Leon Lemmer: Transformasie aan die Universiteit Vrystaat

Tansformasie: die standbeeld van CR Swart aan die Universiteit van die Vrystaat word gevandaliseer.

“I enjoy travelling with him to the rural communities because in our close friendship the communities could bear witness to the strength of the ties between the young, white Afrikaans-speaking head of students and the older, black rector of the university. I was the godfather of his newly born son and our families had bonded immediately since our arrival on campus” (Jonathan Jansen, Leading for change: Race, intimacy and leadership on divided university campuses, London: Routledge, 2016, 227p, R365, p 153). Die blanke studentedekaan is Rudi Buys. Die swart rektor is die bruin Jonathan Jansen, toe (in 2014) die rektor van die Universiteit Vrystaat (UV). Soos gebruiklik is Jansen oorbewus van mense se pigmentasie, die pos wat hy (as regstelling) beklee en sy leierskap, waarna in die boektitel twee keer verwys word. Ooreenkomstig Jansen se aandrang word almal wat nie wit is nie vervolgens swart genoem.

Sedertdien het hierdie twee gesinne meer verstrengel geraak deurdat Jansen as mede- promotor van Buys se doktorale proefskrif opgetree het. Die titel is: “A phenomenological reading of the racial knowledge and identities of student leaders engaged in reconciliation” (UV, 2017). Die proefskriftitel het ‘n sterk Jansenistiese inslag: “racial knowledge,” “leaders” en “reconciliation.” “Reconciliation” is eintlik ‘n eufemisme vir die radikale manier waarop hierdie tweetal die UV deurmekaar gekrap het; transformasie of “omvorming” (Buys se voorkeurterm) genoem. Albei se moedertaal is Afrikaans. Hulle het heel moontlik Afrikaans gepraat toe hulle in die Vrystaatse platteland gereis en tuis oor en weer gekuier het. Maar in die openbaar gebruik albei by voorkeur die transformasietaal Engels. Die kerngebeurtenis wat Buys en Jansen saambind is die Reitz-sage. “Sage” is die sin van ‘n gebeurtenis “deur fantasie uitgebrei,” soos die HAT dit stel. Dit verhoed egter nie dat hulle boeke en selfs ‘n proefskrif daaroor skryf nie.

Ek het reeds die volgende Jansen-boeke bespreek: Knowledge in the blood: Confronting race and the apartheid past (2009, Praag 24 en 31.03.2018), As by fire: The end of the South African university (2017, Praag 15 en 22.07.2017) en Making love in a war zone: Interracial loving and learning after apartheid (2017, Praag 31.03.2018). In laasgenoemde boek wek Jansen die indruk dat hy met ‘n blanke vrou getrou het (p 9-10). In die Jansen-boek wat ek in die eerste paragraaf noem en wat ek nie voorheen bespreek het nie, noem Jansen egter dat sy “fair-skinned” vrou, wat “Scottish ancestors” het, as bruin geklassifiseer is, “while mine favoured our Khoi/Malay ancestry rather than my Dutch forebears” (p 9). Daarmee distansieer Jansen hom van Afrikaners. Hy assosieer sy vrou met Engelssprekende blankes, wat volgens hom beter as Afrikaanssprekende blankes is. Dit is seker onnodig om by te voeg dat Jansen se gekose huistaal Engels is.

Jansen verwerp “the narrow, positivist thinking that tries to apply an outdated notion of scientific objectivity to human studies” (2). Dit laat aan Jansen en sy dissipel Buys heelwat speelruimte in hulle siening van en verslagdoening oor die Reitz-sage. ‘n Mens moet nie daadwerklike pogings tot objektiwiteit van die ideologie-besoedelde Jansen verwag nie. Volgens sy insig is die “two great events of the 20th century, the Holocaust and Apartheid” (2009-boek, p 52). Oor die Reitz-sage openbaar Jansen ‘n soortgelyke gebrek aan ewewig en insig: “The Reitz incident of 2007/8 remains the event against which all subsequent racial incidents are bookmarked in all media forms” (As far fire, p 214). Hoekom? Want dit “constituted the most serious human rights violation on a university campus in the post-apartheid period” (99).

