Leon Lemmer: Oor etniese logika, ter huldiging van Andries

Die sangeres Khoisan Maxy. Leon Lemmer neem haar Khoisan-geesgenote aan die universiteite onder die loep.

Ek het ‘n vriend, Andries (1930-1999), gehad. Hy was die edelste mens wat ek geken het. In ‘n outobiografie wat in 2016 gepubliseer is, word hy ‘n “baie konserwatiewe” mens genoem. Hy het ‘n probleem sorgvuldig oordink en dan tot in die fynste besonderhede met ‘n oplossing voor ‘n dag gekom. Andries het uitstekende insig gehad, al het hy beweer dat hy “uit ‘n baie onnosel familie kom.” Een van die grootste probleme in sy lewe was sy skoonma. Ek het hom probeer bemoedig deur te sê dat alle getroudes probleme met hulle skoonma’s het. Maar hy het teengewerp dat hy dit “buitengewoon ongelukkig” getref het. Tydens tee- en middagpouses het Andries sy toebroodjies geëet en ‘n sigaret gerook. As nie-roker het ek soms gesê dat rook sy einde gaan verhaas (en dit het). Hy het dan na sy sigaret gekyk en gesê: “Hierdie outjie sal nie moeilikheid maak nie.”

Andries het oor ‘n besonder fyn waarnemingsvermoë beskik. Wanneer daar onrus op die kampus was, kon hy raak voorspel wat volgende gaan gebeur. Byvoorbeeld, op ‘n dag was daar ‘n groot massavergadering van studente en is besluit oor wat alles die volgende dag ontwrig en gevandaliseer gaan word. Die volgende oggend was dit bitter koud en reënerig. Andries het met genoegdoening oor die vreedsame kampus gekyk en gesê: “Vanoggend toe ek geskeer het, het ek al geweet vandag gaan daar geen onrus wees nie.” Dié studente was mense wat gou koud gekry het maar hitte het hulle nie gehinder nie. Andries het hulle individueel en groepsgewys tot in hulle diepste wese, hulle siele, geken. Die weer moet mooi wees en baie studente moet opdaag voordat hulle die moed gehad het om klippe te gooi. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir hulle eienaardige soort etniese logika gehad.

In drie onlangse geskrifte het daardie kenmerkende logika my opnuut opgeval. Twee hiervan handel oor Jeremy Vearey se boek, Jeremy vannie Elsies, wat ek in besonderhede bespreek het (Praag 26.05.2018). Ná Willemien Brümmer se onderhoud met Vearey het Hanlie Retief dit ook reggekry om uitsluitlik bewonderend verslag oor Vearey en sy boek te doen (Rapport 15.07.2018). Dit is wat Naspers/Media24 begeer, maar sou Brümmer en Retief dit kon doen as Vearey as MK-terroris van hulle familielede uitgewis het?

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur het ‘n onkritiese artikel oor die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) van die ANC-onderwysdepartement geskryf (LitNet 21.06.2018). Hy is “die hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.” Le Cordeur beweer “dat die geskiedenis wat tot dusver in skole gepredik[!] is, problematies is. Dit was meestal geskryf vanuit ‘n Christelik-Nasionalistiese perspektief waar groot klem op die Afrikaner en sy prestasies geplaas is. Dit moes verander, veral na 1994 toe die eerste demokratiese regering aan bewind gekom het. Die nuwe kurrikulum moes daardie demokrasie ondersteun en versterk. Gevolglik is groter klem geplaas om [op] kwessies soos gelykheid, menseregte en inklusiwiteit ten einde ‘n nuwe nasie te bou wat sou inpas binne die raamwerk van ‘n demokrasie.” Daarna noem Le Cordeur dat die nuwe kurrikulum sedert 2012 gevolg word, wat sy bogenoemde “tot dusver” teenspreek. Myns insiens gaan dit wesenlik om ‘n kultureel-marxistiese benadering waarin die tradisionele waardes van die Westerse beskawing en kulture afgebreek en verwerp word.

