Motors: Opel Grandland stof sportnutsmededingers uit

Opel se wortels dateer terug na ‘n firma wat naaimasjiene vervaardig het, en deur Adam Opel in 1862 gestig is. In 1886 begin die maatskappy fietse vervaardig en sy eerste motor volg in 1899.

Die Duitser Adam Opel het vanaf 1899 tot 1931 met beperkte aandeelhouding van General Motors uit die VSA motors vervaardig. Vanaf 1931 het GM volle beheer oorgeneem van Opel en is die motor wêreldwyd met ope arms ontvang en het letterlik miljoene weergawes van hul opwindende modelreeks verkoop. In Europa as Opels, in Australië as Holdens en in Britanje as Vauxhaulls.

In Suid-Afrika is Opel tot en met 1986 deur GM versprei, maar met die ontrekking van GM uit Suid-Afrika as gevolg van sanksies is die Delta Motor Koorporasie gestig en Opel is nie net plaaslik vekoop nie maar ook vervaardig. Met die terugkeer van GM in 2003 het General Motors weer die leisels oorgeneem. Hierdie ooreenkoms het tot Maart 2017 voortbestaan toe GM weer vanuit die plaaslike mark ontrek het. Hierdie keer het GM besluit om die Opelverwantskap van byna 86 jaar te beëindig en Opel was sommer net so sonder heenkome.

Die Franse motorreus PSA wat Peugeot en Citroen vervaardig, het opel by GM vir ‘n bedrag van 2,2 miljard euro gekoop. Wat Opel in Suid-Afrika betref, het Isuzu uit Japan wat ook onder die GM-vaandel in SA verkoop is, die fabriek in Port Elizabeth oorgeneem. Opelmotors word vanaf 1 Januarie 2018 deur Willams Hunt Handelaars versprei. Williams Hunt is al sedert 1903 deel van die plaaslike motorlandskap. Hulle is ook deel van die Unitrans Groep. Williams Hunt het landswyd takke, onder meer in Centurion, Pretoria, Edenvale, Midrand, Randburg, Port Elizabeth, Kroonstad, Klerksdorp, Humansdorp en Fourways. Hulle verskaf ook onderdele en dienste vir Chevrolet, Isuzu, Saab, Cadillac en Hummer.

Ons het die geleentheid gekry  om die splinternuwe Opel Grandland X vir n paar dae onder hande te neem.

Die Opel Grandland X Enjoy van agter

Marksegmentmededingers

Net om die Grandland X mooi te klassifiseer: hierdie is ‘n nuwegenerasie- SportNutsVoertuig. In die plaaslike mark ding die volgende motors regstreeks mee met die Grandland X: Peugeot se 3008 1.6T Allure waarop die Grandland gebaseer is, Ford Kuga 1.5T Trend out, VW Tiguan 1.4 TSi Comfortline out en dan die Hyundai Tucson 1.6 Turbo Elite.

Bakwerk

Die Opel is tipies Duits met skoon doelgerigte, onderbeklemtoonde lyne wat mooi skoon en skerp vertoon. Daar is n middelplooi op die enjinkap wat die motor meer luuks laat vertoon en van skuins voor lyk die Opel baie meer sportief, asook kleiner as wat hy werklik is. Teen 4477mm is die Opel langer as die 3008 en die Tucson, maar ‘n aks korter as die Kuga en net-net korter as die Tiguan. Die 17-duimwiele kan na ons mening nog groter en dit sal dan die motor nog meer sportief laat vertoon. Die Grandland X is wel die breedste van al die bogenoemde motors teen byna 1860mm. Wat die asafstand betref, is die Opel langer as die Tucson maar net-net korter as die Ford en die VW. Van agter is die Grandland X ‘n bietjie generies en na ons mening is die syprofiel en voorkant werklik die mooier deel van die motor. Klein plat agterliggies en ‘n daklyn wat afkom na die relatiewe klein agterruit gee die Grandland X ‘n koepeeagtige voorkoms. Van al die bogenoemde voertuie lyk die Opel die meeste na ‘n effens groter luikrugmotor eerder as na ‘n SportNuts.

Binneruim

Die Grandland X beskik oor heelwat ruimte

Opel se binneruime was nog altyd baie funksioneel, maar effens aan die plastiekerige kant. Die laaste generasie Opels is heeltemal in ‘n ander klas wat ergonomie en materiaal aanbetref. Die motor voel enige dag net so prima soos die Tiguan en strate beter as die Tucson. Daar is swart leer en sagtegevoeloppervlaktes oral waar jy sal raak as jy in die motor sit.

Die instrumente is baie goed uitgelê met alluminiuminsette net op al die regte plekke. Die geïntegreerde drukskerm wat die navigasie en radio asook ‘n hele rits ander funksies vir die verstellings van die ligte en deure, ensovoorts insluit, is maklik om te gebruik. Ruimte is ook opvallend meer as in die Tiguan en Tucson. Wat laairuimte betref, bied die Opel presies dieselfde as die Tiguan en sowat 20liter meer as die Tucson en die Ford.

Die Grandland X se instrumentepaneel

Elektriese verstelling vir die sitplekke sowel as sitplekverwarmers asook verkoelers vir die sitplekke en ‘n verwarmer vir die stuurwiel plus bloutande vir jou foon en ‘n togbeheer asook baanwisselhulpmiddels, glybeheer, blindekolhulpmiddels, asook voor- en agterparkeersensors en sybotssensors is alles deel van die Opel se skietgoed.

Enjin

Bagasieruim van die Grandland X

Die Grandland word aangedryf deur ‘n 1.6-literturbo-enjin wat 121Kw en 240NM se wringkrag lewer. Die voorwiele dryf die Opel aan deur ‘n outomatiese ratkas. CO2-uitlaatgasse is slegs 156g/km. Die enjin voel glad en kragtig en selfs met vyf mense en bagasie in die motor trek hy besonders sterk en glad. Ratskakelings is sekuur en byne soomloos en binne-in die motor is die rygehalte ferm maar tog nie so stamperig soos in die Tucson nie. Ons het die gevoel gekry dat hierdie enjin nog heelwat meer krag kan lewer as hy so bietjie gepoleer word. Beslis een van die gemaklikste en stekste 1.6-enjins wat ons in ‘n lang tyd teëgekom het.

Gevolgtrekking

Teen R465 000 is die Opel meer bekostigbaar as die Tucson en die Tiguan en slegs R27 000 duurder as die Kuga. Hy is slegs R5000 duurder as die Peugeot 3008 1.6 Alure waarop hy gebaseer is. Die prys sluit ‘n 5-jaar- 120 000km-fabriekswaarborg asook ‘n 5 jaar/90 000km-diensplan in. Na my mening kan die Opel Grandland X Enjoy nie oorgesien word wanneer daar in hierdie segment gekyk word na ‘n motor nie! Dit sal beslis my eerste keuse wees tussen al die bogenoemde mededingers.

Opel Grandland X Enjoy

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 37 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.