Oor sy boek, Making love in a war zone, het ek geskryf: “Die Reitz-voorval is ongetwyfeld die gebeurtenis waaruit Jansen die meeste slaankrag teen Afrikaners geput het. ‘There is now a growing research [!] literature on the subject of Reitz, the shorthand reference to the racial abuse [!] of black workers by white students. Reitz was the white male residence where the atrocity [!] occurred’ (60-61). In geen normale samelewing sou die veroordeling van wat heel moontlik onskuldige studentepret was sulke buitensporige afmetings aangeneem het nie. ‘Four white students racially [!] abused five black workers’ (52). Hoekom? Want dit is ‘n geval van ‘one of … the white boys appearing [!] to urinate into the food that they then gave to the unaware workers to ingest. When a video of this utterly reprehensible event leaked onto social media, the level of anger from all quarters was unprecedented in the history of South African universities [!]. How could young whites born after apartheid do such horrific [!] things to black people?’ (52)” (Praag 31.03.2018).

Maar die twee Jansen-boeke waaruit ek oor die Reitz-sage aangehaal het, is vir hoofsaaklik Suid-Afrikaanse lesers bedoel. Sy 2016-boek is in Engeland gepubliseer en vir veral oorsese lesers bedoel. Daarin handel die hele hoofstuk 2 oor: “Explaining the Reitz scandal.” Die Reitz-sage word hoogs oordrewe beskryf as “the single most horrific act of racism ever to be perpetrated on a university campus” (17). Dus, die rasgemotiveerde moorde en verkragtings wat op universiteitskampusse voorgekom het, is nie so erg soos die Reitz-voorval nie. Die Reitz-koshuis is vernoem na FW Reitz, die president van die Oranje-Vrystaat (1889-1895). “Reitz would become shorthand for a racist atrocity in a university student residence once named to honour him” (17).

Wat gebeur het word soos volg deur Jansen verwoord: “The four [white] boys would treat the senior black workers of the university as if they were first-year students” (17). “They made them drink strong liquor … They had the workers line up for athletic sprints … They made the workers dance to music, and even joined in, as the senior citizens [!] tried to stay upright. And then the act that turned stomachs all over the world [!] – they urinated into a pot of food, and gave this to the workers to ingest … Throughout this macabre event the white boys relaxed, laughing and clearly making fun of the black workers in the process and whom themselves appear to having a ball” (18).

Die geheel indruk is myns insiens die klaarblyklike goeie verhouding wat tussen hierdie blanke studente en die swart werkers bestaan het. Jansen erken: “There is an overriding sense of normality … a strange affection between workers and students” (33). Maar ook hier diep Jansen ‘n beswaar op: “Why are these older people called on their first names?” (23). In die nabetragting ter diskreditering van die blankes is groot klem op die ouderdomsverskil tussen die twee groepe gelê. Die swartes kon glo ouers gewees het. Jansen dik dit soos volg aan: “The measured role of the older woman, the nurturing mother, the giver of life” (30). Die werklike ouderdomme van die swartes is nie bekend gemaak nie, maar Jansen oordryf sekerlik doelbewus as hy hierdie werkers bejaardes (65+ jaar) noem.

Wat onbetwisbaar is, is dat dit lyk asof die werkers die gebeure geniet het; dat dit glad nie ‘n groot skandaal, ramp en onreg is wat besig is om op die video te ontvou nie. Maar wat Jansen teen die bors stuit, is dat jong blankes hier “bevele” aan swartes gee wat sonder meer deur hulle uitgevoer word; dus ‘n baas/klaas-verhouding: “black people being paraded for the fun of white people” (21), “an underlying racial contempt for black people” (22), “all-powerful white men lording [!] over vulnerable [!] bodies” (31). Met sulke oordrywings maak Jansen ‘n gek van homself. Die ergste is dat Jansen doelbewus lieg: “they urinated into a pot of food.”

Een van hierdie blanke studente het ‘n verslag van 112 bladsye oor die Reitz-gebeure aan Jansen besorg. Daarin staan (blykbaar vertaal uit Afrikaans): “The mixture contained water, bread, coffee, protein powder, raw garlic and milk – the impression could be created that someone had urinated into it, but it never happened” (19). Maar Jansen is vasbeslote om die blankes weens werklike urinering te verdoem. Sy kommentaar op hierdie uitdruklike ontkenning is: “It does not matter … The fact that one of you showed on video the action of urinating into the food conveys what you wanted the viewers to believe you actually did. What happened after that does not matter; here the symbolism is the reality [!]” (19). Dus, as jy ‘n moord simuleer (bv vir verfilming), het jy volgens Jansen werklik ‘n moord gepleeg. Wat Jansen tot lieg dryf is dat blankes (wat hy nie goedgesind is nie, om dit sag te stel) aan die moontlikheid gedink het om die kos van swartes (aan wie se kant hy hom sonder voorbehoud skaar) te besoedel.

