behoort ononderhandelbaar te wees. “Regstelling/transformasie,” dus diskriminasie teen die blanke kandidate, het heel moontlik ‘n deurslaggewende rol by Jonas se aanstelling gespeel, met katastrofiese gevolge vir Afrikaners en hulle taal. Soos so dikwels in die nuwe Suid-Afrika, lê die eintlike probleem by die ANC-regering.

Aan die begin van sy artikel spreek Jonas sy bewondering uit vir die “anti-apartheid aktivisme, ook in Afrikaans” van sy broer. Jonas gee klaarblyklik nie om as sy uitlating hom die gramskap van die Afrikaners op die hals haal nie. Hy kies anti-wit en pro-swart kant. Hy behoort die elementêre besef te hê dat hy ampshalwe nie so onsensitief durf omgaan met diegene wat die bestaan en die voortbestaan van die ATM tydens hierdie twee instansies se eerste twee dekades moontlik gemaak het nie. Jonas beskik klaarblyklik nie oor die finesse wat tereg van die uitvoerende hoof van die ATM in sy amptelike hoedanigheid verwag kan word nie.

Vervolgens verwys hy na die “misbruik van taal” waarmee hy myns insiens, soos die gewoonte geword het, weer eens die blankes, spesifiek die Afrikaners, in die beskuldigingsbank plaas en nie iemand soos sy aktivistiese broer nie. Volgens Jonas is daar “nog baie werk nodig om negatiewe narratiewe te besweer,” maar ek is oortuig daarvan dat hy terroristiese bedrywighede wat bv in Afrikaans gepleeg is nie as negatiewe narratiewe beskou nie.

Die huidige ATM-opset is sodanig dat Afrikaans en Afrikanerbelange (bv -kultuur) nie tot hulle reg kom nie. Eerstens lê die fout by Jonas, soos duidelik uit die res van hierdie skrywe blyk. Tweedens lê die fout by die ATM-raad, soos ek hier onder verduidelik. Derdens lê die fout by die ANC-regering, wat van (feitlik) alles waarby hy betrokke is, ‘n gemors maak, insluitende die ATM. Die ontstaan van die ATM is deur “privaat inisiatiewe” moontlik gemaak, soos Jonas erken. Nadat die hele land onverdiend en verraderlik in die skoot van die ANC geval het, het die ATM ‘n agenskap van die Departement Kuns en Kultuur geword, wat 70% van sy begroting befonds. Die ATM se finansiële afhanklikheid bring mee dat hy (heeltemal) aan die wil van die ANC-regering uitgelewer is.

Die samestelling van die huidige ATM-raad toon duidelik die deurslaggewende negatiewe invloed wat die ANC-regering het. Naas Jonas is daar vyf bruin lede, een swarte, een Indiër en een blanke. Bruin mense oorheers die raad teen ‘n koers van ses uit nege. Hierdie samestelling weerspieël glad nie die demografie van Afrikaanssprekendes nie; veral nie die demografie van Afrikaanslojaliste nie. Onder die bruin raadslede is daar een verteenwoordiger vir die Griekwas en een vir die Khoi-San. Hulle geniet dus dieselfde mate van verteenwoordiging as die blankes. Wat ook eienaardig is, is dat twee van die raadslede die van van Saal het. Dit lyk asof hulle familie/broers kan wees. Een van hulle, Elvis, is die voorsitter. Hy het blykbaar geen beginselbeswaar teen geradbraakte Afrikaans nie – dit is sy spesialiteit (LitNet 10.05.2017).

Die enigste blanke raadslid is Janis Grobbelaar, ‘n sosioloog (dus nie ‘n Afrikaansdosent nie) wat as ‘n militante ANC-aktivis bekend is en bv twee jaar lank aan die berugte Waarheids- en Versoeningskommissie verbonde was. Sy sou bv geen poging aanwend om Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit van Suid-Afrika en die Universiteit Pretoria (die drie instansies waar sy ‘n dosent was/is) heringestel te kry nie. Me Grobbelaar is soos haar kollega, me Christi van der Westhuizen, deel van die UPMefia. Geen blanke man dien in die ATM-raad nie.

