‘n Stem vir die DA is ‘n stem vir nog ‘n Afrikaner-holocaust

Deel op

ImageHelen Zille se onredelike aanval op dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus toon net weer: 'n jakkals verander van haar, maar nie van kleur nie. Die DA, wat steeds deur die Engels-liberale Prog-kliek beheer word, is in wese anti-Afrikaans en verwag van Afrikaners dat hulle hul taal, kultuur en identiteit moet aflê om deel te word van die multikulturele, Engelstalige "reënboognasie" wat biskop Tutu en ander marionette van die Britte en Amerikaners aan ons land voorhou.

Deel op

Die DA se verkiesingslagspreuk, "One nation, one future" verteenwoordig 'n stuk koloniale drogredenasie so groot soos Milner se imperialistiese droom van een Suid-Afrika onder Britse gesag wat Engels praat. Dwarsdeur die negentiende eeu het opeenvolgende Britse lords die Afrikaners vertel dat die volgende geslag vrywillig sou verbrits of verengels en dat dit daarom nie die moeite werd was om Nederlandse of Afrikaanse taalregte aan die bevolking toe te staan nie.

Die neerhalende wyse waarop Zille na die Afrikaners se "aparte etniese kassie" verwys, is nie net aan Pieter Mulder en die Vryheidsfront Plus se adres gerig nie. Sy praat met elke Afrikaner wat nie die sogenaamde "universele kultuur" van die vermetele groepie Engelse "progressiewes" wat sowel die DA as die mynhuise beheer, wil aanvaar nie. Net soos wat die mynhuise ons omgewing opophoudelik besoedel en kanker en ander siektes by ons kinders veroorsaak, besoedel die DA ons politieke landskap met hul agtergehaalde koloniale liberalisme.

Helen Zille is die geestelike dogter van Kitchener en Milner. Sy wil hê dat die Afrikaner as volk en as nasionale groep met 'n eie taal, kultuur en identiteit moet verdwyn.

Daarom: 'n Stem vir die DA is 'n stem ten gunste van nog 'n Afrikaner-holocaust in hierdie land. Weliswaar bepleit Zille, anders as haar koloniale Engelse voorgangers van honderd jaar gelede, nie die fisieke uitwissing van die Afrikaner nie, maar wel sy kulturele en nasionale uitdelging om deel van die multikulturele, Engelse nasie te word.

Terwyl Zille die ANC veroordeel, wil 'n mens vra: wat is die DA anders as 'n "ANC Lite"? Op elke belangrike beleidspunt, sover dit die Afrikaner betref, stem die DA en die ANC ooreen. Trouens, Zille oortref die ANC in haar holruggeryde verwysings na apartheid. Terwyl Jacob Zuma van die ANC so pas toegegee het dat daar vele aspekte van Afrikanerregering in die ou Suid-Afrika was wat die land tot voordeel gestrek het, soos doeltreffende landbou en respek vir wet en orde, wil Zille eintlik die stereotipe siening van die Afrikaner as verdrukker en rassis wat Suid-Afrika "verwoes" het aan haar eie Afrikanerkiesers verkoop.

Kyk na die DA en ou DP se rekord:

  • Tydens die Kemptonparkonderhandelings steun die DP die gedagte van een amptelike taal vir Suid-Afrika, naamlik Engels.
  • Tydens 1999-2000 steun die DA die herafbakening van Pretoria om van Afrikanerkiesers in daardie gebied 'n minderheid in hul eie stad te maak.
  • In dieselfde periode (1999-2000) steun die DA die naamsverandering van Pretoria na die gedrogtelike "Tshwane".
  • Meer onlangs in Kaapstad het mev. Zille se DA-stadsraad Afrikaanse straatname verander om plek te maak vir dié van ANC-helde.
    Die DA steun insgelyks gedwonge integrasie, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, grondhervorming en die sosialistiese welvaartstaat wat die ANC ingestel het en wat ons land op die duur gaan ruïneer.
  • Trouens, die DA is nog meer radikaal as die ANC wanneer grondhervorming ter sprake is. Op 30 Oktober 2008 het mnr. Kraai van Niekerk, die DA se woorvoerder oor landbou, verklaar dat die DA "diep bekommerd" is dat die ANC se teiken van 30% landbougrond in die hande van swart boere teen 2014 nie gehaal gaan word nie en dat die DA "ten volle tot dié doelwit verbind is", die huidige afname in voedselproduksie ten spyt.
  • Les bes, die DA beskou die huidige stelsel met sy ingeboude voordeel aan demografie en benadeling van minderhede as die ideale stelsel met die ideale grondwet.

Daar mag mense wees wat dink dat die DA-bewind Kaapstad tot voordeel gestrek het. Maar hoe waar is dit? Die DA se stryd met die ANC in die Wes-Kaap berus op magsug en nie op beginselverskille nie. Het die plakkerskampe rondom Kaapstad minder geword onder die DA as onder die ANC? Het misdaad afgeneem of toegeneem? Wat het mev. Zille gedoen om die migrasie van Xhosas uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap te stuit? Net mooi niks. Die DA se politieke strategie is op sand gebou en op die duur gaan die party sy Wes-Kaapse magsbasis moet afstaan aan die onvermydelike uitwerking van demografie en gaan dit terugval op die hovaardige gekef wat die party sedert mev. Helen Suzman se dae as alleenverteenwoordiger in die parlement kenmerk.

Helen Zille beskuldig dr. Pieter Mulder daarvan dat sy party 'n "paringsdans" met die ANC sou uitvoer. Maar wie is die een wat ons gereeld op TV sien toitoi met haar geliefde Xhosas? Kennelik het sy haar politieke styl, vuis in die lug, by Winnie Mandela geleer, dieselfde persoon wat sy so naarstiglik tydens haar jare by die Black Sash gesteun het.

Haar rou krete van "Viva! Viva!" by sulke geleenthede som die intellektuele inhoud van DA-beleid mooi op.

Die liberalisme kon nog nooit hond haaraf maak in die Suid-Afrikaanse politiek nie, omdat dié filosofie strydig met die werklikheid is. Suid-Afrika is 'n multietniese of veelvolkige staat en nie bloot 'n nasie wat uit 'n versameling individue bestaan – soos wat die DA voorhou – nie.

Dit is hoog tyd dat die DA weer terugkeer na die goue ghetto's – of moet ek sê "etniese kassies", mev. Zille? – van Houghton of Constantia waaruit die party ontspring het, waar mense hul jenewer en tonikum drink en droom dat Suid-Afrika 'n Engeland-in-die-kleine verteenwoordig. Hoe Afrikaners ooit in die doodloopstraat van die DA se koloniale Engelse politiek beland het, weet nugter.

Op sy minste toon dit watter verwarring die disinformasie veroorsaak het wat elke dag deur die hoofstroommedia uitgepomp word.

сколько стоит пломбирование зубалобановский александр жена

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.