Dan Roodt: Vanuit Warskou, Brussel en Berlyn: ‘n plan teen grondonteiening

Tydens die TV-onderhoud met Janice Atkinson, lid van die Europese Parlement.

‘n Week gelede het ek by Jan Smutslughawe geland, terug van ‘n warrelwindtoer deur Europa waartydens ons ‘n groot aantal Afrikanervriende ontmoet het en vele meer gemaak het. Let wel: Ek sê nie OR Tambolughawe nie, omdat ek hom nie as marxistiese terroris wil vereer of erken nie. (Meer oor Jan Smuts en Pole later, want soos William Faulkner gesê het: “Die verlede is nooit dood nie. Dis nie eens verby nie.”)

Waar sal ek begin om die vele opwindende vergaderings, konferensies en ontmoetings te beskryf? Ter inleiding kan die leser dalk die YouTube-video kyk wat ons sommer op ‘n selfoon by die Brandburghek in Berlyn op Vrydag 8 Junie opgeneem en dadelik aanlyn gepubliseer het:

Indien ek op dié video moeg lyk, is dit omdat die reis teen dié tyd al sy tol begin eis het: ons het byna 4000 km per motor afgelê, hoofsaaklik op snelweë tussen Lublin in Pole en Brussel, met die grand finale in die Duitse hoofstad.

Dít alles het met ‘n twiet begin! Enkele maande gelede het ek op Engels getwiet dat ons die Pole destyds ‘n toevlug gebied het toe hulle van kommunisme wou vlug, en dat hulle ons tans dalk die guns kan terugbetaal:

Twitter is ‘n vreemde medium: ‘n mens druk ‘n gedagte of idee of feit in 140 karakters (tans darem bietjie meer) uit, maar gewoonlik val dit op dowe ore, of só lyk dit altans. Groot was my verbasing dus toe ek feitlik onmiddellik reaksie vanaf individuele Pole verkry! En só, bietjie vir bietjie, het die 140 karakters op Twitter tot ‘n grootse reis na Lublin en Warskou ontwikkel, wat my ook na Brussel, die hoofstad van die EU en Berlyn, die hoofstad van die belangrikste EU-land geneem het.

My twiet is intussen 327 kere hertwiet en 636 mense het daarvan gehou. In Maartmaand was dit my toptwiet wat die meeste mense bereik het. Dit is 87 000 kere gelees.

Dit voel egter asof ek ‘n miljoen karakters nodig het om die gevolge van my eerste 140 te beskryf. Daarom moet ek miskien met die belangrikste elemente begin: die bereiking van PRAAG se doelwitte in Europa.

As ek die doelwitte skoolmeesteragtig sou moes lys, lyk hulle so:

  • Om steun van regse partye in Europa te werf vir ‘n plan teen grondonteiening;
  • om plaasmoorde en die gestadigde volksmoord teen ons verder te internasionaleer deur daarvan insgelyks ‘n Europese politieke kwessie te maak
  • om kulturele en talige diskriminasie teen Afrikaans, wat aan ander Europese tale soos Nederlands en Duits verwant is, aan Europeërs bekend te maak;
  • om die ophemeling van kommunistiese leiers soos Joe Slovo en Bram Fischer na wie strate vernoem word, onder Europeërs se aandag te bring.

In al hierdie doelwitte het ons ryklik geslaag. In drie Europese parlemente (die Poolse Sejm, Duitse Bundestag en Europese parlement in Brussel), sal die kwessie van plaasmoorde geopper word sodat regerings en alle politici daarvan kan kennis neem.

Verskeie politieke partye en bewegings in Europa is bereid om aan ons alle steun te verskaf ten einde grondonteiening te stuit: Duitse AfD en Blou Party, die Poolse onafhanklike parlementslid Robert Winnicki (voorheen van die Kukiz’15-beweging), asook die regerende Wet en Orde-party ( Prawo i Sprawiedliwość) in dié land. By die Europese parlement in Brussel het die volgende partye hul steun aan ons stryd toegesê: Vlaams Belang (België), Rassemblement National (Frankryk, voorheen Front National), tesame met mev. Janice Atkinson (tans onafhanklik, maar voorheen lid van die Britse UKIP).

Mev. Atkinson het vir ons ‘n hele konferensie in ‘n ouditorium van die Europese Parlement gereël waaraan ek, sy, Philip Claeys van die Vlaams Belang en Jacques Colombier van die Rassemblement National deelgeneem het. Aanvanklik het sy byna ‘n uur lank met my ‘n onderhoud gevoer wat oor die Europese parlement se kanaal uitgesaai is.

