Motors: Uiterste pole!

Mercedes-Benz se nuwe GT C Roadster. Dit kos R2 744 295, maar is R132 000 goedkoper as 'n vergelykbare Porsche.

As motorjoernalis kry ek die geleentheid om baie gereeld met allerlei soorte rygoed kennis te maak!

Partykeer is dit betreklik basiese rygoed en ander kere heel luukse, eksklusiewe en duur motors. Die gevolg hiervan is dat ‘n mens so gewoond raak aan beide kante van die spektrum dat jy werklik die oomblik waartydens jy die reuk van ‘n nuwe motor moet inneem en waardeer soms heeltemal misloop.

Party motors is so algemeen dat ek as joernalis heeltemal deurskynend voel in die motor en dan is daar ander wat weer so skaars is dat ek amper te bang is om met hulle te ry uit vrees dat iemand by elke verkeerslig of stopteken iets positiefs of negatiefs in die verbygaan gaan skreeu! En dit gebeur nogal hoor. Die mens is maar ‘n snaakse wese.

Ek het die voorreg gehad om twee van Mercedes-Benz se mees eksklusiewe rygoed vir n paar dae onderhande te neem.

Die Mercedes-Benz S63 Cabriolet van voor.

Voor ek die motors van Mercedes-Benz Suid-Afrika af ontvang het, het ek beide die spesifieke modelle nog net in tydskrifte gesien: die AMG GT-C Roadster en die AMG S63 Cabriolet 4Matic is nou glad nie die tipe rygoed wat jy elke dag op die pad sien nie. Nie eens in plekke soos Waterkloof, Sandhurst of Zimbali nie. Beide die motors is aflaankapmodelle wat hulle nog meer eksklusief maak as hul gewone hardekapstalmaats. Nadat ek hulle aan Mercedes terugbesorg het, het ek nie weer een van die twee iewers op die pad in Suid-Afrika gesien nie.

Bakwerk

Die GT C Roadster van agter af.

Die GT C Roadster is n klein kompakte motor wat baie laag in sy 325/35 R20-duimtekkies hurk. Teen 4544mm is hy korter as ‘n Mercedes CLA maar net-net langer as ‘n A-Klas-Mercedes. Die GT C is 1939mm breed wat hom 16 cm breër as die CLA maak of, beter gestel, 2,5cm breër as ’n S-Klas. Wat sy hoogte betref, is die Merc 1,2mm laer as ’n Porsche 911 GT3 teen slegs 1259mm. Die GT C se agterwiele is byna op die hoeke van die motor, dus is daar geen oorhang nie en die neus is in die ware sportmotortradisie baie lank – amper soos die Jaguar E-Tipe van ouds. Gelukkig maak die deure soos ‘n gewone motor se deure oop en nie opwaarts soos die SLS wat die GT C se voorganger was nie. Reg van voor herinner die motor my nogal baie aan die 300 SL van die sestigerjare. Dinge is net effens meer modern met ‘n groot sierrooster en twee nate op die enjinkap. Die hoofligte is byna soos ‘n kat se oë 45 grade na buite gekantel en die groot Mercedes-embleem in die middel van die sierrooster maak dit duidelik dat hierdie nie ‘n gewone afslaankapmotor is nie.

Van agter is die twee uitlaatpype in die agterste lugskort ingebou en dit is ook nie jou gewone ronde pype nie. Die agterste ligte is klein skrefieliggies wat mooi op die hoeke van die motor gemonteer is en net effens om die hoeke strek. Die begasiebakdeksel en agterste wielboë is so hoog dat die bokant van die windskerm en kopstutte net-net sigbaar is. ‘n Drukvlerk wat elektronies op en af verstel kan word, skuil reg op die lip van die kattebak met ‘n dun derde remlig reg in die middel bo die drukvlerk.

Die Merc S63 Cabriolet van die kant af, met die dak afgeslaan.

In teenstelling met die GT C, is die S63 Cabriolet ‘n baie lang, groot motor. Dit is nie verniet die grootste sportmotor in die Mercedesstal nie. Teen 5044mm is die S63 500cm langer as die GT C of, beter gestel, ‘n hele 14 cm langer as ‘n VW Kombi. Teen 1913mm is hy 1,4cm breër as die S-Klas sedan en hy staan 1422mm hoog op sy 285/40 R19-bande, dit is darem 7,2cm laer as die S-Klas sedan.

Die S63 Cabriolet van agter af, met die dak opgeslaan. Selfs met die dak op, lyk dit mooi.

