Leon Lemmer: Die Universiteit Stellenbosch se Eeufees

As hulle stilbly, sal die klippe uitroep!” (Lukas 19:40). Omdat hulle swyg, moet ek skryf. Die Universiteit Stellenbosch (US) vier vanjaar sy Eeufees. My skrywe val saam met die herdenking van die US-stigtingskenker, Johannes Henoch Marais (8.09.1850-30.05.1915), se sterfte 103 jaar gelede. Ek het al dikwels geskryf oor die toestand waarin die US verval het – ‘n inrigting wat histories ‘n uitnemende Afrikaner- en Afrikaanse universiteit was. Die huidige rektor, Wim de Villiers, se herhaaldelik uitgesproke ideaal is dat die nie-wit studente en nie-wit personeel (veral die dosente) teen vanjaar in die meerderheid moet wees. Met die oog hierop is die US se akademiese keuringsnorme verslap. Soos sy voorganger, die ANC-aktivis Russel Botman, gee De Villiers as die uitvoerende hoof van ‘n akademiese inrigting vrye teuels aan sy linkse politiek ten koste van die akademie. Sy passie is dat die beeld van die US dié van ‘n nie-wit (dus swart) Afrika- en nie-Afrikaanse (dus Engelse) universiteit moet wees.

In Mei het ons belangrike herdenkingsdatums beleef, vandaar hierdie skrywe. Dit is ‘n vervolg op my “Ope brief aan Wim de Villiers” (Praag 21.02.2018), wat op Moedertaaldag gepubliseer is en waarop De Villiers hom nie verwerdig het om te antwoord nie. In hierdie rubriek gaan ek, afgesien van enkele bladsyverwysings na vyf bronne, nie soos gebruiklik talle bronverwysings verskaf nie. Wat ek skryf kan gestaaf word met die bronverwysings wat ek in vorige rubrieke verskaf het, asook met die inligting wat op die US-webtuiste beskikbaar is.

Gaan na die US-webwerf en soek: “Jan Marais”. Die jongste verwysing, maar nie die teks nie, is na ‘n toespraak wat Ton Vosloo in 2015 by die Woordfees gelewer het. Maar Vosloo het eerder oor die ontstaan van Nasionale Pers en Die Burger as oor die US gepraat. By vanjaar se Woordfees was daar nie ‘n enkele byeenkoms ter huldiging van Marais nie. In 2015 is Marais ‘n eeu na sy dood gedenk; nie deur die US nie maar deur Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF). Op 30 Mei 2015 het HJMNF in die oggend ‘n kranslegging by Marais se graf teen die hang van Papegaaiberg gehou. De Villiers het hierdie geleentheid bygewoon. Dieselfde aand het HJMNF ter huldiging van Marais ‘n onthaal in sy eertydse woonhuis op Coetzenburg aangebied. By daardie geleentheid het die genooide gaste elk ‘n eksemplaar van ‘n pragpublikasie, Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers, geskryf deur die historikus Pieter Kapp (216p, R290), ontvang. Hierdie gedenkboek is deur HJMNF gepubliseer; nie deur die US nie. In sy toespraak het die uittredende voorsitter van HJMNF, oud-US-rektor Andreas van Wyk, geen melding van Marais se US-stigtingsvoorwaarde gemaak nie. Hierdie verswyging is myns insiens laakbaar omdat Afrikaans toe (soos tans) onder groot druk aan die US verkeer het.

Gaan na die US-webwerf en soek: “Afrikadag”. Daar is talle verwysings na hoe Afrikadag (25 Mei) deesdae jaarliks deur die US gevier word. Dit blyk dat Afrikadag deur die US selfs tot Afrikamaand opgegradeer is. In 2015 het De Villiers by die viering van Afrikadag deur die US se Fakulteit Geneeskunde gesê: “Ons is Afrika.” Vanjaar is Afrikadag weer op 25 Mei by daardie fakulteit gevier met voordragte uitsluitlik in Engels. Die vorige dag het Jonathan Jansen ‘n Afrikadaglesing by die Fakulteit Teologie gelewer. Toe het De Villiers gesê: “Ons is ‘n Afrika-universiteit.” Elke jaar op 12 November vier die US Afrika-universiteitsdag. Op 12 April vanjaar was Jansen ‘n spreker by die US se jaarklikse Nelson-Mandela-kollokwium. ‘n Ander spreker was Wilhelm Verwoerd, wat sy oupa, Hendrik Verwoerd, se politiek verfoei. Hy is ‘n navorsingsgenoot in die Beyers Naudé-sentrum van die US se Fakulteit Teologie. By daardie geleentheid het De Villiers gesê dat die doel van die kollokwium is om Mandela se “waardes en nalatenskap” te bevorder.