Jonas skryf: “Die samestelling van die ATM se personeel en raad weerspieël die diverse realiteit van die sprekers,” maar proporsioneel is dit sekerlik nie die geval nie. Sowat 40% van die Afrikaanssprekende bevolking is blank. Die blanke teenwoordigheid in die raad is doelbewus maksimaal afgeskaal om blanke invloed te minimaliseer. “Maksimaal” omdat die enigste blanke raadslid veel eerder die belange van die ANC dien as dié van Afrikaans en veral Afrikaners. Afrikaanssprekende blankes is ook nie 40% van die ATM-personeel nie. Wanneer ek die ATM besoek, val die oorverteenwoordiging van bruin personeellede op.

Dit is glad nie duidelik of die ATM-raad se verrigtinge nou weer in Afrikaans plaasvind nie. Voorheen is Engels as voertaal gebruik omdat die ANC-regering in sy wysheid/gemeenheid ‘n swart Engelsdosent as voorsitter aangestel het (Praag 8.03.2015). Na twee jaar in die pos as uitvoerende hoof, kry Jonas al hoe meer militante politieke vere. Daar is geen moontlikheid dat die nuwe raad of die ANC-regering hom tot orde sal roep nie.

Jonas poog om die doelbewuste marginalisering van blankes/Afrikaners in ATM-bedrywighede soos volg te regverdig: “Die monument se fokus is tans op die miskende variëteite en geskiedenisse van Afrikaans” (Rapport, Weekliks, 28.01.2018, p 10). Dit dien as verskoning vir die huidige nie-huldiging van die groot Afrikaansgeeste, te wete Afrikaners. Maar dan is dit Jonas wat skryf: “Museums as kulturele landskappe is openbare ruimtes wat as ‘kontaksones’ beskou word waar uiteenlopende opponerende idees, opvattings en perspektiewe tot uiting kom.” As dit só is, stel die ATM deesdae ‘n bedenklike voorbeeld met sy selferkende eensydige fokus op nie-wittes en die marginalisering van blankes.

Geen poging word aangewend om Afrikaners by die Taalmonument tuis te laat voel nie. Veel eerder die teenoorgestelde. Ek gaan daarheen om die argitek, Jan van Wijk (1926-2005), se pragtige skepping, die Taalmonument, te geniet en my waardering vir Afrikaans te betuig (Praag 31.08.2014). Van Wijk het die oprigting van die Taalmonument as “‘n diep volkstaak of ‘n taalsaak of dieper nog, ‘n geestestaak” beskou (Jan van Wijk, Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014, p 90). Maar die ATM het ontaard in net nog ‘n plek waar Afrikaners voel dat hulle plek hulle nie meer ken nie. Die ATM omvat twee heilige en by uitstek Afrikanerinstansies, waaroor die ANC en Jonas geen invloed behoort uit te oefen nie. Gegewe die bruin elite se Afrikaansdislojaliteit is daar nie ‘n kat se kans dat bruin mense (en nog minder swartes) ‘n museum en ‘n monument ter huldiging van Afrikaans tot stand sou gebring het nie. Net Afrikaners sou so iets gedoen het en hét dit op ‘n voortreflike manier gedoen. Desnieteenstaande het die magte van die bose sedert 1994 ongebreidelde beheer van hierdie Afrikanerkleinode oorgeneem.