Mnr. Philip Claeys gaan versoek dat reisbeperkings op ampsdraers van die ANC soos Cyril Ramaphosa en sy hele kabinet op Europese vlak ingestel word, soortgelyk aan dié wat teen Mugabe en lede van ZANU-PF gegeld het nadat dié land tot grondgryp oorgegaan het.

By die Europese Parlement in Brussel het ek ‘n konferensie van die parlementêre groep “Europa van Nasies en Vryheid” toegespreek, wat goed bygewoon is. Onder andere het ek ook ‘n paar woorde in Afrikaans en Frans gesê wat getolk is. Ek het boonop versoek dat Afrikaans tot minderheidstaal in Europa verklaar word aangesien dit slegs in naam enige amptelike status in Suid-Afrika geniet en daar aktief teen Afrikaans deur die ANC-bewind gediskrimineer word.​

Agterna het ek ook met mnr. Marcus Pretzell van die Duitse Blou Party (gelei deur sy gade, Frauke Petry) gesels wat insgelyks oor Suid-Afrika bekommerd is. ‘n Jonger lid van die Franse Rassemblement National, Bastien Rondeau-Frimas, het my op Frans verseker dat “die lot van Afrikaners die een kwessie is waaroor die Franse jeug almal begaan is”. Blykbaar sal ek op ‘n volgende besoek aan Europa met twee van die belangrikste Franse politici, Louis Aliot en Marine Le Pen, kan vergader om die Franse steun vir Afrikaners verder te bespreek. Let daarop dat ongeveer vyftig persent van alle Franse onder 25 vir die Rassemblement National stem, dus is die helfte van jongmense in daardie land aan ons kant, moontlik selfs meer!

‘n Vriend en ondersteuner wat ek verlede jaar tydens my besoek aan Bonn, Brussel en Amsterdam ontmoet het, mnr. Johan Grobbelaar, het my op die tog vergesel. Ons het per motor vanaf Warskou na Lublin in Pole gereis, daarna deur Duitsland tot in Brussel en weer terug na Berlyn waar ons die toer afgesluit het; dít alles binne iets meer as ‘n week. Uitputtend, maar dubbel en dwars die moeite werd!

Besoek aan Lublin

In Lublin, Pole is ek genooi om ‘n politieke en Protestant-godsdienstige groep, Stroomop (Idź Pod Prąd) tydens hul jaarlikse politieke kongres oor Suid-Afrika toe te spreek. Dié groep word gelei deur ‘n Protestantse pastoor, mnr. Pawel Chojecki, asook die politikus en vorige liggaamsbouer Marian Kowalski. Hulle modelleer hul op president Trump en die Amerikaanse konserwatiewe beweging wat sowel ‘n Christelike as ‘n anti-liberale en anti-kommunistiese aanslag saamvoeg. In Pole is die gruweldade van kommunisme oral nog vars in die geheue en wat my verstom het, is hoe die Pole onmiddellik ons situasie as ‘n uitvloeisel van die ANC-SAKP se marxistiese ideologie begryp het. Die gedagte dat ons eiendom binnekort deur die staat onteien gaan word, vervul hulle met afgryse, juis omdat dieselfde met hulle tydens veertig jaar van kommunisme gebeur het.

Een van die skyfies tydens my lesing oor Suid-Afrika en ons kommunistiese oorname.

Die beweging Stroomop staan krities teenoor die Katolieke Kerk, vanweë hul Protestantse ingesteldheid, maar ook omdat die Roomse Kerk oor die afgelope aantal jare polities links en selfs marxisties geraak het. Die vorige Poolse pous, Johannes Paulus II oftewel Karol Józef Wojtyła, het tydens sy ampstermyn van 1978 tot 2005 ‘n meer konserwatiewe benadering gevolg en word steeds in Pole vereer, onder andere in die kapel by die Poolse parlement waar die stoel waarop hy ingehuldig is, steeds bewaar word. Die huidige Argentynse pous, Franciskus (Jorge Mario Bergoglio) is ‘n Jesuïet en ondersteuner van mevrou Merkel en immigrasie na Europa.

Hier verduidelik ek wat grondonteiening sonder vergoeding behels terwyl my Poolse tolk dit na dié taal vir die gehoor vertaal.

Interessant is ook dat vele lede van Stroomop in Lublin ‘n T-hemp gedra het met die Engelse slagspreuk: “I am a Chirstian, not a pacifist.” Ek het verskeie lede van die groep daaroor uitgevra, en hulle verstaan daaronder dat Christene bereid moet wees om hulself te verdedig, asook meer strydvaardig te wees in die konflikte wat steeds die wêreld teister, sowel in Europa as in Suid-Afrika.

