Leon Lemmer: Die waarde van ‘n lappie grond

Ons het plaaslik die era van owerheidsdiefstal van blankes se eiendom betree. Dit is deel van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie. In 1990/94 het die ANC suksesvol onderhandel om die politieke mag te bekom. Dit was die eerste rondte van die revolusie. Sedertdien poog die ANC om sy onvervulde ideale te verwesenlik. Dit is die tweede rondte van die revolusie. Die Vryheidsmanifes van 1955, met sy sterk kommunistiese inslag, dien as rigsnoer. Die ideaal is dat alle grond staatsbesit moet word. Alle gesondheidsdienste moet onder die staat ressorteer. Private inrigtings moet ondergeploeg word. Private skole, universiteite, hospitale, mediese fondse, ens, is voorbeelde van instansies wat in hierdie oorgangstyd geduld word maar so gou moontlik uitgewis sal word – as toegelaat word dat die ANC die politieke mag behou.

Die ANC het alles in die stryd gewerp om die politieke mag te bekom. Myns insiens sal hy alles moontlik doen om daardie mag te behou. Tirannie is meer kenmerkend van die ANC as demokrasie. Ek skryf hierdie keer oor die deurslaggewende belangrikheid van iets wat al hoe minder deur die ANC aan blankes gegun word, naamlik grond. Hierdie rubriek dien as aanvulling van wat ek voorheen oor Joegoeslawië geskryf het (Kosovo, Praag 12.05.2018; Uskokke, Praag 1 Julie 2018).

Na die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1989 het Joegoeslawië binne enkele jare in verskillende lande uiteengeval. Serwië, Kosovo en Masedonië is binnelandse state sonder seeverbinding. Montenegro het ‘n substansiële kuslyn van 294 km aan die Adriatiese See, met dorpe soos Hercegnovi, Budva, Petrovac, Bar en Ulcinj. Kroasië het ‘n baie langer kusgebied bekend as die Istrië-skiereiland en Dalmasië. In die noorde van Istrië het Slowenië ‘n kuslyn van net 47 kilometer met dorpe soos Piran, Izola en Koper, wat hierdie land se enigste handelshawe is. Wat minder bekend is, is dat Bosnië-Herzegovina ‘n seeverbinding van net 20 kilometer met ‘n enkele dorp, Neum, het. Die land het nie ‘n eie handelshawe nie en moet daarvoor veral van Polce in Kroasië gebruik maak. Die voorneme is egter om ‘n handelshawe by Neum aan te lê.

Die Neum-gebied was voorheen deel van die staat Dubrovnik maar is na die Habsburg-Ottoman-Oorlog (1683-1697) ingevolge die Karlowitz-verdrag van 1699 afgestaan. Dit is deur die Habsburgers gedoen ten einde goeie betrekkinge met Herzegovina en dus die Ottomaanse Ryk te bevorder. In werklikheid is hierdie gebied reeds voorheen deur Dubrovnik aan die Ottomaanse Ryk verkoop ten einde beskerming teen die gevaar van oorheersing deur die staat Venesië te bekom. Dubrovnik was die toegangspunt aan die Adriatiese See tot die lonende handelsroete na Konstantinopel (tans Istanboel) in Turkye. Die Habsburgse Ryk het ná 1699 sonder sukses probeer om die Neum-gebied van die Ottomans terug te koop. Die Habsburgers wou die skeiding tussen noordelike en suidelike Dalmasië, wat Dubrovnik insluit, ongedaan maak.

Die fragmentering van Dalmasië het in 2013 ‘n ernstige probleem geword toe Kroasië, ná ‘n proses wat ‘n dekade lank geduur het, uiteindelik tot lid van die Europese Unie (EU) toegelaat is. Een van die redes vir die vertraging was dat Slovenië, wat sedert 2004 ‘n EU-lid is, daarop aangedring het dat sy dispute met Kroasië oor grond- en seegebied, bv in die baai van Piran, eers opgelos moet word. ‘n Voorwaarde vir EU-lidmaatskap is dat ingevolge die Schengen-konvensie (wat sedert 1995 in werking is) daar streng toegangsbeheer aan die buitegrense van die EU moet wees. Die Neum-gebied veroorsaak dat die Kroasiese padnetwerk 20 kilometer lank onderbreek word en daar deur die EU vereis word dat aan albei kante streng paspoort- en visumbeheer uitgeoefen moet word. Bosnia-Herzegovina het nie EU-lidmaatskap nie. Hierdie beheermaatreëls is ‘n groot en duur lastigheid vir enigeen wat van noord na suid, of omgekeerd, in Dalmasië reis.

