Suidpunt: Wanneer kommunisme en kapitalisme saamsmelt

Terwyl daar hierdie week [29] op die sypaadjies in Hermanus katte soos groenmielies oor die kole gebraai is, het Suidpunt “FINAL HOUR” van X-ray Dogs gekoop, afgelaai en “The Final Countdown” van Europe op YouTube geluister. Die Jungiaanse Synchronizität het hom nie ontgaan nie. Ter elfder ure het ons op daardie uiters dramatiese noot, met ‘n ef-fen-se-ver-trag-en-de- “Evacuate the Dancefloor” van. Cascada. die. hasepad. gekies.

Reguit.

Af.

Diep.

Die.

Konyntjiegat.

In.

Wie is die “Ons”? Ek en Wolfie.

Suidpunt ken jy. Maar wie is Wolfie?

Dis ‘n lang storie. Kortom: Juffrou het my in Graad 1 by die spinnekopgroepie ingedeel omdat ek goed kon lees. Vir my ouderdom. ‘n Spinnekop het agt oë. ‘n Spinnekop het dus 8 perspektiewe op dieselfde saak om ‘n geheelbeeld te kry. Waarom dan nie ook sommer 8 persoonlikhede ontwikkel nie? Soos ‘n spinnekop dan seker ook grillerigheid vir ander…

So Suidpunt is die een persoonlikheid [INTJ] en Wolfie [INFP] is een van die sewe sluimerende ander. Die gesprekke tussen die twee in my kop is vreeslik onderhoudend. Veral as hulle begin stoele gooi waar woorde nie meer… Gelukkig gebeur dit selde.

Maar op die oomblik lê Wolfie op die naat van sy rug uitgestrek. Kaal bolyf in die sonnetjie. Sy kop rus ontspanne op sy gekruiste voorpote, sy rooi baaibroek hang ontspanne effens los om die heupe.

Daar is ‘n rede hiervoor.

Wolfie het Suidpunt gevra om hom te skilder. En dis presies wat ek doen. Foto’s neem en die skilderkuns is nie dieselfde nie. Foto’s is die meganiese beeldvaslegging van die onderwerp, kras soos dit is. Kuns is die vaslegging wat die skilder sien: die emosie wat die stillewe of hier, die tafereel, oproep. Byvoorbeeld: die ore word skerper en hoekiger gespits, die kristalblou oë word asuurblou gemaak [passend by die Cirro-Cumulus… eh… skaapwolk-hemel], die biseps en die maagspiere van die torso is sterker en dikker omlyn, die grys pensvag kry ‘n roomkleur, dog die rooi broek word valer skakeer [om die boarmspiere meer te belig vir die kyker] en die skerp slagtande wat by die bek uitsteek effens korter gemaak [jy weet mos, so kinderlik-vriendelik soos ‘n wolfwelpie s’n], meer geskaaf en afgerond. Die rug en stert word aansienlik hariger, dikker en donkerder uitgebeeld. Die snorbaarde maar onbelangrike en byna afwesige strakke lyne. Die omliggende gras word groener gemaak. En ‘n gelerige skoenlapper word op die blinkswart neus van sy verdwaasde bakkies ingeteken.

Daar het ek dit nou op doek vasgevang: piëteit, sagmoedigheid en humor. ‘n Brute, harige reus in sy fleur met ‘n vermurfde hart vir die broses onder ons. Die skildery moet nou net droogword.

Nou vir musiek om by die idilliese stemming van die herderslewe te pas.

Pluk die selfoon uit > Musiek > My Musiek > Kunstenaars:

  • “Space invaders” van Hit’nHide herinner te veel aan my “ruimte”/”aura” wat “binnegedring”/”binnegeval” word…
  • “Stay a while” van Mikey B en die Hollander Tiësto pas by Fruttare-roomysadvertensies op die strand.
  • “Golden Sky” van Jan Cyrka? Ook nie, dit pas eerder by my oggendkoffie in ‘n futuristiese termosensitiewe glasbeker.
  • “Flora’s Secret” deur Enya? Ja!

