Leon Lemmer: Die Uskokke en die Afrikaners

Moderne voorstelling van Uskok-vegters

Christo van Rensburg het oornag die gewildste Afrikaanstaalkundige geword omdat hy beweer dat Afrikaans reeds in die 16de eeu, dus lank voor Jan van Riebeeck se tyd, bestaan het. Van Rensburg word wyd en syd uitgenooi om hierdie taalkundige stommiteit by byeenkomste soos dié van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die ATKV te verkondig. Die bedoeling is nie om Standaardafrikaans en taalsuiwerheid te bevorder nie, maar eerder om ‘n soort “inklusiewe Afrikaans”, bv Kaaps, wat oormatig met Engelse woorde besoedel is, te ondersteun. Daarom verkondig die ATKV elke Sondagoggend op RSG: “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie.” Van Rensburg se innoverende dwaasheid oor Afrikaans is hoogs spekulatief (eintlik wensdenkery) en is nie wetenskaplik-taalkundig in bronne gegrondves nie, maar word deur ‘n sug na politieke byderwetsheid gemotiveer.

Voor 1600 het min skepe om die Kaap gevaar en nog minder het in Tafelbaai anker gegooi. Enkele lede van hierdie bemannings het beperkte kontak met ‘n klein aantal inheemse inwoners gehad. Daar was onder meer ruilhandel, maar dit is waarskynlik by uitstek moontlik gemaak deur eerder die voorwerpe te wys en te beduie wat die een party met die ander party wil ruil as wat die Khoi-Khoin in skeppingsvermoë uitgemunt het deur ‘n nuwe taal, Afrikaans, te skep. ‘n Mens kan jouself afvra: Waarom het die Khoi-Khoin se beweerde skeppingsvermoë in (alle) ander opsigte ontbreek? Die bemannings van die skepe was ook nie almal Hollanders nie, selfs nie in die geval van die Hollandse skepe nie. Verder was daar bv Portugese en Spaanse skepe. Ook Engelse skepe met Engelse bemannings, maar ek noem dit met huiwering omdat dit aanleiding kan gee tot ‘n nuwe dogma, naamlik dat die brouseltaal Kaaps lank voor 1652 bestaan het.

Ek beskou Jan van Riebeeck se geselskap en ander Europeërs, wat hulle aan die Kaap gevestig het voor die Britse oorname in 1806, as Oer-Afrikaners. Wat Van Rensburg en diesulkes doen, is om Afrikaners se aandeel in die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans af te skaal en dit tydens hierdie byeenkomste selfs te verswyg, insluitende die onbetwisbare Nederlandse wortels van Afrikaans. Daarenteen word die aandeel van die Khoi-San buitensporig verheerlik. Van ‘n taalkundige muis word ‘n polities korrekte olifant gemaak. Jan van Riebeeck (1619-1677) was van 1652 tot 1662 die VOC-kommandeur aan die Kaap. Hy is dus heeltemal ‘n 17de eeuse verskynsel terwyl Van Rensburg van die ontstaan en bestaan van Afrikaans ‘n 16de eeuse verskynsel probeer maak terwyl daar toe seker(lik) nie eens (beduidende) proto-Afrikaans bestaan het nie. In hierdie rubriek skryf ek vervolgens oor die 16de eeu. Hierdie inleiding is nodig geag nie net om ‘n aantal pro-Afrikaanshoue te plant nie maar ook om wat volg in sy historiese konteks te plaas.

Rebecca West

In my rubriek oor Kosovo en Serwië (Praag 12.05.2018) verwys ek na Rebecca West (1892-1983) se beroemde reisboek, Black lamb and grey falcon: A journey through Yugoslavia (New York: Open Road, 1940/2010, 1326p; Amazon Kindle $17,24). In die hoofstuk oor Dalmasië is daar ‘n afdeling oor die dorp Senj aan die Adriatiese See. Daarin word die geskiedenis van die Uskokke* vertel; ‘n klein groepie mense van enkele duisende wat in die 16de eeu floreer het maar in die 17de eeu as diaspora grootliks van die aardbol verdwyn het. Wat my aangegryp het, is die talle ooreenkomste met die Afrikaners, maar daar is ook beduidende verskille. [* Die benaming “Uskok” is afgelei van ‘n woord in die Kroatiese taal wat letterlik om in te spring of in ‘n hinderlaag voor te lê (“ambush”), beteken. Ek het aanvanklik probeer om die spelling van hierdie Engelse benaming te verafrikaans, maar dit het tot te veel probleme aanleiding gegee.]

