Plaasmoorde en onteiening gaan in Poolse parlement geopper word

Dr. Dan Roodt in die Poolse parlement

Danksy dr. Dan Roodt van PRAAG se pas afgelope besoek aan Pole, gaan die geweld teen Afrikanerboere, asook die kommunistiese onteiening van hul eiendom, binne enkele dae in die Poolse parlement, die Sejm, bespreek word.  Die leier van PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) het vandag sy besoek aan Pole afgesluit waar hy ‘n aantal lesings oor Suid-Afrika op uitnodiging van ‘n Protestantse kerkgroep gehou het, maar ook samesprekings met aktivistiese groepe en parlementslede gevoer het.

“Die reaksie van Pole dwarsoor die politieke spektrum rondom plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding was een van skok en ongeloof,” sê Roodt. “Maar aangesien hulle self ervaring het van kommunistiese regering, kan hulle ook insien hoedat die huidige geweld en onreg voortspruit uit die verderflike ideologie wat deur die ANC en SAKP aangehang word.”

Mnr. Robert Winnicki, ‘n parlementslid en leier van Ruch Narodowy, ‘n patriotiese party, sal so gou moontlik ‘n spreekbeurt in die Sejm aanvra ten einde die geweld en onreg waaronder Afrikanerboere en -stedelinge gebuk gaan, onder alle Pole se aandag te bring. “Suid-Afrika en die Afrikaner se situasie is besig om ‘n kwessie in Pole te raak, veral aan die regterkant van die politieke spektrum,” het Winnicki gesê.

Daar is tans geen linkse party in die Sejm verteenwoordig nie, omdat dié partye nie die drempel van 5% kon haal om in die parlement verteenwoordig te word nie. In die res van Europa word die regerende Wet en orde-party in Pole dikwels in die media as “verregs” getipeer, maar volgens Winnicki is hul “in werklikheid gematigd regs”.

Tydens dr. Roodt se tweede ontmoeting met Winnicki in ‘n restaurant neffens die Sejm, was die vorige president van Georgië, mnr. Mikhail Saakashvili toevallig by ‘n nabygeleë tafel in gesprek met ‘n Poolse parlementslid van die regerede party. Hierna is dr. Roodt en sy medereisiger, ‘n PRAAG-lid en sakeman vanuit die Verenigde Koninkryk, mnr. Johan Grobbelaar, aan mnr. Saakashvili voorgestel.

“Ek is baie tevrede met die afloop van ons besoek aan Pole,” het dr. Roodt gesê. “Nie net is ons besonder goed en gasvry deur verskeie aktivistiese groepe ontvang, maar daar sal konkrete stappe daaruit vloei, waarvan die fokus op plaasmoorde en onteiening in die Sejm ‘n belangrike is. Maar die Pole wil ook groter ekonomiese samewerking met Suid-Afrika en veral Afrikaners sien sodat die uitwerking van die ANC-SAKP se rassistiese wetgewing teen blankes beperk kan word. Pole is ‘n 100% blanke land waar uiteraard geen rassekwotas geld as dit by sake kom nie. Daarom moet geleenthede vir handel benut word.”

Na ‘n besoek van dr. Dan Roodt en mnr. Johan Grobbelaar in Duitsland om met ‘n PRAAG-ondersteuner aldaar te vergader, was hulle gister by die Europese Parlement in Brussel. Hier het dr. Roodt ‘n konferensie oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding toespreek, waarna ‘n mediakonferensie plaasgevind het. Daar was ook ‘n TV-debat met mev. Janice Atkinson, die Europese parlementslid, wat binnekort op YouTube beskikbaar gemaak sal word.

Verdere berigte oor die Poolse besoek, asook video’s en foto’s sal aanstons op die PRAAG-webblad gepubliseer word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.