“… in the long grass / look above them / only they can see / Where the clouds are going / only to discover / dust and sunlight / ever make the sky so blue …”

Wolfie (sugtend): Ek wens ons kon ‘n slag vrede tussen die mense maak. Daar is gedurig ‘n toutrekkery tussen Kommunisme en Kapitalisme in Suid-Afrika. Ek raak nou sat daarvan. Oor en oor dieselfde. Kan die mens nie net die twee stelsels laat saamsmelt en endkry nie?

Suidpunt (met ‘n opgetrekte wenkbrou agter sy esel): Ons het mos reeds die semi-staatsdiens, nie waar nie? Buitendien, dis baie gerieflik om albei in dieselfde ekonomie te hê: terwyl die een paniek saai, palm die ander die monopolie in.

Wolfie: Nee, nie daardie “kommunisties” nie. Die egte Kommunisme, die een sonder ‘n staat. Soos jy die vorige keer in jou PRAAG-artikel geskryf het.

Die idealis wat Wolfie darem is. Hy kan soms die mees ongeleë tyd kies om oor politiek te praat. So ek begin my kwaste en palet vinnig en met mening skoonmaak met terpentyn.

Suidpunt: Daar is niks op hierdie aarde wat onmoontlik is nie. As Sowjet-sosialisme en Kapitalisme albei iets in die gemeen het, naamlik die sug na die meeste wins – is ek seker Kommunisme en Kapitalisme moet ‘n raakpunt of wat hê.

My voorskoot word uitgetrek, die esel word weggepak, so ook die kwaste. Die verspotte baret word ook afgehaal. Ek gaan kruisbeen reg voor Wolfie op my bamboesmatjie sit, van aangesig tot aangesig, terwyl sy T-hemp hom kop eerste insluk.

Suidpunt: Kom ons kyk eers na die voordele. Wat maak Kapitalisme vir jou aantreklik?

Wolfie (loer deur die hemp se nek, wurg deur): Wel – meriete. Die ou wat die slimste en die hardste en met die meeste ondernemingsgees werk kry wat hy verdien.

Suidpunt: ‘n Soort meritokrasie?

Wolfie: Ja.

Suidpunt: En die nadele?

Wolfie: Daarvan is ons mos oorbewus – die genadelose uitbuiting van menslike en natuurlike hulpbronne.

Suidpunt: En die Kommunisme?

Wolfie: “Medemenslikheid” word aan ons voorgehou, die nadele beleef ons reeds: alles wat die privaatsektor in uitblink, juis omdat die staatsdiens pateties geword het, word deur die staat net so gevat. Dus, bruikbare oorspronklikheid is nie sy sterk punt nie.

Terwyl hy praat, begin ek iewers in my rugsak rond te grawe na daardie twee VR-brille. Dis eintlik net ‘n raam wat die selfoon vashou. Nie dat ek weet waaroor die groot bohaai in die media omtrent skynwerklikheid of Virtual Reality NOU skielik vandaan kom nie, want toe ek nog op kleuterskool was het “Hackers” (1995) met Angelina Jolie op die silwerdoek gedraai. Strontbont psigedeliese kleure met “Mess with the best, die like the rest” wat telkens gehoor word. Dus. Ons sit hier met tegnologie maklik ouer as 20, 30 jaar? Daar is trouens ‘n tienerboek “Projek X: Vreemde werklikheid” in Afrikaans deur die toenmalige Perskor uitgegee in 1997. Om hierdie optimisme nou ‘n tweede en ‘n derde en ‘n vierde maal te beleef, soos oor videotelefonie [deur koperkabels in die 1970’s, toe deur 3G in die 2000’s, toe deur 4G en 5G in die 2010 en 2020’s], lugskepe, elektriese motors en waterstofmotors maak my eenvoudig blasé. Dis OU nuus met muf, nes hare op ‘n hond se rug.

Suidpunt: Goed. Hierso (gee die een bril aan). Om die waarheid te sê: Ek het trouens self daaraan gedink. Ek het op Second Life vir my ‘n “proefdorpie” geskep. Genaamd “Die Koepel”. Dit herinner baie aan In die tyd van die Esob, Brave New World, Wotan SQ7, Logan’s Run... Maar myne is nie gegrond op ‘n godsdienskultus of ‘n heerssugtige kunsmatige intelligensie of mens nie.  Myne is ‘n wêreld waar mense moontlik sou wou wees. Indien hulle ontevrede raak, kan hulle loop. Maar hulle sal nie. Want ek het al die regte dinge.