West beskryf Uskok-bedrywighede in die Adriatiese See, wat tussen Italië en Joegoeslawië is. In die 16de eeu was die staat Venesië in beheer van die talle eilande (Cres, Krk, Rab, Pag, ens) en die suidelike Dalmasiese kusgebied (Novigrad, Zadar, Sibenik, Split, ens); ook die Istrië-skiereiland, bv Pula, in die noorde. Die Habsburgse (of Oostenryk-Hongaarse) Ryk het in Triëst en in Rijeka/Fiume en ander noordelike kusdorpe van Dalmasië (Bakar, Vinodol, Senj, Karlobag, ens), asook in die binneland van Kroasië, gesag uitgeoefen. Die Ottoman-Turke/Moslems het die binneland van Joegoeslawië in die suide en ooste beset. Dubrovnik/Ragusa in die suide van Dalmasië was nominaal ‘n onafhanklike gebied maar onder die beskerming van die Ottomaanse Ryk, dus ‘n protektoraat, wat vryelik handel met Venesië gedryf het.

Dalmasië is om twee redes ‘n smal kusstrook: geografies omdat dit deur die Dinarides-bergreeks van die binneland geskei word en polities/kultureel omdat die inwoners in die binneland Ortodokse christene of Moslems is, terwyl Dalmasië Rooms-Katoliek is. In 395, toe die Romeinse Ryk in twee verdeel is, met Rome as die hoofstad van die westelike en Bisantium as die hoofstad van die oostelike deel (tot 1453, daarna Konstantinopel genoem), is Dalmasië by die weste en die res van Joegoeslawië (soos dit later genoem is) grootliks by die ooste ingedeel. Die geskiedenis van hierdie gebied dateer uit die antieke Griekse en Romeinse tyd. Van die suidelike kusdorpe en -stede (of items in hulle) is Unesco-verklaarde wêrelderfenisgebiede (bv Zadar, Sibenik, Trogir, Split, Dubrovnik). Daar word gewag gemaak van die invalle van barbare, bv die Hunne, soos wat voorgekom het in die geskiedenis van (feitlik) enige land. Wat ek eienaardig vind, is dat Suid-Afrika deesdae voorgehou word as ‘n land wat sedert oertye en sekerlik toe Jan van Riebeeck hier aangekom het, voortreflike inheemse mense gehad het wat idillies in rus, vrede en voorspoed as gelykes saamgeleef het.

Anders as in die geval van ander lande het barbare glo nie Suid-Afrikaanse grondgebied van elders af oor land binnegedring nie. Histories was die land glo vry van barbare en sy geluk duur voort deurdat hier deesdae geen mense is wat as onbeskaafdes geëtiketteer mag word nie. Suid-Afrika se probleme het na bewering in die 17de eeu begin toe blankes van oorsee hulle hier gevestig het. In ander lande het die aankoms van blankes (bv vanweë kolonialisme) ontwikkeling en voorspoed gebring. Dit het glo nie in Suid-Afrika gebeur nie. Hierdie land is blykbaar gedoem om anderster, ‘n unieke of abnormale samelewing, te wees. Deesdae word daar onderskei tussen die heiliges (die nie-rassiste) en die onheiliges (die rassiste), dus die room (die Khoi-San en die indringende swartes) en die skuim (die Europeërs). Die nuwe Suid-Afrika het baie Afrikane wat swart Afrika ter wille is, maar min Suid-Afrikaners wat die land se eertydse glorie kan herstel. Gelukkig is daar darem nog Afrikaners oor.

West skryf die christelike Uskokke “were originally Slavs of blameless character who fled before the Turks as they swept over Bulgaria and Serbia and Bosnia, and formed a strange domestic army, consisting of men, women and children” (2199). Dit het my laat dink aan die Voortrekkergesinne wat in 1838 by Bloedrivier suksesvol weerstand teen uitwissing gebied het. Baie Ortodokse christene het tot in Dalmasië gevlug. Die Turke het christene as “ongelowiges” om die lewe gebring, of hulle onder dwang tot Islam bekeer, of hulle swaarder as Moslems belas. Desmond Tutu het in Londen ‘n magistergraad met ‘n verhandeling oor Islam verwerf, hoewel sy kennis van Arabies uiters beperk is. Terug in Suid-Afrika het hy op sy kenmerkende onoorspronklike manier uiting aan sy anti-blanke gesindheid gegee deur voor te stel dat blankes teen ‘n hoër koers as nie-wittes belas moet word. In die Adriatiese See-gebied in die 16de eeu was die onderskeid tussen christen (hetsy Rooms-Katoliek of Ortodoks) en Moslem van deurslaggewende belang.