Vanjaar is ‘n berig gedateer 24 Mei op die US-webwerf gepubliseer oor ‘n gesprek wat die US-museum oor “ikoniese struggle-liedere” aangebied het. Die sing van sulke liedere word aangemoedig; nie CJ Langenhoven se pragtige “Die Stem” wat vanjaar ‘n eeu gelede geskryf is nie. Die eerste drie strofes is op 30 Mei 1918 voltooi (JC Kannemeyer, Langenhoven: ‘n Lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 376). Dieselfde Langenhoven het sy “hoofskedel” aan die US bemaak. Die US het nie sy aanspraak hierop dertig jaar na Langenhoven se dood uitgeoefen nie (Kannemeyer, p 18). Maar dit toon onmiskenbaar Langenhoven se lojaliteit teenoor hierdie universiteit. Tog word nóg Langenhoven nóg “Die Stem” deur die De Villiers-US gehuldig.*Langenhoven is een van baie Afrikaners wat deesdae deur die getransformeerde US verloën word. Onder hierdie miskendes is eerste ministers Malan, Verwoerd en Vorster. Herinneringe aan hulle is sedert 1994 stelselmatig op die US-kampus uitgewis. Op 24 Mei vanjaar is ook berig dat die US se Departement Afrikaans daardie maand twee konferensies oor tolking en vertaling aanbied. Dit is “so beplan dat dit met die US se Eeufeesviering sowel as Afrikadag saamval.” Soos in 2015 wend hierdie Afrikaansdosente egter geen poging aan om Marais te huldig nie. Daar is by hulle ook geen daadwerklike openbare weerstand teen De Villiers se verengelsingsbeleid nie.

[* “Langenhoven se visie van die groei van Afrikaans as pilare in ‘n snelstygende boog” het argitek Jan van Wijk se ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl geïnspireer (Jan van Wijk, Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014, p 6). Nogtans wend die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) geen poging aan om Langenhoven en “Die Stem” te huldig nie. Michael Jonas, die direkteur van die ATM, skryf: “Die Monument se fokus is tans op die miskende variëteite en geskiedenisse van Afrikaans” (Rapport, Weekliks, 28.01.2018, p 10). Niks word dus deur die ATM gedoen om bv Langenhoven en NP van Wyk Louw (die ander skrywer wie se werk die ontwerp van die Taalmonument geïnspireer het) te huldig nie.]

Vroeër vanjaar is die US se geskiedenis lank prominent op daardie webwerf verwoord. Daar is darem verwys na Marais se skenking, die reuse bedrag van £100 000, wat die stigting van die US in 1918 moontlik gemaak het, maar nie na die ruim finansiële ondersteuning wat die US sedertdien deurlopend uit twee Marais-fondse ontvang nie. Oor die ander Marais-fonds, Het Jan Marais Fonds (HJMF), skryf Kapp: In sy geheel beskou sou dit “nie onbillik wees nie om te beweer dat die fonds … tussen sewe en 10% van die staat se subsidie tot die Universiteit se inkomste bygedra het” (Kapp, p 174). Myns insiens is daar in die genoemde historiese oorsig doelbewus ook geen woord gerep van die uitdruklike stigtingsvoorwaarde wat Marais gestel het nie: Onderrig moet aangebied word “in en door middel van de hollandse taal in zijn beide vormen (dat will zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in sodanig onderwijs de hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen” (Kapp, p 9; ook p 167).