Die ATM-webwerf toon dat Nelson Mandela op 18 Julie deur die ATM gehuldig is terwyl daar geen geldige taalrede is waarom die ATM so iets behoort te doen nie. Die motivering is suiwer polities. Op 26 Mei het die ATM Museumdag in die bruin enklave Genadendal gevier. Op 16 Augustus (ter herdenking van 14 Augustus 1875 toe die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is, dus Afrikaansdag) gaan ‘n byeenkoms oor Afrikaans se “komvandaan” gehou word. Die woord “komvandaan” is heel moontlik ontleen aan die oud-MK-terroris, Jeremy Vearey, se onlangs gepubliseerde boek (Praag 26.05.2018). Daar gaan, soos reeds telkens tevore, gepraat word oor die ontstaan en diverse wortels van Afrikaans met die aktivis Willa Boezak, ‘n broer van Allan Boesak, as een van die sprekers. Dít openbaar die soort byeenkoms wat deesdae keer op keer deur die ATM aangebied word. Die aanslag is sodanig dat kwalik van Afrikaners verwag kan word om sulke byeenkomste by te woon. Die bydrae van nie-wittes tot Afrikaans word telkens oorbeklemtoon en die veel groter en belangriker bydrae van Afrikaners word geïgnoreer. ‘n Valse beeld van die geskiedenis word doelbewus geskep en versprei.

Jonas skryf: “Ons herdenk verskeie nasionale en openbare dae, soos 16 Junie [die herdenking van die 1976-vernietigingsveldtogte aangevuur deur anti-Afrikaans-propaganda] en vanjaar het ons op Afrikadag [25 Mei – die herdenking van die stigting van die anti-blanke Organisasie vir Afrika-eenheid/Afrika-Unie in 1963] gratis toegang aan alle buitelandse Afrikane in Suid-Afrika gebied” – dus sowel dié wat wettig as dié wat onwettig in die land is. Dae met ‘n pro-swart/ANC-klank word dus deur die ATM herdenk, selfs al is dit in eersgenoemde geval uitdruklik anti-Afrikaans en het dit in laasgenoemde geval niks met Afrikaans te make nie. Maar ‘n dag van deurslaggewende belang vir Afrikaans, die aankoms van Jan van Riebeeck op 6 April 1652, dus die aanvang van die permanente teenwoordigheid van ‘n Euro-Germaanse taal in Suidelike Afrika en al die voordele wat dit tot gevolg gehad het en steeds het, word nie gedenk nie.

Soos aan die nuwe Universiteit Stellenbosch (US) word die ATM-gedenkdae (behalwe Afrikaansdag in die geval van die ATM) deur linkse politiek en nie deur taal nie bepaal. Jonas probeer hom soos volg loswikkel uit hierdie skandalige toedrag van sake: “Sedert die vroeë 2000’s fokus die museum egter op ‘n narratief van ‘n gedeelde taalherkoms en viering van talige diversiteit” – bygesê, mits min of geen prominensie aan Afrikaners verleen word nie. Jonas wil die ATM “uitbou tot ‘n dinamiese en inklusiewe instelling wat die talige diversiteit van Afrikaans bevorder in die konteks van ‘n veeltalige gemeenskap.” Daarmee word die fokus op Afrikaans verwater, wat neerkom op halfhartige toewyding aan Afrikaans. Hoe meer Afrikaners uitgesluit word, hoe meer inklusief word die ATM glo, soortgelyk aan die US wat ten koste van Afrikaans na bewering al hoe meer inklusief word deur te verengels.

Jonas beskou die ATM van weleer as verwerplik terwyl die huidige verwatering van die Afrikaans- en veral Afrikanerfokus geloof word. “Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan fokus op wat Afrikaans en die ATM nog altyd [!] veronderstel was om te wees.” Dít is ‘n sprekende voorbeeld van wat ek in my vorige rubriek ‘n eienaardige soort “etniese logika” genoem het (Praag 4.08.2018). Dit is glo “hoe Afrikaans ‘n integrale, opbouende deel van ons land se toekoms is” – asof Afrikaans nie voorheen ‘n meer opbouende en groter rol gespeel het nie en die land nie toe ‘n belowender toekoms gehad het nie. Die ATM is deesdae allermins wat dit “nog altyd veronderstel was om te wees,” naamlik primêr Afrikanerheiligdomme.

