‘n Skool mag sy eie taal kies!

Hoërskool Ermelo het die appélsaak teen die Suid Afrikaanse onderwys-owerheid gewen toe vyf appélregters op 27 Maart vanjaar beslis het dat die onderwyshoof van Oos-Transvaal, mnr Monwabisi Reymond Tywakadi, onwettig opgetree het toe hy in 2007 die Skolewet oortree het.

Hy het die beheerliggaam van dié skool omvergewerp en 'n komitee

aangewys wat die status van die skool van Afrikaans enkelmedium na parallelmedium verander het.

Die regters het ook bevind dat hy die beginsels van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid geskend het.

Dit het alles ontstaan toe die onderwyshoof in die begin van 2007 die skoolhoof, mnr. Koos Kruger, kennis gegee het dat daar 113 "Engelse" kindertjies in Ermelo is wat daar wil skoolgaan "omdat daar nie plek by ander skole is nie".

Mnr Kruger kon dit nie toelaat nie omdat die beheerliggam van die skool die onderrigmedium bepaal het en hy daaraan mos voldoen. Dis toe dat mnr. Tywakadi die komitee aangewys het wat die status van die skool eensydig verander het.

Net 13 "Engelse" leerlinge het egter aanvanklik aansoek gedoen.

Agtergrond

Afrikaanse ouers van so ver as Secunda, Hendrina, Middelburg, Bethal en Pongola stuur hulle kinders na dié skool omdat dit die enigste "ordentlike Afrikaanse skool" in die gebied is.

Die skool is deur die jare opgebou deur ouers wat in alle opsigte trou bygedra het tot die ontwikkeling van die skool.

So is daar byvoorbeeld R45 miljoen bestee aan die bou van 'n ouditorium asook musiek- en biokinetikasentrums.

Hof toe

Die ouers van Hoërskool Ermelo was verontreg en het gevoel dat die departement die skool teiken. Hulle was van mening dat om in Afrikaans onderrig te word en om hulle kultuur uit te leef 'n grondwetlike en basiese mensereg is.

Hulle is toe hof toe.

In 'n tussentydse bevel op 2 Februarie 2007 het regter Bill Prinsloo beslis dat Hoërskool Ermelo nie hulle taalbeleid van enkelmedium Afrikaans mog verander het na parallelmedium nie. Hy het opdrag gegee dat die taalbeleid waarop die komitee besluit het onmiddelik opgeskort word hangende die finale beregtiging van 'n substantiewe hofaansoek.

Die geluksaligheid van die ouers van Hoërskool Ermelo was egter van korte duur, want 'n paar weke na die beslissing van regter Prinsloo het die regter president Bernard Ngoepe beslis dat die "Engelse" kindertjies se regte tot onderrig meer tel as die regte van die ouers en beheerliggaam van die skool.

Verlof tot appél

In hulle aansoek om verlof tot appél het die verontwaardigde ouers 'n beroep op die minister van onderwys, me Naledi Pandor, gedoen om hulle te ondersteun omdat sy glo ten gunste van moedertaal onderrig was. Weer eens was hulle teleurgestel toe dié minister die kant van die onderwyshoof van Oos-Tranvaal gekies het teen hulle.

Die uiteinde was dat regter Ngoepe verlof tot appél geweier het, want volgens hom kon hy nie R30 miljoen aan nuwe skole bestee in 'n land waar kinders honger bed toe gaan en skole leë klaskamers het nie. Daar was egter ander baie goedkoper alternatiewe soos die herstel van 'n bestaande ongebruikte Engelse skool in Ermelo.

Die beheerliggaam was toe verplig om direk by die Bloemfonteinse appélhof aansoek om appél te doen en wat toegestaan is.

Die saak het na bykans twee jaar verlede week in dié hof gedien. Die skool mag nou in gevolge dié beslissing hulle eie taalmedium kies.

Dun ys

Daar is egter drie dinge wat ons moet besef: Eerstens dat die hof geensins uitspraak gelewer het oor moedertaalonderrig nie of oor die regte van sogenaamde minderhede waarvoor die Afrikaner by uitstek kwalifiseer nie en tweedens dat die regering van die dag die Skoolwet kan verander sodat die onderwysowerheid die finale sê het wat die onderrigmedium van die skool is. Derdens dat die "Engelse" kindertjies sekere regte verkry het deur die onregmatige optrede van die onderwyshoof van Oos-Transvaal en dat Hoërskool Ermelo hulle moet dra vir die res van hulle skoolloopbaan.

Ons moet verwag dat die Afrikanerhaters en die agente van verengelsing met 'n hernude aanslag na vore sal kom om Afrikaans te probeer vernietig.

Hulle besef waarskynlik dat skole wat tans onder druk is om hulle status na parallelmedium te verander soos bv Hoërskool Hans Strydom van Naboomspruit hierdie hofuitslag kan gebruik om die skool Afrikaansmedium te hou.

Ons moet egter nie op ons louere rus en dink die stryd is gewen nie.

Ons moet die saak nou verder dryf deur aan te dring op 'n Afrikaner onderwysowerheid sodat ons self die onderrigmeddium, standaarde, onderrigmetode, leerinhoud, orde en etos in ons Afrikanerskole kan bepaal. Ons moet aandring dat die oorblywende Afrikaanse skole in ons beheer kom as 'n begin. So ook minstens drie Afrikaanse universiteite. Daar moet ook geld beskikbaar gestel word vir Onderwyskolleges, die instandhouding van ons skole en die salarisse van leerkragte.

Die Afrikaner word in die klaskamer vermoor. Vreemde ideologieë word in ons kinders se kele afgedruk.

Daarom is dit dringend noodsaaklik dat elke Afrikanerorganisasie of -instelling deel moet word van hierdie stryd. Ter wille van ons oorlewing en uiteindelike vryheid moet ons van platform tot platform oor die land met net een boodskap spoel: Gee ons ons eie onderwysowerheid!

Dit sal nie die eerste keer wees wat 'n gemeenskap die onderwys gebruik om uiteindelik hulle vryheid te kry nie. Kom ons kies dié gevegsterrein soos Jaap Marais gesê het waar ons sterk is en waar ons die vyand kan verslaan.

Dit is wat die GHA vra.

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans (GHA)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.