Wolfie: En dit is?

Met ons brille op is die grasveld oombliklik omgetower in oneindigende see. Ons sit in die skeertuig. Ek skakel die masjien aan en stuur die vaartuig met ‘n brommergezoem na ‘n afgeleë eiland. Iemand wat in die park nou op ‘n afstand moet verbyloop sal ‘n jongman en ‘n wolf aantref wat besig is met ‘n makabere gebarespel met woorde, of joga. Op bamboesmatjies.

Suidpunt: Onthou jy nog Pokémon Go in 2016?

Wolfie se avatar langs my op die leersitplek knik instemmend. Die Koepel doem op in die verte.

Suidpunt: Kinders en grootmense het mos besete geraak om elke sakmonstertjie te versamel op die vreemdste plekke op aarde. Mense wat gewoonlik Xbox in hul slaapkamer sou speel het die strate ingevaar. Hierdie ekspedisies het egter ook hul tol geëis. Tot dusver is 16 mense dood en 55 beseer volgens pokemongodeathtracker.com. En dit net om vaardigheidspunte te verdien. En hierdie punte is… wel, nutteloos? En tog wys Google Trends Pokémon Go is wêreldwyd alles behalwe dood! Maar wat as ons hierdie stelsel in ‘n kredietstelsel omskep waarmee mens soveel kan koop soos jy verdien? Amper soos kettingwinkels se lojaliteitsprogramme. Om die waarheid te sê het my moeder in hierdie week twéé pare skoene verniet by ‘n winkel gekry. Was dit ‘n euforiese oomblik? Dit was. Het dit haar oornag ‘n trotse ondersteuner van die winkel gemaak? Natuurlik!

Wolfie: En mense hou van die idee “jy verdien wat jy kry”. Of eerder: “Jy kry wat jy verdien”?

Suidpunt (met ‘n grynslag): Presies. En die belonings kom tog so vinnig aangestap! (nou doodernstige gesig) Dink nou vir jouself in as mens vir elke daad wat jy doen beloon word. Jy verdien punte op punte op punte waarmee jy na hartelus kan maak of koop net wat jy wil.

Ek moet skielik voor ‘n paar rotse wegswenk. Het van hulle vergeet.

Wolfie (op sy hoede): Maar wag nou. Wat het dit met Kommunisme uit te waai? Hier is duidelik ‘n rekenaarstelsel wat alles beheer.

Suidpunt: Jy sien, Karl Marx was ‘n bietjie té idealisties. Om te verwag die staat sal oplos sodat een of ander soort Ideale Mens 2.0 sal opstaan en outomaties presies sal weet watter en wie se behoeftes om te bevredig, is onsin. Byvoorbeeld: jy kry altyd mense wat onnodig kla, en “die grootste bek kry die meeste pap”? Ander ly weer broodgebrek in stilte. Jy kry ook hondebollie wat weke lank op die sypaadjie sal bly lê en niemand weet wie dit moet optel nie – allemansgoed is niemansgoed, lui die spreekwoord immers. En as dit nie aan my behoort nie, waarom is dit my probleem? Nou kan mens nog sê dis die munisipaliteit se probleem. Maar wat as die munisipaliteit ophou bestaan?! Of, daar is mense wat nie ewe hard sal WIL werk of KAN werk nie. ‘n Begrip soos “elkeen na sy vermoë” is vreeslik vaag gestel…(sug) Wag, laat ek net gou vasmeer.

Daarna volg ons die steil paadjie op na die ingang.

Wolfie (voort met die gesprek): Nou hoe kom mens daardie probleem te bowe?

Suidpunt: ‘n Soort superrekenaar wat onder meer die gedrag van mense leer ken. Dink gou vir jouself, as jy nou ‘n god was, wat sou jy met mense maak?

Wolfie (onthuts): Ek weet nie.