Die jongste Jonas-artikel val weg met die modewoord “diversiteit” en beweer dat “die ATM nie net ‘n baken van hoop vir Afrikaans is nie, maar vir álle Afrikatale.” Later word “inklusiwiteit” bygevoeg. Dit is die soort onverteerde retoriek wat die hele Jonas deursuur. Aan die US is daar deesdae dieselfde linkse voorliefde vir woorde soos “diversiteit,” “inklusiwiteit” en “hoop” (na aanleiding van Paulo Freire se marxistiese pedagogie van hoop) met ‘n gepaardgaande Afrika-manie waarin Afrikaans ondergeploeg word. Die punt is dat Afrikaans glad nie in dieselfde mate as Bantoetale ‘n Afrikataal is nie. Soos Bantoetale is Afrikaans in Afrika, maar anders as Bantoetale is Afrikaans ‘n Euro-Germaanse taal en in daardie wesenlike sin nie van Afrika nie. Jonas sleep Afrikatale by omdat hy “ons koloniale mantel,” bedoelende die blanke mantel, wil afskud. Hy bestempel taaldiversiteit as “‘n absolute aanwins … wat gevier en ondersteun moet word” – seker ook as taaldiversiteit (Afrikaans én Engels) neerslag in dieselfde taal vind, soos oorvloediglik in die geval van Kaaps.

Die opskrif van Jonas se artikel is: Die ATM:”‘n simbool van hoop, nasiebou en sosiale samehorigheid.” Jonas beskou die ATM as “‘n kulturele fasiliteerder” wat ‘n bydrae tot “die daarstelling van ‘n volhoubare samelewing” wil lewer. Kortom, Jonas gebruik/misbruik die ATM ter ondersteuning van die ANC-regering. Dit toon baie duidelik Jonas se fundamentele nie-Afrikaans-oriëntasie. Die argitek het die Taalmonument as ‘n simbool van Afrikaans geskep. Jonas transformeer die Taalmonument tot ‘n simbool van politieke elemente soos hoop, nasiebou en samehorigheid. Laasgenoemde drie begrippe openbaar in werklikheid geen noodsaaklike verwantskap met Afrikaans nie.

Jonas se linkse politiek oorheers sy benadering tot Afrikaans. Let op die radikale skeefheid wat uit die volgende sin spreek en die bodemlose onkunde wat onderliggend aan sy siening is: “Afrikaans is immers [!] ook ‘n slagoffer [spesiaal deur Jonas gekursiveer] van dié nasionalisme, ‘n nasionalisme wat die taal vir korttermyn politieke gewin gekaap het en ter wille van mobilisering misbruik het.” Afrikaners het ongetwyfeld die leeue-aandeel in bv die skepping, uitbouing en amptelike erkenning van Afrikaans gehad. Desnieteenstaande is tydens die hoogbloei van apartheid, in 1975 met die daarstelling van die ATM, sowel konkrete as afdoende erkenning aan die mindere bydraes van nie-wit etniese groepe tot Afrikaans in die struktuur van die Taalmonument gegee, soos Jonas behoort te weet. Die woord “gekaap” is oordrewe politieke retoriek.

Afrikaners het in dieselfde mate as swartes die onvervreembare reg op die uitlewing van hulle nasionalisme en ook om na goeddunke te mobiliseer. Anders as tans het Afrikaans tydens die blanke politieke bewind – “die apartheidsregime” volgens Jonas – nooit slagofferstatus gehad nie. Wat Afrikaans betref het dit tydens apartheid ook nie uitsluitlik om politieke gewin gegaan nie maar veral om Afrikaans uit te bou tot ‘n volwaardige en nie-geradbraakte Euro-Germaanse taal. Tydens die blanke bewind is doelbewus weggestuur van enige poging om Afrikaans met onnodige Engels te vermurwe, soos wat baie bruin mense om politieke redes doelbewus en uittartend gedoen het en voortgaan om te doen. Die destydse gesonde drang na taalsuiwerheid is sedert 1994 in toenemende mate versaak.