Dat Jansen in sy 2016-boek doelbewus oor die urinering vir buitelandse lesers lieg, blyk uit sy 2017-boek waarin staan: “Back in 2007/8, a notorious student-made video capturing the act of urinating, or, more likely [!], pretending to urinate, on the food of five black workers” (As by fire, p 99). Ek vind dit gevolglik moeilik om agting vir Jansen as akademikus en as mens te hê. Pierre de Vos, wat sterk linksgesind is, bevestig dat Jansen se vertolking van die Reitz-insident hoogs oordrewe is: “I do believe that this situation was blown completely out of proportion. It was a media goldmine that probably rivalled the Waterkloof-4. The fact is that there were no signs of trauma until it became a public spectacle” (2016-boek, p 19). Desnieteenstaande skryf Buys, met Jansen as mede-promotor, ‘n doktorale proefskrif (dus iets wat veronderstel is om ‘n ernstige akademies-wetenskaplike onderneming te wees) wat die Reitz-sage uitbeeld as dié keerpunt in die transformasie/omvorming van die UV van ‘n blanke Afrikaanse universiteit na ‘n oorwegend swart Engelse universiteit.

In opvolging van sy proefskrif het Buys (gebore in 1974) die volgende boek gepubliseer: Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoening (Kaapstad: Penguin Books, 2018, 179p, R250; Amazon Kindle $14,95). Anders as die proefskrif is die boek in Afrikaans. Na afloop van sy studentedekaanskap aan die UV (2010-2014) is Buys as ‘n navorsingsgenoot in die UV se Fakulteit Teologie aangestel. Sy doktorsgraad is blykbaar in teologie toegeken, ná sy vroeëre voltooiing van ‘n magistergraad in teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Teen die agtergrond van wat hier bo oor die beweerde urinering geskryf is, kan lesers op grond van die volgende sin besluit wat hulle van Buys dink: “In ‘n vroeëre toneel [in die video] word gewys hoe een van die studente, sonder die werkers se medewete, in die brousel urineer” (Kindle 83). Soos sy vriend Jansen wil Buys teen wil en dank die skyn van urinering tot werklike urinering transformeer. Sonder sodanige “omvorming” van die werklikheid sou die Reitz-sage inboet aan emosionele trefkrag, kan dit met minder stelligheid voorgehou word as dié deurslaggewende gebeurtenis in die transformasie van die UV en verloor Buys se proefskrif en boek baie van hulle sinvolheid, gevolglik is “die Reitz-voorval omarm en as kleinood aangegryp” (2988). Buys skryf: “Reitz [het] mý omvorm” (3108).

In die afwesigheid van werklike urinering sou Buys, soortgelyk aan Jansen, nie soos volg kon skryf nie: “Die skokkende beelde van die video het Suid-Afrika en die wêreld [!] met afgryse vervul … Hoe is dit moontlik dat, na bykans twee dekades van demokrasie in Suid-Afrika, so iets kon gebeur?” (90). Suid-Afrika se “demokrasie” dateer uit 1994. Die video is in 2007 gemaak en het in Februarie 2008 op die sosiale media verskyn. Buys se “bykans twee dekades” (20 jaar) is dus sowat 13 jaar lank. Sy Jansenistiese neiging tot oordrywing blyk ook uit die volgende sinne: “Die foltering [!] wat Reitz Kamerwonings vir Kovsies meegebring het, was ook ‘n loutering [!]* vir Suid-Afrika. Dit was duidelik dat ‘n katarsis [!]** vir Kovsies ook ‘n katarsis vir Suid-Afrika sou wees” (95). “Kovsies se goeie naam het aan skerwe gelê. ‘n Rasseoorlog het opnuut gedreig” (211). Soos een van die studenteleiers dit gestel het: “Hoe was dit moontlik dat die Reitz-studente die ondenkbare kon doen?” (1247). Buys kom met hierdie uiters vergesogte aanspraak: “Die video het ook die mite dat apartheid ‘n oplossing was vir konflik as abnormaal en immoreel ontbloot” (1885). [* Louter: “suiwer; reinig … sedelik verbeter” (HAT). ** Katarsis: “(sedelike) reiniging/loutering, bv deur ontlading van gevoel in ‘n drama” (HAT).]