Suidpunt: Wel, jy sit in die eerste plek met ‘n groep wesens wat tegelyk ‘n vrye wil het en tegelyk ledig kan raak. En ledigheid is die duiwel se oorkussing. Jy moet dus ‘n manier kry om die hierdie paar duisend miertjies besig te hou, want anders gaan hulle net moeilikheid maak. Dit help nie jy gee en gee en gee net nie – want dan wil mense net hê en hê en hê. Uit eerstehandse ervaring weet ons ook die eise raak net al hoe meer. Die een gaan hom doodwerk en die ander gaan die gewillige esel doodgooi. Daar is geen middeweg nie. Dit help ook nie jy laat mense net aan hul vrye wil en ontspanning oor nie, want dan lê almal die hele dag op YouTube of hul selfone rond. Wat hulle minderwaardig laat voel teenoor diegene wat wel iets bereik in die lewe. Mense moet voel hulle werk na ‘n punt toe. Teleologies, met ‘n vaste doel. Dis geen valse beloftes van luilekkerland deur politici nie. Die resultate kan mense vir hulleself aanskou. Hulle moet dit kan sien, beleef. Met ‘n vaste lewensdoel sal geen mens bipolêr raak, eksistensialistiese trane kry of neerslagtig word nie.

Wolfie (‘n spreilig gaan bokant sy kop aan): En nou wil jy “medemenslikheid”, ‘n gemeenskapsgevoel, die staatloosheid, lojaliteitsprogramme, die analise deur ‘n superrekenaar met kunsmatige intelligensie, die selfoonverslaafdheid van tieners, Pokémon Go, selfs SimCity, Farmville en My Little Pony alles saam in een pot gooi?!

Suidpunt: Eintlik weet ek nie hoekom jy so verbaas lyk nie. Die tegnologie is reeds daar. Daar is tans juis siekefondse wat jou met toestemming monitor en kondisioneer oor iets so banaal soos jou motorbestuursgedrag d.m.v. jou GPS-foon. En dit boonop op TV adverteer. Of jou beloon vir griepinspuitings. Of vir die groente en vrugte en produkte wat jy op die mark koop. In een laerskoolomsendbrief waar die lat volgens wet uitgegooi is, word kinders beloon omrede hulle soet is. Hulle kry “kamma-kontant” vir die hoeveelheid keer wat hulle gatkruip VOOR die onderwyser – soos rommel optel. Sodra die regte bedrag bymekaargeskraap word, kan hulle vroeë huistoegaantyd op ‘n Vrydagmiddag letterlik KOOP. Die dae toe ‘n mens nog goeie maniere gehad het omdat dit in beswil van die samelewing is, is verby. Ons het beweeg vanaf die lat, na Pavlov se hondekwylproewe. Behoede ons as daardie hondekoekies opraak!

Wolfie: Nou hoe wil jy hierdie…

Suidpunt: Hoe hét ek hierdie ding laat werk? Dit werk eenvoudig. Deur psigometriese toetse, hommeltuie met kamerabewaking en ander vorme van tegnologie is hierdie rekenaar konstant besig om take…

Ek sluit die portaal oop met my handpalmafdruk. Sjjjjj… gaan hy oop.

Suidpunt: …Ek dink jy moet dit eerder self aanskou.

Binnekant aangekom is Wolfie duidelik oorbluf.

Wolfie: Dit lyk (huiwerende swaar pouse) indrukwekkend?

Want voor ons is afbeeldings van mense soos miere bedrywig. Elkeen doelgerig op pad na een of ander missie. Dis ‘n gekap en getimmer. Mandjies wasgoed wat rondgedra word. Kos wat voorberei word. En soos te verwagte, kom iemand nou aangestap met “verversings”. Vir ons, die aankomelinge. Hy skuif die drankies eenvoudig op die boomstomp wat as tafel dien, en “bliep” word die taak afgemerk. Die volgende opdrag wag klaar weer. Elke dag kry mense letterlik 110 dinge om te doen. Selfs al is ek ook die skepper en argitek van hierdie… gebou is ek maar net nog ‘n avatar soos al die ander. My selfoon [dis nou die een in die skynwerklikheid] begin aanhoudend bliep-bliep-bliep soos die opdragte een na die ander onder mekaar gelys word. Ek gee nie nou ‘n duit om nie, my avatar “drink” nou sy virtuele pita-pita, of wat jy ook al die drankie wil noem.

