Brief: ‘Sonder vergoeding’ bloot ‘n aanval op wittes

Ek het nog nie waargeneem dat enigeen oor die openlik rassistiese
aspek van onteiening sonder vergoeding praat nie. Tereg weet almal dat
onteiening gemik is teen grond in wit besit, maar daar is kru rassisme
in die term “sonder vergoeding” verbloem wat niks anders is as ‘n
openlike aanslag van die ANC op die wit minderheid nie, en waarvan die
einddoel die uiteindelike ondergang van die wit minderheid sal wees.

Wittes kyk na die aspek van “onteiening van hul grond” en is tereg
ontsteld. Maar vir Ramaphosa gaan dit oor die komende verkiesing met
hierdie onderbewuste boodskap aan die ANC se kiesers: kyk hoe straf
ons nou die witman deur hom te verarm deur nie te betaal vir die
witman se grond wat ons aan julle gaan uitdeel nie. Dit is presies
dieselfde boodskap wat die barbaarse marteling en teregstelling van
witmense tydens plaasmoorde oordra — kyk wat doen ons aan die witman.
Wittes sien dit nie raak nie, maar die deursnee swart persoon weet
presies wat daardie boodskap is.

Elke redelike argument wat die ANC en ander voorstanders van
grondhervorming moontlik kan maak, val plat as dit kom by die openlike
rassistiese aspek van grondhervorming waar dit sonder vergoeding sal
plaasvind. In alle lande wat waarin ‘n vrye mark gevestig is, is
eiendomsreg ‘n fundamentele beginsel waarop die samelewing gebou is.
Maak nie saak hoe die ANC onteiening sonder vergoeding bewerkstellig
nie, die eerste stuk grond wat sonder vergoeding afgeneem word, sal
effektief alle eiendomsreg in SA uitwis. En die ANC stel dit duidelik
dat dit eiendom in wit hande is wat ter sprake is, dus maak ras die
kern van die beoogde onteiening uit; dit gaan alles oor ras. Alhoewel daar
10 miljoen swart huiseienaars is, is daar nagenoeg 40 miljoen
swartmense wat sou kon aanspraak maak op die eiendom van 32 000 wit
plaasboere en 700 000 wit huiseienaars — daar is dus eenvoudig nie
genoeg eiendom in wit hande om moontlike aansprake van swartes te
bevredig nie. Dit is vanselfsprekend dat sonder effektiewe
eiendomsreg, sal daar binne enkele jare min wit persone wees
wat enige eiendom sal besit. Dit kan uiteindelik ook alle vorme van
eiendom wees wat afgeneem word, want presies dieselfde argument wat
geld oor die witman se grond, mag geld vir alle rykdom in wit hande.

Dit is ongelooflik dat so ‘n boodskap deur ‘n staatspresident
uitgestuur kan word aan sy ondersteuners en dat die wêreld, en selfs
‘n deel van die wit minderheid wat geraak sal word, hom toelaat om
daarmee weg te kom. Inteendeel, ‘n belangrike groep wit sakeleiers kyk
op na Ramaphosa as die persoon wat hulle gaan red uit die verknorsings
wat Zuma veroorsaak het.

Ons staar hier in die afgrond af, waar ons enigste keuses veg, vlug of
verdwyn sal wees. Verdwyn sal assimilasie met die swart meerderheid
beteken, waar wittes wat hul eiendom verloor het totaal verarm is en
ter wille van oorlewing hul identiteit, kultuur en selfs taal sal moet
prysgee.

Onteiening sonder vergoeding sal effektief die einde beteken van die
demokratiese eksperiment van 1994 alhoewel die meerderheid wittes dit
dalk eers oor enkele jare sal agterkom dat ons al vêr gevorder het op
die pad wat Zimbabwe gevolg het.

—Casper Labuschagne

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.