Die KABV is op die volgende beginsels gebaseer: “Sosiale transformasie, kritiese leer, hoë kennis en hoë vaardighede, menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid, sensitief [sensitiwiteit] vir kwessies van diversiteit.” “Die huidige debat oor geskiedenis, wat ‘n verligte [! verpligte] vak sal word sodat sekere kwessies van menseregte aangespreek kan word, is na my mening nie ‘n goeie argument nie juis omdat menseregte in elke vak aan bod moet kom.” Le Cordeur is ongetwyfeld ‘n ANC-gesinde menseregte-aktivis. Geskiedenis moet myns insiens as geskiedenis, dus as ‘n objektiewe vertolking van wat voorheen gebeur het, aangebied word. Dit moet nie verpligtend gemaak word om (spesifiek) menseregte, wat eers ná die Tweede Wêreldoorlog op die voorgrond getree het, aan te spreek nie. Hoe gaan menseregte in iedere vak aan bod kom? Byvoorbeeld in Wiskunde: dat elke mens die reg het om verkeerd of reg te tel?

Le Cordeur noem Nelson Mandela “die vryheidsvegter wat geveg het vir die vryheid van sy mense.” Mandela moet volgens Le Cordeur nie net in Geskiedenis aandag kry nie, maar ook in ander vakke, bv in Afrikaans. In Lewensoriëntering kan bv gevra word: “Waarom was meneer Mandela so ‘n goeie leier?” En as gedink word hy was nie ‘n goeie leier nie? As Mandela in bv sowel Afrikaans as Lewensoriëntering ingebring word, kan menseregte volgens Le Cordeur terselfdertyd aangespreek word, dus as ‘t ware twee vlieë met een klap. Seker ook in Wiskunde: een Mandela plus nog ‘n Mandela is drie Mandelas.

Die bogenoemde “omgewingsgeregtigheid” water Le Cordeur later af tot “omgewingsbewustheid,” wat in Lewensoriëntering en ander vakke behandel kan word. Leerders kan bv gevra word om met voorstelle vir waterbesparing vorendag te kom. Ek sou graag wou hê dat almal verplig word om vir water te betaal. Dit sou enorme waterbesparings tot gevolg hê. ‘n Mens waardeer waarvoor jy werk of betaal; nie vir wat jy verniet en sonder inspanning ten koste van ander mense ontvang nie.

Oor sosiale transformasie skryf Le Cordeur: “Die KABV is ontwerp om jongmense bewus te maak van ons verdeelde verlede [en hede?] en hoe belangrike mense hard gewerk het om ‘n demokratiese bestel te verseker. Dit sluit mense in soos Nelson Mandela en Govan Mbeki van die ANC, maar ook leiers van die vorige regering wat bereid was om die Rubikon [rubikon] oor te steek: mense soos FW de Klerk en Pik Botha.” Geskiedenis sal volgens Le Cordeur ‘n “belangrike rol speel om aan leerders ons land se volledige geskiedenis te leer. Daarteenoor kan die vak Lewensoriëntering die lesse wat uit die geskiedenis geleer word vir jongmense aanleer sodat hulle nie dieselfde foute herhaal nie.” Daar kan geen sprake wees dat “ons land se volledige geskiedenis” op skool geleer word nie, want dan sal daar niks van Suid-Afrikaanse geskiedenis oorbly wat op universiteit geleer kan word nie. Wat nodig is, is om leerders in breë trekke en so waarheidsgetrou moontlik aan ons geskiedenis bloot te stel, sonder om ‘n ideologie, soos dié van die ANC of Karl Marx, te dien.

“In die Aardrykskundeklas behoort die onderwyser die leerder te wys op historiese plekke soos mnr Mandela se geboorteplek, Robbeneiland en die geskiedenis agter die eiland as ‘n plek van gevangenis, waar presies is die plaas Rivonia geleë, asook waar die vorige tuislande van swartmense geleë was wat ná 1994 tot niet gemaak is.” Daar kan seker darem ook aangetoon word waar Jan van Riebeeck geland het. Na die Kasteel kan verwys word om te bewys dat dit goed is om iets stewig te bou en sodoende ‘n dak oor jou kop te hê.