Die Uskokke het van 1532 tot 1537 ‘n bergpas by Klis, naby Split, suksesvol teen die Turke verdedig. “Then suddenly they were told by their Christian neighbours to abandon the position. Venice, which had just signed a pact with Turkey … convinced Austria that it would be wise to let Turkey have the pass as a measure of appeasement” (2204). Deesdae is ons plaaslik goed vertroud met die talle vorme wat versoening kan aanneem; selfs owerheidskonfiskering sonder vergoeding van blankes se eiendom word goedgepraat. “Then the Uskoks came down to the coast and settled in this little town of Senj, and performed a remarkable feat. Up till then they had displayed courage and resolution of an unsual order. But they now showed signs of genius” (2204). Dink aan wat onder die leiding van Afrikaners in die suide van Afrika, ver van Europa af, tot stand gebring is.

“Most of them were inland men … But in a short time they had raised themselves to the position of a naval power … The Uskoks has unusual talent for boat-building. They devised special craft to suit the special needs of the Dalmatian coast … light boats that could navigate the creeks and be drawn up on the beach where there was no habour” – soos die Voortrekkers wat as kundige wamakers ontpop het. “They chased the Turkish ships up and down the Adriatic, stripped them, and sank them; and year by year they grew cleverer at the game. This success was amazing, considering they numbered at most two thousand souls. If the Venetian fleet had been directed by men of the quality of the Uskoks the Turks might have been driven out of European waters, which would have meant out of Europe, in the middle of the sixteenth century” (2214). Dit kan vergelyk word met hoe die Afrikaners hulle van 6 April 1652 tot 2 Februarie1990 teen ‘n vyandige oormag gehandhaaf het. West tref ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen twee groepe mense, die Venesiërs en Uskokke – die soort onderskeid wat deesdae dikwels as ‘n dwaling gediskrediteer word. In die 16de eeu was daar egter in hierdie geografies gebied ‘n sterk bewustheid van kulturele, veral religieuse, verskille.

Venesië se mag was besig om te taan. “She tried to placate Turkey … She stopped attacking her at sea. To the Uskoks this capitulation of the great Christian powers must have seemed the last word of treachery” (2219) – soortgelyk aan die onttrekking van die Europese koloniale moondhede aan Afrika. “They had, within the memory of all those among them who were middle-aged or over, been driven from their homes by the Truks in atrocious circumstances; and they had believed that in harrying the Turks they were not only avenging their wrongs but were serving God and his Son (2219). Dink aan die gelofte wat die Voortrekkers voor die Slag van Bloedrivier afgelê het.

Van 1571 tot 1573 was daar oorlog tussen Venesië en die Ottomaanse Ryk. Daarna word die Uskokke behandel “as enemies of Christendom, for no other crime than attacking its enemies … How were they to live? Till then they had provided for themselves, quite legitimately, since the Turks had dispossessed them of all their homes, by booty from Turkish ships … There was nothing for the Uskoks to do except defy Venice and Austria, and attack their ships and the Turks’ alike” (2225) – soos die Boere-republieke wat teen die inhalige Britte se diamant- en goudkoors oorlog gevoer het. “For nearly thirty years they lived in such a state of legitimate and disciplined warfare that they attacked only Turkish ships. It is not until 1566 that there is the first record of an Uskok attack on a Christian ship” (2230).

“The Austrians did little to restrain the Uskoks after they had become pirates … it is certain that Venetian officials often bought the Uskoks’ prizes from them and marketed them at a profit in Venice” (2235). “Murder had been a necessary part of such [pirate] expeditions” (2240). Ander lande, bv Brittanje, het gebaat uit handel met blank Suid-Afrika maar voorgegee dat hulle vreeslik begaan oor die welstand van die nie-blankes is. “Both Venice and Austria used the degradation of these men as extra aces in their cheating game. The Austrians pretended to want to suppress them, but rather liked to have them harrying Venice. Venice sacrificed them to her friendship with Turkey, but that friendship was a sham; she never really wept over those Turkish ships … The insincerity of both parties was proven by their refusal to grant the Uskoks’ demand, which was constantly presented during a period of fifty years, that they should be transported to some inland place and given a chance to maintain themselves” (2246). Baie skynheilige Engelse kiesers het destyds vir die Nasionale Party gestem maar voorgegee dat hulle teen apartheid was. Soos die Uskokke begeer baie Afrikaners deesdae selfbeskikking in ‘n eie tuisland.