Die S63 Cabriolet is persoonlik vir my een van die heel mooiste motors op die pad. Sagte doelgerigte lyne wat duidelik beklemtoon dat hierdie iets spesiaals is, is oral te bespeur. Beide die GT C en die S63 is toegerus met sagte seildakke wat binne 11 sekondes kan oop- of toemaak. Daar is ‘n regte glasagterruit en raamlose kantruite. Die S63 se voorste ligte het dieselfde vorm as dié van die GT C; daar is net effens meer glasoppervlakte en ons toetsmotor was toegerus met Swarovski-kristalle in die voorste ligte. Ja, hierdie is ‘n eksklusiewe ryding soos ons gesê het! Groot driehoekige luginlate onder aan elke hoek van die motor laat die S63 nog skerper lyk en die sierrooster is dieselfde groot aggressiewe rooster met die reuse- Mercedesembleem wat ons ook in die GT C aantref. Die neus is insgelyks lank, maar vertoon nie heeltemal so uitgestrek soos dié van die GT C nie. Van die kant gesien, lyk die S63 nie so lank soos wat hy is nie en die deure bied baie meer staaloppervlak as wat daar glasoppervlak van die kantruite is. Of die S63 se dak nou op of af is , hierdie Merc lyk goed! Die GT C lyk ‘n 100 keer beter met sy dak af- as opgeslaan, maar hierdie S63 is net eenvoudig mooi vanuit elke hoek gesien.

Binneruim

Dit wemel van die raakskerms in die S63 Cabriolet.

Beide die GT C en die S63 is pure Mercedes aan die binnekant. Iets wat Mercedes nogal baie goed regkry, anders as BMW en Audi, is om hul veskillende modelle se binneruime uniek van die ander modelle in die reeks te laat voel. In die GT C voel jy net spesiaal, maar in die S63 voel jy soos ‘n spesiale koning . Die GT C se middelkonsole is een groot stuk aluminium met ronde drukknoppies aan weerskante van die ratkierie. Die rathefboom is ook anders as in ander Mercedesse en dit is ‘n baie kort breë hefboom wat volmaak in jou handpalm lê. Vier ronde, verstelbare luginlate net onder die drukskerm wat lyk asof hy in die lug dryf en leer reg rondom die binneruim.

Agtersitplekke van die S63 Cabriolet.

‘n Klein portiewe stuurwiel met plat onderkant en regte aluminiumknoppies op die stuurwiel rond die binneruim mooi af. Daar is ‘n windbreker wat outomaties hier agter die insittendes se koppe op en af gestel kan word asook een bo die voorste windskerm. Die voorste een keer dat die insittende natgespuit word wanneer die dak af is en jy die voorruit met die reënveërs moet skoonspuit. Daar is AMG-kentekens in aluminium op die stuurwiel en in leer op die sitplekrugleunings. Sitplekke is verhit en verkoelbaar asook elektronies verstelbaar en die Mercedes Air Scaf wat warm lug deur die kopstutte in die insittendes se nek blaas is standaard. Die GT C is ‘n tweesitplekmotor waar die S63 ‘n viersitplekmotor is. Binne die S63 is alles wat jy in die GT C sou aantref behalwe die ekstra twee agtersitplekke. Die leer is in ‘n diamantvorm gestik en daar is net soveel meer ruimte en baie meer leer orals. Die stuurwiel in die S63 lyk insgelyks anders, asook die middelkonsole waar daar ‘n tienduimraakskerm in die middel van die konsole geplaas is en direk langs hom voor die bestuurder ‘n tweede tienduimraakskem. Dus, byne die helfde van die vertoonpaneel voor die bestuurder is raakskerm! Daar is ‘n pragtige houtafgewerkte middelkonsole tussen die agterste sitplekke ook met inboude aluminiumluginlate en bêreplekkies. Wat die bagasieruim betref, het die GT C slegs 165 liter se pakplek. Nou dit klink min, maar as jy in ag neem dat hierdie ‘n sportmotor is en dat hy oor 50 liter meer pakplek as ‘n Porsche 911 beskik, is dit nie te sleg nie. Ons kon darem ‘n skooltas en ‘n oefensak daar inkry. Die S63 is natuurlik heelwat groter, maar as gevolg van die afslaandak is die ruimte slegs 350 liter wat op sy beurt weer 50 liter groter as dié in die BMW 6-Reeks is oftewel 10 liter meer as die ruimte wat jy in ‘n A-Klas-Mercedes sou aantref. Glad nie sleg nie.