Volgens Le Cordeur kan Adam Small se gedig, “Die Here het gaskommel,” in die Afrikaansklas gebruik word. Small sinspeel daarin “op ons verdeelde verlede en die onderskeid wat gemaak is tussen die verskillende kinders (mense) van Suid-Afrika.” Bestaan sulke onderskeide sedert 1994 nie meer nie? “Die tema apartheid word baie treffend in Small se drama Goree bespreek. Die drama beskryf die verset van ‘n jong bruin man wat ‘n tuisgemaakte bom in ‘n supermark plant waarin ‘n vrou en ‘n dogtertjie ‘van so ses, sewe’ die slagoffers is. Hierdie daad is volgens die bruin man ‘n daad van verset teen ‘n regering wat hom en sy familie male sonder tal verneder het. Maar in die oë van die vorige regering het hy moord gepleeg en daarvoor moet hy tronk toe. Dit is stof vir baie goeie debatvoering in die mondelingklas en onderwerpe vir menige kreatiewe, redenerende [beredeneerde] opstel.” Dalk eerder: “baie goeie stof vir debatvoering.” Le Cordeur soek doelbewus onderwerpe uit waarmee hy blankes in ‘n slegte lig kan stel. Is hy ewewigtigheids- en opvoedingshalwe bereid om dieselfde met ander bevolkingsgroepe te doen, bv bendegeweld, drank- en dwelmsug by bruin mense?

Diversiteit sluit in kwessies soos “armoede, ongelykheid, ras, geslag, taal, ouderdom, gestremdhede en ons inheemse kennissisteem.” Le Cordeur beperk sy aandag hier meesal tot Afrikaans. Hy verwys na Anoescka von Meck se Vaselinetjie. “Die roman raak verskeie kwessies van diversiteit aan waarmee die moderne kind en veral die weeskind moet tred hou. Dit sluit in ras: sy is ‘n wit meisie wat by ‘n bruin oupa en ouma grootword en dan deur die welsyn weggevat word omdat apartheid dit in die ou dae verbied het. Die ongelykheid onder apartheid word effektief weerspieël as die meisie in die weeshuis gekonfonteer word met kwessies soos taal: ‘Jy praat soos ‘n bruin mens.'”

“In die roman Philida deur André P Brink val die fokus of ‘n slaaf op die plaas Zandvliet … Die geskiedenisonderwyser kan sy klas ‘n kwartaal [!] lank besig hou met die geskiedenis van die slawe en die wet op aparte ontwikkeling. Daarteenoor sal die Afrikaansonderwyser leerders kan wys op die invloed wat die slawe op die ontwikkeling van Afrikaans gehad het … Die vertelling begin in 1832 as Philida van Zandvliet Stellenbosch toe loop om ‘n klag by die slawebeskermer in te dien teen Frans Brink, seun van die plaaseienaar, saam met wie sy kinders gehad het en wat toe nie sy belofte om haar vry te koop, nagekom het nie. Dis ‘n kragtige herinnering aan die verdeelde verlede waaruit ons kom en die Lewensoriënteringsonderwyser wat sy sout werd is, sal leerders begelei [so]dat die foute van die verlede nie herhaal moet word nie.”

“In Adam Small se drama Krismis vir Map Jacobs kom veral armoede onder die bruin mense onder die loep, asook die gedwonge verskuiwing van bruin en swart mense uit gebiede soos onder andere Distrik Ses ná die instelling van die groepsgebiedewet. Die breër ruimte wat in Map Jacobs bespreek word, is die Kaapse Vlakte; ‘n uitgestrekte, sanderige gebied ver van die Kaapse middestad en sy geriewe, wat die mense dwing om baie kostes aan te gaan om by hul werk en skole uit te kom. Dit lei tot grootskaalse armoede. Ook hierin sal die vak Geskiedenis diep kan delf en die leerders kan in Aardrykskunde navorsing doen oor watter ander gebiede behalwe Distrik Ses so geraak is. Die drama raak nog ‘n beginsel van die KABV aan, naamlik om sensitief te wees vir vroue-regte en vroue-mishandeling.” Die armoede van sommige bruin mense word hier sonder meer aan blankes toegedig. Op die Kaapse vlakte kan dit vir baie inwoners nader aan hulle werkplekke en skole as in Distrik Ses by die middestad wees.