“Again and again the poor wretches explained that they had no means of living except by piracy, and that they would abandon it at once if they were shown any other way of getting food … At the same time the Uskoks were not allowed to go to any country which was prepared to make room for them … They were shut up in piracy as in jail by powers that affected to feel horror at their crimes” (2251) – soortgelyk aan die afkeer van apartheid wat so graag uitgespreek word sonder om in ag te neem dat dit primêr om die selfbehoud van blankes gegaan het en nie om die benadeling van ander mense nie. Geen buitelandse regering doen werklik moeite om Afrikaners uit hulle huidige benarde posisie te red deur aan hulle ‘n toevlugsoord te bied nie. Dit wil voorkom asof die gewete en moraliteit van Westerse en ander lande op amptelike vlak buitengewoon sensitief is as nie-wittes en veral swartes na bewering benadeel word, maar dat daardie gevoeligheid ontbreek wanneer onreg, soos tans in Suid-Afrika, teen blankes gepleeg word.

Maar ook in Suid-Afrika word daar met twee mate gemeet. Weens religieuse onderdraagsaamheid het die Talibanse Moslems in 2001 twee reuse Boeddha-beelde van onderskeidelik 35 en 53 meter hoog, wat uit die 4de en 5de eeu dateer, in die Bamiyan-provinsie in Afganistan met plofstof vernietig. Hierdie vandalisme is wêreldwyd veroordeel. In Suid-Afrika word die een monument na die ander weens politieke onverdraagheid vernietig, na elders verskuif of buite sig geplaas. Hierdie aksies word deurgaans deur swartes bedryf en is uitsluitlik teen die belange van blankes en veral Afrikaners gemik. Dit is pogings om die historiese nalatenskap en herinneringe van hierdie etniese minderheidsgroepe uit te wis en hulle kultuureie te vernietig. Dít terwyl minderheidsgroepe in ander lande polities korrek beter eerder as slegter deur die meerderheid behandel word. Sover ek weet is wat met monumente in Suid-Afrika gebeur nog nooit met die genoemde Taliban-vadalisme in verband gebring nie, nie in die buiteland nie en ook nie binnelands nie, terwyl albei die gevolg van ideologiese onverdraagsaamheid is. Omdat daar van die blankes se kant nie (genoeg) daadwerklike regmatige verset is nie, word toegelaat dat die aktivistiese plaaslike swartes hiermee wegkom. Dit dien as aanmoediging om al hoe groter kanse te waag, al hoe meer astrant en uitdagend te word en die blankes dus al hoe meer te benadeel en veronreg.

“In the end their problem was settled in the course of an odd war between Austria and Venice … This war [also called the Uskok War]… lasted three years [1615-1618] … A good many [Uskoks] were hanged and beheaded and the rest were transported, as they themselves had requested for fifty years, to the interior” (2261). In Suid-Afrika bring die Afrikaners deesdae offers in die vorm van bv uitermatige blootstelling aan misdaad, insluitende moorde, die erns waarvan deurlopend deur die onsimpatieke owerheid misken en selfs ontken word. Vir die selfbeskikking van blankes of Afrikaners in ‘n eie tuisland is daar geen simpatie by die ANC nie.

“There were no stout fortresses built for them, or hopeful villages, for no certain trace of them can be found. Some say their descendants are to be found on the Alps at the very southern end of Austria; others have thought to recognise them on the slopes of a mountain in North Italy. It is to be feared that their seed was scattered on stoney ground. That is sad, for the seed was precious” (2266). West verwys hier na die gelykenis van die saaier (Matteus 13: 3-8; Lukas 8:5-8). Daarvolgens is daar voëls/misdadigers wat die saad/oes steel en onkruid wat dit verdring. Die gelykenis veronderstel dat grond nodig is om ‘n oes moontlik te maak. Maar dit is juis grond wat al hoe minder aan Afrikaners gegun word, of dalk glad nie meer nie.

Aan die ontwortelde Uskokke is nie huise toegeken nie. In die nuwe Suid-Afrika verwag nie-wittes dat hulle sonder teenprestasie gratis huisvesting en dienste moet ontvang. As daar nie gou genoeg aan hulle eise voldoen word nie, word gewelddadige optogte gehou en sabotasie gepleeg, wat meesal eerder gunstige as ongunstige gevolge vir hulle het. Onrusstokers het aan hulleself die reg toegeëien om enige pad, insluitende hoofweë, te blokkeer, dikwels sonder dat vooraf vertoë gerig is. Dan moet daar vasgestel word waaroor hulle gegrief is en beloftes aan hulle gemaak word. Intussen moet die motoriste teen eie ekstra koste en tyd “alternatiewe roetes” gebruik. Dit is onwaarskynlik dat so ‘n abnormale en ekonomies ontwrigtende situasie op so ‘n groot skaal al ooit in ‘n ander land voorgekom het en boonop skynbaar onbepaald deur die owerheid geduld word.