Aan die begin van die US se eeufeesjaar is die eerstejaarstudente op 25 Januarie uitsluitlik in Engels verwelkom. Dit het heftige kritiek ontlok omdat dit (tereg) vertolk is as openlike uittarting deur De Villiers; dat hy wou demonstreer dat die US nie ‘n Afrikaanse universiteit is nie. Hy het immers in sy intreerede op 29 April 2015 meerdere kere gesê: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie.” Daarna het De Villiers hierdie gewraakte stelling by ander geleenthede herhaal. Toe die US se aanstellingskomitee, voor sy aanstelling as rektor, ‘n onderhoud met De Villiers gevoer het, het De Villiers beweer dat die posisie van Afrikaans aan die US ingevolge sy oortuiging “ononderhandelbaar” is (Eikestadnuus, 19.11.2015, p 1). Voor die einde van sy eerste jaar as rektor, op 12 November 2015, het De Villiers egter, met die ondersteuning van sy bestuurspan, aangekondig dat hy Engels met ingang 2016 “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” aan die US wil maak. De Villiers wou hiermee die voorkeurtaal van die minderheid op die kampus dié onderrigtaal van die US maak ten koste van die meerderheid, te wete die Afrikaanssprekendes en ander wat Afrikaans (goed) magtig is. Die US-raad het vir ‘n wyle weerstand gebied maar versuim om De Villiers se gedrag as blatante kontrakbreuk te takseer.

Op 23 Maart vanjaar is ‘n eeufeesherdenkingsdinee in die Paul Roos-saal gehou. Soos hy in sy intreerede en telkens daarna gedoen het, het De Villiers verskoning gevra vir “die onregte van die verlede.” Soos hy ook by ander geleenthede gesê het, vind De Villiers dit verkwiklik dat die jaar waarin die US sy eeufees vier, saamval met die herdenking van Mandela se geboorte ‘n honderd jaar gelede. Die huidige US vier Mandela-dag elke jaar op 18 Julie. Na verwagting sal vanjaar se Mandela-viering die voriges oortref, al het Mandela geen daadwerklike verbintenis met die US nie. Desnieteenstaande het die US in 1996 ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Die US se Mandela-manie vergestalt kruipsug in sy suiwerste vorm. Die kontinuum beskaaf – onbeskaaf het die akademie by die beskaafde en terrorisme by die onbeskaafde pool. De Villiers en diesulkes poog om hierdie uiterstes bymekaar te bring.

Jan Marais se geboorte- en sterfdag word nie deur die US gedenk nie; selfs nie in 2015 ‘n eeu na sy dood nie. Sover bekend is geen byeenkoms ter huldiging van Marais in 2015 of vanjaar op die US-kampus gehou nie. Die US het selfs nog nooit amptelik erken dat Marais se skenkingsvoorwaarde nie in sy huidige taalbeleid nagekom word nie. Alle lesings moet deesdae ten minste in Engels wees. Dieselfde vereiste geld nie vir Afrikaans nie. Oor die mindere plek wat Afrikaans tans in vergelyking met Engels beklee, kan daar geen twyfel wees nie. Dat De Villiers die hooflaksman van Afrikaans aan die US is, is myns insiens ook baie duidelik. Mandela en Afrika word deesdae elke jaar in buitensporige mate deur die US gedenk. Dieselfde geld nie vir Jan van Riebeeck (6 April), Afrikaans (14 Augustus) of Jan Marais nie. As iets met Afrikaners of Afrikaans te make het, word dit dikwels verdag gemaak deur dit as verdelend, uitsluitend, nie-inklusief, nie-divers, monokultureel, rasgegrond (selfs rassisties) en dus as ongewens af te maak.

Onlangs is ‘n koshuis van die US se Fakulteit Geneeskunde na die vigslyer Nkosi Johnson vernoem. Voor dit is ‘n koshuis op die US-hoofkampus na die vorige rektor, Russel Botman (die eerste “swart” US-rektor), vernoem. Botman het deurlopend ‘n reuse rol in die afskaling van Afrikaans gespeel. Aan die US is daar geen teken van erkentlikheid teenoor of huldiging van Jan Marais nie, behalwe die standbeeld van die beeldhouer Coert Steynberg, wat op 10 Oktober 1950 (dus op die destydse Krugerdag) onthul is. Marais se standbeeld staan op die Jan Marais-plein, maar dit word eerder die Rooiplein genoem sodat Marais se (eens) kosbare nalatenskap ook in hierdie opsig verdoesel word. As daar erkentlikheid teenoor Marais was, sou daar ten minste jaarliks ‘n amptelike US-kranslegging by sy standbeeld gehou word en sou sy naam prominent op die kampus gewees het, bv as gebou- en selfs as universiteitsnaam.