“In Bettina Wyngaard se roman Slaafs word nog ‘n baie belangrike beginsel aangeraak: om sensitief vir mense se seksuele oriëntasie te wees. Eers moet die leser gewoond raak daaraan [dat] die baasspeurder van hierdie speurverhaal ‘n vrou is en dan moet hulle boonop die kwessie verwerk dat die baasspeurder in ‘n verhouding is met ‘n ander vrou wat boonop die pastoor van die gemeente is. Die uitdaging aan die Lewensoriëntering- en die Afrikaansonderwyser is om die leerders so te begelei dat hulle verstaan dat baie mense veilig en beskermd voel binne ‘n gay-verhouding en dat dit die rede is waarom ons Grondwet nie teen sulke paartjies diskrimineer nie. Dit is deel van die veranderde wêreld waarin die jeug van vandag opgroei.” Vir die onderwyser is daar myns insiens hier heerlike uitdagings waarmee hy die leerders kan begelei. Hoe verskil gewone seksualiteit van biseksualiteit? Is daar net twee geslagte, soos tydens die donker tyd van apartheid, of is daar talle lofwaardige skakerings tussenin? Wat dink die leerders van ‘n nuwe leuse vir die skool, soos (ten bate van “omgewingsgeregtigheid”): Ons gun elke diertjie sy plesiertjie? Wat maak ‘n selfdegeslagverhouding anders as ‘n tradisionele geslagsverhouding maar tog baie lekker? Waarom lewer selfdegeslagverhoudings nie kindertjies op nie? Dit kan tog nie wees dat Moeder Natuur so onmenslik is, soos apartheid was, deur sulke verhoudings nie te seën en te koester nie.

‘n Goeie skoolhoof moet hierdie kurrikulum glo “oopkop en kreatief benader.” My geheel indruk is dat wat Le Cordeur hier onkrities voorhou absoluut en fundamenteel verwerplik is. Die kurrikulum munt uit in ‘n skewe siening van die werklikheid. Daar word konsenteer op uitsonderings, op randeiers, veral ten koste van die blankes. Weens die ANC se KABV kan skoolgaan vir normale, ordentlike kinders onuitstaanbaar word. Meer as ooit dien Le Cordeur se artikel ter bevestiging van die feit dat die ANC-regering nie met skoolonderwys of enigiets anders vertrou kan word nie. Dit gaan vir die ANC nie om onderwys, om opvoeding, nie maar om indoktrinasie.

Wat Le Cordeur onbedoeld aantoon, is dat die onderwysbehoeftes van etniese groepe hemelsbreed verskil. Sy talle Small-verwysings toon dat hy hom nie los kan maak van die behoeftes wat in onderwys vir bruines bestaan nie. Maar dit verskil van die onderwysbehoeftes van blanke kinders. Blankes wil nie en behoort nie aan sulke besoedelende prulonderwys blootgestel te word nie. In “apartheidsonderwys” is mense soos Hendrik Verwoerd en PW Botha nie as ikone aan leerders opgedring nie. Le Cordeur wek die indruk dat skoolonderwys gebrekkig is as Mandela nie in iedere vak en op iedere vlak so gunstig moontlik aan iedere leerder opgedring word nie. Le Cordeur se held is nie en behoort nie almal se held te wees nie.

Valda Jansen

Valda Jansen was as joernalis in diens van Naspers en die SABC. Sy het Jeremy Vearey se boek in Rapport (24.06.2018) geresenseer. Dit is gou duidelik dat Jansen sowel die outeur as die boek buitensporig verheerlik. Van Vearey word gesê: “Hy praat beskaaf. Hy praat Kaaps.” Jansen se formele studie was in groter mate in Duits as in Afrikaans. Sy verwys (dalk moedswillig) na Afrikaans wanneer sy Kaaps bedoel: “Vir my is Jeremy vannie Elsies veral ‘n boek oor Afrikaans, ‘n taal wat ontken is omdat dit gepraat is deur gemeenskappe wat nie belangrik was nie. Die taal word nou stadig maar seker bevry. Nathan Trantraal doen dit. Die tydskrif Kuier doen dit. En Jeremy vannie Elsies doen dit. Sy noem nie dat die koerant Son dit ook doen nie. ‘n Duidelike onderskeid tussen Afrikaans (as nie-Engels) en Kaaps (as Engels-deurtrek) is noodsaaklik – kyk hier onder.