Ná 1902 en veral sedert 1994 is baie Afrikaners oor die aardbol versprei. In Argentinië, Angola, Kenia, Zimbabwe, ens, het bitter min van hulle oorgebly. Hoeveel tekens sal daar teen die einde van hierdie eeu oor wees van Afrikaners in Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, ens? En in Suid-Afrika? Selfs hier sal hulle plek hulle nie meer ken nie, tensy daar gou erns met Afrikaner-rehabilitasie gemaak word. Daar sal daadwerklike verset teen vertrapping en veronregting moet kom en selfbeskikking sal kompromisloos nagestreef moet word. As Indiërs of Jode deur swartes van rassisme beskuldig word, volg daar dadelik fel reaksies van individuele Indiërs of Jode en hulle instansies. Wanneer Afrikaners vals beskuldig word, is daar meesal dawerende stilte. Sodanige apatie moedig verdere valse beskuldigings en veronregting aan.

Catherine Wendy Bracewell

Catherine Wendy Bracewell het in 1985 ‘n doktorale proefskrif oor die Uskokke aan Stanford University voltooi. Sy het dit opgevolg met die volgende boek: The uskoks of Senj: Piracy, banditry, and holy war in the sixteenth-century Adriatic (Ithaca: Cornell University Press, 1992, 352p; Amazon Kindle 2015, $16.10). Bracewell is ‘n dosent aan die School of Slavonic and East European Studies van University College London. Die uitgebreide agtergrondsinligting wat West in haar reisboek verstrek is verbasend omdat sy dit in die voor-internet-era vermag het. Bracewell kon met haar wetenskaplike studie noodwendig op West se poging verbeter maar die kerngegewens het dieselfde gebly. Bracewell oordryf haar taak met herhalings en die verskaffing van besonderhede oor onbenullighede, maar sy het klaarblyklik deeglike argivale navorsing in verskeie lande en tale gedoen. ‘n Moontlike tekortkoming is dat sy min aandag skenk aan die verskille tussen Ortodokse christene (veral Serwiërs wat uit die binneland na Dalmasië gevlug het) en die tradisionele Rooms-Katolieke inwoners (veral Kroate) aldaar. Sy beweer die integrasieproses het moeiteloos verloop, waarmee sy ‘n (potensieel) groot probleem dalk te maklik afmaak.

Bracewell gaan van die volgende standpunt uit: “The term uskok denotes not a nation but a profession” (Kindle 103). Soos in die geval van “cossack” skryf Bracewell “uskok” gevolglik met ‘n kleinletter. “Kosak: lid van ‘n Oos-Slaviese volk van veral die Oekraïne wat as ruiters beroemdheid verwerf het” (HAT 2015). Die benaming “Kosak” word met ruiters geassosieer en “Uskok” veral met seerowers. Die benaming “Boer” word histories veral met landbou/boerdery verbind. Bracewell onderskei tussen die etniese en sosiale betekenis van “Kosak” en “Uskok” en gee voorkeur aan die sosiale betekenis. Volgens haar is die “uskoks” dus “sea and land raiders who served as irregulars in die Habsburg border garrison in Senj for almost a century” (149). “The uskoks were never solely, nor even primarily, sea raiders. Their piracy was largely a matter of ransacking vessels they found in port, often while on an expedition to raid inland” (2532).

Dit is inderdaad so dat sowel die Kosakke as die Uskokke meerdere etniese groepe omvat het. Maar om die Uskokke en die Afrikaners in hierdie rubriek sinvol te vergelyk, is dit nodig om groepverwantskap by albei te beklemtoon, wat terseldertyd (in groot mate) etnisiteit/kultuur insluit. “The uskoks did form a self-conscious unit with a distinctive uskok identity” (4248), al was hulle nie ‘n nasie nie. Sowel die Uskokke as die Afrikaners word deur hulle dade gekenmerk en kan daarvolgens geprys of veroordeel word. In navolging van die HAT (bv Kosak, Boer), asook die meeste outeurs, skryf ek Uskok gevolglik met ‘n hoofletter.

Etniese groepe is geneig om aan die rante uit te rafel, soos die destydse amptelike klassifikasie van blankes en bruin mense, wat jaarliks aanleiding tot gevalle van herklassifikasie gegee het. Wat Afrikaners betref, het die Afrikanerdom sedert 1994 drasties verklein maar sy etniese kern is gesuiwer deur bv baie kruipsugtiges en hanskakies af te skud. Die HAT beskryf “Boer” as: “(wit) persoon (met ‘n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal (gewoonlik) Afrikaans is; Afrikaner.” Let op hoe essensiële Afrikaner-kenmerke deur die gebruik van hakies opsioneel verklaar word.

