Netwerk24-rubriekskrywer noem Afrikaners ‘Boerbare’ en rassistiese moordenaars

Regter Johann van der Westhuizen

Regter Johann van der Westhuizen, ‘n rubriekskrywer van Beeld en Netwerk24, het ‘n week gelede met uitdagende minagting teen Afrikaners as “Boerbare” in die Saterdaguitgawe van Beeld uitgevaar. Die artikel is ook op Netwerk24 se aanlynportaal gepubliseer onder die titel, Hoe lyk ‘n Boerbaar? Ontstoke lesers van Netwerk24 het op die Disqus-kommentaflewering by die artikel gereageer en die oudregter van die Grondwethof wat blykbaar “verheug” was toe Afrikaans by Tuks afgeskaf is, van stereotipering en Boerehaat beskuldig.

Een van die lesers, Jeffrey Aucamp vra:

“Wie gee al die kruipers die reg om aanhoudend wit mense en Afrikaners te beledig? Hoekom laat Netwerk24 dit toe? Max, Sloet, Van der Westhuizen se soort se stories hoort in aasblikke.”

Van der Westhuizen beskryf Boere en Afrikaners só in sy artikel:

Dalk eet ’n Boerbaar boerewors en drink hy Klippies-en-Coke of Black Label, totdat hy ver gekom het in die lewe en Chivas Regal op verjaardae ontvang. Wanneer hy per abuis ’n vegetariër na ’n vleisbraai nooi, sê hy: “Moenie bekommer nie, daar sal genoeg slaai wees”, asof hy met ’n slak praat. Die kos is egter onskadelik en word ook deur talle nie-Boerbare geniet. Dit is die dieper boosheid wat saak maak.

’n Boerbaar is agter die tyd, weens stompsinnigheid, gebrekkige opvoeding, of hardkoppige opset. Hy dink simplisties, vrees dat sy verstand sal uitval as hy oopkop is en haat twyfel omdat dit hom verwar. Derhalwe is sy besluite vinnig, finaal en verkeerd. Sy gesin wil hy volgens die wil van die Here kragdadig regeer en dissiplineer, soms met die hulp van ’n sopie of twee. Op die oog af is hy “ ’n man wat sy man kan staan”, met “ ’n oog wat nie wyk” en “ ’n bars kan kyk” . . . minstens totdat ’n ferm oog terugkyk.

Onseker, weerloos en wondbaar in die wye wêreld wil ’n Boerbaar meerderwaardig voel oor iemand. Rassisme is die maklikste pad daarheen, omdat mense volgens velkleurkodes uitgeken kan word sonder om hulle te leer ken en te probeer verstaan.

Hy geniet dit om halfnaakte, geraamtedun swart kinders wat op straat bedel te verneder. Dit doen hy egter ook met oulike jong blonde kelnerinne wat sy sewende bier saam met sy man-size biefstuk, tjips en uieringe op sy restauranttafel neerplaas. Soms rand hy plaaswerkers aan – natuurlik net wanneer hulle dit verdien. Wanneer een doodgaan het hy nie die opset gehad om moord te pleeg nie, óf omdat hy nie besef het wangevoede mense gaan so maklik dood van ’n pak slae nie óf omdat hy nie seker was hulle is mense nie.

Hoe lyk ’n Boerbaar?

Dikwels groei baie hare op sy pienk aartappelvormige gesig met brandewynare op ’n geswolle rooi neus. Soms is hy byna so blas soos dié waarop hy neersien. Hy dra ’n kakiehoed, -hemp, -broek en -kouse, maar soms stoot hy ’n trollie kaalvoet in ’n supermark. Sy kinders gaan soggens skool en saans bed toe met baie vuil voetjies. Hy bestuur dikwels ’n bakkie en teel duiwe…

Boerbare bestuur ook Mercedesse. Hulle dra modieuse pakke, Ray-Ban-sonbrille en duur parfuum in hul professionele praktyke en waar hulle in lesinglokale en rondom blink konferensietafels transformasie predik en ons demokratiese Grondwet aanbid.

Toe ek laas jaar voorstel dat ons Afrikaans geniet en bevorder deur onder meer die mooiste Afrikaanse gedigte deur middel van ’n populêre kompetisie aan te wys, het geleerde Boerbare die idee afgeskiet omdat die taalstryd nie ’n “Sondagskoolpiekniek” is nie. Volgens hulle moet ons eerder veg tot in die hoogste hof. Wanneer ons verloor, soos gereeld gebeur, vra ons goedgelowige lede van vakbonde en kultuurorganisasies om meer van hul karige geldjies te skenk om iewers in wêreldhowe voort te stry.

Dus put ek nou maar self wysheid uit Afrikaanse poësie en musiek, waarop ek trots is. Valiant Swart sing: “Die meeste mense is maar zef.”

Twee van die eerste reaksies op die Disqus-kommentaarafdeling van Netwerk24 was dié van Jan Tarantaal en Marius du Plooy:

Jan Tarantaal: “Die grootste klomp geskrewe riool wat ek nog teegekom het. Dan is dit ons eie mense wat ons so slegsê (en uitlewer). Dit nogal deur ‘n “geleerde”. Met sulke vriende het ons nie vyande nodig nie. Ongelooflike veralgemenings en die versterking van skewe stereotiperings. Milner en Rhodes sou trots wees op hierdie Boerehaters! Wel, ek is ‘n trotse Boer, maar ‘n Boerbaar? Nee! Die skrywer is baie duidelik ‘n neus-in-die-lug regter wat neerkyk op volksgenote en hul verkleineer. Dis sulke regters wat kruip by die ANC-regime en wat Boeremaglede wat nie ‘n bom gestel het nie, vir 30 jaar tronk toe stuur, terwyl hulle swart kitsbankopblasers dalk vir ‘n jaar tronk toe stuur. Pateties verby!