Hierdie taalbevryding lyk vir my net so ongewens en katastrofaal soos die “bevryding” van die land/inwoners in 1994. Volgens Vearey is Kaaps “ons taal van ‘n bevryde toekoms.” Bevry van wat? Al wat Kaaps ons van kan bevry, is ‘n toekoms waarin ordentlike Afrikaans gedy. Die wesenlike gevaar bestaan dat eerbare Afrikaans geen toekoms het nie tensy die Afrikaans-indoenas spoedig pleidooie vir suiwer(der) Afrikaans begin lewer. Stilswye en versuim van ‘n kwarteeu was meer as lank genoeg.

“Vearey noem dit Afrikaaps. En of dit jou nou teen die bors stuit of nie, dit is ‘n opmars. Hierdie skrywers skryf so, want hulle praat so – in ‘n taal wat nou kop omhoog sy stem laat geld.” Daar is ‘n nuwe hardegatheid in die lug. “Of dit jou nou teen die bors stuit of nie,” klink soos Cyril Ramaphosa se “of julle daarvan hou of nie,” waarmee hy blankes verseker dat die ANC vasbeslote is om hulle eiendom sonder vergoeding te konfiskeer, dus te steel, maar sodanige misdaad is gewettig deur die meerderheid kiesers wat ingevolge die wonder van demokrasie glo nie verkeerd kan wees nie. Hulle “skryf so, want hulle praat so,” is nie ‘n nuwigheid nie. Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) het reeds in 1875 van hierdie standpunt uitgegaan. Hulle het die fondament van Afrikaans suksesvol gelê. Afrikaans het ontwikkel tot ‘n taal uit eie reg. Daar is myns insiens nie ‘n kat se kans dat Kaaps tot ‘n taal uit eie reg kan ontwikkel nie, want dit is van huis uit ‘n brousel wat kennis van veral twee ander tale, Afrikaans en Engels, veronderstel.

Jansen praat Vearey se foutiewe en myns insiens irriterende gebruik van “wie” pleks van “wat” goed. Ons moet glo maar daaraan gewoond raak eerder as wat Vearey of enige ander Kaapsspreker aangespreek word oor hulle morsige gebruik/misbruik van Afrikaans. Hier onder keer ek terug na “wie” en “wat”.

Volgens Jansen gee Vearey en Trantraal ‘n blik “op hoe die Afrikaans van die toekoms gaan lyk.” Dit is een van die dinge waaroor ons glo “oopkop” moet wees. Ook dit is ‘n nuwe mode: dat euwels aangeprys word en ons dan opdrag kry om “oopkop” daaroor te wees. As daardie “oopkoppe” letterlik fisiek oop sou wees, sou dit moontlik wees om te sien hoe min grysstof daar is. Wat Jansen oor die toekoms van Afrikaans kwytraak, is nie nuut nie. Die bruin elite se geykte ideaal vir Afrikaans is dat dit moet verkaaps, dus dat dit al hoe meer deur Engels besoedel moet word. Die ANC-aktivis Hein Willense skryf: “Ons moet onthou dat die bruisende [!] toekoms van Afrikaans nie in die raadsale lê nie, maar reeds in ons veeltalige [!] stedelike strate soos dié van Kaapstad en sy townships vorm aanneem” (Frank Hendricks en Charlyn Dyers, reds, Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 75). Hierdie aanhaling is voldoende om die fundamentele dwaasheid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) se veldtog ter bevordering van meertaligheid pleks van Standaardafrikaans aan die kaak te stel.