Aan die Dalmasiese kus is daar talle eilande en skiereilande. Naas die ongeluk van die 1699-ooreenkoms is daar die geluk dat ‘n brug op Kroasiese grond- en seegebied gebou kan word wat die Neum-gebied systap. Dan sal die genoemde twee beheerpunte nie meer nodig wees nie. Geld sal op hierdie manier bespaar en baie rompslomp uitgeskakel word. Maar so ‘n brug sal baie geld kos en Kroasië is nie ‘n groot, ryk land nie. Dit is onwaarskynlik dat Bosnië-Herzegovina, met sy oorwegend Moslem-bevolking, binne afsienbare tyd tot die EU toegelaat sal word. Turkye, met ‘n Moslem-bevolking van meer as 80%, kon na jare se probeerslae nog nie EU-lidmaatskap bekom nie. Dit kan ook betwyfel word of die meerderheid inwoners van Bosnië-Herzegovina EU-lidmaatskap verlang. Gelukkig het die EU ingewillig om 85% van die koste van die brug en ompad via die Peljesac-skiereiland te dra, nadat dit geblyk het dat alternatiewe, soos ‘n pontdiens of ‘n ondersee-tonnel, nie gewens is nie.

Konstruksiewerk aan die Peljesac-brug het in 2007 begin maar is telkems vertraag, enersyds vanweë aanvanklike finansiële probleme en andersyds weens besware wat Bosnië-Herzegovina geopper het. Die vryhoogte tussen die see-oppervlak en die brug is van 35 tot 55 meter verhoog sodat seevaart na Neum nie belemmer sal word nie. Die brug sal 2404 meter (1½ myl) lank wees en breed genoeg (21 meter) om 4 verkeersbane moontlik te maak. Die kontrak vir die oprigting van die brug is aan ‘n Chinese maatskappy toegeken. Werksaamhede sou na verwagting verlede maand hervat het en die projek se kontraktuele voltooiingsdatum is 2022. Vir verdere inligting en ‘n geografiese kaart raadpleeg die artikel “Peljesac Bridge” in die Wikipedia.

In Suid-Afrika noodsaak (potensiële) geweldpleging die gebruik van plaaslike arbeid, wat ondoeltreffendheid en vertragings (bv weens stakings) tot gevolg kan hê. Chinese kontrakteurs verkies en vereis selfs (bv in die geval van groot padkonstruksie-kontrakte in Kenia en Tanzanië) dat (uitsluitlik betroubare, ingevoerde) Chinese arbeid gebruik word. ‘n Moontlike bonus was dat baie honde uit die konstruksie-omgewing verdwyn het. Plakkerskampe in Afrika huisves dikwels ‘n oormaat honde terwyl die Chinese baie lief vir hondevleis is; te meer as dit gratis bekombaar is. Die toekenning van die hoofkontrak vir die Peljesac-brug aan ‘n Chinese maatskappy het nie sonder protes verloop nie. Dit word as ‘n voorbeeld van (potensieel) gevaarlike Chinese indringing in Europa beskou (Vir konteks lees: “Chinese indringing in Australië en elders,” Praag 16.06.2018).

Kroasië begeer aaneengeslote grondgebied terwyl Bosnië-Herzegovina eie toegang tot die see verlang. Vir albei is die Neum-gebied gesogte terrein. Dit toon hoe belangrik en waardevol ‘n lappie grond kan wees; dat grond nie iets is wat (maklik) verkoop of geskenk behoort te word nie. Dit het vir Kroasië onbetaalbaar duur geword om die 1699-vervreemding van die Neum-gebied te omseil. Dit sou selfs in groter mate onherstelbare skade gewees het as die EU onwillig was om ruim tot die koste van die Peljesac-brug by te dra. Ons het hier met 1699-onnoselheid oor ‘n klein stukkie grond te make. Onmeetlik groter is die dwaasheid van 1990/94 toe ‘n hele land, die Afrikaners se vaderland, mandaatloos verkwansel is. Die koste van die (permanente) ruïnering van Suid-Afrika sal nooit betroubaar bereken kan word nie.

Een van die hemelskryendste gevolge van die huidige grondwetlike bedeling is dat die ANC-regering beoog om die eiendomsreg van blankes sonder enige vergoeding op te sê. Om grond teen (redelike) vergoeding te konfiskeer is ‘n uiters drastiese stap. Vir enige owerheid om selfs nog radikaler te wees deur op ‘n grootliks rasgebaseerde grondslag aanspraak op grond sonder vergoeding te maak, is absoluut verregaande. Dit druis direk in teen elementêre ordentlikheid, beskaafde (Westerse) norme, die grondbeginsels van demokrasie, nie-rassigheid en doodgewone menslikheid. Voortaan sal die ANC nie meer met integriteit daarop aanspraak kan maak dat hy bv versoening en nasiebou bevorder nie. Wat grondgryp as amptelike beleid duidelik maak, is dat die ANC toelaat dat sy misdadige kern duidelik aan almal geopenbaar word; ook dat die ANC glad nie die vermoë het om tussen misdaad en wat reg is te onderskei nie. Dit is gevolglik ook ‘n ydele hoop dat daadwerklik teen bv plaasmoorde opgetree sal word. Die ANC se beleid is ‘n misdaad teen die blankedom en die Suid-Afrika van weleer – of Cyril Ramaphosa van my standpunt hou of nie.

Grond is iets wat ‘n mens nie bo-oor jou wil hê nie. Grond is iets wat jy onder jou voete wil hê. Niemand behoort toegelaat te word om grond teen jou wil van jou weg te neem nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.