Daarna word die volgende “sensitiewe kwessie” (p xv) aangeroer: “Hoewel ‘n bepaalde, konserwatiewe groep (wit) Afrikaanssprekendes, lede van die taalgemeenskap wat na ‘n eie heimat soos die historiese Boererepublieke hunker, na hulle self as ‘Boere’ verwys en hierdie benaming verkies, teken ander (wit) Afrikaanssprekendes eksepsie aan as hulle so genoem word en kan hulle dit as kwetsend/neerhalend/rassisties aanvoel/beskou.” Deur eie toedoen is sulke nie-Boere myns insiens dan ook nie-Afrikaners. “Afrikaner” word beskryf as: “(veral wit) persoon (met ‘n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal Afrikaans is.”

Bracewell het heeltemal reg wanneer sy skryf: “The term ‘Turk’ has acquired an ethnic meaning, entirely inappropriate to this area [Yugoslavia], where so-called Turks were often recently converted Slavs. In the sixteenth century ‘Turk’ was used much more broadly, to refer to the Ottoman state, to Muslims, or even to Christian subjects of the Ottoman Empire” (103). Soos in die geval van “Turk” dui die term “Arabier” nie altyd op ‘n enkele etnisiteit nie. Byvoorbeeld, in Noord-Afrika, veral in Algerië en Marokko, word die Berber-Moslems dikwels sonder meer, maar etnies verkeerdelik, Arabiere genoem. Die Berbers se taal, (T)Amazigh, verskil drasties van Arabies. Verder word soms beweer dat die Berbers voorheen blank was.

“The Habsburg archdukes and the Emperor, with papal support, hailed the uskoks for their role as a bulwark of Christendom, crediting them with preserving Europe from the onslaught of the Turk” (154). Maar wanneer Venesië die Uskokke beveg het, bv om guns by die Turke te soek of omdat die Uskokke Venesiese skepe van Turkse goedere beroof het, was die Pous geneig om kant teen die Uskokke te kies. Maar dit het nie sonder ‘n mate van skynheiligheid geskied nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n tiende van die Uskokke se buit ontvang (4334). Die Habsburgers, wat lisensies vir seerowery aan die Uskokke uitgereik het, het hulle in die steek gelaat wanneer hulle beter betrekkinge met Venesië begeer het en Venesië optrede teen die Uskokke se seerowery geëis het. Daar was “economic, political, and religious competition between the three empires that met in die Adriatic” (256).

Die Uskokke was ‘n klein groepie mense en ‘n speelbal wat fyngemaal is deur vier groter magte, wat elkeen voorkeur aan sy eie belange gegee het: Venesië, die Habsburgers, die Ottomaanse Ryk en die Pous as die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk. Dit herinner aan die blanke bewind in Suid-Afrika waar die blankes in wêreldperspektief ‘n ignoreerbaar klein groepie mense is en wat deur Westerse regerings soos Amerika en Brittanje op elke moontlike manier ondergrawe is om die swart meerderheid in Suid-Afrika en in die res van Afrika ter wille te wees. Die argument dat die plaaslike blankes gesorg het dat Westerse beskawing, die christelike geloof, doeltreffende regering en ekonomiese voorspoed hier bewaar en bevorder word, het hierdie sterk Westerse en verswelgend groot Afrika-magte nie van hulle vernietigingsdrang laat afsien nie.

Die Uskokke was binne die Habsburgse Ryk en terselfdetyd op die grense van die Venesiese en Ottoman-gebiede in Senj gevestig. Hulle was nie formeel deel van die Habsburgse leër nie maar daar is van hulle verwag om met die verdediging te help. “The uskoks, most of whom received no pay, were largely dependent on plunder for their livelihood and the fact that they so suppported themselves without further draining the empty coffers of the Frontier authorities, and indeed paid a portion of their booty to their military commanders and to the Habsburgs themselves, made them particularly attractive as border troops” (186). Dat blank Suid-Afrika een van die min lande (indien nie die enigste nie) in Afrika was wat nie deel van die bedelorde was wat van buitelandse hulp afhanklik was nie, het hom nogtans geen gunsteling in Westerse geledere gemaak nie.

Die Uskokke se plundertogte kan aan die nie-betaalkultuur van die Habsburgse Ryk toegeskryf en in daardie sin geregverdig word. Die beleid van rasse-segregasie, wat plaaslik deur die Britte begin is en in 1948 apartheid geword het, is ingestel om die selfbehoud van die blankes en die ontwikkeling en voorspoed van die land te verseker. Maar hierdie kernoorwegings is nie deur buitelandse moondhede of deur magshonger, destruktiewe binnelandse en ander Afrika-elemente aanvaar ter regverdiging of aanvaarding van die beleid nie. Soos bv slawerny en kolonialisme is apartheid sonder meer as irrasioneel, immoreel en onregverdigbaar verdoem, dus asof net slegte en onnosel mense so iets kon uitdink en toepas.

