Gister het daar ‘n betoging teen plaasmoorde en die uitwissing van die Afrikanervolk voor die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag plaasgevind en vanoggend is ‘n soortgelyke optog in Adelaide, Australië gehou. Dit het dr. Dan Roodt van PRAAG genoop om te twiet dat “die wêreldwye betogings teen #plaasmoorde en #volksmoord in SA is nou groter as wat anti-apartheid ooit was”.
Die wêreldwye betogings teen #plaasmoorde en #volksmoord in SA is nou groter as wat anti-apartheid ooit was. Enigste verskil is Swede & Nederland skenk nie miljoene nie en VN nie aan ons kant.
— Dan Roodt (@danroodt) May 27, 2018
Nederlandse vlae, maar ook die Vierkleur van die ou ZAR is tydens die betoging geswaai. Dit volg op ‘n vorige betoging op 24 Maart vanjaar voor dieselfde Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag wat deur die “Nederlands Actiecomité tegen de blanke genocide in Zuid Afrika” gereël is.
PRAAG het vooraf een van die drie sprekers, mevrou Arine Prins bygestaan om die heel jongste statistiek oor plaasmoorde te bekom. Sy was eens in Suid-Afrika woonagtig, maar het na Nederland teruggekeer nadat haar eggenoot, Peet, verlede jaar op ‘n plaas naby Barberton deur vyf swartes doodgemartel is. Sedertdien is sy betrokke by aktivisme teen plaasmoorde en volksmoord in Suid-Afrika.
Die betoging in Adelaide, Suid-Australië het vanoggend voor die provinsiale parlementsgebou plaasgevind. Ook daar was die twee hooftema plaasmoorde en die uitwissing van die Afrikanervolk.

Omtrent vyftig Nederlanders, Vlaminge en Afrikaners het die betoging in ń sonnige Den Haag bygewoon. Ná die toespraak deur drie sprekers voor die Suid-Afrikaanse ambassade, het die betogers na die Koekamp, ‘n klein parkie in die middestad, gestap. Baniere met die woorde, “Afrikaans sal bly”, “Stop die moorde” en “Stop Afrikaner Genocide” is gedra.
In haar toespraak het Arine Prins teen sowel plaasmoorde as die onteiening van grond uitgevaar. “Julius Malema sing in die openbaar ‘Kill a Boer’. Hulle is trots daarop om so vinnig as moontlik die blanke boere (wat die voorraadskuur van die Suid-Afrikaanse voedselbedryf verteenwoordig) af te slag en hul boerderye te stroop. As die boere hulself probeer beskerm en terugskiet, word hulle direk aangekla en in die gevangenis gegooi.”
Mevrou Prins het gevra dat daar ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika ingestel word en dat toeriste teen die gevaar in die land gewaarsku moet word.
Sy het haar ook teen enige vorm van grondhervorming of -onteiening uitgespreek deur te sê: “Die regering verkoop grond waarop daar eise was en wat geslagte lank deur families bewerk en bewoon is. Dit staan nie in die koerant nie. Die regering verkoop renosterhoring aan die Chinese. Al die arme renosters, waarvoor daar geld hier deur skoolkindertjies ingesamel word, dit staan ook nie in die koerant nie.”
Die groep sal later vanjaar nog ‘n betoging reël teen grondonteiening, om die saak soveel moontlik onder die aandag van die Nederlandse publiek te hou.
Tydens die hoogbloei van die anti-apartheidsbeweging het klein groepies betogers in die buiteland soms voor SA ambassades betoog. Maar dit is gerugsteun deur miljoene dollar wat deur die regerings van Swede, Kanada, Nederland en ander geskenk is en was daarom nie spontaan nie. Tans bars daar egter regoor die Westerse wêreld gereelde betogings teen die ANC-bewind en geweld teen die Afrikaner- en Westerse minderheid in Suid-Afrika los.