Crito (LitNet 26.06.2018) lewer uit ‘n ander hoek kommentaar op Jansen se resensie. Hy noem haar tereg ‘n onkritiese “reklamemaker”. Op Netwerk24, onderaan die resensie in Rappport, skryf Gerhard van Huyssteen dat hy Vearey se boek gaan koop. Ek het die boek gekoop om dit, soos enige ander boek, krities te lees. Van Huyssteen is bekend as ‘n polities oorverligte en doen alles in sy vermoë om daardie beeld te bestendig. Dit is moontlik/waarskynlik dat hy die boek eeder met instemmende oorgawe as krities sal lees. Dit is seker enige leser se goeie reg, te meer omdat ons in ‘n era lewe waarin regte eerder as verpligtinge beklemtoon word. Die probleem is egter dat Van Huyssteen sedert 2013 die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie is. In daardie hoedanigheid het hy groot invloed op wat as Afrikaans in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) erken word.

Anastasia de Vries

Anastasia de Vries is ‘n oud-Naspers-joernalis en tans ‘n Afrikaansdosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). In gesprek met die outeur het sy op 31 Mei in The Book Lounge in Kaapstad Jeremy Vearey se boek bekend gestel. Sy het die boek ook geresenseer; eintlik ongekwalifiseerd aangeprys (LitNet 27.06.2018). “Dit gryp jou aan die keel, die onderspeelde pyn.” Die Boere met hulle “gruwels en vergrype van apartheid” is die skurke en die MK-terroris Vearey is die held, “steeds getrou aan die grondbeginsels van sy ‘dieper reg.'”

Ek volstaan met wat hierdie Afrikaansdosent na aanleiding van Vearey se Afrikaans skryf. “So lustig soos wat die ru[i]mtes in Jeremy vannie Elsies saampraat, so ook die taal. Sy taalbewussyn, veral van die rykheid van Afrikaans se verskillende skakerings, word soos sy menswees deur verskillende mense gevorm, onder wie sy oudste neef, Louis, wat praat van ‘Ôs Afrikaans is original. Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool’. Sy ma het ‘ons manier van Afrikaans en Engels praat as ‘n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou.'” Die “rykheid van Afrikaans” blyk hier armoede te wees omdat daar skynbaar nie Afrikaanse woorde vir “original” en “force” is nie.

Wat uiters belangrik is, is dat hier, soos dikwels elders, erken word dat bruin mense om politieke redes doelbewus Engels misbruik om met (suiwer) Afrikaans/Standaardafrikaans te mors. Die resultaat is die brouseltaal Kaaps. Daarmee tart hulle my en ander Afrikaners. Maar dan is daar kruipsugtige Afrikaansdosente, insluitende “taalkundiges”, en “Afrikaansinstansies” (ATR, Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging/ATKV en Afrikaanse Taalmuseum en -monument/ATM) wat Kaaps as ‘n voortreflike variant van Afrikaans ophemel; selfs (by implikasie) dat Kaaps ‘n (wonderlike) toekoms vir Afrikaans verseker omdat die meerderheid “Afrikaanssprekers/Afrikaanses” bruin is. My standpunt is dat Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar moet wees as ons as Afrikaanssprekendes wil verseker dat ons moedertaal uit eie reg as ‘n ordentlike, eerbare taal naas Engels voortbestaan.

“Maar dis wyle Jakes Gerwel wat hom [Vearey] aangespoor het om ‘hierdie boek in die Kaaps/Afrikaans van my lewenswêreld te verbeeld.'” Wat onvermeld bly, is dat die marxis Gerwel as Afrikaansdosent aan die UWK wyd en syd verkondig het dat hy nie Afrikaans doseer nie maar “literatuursosiologie”; dus dat sy doseerwerk op ondermynende politiek – en nie op Afrikaans as sodanig nie – ingestel was. As rektor van die UWK het Gerwel matrikulasievrystelling as toelatingsvereiste vir universitêre studie geïgnoreer. Die gevolg was dat die UWK met akademies onbekwame (veral swart) studente oorstroom is. Gerwel se politieke motief was om die eksklusief bruin etniese karakter van die UWK te beëindig. In hierdie proses het Gerwel en sy adjunk, Jaap Durand, Afrikaans, wat die hoofonderrigtaal aan die UWK was, daar vernietig. Die UWK het ‘n eentalig Engelse universiteit geword omdat ANC-gedienstigheid vir Gerwel en Durand baie belangriker as Afrikaans was. Desnieteenstaande word Gerwel se naam steeds graag bygesleep deur mense wat voorgee om Afrikaans te bevorder maar in werklikheid die teenoorgestelde doen.