Vir sy proefskrif het Buys navorsing aan die Paulo Freire-Instituut van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles gedoen. Paulo Freire (1921-1997), “die gerekende Brasiliaanse opvoedkundige” (2041), se verpolitiseerde pedagogie vind aansluiting by die kritiese teorie van die marxistiese Frankfurt-skool en dus by hedendaagse kulturele marxisme, asook by Frantz Fenon (1925-1961) se anti-blanke anti-kolonialisme. Steve Biko het inspirasie uit Freire se idees vir sy swartbewussynsbeweging geput. Russel Botman se pedagogie van hoop en sy Hoop-projek aan die US is ‘n direkte uitvloeisel van Freire se marxisme. Soos Jansen en Buys het Freire hom aan die kant van die “onderdruktes” (dus swartes) geskaar (3055) en “sosiale geregtigheid” bepleit. Freire wou die magshiërargie tussen wit en swart omkeer (3049). Dit is presies wat Jansen en Buys aan die UV vermag het. Buys maak positief gewag van Freire se “kritiese ingesteldheid” (3044, 3049) maar dit geskied binne ‘n marxistiese raamwerk. (Oor Jansen se marxistiese mentaliteit: Praag 24.03.2018). Jansen en Buys was, soos die vier studenteleiers (kyk hier onder), tussengangers maar nie vredemakers nie (3103). Jansen en Buys het die UV-koshuiskultuur “herontwerp” (2787), dus die bestaande orde, geskep deur blankes, vernietig. Buys noem dit “kultuurvernuwing” (2764).

Transformasie aan twee eens Afrikaanse universiteite, die US en UV, sluit dus ‘n groot skeut marxisme in. Voorheen het die teologiese fakulteite aan Afrikaanse universiteite sterk weerstand teen kommunisme gebied. Deesdae is baie van die dosente egter bevrydingsteoloë wat kulturele marxisme bevorder deur Westerse beskawing en kulture af te kraak. Wim de Villiers doen dieselfde deur die US telkens ‘n Afrika-universiteit te noem. Suid-Afrika word sedert 1994 deur die ANC regeer wat nie net sosialisties is nie, maar ook baie kenmerke van marxisme openbaar, gevolglik kraai daar by kruipsugtiges geen haan oor die weg wat die US en UV ingeslaan het nie. Op hierdie kampusse is geen idees te links nie terwyl regse idees glad nie geduld word nie. In hierdie sin bestaan daar geen akademiese vryheid meer aan enige Suid-Afrikaanse universiteit nie. Maar ek moet noem dat ek gunstig beïndruk is met die Afrikanerstudente aan die UV wat (aanvanklik) nie aan misleide ideologiese druk toegegee het nie. Aan die Universiteit Pretoria het Afrikanerstudente Nelson Mandela in 1991 van die kampus verjaag (Jansen 2009-boek, p 114).

In sy boek Making love in a war zone doen Jansen verslag oor onderhoude wat hy met tien interrassige paartjies op die UV-kampus gevoer het. Die Jasenistiese inslag van Buys se doktorale studie blyk uit die feit dat die “veldwerk” bestaan het uit onderhoude wat hy met vier UV-studenteleiers gevoer het: ‘n swart man, ‘n wit man, ‘n wit vrou en ‘n swart vrou. Buys beweer dat ‘n onderhoud of onderhoude met ‘n enkele student voldoende sou gewees het (1798) as hy nie met so ‘n erg verdeelde kampus en samelewing te make gehad het nie. Plaaslik verskil studente se ervarings volgens hom sowel ras- as geslagsgewys, vandaar die onderhoude met vier studenteleiers (1804), wat almal Damaskus-ervarings agter die blad het (1875).

Anders as in die verslag van Jansen se studie in Making love in a war zone, waarin selfs foto’s van die tien paartjies gepubliseer is (en waarteen ek etiese besware geopper het – Praag 31.03.2018), gebruik Buys skuilname vir sy respondente en hulle naasbestaandes, wat hulle in groot mate tot anonimiteit reduseer. Hy verwoord meesal wat hulle te sê gehad het eerder as om hulle woordeliks aan te haal. Dit laat die navorser met ‘n groot mate van vryheid in nuansering, maar hy noem dat elk van die viertal die finale teks oor sy/haar onderhoude, waarop hoofstuk 2 tot 5 gebaseer is, goedgekeur het (1815). Maar in latere hoofstukke improviseer Buys vryelik oor hierdie onderhoude. My indruk van die proefskrif, in soverre dit neerslag in sy boek gevind het, bv die sewe lesse oor verandering (hoofstuk 6) en die sewe insigte oor versoening (hoofstuk 10), is dat dit ‘n (tevergeefse) gesmag na akademies-wetenskaplike substansie en respektabelheid is.