Marius du Plooy: Korrek. Linksverkrampte, selfhatende drek van ‘n kruiperkaner. Swak, swak,swak. Ek daag die outeur van die ontlasting hier bo uit om soortgelyke veralgemenings oor swartmense te pleeg. Hy sal egter nie; besmet met die PK- virus soos hy is. Linksverkramptheid is ‘n afstootlike verskynsel.

In sy reaksie op Van der Westhuizen se uitbarsting, het die liberale regsgeleerde, Christof Heyns, hom op dieselfde Disqus-kommentaarafdeling van Netwerk24 soos volg uitgelaat:

Christof Heyns: “Ek lees graag Johann van der Westhuizen se rubrieke. Hy was my professor, is my kollega en ons is al dekades lank vriende, soos hy al in een van sy rubrieke genoem het. Ek hoop ons sal nog jare lank saam bier drink.

Maar vandag moet ek sê, ek stem wragtag nie saam met wat hy sê nie.
Die rubriek is ‘n stortvloed van meestal uitgediende stereotipes (gaan ons mekaar werklik aartappelkoppe noem?), basies gemik teen Afrikaners wat nie ryk of geleerd of gesofistikeerd is nie.

Meeste mense probeer maar hulle bes om te oorleef, dalk iets te doen wat iemand help, en miskien vir ‘n oomblik van geweet te word. In die proses maak ons baie droog. Dit is die human condition en is nie die kenmerk van enige klas in enige groep nie.

As die rubliek rassisme aan die kaak wil stel: ek en hy weet maar te goed hoe rasssemeerderwaardigheid net soveel, dikwels net in meer gesofistikeerde vorm, in alle lae van die samelewing voorkom. Maar maak dit dan die teiken, nie klas nie.

Die poging aan die einde om ‘n NP van Kyk Louw-sousie oor alles te gooi – basies ‘moenie skiet nie, ek is eintlik een van julle’ – maak die trant van intellektuele snobisme eintlik net erger.

Soos Valiant se volledige aanhaling lui: ‘Man, Johann, die meeste mense is maar lekker zef’. Dit sluit my en jou in. En as ons kanse kry wat ander nie het nie – soos om ‘n rubriek te skryf na ‘n lang en suksesvolle loopbaan – is die idee dat ons ons mede-zeffers saam moet neem, nie verguis as aartappelkoppe nie.

Dis weer tyd vir ‘n bier. As dit Black Label is, betaal ek. Maar geen aartappelskyfies dié keer nie.”

Nog ‘n leser antwoord op Van der Westhuizen se anti-Afrikaanse stuk:

FJ Pool: Uit Regter Johann van der Westhuizen se beskouings van hoe n boerbaar lyk, is ek ook miskien in sy groep boerbare. Daarom wil ek graag vir hom beskrywe hoe lyk my ondervindings van n “Jatsbaar”. n Jatsbaar gaan na Dakar saam met sy mede Afrikaner uitverkopers van ons boerbare om n gesogte joppie te kry, en ons boerbaars se eiendom in die Grondwethof van ons weg te neem om sy Dakar vennote se staatskaping van justisie en strafregstelsel vir korrupsie en diefstal (mineralereg van boerbaars) te verwesenlik. Die Jatsbaars beskerm dan die korrupsie en staatskaping in talle howe deur n klug van alle sake (moord, korrupsie, geldwassery, sameswerings) te maak. Die optrede in die howe van die Jatsbaars en justisie in die (Kebble-Selebi-Aggliotti-Zuma) sake, veroorsaak dat justisie en strafregstelsel in n Mafia verander, en wat nou ook boere se plaas eiendom bedreig. Jatsbaars is nou groot besigheidsmanne, soos een baie goeie voorbeeld beskrywe was deur Stefaans Brummer in sy artikel, “Dikgang Moseneke, the bussinessman judge”. Van SAMROC deur talle omstrede korrupte transaksies tot in SacOil saam met die uitverkoper korrupte Afrikaners, en dikwels met OBK geld. In SacOil saam met ANC intelligensie, en staatskaper Skerpioen base. Ek kan ook n lang beskrywing gee van wie en wat n “Jatsbaar” vir my is met talle ware ondervindings van gebeure. Jatsbaars het veroorsaak dat SA totaal deur geheime groepe en geldmagte gekaap is, en Zuma met korrupte sameswerings uit justisie, soos die “Spy Tapes” uit sy pos verwyder is deur groot staatskaping uit justisie, met die ondersteuning van Jatsbaars. Ek bly liewer n boerbaar, want dan is ek meer eerlik as baie Jatsbaars, en ek is trots daarop.”

Daar is vele Netwerk24-skrywers wat gereeld hul afkeer en minagting jeens Afrikaners en Boere verwoord, maar Van der Westhuizen het hier alle grense oorgesteek. Hoe voel PRAAG-lesers daaroor? Antwoord hier onder op Disqus. – Redaksie

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.