Leon Lemmer: Die Britse rol in die ondergang van blank Suid-Afrika

In my jongste rubriek toon ek aan hoe buitelandse (veral Westerse) inmenging die feitlik volledige Islamisering van Kosovo veroorsaak het, met die gepaardgaande ondergang van die Milosevic-bewind en die benadeling van die belange van die ortodoks-christelike Serwiërs. Die vraag wat ek daar in die midde lê, is of iets soortgelyks in 1990/94 in Suid-Afrika gebeur het, dus die ondergang van die blanke politieke bewind en die grootskaalse benadeling van die belange van blankes weens buitelandse (veral Westerse) inmenging. (Ek wou hierdie teks aanvanklik as ‘n reaksie op my rubriek publiseer, maar ag dit van soveel belang dat ek gevra het dat dit liewer onder ‘n eie opskrif gepubliseer behoort te word.)

In die Kosovo-geval was inmenging deur die Amerikaanse regering, veral dié van die oorlogsugtige derduiwel Madeleine Albright, van deurslaggewende aard. In die geval van Suid-Afrika kom hierdie twyfelagtige eer die Britse regering toe. “Robin Renwick roem daarop dat Brittanje, wat buitelandse regerings betref, die hoofrol in die myns insiens skandalige plaaslike revolusie gespeel het (Kindle 45). ‘Great admirer as I am of George Bush senior, he did not make anything like as strenuous an effort as Thatcher did to bombard [!] the South African government with demands for reform and the release of Mandela’ (1461)” (Praag 28.10.2017 – vir meer inligting oor Renwick: Praag 6.05.2018).

In die geval van Kosovo het die Amerikaanse en Britse regerings, afgesien van NAVO-lugaanvalle, wapens en opleiding aan die Moslem-terroriste verskaf. Renwick skryf: “Ná sy vrylating Mandela ‘needed some practical help from us. Not wanting to rely for his security only on the South African police, he asked us to provide training for his personal bodyguards, which we arranged for the SAS [British Special Air Service] to do’ (Kindle 1833)” (Praag 28.10.2017). ‘n Oud-MK-terroris en kommunis, Jeremy Vearey, wat sedertdien deur die ANC ryklik met hoë poste in die polisiemag beloon is, het pas ‘n boek gepubliseer wat interessante lig op hierdie SAS-opleiding werp: Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018, R275; Amazon Kindle $23).

Toe Brittanje tussen Afrikaner-Suid-Afrika en die Sowjet-geïnspireerde ANC moes kies, het sy die ANC gekies.

Vearey is in 1990 danksy die goedertierenheid van FW de Klerk uit die Robbeneiland-gevangenis vrygelaat. Hy het ‘n lid van Nelson Mandela se persoonlike lyfwag geword, in diens van die ANC se Departement van Intelligensie en Sekuriteit (DIS). “My salaris sal direk deur die World University Service … betaal word … Ek word gepas toegerus met ‘n arsenaal op nabye bystand met ‘n Makarov-pistool [en] ‘n AK47-aanvalsgeweer” (Kindle 1627). “In November 1990 word ek … deur die ANC se DIS opgeroep om lyfwagopleiding onder die Britse Special Air Service (SAS) te doen” (1631). “Die opleiding begin in alle erns ‘n maand later in Zimbabwe … buite Harare” (1636).

“Net voor Kersfees [1990] sypel ons en ons Britse instrukteurs Suid-Afrika per Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) binne en saam met ons ‘n arsenaal persoonlike FN Browning-9mm-pistole, Heckler & Koch se MP5-outomatiese masjiengewere, bokse ammunisie en ander toerusting. Dis ‘n angstige eerste vir my in baie opsigte. Nie net vlieg ek nou met ‘n Suid-Afrikaanse paspoort – sonder ‘n benul hoe die ANC dit bekom het – nie, maar die vlugte heen en weer is my eerste ooit. En dit met ‘n arsenaal wapens. Die SAS-soldate blyk geen probleme te hê om daarmee deur die doeane in albei lande te beweeg nie. Hoe word dit deur die ANC en Britse regering in die onsekere politieke klimaat van 1990 onder ‘n steeds vyandiggesinde apartheidsveiligheidsmag vermag? (1640). “Met ons aankoms by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg wag daar geen Veiligheidspolisielede om ons te visenteer of ondervra nie. Inteendeel, ek kom agter dat die Britte onverstoord met die hulp van hul diplomatiese status saam met ons beweeg” (1645).

Daardie aand het hierdie Mandela-lyfwagte in die Hotel Sandton Sun “gegradueer” met Mandela wat die swierige onthaal bywoon – klaarblyklik deur die Britse regering betaal. Mandela se “onthullings oor ons Britse gashere in sy toespraak beantwoord al my kwelvrae toe hy hulle as lede van hul land se geheimediens M16 bedank vir ons opleiding. Hy meld dat dit die gevolg was van ‘n onlangse ooreenkoms met eerste minister Margaret Thatcher gedurende sy eerste besoek aan Brittanje en dat dit op haar aandrang* geskied het. Hy beklemtoon dat dit die begin van vele ander geleenthede vir intelligensieopleiding deur M16 is” (1658). In 1993 het Vearey verdere opleiding deur M16 in Portsmouth in Brittanje ondergaan (1663, 1737). [* Mandela en/of Vearey lieg waarskynlik hier. Ek is geneig om eerder vir Renwick te glo, dus dat die Britse opleiding van sy lyfwagte op Mandela se versoek was (kyk hierbo).]

Dit is bekend dat FW de Klerk hom van sy voorganger, PW Botha, wou onderskei deur nie sekuriteitsbewus te wees nie. Dit het ANC-terroriste met hulle wapens in staat gestel om in 1990/94 op groot skaal die land binne te sypel. Heel moontlik vandaar De Klerk se kompliment aan homself dat hy deur sy mandaatlose magsoorgawe aan die ANC ‘n burgeroorlog verhoed het. Wat uit Vearey se boek afgelei kan word, is dat De Klerk reeds in 1990 in groot mate aan die ANC en Britse druk toegegee het en toegelaat het dat hulle met wapens en al vryelik die land binnekom. Die wapens wat na sy vrylating in 1990 aan Vearey uitgereik is, toon dat die De Klerk-regering aan die bewapening van ANC-lede meegewerk het. Vearey noem dat hulle almal “wettige vuurwapenlisensies” gehad het (1857). Sekerlik ook wettige paspoorte wat deur die ANC verskaf is (1645). De Klerk het die blanke kiesers jammerlik gefaal. Hoe is dit moontlik dat hy hulle steeds in die oë kan kyk?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.