Daar is veral een opsig waarin Buys iets nuuts staan probeer maak: die idee van ‘n tussenin identiteit. Buys en die vier studenteleiers word voorgehou as tussengangers tussen die blanke en die swart studente; dus versoeners, brugbouers, vandaar die boektitel. Soos die Reitz-sage word tussenin wees tot ‘n kleinood verhef (1875). Om werklik tussenin te wees, beteken dat jy jou ras- en geslagsidentiteit agterlaat en glo ‘n nuwe menswees betree (1764); dat jy anders wees koester (1930). Tussenin wees kan glo tot ‘n volwaardige identiteit omvorm word (3027), ‘n vaste en mondige identiteit (3032), ‘n nuwe opwindende identiteit (2076), bv om Afrikaner én Afrikaan te wees (2451). Apartheid kry die skuld vir die ontwrigting van tradisionele identiteite (2013), gevolglik is die skepping van ‘n nuwe soort identiteit glo nodig.

Die omarming van tussenin wees geskied egter op die gevaar af dat jy kies om nóg vis nóg vlees te wees, dus om tussen die boom en die bas te beland, bv sowel manlik as vroulik te wees. Buys beweer dat ‘n tussenin identiteit moontlik is sonder om jou uniekheid, agtergrond en kulturele herkoms te versaak (1399, 2076), dus sonder om verloopte status te verwerf (2025); dat tussenin wees ‘n aanvullende identiteit is (2030). Maar dit kan ‘n minder gevestigde kultuuridentiteit wees (1759). Tussenin wees kan sekerlik jou tradisionele identiteit ondergrawe. Dalk is dit noodwendig só omdat verandering/aanpassing veronderstel word. Soos een van die blanke Afrikaanssprekende studenteleiers dit stel: Sy “het nie gedink dat dit ‘n goeie ding is om ‘pro-Afrikaans’ te wees nie” (1382). Daarmee wórd sy ‘n verloopte Afrikaner.

Buys skryf: “In die nuwe Suid-Afrika het gevestigde wit kultuuridentiteite vervaag, in die mate dat jong wit Afrikaners byvoorbeeld dikwels eerder as Afrikaans of Suid-Afrikaans beskou wil word. Wat al die kosmopolitiese en nuwer identiteite gemeen het, is dat hulle as vermengings van twee of meer ander identiteite, of dan as ‘n afwatering van ‘n oorspronklike identiteit, beskou kan word” (2019). Maar wesenlik kom dit neer op ‘n wegbeweeg van kultuuridentiteite (2025) en dit word myns insiens in groter mate van blankes as van swartes verwag/vereis. Hoewel ek verstaan wat Buys probeer bereik, moet onderskei word tussen essensiële en versaakbare kultuurelemente. Byvoorbeeld, swartes (wat die bruin elite, soos Jansen, insluit) sien maklik af van hulle moedertaal maar vir my as Boer is Afrikaans die ononderhandelbare kern van my kultuur.

Soms kan Buys se vertolking van die geskiedenis bevraagteken word, bv: “Teen 1995 kon die universiteitsbestuur nie anders nie as om teësinnig [?] vir lief te neem met die ontstaan van aparte wit en swart koshuise op kampus – ‘n opsie wat nooit deur die universiteit as amptelike beleid aanvaar is nie. Aparte koshuise was toe vanself reeds aan die ontwikkel” (113). Buys druk hom dubbelsinnig uit. Aanvanklik is swart studente slegs vir studiedoeleindes toegelaat. Huisvesting op die kampus is nie aan hulle verskaf nie. Teen 1995 is begin om swart studente ook op die kampus te gehuisves maar in aparte koshuise. Dit is só gedoen ten einde rassewrywing te voorkom of dit ten minste te verminder. Om ‘n tradisioneel blanke kampus vir swart studente oop te stel, is ‘n radikale verandering. Om wit en swart studente toe eensklaps saam in ‘n koshuis te huisves sou verregaande gewees het.

Maar Jansen en Buys het verder gegaan. Dit is nie ontwrigtend en onbillik genoeg om toe te laat dat swartes ‘n eens blanke kampus toenemend oorneem nie. Wit studente is verplig om 50/50% saam met swartes in dieselfde koshuis te woon. As studentedekaan was dit Buys se hoofokkupasie en voorreg om sodanige integrasie af te dwing. Ook dit was nie radikaal genoeg nie: Wit en swart studente móét dieselfde slaapkamers deel. Dit is in ooreenstemming met Jansen se uitgesproke versugting dat wit en swart mense so intiem moontlik verstrengel moet wees, insluitende seksuele verhoudings. “Jansen beskou nabyheid tussen wit en swart as die belangrikste faktor wat versoening by Kovsies moontlik gemaak het” (2082). Die teenoorgestelde kan die waarheid wees: dat opgedringde nabyheid konflik tussen rasse (kan) veroorsaak. Die Jansenistiese UV-beleid het as grondslag veronderstelde wesenlike eendersheid van mense, bv dat rasverskille bloot velkleur- oftewel pigmentasie-verskille is (610, 1630). Fisieke ooreenkomste (bv dat alle mense asemhaal en rooi bloed het) is beklemtoon terwyl fundamentele geestelike verskille, bv van kulturele aard, geminag en geïgnoreer is. Almal is glo sommer net mense (667). Dit alles “danksy die nasionale beleid van rasse-integrasie” (775).