Enjin

Wat die enjins van hierdie twee AMG-monsters betref, is dit eintlik waaroor alles gaan. Ja, jy kry n baie spesiale bakwerk en binneruim, maar hierdie enjins is werklik iets besonders. As ‘n mens in ag neem dat die GT C ‘n klein sportmotor is wat dieselfde as ‘n Golf GTi weeg en nie minder nie as 410 Kw se krag lewer wat twee en ‘nhalf keer meer as ‘n Golf GTi s’n is en 680 NM se wringkrag deur die agterwiele teer toe stuur, dan besef jy eers hóé spesiaal hierdie motor is. Hierdie is ‘n 4-literpetrol-8-silinderenjin wat deur ‘n 7-spoed outomatiese ratkas alles in toom hou. Dié syfers kan gehoor word elke keer wat die raaslepel diep ingetrap word. Daar is ook ‘n knoppie in die middelkonsole wat ‘n kleppie in die uitlaatstelsel beheer sodat die motor óf sag en beskaafd klink óf rou en kwaad soos ‘n leeu wat regtig de duiwel in is. Ons hou van die leeuverstelling. Wat die sogenaamde meer beskaafde S63 aanbetref, lyk die syfers so effens anders en as ‘n mens hierdie motor eers ervaar het, kan jy nie glo dat Mercedes werklik waar nog meer krag uit ‘n 8-silinder kon tap nie. Nou moet ‘n mens in ag neem dat die S63 heelwat groter en swaarder as die GT C is. Teen bykans 2650kg weeg die S63 Cabriolet slegs 100kg ligter as n Hyundai H1-bus. Die S63 word aangedryf deur ‘n 5.5-liter-V8-enjin met 2 turbo’s en hy lewer 430 KW en n hele 900 NM se wringkrag. In die afslaankapweergawe word die krag deur al vier wiele teer toe gestuur en die 7-spoed- outomatiese ratkas help om alles te beheer.

Verrigting

Die GT C is deur Mercedes se AMG-manne ontwikkel om juis ‘n direkte mededinger met die Porsche 911 te wees en anders as die ou SLS is die GT C baie ligter en meer vlugvoetig; dus ‘n baie meer geskikte teenstander vir die 911. Met syfers van 3,7 sekondes van rus tot 100km/u en ‘n maksimumsnelheid van 316km/u is die GT C werklik n sportmotor met baie skop! Wat die S63 betref, is dit sekerlik die vinnigste en kragstigse motor wat ek al bestuur het. Neem nou in ag dat hierdie S63 Cabriolet byna 700kg swaarder as die GT C weeg, dan is die verrigtingsyfers eenvoudig verbysterend. Die groot Benz het 3,9 sekondes nodig om tot by 100km/u te versnel en in standaardgewaad met die beperker in plek hou hy op versnel by 250km/u. Maar as jy Mercedes mooi vra, verwyder hulle die beperker en dan raak sy asem eers by 310km/u op. Wat egter nog meer indrukwekkend is, is die manier waarop die motor byna onmiddellik veral vanaf 120km/u to 160km/ versnel. Dit neem slegs 3 sekondes van 120 na 160 en alles gebeur glad en soomloos. Brandstofverbruik in albei die motors is ook nie wat ‘n mens sou verwag van n groot V8 met 2 turbo’s nie. Die GT C het ons ‘n gemiddelde verbruik van 9,1 l/100km gegee en die S63 kon ‘n syfer van 9,3l/100km aanteken. Dit beteken dat jy 824km ver in die GT C sou kon ry met sy 75-litertenk en 860km met die S63 se 80-litertenk.

Gevolgtrekking

Nou kyk, nie een van hierdie twee AMG-Mercedesse is bekostigbaar nie, veral nie vir ons gewone sterflinge nie, maar plaas hulle in hul onderskeie segmente en dan sien ‘n mens eintlik watse waarde vir jou verrigting en luukse geld die motors bied.

Die GT C ding mee teen motors soos die Porsche 911 GT3 Touring en is R132 000 goedkoper as die Porsche, bied 220Nm meer wringkrag, 42 KW meer krag, is 0,2 sekondes vinniger tot by 100km/u en het ‘n sagtedak wat kan afslaan. Maar vir die R2 744 295 wat die GT C jou uit die sak gaan jaag, kan jy ‘n AMG SLC 43 koop plus ‘n E400 4 Matic plus ‘n C220d vir jou vrou en dan kan jy nog R15 000 se brandstof ook vir jou drie motors ingooi. Wat die S53 Cabriolet betref, ding hy mee teen motors soos die BMW M6 Convertible wat 18KW minder bied en 220Nm minder asook 0,4 sekondes stadiger tot by 100km/u is. Of die Maserati GranTurismo Sport waar die Benz byna R500 000 goedkoper is. Die Mazza bied egter meer krag en wringkrag en is vinniger tot by 100km/u met ‘n hoer onbeperkte spoed. Dít gesê, teen R2 968 418 sal ek eerder ‘n AMG E400 Cabriolet 4Matic asook ‘n GLC 250d 4Matic en ‘n X250d Power 4Matic koop en dan nog ‘n oorsee se reis meemaak en R15000 se brandstof in die voertuie kan gooi!

Hierdie is albei droommotors wat bewys dat Mercedes-Benz van die heel beste rygoed ter wêreld bou, maar dit is darem maar vreeslik baie geld vir ‘n motor!

Mercedes Benz GT C Roadster

Prys

3 uit 5

Voorkoms buite

5 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

3 uit 5

Agter die stuur

5 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

5 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

36 uit 40

 

Mercedes Benz S63 Cabriolet 4Matic

Prys

3 uit 5

Voorkoms buite

5 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

5 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

5 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

37 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.