As ‘n universiteit om nie-akademiese (naamlik politieke) redes na kwaaddoeners soos Nelson Mandela en Walter Sisulu vernoem kan word, waarom nie ook na ‘n voortreflike Afrikaner en weldoener soos Jan Marais nie? Marais is beskryf as ‘n “Afrikaander van den ouden, echten stempel – een waardige burger, een ware patriot … hij [was] een navolgenswaardig voorbeeld voor zijn volk en hun nageslacht” (Kapp, p 120). Jan Marais se vrou, Elizabeth (1867-1953), en van die ander Marais-broers het die US en filantropiese projekte in ruime mate ondersteun, maar hulle ontvang geen erkenning meer nie. Pleks daarvan verkies die huidige US om eerder mense soos Mandela, Desmond Tutu, Beyers Naudé, Russel Botman en selfs Nkosi Johnson te huldig.

Na aanleiding van die voorafgaande kan minstens sewe vrae gestel word:

  1. Daar was heelwat genooide gaste by die genoemde HJMNF-onthaal in 2015 en die US-eeufeesonthaal in 2018. Waarom is daar klaarblyklik nie ‘n enkele van daardie eters en drinkers wat vir Jan Marais in die bres tree weens die verregaande miskenning van sy nalatenskap deur die huidige US-bestuur (en by name Wim de Villiers) nie?
  2. Waarom spreek nie ‘n enkele van die ses trustees van HJMNF hom/haar luid en duidelik teen hierdie wanpraktyk uit nie?
  3. Waarom teken Afrikaansinstansies soos die Afrikaanse Taalraad, ATM, ATKV, FAK en die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns nie beswaar aan oor die manier waarop hierdie eeufeesjaar ingeklee word nie?
  4. Die oudstudente van die US het voorheen dikwels sterk besware teen die afskaling van Afrikaans geopper. Waarom klink daar geen besware uit die US-konvokasie op teen die bogenoemde selektiewe voorstelling van die US-geskiedenis nie?
  5. Die US-raad is veronderstel om oorhoofse beheer oor al die bedrywighede van die US uit te oefen. Waarom sorg die voorsitter en die talle raadslede nie dat drasties teen enigeen opgetree word wat op hierdie myns insiens hoogs onetiese manier die skenkingsvoorwaarde van Marais ignoreer nie?
  6. Die uitgelese Anton van Niekerk is op die US-kampus. Hy gee graag hoog op oor sy kennis van etiek. Hy doen hom voor as ‘n openbare intellektueel wat hom geroepe voel om onreg reg te stel wanneer en waar dit voorkom. Ongelukkig soek hy onregpleging by uitstek by blankes en veral Afrikaners. Waarom is hy tjoepstil oor die flagante immoraliteit aangaande Marais?
  7. Les bes is daar die Afrikaansdosente op die US-kampus. Dit is myns insiens onmoontlik om hulle absolute onaktiwiteit oor Marais in 2015 en ook in 2018 te regverdig. Waarom is nie ‘n enkele van die huidige US-Afrikaansdosente prominent betrokke by die stryd ter behoud van Afrikaans nie? – nie aan die US of in breër verband nie.

Daar is min sake wat my meer met wrewel, droefheid, bitterheid en wanhoop vervul as die Jan Marais-aangeleentheid. Dit is onwaarskynlik dat enige ondersteuning uit die hoofstroom-inligtingsmedia, bv die redaksies en rubriekskrywers van Afrikaanse koerante, sal kom. Hoe is dit moontlik dat Afrikaners sedert 1994 in so ‘n mate kollektief apaties geword het? Waar is (al) die eens fanatieke Afrikanerbroeders heen? Myns insiens verkies hulle om eerder hulle (skyn)transformasie ten toon te stel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.