Dat daar werklike kultuurverskille tussen wit en swart studente bestaan, kon egter nie suksesvol deur Jansen en Buys ontken word nie. Die blanke studente was oorwegend Afrikaanssprekend en die swart studente (vir studiedoeleindes) oorwegend Engelssprekend. Hoe kon Jansen en Buys, wat taal betref, hulle ideaal van eendersheid bewerkstellig? Deur by voorkeur, selfs uitsluitlik (bv by koshuisvergaderings), Engels te praat. Wat was die uiteindelike en hoogs gekoesterde ideaal van hierdie tweetal? Eerder ‘n Engelse as ‘n Afrikaanse of tweetalige universiteit. Daardie taalgelykmaking is teen die einde van Jansen se termyn as rektor bereik, al het Jansen in sy intreerede in 2009 plegtig belowe dat Afrikaans tydens sy ampstermyn veilig sou wees. Jansen se belofte dra dieselfde gewig as dié van FW de Klerk, bv dat die finale grondwet aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word, dat blanke boere se eiendomsreg/kaart- en transport veilig sou wees, ens.

Daar is ‘n ander valse veronderstelling waarop Jansen en Buys se gedwonge rasse-integrasie berus: dat rasseskeiding onnatuurlik is terwyl rasse-integrasie so natuurlik soos water is. In Jansen se boeke oor toestande op die hoofkampus van die Universiteit Pretoria en dié van die UV hinder dit hom herhaaldelik dat ras- en kultuurgroepe geneig is om met hulle eie ras- en kultuurgenote te assosieer. Dink aan die goeie ou dae: “Verskillende wit en swart woonbuurtes was normaal. Aparte graadklasse vir Afrikaans en Engels was normaal. Aparte wit en swart vriendekringe was normaal” (1973). Blankes verkies die geselskap van mede-blankes en swartes verkies die geselskap van mede-swartes. Afrikaanssprekende blankes assosieer by voorkeur met ander Afrikaanssprekende blankes en Engelssprekende blankes assosieer by voorkeur met ander Engelssprekende blankes. In die geval van Indiërstudente het Jansen opgelet dat Moslems met Moslems en Hindoes met Hindoes assosieer.

Die veelgeprese 1996-grondwet lui: “Everyone has the right to freedom of association” (artikel 18). Maar dit is waarvan die ANC en ANC-kornuite soos Jansen en Buys nie hou nie, gevolglik is daar oral in die land, insluitende die UV, gedwonge rasse-integrasie. Die feit dat die proses onder dwang geskied, toon dat rasse-integrasie onnatuurlik is. Pleks van dit te erken, hou Jansen vol dat rasse-integrasie natuurlik is. Hy gee die nalatenskap van apartheid, dus blankes, die skuld vir die verwydering wat daar tussen rasse bestaan. Wanneer kultuurverskille as rede vir segregasie opgehaal word, word dit afgemaak as verskuilde rassisme.

Daar is by sowel Jansen as Buys dubbele standaarde. Rasse-integrasie is op ‘n 50/50%-grondslag aan histories blanke koshuise opgedring, maar nie (in naasteby dieselfde mate) aan die koshuise vir swartes nie.* Dit blyk baie duidelik uit Buys se boek. Die UV se strewe na diversiteit het “in wese rasse-integrasie in koshuise behels” (251). “Die beleid was … in wese op diversiteit in wit koshuise gefokus” (194). Militante dwang is die rede vir die suksesvolle en volslae integrasie van die tradisioneel blanke UV-koshuise. [* Daar word verwys na ‘n swart manskoshuis wat geen wit studente gehuisves het nie (1659). Een van die studenteleiers was die eerste blanke wat tot ‘n swart manskoshuis toelating verkry het (1002). ‘n Ander studenteleier was een van die eerste blankes wat in ‘n swart dameskoshuis gewoon het maar sy het net ‘n jaar daar uitgehou (1325).]

Die skuld vir die nie-integrasie van die koshuise vir swartes word op die blanke studente gepak. Blankes is meesal nie bereid om in die swart koshuise te woon nie. Die werklike rede vir die verskil in behandeling van wit en swart studente is myns insiens dat Jansen en Buys hulle mes vir die blankes ingehad het; dat hulle die blankes ‘n les wou leer. Die valse veronderstelling is dat blankes heling van die siekte van rassisme nodig het maar nie swartes nie. Anders as in die geval van blankes was Jansen en Buys die swartes goedgesind, des te meer omdat integrasiedwang by swart koshuise die swartes tot geweldpleging kon/sou aanspoor.