Maar niks kon Wolfie so verbyster het as die vaal huisies, vaal sakkerige kleredrag en die vaal bestaan nie. Soos vele ander voor hom sou hy waarskynlik presies dieselfde vra: “Hoe kan hierdie mense ooit gelukkig wees?” Daarom spring ek hom een voor.

Suidpunt: Jy het tog seker nie gedink jy gaan op “mense” afkom wat in stralerpakke en spierwit frokkie-katpakke rondloop nie, het jy? Almal begin maar met palmblaar-pantoffels. Gedenk Suid-Korea en Japan… treetjie vir treetjie.

Wolfie: Dié plek herinner darem baie aan Project Findhorn. Is dit ‘n ekodorpie in die middel van nêrens?

Suidpunt: Gee kans, gee kans. Rome is nie in een dag gebou nie. Dit het trouens bietjie broedertwis gekos om die Ewige Stad tot stand te bring. En ‘n moedige moeder van ‘n wolf – want het Romulus nie immers as vondeling aan haar gesoog nie?

Wolfie (ore trek effens plat): Hoe weet jy werklik dit was ‘n wolvin? “Lupa” beteken ook ‘hoer’. Nie juis vleiend vir my spesie nie, maar feite bly feite.

Suidpunt (bloos): O, dit verander die geskiedenis seker, ja. (weer besadig) Maar nou ja, alle paaie, ook jou weergawe van die geskiedenis, lei na Rome. In elk geval – hierdie wesens wat jy hier sien rondloop (beduie met twee vingers) is bloot nabootsers, “simulators”, nie avatars van mense nie. Die gesprek tussen my en jou oor die mikrofone verstaan hulle nie, en dit pla hulle nie.

Wolfie: Bly om dit te hoor.

Suidpunt: Hulle is daar om die proses aan die gang te sit. Jy kan immers nie visse in ‘n dam gooi as daar nie alge is om die soöplankton te onderhou, ens. ens. om uiteindelik by die groot barbers in die voedselketting uit te kom nie. Nou soos jy sou opgemerk het [skuif virtuele foon oor die boomstomp] het ek taamlik baie opdragte gekry om my mee te vermoei.

Wolfie: Ek sien so. Mieliesstamp by Hut 005 is jou eerste opdrag. Dan by Hut 021 is daar…

Suidpunt (onderbreek): Soos jy nou al klaar kan aflei, met elke opdrag wat ek afhandel, kry ek punte. En soos die punte ophoop, kan ek goed koop wat ek wil.

Wolfie: Soos wat nogal?

Suidpunt: Op die oomblik… (lag verleë) vrye tyd. Ons is nou eers besig om die ‘projek’ werklik aan die gang te kry. Sodra ons uiteindelik genoeg hulpbronne verwerk het om infrastruktuur op te bou, begin ons vervaardig en uitvoer. En met die uitvoer kom die invoer van goedere. Sodra die proses soos ‘n geoliede masjien loop kan ons mense begin uitnooi om aan die projek mee te doen. “So that we can move forward”.

Ek het ‘n besondere hekel aan daardie uitdrukking. Veral politici is deesdae verskriklik lief om daardie niksseggende cliché te gebruik. Kyk af na jou voete. Lyk dit enigsins of dit gemaak is om AGTERTOE te beweeg? Nee. Net soos die mens se oë stereoskopiese visie het om VORENTOE te beweeg en te hardloop. Selfs “Ry nog ‘n entjie VORENTOE!” bedoel “moenie links of regs draai nie!”, want ‘n stuurwiel kan immers draai, het hulle dit geweet?

In Afrikaans ken ons wel “vooruitboer” en “agteruitboer”. Dis heeltemal anders. “VOORUIT” en “AGTERUIT” beteken êrens is daar ‘n sentrale punt as verwysingsraamwerk, waarskynlik die “gemiddelde boer”, die “status quo”, die “kompetisie”, “die hede”, “die groep agter of voor my”, “stiksiendheid”. Dis ook nie vreemd die HAT sê “vooruit” beteken: “OM VOOR DIE ANDER TE WEES” nie. Die Afrikaanse taal is letterlik gebou op Mededinging en Kapitalisme!