Tydens my twee toesprake in Lublin het ek genoem dat daar groter ekonomiese samewerking tussen Pole en Afrikaners behoort te wees, iets wat groot byval gevind het. Sowel Pole na die tweede wêreldoorlog as Suid-Afrika tans, het onder kommunisme gely. Daardeur is mense mishandel, verontmenslik en verarm. Daarom moet miljoene patriotiese Pole tans buite die land self werk omdat hul ekonomie steeds nie groot genoeg is om aan die totale bevolking werk te verskaf nie. Net so eindig honderde duisende Afrikaners vandag in plakkerskampe of moet emigreer weens die ANC-kommunistiese regering se diskriminerende wetgewing en maatreëls.

Omdat Pole oor sy eie geldeenheid, die zloty, beskik, is pryse daar redeliker as in die eurosone waaronder Duitsland, Benelux, Italië, Frankryk, ens. val. In teorie behoort handel tussen Pole en Suid-Afrika dus moontlik te wees aangesien daar nie sulke groot prysverskille soos tussen ons en die eurosone bestaan nie. Ek was beïndruk met die gehalte van Poolse verbruikersprodukte, veral voedselprodukte. Vele van die voedselvervaardigers in Suid-Afrika staan nie net volksvyandig teenoor Afrikaners en Afrikaans nie, maar het ook hul pryse hemelhoog opgestoot.

Saam met Pastoor Pawel Chojecki van Stroomop (Idź Pod Prąd) (regs)

Danksy Stroomop en ander aktivistiese groepe in Pole, beskik ons nou oor ‘n vriendelike kanaal vir kommunikasie en samewerking met dié groot land met sy byna veertig miljoen inwoners, benewens die diaspora-Pole wat ‘n verdere tien tot twintig miljoen mense bedra.

Terug in Suid-Afrika, het ek my in ‘n muur van vyandigheid, veral van die ANC-beheerde staatsmedia, vasgeloop. Anders as vir Kallie Kriel van Afriforum, wou RSG my nie geleentheid gee om my wedervaringe tydens die Europese toer met hul luisteraars te deel nie. Volgens Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor, kan hy “niemand op RSG toelaat wat sy kollegas op sosiale media aanval” soos wat ek dit gedoen het met Lynette Francis nie. In ‘n vorige rubriek het ek verwys na Francis se “marxistiese sekte” genaamd “Praat Saam”, tesame met die werfbobbejane soos Hein Willemse, Rudi Buys en Elmien du Plessis wat hy sy as enigste “gesaghebbende” meningsvormers oor ingewikkelde kultureel-politieke kwessies gebruik.

Foeta Krige het gedreig “om Beeld te bel” wat my sou swartsmeer sodat ek uiteindelik soos Vicki Momberg in die tronk sou beland weens my kritiek op Willemse, Buys en Du Plessis. Ek vind dit nogal interessant dat RSG en die Naarpersorgane so nou saamwerk in hul propaganda-aksies teen Afrikaners wat die heersende marxistiese ideologie verwerp.

Tot dusver het daar egter niks van Krige se dreigement gekom nie, en eintlik sou ek dit geniet om deur die hoofstroom- linkse media aangevat te word, want ek het soveel minagting vir hulle en hul klakkelose, onnosele aanvaarding van die SA Kommunisteparty se idees dat ek geen so ‘n aanval vrees nie. Iewers is daar nog redelike mense in Suid-Afrika en in die buiteland wat deur die fanatisme en leuens van dié bestel kan sien.

Nog iets wat vir my baie leersaam in Pole was, was hoe ‘n groep soos Stroomop (Idź Pod Prąd) YouTube gebruik sodat hulle as’t ware oor ‘n aanlyn-TV-kanaal met direkte uitsendings beskik. ‘n Doktorale student en dogter van die stigter, Eunika Chojecka, 29, het haar Ph.D.-proefskrif opgeskop om haar voltyds aan die kanaal te wy. Tans in Suid-Afrika gebruik ons YouTube en soortgelyke kanale nog veels te min om alternatiewe media teenoor KykNET en die SAUK te skep.

In Augustus gaan ek vir vakansie terug Europa toe, maar gaan ook ‘n draai in Parys te maak om verdere kontak met Franse groepe en partye te bewerkstellig. Ek mag dalk selfs die betoging voor die SA ambassade in Den Haag bywoon.

Soos ek al voorheen gesê het, is die Pro-Afrikaanse beweging internasionaal veel sterker as wat die kunsmatige anti-apartheidsbeweging van destyds ooit was. Anti-apartheid was kunsmatig, omdat dit bloot deur ‘n klein groepie links-radikales met Skandinawiese, Nederlandse en Sowjetfondse aan die gang gehou is. Die internasionale afkeer van die ANC-bewind en die geweld van plaasmoorde is tans veel sterker onder gewone mense as wat die kunsmatige anti-apartheid ooit was!

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.