“In Jeremy vannie Elsies is Vearey se denke en onthoue opgeberg in sy eie skuur, in ‘n Afrikaans wat van oral kom, daar waar daar misdaad is, van die manne en vroue in blou wat saam met hom veg vir ‘n land waar die kinders kan lag en speel, die Afrikaans van die veles met wie hy daagliks te doen kry. Wat hy vervolgens in sy boek met al die Afrikaans doen, is presies dit wat al in menige akademiese geskrif geskryf is oor die saambestaan van Afrikaans se verskillende manifestasies: hy maak Kaaps en die verskillende variasies van die algemene omgangstaal staan langs en tussen gestandaardiseerde Afrikaans deur.” Die huidige hoogs ondoeltreffende polisiemag word hier gunstig voorgestel, anders as wat meesal met die vorige doeltreffende polisiemag gedoen word. Kan kinders in die misdaadgeteisterde nuwe Suid-Afrika werklik in groter mate “lag en speel” as in die oue?

De Vries is as Afrikaansdosent aan die UWK uitstekend geplaas om haar daarvoor te beywer dat bruin mense se Afrikaans van onnodige Engels gesuiwer word. Pleks van bruin mense se Afrikaans te rehabiliteer, praat sy die brouseltaal Kaaps goed. Die tragedie is dat sy staat kan maak op die steun van “Afrikaansinstansies” soos die ATR, ATKV en ATM, wat polities korrek geen poging aanwend om taalsuiwerheid by Afrikaanssprekers te bevorder nie. Jy mag glo nie die meerderheid “Afrikaanses”, die bruines, aanstoot gee nie. Die ander “Afrikaanses”, die wittes, kan mos maar die voorbeeld van die bruines volg en met Afrikaans mors. Dit is ‘n duidelik teken dat sommige blanke Afrikaanssprekendes, veral weens ANC-propagada, hulle selfrespek en daarom ook hulle respek vir hulle moedertaal verloor het.

“Die resultaat is ‘n Afrikaans waarin Kaapse verbuigingsvorme, wat trekke van Nederlands vertoon, soos ‘ouere man’, saam met die gebruik van selfstandige naamwoorde soos ‘slaaf’ en ‘bandiet’ as werkwoorde teruggevind word. Waarskuwing: ‘n Konstruksie wat al hoe meer in die omgangstaal gehoor word, naamlik ‘die man, vrou of kind wie’, pleks van ‘wat’ kan dié van ons wat in taalreëls dink, in ons spore laat vassteek. Dalk is dit die idee: ‘n Afrikaans met ‘n stadiger ritme, asof ook die taal moet meewerk om die leser ‘soe in die verby’ te laat besin oor ‘kaantie, wies djy’?” – kaantie: “kyk nou, al die tyd” (Vearey, Kindle 2556).

Ek het met verwysing na Vearey se boek geskryf: “Die gebruik van ‘wie’ pleks van ‘wat’ is een van die irriterendste kenmerke van hierdie publikasie” (Praag 26.05.2018). De Vries verwerp blykbaar my beswaar en gee voor dat “wie” nie op vrot Afrikaans dui nie maar om ‘n duistere rede eerder iets met ‘n “stadiger ritme” te make het. In my resensie het ek verwys na Vearey wat as ‘n Engelsonderwyser taalsuiwerheid in Engels nastreef maar andersins die “Elsies-spreektaal”, dus geradbraakte Afrikaans oftewel Kaaps, “verken” (Kindle 290). Dit dui op dubbele standaarde. Vearey (en De Vries) respekteer korrekte/suiwer Engels maar nie korrekte/suiwer Afrikaans/Standaardafrikaans nie. Dit is ‘n bedenklike/afkeuringswaardige tradisie in die Departement Afrikaans aan die UWK.