In die struktuur van die Taalmonument word erkenning gegee aan die geringe mate waarin Afrikaans deur Maleis, Khoi-San en Bantoetale beïnvloed is. Wat heeltemal tereg nie uitgebeeld word nie, is die invloed van Engels, wat in die aanloop tot 1975 en in die daaropvolgende twee dekades sover moontlik uit Afrikaans geweer is. Dit volg dat ‘n groot deel van Kaaps, in soverre dit Engels is, heeltemal tereg nie deur die Afrikaanse Taalmonument gesimboliseer word nie. Dit is ironies en skandalig dat veel eerder Kaaps as Standaardafrikaans deesdae tydens ATM-byeenkomste verheerlik word.

Die toestand waarin Afrikaans verval het, behoort ‘n bron van “hartseer” en “pyn” (gewilde woorde in linkse politieke geledere) te wees vir enigeen wat ‘n opregte liefde vir Afrikaans koester. Dit behoort vanselfsprekend die uitvoerende hoof van die ATM in te sluit. Maar Jonas skaar hom doelbewus aan die kant van die verminkers van Standaardafrikaans. “‘n Houding om slegs die gestandaardiseerde gesproke en geskrewe variëteit as aanvaarbaar voor te hou, dien as instrument vir die doelbewuste uitsluiting van seker die grootste groep Afrikaanssprekendes se unieke omgang met Afrikaans” – bedoelende bruin mense se brouseltaal, Kaaps. Soos die ANC gee Jonas voorkeur aan kwantitatiewe bo kwalitatiewe oorwegings.

Jonas se insig is dat die situasie van Afrikaans sedert 1994 verbeter het, dat “voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekers … die taal opeis; ‘n energie wat die ATM ondersteun … Die totaliteit van Afrikaanssprekendes is besig om die taal te eien, tot almal [!] en veral die taal se voordeel. Sedert die taal se bevryding in 1994 is daar ‘n geskiedkundige opwelling van Afrikaanse literatuur, musiek en rolprente … Wat wel opval, is dat variëteite van Afrikaans … nou ‘n bloeitydperk beleef.” Waarvan is Afrikaans in 1994 bevry? By uitstek van sy tradisionele suiwerheid; dus van sy wesenlike nie-Engelsheid. In Jonas se ANC-gunstige perspektief is daar geen besef dat Afrikaans sedert 1994 drasties ontaard en agteruitgegaan het nie. Behoort die ATM-leiding enigsins aan iemand soos Jonas toevertrou te word?

Daar is volgens Jonas net “een werklikheid – ‘n progressiewe … – by die monument en die museum te siene.” Omdat dit volgens hom so goed met Afrikaans gaan, uiter hy negatiewe opmerkings oor diegene wat besorg oor Afrikaans is en iets daaromtrent probeer doen. Hy flans geykte retoriek soos volg saam. “Die debat oor die toekoms van Afrikaans [word] steeds ten dele oorheers deur tradisionele (wit) Afrikaner- en burgerlike organisasies wat boonop soms namens alle taalgenote oor kultuursake wil onderhandel. ‘n Houding van meerderwaardigheid en opeis van die taal as eiebesit deur sekere sektore binne die Afrikaanssprekende landskap, die ‘loopgraafbenadering’ om vir die taal te veg, asook onaanvaarbare ‘tradisies’ word in die postapartheid samelewing voortgesit.” As iemand polities byderwetse geluide maak, word die gesaghebbendheid van die uitsprake nie bevraagteken nie. As iets egter gesê word wat nie kruipsugtig genoeg is nie, word gevra namens wie gepraat word. Die ideaal is blykbaar dat geen standpunt buite polities korrekte monoloë geduld moet word nie.