Die 50/50%-integrasie van die eens blanke koshuise bring mee dat al hoe minder blankes daar wil tuisgaan. Dit het spoedig gelei tot oorwegend swart koshuise en mettertyd tot koshuise wat (feitlik) uitsluitlik swart is. “In the English universities … all-white residences would eventually become all-black residences at institutions like Wits and UCT” (Making love in a war zone, p 53). “Residences were now under pressure to become exclusively black, thereby losing one of the most important [Jansenistic] functions of a residential education: bringing diverse students into the learning commons that a residence provides” (As by fire, p 185). Waarop dit neerkom, is dat swart studente owerheidsgesubsidieerde verblyf by die universiteit het terwyl blanke studente meesal duurder vir verblyf moet betaal wat ongerieflik ver van die universiteit kan wees, wat verdere onkostes vir hulle meebring. Wanneer die blanke studente afgestudeer het en werk soek, vind hulle dat ingevolge ANC-beleid voorkeur aan die aanstelling en bevordering van swartes gegee word. Sodanige rassediskriminasie word in die naam van regstelling en geregtigheid bedryf.

Maar selfs dit stel Jansen nie tevrede nie. Hy vertel met smaak dat as privaat instansies dit gewaag het om losiesgeriewe spesifiek vir ontheemde blanke studente te adverteer, hy sy neus daarin gesteek het en gepoog het om daardie pogings te saboteer deur bv in die pers beswaar teen sodanige rassediskriminasie aan te teken of selfs ‘n klag by die Menseregtekommissie aanhangig te maak. “The more black students coming into a residence, the more white students would leave … the racial integration on campus would spark the development of private white Afrikaans residences around campuses such as in Bloemfontein. I had exposed in the media a student accommodation advertisement in the local Afrikaans newspaper for ‘non-affirmative action Christian women’; the words ‘white women’ would have sufficed and yet those very words reflected the language of South Africa’s white-supremacist history” (Making love in a war zone, p 53). Is Jansen se gedrag nie dalk ‘n toonbeeld van swart heersugtigheid nie; dus dat alles moet voldoen aan die vereistes wat hy en die swart meerderheid ingevolge swartmag-ideologie stel?

(Voorgraadse) universiteitstudente is deesdae feitlik almal sogenaamde “vrygeborenes”, dus mense wat ná 1994 gebore is. ‘n Mens kan jou afvra: Is daar in hierdie groot era van vryheid nie dalk ‘n alternatief vir blatante, gedwonge rasse-integrasie nie? Waarom nie aan studente die keuse bied tussen enersyds ‘n geïntegreerde en andersyds ‘n kultuureie-koshuis nie? Dit is ‘n moontlikheid wat glad nie deur Buys geopper word nie. Jansen het wel daaraan gedink. “Why not simply allow these South African students to live in separate residences? (2016-boek, p 11). “There is, however, a grave danger in segregation” (12). Volgens Jansen het blankes, veral Afrikaners, valse (“fraudulent”) kennis in hulle bloed; kennis wat hulle saam met moedersmelk en daarna, tydens apartheid en selfs tot op hede, ingekry het. Daarenteen beskik Jansen, seker danksy sy Khoi-bloed, oor nuwe, korrekte kennis. Rasse-integrasie is volgens Jansen noodsaaklik vir die heropvoeding van blankes, veral Afrikaners (‘n “waarheid” wat ook deur Wilhelm Verwoerd III* eerstehands ervaar is: Bloedbande, Kaapstad: Tafelberg, 2018, 304p, R290). Jansen skryf: “Integration benefits white students … unlearning bad habits” (2016-boek, p 12). Jansen en Buys ag hulleself as geskikte opvoeders om hierdie heropvoeding te verskaf. [* Buys skryf: “Toe Wilhelm Verwoerd, die kleinseun van Hendrik Verwoerd … sy lidmaatskap van die ANC aankondig, [het] ek saam met lede van die ANC voor die saal gedreunsing en rondgedans” (2319).]

Buys se betrokkenheid by die UV het begin toe hy en ‘n horde ander “deskundiges” in transformasie en versoening op die kampus toegesak het om teen groot koste vir die UV die integrasie van swart studente te “fasiliteer”. “In 1994 there were 8 057 (84.28 per cent) white students on the original campus and only 1 503 (or 15.72 per cent) black students … in 2004, the white student numbers had increased to 8 707 but the proportion stood at 40.17 per cent – less than half the 1994 percentage – because the black student numbers had risen sharply to 12 971 (or 59.83 per cent)” (2016-boek, p 10). Dít is ware transformasie: die vinnige verswelging deur swartes van ‘n eens blanke kampus.