Wolfie: Maar is erge inflasie nie onvermydelik nie? Hoe meer die punte in omloop is, hoe meer moet daar tog…

Suidpunt: Ja, ja, ek weet. En hoe harder moet jy werk om presies genoeg punte te kry om te koop wat jy wil hê wat gister nog goedkoper was. Maar jy moet ook onthou – deflasie is ‘n ewe, of selfs erger, klein blikskottel. In my eilandgeval – is almal werkers van die gemeenskap. Hulle kan nie afgedank word nie, hulle moet eenvoudig net die verminderde puntetoekenning aanvaar, of waai. Maar aangesien jy so mooi vra vir deflasiewenke. Die menslike hebsug ken ook sy perke. Sodra die selfoon hulle konstant herinner aan produk X wat hulle aangekoop het en die afgelope twee jaar nie gebruik het nie… Dit bring ‘n soort skuldgevoel mee, veral die eerste paar jaar toe die “motorhuis” so vol rommel en bokse geprop is. Hulle kan dan ‘n uitruil-proses van stapel stuur. Met genoeg propaganda sal die mense uiteindelik besef hulle kan nie alles koop wat hulle wil hê nie, want daar is net nie genoeg tyd om alles te benut en waardeer nie. Daarvoor is hulle te besig.

Wolfie wou nog iets sê, maar ek stoomroller my relaas voort.

Suidpunt: Soos in Suid-Afrika in 1976 en Japan in die 2000/2010’s kan jy ook jou “punte” aan die staat “leen” of in der waarheid, skenk. Die verskil is net: Die Suid-Afrikaanse Belastinggaarder het die geld verlang eendag sommer uit die bloute op die belastingstaat aangebring, terwyl in Japan beloftes gemaak is van goeie beleggings wat in die land teruggestoot sal word en aan almal weer uitbetaal sal word. Amper soos ‘n poskantoor-spaarkas. In albei lande het niemand hul geld ooit weer gesien nie. Of dit egter in my stelsel ‘n deflasie gaan veroorsaak, weet ek nie. Miskien kan mens punte na X-aantal dae laat verstryk of laat verdwyn, wie weet? Dit moet ek nog toets. Dan is daar ook die ander wyse om die stelsel te manipuleer – gee goed gratis weg en gaan stort produkte in die see, ens. ens. ens. Daar is baie maniere om ‘n vraag-en-aanbod-kat dood te maak.

Wolfie: Nou wat van ander ruilmiddels?

Suidpunt: Die reguleerder [want ons sit mos sonder ‘n staat, onthou] kan maak wat hy wil. Hy kan ‘n goudverbod uitvaardig, hy kan soos Rusland BitCoin verban [eintlik doen Rusland dit om lasterlike internasionale nieregeringsorganisasies en drukgroepe te muilband, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Gedenk maar die Duitse media tydens Apartheid in Soweto wat lekkergoed gegooi het in die asblikke en dan die “honger kindertjies” op beeld vasgevang het… jy sal verstaan], hy kan boetes oplê, wat die volk ook al wil hê, maar die grootste vrees – is verwerping. As vyftig mense tegelyk opdrag gegee word om jou by die portaal uit te smyt vir ‘n paar honderd punte beloning – hoekom nie? Mense soek tog nie ‘n stremming op hul stelsel nie.

Wolfie: Wat van mense wat hulself ooreis?

Suidpunt: Dit sal nie gebeur nie, want die selfoon sal weier om vir jou nog punte toe te ken. Dit kan moontlik ook tot inflasie/deflasie lei, wie weet? Want party dae voel mense meer fris as ander. Ongelukkig kan jy nie “vooruit” werk, d.w.s. die werk van môre of oormôre doen nie. Ek moes daar bietjie burokrasie inwerk, want dit bots met die ander mense se werkstabelle. Die ketting is net so goed soos sy swakste skakel: as die een ou agter is, vertraag dit almal – die agteros moet egter in die kraal kom om kohesie in die gemeenskap te verstewig. Maar wat wil jy bowendien met so baie punte maak? ‘n Vuurpyl bou? Ons het nie ‘n vuurpyl nodig nie. Nog nie. Die hele doel is tog om met meriete en al die gemeenskap te onderhou. So jy stoot die punte weer terug in die gemeenskap in. En dis mos so lekker om jou geld te skenk aan iemand, of een of ander drukgroep wat hul beywer vir iets. Dit laat jou mos goed voel. Trouens, van jou supermarkte doen dit reeds by die kaartkonsole – jy kan jou punte aan liefdadigheidsorganisasies skenk; voordat jou punte na ‘n jaar verval. Die vraag is nou net of jy werklik weet of daardie “geld” deur die organisasies korrek aangewend word?