Jonas verpolitiseer omtrent alles; ook Afrikaans. Maar dan is dit hy wat beweer dat die “apartheidsregime” Afrikaans as “n speelbal misbruik” het. Onmiddellik hierna skryf hy egter – let op hoe Jonas dit inklee: “Die monument het egter van meet af historiese taalfeite erken, veral omdat Afrikaanse skrywers en anti-apartheid aktiviste hul stem dik gemaak het. Die ikoniese beeldhouwerk op die Paarlberg lê sterk klem op Afrikaans se Afrika-herkoms en die simboliek is klokhelder dat die toekoms van Afrikaans in Afrika is, met ander Afrikane.” Jonas gee voor dat “die apartheidsregime” tydens die inwyding van die momument in 1975 die nie-wittes in groter mate wou uitsluit. Die destydse voorlesing van ‘n Adam Small-gedig vind guns in sy oë/ore. “Aan die ander kant is die amptelike toespraak deur die destydse apartheidspremier, BJ Vorster, behartig.” Klaarblyklik sou Jonas Nelson Mandela as hoofspreker verkies het, al was Mandela se betrokkenheid by Afrikaans minimaal.

Daar is iets waaroor daar na dese geen onsekerheid hoef te wees nie. Jonas dokumenteer ondubbelsinnig die feit dat die ATM ‘n lakei van die ANC-regering is. “Vanweë die afhanklikheid van staatsbesteding wat nagenoeg 70% van die ATM se begroting beloop, word daar van dié openbare entiteit verwag om uiting te gee aan die nasionale strategiese doelwitte soos uiteengesit in hoofstuk 15 van die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030. Dit het ons gedoen deur ons visie, missie en aksies op een lyn te bring met die Departement [Kuns en Kultuur] s’n.” Hiervolgens vervul die ATM-raad, wat deur die betrokke minster aangestel word, bloot ‘n oorsigrol. Dit is dus ‘n nie-uitvoerende raad, wat die aanstelling van ‘n geskikte uitvoerende ATM-hoof des te meer van deurslaggewende belang maak. Oor alles moet verantwoording aan die ANC-regering gedoen word.

“Die ATM se visie is om dit tot ‘n dinamiese en inklusiewe instelling uit te brei wat die talige diversiteit van Afrikaans bevorder binne die konteks van ‘n multikulturele samelewing.” In die artikel word nêrens by name melding gemaak van die ATM se (dure) verantwoordelikhede teenoor Afrikaners en Standaardafrikaans nie.

Deel van die ATM-missie is om “wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen lede van die Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder,” maar wat Afrikaners betref is daar weinig blyke van respek en verdraagsaamheid in die Jonas-artikel – eerder die teenoorgestelde. Let op hierdie ATM-missie: “‘Miskende’ of verplaaste geskiedenisse van Afrikaans na te vors en ‘n verskerpte fokus op Afrika-epistemologieë en [!] -kennisleerstelsels te plaas as deel van ‘n groter dekoloniseringsproses.” Die arme drommel weet nie dat “epistemologie” (wat geen meervoudsvorm het nie) en “kennisleer” sinonieme is nie. Dit bevestig Jonas se gebrekkige onderlegdheid in ideologie terwyl hy hom oorgraag maar hoogs onbedrewe in politieke vaarwater begewe.

Die eerste ATM-waarde wat genoem word, is: “Die nastreef van hoë vlakke van integriteit, betroubaarheid, deursigtigheid en professionaliteit in wat ons doen.” Ná my voorafgaande betoog, verkies ek om liewer nie verder hierop kommentaar te lewer nie.

Een van my laaste wense was dat my as by die Afrikaanse Taalmonument gestrooi moet word. Dit word egter al hoe duideliker dat my ongetransformeerde gees geen rus sal vind waar die ANC en sy gesalfde, Michael Jonas, met hulle verwronge logika heers nie. In die lewe én in die dood is daar geen plek meer vir Afrikaners waar hulle self hulle heil kan bepaal en tot rus kan kom nie. Die voortreflikste stam wat in Afrika sy verskyning gemaak het, is op ‘n bedrieglike manier van sy vaderland beroof. In my leeftyd sal daardie vaderland en Afrikanerheiligdomme, soos die Taalmuseum en -monument, helaas nie herower word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.