Uit Jansen se boeke en Buys se boek is dit duidelik dat hierdie transformasie groot trauma in blanke geledere (die studente en hulle ouers, asook die dosente en ander personeel) veroorsaak het. Vir die swartes was/is daar simpatie en baie geld is/word bestee om hulle tuis te laat voel. Vir die ontheemde blankes is daar nie ‘n soortgelyke reddingsboei nie. Die swartes is klaarblyklik bemagtig om te ontvang wat hulle na bewering toekom en selfs meer as dit. Die blankes ontvang glo hulle verdiende loon en moet sien hoe kom klaar. “Die algemene perspektief [is] dat transformasie die verlede moet regstel waarin swart studente benadeel en wit studente bevoordeel is” (1947). Weens onder meer verswelging word die blanke studente nou benadeel en die swart studente buitensporig bevoordeel. “Geregtigheid” het aan die UV geskied danksy mense soos Jansen en Buys.

Polities byderwets word veronderstel dat niks aan die blankes se huidige situasie verander hoef te word nie. Blankes is ‘n ignoreerbare, verkleinende minderheid op die UV-kampus (en in Suid-Afrika) wat hulle na die oorweldigende swart meerderheid moet skik. Die swartes is hiermee tevrede, gevolglik is dit ‘n oorwegend tevrede UV-studentekorps. Versoening tussen wit en swart is dus nie meer so noodsaaklik soos vroeër nie. Dit is tipiese Nuwe Suid-Afrika-geregtigheid. Die Jansen/Buys-kombinasie se taak is, wat hulle betref, bevredigend afgehandel. Maar waar is die veelgeprese diversiteit wat nagestreef is? Verswarting en verengelsing werk toenemende monokulturaliteit op kampusse in die hand, maar daaraan word nie enigiets gedoen nie. Buys skryf: “Versoening moet … oorgaan in omvorming” (2890). Die teenoorgestelde is eerder waar: transformasie sou glo versoening tot gevolg gehad het. Transformasie het die verswelging van die blankes deur die swartes meegebring maar nie beduidende versoening nie. Die Afrikanerstudente en -personeel neem bv nie vir lief met Engels as onderrigtaal nie. Kultureel is daar myns insiens geen afdoende rede waarom blankes hulle na die wense van die swart meerderheid moet skik nie.

Samevattend: Jansen is ‘n bruin mens wat verkies om swart te wees. Sy moedertaal is Afrikaans maar sy gekose huis- en eerste taal is Engels. Hy beskou sy transformasie van die UV – wesenlik suksesvolle verswarting en verengelsing – sekerlik as ‘n reuse sukses. Maar dit is strydig met ‘n beginsel wat aan die blanke UV voorgehou is: “‘n ongesonde kultuur … wat oorheersing voorstaan” (1069). Dus, wit oorheersing is sleg, soos tydens apartheid, maar swart oorheersing is goed, danksy “demokrasie”. Jansen het aan die Boere bewys dat ‘n universiteit binne enkele jare onherkenbaar kan verander, maar ongelukkig sonder om akademies te verbeter omdat politieke oorwegings belangriker as akademiese oorwegings geag word.

As blanke behoort dit vir Buys moeiliker te wees om sy gewete te stil, veronderstellend dat hy so iets het. Die koshuise is toenemend swart en sal eersdaags (feitlik) uitsluitlik swart wees. Die voorbeeld wat hy as Afrikaanssprekende met sy vooropstelling van Engels gestel het, het die norm aan ‘n eentalig Engelse UV geword. Wat Buys bereik het, is byderwets-polities reg maar akademies verkeerd. Maar die ANC is hoogs tevrede. In laaste instansie is dít wat vir hom en Jansen saak maak. Dít is die UV-nalatenskap van die Jansen/Buys-tweemanskap.

Buys-spore lê veral by die eens blanke koshuise. Dié bekroning van sy werk is dat die JBM Hertzog-koshuis, eens vernoem na ‘n voortreflike Afrikaner, nou die Beyers Naudé-koshuis heet, vernoem na ‘n verloopte Afrikaner wat terrorisme ondersteun het. ‘n Euwel het glo plek vir ‘n engel gemaak. Is dit nie hartversterkend nie? Eind goed, alles goed? Nee, dit is strydig met ‘n beswaar wat voorheen as geldig beskou is: “Die koshuis se eensydige assosiasie met historiese figure” (957).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.