Peter Murray: Afrikaneremigrasie is ‘n werklikheid

Of u nou daarvan hou of nie, emigrasie is ‘n werklikheid. Ek gaan nie kant kies nie, want dan gaan my teenstanders my stenig.

Die jongste opnames toon dat daar waarskynlik vanjaar nog in 2018 ‘n emigrasierekord opgestel gaan word.

Amptelike inligting toon dat landgenote wat vanjaar nog na die Verenigde Koninkryk wil emigreer, met 22% gestyg het.

Daar is alreeds sowat 200 000 Suid-Afrikaners in die VK, waarvan die meerderheid in Londen woon.

In Australië woon 190 000 Suid-Afrikaners, waarvan die meerderheid in Perth gesetel is. Daar is ook ‘n redelike groot aantal in Brisbane.

Daar word beweer dat Afrikaans Australië se tweede grootste taal is, en dat daar alreeds Afrikaanse skole en kerke gestig is.

Ander lande met groot getalle van ons mense, is: Nieu-Seeland, Kanada en die VSA.

Die redes vir emigrasie is velerlei. Mens sal ook seker nooit weet wat die werklike redes vir almal is nie, omdat baie mense bang vir intimidasie is.

Veiligheid en sekuriteit is die twee vernaamste redes wat deur die meeste mense aangevoer word waarom Suid-Afrikaners hul geboorteland verlaat.

Ander redes is: “Ons land se onderwysstelsel is skrikwekkend, en ons kinders het geen toekoms in die Nuwe Suid-Afrika nie.”

Die RSA se swak geldeenheid (die rand) is ‘n verdere bekommernis vir vele. Vandeesweek het die rand verswak tot R18,00 per Pond Sterling. In 1961 was dit R2,00. Teen die VS-dollar trek dit al oor die veertien rand per dollar, R14,08 om presies te wees, asook R16,07 per euro.

Werkloosheid, en die gebrek aan werksgeleenthede, is insgelyks ‘n belangrike rede waarom Suid-Afrikaners die land wil verlaat. Onder jeugdiges is die werkloosheid nou sowat 50%. Ander ouderdomsgroepe ly ook daaronder. Die amptelike syfer is nou byna 28%.

Japan vaar met 3% die beste ter wêreld; die wêreldgemiddeld is 6%; en Portugal, wat 47ste is, spog met 12% werkloosheid. Suid-Afrika se 27,8% is meer as dubbeld soveel as Portugal s’n. Skrikwekkend!

Werkloosheid veroorsaak armmoede; armoede veroorsaak honger, dakloosheid en misdaad.

Politieke onstabiliteit sorg vir groot onsekerheid onder inwoners. Beskaafde mense veral, is gewoond aan stabiliteit en wil graag die versekering hê dat die land se regering gesond is. As daar swak administrasie, bedrog, korrupsie, onbevoegdheid; ens., in die landsbestuur is, kan geen beskaafde mens gelukkig en tevrede wees nie.

Die spreekwoordelike “laaste druppel aan die emmer”, is die regering se aankondiging van “onteiening sonder vergoeding”. Ons geskiedenis leer egter vir ons dat ons voorvaders nie grond van swartes gesteel het nie. Grond is gekoop of geruil.

As jy jou lewe lank hard gewerk het — soms nadat jy baie geld, sweet en trane vir studies betaal het — en jou gewete sê vir jou: “Hierdie plaas (of huis of ander eiendom) is wettiglik my eiendom”, gaan jy mos nie tevrede wees as dit sommer so van jou vervreem word nie!

In 1980 was daar ongeveer 180 000 boere in Suid-Afrika. In die jaar 2018 word die getal op 33 000 geskat. Wat het van die res (147 000) geword? Ons hoor dat sowat 4 000 vermoor is. Dan hoor ons van boere wat na ander Afrikalande — soos Nigerië, Zambië, Malawê, ens. — uitgewyk het.

Ons hoor ook van Georgië, die VSA, Australië, Kanada, en Suid-Amerika, waarheen Suid-Afrikaanse boere verhuis het.

Maar, sluit dit almal in? Is dít waarheen 147 000 blanke boere — hoofsaaklik Afrikaanssprekendes — verhuis het?

Soos reeds genoem, mens sal nooit weet wat elke emigrant se eerlike antwoord gaan wees oor waarom hulle hul geliefde vaderland en geboorteland verlaat het nie, maar feit is dat ons land vir hulle “onaanvaarbaar” geword het.

Deskundiges reken dat daar veel meer emigrante sou gewees het, as dit maar net vir hulle makliker gemaak sou gewees het. Nou wat is dan die “steen in die weg” van laasgenoemdes? Wel, ook in hierdie geval gaan ons baie antwoorde kry.

Om wettig te emigreer, kos in baie gevalle meer as ‘n miljoen rand, en om vir asiel aansoek te doen, is veel moeiliker!

Armoede, bejaardheid, gestremdheid, onvoldoende kwalifikasies (om maar net ‘n paar te noem), diskwalifiseer baie voornemende emigrante.

Dus sal diegene wat agterbly maar die goeie stryd moet stry, al is dit net om te oorleef.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.