Bracewell se gesonde benadering tot die Uskokke is: “Asking not only what they did, but [also] why they did it; asking not just what were their relations with their allies, their victims, and each other, but also how they perceived and justified these relations” (404). Die Uskokke was rowers, stropers of plunderaars omdat hulle nie grond gehad het om op te boer nie en hulle as grenswagte glad nie of selde deur die Habsburgse owerheid betaal is of in elk geval te min betaal is om van te lewe. Daarom het hulle as vlugtelinge uit die Ottomaanse Ryk hulle in weerwraak gewend tot die plundering van Moslem/Turkse eiendom. Daarmee het hulle gehoop om terselfdertyd die belange van hulle christelike godsdiens te bevorder. Insgelyks, in plaas van apartheid, wat skaars vier dekades lank in ‘n enkele land met ‘n relatief klein bevolking toegepas is, hoogs oordrewe as ‘n misdaad teen die mensdom te etiketteer, behoort daar eerder billikheidshalwe nie net besin te word oor wat en hoe apartheid was nie, maar ook waarom dit toegepas is, naamlik om die blankes se selfbehoud, te midde van die Swart Gevaar en die Rooi Gevaar, te verseker.

Die Uskokke het aanvanklik slegs op land rooftogte uitgevoer. “During raids lasting weeks or months, the uskoks lived off the land or what they could capture, ambushing merchant caravans or Ottoman border troops, plundering cattle and taking prisoners for ransom” (193). Enersyds herinner dit aan die kundige manier waarop die blanke bewind binnelands en in die buurlande terroriste uitgeroei het. Andersyds laat dit ‘n mens dink aan die diefstal van blanke boere se vee, wat op groot skaal tot op hede plaasvind, sonder dat die regering aanvaarbare vordering met die bekamping van hierdie en ander misdade maak. Die probleem is nie net die kenmerkende ondoeltreffendheid van die huidige owerheid nie. Daar is moontlik ook ‘n element van simpatie met die misdadigers, gegewe die misdadige verlede (bv vandalisme, sabotasie en terrorisme) en hede (bv politieke moorde en korrupsie) van die ANC. In die ANC se DNS is daar ‘n misdadige kern, wat ‘n klad op die naam van Suid-Afrika is.

Nadat die Uskokke seevaardig geword het, het hulle hulle ook op seerowery toegelê en veral hiervoor bekend en berug geword. Aanvanklik is Turkse skepe wat Turkse goedere aan boord gehad het, geplunder. Mettertyd “these goods were increasingly carried on Christian vessels and formed an important part of the Adriatic trade. They were often carried on Venetian ships … Claiming the right and the duty to plunder the goods of the infidel, uskok bands in their small light barks ambushed shipping in Dalmatia’s ports and coastal waters and ransacked cargoes for merchandise belonging to Turks and Jews … fear of them [the Uskoks] was a factor that led Venice to send its great galleys to guard the merchantmen that sailed north from Split” (198). Die Habsburg-hawens is deur Venesië geblokkeer om optrede teen die Uskokke af te dwing en hulle bedrywighede aan bande te lê.

“The Venetians and Turks labeled the uskoks pirates and brigands. To the Habsburgs they were part of the Military Frontier, referred to as soldiers and servicemen” (268). “There was a clear distinction in the sixteenth century between pirates and corsairs, and between irregular soldiers and brigands” (273). Dit is maklik om tussen ‘n “pirate” (seerower) en ‘n “brigand” (struikrower) te onderskei, want eersgenoemde steel op see en laasgenoemde op land. Die onderskeid wat Bracewell egter wil tref, is tussen wettige en onwettige roof. Wettige roof is volgens haar wanneer sulke dade deur die owerheid goedgekeur is – soos die terrorisme van die ANC, wat met die seën van die Verenigde Nasies bedryf is, en nou, as “demokratiese” regering, die beoogde konfiskering sonder vergoeding van blankes se eiendom. “Both the corsair and the border soldier were rewarded with their own plunder. Thus it was not personal profit that distinguished between the pirate and the corsair – both were motivated by the hope of booty – but the legitimacy conferred by a recognized authority” (278). Byvoorbeeld: “In the Ukraine and the Crimea … cossack bands raided … on behalf of the Christian princes of Poland-Lithuania or Muscovy” (356).

