Motors: Die Mitsubishi Pajero Sport is ‘n opwindende sportnutsvoertuig

Die plaaslike motormark word net soos dié elders ter wêreld oorheers deur sportnutsvoertuie. Die tradisionele sedanmotor is vinnig besig om uit te sterf. In Suid-Afrika word daar bykans maandeliks nuwe modelle van byna elke vervaardiger bekendgestel. Die goed word al kleiner en onder hulle is daar modelle wat ‘n mens as doelloos kan bestempel.

Mitsubishi Pajero Sport

Daar is natuurlik die BNV’s of “bakkienutsvoertuie” ook. Die Nissan Sani van ouds was een van die eerstes waar ‘n vervaardiger ‘n bakkie geneem het en dit in ‘n stasiewa omskep het. Vandaar die Toyota Fortuner, Nissan Pathfinder en Ford Everest. Isuzu het hul Frontier ‘n paar dekades gelede plaaslik losgelaat. Deesdae is daar slegs drie van hierdie BNV’s te koop in Suid-Afrika, die Fortuner en Everest asook Mitsubishi se Pajero Sport. Net soos in die geval van die Toyota en Ford is die Pajero Sport op die Triton-bakkie gegrond. Anders as in die Toyota en Ford se geval, voel ons die Pajero Sport bied die meeste belans tussen die veld- en padryvermoë.

Bakwerk

Die Mitsubishi Pajero Sport van voor

Van voor gesien is die Pajero Sport onmiskenbaar Mitsubishi en deel hy die gesinsgelaatstrekke met die groot sierrooster en breë wielboë. Die lyne is werklik aggresief en sportief. Die motor lyk en voel groot. Vergeleke met die Ford en Fortuner, is die Pajero Sport teen 4785mm korter as beide die Ford en die Toyota. Al twee is ook hoër as die Mitsubishi se 1805mm. Hy lyk net groter as die ander twee van buite gesien.

Die Pajero Sport van agter

Die groot besprekingspunt sal beslis die agteraansig wees. Waar die Fortuner lang horisontale liguitleg aan die agterkant gebruik, het Mitsubishi die ligte in ‘n lang regaf formasie ontwerp. Dit is anders en jy sal vir seker nie die Pajero vir enige iets anders van agter af aansien nie. Sommige mense mag nie daarvan hou nie. Die groot dakdrukvin met ingeboude remlig rond die agterkant mooi af en beklemtoon die “sport” in die naam. Daar is sytrappe om toegang tot die voertuig te vergemaklik. Met die volgroottenoodwiel wat reg agter onder die bakwerk gemonteer is, wonder ek net of daar plek is om ‘n sleepstang te monteer? Iets ander wat ook effens pla, is die voorste kolligte wat werklik baie laag op die hoeke van die voertuig aangebring is. Ek wonder maar net hoe lank daardie ligte heel gaan bly veral wanneer ‘n mens ernstige veldrywerk begin doen.

Binneruim

Instrumentepaneel van die Pajero Sport

Wat die Pajero se binneruim betref, is hy na my mening die beste tussen die drie modelle wat hier ter sprake is. Daar is werklik sagte swart leerbekleedsel oor die sitplekke en binnekante van die deure, die middelkonsole en stuurwiel. Alles lyk en voel duursaam. Instrumente is baie mooi sigbaar en logies uiteengesit. Die raakskerm in die middle van die paneelkonsole is nou nie eintlik van die heel beste tegnologie nie en voel en vertoon oudmodies. Dit was ook ‘n vreeslike gesukkel om die bloutande vir my foon ingestel te kry. Die bestuurdersitplek is elektries verstelbaar en al die sitplekke bied meer as genoeg steun.

Die bagasieruim van die Pajero Sport

Ruimte is een van die Pajero se sterk punte, solank jy net nie probeer om ‘n hele naweek se kos en klere vir vier mense te laai nie. Sonder ‘n sleepstang was die motor tot teen aan die dak gepak met ons vier mense se bagasie. Die Pajero is ‘n sewesitplekmotor en met die derde ry sitplekke netjies in die vloer weggevou, is daar heelwat ruimte vir basiese bagasie sonder kiste kos. Vou die sitplekke op en ‘n 1,8m-persoon pas maklik in die derde ry. Daar is aparte luginlate vir elk passasier asook koppiehouers. Die tweede ry sitplekke se rugkante kan kantel maar daar is geen skuifverstelling nie. Sou jy al die sitplekke wou plat vou, kan jy die derde ry heeltemal in die vloer in vou, maar die tweede ry se sitbasis kantel vooroor en die rugleuning vou dan plat in die vloer in. Dit maak die laairuim werklik reusagtig teen 1800 liter. Die wielbasis is 1800mm, wat langer as die Fortuner is maar korter as die Everest.

Enjin

Die Pajero Sport is beskikbaar in twee modelle, gewone 2,4 dieseloutomaties met 2-wielaandrywing en die 2,4 diesel outomaties met 4-wielaandrywing. Beide die modelle het die enjin net so by die Triton gaan leen, maar daar is ‘n 8-spoedoutomatieseratkas. Die enjin lewer 133Kw en 430Nm se wringkrag. Vergelyk dit met die Everest se 3,2-liter- 5-silinderenjin wat 147 kw en 470 Nm se wringkrag lewer en die Fortuner se 2,8-liter- dieselenjin wat 130 Kw en 420Nm se wringkrag bied, en die Pajero is in die kol. Die 8-spoedratkas maak teerpad ry heelwat gemakliker as die 6-spoedratkaste wat in die ander twee beskikbaar is. Ons kan argumenteer dat Ford wel ‘n 2,2-liter-Everest bied en Toyota die 2,4-liter-Fortuner, maar wat krag en wringkrag betref, is die twee glad nie op die Pajero se standaard nie. Die 2,2-Ford lewer 118Kw en 385NM waar die 2,4-Fortuner nog minder krag bied teen 110Kw en 400Nm. Die Pajero loop gemaklik en stil.

Rygerief

Op die pad is die Pajero bietjie lomp: hy voel groot en swaar, maar veral in 2-wiel-aandrywing is hy baie meer padgeoriënteer as die Ford en die Fortuner. Die 8-spoedratkas is seepglad, maar daar is ‘n baie sensitiewe rempedaalgevoel en ‘n traagheid onder jou regtervoet wanneer jy skielik besluit om die Pajero aan te jaag. Ek vermoed die ratkas het baie daarmee te doen. In die veld is die vering bietjie te sag vir erge dongas, maar wielartikulasie is goed en veral rowwe grondpad word gemaklik kafgedraf.

Gevolgtrekking

Teen R569 995 is die Pajero Sport R14 000 goedkoper as die 3,2 Everest XLT outo en slegs R5 500 duurder as die 2,8 GD-6 outo Fortuner. Ek reken dit plaas die Pajero mooi in die middel van die twee en as jy in die mark vir hierdie tipe gesinsvoertuie is, mag jy nie die Pajero miskyk nie. Die prys sluit ‘n 3-jaar- 100 000km-fabriekswaarborg asook ‘n 5-jaar- 90 000km-diensplan in. Ek wens net vervaardigers wil sleepstange standaard aanbring aan hierdie soort voertuie! Suid-Afrikaners is ‘n sleepnasie!

Mitsubishi Pajero Sport 2,4 D4

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 37 uit 40

 

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.