Panyaza Lesufi, die Gautengse minister van onderwys, het gister gesê die ongunstige hofbevel wat hy van die Grondwethof ontvang het, bloot die administrasie van sy departement “uitgedaag het en nie nie-rassigheid nie”. Hy beplan steeds om Hoërskool Overvaal te verengels.
“Dit sê die sperdatums wat ons aan mense gegee het, is geïgnoreer. Dis ‘n uitdaging vir die administrasie van die departement en nie van nie-rassigheid nie,” het Lesufi by Hoërskool Overvaal, ‘n Afrikaansmediumskool in Veereniging, gesê.
Lesufi se kommentaar kom ‘n dag nadat die Grondwethof, in ‘n eenparige uitspraak, sy appèl verwerp het teen ‘n vroeëre uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof wat hom verbied het om Hoërskool Overvaal te dwing om 55 Engelssprekende leerlinge in te skryf.
Hoërskool Overvaal het aan die begin van die 2018-skooljaar onder betogings en ongunstige publisiteit van die hoofstroommedia deurgeloop nadat 55 Engelse leerlinge inskrywing geweier is. Die skool het gesê dit was vol en kon ook nie bekostig om Engelse onderwysers vir die groep studente in diens te neem nie.
Die Grondwethof het Woensdag beslis dat Lesufi nie genoeg oorweging gegee het of die naburige Engelsmediumskole soos General Smuts en Phoenix, wat albei in dieselfde voedingsgebied as Hoërskool Overvaal val, genoeg ruimte gehad het om die leerlinge te ontvang nie.
Lesufi het Vrydag daarop aangedring om die “rasseprobleem” aan te pak en gesê: “Ons is almal mense. Daar is niemand wat besluit het dat een persoon belangriker is as ‘n ander nie.”
Hy het bygevoeg: “Ons het nie die hof nodig om ons te help om ‘n nie-rassige Suid-Afrika te bou nie. Diegene wat ‘n nie-rassige samelewing wil bou, moet dit doen net daar waar hulle is.”