Slot

In sommige kringe word ontken dat daar kultuurverskille tussen wit en bruin mense is. Afrikaans, die kulturele kern van die Afrikaner, kan egter as lakmoestoets gebruik word. Sover ek weet, het geen bruin mens al daarop aangedring dat Jakes Gerwel se brouwerk reggestel en Afrikaans weer ‘n/dié onderrigtaal aan die UWK moet word nie. Adam Small het hom ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit Pretoria uitgespreek. Michael le Cordeur, die tweede voorsitter van die ATR, het hom in daardie hoedanigheid vir meertaligheid beywer, maar hom later ten gunste van Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die US uitgespreek. Uit sy jongste uitlatings lei ek af dat sy kinders in ‘n Engelse skool is (Die Burger, By, 14.07.2018, p 8). Le Cordeur is ‘n valse profeet van Afrikaans. Anders as vir Afrikaners is Afrikaans vir die bruin elite opsioneel.

“Dit is die probleem met die Kleurlinge: hulle is nie ‘n volk nie; daarom het hulle nóg selfrespek nóg respek vir ander” (Wilhelm Verwoerd, Bloedbande: ‘n Dokder tuiskoms, p 47 – Praag 28.07.2018). Hierdie sin kom uit die opvoeding wat Wilhelm III ontvang het. Ek wil twee sake hier uitlig: bruin mense is nie ‘n volk nie (en is dus nie nasionalisties soos die Afrikaners en die swartes nie) en hulle het nie respek vir Afrikaans nie, vandaar Kaaps as brouseltaal. Die rede vir hierdie situasie is dat bruin mense ‘n tussengroep is, dus mense wat sowel nie-wit as nie-swart is. Soos Marike de Klerk dit gestel het: “They are the people that were left after the nations were sorted out. They are the rest” (Jonathan Jansen, Making love in a war zone, p 46). Anders as Jansen beskou ek dit as ‘n feitelike stelling en nie as “expressing racial disgust towards coloured people” nie.

Die punt is dat die nie-nasionalistiese aard van bruin mense en die dislojaliteit wat deur veral die bruin elite teenoor Afrikaans openbaar word, ‘n gapende kulturele kloof tussen blankes en bruin mense daarstel. Hierdie fundamentele waarheid word harsstarrig deur bv die ATR en ATKV ontken, gevolglik volhard hulle in hulle dwase ingeslane weg, naamlik dat blankes, veral Afrikaners, en bruin mense dieselfde kultuur deel en Afrikaans gevolglik inklusief moet wees; dus dat die Kaaps-brousel aanvaarbare Afrikaans is en bevorder moet word. Die toekoms van Afrikaners en Afrikaans kan myns insiens nie aan bruin mense toevertrou word nie.

Bruin mense is ‘n tussengroep, nóg blank nóg swart. Op ‘n soortgelyke manier is Kaaps ‘n tussentaal, ‘n mengeltaal, wat nóg Afrikaans nóg Engels is. Bruin mense se Kaaps bevind hom êrens tussen die taal van Afrikaners en dié van blanke Engelssprekendes. Afrikaans is wesenlik nie-Engels. Engels is wesenlik nie-Afrikaans. Kaaps is gevolglik nie ‘n variant van Afrikaans of Engels nie, maar wesenlik iets anders, ‘n mengel- of brouseltaal. Dit is dus fundamenteel verkeerd en katastrofies as Kaaps deur Afrikaansinstansies as ‘n aanvaarbare vorm van Afrikaans bevorder word. As die voortbestaan van Afrikaans vir hulle erns is, is daar hierdie rubikon wat Afrikaanstaal- en -letterkundiges moet oorsteek: Kaaps as nie-Afrikaans en dus as nie-aanvaarbaar as oorlewingsvorm van Afrikaans. Dit impliseer dat daadwerklik erns gemaak moet word met die suiwering van Afrikaans van die invloed van Engels, in omgangs- én formele Afrikaans.

By bruin mense is daar ‘n anderste logika, wat soms tot absurditeit neig. “Wat sal djy maak as djou ma vir djou pap in ‘n bakkie skep en die bakkie ry weg?”

Naskrif: Ek het pas my tagtigste jaar betree. Dit word al hoe moeiliker om weekliks met hierdie rubriek vol te hou. Dit het ‘n korttermynonderneming geword. Ek doen ‘n beroep op mede-Afrikaners om in groter mate op Praag en elders ook stemme roepende in die woestyn vir Afrikaners en Afrikaans te word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.