Wolfie: En as wolwe soos ek net hier bly sit en niksdoen?

Suidpunt: Wel, jy het pas jou gasvrye beker klaar leeggedrink. Omrede ek deel van die stelsel is, is ek geregtig op my bakkie rys. Jy nie. Jy kan soos ‘n bergie word, maar niemand gaan jou jammer kry nie. Ek twyfel of hulle ooit tyd vir jou sal afstaan. Daarvoor is hulle te besig en te ywerig op soek na punte. Goed, daar mag ‘n tannie wees wat jou bejammer, maar sy gaan nie met punte beloon word vir haar caritas nie. Miskien kan selfs van haar krediete afgetrek word, wie weet? Die hele doel is dat jy so gou as moontlik moet assimileer. En dit is om deel van die werkmag te word. Elkeen het sy 110 dinge om te doen. Word jy lastig – tronke is te duur om te onderhou, jy moet dan liewer loop. Of jy sal gedeporteer of uitgesmyt word.

Wolfie: Jammer…

En Wolfie se avatar verdwyn. Daarom haal ek ook my VR-bril af. Sy ore wip regop.

Wolfie: …maar géén mens of dier sal daar wil bly nie. Dis ‘n doodse flippen plek wat van dag een af enige inisiatief aan bande lê. Ek werk vooruit. Ek is nie gemaak om in ‘n hokkie te sit en bevele geblaf te word nie. Dis nie ‘n gemeenskap nie! Jy word dan gedwing om te gee, anders verstryk jou punte! Die hele samelewing is gebou op selfsug! Dis nie ware liefde nie. Jou stelsel verblind mense met liberalistiese help-my-goedvoel-emosie. En om alles te kroon: ‘n blikbrein het die STAAT geword?!

Suidpunt (ingenome): Ek is baie bly jy dink so. Soos vele ander voor jou. In die meeste godsdienste is die verwagting dat die mens homself moet verbeter en na die mense rondom hom uitreik. Eerder uit vrywillige deugsaamheid as plig. Ek het die saak doelbewus gaan omdraai. As mens nou uit ‘n duiwelse oogpunt kyk, dan fokus jy juis op mense se swakplekke. Dis baie makliker om te swig as om te vlieg. Hebsug, eersug en gierigheid, Wolfie, is ‘n lelike strik. Jy kan selfs die duiwel daarmee laat dans. Mens kry nooit daarvan genoeg nie. En as jy die gierigheid vir jou of ‘n stelsel kan maak werk, sonder dat enigiemand agterkom… Maar aangesien die mense van nature omkoopbaar is, moes ek my verlaat op ‘n rekenaar as opdraggewer. Ek hoop jy het nou die antwoord gekry waarna jy gesoek het: om Kommunisme en Kapitalisme te kruis, is moontlik, maar net so selfverterend soos opgewarmde kaliumchloraat en ‘n jelliebeertjie in ‘n proefbuis. Glo my, jy wil dit nie hoor of ruik nie.

Wolfie: Gaaf. (kyk beïndruk na sy skildery, en vergelyk dit met die PRAAG-artikel wat jy nou lees) Ek kry die prentjie.

Daar mag op Quora diegene wees wat daarbuite kla oor surrealistiese “rabbit holes to the average Afrikaans speaking person (and any other reader for that matter)” wat PRAAG bespreek. Hopelik is hulle ABBA-aanhangers, want toevallig is ‘Cassandra’ my gunstelinglied van daardie popgroep; toegewy aan die Griekse mitologie rondom Kassandra wat kon profeteer oor die einde van Troje, maar as vloek niemand na haar wou luister nie. Slaan ag op die woorde, jy is immers gewaarsku:

“But on the darkest of nights /  nobody knew how to fight / and we were caught in our sleep / Sorry Cassandra I didn’t believe / you really had the power / I only saw it as dreams you would weave / until the FINAL HOUR.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.