Daar kan aangevoer word dat die ANC nie ‘n wettige owerheid is nie omdat die blanke kiesers nooit tot die huidige grondwetlike bedeling ingestem het nie. Die meerderheid blanke kiesers het bloot goedkeuring verleen dat onderhandelinge gevoer mag word, maar onderhewig aan die uitdruklike FW de Klerk-belofte dat die grondwet waarop ooreengekom is aan hulle vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Dit is nooit gedoen nie. Dit is verraad in sy suiwerste vorm. As die ANC ingevolge hierdie redenasie nie ‘n wettige regering is nie, is die beoogde onteiening van blankes se eiendom, as dit – soos beoog word – sonder vergoeding geskied, owerheidsdiefstal. Die vraag is verder of daar werklik so iets soos wettige misdaad, bv roof of terrorisme, kan wees. Veralgemenend kan seker gesê word dat alles wat in Suid-Afrikaanse blankes se besit is, of dit nou grond of plase of huise of wat ook al is, gekoop is en van niemand gesteel is nie. Daar bestaan in hierdie konteks dus nie so iets soos regverdigbare terugsteel deur wie ook al nie.

Die Britse marxistiese historikus, Eric Hobsbawm (1917-2012), het ‘n soort misdadiger geïdentifiseer waarmee ons reeds goed bekend is: “An outlaw regarded as a criminal by the state but as a hero by the peasantry” (295). In die ou Suid-Afrika is diegene wat misdade gepleeg het ten einde ‘n swart regering aan die bewind te stel “terroriste” genoem. In die nuwe Suid-Afrika word hulle “vryheidsvegters” genoem en as helde, volksvaders en -moeders, ikone, ens, vereer. “There is some relation between a bandit’s real behavior and his subsequent myth” (487). Dit kan ook van terroriste gesê word.

Maar daar is ‘n ander hedendaagse terminologiese verskynsel wat my mateloos irriteer. Net soos die Uskokke dikwels/meesal sonder nuanse as misdadige seerowers gekarakteriseer word, word die blanke regering van ná 1948 deesdae sonder meer die “apartheidsregering” (of “apartheidsregime”) genoem. Weens propaganda, wat veral deur die ANC versprei is, het klein mensies in die hede, bv kabouters wat as politici en joernaliste funksioneer, gesorg dat die benaming “apartheidsregering” onkrities ingeburger is en in algemene gebruik gekom het. Daarmee word die veelkantigheid van die destydse Afrikanerregering tot ‘n enkele aspek gereduseer, naamlik daardie element, te wete apartheid, waarvan die ANC en ander swart mag aanhangers en hulle meelopers nie hou nie.

In werklikheid het die Afrikanerregering oor ‘n wye front gepresteer. Daar is doeltreffend en behoorlik geregeer en daarby grootliks sonder korrupsie. Paaie is geteer en behoorlik in stand gehou. Wet en orde is gehandhaaf, danksy ‘n uitstekende polisiediens en weermag. Suid-Afrika was toe ‘n veilige, voorspoedige land gekenmerk deur Westerse standaarde en beskawing. Derduisende skole, huise en talle klinieke, hospitale en universiteite is opgerig en die deeglik geboude strukture is behoorlik in stand gehou; grootliks danksy blanke belastingbetalers en die arbeid van bekwame blanke amptenare. Die sentrale, provinsiale en plaaslike regerings het deurgaans gunstige ouditeursverslae ontvang. Geen munisipaliteit was miljoene rande in die skuld soos tans algemeen voorkom nie. Die owerhede het geld by uitstek aan dienslewering en verbeterde infrastruktuur bestee; nie soos tans aan salarisse, bonusse, konsultante, byvoordele (soos ampsmotors), reise, onthale, ens, nie. Deur die term “apartheidsregering” te gebruik, word die voortreflikhede van die vorige bedeling misken en die ernstige gebreke van die huidige regering gekamoefleer. Geen regering is sonder gebreke nie. Ten spyte van die tekortkominge van blanke regerings het die woord “Afrikaner-regering” vir my, op grond van eerstehandse ervaring sedert 1948, ‘n veel gunstiger klank as swart of ANC-regering.

Die vernaamste opsig waarin Bracewell se uiteensetting met dié van West verskil, is dat die Uskokke nie so gou en so volledig verdwyn het nie. In 1617 het die Venesiërs en die Habsburgers die Verdrag van Madrid gesluit. Daarvolgens was die Habsburgers verplig om die Uskokke uit Senj te verwyder, weg van die Adriatiese See waar hulle seerowery so baie probleme vir veral die Venesiërs veroorsaak het. Hulle is dus in die binneland (bv te Brinje, Otocac en Brlog) hervestig maar oor ‘n lang tyd. Sommige het terug na Senj gedros en weer rooftogte uitgevoer. Gedurende die hele 17de eeu het Uskok-roofbedrywighede steeds voorgekom. Eers in die 18de eeu het hulle as ‘n faktor waarmee rekening gehou moet word, verdwyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.